KOM IN SY VOORHOWE
deur prof. dr JP Jooste
Die Liturgie van die Gereformeerde Erediens
Met die publieke eredienste wat deur die burgerlike owerhede (en baie kerkrade wat hul volg) tans verbied word, in stryd met God se bevel (die vierde gebod; Hebr. 10:25; sien die verklaring by HK Sondag 38; ens.) is dit goed om opnuut daaroor te besin, en waarom ons as gereformeerde gelowiges doen in eredienste wat ons doen.
Sien die boekie van prof. JP Jooste, wat elke aspek van ons erediens aan God verduidelik:
Kom in sy voorhowe
Hier is ‘n paar aanhalings, en die inhoudsopgawe (beklemtonings byvoeg):
“Die wese van die erediens is dus dat dit ‘n samekoms is van God met sy volk. Hierdie feit dui dan ook die groot verskil aan tussen ‘n vergadering van gelowiges in erediens en ‘n samekoms van dieselfde mense as ‘n politieke vergadering. Die doel van ‘n erediens is dan ook om gesamentlik God te verheerlik; om deur God geseën te word en om onderlinge stigting te ontvang. ‘n Erediens kan dus nie losgedink word van vaste vorme nie; en juis omdat die doel van die erediens so verhewe is, is dit nodig om die ware karakter van die vorme te ken. Daarom is dit nodig om eers stil te staan by die vorme as sodanig en pas daarna die afsonderlike vorme na te gaan.”
“ ‘Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het.’ (Ps. 124:8). Die erediens word bygewoon deur ‘n groot aantal gelowiges; en tot op die moment dat die voorganger die woorde uitgespreek het, was dit ‘n byeenkoms van persone, los indiwidue. Só kan dit egter nie voortgaan nie, want die grondgedagte van die erediens is juis dat dit ‘n gesamentlike aanbidding moet wees. Die doel van die uitspreek van die woorde is dus om daardeur iets te bewerkstellig wat voor die tyd nog nie bestaan het nie.“
“Die votum is dan die middel waardeur ‘n saamvergaderde groep gelowiges verander word vanuit ‘n groep los indiwidue in ‘n hegte eenheid van aanbiddende gelowiges. Van daardie oomblik af is daar net een begeerte, naamlik om as ‘n groep in ware aanbidding voor God te staan. So ‘n saamgevoegde gemeente trag dan om al sy verrigtinge tot eer en verheerliking van God te laat geskied.
Die uitspreek van die votum is dus nie maar ‘n gewone formule wat deur die voorganger opgesê kan word asof dit nou maar eenmaal ‘n gewoonte is om so iets te sê nie. Nee, dit is ‘n buitengewoon belangrike saak, want dit dra so ‘n besondere gewig en is die vorm wat aangewend word om die aanvang van die allerheiligste handeling van Godsverering in te lui. Dit moet dus ‘n plegtige verklaring wees wat op sodanige wyse uitgespreek word dat sowel die spreker as die hoorders toon dat hulle presies weet van hoe groot gewig daardie woorde is. Die woord votum is weliswaar vreemd, maar dit beteken op sigself ook al “toewy”; en in die saak moet dus die volle krag van die toewyding in die diens van die Here na vore kom.
Die persoon wat die woorde uitspreek, is die voorganger van die erediens, ook genoem die liturg. Aan hom is dit deur die kerkraad opgedra om daardie heilige verrigtinge te lei. Dit mag dus nie maar enige persoon wees nie maar ‘n ampsdraer wat die nodige magtiging daartoe ontvang het van die kerklike instansies en wat die opdrag van die kerkraad het om by die plaaslike erediens voor te gaan. Die voorganger of liturg beklee ‘n uiters belangrike posisie by so ‘n erediensgeleentheid. Hy tree naamlik in tweërlei hoedanigheid op. By sekere dele van die erediens tree hy op as instrument waardeur God tot die vergaderde gemeente spreek; maar in ander dele is hy weer die mondstuk van die vergaderde gemeente voor God, byvoorbeeld in die gebed. Daarom moet so ‘n voorganger sy posisie ken en waardiglik beklee, anders kan sy wyse van doen ‘n groot bron van ergernis wees.”
“As ons kortliks aandag skenk aan die formule wat meesal vir hierdie doel gebruik word, moet ons in gedagte hou dat die votum nie bedoel is as ‘n gebed nie maar as ‘n plegtige verklaring waardeur die vergaderde menigte omgeskep word in ‘n eenheidsgroep van aanbidders. Verder moet die karakter van die vergadering daardeur duidelik weerspieël word, sodat dit dus nie ‘n onverskillige saak is watter formule vir daardie doel gebruik word nie.”
Inhoud
Voorwoord van die Skrywer
HOOFSTUK 1: AANBIDDING
Wat is aanbidding?
Die voorwerp van aanbidding
Die subjek van aanbidding
Aanbidding en erediens
HOOFSTUK 2: DIE VORME VAN DIE EREDIENS AS SODANIG
HOOFSTUK 3: DIE VOTUM
Die versameling van die gemeente in die kerkgebou
Die verskyning van die kerkraad
HOOFSTUK 4: DIE SEËNGROET
HOOFSTUK 5: DIE KERKSANG
HOOFSTUK 6: DIE GELOOFSBELYDENIS
HOOFSTUK 7: DIE WET VAN DIE HERE
HOOFSTUK 8: DIE SKRIFLESING
HOOFSTUK 9: DIE GEBED
Die gebed vóór die preek
Die gebed ná die preek
HOOFSTUK 10: DIE PREEK
HOOFSTUK 11: PLEGTIGE KERKLIKE HANDELINGE
Die sakramente
Die sakramente as sodanig
Die sakrament van die doop
Die sakrament van die nagmaal
HOOFSTUK 12: PLEGTIGE KERKLIKE HANDELINGE
Belydenis van die geloof, openbare tughandeling en bevestiging in die ampte
Die soort handelinge as sodanig:
1. Belydenis van die geloof 2. Openbare tughandeling 3. Bevestiging in die ampte
HOOFSTUK 13: PLEGTIGE KERKLIKE HANDEL1NGE )
Die Christelike liefdegawes
HOOFSTUK 14: DIE SLOTSEËN
HOOFSTUK 15: HUISWAARTS
Sien ook die volgende gereformeerde bronne oor die gereformeerde erediens:
Totius se Versamelde Werke, deel 3: Die Erediens (1977 uitgawe). Die vorige (rooi stel) uitgawe is hier aanlyn besikbaar.
Soek die HERE in sy Tempel, dr. JJ van der Walt
Onze Eredienst, A. Kuyper (soek die titelnaam)
Where Everything Points to Him, K. Deddens
Die Erediens, AC Barnard
Leave a Reply