Posted by: proregno | February 3, 2021

DIE GEREFORMEERDE STANDAARDWERK IN AFRIKAANS OOR ‘KERK EN VOLK’ IN DIE LIG VAN DIE HEILIGE SKRIF

DIE GEREFORMEERDE STANDAARDWERK IN AFRIKAANS OOR ‘KERK EN VOLK’

IN DIE LIG VAN DIE HEILIGE SKRIF

Titel: Volk en Godsvolk in die Nuwe Testament – ‘n Eksegetiese Studie (Th. D. – PU vir CHO)

Skrywer: Johannes Christiaan Coetzee (2 Mei 1936 – 10 Oktober 2002)

Promotor: prof. W. J. Snyman (Febr. 1964)

Hierdie diepgaande deeglike Nuwe Testamentiese studie van prof. dr. JC Coetzee is nou ook elektronies verwerk deur Willem Swanepoel, en is met groot dank aan hom, hier op die CBJF webblad volledig beskikbaar:

Volk en Godsvolk in die Nuwe Testament

INHOUDSOPGAWE

Begrips ontleding (laos, ethnos, ander volksbegrippe, volksbenaminge)

Verhouding van die volk Israel en die Godsvolk (voor en tydens Jesus se optrede, en die boek Handelinge)

Die verhouding van die volkere en die Godsvolk (Briewe van Paulus, ander briewe en Openbaring)

Volk en Godsvolk (samevatting en gevolgtrekkinge)

[Prof. GJC Jordaan oor prof. Coetzee se proefskrif: “Na die afhandeling van sy Th B-studie het Christi nie direk tot die bediening toegetree nie. Hy voltooi eers sy magistergraad in teologie (1961) en ook sy doktorsgraad (1963) onder leiding van wyle prof Willie Snyman met ‘n proefskrif getiteld: Volk en Godsvolk in die Nuwe Testament. ‘n Eksegetiese studie“. Hierdie proefskrif was van so ‘n hoë gehalte dat dit in 1965 deur die Nasionale Raad vir Sosiale Navorsing (nou RGN) uitgegee is.”]

‘n Paar aanhalings direk uit die boek oor die belangrike onderwerpe van die boek (opskrifte en beklemtonings bygevoeg):

TEMA: Die verhouding kerk en volk
“Die onderwerp van hierdie studie lê op die breë terrein van die vraagstuk van die verhouding van kerk en volk. Dit dek slegs ‘n onderdeel maar dan ‘n fundamentele onderdeel van die hele vraagstuk. Hierdie studie is suiwer eksegeties: wat beteken die begrippe “volk” en “Godsvolk” in die N.T. en wat is hul onderlinge verhouding volgens die getuienis in die N.T.? Ook wanneer na die eksegetiese ondersoek konklusies gemaak word, moet by die eksegetiese aard van die studie gehou word sodat net die direk daaruit voortvloeiende riglyne kortliks getrek sal word en daar nie ingegaan sal word op die konsekwensies daarvan vir die Dogmatiek, Etiek, Sendingwetenskap of algemene kerklike lewe nie. Hierdie studie wil die eksegetiese grondstowwe uit die N.T. bied vir ander studies oor die verhouding van volk en kerk wat op die gebiede van ander teologiese vakwetenskappe lê.”

DIE KERK IS DIE MESSIAANSE GODSVOLK
“Ook wanneer die titel beperk sou word tot: Volk en Kerk in die N.T. — ‘n Eksegetiese studie, sou die terrein nog te breed wees. Hier kan nie gepoog word om eers tot ‘n bepaling van die kerkbegrip in die N.T. te kom en dan ‘n waardering van alle Nieu-Testamentiese gegewens oor die kerk te gee nie. Daarom word die titel Volk en Godsvolk… verkies. Die kerk word hier net beskou in sy verhouding tot die volk(ere) en daarom is dit voor die hand liggend om ook net die een gesigspunt van waaruit die N.T. self die kerk in verband bring met die volk(ere) te ondersoek, t.w. die kerk as (messiaanse) Godsvolk. Steeds meer word in die ekklesiologie erken dat die naam “Godsvolk” die eintlike wesensnaam van die kerk … dit hier gaan om die verhouding van volk en kerk (Godsvolk) in die hele Nieu-Testamentiese openbaringsgeskiedenis.”

DIE BELANGRIKE AKTUALITEIT VAN HIERDIE ONDERWERP. selfs nou 55 jare later
“Dat die probleem kerk-volk vandag net so aktueel beskou word soos te eniger tyd in die verlede, word weerspieël in die verskyning ook sedert die Tweede Wêreldoorlog van die een dissertasie na die ander oor die een of ander aspek van hierdie onderwerp. En tog is daar nog geen sprake van ‘n consensus onder teoloë oor die verhouding van kerk en volk nie.”

‘n Belangrike studie om eerstehands te lees wat een van ons dopper teoloë werklik geleer het oor die saak van verhouding kerk en volk: volksabsolutering én volksveragting moet beide verwerp word
Onversoenbaar met mekaar bly deur die jare twee alternatiewe gestel: volkskerk óf wêreldkerk. Aan die een kant is daar die volkskerkgedagte met sy vereenselwiging en gelykskakeling van kerk en volk sodat hulle op natuurlike wyse identies is; die volkskerkgedagte, waar ekumenisiteit alleen kan bestaan in die verband tussen verskillende volkskerke; die volkskerkgedagte, wat uiteraard beheers word deur “het collectivistische denken, waarin volks-zielen en andere mytho-logoumena rondspoken”

Aan die ander kant staan die wêreldkerkgedagte met sy afsnyding van enige verband tussen kerk en volk; die wêreldkerkgedagte, waarvolgens die ekumeniese kerk geen ruimte laat vir volksverskille en geen plek vir verbondenheid van die gelowige aan ‘n bepaalde volk nie, sodat die ekumeniese eenheid van die kerk een groot uniforme “mensheidscultuur” beteken; die wêreldkerkgedagte, waar óf indiwidualisme heers sodat die kerk die totaal is van alle belydende individue, óf kollektivisme heers waarvolgens die hele wêreld een groot broederskap is, die kerk een liggaam is ongeag of daar eenheid van doop, geloof, belydenis is. Aan die een kant is daar dus die vereenselwiging van kerk en volk en aan die ander kant die absolute breuk en skeiding tussen kerk en volk.

Tussen hierdie twee pole word die stryd om die verhouding van kerk en volk vanaf die Reformasie gevoer. Teenoor die Rooms-Katolieke Kerk se kollektivistiese wêreldkerkgedagte, waarvolgens die verskillende volke uit die natuur opgehef word tot die bonatuurlike eenheidskultuur van die katolieke kerk, ontstaan by die Reformasie nasionale kerke wat veral in die Duitse state ontwikkel tot tipiese kollektivistiese volkskerke.

In reaksie teen hierdie kollektivistiese volkskerkgedagte kom die Piëtisme met sy sterk indiwidualistiese inslag. Tot met die Tweede Wêreldoorlog het die probleem in die 20e eeu sy aktualiteit behou hoofsaaklik vanweë die verskerpte stryd rondom die volkskerkgedagte veral as gevolg van die opkoms van die nasionaal-sosialisme. Sedert die Tweede Wêreldoorlog het die probleem kerk-volk nuwe aktualiteit verkry met die kragtige opkoms van die ekumeniese beweging. Veral die kragtigste eksponent van hierdie ekumeniese strewe, die Wêreldraad van Kerke, waarin ‘n sterk uniformistiese en kollektivistiese inslag en ‘n noue skakeling met die sekulêre strewe na wêreldeenheid, wêreldkultuur en wêreldregering te bespeur is, maak ‘n deeglike studie van die Skrifgegewens oor die verhouding van die universele Godsvolk en die volk(ere) dringend noodsaaklik.

Ook die sterker bewuswording by die kerk van die wesentlike plek wat sy sendingroeping inneem in sy ware kerk-wees, gepaardgaande met die kragtige ontwaking van die nasionalisme onder die heidennasies, maak dit by die sendingwerk en kerkvorming onder die heidene ‘n steeds dringender behoefte om ‘n deeglik verantwoorde siening te verkry op die Nieu-Testamentiese verhouding van kerk en volk.”

DIE SKRIFTUURLIKE BALANS WAT DIE SKRIF SELF AANDUI: God se uitverkiesende verbond ‘midde’ en ‘onder’ en ‘in’ die volkere wêreld
Dit is dus duidelik dat ‘n breë eksegetiese studie van die Nieu-Testamentiese openbaring oor hierdie aktuele probleem nie alleen wenslik is nie, maar selfs noodsaaklik om ‘n besliste leemte in die Nieu-Testamentiese eksegese aan te vul. Hiertoe wil hierdie studie ‘n bydrae probeer lewer. ‘n Poging sal gemaak word om aan te toon dat die gebruiklike alternatief volkskerk of wêreldkerk nie die enigste moontlike verhouding van volk en Godsvolk uitdruk nie en dat nóg die een nóg die ander ‘n getroue weergawe is van die gegewens van die N.T., maar dat daar ‘n tertium quid is wat deur die N.T. self aangewys word as die ware verhouding tussen volk(ere) en Godsvolk. In hierdie ware verhouding word volk en Godsvolk nie absoluut geskei (wêreldkerkgedagte) en ook nie vereenselwig (volkskerkgedagte) nie: die ware universaliteit van die Godsvolk kom juis uit in die opname van alle volke daarin; maar dit op so ‘n wyse dat elke volk opgeneem is in die Godsvolk nie na sy empiriese omvang nie, maar soos God dit in sy uitverkiesende verbond beperk het tot die gelowiges, terwyl die ongelowiges afgesny word van die Godsvolk.”

UITVERKIESING EN VERBOND VOLGENS ROMEINE 9-11 (in antwoord op nie net die arminianisme nie, maar ook ons baptiste vriende wat nie die OT – NT verbondsverhouding reg verstaan nie, en daarom ook nie die verhouding tussen ‘kerk en volk’ in die NT bedeling nie)

Die inhoud van die boek leer baie meer as net ‘kerk en volk’ se verhouding, maar baie aspekte word langs die weg aangeraak, en wat veral kosbaar is, is die studie oor ‘uitverkiesing en verbond’, wat dr. Coetzee aanspreek. Hier op my blog het ek ‘n gedeelte van die boek oor die onderwerp geplaas:

Uitverkiesing en verbond volgens Romeine 9-11

‘n Paar aanhalings uit hierdie spesifieke deel:

“Paulus moes daarvan bewus gewees het dat hierdie antwoord van hom (Romeine 9:6-8 oor die vrae van v. 1-5, – slc) oënskynlik in direkte teëstelling staan tot die huidige feitlike toestand van die groot massa van Israel wat nog deur ongeloof in Christus in ongeregtigheid voor God staan. Hoe is immers sy antwoord hiermee te rym? Wat is die verklaring? Daarom verstrek hy hierop sowel ‘n prinsipiële as ‘n feitlike verklaring. Die prinsipiële verklaring word gegee in Rom. 9 : 6b—29, terwyl Rom. 11 : 1—24 die feitlike verklaring bied.

(a) Die prinsipiële verklaring — Rom. 9 : 6b—29
Die verklaring vir die geldigheid van sy antwoord, sê Paulus, lê in die AARD van God se VERBOND met Israel: Israel is verbondsvolk en dus Godsvolk op grond van ‘n verbond wat berus op en uitgaan van God se uitverkiesende vrymag.

,,Want nie almal wat uit Israel is, (húlle) is Israel nie. Ook nie omdat hulle nageslag van Abraham is, is almal kinders nie, maar: in Isak sal jou nageslag genoem word. Dit is: nie die kinders van die vlees (húlle) is kinders van God nie, maar die kinders van die belofte word gereken as nageslag” 9 : 6—8.

Dit is die doel van Paulus in hierdie gedeelte om teenoor die onties-natuurmatige karakter van die verbond volgens die Joods-Rabbynse voorstelling aan te toon dat die verbond waarvolgens die volk Israel Godsvolk is, ‘n verbond is wat op die vrymag en uitverkiesende genade van God gefundeer is. Die aard van die verbond soos dit met Abraham gesluit is en daarna gehandhaaf bly, was en is só ,,dat die voorneme van God volgens die uitverkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep” (9:11).

Hierdie vrymags- en uitverkiesingskarakter van Gods verbond met Abraham waardeur Israel tot Godsvolk gemaak is, hou, soos Paulus dit uiteensit, verskeie punte van kardinale belang in aangaande die verhouding van die volk Israel tot die Godsvolk in die hede:

In die eerste plek:
Paulus sê dat God se verbond standhou en Israel Gods volk bly nieteenstaande die massale ongeloof van die Jode in die hede ,,want nie almal wat uit Israel is, is Israel nie” (9 : 6b).

Dit wil sê: die volk Israel, die volk van die verbond in sy hoedanigheid as Godsvolk, is nie gelyk aan alle mense wat van nature, deur afstamming, tot die histories-etniese volk behoort nie; is nie gelyk aan Israel na sy empiriese ontvang nie. …

In 9 : 7 lig Paulus sy verklaring met ander woorde toe: nie almal wat uit Abraham voortgekom het, is kinders in pregnante sin nie. Dit belig Paulus verder deur daarop te wys dat God self uit die vleeslike nakomelinge die één kies wat Hý wil om ,,die nageslag” te wees. …

Hiermee het Paulus verklaar waarom die talryke ongelowige Jode nie ‘n weerspreking is van ‘n gehandhaafde verbond met Israel en van Israel se voortgesette staat as Gods volk nie. Daar is immers Israeliete wat voor God nie wesentlik tot die volk Israel behoort nie; wat, hoewel gebore uit Israel, deur God buite Israel geplaas is.

Hiermee is die volk Israel nie vergeestelik nie, maar deur afsnyding van die ongelowiges wat in Gods oog nooit wesentlik tot die volk behoort het nie, is die volk vereng tot sy ware omvang voor God. Die ongelowige Israeliete behoort nie wesentlik tot Israel nie. Húlle ongeloof en ongeregtigheid raak dus nie die posisie van Israel as Godsvolk nie, raak dus nie die verbondstrou van God nie.

Hiermee is die eerste kardinale aspek van die verhouding van Israel tot die Godsvolk aan die lig gestel: Die histories-etniese volk Israel na sy empiriese gestalte is nie kwantatief identies met die volk Israel in sy hoedanigheid as Gods volk nie, maar is veel groter. Daar is ‘n verenging na binne: die verbond is gesluit met ‘n na binne verengde volk Israel. Die volk Israel is nie in sy empiriese verskyningsomvang Godsvolk nie, maar die na binne verengde volk Israel is Godsvolk volgens die verbond. Israel as volk is hier die verbondsvolk, alleenlik het daar ‘n afsnyding van die ongelowige Israeliete plaasgevind.

In die tweede plek:
Daar val ook heldere lig op die beginsel waarvolgens hier die verenging geskied. God het die verbond met Abraham en sy nageslag, dus met die volk Israel, gesluit, ,,maar: in Isak sal jou nageslag genoem word” (9 : 7), en die kinders van die belofte word gereken as nageslag” (vs. 8), ,,want die beloftewoord is dit: ,omtrent hierdie tyd sal Ek kom, en daar sal vir Sara ‘n seun wees’” (vs. 9).

Op dieselfde wyse kies God ook reeds voor die geboorte alleen Jakob uit die seuns van Isak ,,dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan. .. uit Hom wat roep” (vs. 11).

Terwyl God die verbond gesluit het met Abraham en sy nageslag, het Hy van die begin af —van vóór Isak se geboorte — sy vrymag gehandhaaf om soewerein te besluit wie tot die verbondsnageslag sal behoort.

Terwyl God aan Abraham die verbondsbelofte van ‘n geseënde nageslag gegee het, het Hy van die begin af in sy verbond sy vrymag gehandhaaf om deur eie beskikking en verkiesing te bepaal wie die nageslag van die belofte sal wees. Vanaf die begin het God sy verbond só gesluit dat alleen die kinders van Abraham, d.i. alleen die lede van die volk Israel wat Hý verkies het, wat Hý na sy voorneme en welbehae as kinders van die belofte verkies, dat alleen húlle as die kinders van die belofte gereken sal word as die nageslag, as die hele nageslag.

Die beginsel van verenging is die vrymagtige uitverkiesing van God met sy twee kante: die vrymagtige welbehae in diegene wat die verbondsvolk vorm en die vrymagtige uitsnyding uit die volk van diegene wat nie tot nageslag gereken word nie.

In die derde plek: Uit die voorafgaande blyk ook op grond waarvan Israel Godsvolk is en die grond vir toebehore van lede van Israel tot Godsvolk.

Dit gaan in Rom. 9 : 6—29 inderdaad om die vrymag van God in sy verbond. Alle oorsaaklikheid lê volkome in God se hand en in God se vrymagtige uitverkiesende welbehae.

,,Ook nie omdat — alle klem val hier op die — hulle Abraham se nageslag is … nie, maar: in Isak sal jou nageslag genoem word” (vs. 8). Die besluit berus volkome by God vrymagtig.

God self is dit wat vir Abraham sy nageslag wonderbaarlik skenk: op die tyd deur God bepaal, sal God kom en — Isak, die kind van die belofte, sal daar wees (vs. 9). God self roep dus die nageslag van Abraham, die volk Israel, in die lewe. God self bepaal ook vrymagtig wie uit die vleeslike nageslag Hy tot die volk in sy hoedanigheid as Godsvolk wil reken: alleen op grond van sy vrymagtige uitverkiesing maak God Isak tot die kind van die belofte; maak God Isak tot die ware nageslag, tot die verbondsnageslag van Abraham. Die nageslag ontstaan nie maar bloot natuurmatig en na menslike oorleg en menslike krag nie, maar uit die kinders wat die vlees voortbring, word die nageslag ,,genoem” — ,,noem” in die sin van ,,roep”, ,,beroep”, ,,verkies” — deur God (vs. 7). …

Deelgenootskap aan Israel as Godsvolk is nie gegrond bloot op afstamming van die aartsvaders nie. Die onties-natuurmatige Godsvolk- en verbondsgedagte van die Judaisme het geen fondament in die Skrifte nie, sê Paulus, want reeds in die geval van die twee vleeslike kinders van Abraham self het God vrymagtig alleen Isak tot nageslag gereken, alleen Isak tot kind van die belofte gemaak, en van die twee seuns van Isak het God in vrye uitverkiesing alleen vir Jakob as nageslag gereken. Paulus gebruik juis dié voorbeelde waar die vleeslike kinders wat God nie verkies het, nie alleen afgesny is van die volk Israel in sy hoëdanigheid as Godsvolk nie, maar selfs in heeltemal ander volke en wel die primêre vyande van Israel as Godsvolk ontwikkel het, nl. Ismael en Esau.

Ook die Rabbynse gedagte van die thesaurus bonis operis van die aartsvaders wat vir hulle vleeslike nakomelinge deelgenootskap aan die heil van God sou waarborg, vind vir Paulus geen grond in die Skrifte nie, want Isak is reeds voor sy geboorte deur God gereken as die ,,kind van die belofte”, en selfs voor die geboorte, voordat hulle ,,goed of kwaad gedoen het”, is Jakob as die nageslag gereken, maar Esau buite die Godsvolk en buite Israel as volk geplaas, sodat ,,die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep!” (vs. 11).

Daarom toon Paulus ook vanaf vs. 13 tot vs. 29 nader aan dat God volkome vrymagtig is in die konstituering van die Godsvolk binne die kring van die empiriese Israel — so vrymagtig dat God ten slotte selfs buite die kring van Israel kon gaan om nou in Christus ook die ethne wat altyd ou laos was, Godsvolk, te maak net soos Hy in die tyd van die profeet Hosea beloof het om Israel wat deur hul ontrou nie meer werd was om Godsvolk te wees nie, weer as sy Gods volk terug te neem.

Só min lê daar enige kousale verband tussen die empiriese verskyningsomvang van die volk Israel en Israel soos God dit in sy genadeverkiesing as Godsvolk aangeneem het (9 : 25, 26)! Die volksbestaan van Israel self het dus nie enige kousatiewe krag vir die bestaan of voortbestaan van Israel as Gods volk nie. Ook het die natuurlike verbondenheid deur afstamming aan die histories-etniese volk Israel geen kousatiewe krag om die deelgenootskap van lede van die volk aan die Godsvolk te waarborg nie. Beslissend is alleen die vrymagtige uitverkiesende welbehae van God in sy verbond.

DIE VERBOND IS NOU NIE NET MET EEN VOLK NIE, MAAR MET DIE GODSVOLK ONDER EN IN AL DIE VOLKE

“Hierdie besondere verhouding van volk en Godsvolk wortel volgens die N.T. in die karakter van God se verbond. Die verbond is ‘n verbond met al die volke, al die geslagte van die aarde. Terselfdertyd dra die verbond ‘n uitverkiesende karakter. As verbond met die volke bepaal God se verbond dat die gelowiges as volke opgeneem word in die Godsvolk; en as verbond met ‘n uitverkiesende karakter bepaal God se verbond dat alleen die uitverkorenes van elke volk, diegene wat vooruit geglo het in Christus, nou reeds glo en nog tot geloof sal kom, voor God as die hele volk gereken word.” (bl.319, 320)

DIT GAAN OM VOLKE, NIE RASSE NIE
“Dit is besonder opvallend dat dit in die Nieu-Testamentiese openbaring steeds gaan om die volke en nie om rasse nie. Terwyl die volke na vore tree by die kernmomente van die openbaringsgeskiedenis, word rasse-onderskeidinge glad nie genoem nie.”

DIE DOEL VAN SENDING IS VOLKERE IN EN DEUR HUL GESINNE

JA van Rooy verwys as volg na dr. JC Coetzee se eksegetiese studie oor Volk en Godsvolk, en die belang daarvoor vir die sending:

“Hoewel dit eintlik ’n eksegetiese studie is, lê die belang van J.C. Coetzee se Volk en Godsvolk in die Nuwe Testament (1965) vir die missiologie hoofsaaklik op kulturele terrein. In hierdie studie toon Coetzee aan dat in die openbaring die volkeregedagte nie losgelaat is nie, maar juis by sentrale momente na vore tree (Coetzee, 1965:317). Daar is volgens hom in die Nuwe Testament ’n organiese band tussen volk en Godsvolk: nie ge- skeie van mekaar nie (wêreldkerkgedagte), maar ook nie vereenselwig nie (volkskerkgedagte – Coetzee, 1965:319). Die voorwerp van sending is dus nie individue nie, maar volke, met die doel om elke volk in te bring in die Godsvolk onder die heerskappy van Jesus Christus (Coetzee, 1965:320).”

_____________________________________________
Ander bronne:

1. Prof. JC Coetzee se vader, ook JC Coetzee, was die bekende gereformeerde onderwysman en rektor van PU vir CHO. Sien hier vir meer inligting, asook hierdie artikel oor prof. JC Coetzee jnr.

2. My eie preek oor Romeine 9: Die Here bly getrou aan sy verbondsbelofte vir sy kinders, ongeag baie se sondige ongeloof en ontrou

“Dit is nie die ontrou van mense nie, niks wat die mens doen, goed of sleg, nie …  MAAR …. die almagtige genadige soewereine verbondstrou van die Here, wat die Here se kerk versamel, bewaar en instand hou tot in ewigheid. Dank God daarvoor !, soos Rom.9:16 dit stel, so hang ons redding nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God alleen wat barmhartig is! Ons leer dit vandag uit ons teksgedeelte hier in Romeine 9, spesifiek verse 1-8. …. Geliefdes, moet dit nooit vergeet nie, dit is ons groot troos in Christus. Dit is nie die ontrou van mense nie, niks wat die mens doen, goed of sleg nie, maar die almagtige genadige soewereine verbondstrou van die Here, wat die Here se kerk versamel, bewaar en instand hou tot in ewigheid. Dank God daarvoor! So hang ons redding nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God alleen wat barmhartig is! (Rom. 9:16)”

“Hoewel Paulus toegee dat Abraham se nageslag vanweë die verbond heilig is, verklaar hy nogtans dat vele daarin buitestaanders is en dit nie alleen omdat hulle ontaard het sodat hulle van onwettige kinders basters word nie, maar omdat God se besondere uitverkiesing wat alleen sy aanneming vas en seker maak, oor alles uitstaan en oor alles heers.” – Calvyn in sy verklaring van Romeine 9 (Institusies 3.22.4).

3. Sien ook prof. WJ Snyman se artikel oor dieselfde onderwerp: Kerk en volk

My opmerkings oor prof. Snyman se artikel:

“In hierdie lesing wys prof. Snyman die regte rigting aan oor hoe ons moet dink oor hierdie onderwerp vanuit ‘n gereformeerde openbaringshistoriese perspektief op die Heilige Skrif. Soos ek sy lesing deurgelees het, het ek besef dat ons beide die volkskerk- én wêreldkerkgedagte moet afwys. In eersgenoemde is die kollektivisme (net die groep/gemeenskap is belangrik) die gevaar teenoor die wêreldkerkgedagte se gevaar van individualisme (net die losse individu is belangrik).

Die Skrif leer dat kerk en verbond beide ‘n individuele én kollektiewe (gemeenskaplike/organiese) kant of aspek het, en nie net die een of die ander nie. Dit is juis omdat die gemeenskaplikheid van die verbond baiemaal nie in ag geneem word nie, dat ons die leer van die verbond verkeerd verstaan.

Prof. Snyman se lesing gee ook baie waardevolle insigte i.v.m. die vraag aan wie die beloftes van die verbond behoort.Ongelukkig het ons die term ‘volk’ eksistensieël oftewel fenomenologies begin definieer, en nie vanuit die Skrif verbondsmatig nie. Fenomenologiese definisies werk met wat in die natuurlike openbaring na vore kom en gepositiveer word, wat volgens die geskiedenis bloot ‘is’ bv. ras, geskiedenis, taal, kultuur, ens., en nie vanuit Openbaring, dus wat ‘behoort’ ‘n volk te wees nie. Dit eindig gewoonlik daarin dat die natuur (bloed) die genade (geloof) opvreet, in plaas daarvan dat die geloof die bloed heilig in diens van God se Koninkryk (Bavinck).

Prof Snyman betoog onder andere as volg:

“… Ons glo aan die versekerde bestaan van die indiwidu in Christus, en aan die voortbestaan van die groep, nie los van die persone nie, maar in die persoon, en in hierdie geval in die wedergebore persoon. Dit sien ons as die grondslag van die juiste verhouding ook van kerk en volk. Dis maar net in die algemeen gestel. …”

“… Nie die Gereformeerde Kerk is die kern van die volk nie, maar die ware ge­lowiges. . . dis die kern van die volk. Dit is die volk soos hy finaal oorbly. Die ander is die kaf wat bestem is om te verdwyn. Dit is die gelowi­ges wat finaal oorbly, van elke volk, vir die nuwe aarde, en aan wie (soos Calvyn sê) hierdie aarde nou reeds behoort. Hulle sal die aarde beërwe as hul wettige eien­dom, en in hul gelowiges sal ook die volke dit beërwe. Dit is die positiewe verhouding tussen kerk en volk.

Die volk, die mensheid,bly voortbestaan in sy gelowiges. Ek is dankbaar dat die Skrifte vir ons hierdie lyn so laat sien, en dat ons met die Skrifte tussen hierdie twee uiterstes – enersyds die vereenselwiging van kerk en volk, en andersyds die skeiding van kerk en volk – die regte pad kan vind. Die Skrif gee vir ons te midde van die doolhof van gedagtes hierdie antwoord: In die gelowiges bestaan die huisgesinne voort. In die gelowiges bestaan ook die volk voort.

In die gelowiges bestaan die mensheid voort, met al sy verskeidenhede. Dis nie mense, dis nie indiwidue, wat gered word nie. Dis die mensheid wat gered word, die mensheid as ‘n boom wat gegroei het deur die hele geskiedenis heen. Wat nou vir my oorbly is om die gegewens na vore te bring waarop hierdie slotsom rus.”

 


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Categories

%d bloggers like this: