Leerprediking: Nederlandse Geloofsbelydenis artikels 13: WAT SAL ONS DAN VAN HIERDIE DINGE Sê? – Die voorsienigheid van God (Rom. 8:31,32)

Leerprediking: WAT SAL ONS DAN VAN HIERDIE DINGE Sê?

Nederlandse Geloofsbelydenis artikels 13

Die voorsienigheid van God (Rom. 8:31,32)

Lees: Romeine 8:18-39

Teksverse: “WAT sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Ro 8:31–32)

Tema: NGB artikel 13 – Die voorsienigheid van God vir ons tot groot troos in Jesus Christus, sodat ons sal volhard in die ware geloof.

Preekopname (GK Carletonville, 2021-02-28, nota: let wel, die inhoud van die preek en teksnotas hier onder stem nie altyd ooreen nie, die notas is nie volledig nie, die audio preek is die volledige preek):

Leerpreek: Romeine 8:31,32 – Die voorsienigheid van God (NGB art. 13)

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Ons het volgens die Skrif geleer, wat ons bely daar in NGB art. 12,

dat die God (wat is en gespreek het) alles geskape het,

Hy is die Skepper van hemele en aarde.

Maar, Hy het nie net geskape en dit so gelos nie, nee, ons bely verder volgens die Skrif:

… dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie.

Daarom verwerp ons dwaling van die Epikureërs, ’n dwaling wat 3 eeue vC,

al ontstaan het, en in verskillende vorme vandag nog lewendig is, nl.

“wat sê dat God Hom met niks bemoei nie en alle dinge aan die toeval oorlaat.”

Hoor u die verskuiwing, onthou ons kry die suiwer ateisme,

God is nie, Hy bestaan nie en het dus nie gespreek, geskape nie, en het dan vanselfsprekend niks met hierdie wêreld te doen nie,

na ‘n god wat wel daar is, geskape het … maar het nou niks met sy skepping te doen nie.

Die verskuiwing het in die 1600’s die dwaling tot gevolg wat genoem word,  die deisme, nl.

God  het alles geskape, maar nou laat Hy dit soos ’n horlosie afwen,

God is nie betrokke in skepping nie, alles is nou oorgelewer aan natuurkragte,

die mensdom bepaal en beskik eintlik alles …. “God is watching from a … distance…”

Die uiteinde hiervan is die koue noodlot, ewolusie, toeval, materialisme,

ons moet onsself, die mensdom, moeder aarde probeer red… daar is niks

anders hier of hierna nie…

En nou as dit reën van ongeloof en deisme in die wêreld, dan drup dit in die kerk ….

Van die gedagte dat God alles beskik, regeer, bepaal … na wat ons later kry…

God beheer en bepaal net groot gebeure nie, nie detail nie … dan…

God beheer goeie dinge… maar nie slegte kwade dinge nie …

wat laasgenoemde betref, is Hy saam met ons ‘n ‘slagoffer’ daarvan….

In die Beeld van 2010-12-14 skryf prof. Adrio König, na aanleiding van die wrede moorde op die Potgieter gesin, dat God nie alles (d.w.s ook die kwade) beskik nie:

“Hier staan dat God omgee, nie dat hy alles beskik of selfs net toelaat nie. God gee om. God sal sy kinders deur hul nood dra. Maar ek lees nie in die Bybel dat God alles beskik of toelaat nie. Ek lees in die Bybel dat ons God teleurstel, dat God téén die sonde is, dat God in sy wet sonde veroordeel. Daarom wonder ek of “Jesus huil vandag” nie dalk ’n treffende opskrif was nie.”

Kan hierdie soort dwalings ouers troos by die graf van ’n kind?

Die afsterwe van ’n geliefde?

Lewensvraagstukke van my gesin, gemeente, land en volk se toekoms?

Met die worsteling van sonde en boosheid in die wereld … en die stryd teen sonde in mye eie hart en lewe?

Nee, geliefdes, daarom:

Wat bely die ware kerk, die ware gelowige volgens die Skrif?

Dit word nêrens beter saamgevat vanuit die Skrif, as in HK, Sondag 10

Vraag: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?

Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte,  rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom. 

Sleutelwoorde: krag, onderhou, regeer, alles, Vaderhand… vanuit die Skrif.

Die Vader wat tot sy eer, alles geskape het … het die skepping nié aan ditself oorgelaat nie …

Die Vader het toe die kroon van sy skepping in sonde geval het, en daardie sonde die hele skepping geraak het, Rom. 8:20 wat ons gelees het, en in die besonder die mens aangetas het, nié oorgelaat aan toeval of die mens nie… dank God!

Wat het ons gelees daar in Romeine 8:18-39, in die besonder v. 18-22?

– die skepping wat deur die sonde getref is (ons leer in NGB art. 14 en 15 meer daaroor),

word nie aan die lyding oorgelaat nie, maar sal volkome hernuwe word,

die skepping wat met reikshalsende verlange na die nuwe hemel en aarde,

wat God in Christus kom red het.

En daarom let op vier sake tot troos:

1. God se voorsienigheid, dat Hy alles beskik en regeer, is oor die hele skepping, en alle gebeure, tot die fynste detail, bv. oor die voëls, hoeveel te meer oor die mens:

Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” (Mt 6:26)

2. God se voorsienigheid is oor die ganse geskiedenis, mense gebeure, alles volg sy behae:

Psalm 135:5-6  Waarlik, ék weet dat die HERE groot en onse Here bo alle gode is.  Alles wat die HERE behaag, doen Hy, in die hemel en op die aarde, in die seë en al die dieptes.

3. God se voorsienigheid gaan oor goeie en slegte dinge, Hy beskik albei:

Hebr.11:39-40 En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie, omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie.

Hand 2:23-24  23 Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring;  Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word.

En dit bring dadelik die vraag na vore, maar … is God dan die bewerker van die kwaad, die ‘outeur van die sonde’ as Hy alles beskik… selfs slegte dinge?

Kyk na ons laaste teks geliefdes,

Vers 23a: God se almag en voorsienigheid beskik sekere die ergste sonde in die geskiedenis van die mensdom … Christus se gruwelike kruisiging, waarin die Here die soewereine bepalende oorsaak is, dit kon nie plaasind volgens sy wil en plan nie.

Maar dan ook leer die Skrif:

Vers 23b: julle … goddelose mense … die mens en niks en niemand anders nie, is die … sondige skuldige oorsaak.

Sien ook hierdie twee Skrifgedeeltes:

Hand 4:27-28   27 Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus (sondige oorsaak = die mens) wat U gesalf het,  28 om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind (soewereine bepalende oorsaak = God).

Lukas 22:22   22 Die Seun van die mens gaan wel heen volgens wat bepaal is (God wat die bepalende oorsaak is), maar wee daardie man (sondige skuldige oorsaak) deur wie Hy verraai word!

En daarom kan ek dit nie in my eie woorde beter sê as wat ons belydenis dit self stel in antwoord op hierdie klag teen God en sy Woord nie, as ons bely in navolging van die Skrif in NGB artikel 13:

“Tog is God nie die bewerker van die sondes wat gedoen word nie en Hy dra ook nie die skuld daarvoor nie. Sy mag en goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel die duiwels en goddelose mense onregverdig. Ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons is tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy aan ons in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry.”

Geliefdes, in hierdie woorde, moet ons – baie belangrik – raaksien,

dat die rede waarom ons God se voorsienigheid, sy beskikking van alles, selfs die sonde en boosheid glo,

presies dieselfde is waarom ons glo dat God drie-enig is (NGB art. 8-9),

oor waarom Jesus God is, en die Heilige Gees God is, (NGB art. 10, 11),

waarom ons glo aan die wonder van die skepping in 6 dae en die geesteswêreld (NGB art. 12)….

naamlik,

… “OMDAT God Hom so in sy Woord geopenbaar het” (HK Sondag 8, v/a 25)

NIE ons denke of idees of gevoelens bepaal die waarheid, of is die standaard of toetsteen van reg en verkeerd, ens. nie, maar die Woord deur sy Gees alleen.

En, ons is tevrede met God se openbaring en leer daaroor, dat die Skrif leer,

a) God beskik alles, en

b) die mens is verantwoordelik vir alles wat hy doen, sê, ens.

Laastens geliefdes, as ons weet wat die leer van die voorsienigheid is volgens die Skrif, sien die wonderlike troos wat dit bring

WAT sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Romeine 8:31–32)

Wat sal ons … ek sê van?

– die lyding wat ek nog in die skepping sien, al die boosheid, al die aanslae

van die sonde, wêreld en Satan,

– van die geskiedenis, ons land ons tye, toekoms al die oorlog en stryd orals?

– al die sondige oorblyfsels wat my as kind nog aankleef, ook in my hart die worstelinge?

– al die gebrokenheid, verdeeldheid, wat die Here se kerk deur die eeue beleef?

– as die Here ‘n kind van my wegneem, ek tragedies beleef, pandemies…?

– huweliks- en gesinsverbrokeling, ekonomiese verval en agteruitgang…?

Wat sal ons dan sê as nie net die skepping nie … maar ek en u

en elke gelowige in die woorde van vers 23, “sug in onsself” ….

wanneer, v. 26 die lewe so erg druk …. dit nie lyk of dinge wil beter gaan nie …

en ek amper nie meer kan bid nie … of nie weet hoe ‘om reg te bid nie’

DAN ja dan, luister ek opnuut na die evangelie, die goeie nuus …

van God wat voorsien, wat sorg, wat red vir ewig:

Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het….

Hy het klaar betaal, ook vir al jou worstelinge, al jou sondes, ook verkeerde besluite en sondes … as sy kind wat in Hom glo…

Ja, die sondes van ‘n jonkheidslewe waarvan ons gesing het in Ps. 25,

maar ook vir jou sondes van die afgelope week, nou …. en elke dag!

Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” (Ro 8:33–34)

En al daardie gebrokenhede, verlede … nou … toekoms …

al verstaan ons dit nie nou alles nie,

hoor die evangelie van God se voorsienigheid daar in Rom. 8:28,

En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.” (Ro 8:28)

Elke sondige besluit, ja, Christus is nie gespaar nie, sodat dit vir jou as kind ten goede meewerk… die ongelowige sal hierdie groot werklikheid misbruik om ‘meer te sondig’, sien Rom. 6:1,2,

die ware kind van God sal hom nog meer verootmoedig voor die Here,

na Christus vlug vir vergifnis en troos, en om die goeie stryd aan te hou stry,

lees gerus die hele Romeine 7, veral verse 24-26!

En daarom moet ons, u en ek, nie moed opgee nie, v.25-27

Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding. En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.” (Ro 8:25–27)

En eendag, v. 30, as ons verheerlik is, volkome, sal ons volkome rus hê,

verstaan en volkome weet, dat God alles vir ons ten goede beskik het

in my lewe en stryd hier op aarde tot die einde toe, 2 Tim. 4:6-8.

Daarom bely ons in navolging van die Skrif in NGB art. 13,

Hierdie leer bied onuitspreeklike troos as ons daardeur geleer word dat niks per toeval oor ons kan kom nie maar alles deur die beskikking van ons goeie hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop – hulle is almal getel – en ook nie een mossie op die aarde sal val nie (Mat 10:29, 30). Ons verlaat ons hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwels en al ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie.

Weet en glo dit geliefdes, dat Hy ons ‘alles’ genadiglik geskenk het, v. 31 wat nodig is om tot sy eer en ons saligheid te lewe, liefde vir God en ons naaste.

Hoekom het so baie ‘n groot probleem met die leer van die voorsienigheid?

Want, die SLEUTEL van die leer van die voorsienigheid word nog gemis, nl.

dit waarmee die belydenis begin het in NGB art. 13,

as jy dit nie van harte glo nie,

dan gaan niks hiervan (die leer van die voorsienigheid) of die hele geloof en die hele Skrif nie sin maak nie:

Ons glo dat die goeie God …

Die …. goeie … God…

Dit is die GOEIE God wat alles geskape het, wat alles ten GOEDE beskik,  bepaal en regeer in Christus, ook alles, selfs die sonde en bose, vir my ‘ten goede’ meewerk.

Dit wat ons gesing het daar in Psalm 25:4-6, geliefde,

u moet dit van harte glo, omhels en daaruit lewe, elke dag, in alle tye en omstandighede!

25:4

God is goed in al sy handel,

en sy pad is enkel reg;

daarom laat Hy sondaars wandel

in die waarheid van sy weg.

Hy sal met sy hand hul lei

wat verdwaal was en verlore;

wie sagmoedig is, laat Hy

wandel op sy regte spore.

25:5

Ja, Gods weg is goedheid, klaarheid,

en sy werk altyd getrou

vir wie wandel in sy waarheid

en op sy beloftes bou.

Wil my dan, u Naam ter eer,

al my sondeskuld vergewe;

want ek het teen U, o HEER,

swaar en menigmaal misdrewe!

25:6

Wie’s die man wat hier benede

in Gods vrees sy weg wil gaan?

God sal self sy wank’le skrede

voortlei in die regte baan.

Al wat goed is, sal Gods hand

hom in stilheid laat verwerwe;

en die lank beloofde land

sal sy nageslag beërwe.

En daarom, kom ons luister na die troosvolle woorde van God se onderhouding, redding en sorg, ja, die evangelie van die Here voorsienigheid in Jesus Christus, ons Here:

Wie sal ons skei van die liefde van Christus—verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Romeine 8:35–39)

Amen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: