PREDIKERS: Soek nie groot dinge nie, maar die HERE!
Inleiding
Hier is ‘n preek/lesing van prof. PW Buys, wat ons as predikers oproep om opnuut die Woord van ons Here tydig en ontydig, onbeskaamd tot redding van sondaars, en die eer van God te verkondig (2 Tim. 3:14-4:5). Ons moet nie ‘groot dinge’ vir onsself soek nie, maar die Here en die heil van ons naaste soek, midde al die teenstande wat die Here oor ons roepingspad kan stuur.
Mag dit elke prediker bemoedig om getrou aan die Here te bly in die voeding van sy gemeentes, die verkondiging van die evangelie orals, en mag lidmate bid vir hul predikers asook dat daar godsvresende jongmanne sal wees deur die Here se genade, wat in die toekoms kan dien as predikers van die Here in sy Koninkryk.
____________________________________________
GROOT DINGE
Rede gelewer tydens die promosieplegtigheid van die Teologiese Skool Potchefstroom
21 November 1985
(By die oordrag van die rektoraat van die Teologiese Skool Potchefstroom, in die gebou van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom-Noord, 21 November 1985.)
Lees: Jeremia 45
Sing: Ps. 118:12; 138:3, 4
Teks: Jeremia 45:4, 5
“So moet jy vir hom sê: So spreek die HERE: Kyk, wat Ek gebou het, breek Ek self af; en wat Ek geplant het, ruk Ekself uit; en dit betref die hele aarde. En sou jy vir jou groot dinge soek? Soek dit nie; want kyk, Ek bring onheil oor alle vlees, spreek die HERE; maar Ek sal jou siel vir jou as buit gee in al die plekke waarheen jy sal gaan.”
Daar word in hierdie kamer hard gewerk.
Dit is die taak van Jeremia om die een oordeelsprofesie na die ander oor Jerusalem uit te spreek.
Droogte, hongersnood, oorlog, pes en eindelik die verwoesting van stad en tempel en die wegvoering van Juda in die Babiloniese ballingskap — dit is wat Jeremia dag vir dag, jaar-in, jaar-uit, oor die volk van God moet aankondig.
Dit is die bitter taak wat in hierdie werkkamer verrig word.
Reeds al by sy roeping tot profeet baie jare gelede het God op die hardheid van Jeremia se profetiese taak gesinspeel: “Ek maak jou vandag ʼn versterkte stad en ʼn ysterpilaar en kopermure teen die hele land: teen die konings van Juda, teen sy vorste, teen sy priesters en teen die volk van die land” (Jer. 1:18).
Teen watter ontsaglike weerstande moes Jeremia al die jare inworstel!
Hy is deur die priester Pashur geslaan.
Sy voete is in ʼn blok vasgemaak.
Hy is in die gevangenis gegooi.
Hulle het hom in ʼn modderput laat afsak om daar van ontbering te sterf.
Hoeveel maal moes hy vir sy lewe vlug!
Vir Jeremia, die fynbesnaarde man met die digtersnatuur, het die taak algaande te swaar geword.
Soms het hy sag getreur: “Ag, was my hoof maar water en my oog ʼn fontein van trane! Dan sou ek dag en nag beween die wat verslaan is van die dogter van my volk” (Jer. 9:1).
Dan weer het hy byna soos ʼn kranksinnige te kere gegaan as die rou klaagkrete uit sy bors skeur: “o My ingewande, my ingewande, ek moet bewe van angs! o Mure van my hart! My hart steun in my, ek kan nie swyg nie; want jy my siel, het basuingeluid gehoor, oorlogsgeskreeu!” (Jer. 4:19).
Eenkeer het alles vir hom heeltemal te veel geword en het hy ʼn totale ineenstorting beleef. Toe het hy hom voorgeneem om glad nie meer met die profetiese werk voort te gaan nie. Maar God het hom voortgedryf sodat hy eindelik moes bely: “HERE, U het my oorgehaal, en ek het my laat oorhaal; U was te sterk vir my en het oorwin… As ek sê: Ek sal aan Hom nie dink nie en in sy Naam nie meer spreek nie, dan word dit in my hart soos ʼn brandende vuur, opgesluit in my gebeente. En ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie” (Jer. 20:7, 9).
En toe, in volslae wanhoop het Jeremia, net soos Job, syg eboortedag vervloek: “Vervloek is dag waarop ek gebore is. Vervloek is die man wat aan my vader berig gebring en gesê het: Vir jou is ʼn seun gebore” (Jer. 20:14, 15).
So het dit in Jeremia se werkkamer gegaan.
Barug, die handlanger en privaatsekretaris van Jeremia, moes dag vir dag, jaar-in, jaar-uit, met hierdie worstelinge van die profeet saamlewe. Elke woord uit die mond van die gemartelde man moes Barug noukeurig in ʼn boekrol opskrywe.
Op ʼn dag het Jeremia vir Barug gesê: “Ek is verhinder, ek kan nie gaan in die huis van die HERE nie. Gaan jy dan en lees uit die rol wat jy uit my mond beskrywe het, die woorde van die HERE voor die ore van die volk in die huis van die HERE op die vasdag” (Jer. 36:5).
Dit was soos ʼn bom wat bars.
Toe Barug die boekrol klaar in die tempel voorgelees het, het die mense mekaar verskrik aangekyk, en die koning het op die boekrol beslag gelê. Toe dit daarna in sy paleis aan sy majesteit voorgelees is, het hy vel na vel met ʼn pennemes stukkend gesny en dit woedend in die vuur gegooi.
Jeremia en Barug moes vir hul lewe vlug.
Op bevel van die HERE moes Barug al daardie vreeslike profesieë van vooraf vir die tweede keer opskryf.
Asof dit alles nie genoeg was nie, is Barug op die koop toe beskuldig dat dit hy is wat Jeremia ophits om sulke dinge te profeteer (Jer. 43:3).
Dit het vir Barug ook te veel geword. Op ʼn dag het hy in ʼn oomblik van radelose ontroering uitgeroep: “Wee my tog, want die HERE het kommer aan my smart toegevoeg; ek is moeg van my gesug en vind geen rus nie! (Jer. 45:3).
Dit alles het in die werkkamer van Jeremia gebeur.
Daarop het die HERE Jeremia beveel om Barug te vermaan en te vertroos. Kostelike ironie: nou moet hy hierdie profesie wat oor homself handel, in die boekrol opskrywe: “So spreek die HERE: Kyk, wat Ek gebou het, breek Ekself af; en wat Ek geplant het, ruk Ekself uit; en dit betref die hele aarde.”
Hier maak God die onpeilbare dieptes van sy Vaderhart vir Barug oop. Hoeveel maal moes God as gevolg van die sonde sy eie bouwerk vernietig, sy eie planting uitruk!
Hy het dit gedoen met die verwoesting van die ou wêreld in die sondvloed. Hy sou dit nou weer doen met die ballingskap van sy uitverkore volk, Israel.
Hy sou dit later weer doen met die kruisiging van sy eie Seun, Jesus Christus, die ware tempel van God, toe Hy, belaai met ons sonde, rooi bebloed op Golgota moes sterf.
Hy doen dit deur die eeue met die oordeelsrampe wat Hy oor stede en lande stuur.
By die eindoordeel sal Hy dit finaal doen wanneer Hy hierdie wêreld wat Hyself geskep het, wat onder die las van die sonde waggel, aan die vuur en vlam van die verderf prysgee.
En jy, Barug, terwyl God op die punt staan om vanweë die sonde hierdie pragtige Jerusalem wat Hy as woonplek uitverkies het, self af te breek, terwyl Hy besig is om sy uitverkore volk wat Hy met tere sorg soos ʼn wingerdstok in Kanaän geplant het, self uit te ruk, sal jy, Barug, vir jouself groot dinge soek?
Groot dinge.
Wat word daarmee bedoel?
Die Kanttekening van die ou Statebybel verklaar “groot dinge” as ʼn geruste, voorspoedige en bloeiende staat vir die Joodse volk en vir Barug self.
Eenvoudiger gesê: Barug, terwyl God se geregtigheid van Hom eis om alles wat vir Hom die dierbaarste is, aan die verwoesting prys te gee, wil jy vir jouself ʼn lewe van rus en vrede en voorspoed soek?
Barug, soek dit nie.
Die weg waarlangs daar vir jou ewige vrede en geluksaligheid kom, is juis hierdie bitter smarte-weg van God wat nou deur die ballingskap van Juda, en later oor Golgota sal loop waar God self afbreek wat Hy gebou en uitruk wat Hy geplant het.
Sy weg gaan deur lyde tot heerlikheid. En sou jy vir jou groot dinge soek? Soek dit nie.
Want kyk, sê die HERE, Ek bring onheil oor allevlees. Maar Ek sal jou siel vir jou as buit gee in al die plekke waarheen jy sal gaan.
Laat dit vir jou tot troos wees, Barug, dat jou lewe gered sal word en dat die dood na jou nie sal aankom nie, al val daar duisend aan jou sy en tien duisend aan jou regterhand.
Die woord van die HERE aan die adres van Barug het vir ons vanaand ʼn baie duidelike en aangrypende boodskap. God openbaar Hom in hierdie geskiedenis as die God wat bou en plant maar ook as die God wat afbreek en uitruk wat Hyself gebou en geplant het, wanneer sy handewerk vanweë die sonde nie meer aan sy doel beantwoord nie.
Dit is die roeping van sy diensknegte, sy profete, om hierdie boodskap met die oë op die kruis van Jesus Christus gerig, in die krag van die Heilige Gees, in die wêreld te verkondig.
Kyk wat het God in die twintigste eeu alles uitgeruk en afgebreek.
In die natuur: droogte, hongersnood, oorstromings, aardbewings (dink aan Mexiko!), vulkaniese uitbarstings (dink aan Colombië!). Wie sien in hierdie rampe waardeur duisende mense jaarliks sterf, nie die kastydende hand van God nie!
In die volkewêreld: in die bestek van ʼn kwarteeu twee verwoestende wêreldoorloë waarin miljoene mense omgekom het en groot wêreldstede in puin gelê is. Daarna ʼn rewolusie wat soos ʼn orkaan oor die mensdom waai en eeu-oue politieke en kulturele strukture laat verkrummel. Daarby ʼn vlaag van geweldpleging, skrikaanjaging, terrorisme. In die jongste tyd die Vigsepidemie waardeur God die sonde van sodomie sy eie noodwendige vergelding laat ontvang. In die agtergrond die altyd teenwoordige dreiging van ʼn kernoorlog waardeur alle menswaardige bestaan in ʼn enkele dag vernietig kan word.
In ons eie land: die ekonomiese en politieke situasie so haglik as kan kom. Hoe lank nog voordat God alles wat in meer as drie eeue onder sy genadige voorsienigheid hier geplant en gebou is, gaan uitruk en afbreek?
So lyk die tyd waarin ons leef.
Oor die toekoms hang daar groot vraagtekens.
ʼn Mens huiwer as jy oor die lewe van jou kinders en kindskinders dink. Wat gaan alles gebeur in die dertig, moontlik veertig jaar, waarin hierdie jong broeders wat vanaand hul studie voltooi, in die bediening sal staan?
Geagte jong broeders, soos Barug sal u, as handlangers en diensknegte van ons hoogste Profeet, Jesus Christus, die moeilike taak moet aanpak om die woord van u Here en Meester in die wêreld te verkondig.
U boodskap: God gaan hierdie wêreld met alles wat Hy daarin deur mensehande gebou en geplant het, afbreek en uitruk sodat sy ewige koninkryk kan kom.
Soos Jeremia sal u weldra deur God uitgestuur word om in die Naam van die HERE” uit te ruk en om te gooi, te vernietig en te verwoes, om te bou en te plant” (Jer. 1:10).
Die taak wat op u wag, is vanweë die ongeloof in die wêreld, van so ʼn aard dat u meer as een dag dalk soos Barug sal uitroep: “Wee my tog, want die HERE het kommer aan my smart toegevoeg; ek is moeg van my gesug en vind geen rus nie”.
Waar vind die evangeliedienaar in so ʼn tyd sy troos?
Hy vind dit deur die Woord en Gees van God aan die voet van die kruis. Op Golgota het God, om ons sonde ontwil, self afgebreek wat Hy gebou en uitgeruk wat Hy geplant het. Jesus Christus is die ware tempel van God wat om ons ontwil in puin gelê is.
Na Golgota moet u daagliks in die geloof gaan om te kyk of daar ʼn smart is soos die smart wat God sy eie Seun aangedoen het — om jou ontwil.
En jy, Barug, handlanger en gesant van ons hoogste Profeet, Jesus Christus, sou jy by die aanblik van sy hoof, vol bloed en wonde, vir jouself groot dinge soek?
Groot dinge?
ʼn Welvaartstaat vir jouself?
Gemak, rykdom, ʼn sorgvrye lewe, ʼn weelderige huis, ʼn swierige motor, ʼn oorvloedige inkomste, groot populariteit in die samelewing?
Sou jy vir jou groot dinge soek? Soek dit nie.
Hoe was dit gesteld met Hom wat op Golgota aan die kruis gehang het?
By sy geboorte was daar vir Hom geen plek in die herberg nie.
Later het die Samaritane Hom onderdak geweier omdat Hy na
Jerusalem op reis was.
Hyself het een keer verklaar. “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie”(Mat. 8:20).
Hyself het eenkeer verklaar: “Die jakkalse het gate en die voëls van
Op ʼn armsalige eseltjie het Hy Jerusalem binnegery.
Die laaste nag is Hy deur al sy dissipels in die steek gelaat.
Hy is met dorings gekroon.
In die gesig gespuug en geslaan.
Hulle het sy klere van Hom afgeneem.
Hulle het Hom nakend aan die kruis gespyker.
Daar is Hy deur God verlaat.
Om jou ontwil.
En sou jy, sy arme dienskneg, vir jouself groot dinge soek?
Soek dit nie.
Want ʼn dienskneg is nie groter as sy heer nie.
“Hy wat in die gestalte van God was… het Homself ontledig deur die gestalte van ʼn dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ʼn mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja die dood van die kruis” (Fil. 2:6-8).
Om jou ontwil.
En sou jy vir jou groot dinge soek?
Soek dit nie.
Want Jesus Christus moet, soos Johannes die Doper gesê het, steeds meer word, en jy steeds minder (Joh. 3:30).
Sou jy vir jou groot dinge soek?
Soek dit nie.
Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid en al die ander, noodsaaklike dinge sal vir jou daar bygevoeg word(Mat. 6:33).
Sou jy vir jou groot dinge soek? Soek dit nie.
Maar verkondig aan die volk van God hierdie troos: Te midde van alles wat in duie stort en vergaan, het Jesus Christus belowe dat Hy sy kerk op ʼn rots sal bou en dat die poorte van hel dit nie sal oorweldig nie (Mat. 16:18).
Om Christus ontwil sal God sy kerk wat Hy tot die ewige lewe uitverkies het, in der ewigheid nooit weer afbreek of uitruk nie.
Dit is die blye boodskap wat u moet uitdra.
Eenmaal as die hemel deur vuur vergaan, die elemente brand en versmelt, sal daar op ʼn nuwe aarde onder ʼn nuwe hemel ʼn ewige stad verrys, die Nuwe Jerusalem waarvan God self die bouer is en waar Hy met sy volk in alle ewigheid sal woon.
Amen.
____________________________
Prof. Buys se werk oor Dans en ander artikels.
Leave a Reply