LEERPREDIKING: NGB artikel 16
Die ewige verkiesing van God (Efesiërs 1:4-6)
Lees: Efesiërs 1:1-14; 2:1-10; 2 Tim. 1:8-11
Teksverse: Efesiërs 1:4-6, “… soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.”
Tema: Die ewige verkiesing van God in Jesus Christus (God word verheerlik in beide genadige uitverkiesing en regverdige verwerping)
Preekopname (GK Carletonville, 2021-05-02, nota: let wel, die inhoud van die preek en teksnotas hier onder stem nie altyd ooreen nie, die notas is nie volledig nie, die audio preek is die volledige preek):
Leerpreek: Efesiërs 1:4-6, Die ewige verkiesing van God in Christus (NGB artikel 16)
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
“Ons glo dat God, toe die hele geslag van Adam deur die sonde van die eerste mens in die verderf en ondergang gestort is, Hom betoon het soos Hy is, naamlik barmhartig en regverdig.”
SO, begin ons belydenis aangaande wat ons volgens die Skrif, glo oor die ewige uitverkiesing van God.
En nou, soos ons met die Skrif werk, so ook met die belydenis, die konteks waarin ons dit bely, is baie belangrik, naamlik, om hierdie eerste sin van NGB art. 16 te gebruik:
“Ons glo dat God … ”
Watter God?
Dit is die God wat ‘is’, NGB artikels 1, 8-11,
en wat ‘geopenbaar en gespreek’ het, NGB artikels 2-7
wat ‘geskape het en alles onderhou’, NGB artikels 13-14,
Ons glo dat hierdie God, “… toe die hele geslag van Adam deur die sonde van die eerste mens in die verderf en ondergang gestort is,” (dit wat ons bely en geleer het in NGB artikels 14 en 15)
Wat gedoen het?
“… Hom betoon het soos Hy is, naamlik barmhartig en regverdig.”
En dit is wat nou gaan volg in NGB artikel 16 en verder… veral tot by art. 24, wat ons saligheid betref.
Dus, die Here het alles geskape, die mens as die kroon van die skepping,
maar nou baie belangrik, die leer van die uitverkiesing moet juis gesien en verstaan word,
binne die konteks van NGB artikels 1-15, veral 14 en 15, anders gaan niks sin maak van art. 16 en verder nie.
In art. 14 en 15 het ons geleer die mens was goed, baie goed geskape, om God te dien en eer,
maar onder die misleiding van die Satan, het die mens gekies om te sondig,
die sondeval, die gevolg, die erfsonde wat gevolg het,
sodat die mens totaal verdorwe geraak het, in die woorde van HK, Sondag 2 en 3, vrae 5-8:
- kan en wil nie God se wil, sy wet nakom nie, en
- is so verdorwe dat hy glad nie instaat om iets goed te doen nie, en tot alle kwaad geneig is,
- TENSY ons deur die Gees van God wedergebore word.
En daarom, is soos vorige kere geleer is (sien NGB artikel 14 en 15 prediking) dit baie belangrik wat ons mensbeskouing is, wat sy verlore staat behels, en of die mens homself kan red … self of met die ‘hulp’ van die Here?
Die Bybel leer ons is nié gesond nié, nié siek nié, nié half-siek nié, maar dood, morsdood in ons sondes, sien weer Ef. 2:1-3.
EN DAAROM KOM ONS BY DIE UITROEP, OP VERSKILLENDE MANIERE IN DIE BYBEL:
– Ek, ellendige mens, wie sal my verlos van die sonde, dood, ellende? Rom. 7:24 ens…
Ja, selfs die mees goddeloses erken dinge is nie reg nie, daar is dood, pyn, onreg, ens…
Maar hul dink die mens kan homself nog red…. of met samewerking met hulp van ‘buite’,
kan en sal die mensdom homself red …. vertroue op die self of prinse….
Die gelowige kom tot die besef, redding moet van BUITE onsself kom!
Niks ‘in’ of ‘deur’ ons nie, of ons ‘bydrae’, maar,
in die belydeniswoorde van waarmee art. 16 begin:
Ons glo dat God … toe die hele geslag van Adam deur die sonde van die eerste mens in die verderf en ondergang gestort is … Hom betoon het soos Hy is, naamlik barmhartig en regverdig
In die woorde van NGB art. 17 wat gaan volg:
“Ons glo dat ons goeie God in sy uitnemende wysheid en goedheid die mens weer opgesoek het toe Hy gesien het dat die mens homself in die liggaamlike en geestelike dood gewerp en geheel en al ellendig gemaak en al bewende van Hom weggevlug het.”
HIERDIE IS DIE EERSTE BELANGRIKE SAAK OM TE LEER:
Ons mensbeskouing gaan ons reddingbeskouing bepaal…. en andersom
Godsbeskouing … Skrifbeskouing … Mensbeskouing … Reddingsbeskouing
Afsonderlik verstaan, maar ook verbind aan mekaar.
En wat is die wese van die redding, dit begin NGB art. 16 openbaar, en dit gaan
OOR WIE GOD IS EN WAT HY DOEN IN CHRISTUS DEUR DIE KRAG VAN DIE GEES.
Teenoor die mens se verdorwenheid, goddeloosheid, opstand, ondankbaarheid, ontevredenheid,
bely ons die Skrif leer dat …
“Ons glo dat God, toe die hele geslag van Adam deur die sonde van die eerste mens in die verderf en ondergang gestort is1, Hom betoon het soos Hy is, naamlik barmhartig en regverdig”
HIER IS DIE TWEEDE SAAK, WAT EK AL BAIEMAAL GENOEM HET IN DIE PREDIKING,
God is en wil as beide geken word, nl. in sy barmhartigheid en regverdigheid.
“Sondag:4 – VRAAG EN ANTWOORD: 11
Vraag: Is God dan nie ook barmhartig nie?
Antwoord: God is wel barmhartig; maar Hy is ook regverdig. 2 Daarom eis sy geregtigheid dat die sonde wat teen die allerhoogste majesteit van God gedoen is; ook met die swaarste straf gestraf moet word – dit is met die ewige straf aan liggaam en siel.”
En watter leerstuk van die Skrif in die besonder openbaar en beklemtoon dat God BEIDE
regverdig en barmhartig is?
Ja!
Die leerstuk van die predestinasie, oftewel dubbele predestinasie,
dat God verorden het wat met elke mens se saligheid gaan gebeur,
reeds voor die grondlegging van die wêreld.
Dit is die leer van die uitverking en verwerping, albei.
God se predestinasie … dat Hy dinge vooraf bepaal en stuur, beskik,
wat ons ook al gehoor het en geleer het daar in NGB art. 13 …
omdat beide sake:
Hy verorden tot genade barmhartigheid sommiges,
en Hy verorden sommiges tot regverdige veroordeling
en dit alles tot sy eer, soos ons lees in Rom. 9,
“En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid…” (Rom 9:22–25)
In NGB word albei hierdie sake genoem, met besondere klem vanselfsprekend op die uitverkiesende genade van God in Christus.
Wat is die uitverkiesing?
Die woord word in die Skrif verskillend gebruik, oor meer algemeen om ’n bepaalde taak of roeping aan te dui,
Israel wat uit verkies is om ’n afgesonderde volk vir die Here te wees, deur wie die woord van God na die wêreld sou kom, deur wie die Messias gebore sou word…
Rom. 3:1,2, en ons lees in Deut. 7: Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees. (Deut. 7:6; sien ook Rom. 9:3-5)
So is konings uitverkies tot bepaalde take, of priesters, selfs Judas is uitverkies tot die amp van die apostel:
Jesus antwoord hulle: Het Ek nie julle twaalf uitverkies nie? En een van julle is ‘n duiwel! (Jn. 6:70)
Dus ‘n bepaalde taak of amp.
Maar dan die uitverkiesing waaroor dit in ons belydenis besonder gaan, en wat die Skrif sentraal wesentlik leer: dit is die uitverkiesing tot redding, nl. verlossing van sonde, redding van die ewige oordeel, die ewige lewe, volle geluksaligheid.
Die belydenis vat dit as volg saam:
God is barmhartig, aangesien Hy dié wat Hy uitverkies het, uit hierdie verderf trek en verlos; God het hulle, uit louter goedheid en sonder om hulle werke in die minste in aanmerking te neem, in sy ewige en onveranderlike raad uitverkies in Jesus Christus, ons Here.
Dordtse Leerreëls hfst. 1:7 gee baie meer detail, en daar bely ons die uitverkiesing as volg:
Hierdie uitverkiesing is ‘n onveranderlike voorneme van God. Daarvolgens het Hy nog voor die skepping ‘n sekere aantal mense uit die hele menslike geslag uitverkies. Hierdie menslike geslag het deur hulle eie skuld van hulle oorspronklike ongeskondenheid in sonde en verderf verval. Die uitverkorenes is dus nie beter of waardiger as die ander nie, maar verkeer saam met die ander in die gemeenskaplike ellende. Nogtans het Hy hulle, uit volkome vrye welbehae van sy wil en uit louter genade, tot die saligheid in Christus uitverkies God het Christus ook van ewigheid af tot Middelaar en Hoof van al die uitverkorenes en tot Fondament van die saligheid gestel. So het Hy ook besluit om die uitverkorenes aan Christus te gee om hulle salig te maak.
EN DIT IS WAT ONS GEHOOR HET DAAR IN EFESIëRS. 1 EN 2 TIMOTEUS 1:
“soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.” (Ef. 1:4–6)
“Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here of oor my, sy gevangene nie, maar ly saam verdrukkinge vir die evangelie na die krag van God wat ons gered en geroep het met ’n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is, maar wat nou geopenbaar is deur die verskyning van ons Verlosser, Jesus Christus, wat die dood tot niet gemaak het en die lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring het deur die evangelie,” (2 Tim 1:8–10)
Hier is ’n paar sake wat die belydenis uit die Skrif handhaaf om raak te sien:
1 Dit handhaaf die mens se skuld en onvermoë om uit jouself te red … en te kies, en daarom is die uitverkiesing so noodsaaklik:
Ons glo dat God, toe die hele geslag van Adam deur die sonde van die eerste mens in die verderf en ondergang gestort is1, Hom betoon het soos Hy is, naamlik barmhartig en regverdig. God is barmhartig, aangesien Hy dié wat Hy uitverkies het, uit hierdie verderf trek en verlos2; God het hulle, uit louter goedheid en sonder om hulle werke in die minste in aanmerking te neem3, in sy ewige en onveranderlike raad4 uitverkies in Jesus Christus, ons Here5. God is regverdig deurdat Hy die ander in hulle val en verderf laat bly waarin hulle hulleself gewerp het6.
2 Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered, Ef. 2:4,5
2 Ons word uitverkies sonder onder enige werke of verdienste van ons kant:
“God het hulle, uit louter goedheid en sonder om hulle werke in die minste in aanmerking te neem, in sy ewige en onveranderlike raad uitverkies in Jesus Christus, ons Here.”
“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” (Eph 2:8–9)
“Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here of oor my, sy gevangene nie, maar ly saam verdrukkinge vir die evangelie na die krag van God wat ons gered en geroep het met ’n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is,” (2 Ti 1:8–9)
3 Wat is die grondoorsaak van ons verkiesing en redding dan?
“God het hulle, uit louter goedheid en sonder om hulle werke in die minste in aanmerking te neem, in sy ewige en onveranderlike raad uitverkies in Jesus Christus, ons Here.”
“deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.” (Ef. 1:5–6)
“in Hom in wie ons ook ’n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,” (Ef. 1:11)
4 Ons uitverkiesing is nie bloot ‘n teoretiese saak daar ver nie, maar persoonlik intiem verbondsmatig IN JESUS CHRISTUS,
“God het hulle, uit louter goedheid en sonder om hulle werke in die minste in aanmerking te neem, in sy ewige en onveranderlike raad uitverkies in Jesus Christus, ons Here”.”
Dit leer die Skrif baie duidelik, die verkiesing was en is altyd in Jesus Christus:
“soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.” (Eph 1:4–6)
“Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here of oor my, sy gevangene nie, maar ly saam verdrukkinge vir die evangelie na die krag van God wat ons gered en geroep het met ’n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is,” (2 Ti 1:8–9)
5 Deel van God se bepalende beskikkende plan, sy ewige raad en predestinasie, is om die nie-uitverkorenes verby te gaan, Hy handel daarin ook:
“God is regverdig deurdat Hy die ander in hulle val en verderf laat bly waarin hulle hulleself gewerp het”
Regdeur die Skrif leer ons:
Die doodsengel smeer nie die bloed aan die ongelowiges se deure in Egipte nie.
Gee Farao aan homself oor, so ook die goddelose.
Soos met alles, is God nog altyd die ‘bepalende oorsaak’, en die mens die ‘sondige oorsaak’ (sien preek by NGB artikel 13).
Ook met die leer of besluit van die verwerping, DL 1.6:
“Dat God aan sommige mense in die tyd die gawe van die geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie, volg uit sy ewige besluit. Immers: Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend, en Hy doen alles volgens die raad van sy wil. Volgens hierdie besluit maak God genadiglik die harte van die uitverkorenes ontvanklik – hoe verhard hierdie harte ook al mag wees – en buig hulle om tot geloof. Hulle wat egter nie uitverkies is nie, laat Hy volgens sy regverdige oordeel in hulle boosheid en verharding bly. Hierin veral kom vir ons tot openbaring die diepe, barmhartige en tegelyk regverdige onderskeiding tussen die mense wat almal ewe verlore is. Dit is die besluit van die uitverkiesing en verwerping wat in die Woord van God geopenbaar is.
“Alles het die Here gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.” (Pr 16:4)
“So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is. Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde. So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil. Jy sal dan vir my sê: Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil weerstaan? Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie? Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie? En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid, ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene?” (Romeine 9:16–24)
NOU GELIEFDES, HOEKOM GLO ONS DIE UITVERKIESING?
AS U EN BAIE ANDER DALK DAARMEE WORSTEL, GAAN EK VIR U DIE GROOT SLEUTEL
OPENBAAR….
Ons bely die sleutel daar in DL hooftuk 1.8,
“Hierdie uitverkiesing is nie veelvoudig nie, maar een en dieselfde vir almal wat salig word, in die Ou sowel as in die Nuwe Testament. Die Skrif verkondig immers aan ons net een welbehae, voorneme en raad van die wil van God. Hiervolgens het Hy ons van ewigheid af uitverkies tot die genade sowel as tot die heerlikheid, tot die saligheid sowel as tot die weg na die saligheid wat Hy voorberei het, sodat ons daarin kan wandel“
Ons glo van harte, al kan ons dit nie alles omvat en volkome verstaan nie, maar wel genoegsaam
die leer van die uitverkiesing vir diesefde grondige wesentlike rede waarom ons glo dat
- God is … NGB 1
- God het geopenbaar … NGB 2-7
- God het geskep in 6 dae …. NGB 12, 14
- God is een Wese en 3 Persone … NGB 8-9
- Die Gees is God, en Jesus is tegelyk God en mens … NGB 10, 11
en ja, alles van ons ongetwyfelde christelike geloof (sien antw. 21, HK Sondag 7),
OMDAT:
“God Hom en die waarheid in sy Woord geopenbaar het!” HK Sondag 8, v/a25 (lees)
Ja, omdat God die waarheid van die uitverkiesing én verwerping geopenbaar het in die Heilige Skrif, daarom glo ons alles wat saamgevat word in NGB artikels 1-16, asook wat gaan volg in NGB artikels 17-37.
KERKHISTORIES is die kerk nog altyd geskei deur hierdie leerstuk van predestinasie, van die uitverkiesing en verwerping,
– bybelse tye, Augusitnus v Pelagius, Calviniste v Arminiane, Dordtse sinode, ons tye ….
In ons kerk se eie reformasie, 1859, ja oor ‘n ander baie belangrike saak gegaan, die 2de gebod, Sondag 35, HK: hoe aanbid ons die Here, die erediens, Psalm kwessie, ens.
MAAR, daar was ook ‘n ander wesentlike leersaak, NGB art. 16, wat verwerp is deur die afvallige kerk, ook die uitverkiesing was sentraal op die spel, in die kerkstryd in die 19de eeu, met die kwessie van “‘n algemene genade (wat) aan alle mense verkondig” is, wat die hart van die Evangelie aantas.[1] Die leerdwalinge van daardie tyd is dan ook via die Gesange die kerke ingedra, oftewel ingesing. Ook in ons eie tyd sal ons opnuut moet waak, dat ‘n verkeerde leer nie beide ons verlossingsleer en aanbiddingsleer op ‘n dwaalpad plaas nie.
EN DAAROM LAASTENS, WAAROM IS DIE LEERSTUK SO BELANGRIK EN MOET GEHANDHAAF WORD.
1 As ons redding van ons wat moet kies afgehang het, en nie God wat uitverkies nie, sou niemand gered word nie
2 As die rede van redding in onsself is of ons keuses, dan beteken dit ons is van nature beter as ander, en verdien ons saligheid bo ander.
3 Ons gaan juis sien, en dit volg later in NGB art. 24 en verder … vanuit God wat eerste kies, volg ons keuses, dade, bekering, gehoorsaamheid ens. Ef. 1:4b, “soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees,” (Eph 1:4)
4 God bepaal ook die middele waardeur die evangelie uitwerk, Hand. 13, “Maar Paulus en Bárnabas het vry-uit gespreek en gesê: Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie—kyk, ons wend ons tot die heidene. Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U ’n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde. En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe. En die woord van die Here is deur die hele land verbrei.” (Hand 13:46–49)
5 Die goddelose, die valse profete misbruik, verdraai en verag hierdie predistinasie leer, vir die gelowiges is dit tot groot troos sodat ons ons roeping: “Dit is die besluit van die uitverkiesing en verwerping wat in die Woord van God geopenbaar is. Verkeerde, onreine en onstandvastige mense verdraai hierdie leer tot hulle eie verderf, maar aan die heiliges en godvresendes gee dit ‘n onuitspreeklike troos.” DL 1.6
En daarom bely die ware gelowiges, uitverkorenes onder alle volke en tye, die ware kerk in dankbare nederigheid van harte as volg, in navolging van die Skrif:
“Teen iemand wat oor hierdie genade van die onverdiende uitverkiesing en gestrengheid van die regverdige verwerping in opstand is, stel ons die woorde van die apostel: O, mens, wie is jy wat teen God antwoord? ; en ook die woorde van ons Saligmaker: Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? Maar ons wat hierdie verborgenhede godvresend en met eerbied aanbid; roep saam met die apostel uit: O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken of wie was sy raadsman gewees? Of wie het iets aan Hom gegee, dat dit vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.” (DL 1.18)
______________________
[1] “Die besware teen die Gesange en die prediking ‘dat een mensch een eigen wil ter zaligheid heeft’ en bygevolg gemis aan ‘de zuivere predestinasie of uitverkiesingsleer’, is met die jare nie uitgewis nie”. ibid., p.291, 292 GCP vd Vyver, Dirk Postma.
Leave a Reply