HG STOKER: DIE CHRISTELIKE GELOOF EN WETENSKAP BELY ‘HIPERDOKSE’, NIE ‘PARADOKSE’ NIE

HG STOKER: DIE CHRISTELIKE GELOOF EN WETENSKAP BELY ‘HIPERDOKSE’, NIE ‘PARADOKSE’ NIE

“Die beoefenaar van Christelike wetenskap beoefen wetenskap in die vrese van die Here. Hy stry teen alle menslike hooghartigheid en eiewaan (ook van homself). Hy aanvaar die kreatuurlike genoegsaamheid en grense van sy kenne en denke en sal aan die een kant alle outonomie van die rede (redeverheerliking) en aan die ander kant alle irrasionalistiese denaturering van die rede bestry.

Waar hy voor (nie PARADOKSE nie, maar) HIPERDOKSE te staan kom, d.w.s. waarhede wat sy menslike verstand te bowe gaan, maar waarvan hy die samehang kan deursien nie, sal hy nie die een ter wille van die ander verwerp nie, maar albei in die geloof aan Gods openbaring aanvaar. Ook uit hierdie wyse van wetenskapsbeoefening toon hy sy geloof.”

[Stoker verduidelik in twee voetnotas]:

“ ‘n Paradoks is een of meer menings (oortuigings, oordele) wat vir die menslike rede teenstrydig is. Die term ‘paradoks’ hoort eintlik by rasionaliste tuis, omdat hulle in die menslike rede die maatstaf vir die waarheid soek. Ons spreek nie van paradokse nie, maar van hiperdokse: wat die menslike verstand te bowe gaan en wat die mens met sy onselfgenoegsame kreatuurlike verstand nie kan versoen nie; hulle is vir die mens skynbaar teenstryding, nie vir God nie. Voorbeelde van hiperdokse is dat God alles bestuur, maar dat die mens tog vir sy dade verantwoordelik is; of dat Christus tegerlyk God én mens is.”

Hy skryf verder:

“Dit is hier nie die geleentheid om bostaande in besonderhede te adstrueer nie. Bowendien bied Gods Woord nog ander voorwetenskaplike fundamentele beligting op mens en kosmos, waarmee die Christenwetenskaplike rekening moet hou. Waar dit hier op aankom, is drieërlei:

Eerstens, dat die beoefenaar van Christelike wetenskap uit sy werke sy geloof moet toon. In die tweede plek dat die beoefening van wetenskap ,in U lig’ in vergelyking met ander wetenskapsbeoefening — ‘n verskil maak. In die derde plek dat die waarhede wat Gods Woord vir die wetenskap van fundamentele belang bied, nie (of nie so of in elk geval nie beslissend nie) buite Gods Woord om gevind kan word nie.

Dit is noodwendig dat die Christen met hierdie waarhede rekening hou; want hy handel onwetenskaplik as hy nie hierdie relevante gegewens met sy vorming van wetenskap aanvaar en gebruik nie – net soos mutatis mutandis ‘n regverdig onregverdig handel as hy nie met alle relevante getuienisse in ‘n betrokke saak rekening hou nie.”

Bron: HG Stoker, Christelike wetenskap – ‘n noodwendigheid, in: Die Atoomeeu -in U lig, Potchefstroom, IBC, 1969:250-253)

OPMERKING:

“Ons word op al hierdie plekke (in die Skrif – slc) baie duidelik geleer dat daar drie persone in een enige Goddelike Wese is. Al gaan hierdie leer die menslike verstand VER TE BOWE, glo ons dit nou tog DEUR DIE WOORD, terwyl ons verwag om die volle kennis en vrug daarvan in die hemel te geniet.”

Nie ons verwarde, onvolmaakte ‘rede of verstand’ nie, maar die volmaakte God wat onfeilbaar deur sy Gees en Woord spreek, Godsopenbaring, die Heilige Gees-uit-uitgeasemde Goddelike Skrif (NGB. art. 2-7) is die hoogste, finale en onfeilbare standaard van leer en lewe, van alle wetenskapsbeoefening, van elke terrein van lewe en denke, in alles waaroor dit spreek.

“HK Sondag 8 vraag 25: Terwyl daar maar tog net een, enige Goddelike Wese is, waarom praat jy van drie, naamlik die Vader, Seun en Heilige Gees? Antwoord: OMDAT GOD HOM SO IN SY WOORD GEOPENBAAR HET dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige God is.”

2 thoughts on “HG STOKER: DIE CHRISTELIKE GELOOF EN WETENSKAP BELY ‘HIPERDOKSE’, NIE ‘PARADOKSE’ NIE

Add yours

  1. Ek is nie seker waar Stoker die term ‘hiperdoks’ gekry het nie, maar sy beskrywing daarvan as die ‘menslike verstand te bowe gaan’ is in lyn met wat ons oor die Drie-eenheid bely volgens die Skrif in NGB art. 8:

    “Ons word op al hierdie plekke (in die Skrif – slc) baie duidelik geleer dat daar drie persone in een enige Goddelike Wese is. Al gaan hierdie leer die menslike verstand VER TE BOWE, glo ons dit nou tog DEUR DIE WOORD, terwyl ons verwag om die VOLLE kennis en vrug daarvan in die hemel te geniet.”

    Die ‘volle’ van ‘volle kennis’ is die sleutel.

    Ons kan weer, as beeld van God gered en herstel in Christus, weer *waarlik en seker genoegsaam* ken o.g.v. openbaring (‘deur die Woord’) en deur die krag van die Gees (‘Gees en Woord’ frase orals in ons belydenis) vir soverre God bepaal het wat ons kan en moet ken (Deut. 29:29), maar nie algenoegsaam en allesomvattend soos God self nie = wat dus ons ‘menslike verstand ver te bowe’ gaan, dus wat vir ons ‘onbegryplik’ is, soos ons bely God is vir ons, in NGB art. 1.

    So ja, as ons bely daar is sake soos bv die leer van die Drie-eenheid; Goddelike soewereiniteit én menslike roeping/verantwoordelikheid; twee nature van Christus, ens., wat ons ‘verstand te bowe gaan’ (hiperdoks), dan beteken dit nie paradoks (teenstrydigheid) of ‘onbegryplikheid’ in die sin van ‘onkenbaar’ of ‘onweetbaar’ nie. Ons kan wel beperk, maar genoegsaam ‘verstaan’ of ‘begryp’ of ‘ken/weet’ wat nodig is ‘so veel wat vir hierdie lewe nodig is, tot sy eer en tot saligheid van hulle wat aan Hom behoort’ (NGB art. 2) te lewe, deur die geloof.

    Hoekom?

    “OMDAT God Hom so in sy Woord geopenbaar het” (HK So. 8, wat ek die wesentlike ‘epistemologiese’ verklarings-sleutel noem vir alles wat volg in die HK, en wat vooraf bely is)

    Toe ek deur die temas van die NGB gepreek het so paar jaar terug, het ek elke keer vir ons gemeente daarop gewys en baie beklemtoon, of dit nou NGB artikels 8,9 was, of 10 of 11 of 12 of 14 of 16, ens… dat ons dit van harte glo en kan ken… “Omdat God Hom (en al die ander leerstukke wat ons bely) so in sy Woord geopenbaar het..”

    Sien bv. hier oor die uitverkiesing (NGB art. 16), uit my preek oor die onderwerp:

    “Ons glo van harte, al kan ons dit nie alles omvat en volkome verstaan nie, maar wel genoegsaam die leer van die uitverkiesing vir dieselfde grondige wesentlike rede waarom ons glo dat:

    • God is   … NGB 1
    • God het geopenbaar  … NGB 2-7
    • God het geskep in 6 dae …. NGB 12, 14
    • God is een Wese en 3 Persone … NGB 8-9
    • Die Gees is God, en Jesus is tegelyk God en mens … NGB 10, 11

    en ja, alles van ons ongetwyfelde christelike geloof (sien antw. 21, HK Sondag 7),

    OMDAT: “… God Hom en die waarheid in sy Woord geopenbaar het!” HK Sondag 8, v/a 25)

    Ja, omdat God die waarheid van die uitverkiesing énverwerping geopenbaar het in die Heilige Skrif, daarom glo ons alles wat saamgevat word in NGB artikels 1-16, asook wat gaan volg in NGB artikels 17-37.

    https://proregno.com/2021/05/24/leerprediking-ngb-artikel-16-die-ewige-verkiesing-van-god-ef-14-6/

    Dus,

    “Want ons wandel *deur die geloof* en nie aanskouing nie” (2 Kor. 5:7)

    “Deur die geloof *verstaan* ons…” (Hebr. 11:3)

    “En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons *verstand gegee het* om die Waaragtige te ken…” (1 Joh. 5:20)

  2. Sien ook JA Heyns, Inleiding tot die Dogmatiek aan die hand van die NGB, by NGB artikel 13 (Die voorsienigheid van God), bl. 163, 164.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑