25 STELLINGS OOR WET EN EVANGELIE BY PROF. JA HEYNS
(Bron: Die Mens Onderweg – oor die Tien Gebooie, Kaapstad: Tafelberg, 1970)
“Met die nuwe gebod (van Jesus, Joh. 13:34 – slc) – laat ons dit baie duidelik stel – is die wet nie afgeskaf of gepasseer nie. Trouens, juis omdat die wet vervul is, kan die wet ook bind, want die vervulde wet is die bindende wet. Maar dan sal ons steeds goed moet begryp dat die wet as vervulde wet bind. Die wet as imperatief van die indikatief en responsief bly geld vir die menslike lewe en is nie kragteloos gemaak nie. Dit is die gronddwaling van die sg. nuwe moraliteit, of die sekularistiese moraal, soos dit m.i. in samehang met ‘n algemene tendens in die modernistiese teologie, genoem behoort te word. …
Jesus Christus vervul die wet; die gelowige bewaar of onderhou die wet, en die ongelowige doen die werke van die wet. …. Meer nog: wie soos Christus sou probeer om die wet te vervul, oortree dit en doen sonde. Die gelowige vervul nie die wet nie; hy bewaar of onderhou die wet. … Geloof in Jesus Christus is die geboorte van die nuwe mens; onderhouding van die wet is die groei van die nuwe mens. … Wie dus aan die wet gehoorsaam is, leef as burger van die koninkryk. Of anders gestel: waar die wet gehoorsaam word, daar breek iets van die koninkryk deur. … Daar is geen enkele terrein waaroor Gods heerskappy nie gaan nie en waar Sy wet – die wet van die koninkryk! – nie geld nie ” – JA Heyns
Inleiding
Ons kan nie die wet sonder die evangelie, en die evangelie sonder die wet verstaan nie.
Daarom dat ek hierdie ‘wet en evangelie’ reeks beskikbaar stel, hoe verskillende gereformeerde teoloë vanuit die Skrif hierdie verhouding tussen ‘wet en evangelie’ verwoord het. Wet en evangelie is ook ‘n vraag na die verhouding tussen wet en genade, die verhouding OT en NT, verhouding skeppingswet en morele wet, Jesus en die wet, hoe moet ons nou lewe, waarvoor is die wet gegee, wat is die rol en plek van die wet in die gelowige se lewe, geld die wet net vir gelowiges of ook vir ongelowiges, en indien wel, hoe? Waar kom die wet vandaan, is die wet net die Tien Gebooie, het die samevatting van die wet die wet vervang in die NT, het die liefde en die Gees die wet vervang, hef die genade die wet op, en baie meer vrae.
Nou van hierdie vrae, word beantwoord deur prof. JA Heyns (NG professor in Dogmatiek en Etiek, aan die einde van die 20ste eeu) in sy etiek werk, Die Mens Onderweg. Ek stel die boek opnuut bekend, deur ‘n paar aanhalings daaruit vir u weer te gee, hopelik sal dit u motiveer om die hele boek te gaan lees (ook beskikbaar by Pro Regno Boeke) en te bestudeer, asook die volle konteks te vind van die aanhalings hier onder.
Dit is een van die beste, oorsigtelike boeke wat ek nog gelees het oor die wet in sy verhouding tot die evangelie, veral in die Afrikaanse taal. Soos altyd, stem mens nie met alles noodwendig saam nie, maar die hooflyne, veral die eerste twee hoofstukke, is baie belangrik vir die regte verstaan van die plek van die wet, ook vir die NT gelowige en die kerk van Christus midde die wêreld.
Prof. Heyns se definisie van wet is, God se bevel tot ordelike bestaan en voortbestaan.
Geen ordelike bestaan en voortbestaan in die nuwe SA?
Toe ek die definisie lees, die boek gelees het, die baie uitsprake van prof. Heyns – om God se heilige wet in ons lewens, maar ook ons samelewing te handhaaf as norm/standaard, vir die gelowige en ongelowige, vir alle volke, natuurlik vervul in Christus en sy NT konteks – toe kon ek nie anders as om te vra: hoe kon hy dan saam met die NG (en NP?) leierskap gewerk het om ons pragtige land met al sy volke, ons Christelike beskawing, hoe gebroke en sondig ookal, geestelik en fisies help oor te gee aan die wanordelike revolusionêre chaos van die marxistiese humanistiese orde wat, menslik gesproke, al die volke en mense se voortbestaan bedreig en aanhou bedreig sedert die ‘Teologie van Revolusie’ losgelaat is en in praktyk begin ondersteun is deur so baie wat eers daarteen was? Die verval op haas elke terrein getuig van die verwerping van God se bevel tot orde volgens sy wet en evangelie.
Hoe kon iemand, wat selfs ‘n boek geskryf het teen die marxistiese revolusie, Teologie van die Revolusie, wat hierdie boek, Die mens onderweg oor die Tien Gebooie, geskryf het, help om die land en sy mense oor te gee aan hulle – wit en swart en alle ander kleure – wat juis in in ongeloof-opstand was en nog steeds is (Psalm 2) teen wat prof. Heyns bv. hier skryf:
“Wie (die wet) oortree – gelowig of ongelowig – eindig in chaos. … Wie die wet minag en die werke wat die wet eis, nie doen nie, hy stel hom buite die orde wat God vir hierdie wêreld en vir die lewe van die mens bepaal het. Meer nog: sy lewe is ‘n inbreuk op die Goddelike regsorde. … Wie die wet van God nie gehoorsaam nie, plaas homself buite Gods orde vir hierdie lewe en verval in chaos.”
Die geestelike en fisiese bloed revolusie van die afgelope 30 jaar getuig orals daarvan, hoe swart en wit lewens ‘slagoffers is van die nuwe humanistiese SA’.
Ja, vanselfsprekend verwerp ek die sluipmoord op prof. Heyns ((sien die dokumentêr daaroor hier), en ja, die regsorde van die ou Suid-Afrika moes in verskeie aspekte bekeer en verder reformeer (sien my eie skrywes daaroor hier en hier), veral nader na God se regsorde vir alle mense, soos geopenbaar deur die Woord, maar om die Christelike beskawingsorde, die Christelike geloof en God se wet te verruil vir ‘n veelgodery, ‘n marxisties-sosialistiese humanistiese nuwe SA regsorde, om radikale bekering (tereg) te eis van jou eie volk, maar tegelykertyd jou land en volk oor te gee aan ‘n nog meer onbybelse humanistiese ‘wanorde’, is myns insiens totaal in stryd met die wese van prof. Heyns se twee boeke: Teologie van die Revolusie, en Die Mens Onderweg.
Die radikale bekering oor sondes van die verlede wat mens hier hoor en oproep vir ‘geregtigheid’, het blykbaar nie gegeld vir die humanistiese marxistiese nuwe regime wat oorgeneem het nie, en volgens my kennis nog nooit hul sonde en skuld oor die terrorisme, ongeregtigheid en wanorde van die verlede bely het nie?
Ons wag nou nog vir dieselfde verdoemenis en belydenis van skuld van hulle wat die nuwe humanistiese goddelose nuwe SA help bou het, ongeag baie waarskuwings in die verlede dat die baba (Christelike geloof en beskawingsroeping vir Afrika) nie saam met die verlede (wat sondig was, haat en bitterheid tussen volke, ongeregtigheid, ens.) uitgegooi moes word nie (sien prof. Sybrand Strauss se opmerking in hierdie verband, “they throw reformed theology out with apartheid”, in die videon ‘Johan Heyns & Willie Jonker: setting the record straight in the DRC in SA‘, by 0:30 sekondes).
Daar was ook ongelukkig geen sprake van bekering en skuld bely, ten minste van wat ek gehoor het, by bv. FW de Klerk wat onlangs gesterwe het nie, maar weereens net ‘n eensydige veroordeling van apartheid SA, en geen sprake van veroordeling van die humanistiese nie-Christelike, en selfs nou al meer anti-Christelike wordende nuwe SA nie?
Lees die regsinnige NG teoloë
Dit is jammer dat baie mense, vir begryplike redes, vir prof. Heyns meer sal onthou vir sy politieke rol in sy latere dae, waarin hy direk of indirek die nuwe nie-Christelike humanistiese SA help bou het, en nie vir sy goeie gereformeerde leer, onderrig en boeke nie. Hy was nog een van die laaste regsinnige bekende teoloë van die NG Kerk wat onder andere teen die groeiende teologiese liberalisme van die nuwere geslag probeer staan het (so ook prof. Willie Jonker, maar die politieke rol aan die einde van sy lewe veroorsaak dat baie meer aan hom dink in terme van politiek as ongelukkig die gereformeerde teologie. Lees veral ook die volgende twee regsinnige gereformeerde predikante en teoloë se werke van die verlede, dr. Francis Nigel Lee en dr. Willie Marais.)
Tog wil ek elke leser aanmoedig om nog steeds proffs. Johan Heyns en Willie Jonker se gereformeerde werke te bestudeer, soos ons met baie ander gereformeerde teoloë sal doen wat ons oor bepaalde sake, leringe (en/of optredes, standpunte, ens.), dalk sterk verskil het, natuurlik alles in die lig van die Hand. 17:11 beginsel. Sien ook die video hierbo vermeld oor Heyns en Jonker as gereformeerde teoloë en nie ‘politici’ nie.
Prof. Heyns se Dogmatiek, verklaring op die NGB (Inleiding op die Dogmatiek), sy Teologiese Etiek reeks (3 dele), om maar net ‘n paar te noem, is baie leersaam (doen gerus navrae by Pro Regno Boeke vir van sy boeke, asook die ander NG teoloë wat ek hierbo vermeld het).
Uitleg van ‘wet en evangelie’ aanhalings
Wat die aanhalings hier onder betref oor ‘wet en evangelie’, ek het die meeste opskrifte bygevoeg, ook om as opsommings te dien van wat prof. Heyns oor daardie bepaalde saak geskryf het, alles onder die titel ’25 stellings’. Die liefde vir God se wet/orde én die evangelie straal duidelik uit die pen van prof. Heyns, en hy verduidelik sekere konsepte en idees op treffende wyse, daar het vir my nog meer lig opgegaan oor bepaalde aspekte van die verhouding tussen ‘wet en evangelie’.
Lees en bestudeer gerus, dit is ‘n goeie bron om te gebruik as inleiding en oorsig op die Tien Gebooie, en dit spreek baie ander sake ook aan aangaande ‘wet en evangelie’ wat baie behulpsaam is, wat die gelowige en kerk van Christus sal help om ‘n sout en lig in hierdie wêreld te wees, tot die Here se eer en die heil van die naaste (Matt. 5:1-20).
__________________________________
25 STELLINGS OOR WET EN EVANGELIE BY PROF. JA HEYNS
1 Die wet is vrug van die verbond (God se heilshandelinge), nie voorwaarde tot die heil nie
“As God in Sy verbond op mense beslag lê, dan lê Hy op hulie beslag soos dit in die wet tot uitdrukking kom. En omgekeerd: as mense in die verbond vir God kies – die verbond begin wel éénsydig, maar is immers bestem om twéésydig te word – dan lyk die konkrete gestalte van hul keuse soos dit in die wet beskrywe word. Daarom mag die wet nooit as geisoleerde en selfstandige grootheid gesien word nie: nie los van God nie – so het ons vroeër al gesê, maar ook nie los van die geheel van Gods heilshandelinge nie.
Alleen binne die ruimte van die verbond het dit sy legitieme plek. Binne die kader van die verbond is die wet bedoel as bewys en as vrug van Gods heilshandelinge en nie as voorwaarde vir die ontvangs van die heil – soos Israel dit telkens verkeerd verstaan het nie. Hierop kom ons later weer terug.
Soos die verbond self, is dus ook die wet ‘n gawe van God, enkel en alleen op grond van Sy liefde. En die volk se gehoorsaamheid hieraan – hul konkrete en sigbare verbondsaanvaarding – sou tegelykertyd hul dankbaarheid wees vir Gods heilsweldade aan hulle bewys.” [p. 26]
2 Die wet is God se bevel tot ordelike bestaan en voortbestaan hiér op aarde
“Die wet is immers – so het ons vroeêr gesê en dit is waar ook van die dekaloog – Gods bevel tot ordelike bestaan en voortbestaan. Daarom is die woorde wat die aankondiging van die wet voorafgegaan het, so belangrik: As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En julle sal vir My’n koninkryk van priesters en’n heilige nasie wees… (Ex. 19:5,6). Nooit weer sou Israel na die ingrypende Sinai-gebeure dieselfde kon gewees het nie. Nou het hy God se geskrewe wet gehad en voortaan sou die beslissende vraag wees of Israel daarna luister of nie.
Gehoorsaam hy dit, is sy lewe vanselfsprekend anders as vroeër. Gehoorsaam hy dit nie, sou dit ook nog anders wees, want dan kom hy onder die vernietigende oordeel van die Verbondsgod te staan. En inderdaad was dit die twee pole waarbinne die geskiedenls van Israel afgespeel het: gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid. Maar diepste bedoeling van die dekaloog was tog die bestaan en voortbestaan van Israel – nee, die ordelike bestaan en voortbestaan, d.w.s. die lewe as bondsvolk.
Dit was immers die sin van die heilsgeskiedenis: om opgeneem te wees in en deel te hê aan en te getuig van God se nuwe orde vir ‘n ou wêreld. Die lewe as bondsvolk was bestem nie vir die hemel nie, maar vir die aarde. Want die volk kon sy hart nie tot die verbondsgod ophef sonder om deur Hom na die aardse lewe, die-met-die-wet-van-God-geseënde aardse lewe, terug verwys te word nie. Die misverstand wat die verbond by die volk sou kon opwek, nl. dat hy bestem was vir ‘n bo-aardse, buite-wêreldse en hiernamaalse bestaan, is deur die wet ondervang: hiér op hiérdie aarde mag Israel geen ander gode voor Sy aangesig hê nie, hiér mag hy geen gesnede beelde maak nie, hiér moet hy die sabbat gedenk, hiér nie doodslaan of egbreek of steel nie.”
3 Israel ‘n lig van die nasies deur die wet en evangelie
“En as Israel die wet gehoorsaam, dan is dit nie maar net ‘n deurgang tot die koninkryk nie, maar ‘n ingang in die koninkryk; dan is Israel nie op weg na die ewigheid nie, maar in die ewigheid. En hierdie lewe in die koninkryk moes Israel maak tot ‘n “lig van die nasies” (Jes. 49:6). Die nasies moes bewus word van die volk in hul midde wat uitdrukking gee aan ‘n lewe waarvan die oorsprong nie in hulleself nie, maar elders te vind is. Hul oë moes getref word deur die helder lig wat in die duisternis skyn (Deut.4:7-8;8:29). So ken God juis deur die wet aan hierdie aarde en die lewe op hierdie aarde, ‘n buitengewoon belangrike betekenis toe: hiér moet sy koninkryk sigbaar tot openbaring kom.
Die dekaloog sê daar is ‘n Iewende verband tussen God en hiérdie wêreld; die wêreld van die groot én die wêreld van die klein, ja, die allerkleinste gebeure. Daarom sal ons kan sê dat die skepping die ruimte is waar Gods verbond opgerig word, die verbond die bestaansgrond van die skepping, terwyl die dekaroog die grondwet is vir die menselewe in hierdie skepping van God.” [p. 32-33]
4 Die wet wat die Here in die mens geskape het (skeppingswet), is by Sinai skriftelik vasgelê (morele wet), juis vanweë die sondeval en gevolge daarvan
“En tog kan ons o.a. op grond van Rom. 1 : 19 e.v. nie beweer dat daar hoegenaamd geen insig in Gods wet oorgebly het nie. Ook hier geld wat in die dogmatiek gesê word m.b.t. die mens as beeld van God : wél aangetas en in sy teendeel verander, maar nie volledig vernietig nie. Nietemin: die sonde was in beginsel so vernietigend van aard en het gaandeweg so toegeneem dat God moes ingryp en opnuut die godsdienstig-sedelike wet aan die mens gee.
Wanneer Hy dan later by Sinai aan Israel binne die kader van die verbond die dekaloog gee, bedoel Hy daarmee ten diepste niks anders nie as die handhawing van wat Hy reeds by die skepping aan die mens gegee het. Maar ‘n blote herhaling sou dit nie wees nie. Twee dinge het nou bygekom: kodifisering en differensiëring. By Sinai is die wet skriftelik vasgelê in ‘n sistematies geordende geheel, en daarom kan ons van ‘n wette kodeks praat. Maar die wetgewing by Sinai het ook beteken dat die vroeë, in die mens ingeskape wet, nl. die liefde, in sy tweeërlei gerigtheid op God en die naaste, nou in meerdere wette uiteengeval het.
Vanweë die sonde het dit nou nodig geword dat die Here God die n liefdeswet as ‘t ware nader moes omskrywe en verduidelik. Die verduistering van die menslike verstand het so ‘n verheldering noodsaaklik gemaak. Presies wat liefde tot God en tot die naaste beteken, het die mens nie meer geweet nie. En dit het God in die differensiëring van die wet in ‘n tiental gebooie gedoen. … So verstaan, sou ons dus ook kon sê: in die wet het God Sy woord by die skepping herhaal. Gods wet is Gods voortdurend herhaalde – skeppingswoord.
Dit beteken nie dat die wet identies is met die skeppingswoord nie. In ses dae het God die hemel en die aarde gemaak . . . Hy gaan dus nie met Sy skeppingsdaad voort nie, en tog gaan die skepping voort. Die herhaling van die wet is die werk van Gods rustyd, die werk van die sewende dag. Daarom sal hulle wat Sy wet nakom, deel hê aan Sy rus (vgl. Hebr. 4 : 4-11), en hulle wat rus, sal hul rus in die wet van God vind. Soos die verlossingswoord deur die sakrament onderstreep en benadruk word, so bevestig die wet die skeppingswoord van die Here God. Die wet is die “teken en seëI” van Gods werk in die skepping.”
5 Jesus wys dat die fondament van die wet die liefde is
“Wie laasgenoemde nie aanvaar nie, sal die wet ook nie begryp nie. Die blote feit dat die woord van die skepping in die wet herhaal word – sy dit dan ook op ‘n ander wyse en in ‘n ander vorm – was as sodanig al teken van Gods versoening. Hy kon immers ook geswyg en geweier het om die woord van die skepping as die “tien woorde” te herhaal. Maar Hy doen dit nie, en in die aankondiging van die wet word teruggegryp na die skepping, maar ook vooruitgegryp op die figuur van die Messias. Daar, by die inkarnasie sou nie die blote woord by die skepping herhaal word nie, maar sou die spreker van die woord self, in die mens Jesus “herhaal” word.
Waar Jesus Hom dan ook met die wet besig hou – wat dit alles beteken, sal ons later sien – maak Hy Hom weliswaar nie skuldig aan geringskatting van die op Sinai geformuleerde dekaloog nie, maar gryp Hy by hierdie “tien woorde” verby na God se eerste woord oor die liefde as essensiêle bestanddeel van menswees. En ook hierin word dit duidelik dat Jesus gekom het om God se oorspronklike oerplan met die mens te kom herstel en te voltooi.”
6 Die sonde, nie die natuur nie, is die probleem: die dekaloog is wet vir alle mense
“Die herskepping staan nie los van nie, maar bou voort op die skepping; die Christusryk dien die Godsryk. Nie die natuur nie, maar die sonde in die natuur het Jesus kom verwyder. Dit beteken dat die lewenspatroon wat in die dekaloog afgeteken is en in Jesus Christus vervul is, inderdaad die lewenspatroon vir alle mense is. Met reg merk R. S. Wallace op: “It is a pattern which reveals anew the meaning of our creation and the meaning of all human destiny.”
Natuurlik sal die dekaloog as Gods geopenbaarde wil vir die menslike lewe eers deur die geloof as sodanig verstaan kan word, maar dit neem nie weg nie dat Gods wet vir gelowige en ongelowige, vir troue bondsvolk en onbesnede Filistyne, die grondwet van hul lewe is; die waarborg van ‘n ordelike bestaan en voortbestaan. Wie die wet van God nie gehoorsaam nie, plaas homself buite Gods orde vir hierdie lewe en verval in chaos.
Die Sinaitiese wetgewing beteken dus nie ‘n gans nuwe bedeling of selfs ‘n nuwe heilsweg naas dié wat tot daar gegeld het nie. In die dekaloog gaan dit om Gods voortgaande genadige handelinge met die mens in die algemeen, en met Israel, ook die Nieu-Testamentiese Israel in besonder. Dat Hy die wet gegee het, en wat Hy in die wet gee, is die konkrete openbaring van Sy koninkryk langs die weg van die uitverkiesing van en verbond met die volk Israel. Gods heilshandelinge is nooit abstrak nie, speel nie in lugleë ruimtes af nie, maar gryp konkreet in in die lewe.”
7 Die wet is goed vir alle mense, en as God se wetsorde verwerp word, eindig dit in chaos
“Wat Hy in Sy wet gee, is vir die heil en voortbestaan van die mens – alle mense, binne én
buite die verbond. Om dit met enkele voorbeelde te illustreer:
– ‘n bende diewe kan as bende nie funksioneer nie, tensy hulle, uitgesproke of stilswyend, afspreek om ten minste nie van mekaar te steel nie en so die agste gebod in elk geval onderling, sy dit dan ook maar net vir ‘n tyd lank, na te kom.
– ewe min kan ‘n afdeling soldate as sodanig optree en die vyand om die lewe bring, as hulle nie besluit het om ten minste mekaar nie dood te maak nie.
– Buitengewoon interessant is die mededeling van Sorokin, vooraanstaande sosioloog, aangaande die Kommunistiese houding m.b.t. die sewende gebod.
Gedurende die eerste fase van die Revolusie het die leiers doelbewus probeer om die huwelik en die gesin te vernietig. Vrye liefde was verkondig in die beeld van die sg. “glas water-teorie”. As ‘n persoon dors het, maak dit nie saak watter glas hy gebruik om sy dors mee te les nie, ewe min is dit belangrik hoe en waar hy sy seksuele dors les.
So het die wettige verskil tussen ‘n huweliksverhouding en ‘n buite-huwelikse verhouding volledig verval. Maar binne enkele jare het hordes wilde, huislose kinders ‘n ware bedreiging vir die sowjet-unie geword. Miljoene lewens, veral van jong meisies, was verwoes, vrugafdrywing was aan die orde van die dag, haat en nyd het opgevlam; al meer mense het verskillende vorme van neuroses begin vertoon en selfs die werk in die genasionaliseerde fabrieke is aangetas.
Kortom: die resultate was so chaoties, dat die regering besluit het om sy beleid m.b.t. die huwelik te wysig. Die heiligheid van die huwelik en kuisheid voor die huwelik is toe gepropageer as essensiële bestanddele van die Revolusie; vrugafdrywing is, behalwe in enkele gevalle, verbied, en egskeidingswette is strenger gemaak.
En die resultaat van hierdie maatreëls?
Sorokin vat dit saam in die volgende beskamende woorde: ‘Soviet Russia today has a more monogamic, stable, and Victorian family and marriage life than do most of the Western countries.’
Onbewus en onbedoeld het die ongelowige Kommuniste die waarheid van Gods wet bevestig: ook die sewende gebod behoort tot die orde wat God vir die mens se lewe in hierdie wêreld daargestel het.
Wie dit oortree – gelowig of ongelowig – eindig in chaos.” [p. 36-39]
8 Valse teenstelling tussen die liefdeswet en tien gebooie
“Ons het gesien dat die wet van God reeds by die skepping van die mens in sy hart gegqe is, en dat hierdie wet daarna, as gevolg van die verwoestende werking van die sonde, en as onontbeerlike hulp vir die gevalle mens, in sy tienledige bestanddele as ‘t ware opgebreek is. Nou kan die vraag gestel word: watter van hierdie twee, die oorspronklike liefdeswet wat God by die skepping aan die mens gegee het, of die gedifferensieerde wet in die vorm van die dekaloog, is die mees primdre of die belangrikste? Of het ons hier met ‘n valse probleemstelling te doen, sodat die vraag self ontoelaatbaar is? …. [p. 39].
9 Die wet staan nooit teenoor die liefde nie
Die wyse waarop die wet en liefde hier teenoor mekaar gestel word is nie in ooreenstemming met die Bybelse leer nie. Nooit en nêrens staan die wet teenoor die liefde nie, maar word juis as openbaringsvorm van die liefde gesien. Dit getuig van God se voortgaande genadige handelinge met die mens dat Hy één liefdeswet vanuit tien verskillende gesigshoeke in die dekaloog belig het en dit daarmee vir die mens makliker gemaak het om in ‘n sondige werklikheid en in ‘n bepaalde situasie volgens die liefdesgebod te lewe.
Maar wie dit ontken, tas die openbaring van God self aan, vergoddelik die liefde én natuurlik die mens, en neem die sonde in die lewe van die mens nie ernstig genoeg nie.
Na hierdie ekskursie keer ons nou weer terug: die dekaloog het nie tot die volk Israel as ‘n volledig vreemde en nuwe grootheid gekom nie. Reeds by die skepping het die Here God die wet in die hart van die mens gelê.
Maar nou mag hierdie wet en die dekaloog nie op allerlei wyse teenoor mekaar uitgespeel word – soos ons nou net gesien het nie. Die dekaloog – wat wesenlik nie anders is as wat God reeds as die wet aan die mens gegee het nie – is uitdrukking van die wil van God en die wegwyser tot die lewe. Daarom is die wet onaantasbaar en volkome betroubaar; en wie die eis van die wet vervul, sal lewe (Rom. 10:5, Gal. 3:12)
Maar ook omgekeerd: wie daarvolgens nie lewe nie, hy, sê Paulus, is vervloek (Gal. 3:10). Al het die mens by sy skepping reeds kennis van Gods wil besit, as God nie op Sinai Sy wil andermaal – geskrewe en uiteengesit – bekend gemaak het nie, sou Sy volk in die duisternis voortgewandel het. Want wat hulle gehad het – deur God self aan hulle gegee (wat eie-standig en eiemagtig was die mens nooit nie – ook nie voor die val nie) – was nie voldoende om hulle die lig te laat sien nie; deur die sonde is hulle immers verblind. Oor die noodsaaklikheid en onontbeerlikheid van die dekaloog-openbaring mag daar dus nooit enige twyfel bestaan nie, al het hy sy diepste wortels – na inhoud en gestalte – in die skepping self; of miskien moet ons sê, juis daarom is die dekaloog ook in ons sondige wêreld van vandag volledig onvervangbaar. [p. 42, 43]
10 Die vervulling van die wet: Matteus 5:17-20
Die woord vervulling (sien Matteus 5:17-20, slc) – van krag maak en tot geldigheid bring – is van esseniële betekenis vir die ganse Skrif, en met name sou die hele Nuwe Testament gesien kon word as die vervulling van die belofte van die Ou Testament verstaan, het die term vervuliing dan betrekking nie net op wat ons gewoonlik as belofte kwalifiseer nie, maar ook op die tyd (Mark. 1 : 15, Gal.4: 4, Ef. 1:10),die kosmos (Ef.4 : 10, 1 : 23, 3 : 19), die kerk(Ef. 1 : 23, 3: 19), die mens (Kol. 2 : 10, Ef. 5 : 18), ens. Dit is juis die triomfantelike in die apostoliese verkondiging, nl. dat wat verkondig word, gesien word as die allesbeslissende daad van Gods vervulling.
Eén aspek nou van die vervulling waaroor die Nuwe Testament dit het, is dat ook die wet van God vervul word. Vanuit ons definisie van die wet – om dit nogeens te herhaal – as die bevel van God tot ordelike bestaan en voortbestaan, is dit duidelik dat die wet as wet behoefte aan vervulling het: aan Gods bevel moet daar immers gehoorsaamheid bewys word. As die wet self tot die historiese handelinge van God behoort, dan sal ook die vervulling daar gesoek moet word. En nou het dit uit die vorige paragraaf reeds geblyk dat God in Christus gegee het wat Hy van die mens gevra het sodat ons by die vervulling van die wet allereers aan Christus sal moet dink. [p. 49]
“Gaan ons nou Jesus se houding m.b.t. die wet na, is dit opvallend dat daar uit die Skrif voorbeelde aangehaal kan word wat die indruk skep dat Jesus negatief teenoor die wet gestaan het. So onder andere Matt. 5:21, 22; 8:21, 22; 12:1-8; Mark. 7:1ev.; Luk. 16:16; Mark. 10:21,21.
Maar noukeurige bestudering van hierdie Skriftuurplekke toon aan dat hier nie van ‘n negatiewe houding, ‘n regstreekse aaonal op of ‘n pleidooi vir die afskaffing van die wet deur Jesus sprake is nie.
Die kritiese en selfs veroordelende toon wat wél by Jesus verneem word, is nie teen die wet as sodanig gerig nie, maar teen die klassiek-Joodse wetsopvatting en wetsvroomheid. Presies waarin die Joodse wetsopvatting bestaan het, sal ons later aantoon, hiér is dit voldoende om daarop te wys dat die wet in die tyd van Jesus dikwels in sy teendeel verander is, deurdat dit van sy oorsprong, nl. die Wetgewer, en uit sy ruimte, die verbond, losgemaak is, en ‘n grootheid geword het wat moes dien as plaasvervanger vir die lewende teenwoordigheid van die Wetgewer.
11 Die wet is vrug, nie voorwaarde nie, van God se genadige handelinge
Sodoende het die wet outomaties in gebod op gebod, en reël op reël uiteengeval. En wanneer die wet op hierdie wyse van die verbond en die Verbondsgod geisoleer en die voorwaarde i.p.v. die vrug van die genadige handelinge van God gemaak word, kon die mens nie meer voel dat hy aan God self gebind word nie. Dan is die wet nie meer Sy wet nie, maar die mens se wet.”
Jesus se verset teen die veruitwendigde, ritualisties-legalistiese godsdienstigheid van die Jode was in feite dus niks anders nie as ‘n teruggryping na die oorspronklike Ou Testamentiese Mosaïese sin van die wet.
En wat was die sin van die wet?
Dit was Gods wil vir Sy volk – sy wil, wat die volk vanweë hul sonde nie kon en nie wou gehoorsaam nie. En daarom het Hy dit self kom gehoorsaam – in Jesus Christus dit kom vervul, Jesus Christus se verhouding tot die wet staan onherroeplik onder die perspektief van die vervulling.
12 Jesus in Matteus 5:17: die passiewe én aktiewe vervulling
Nadruklik het Christus dan ook gesê dat Hy gekom het on die wet te te vervul (Matt. 5:17, vgl. Matt. 3:15). En die vervulling deur Christus beteken nie ontbinding in die sin van afskaffing nie, ook nie aanvulling nie, maar volmaking, aan die wet is sy volle inhoud gegee; wat leeg is word volgemaak. … In ‘n dubbele sin het Christus nou die wet vervul: Hy het gedoen wat die wet geëis het; Hy was gehoorsaam (Matt. 7:12; Luk. 16:17). Maar Hy het ook ontvang wat iemand ontvang wat die wet nie gehoorsaam nie. nl. die dood. Sy sterwe was egter nie net ‘n passiewe gebeure nie, dog ‘n aktiewe daad, ‘n daad van gehoorsaamheid. …
Die wet is vervul, en omdat dit deur lesus Christus in ons plek vervul is, daarom eis die wet nie aan ons wat dit aan Hom geëis het nie, en straf die wet ons nie soos dit Hom gestraf het nie.
In die volste sin van die woord het ons nou met ‘n vervulde wet te doen. Gods liefde is gawe, eis en antwoord; wet én evangelie, daarom is Christus Gods Gawe, Eis en Antwoord, Gods Wet en Evangelie. Hy is Evangelie – in Sy persoon en werke; maar Hy is ook Wet – in Sy persoon en werke. Hy is vervulde wet en daarom ook voltooide evangelie; Hy is voltooide evangelie en daarom vervulde wet.
Met Jesus se dood en opstanding het ‘n volstrek nuwe situasie vir die mens in sy verhouding tot die wet ingetree, of liewer: toe het die ware verhouding wat altyd gegeld het, duidelik geword. Juis uit die genade wat die Jode aangebied was, sê Calvyn, en uit die feit dat die verbond aan die wet voorafgegaan het, blyk duidelik dat die wet nooit sonder Christus was nie. [p. 50- 52]
13 Met die nuwe gebod wat Jesus gee (Joh. 13:34), het die seremoniële wet verval, nie die godsdienstig-sedelike wet nie
Met die nuwe gebod – laat ons dit baie duidelik stel – is die wet nie afgeskaf of gepasseer nie. Trouens, juis omdat die wet vervul is, kan die wet ook bind, want die vervulde wet is die bindende wet. Maar dan sal ons steeds goed moet begryp dat die wet as vervulde wet bind. Die wet as imperatief van die indikatief en responsief bly geld vir die menslike lewe en is nie kragteloos gemaak nie. Dit is die gronddwaling van die sg. nuwe moraliteit, of die sekularistiese moraal, soos dit m.i. in samehang met ‘n algemene tendens in die modernistiese teologie, genoem behoort te word.
Wat met die koms van Christus verval het, is nie die godsdienstig-sedelike wet nie, maar die seremoniële wet. Laasgenoemde sien Calvyn as die diens van die skaduwees. Omdat Jesus Christus in die Ou Testament nog nie verskyn het nie en die volle evangelie toe nog nie geopenbaar was nie, daarom is aan die gelowiges verskillende seremonies gegee om hulle te help en by stand te verleen. Maar daarmee was hulle geloof nie minder geestelik nie – dit moes alleen deur tekens en seremonies versterk word. En hulle het meer daarvan gehad as ons, aangesien ons – na die koms van Christus – meer helderheid het as wat hulle had.
Nie die sin van die seremoniele nie, maar die gebruik daarvan is afgeskaf.
Maar hierdie onderskeiding gaan nie vir die dekaloog op nie, aangesien die dekaloog nie ‘n bloot seremoniële wet was of is nie. Trouens, ons sou kon sê dat die sin van die seremoniële wet juis in die dekaloog sy Ou-Testamentiese omskrywing en formulering het en dat lg. in Jesus Christus sy vervulling gevind het.
As Christus die wet vervul, is dit nie die wet wat verval nie, maar die skaduwees van die wet; die gebruike, handelinge en tekens, dié word afgeskaf, want die Liggaam waarvan hulle die teruggeprojekteerde skaduwees was, het self in die viees verskyn. En nou leef gelowiges nie meer in die die skaduwees nie, maar in die Liggaam en daarom ook as die liggaam. En juis hiervan getuig die Bergrede. [p. 54]
14 Die ‘liefde’ is nie die nuwe norm of maatstaf nie, die Gees vervang nie die wet nie: ons moet alles valse teenstellings tussen wet en liefde verwerp
“Nooit en nênrens funksioneer die liefde as ‘n nuwe norm of ideaal wat die wet vervang en oorbodig maak nie. In die liefde gryp die mens nie bo die wet uit nie, kom hy nie op ‘n ander en met name hoër vlak nie, maar leef hy inderdaad in ooreenstemming met die diepste sin van Gods gebooie: want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar . . . (1 Joh. 4:3, vgl. ook Rom. 13:9). Wanneer Christus die liefde as die ontvouing van die diepste en onmiskenbare inhoud van die wet aandui (Matt. 22:37 e.v.) en daarmee die onafwysbaarheid van die eis van die Iiefde beklemtoon, dan gryp Hy terug, soos ons vroeër ook aL gesê het, op die oerwet wat God reeds by die skepping in die hart van die mens gelê het.
En ewe min as Wat daar met die vervulling van die wet dEur Christus, ‘n teenstelling tussen wet en liefde ontstaan het, het wet en Gees teenoor mekaar te staan gekom. Die Heilige Gees stel Homself nie teenoor of in die plek van die wet as maatstaf en norm vir die nuwe lewe nie, sodat hulle wat na die Gees wandel of hulle deur die Gees laat lei, geen gebod of wet meer nodig sal hê nie.
Die bedeling van die Gees hef die geldigheid en die eis van die wet nie op nie, maar bevestig dit en bring dit tot vervulling. Die werk van die Heilige Gees bestaan juis in die uitwerk van die wet in die lewe van die gelowige (Rom. 8 : 4). Waar Christus die Wet vervul, vervul die Heilige Gees die lewe van die mens met die wet – dit is wat heiligmaking immers beteken.
15 Die wet plaas die mens voor God: in Joh. 8:1-11 bevestig Jesus die juridiese/burgerlike aspek van die Tien Gebooie: doodstraf vir egbreuk, maar ook die genade en vergifnis wat Hy bring
“Om hierdie aspek van Christus se radikalisering van die wet met ‘n enkele voorbeeld te illustreer. As die Skrifgeleerdes en Fariseërs ‘n vrou in egbreuk betrap, is hulle oplossing vir die probleem, kragtens hulle wetsbeskouing, die dood. Christus wil ook volledig erns maak met die wet, daarom meen Hy dat sy inderdaad gestenig moet word. Maar Hy wil erns maak met die vervulde wet wat die mens – alle mense, dus ook die skrifgeleerdes en die Fariseers – allereers voor God plaas. Die God wat die wet nie net gegee en daarom gehoorsaamheid eis nie, maar die God wat sélf in Christus die gehoorsaamheid bewys het.
Daarom is Christus se oplossing vir die probleem, kragtens Sy wetsbeskouing, die lewe. Die vrou, wat sonder twyfel die wet oortree het en daarom skuldig en strafwaardig was, mag vry uitgaan. Nie omdat Christus nie erns gemaak het met die wet nie, maar omdat Hy erns gemaak het met die Wetgewer.
Omdat Hy in haar plek sal gaan staan – vir haar op dié moment eintlik alreeds daar staan – om deur Fariseërs en Skrifgeleerdes wat die wet wil nakom, self wil nakom op hulle wyse, gedood te word. Hy sal sterwe – hét vir haar alreeds gesterwe – en sy mag weggaan om te lewe, d.w.s. om te glo dat Hy vir haar die wet vervul het omdat sy die wet oortree het. En daarom kon Jesus se siening van die wet tot die lewe lei, maar dié van die Fariseërs tot die dood. [p. 56, 57]
16 Die wet van Christus plaas die mens voor sy naaste
“God moet die liefde heers: my liefde vir hom (naaste), en sy liefde vir my. En nou is die boodskap van Christus dat ek in die daad van sy liefde vir my nie uitgesluit is nie, maar intens daarby betrokke is; nie net objek wat passief is nie, maar objek wat aktief is – ja, eintlik sélf ook subjek is. Ek moet dit vir hom nie moeilik maak om my as naaste te sien en soos ‘n naaste te behandel nie; ek moet dit vir hom moontlik maak om my te kan liefhê; ek moet alle struikelblokke in die weg van sy liefde vir my verwyder; ek moet bemin kan word!
En hoe moet dit gedoen word?
Deur my naaste as norm vir my handel en wandel te neem? Nee.
Deur al meer en meer gehoorsaam te wees aan die wet van God – aan die vervulde wet van Christus.
Die gelowige leef nie net na God toe nie, maar ook van God af – dit is die konsekwensie van die nakoming van die wet. Maar die lewe van God af is nie ‘n lewe met die rug vir God gekeer nie. Nee. Maar voor Gods aangesig, met die oog op Hom, is ek besig met my naaste, en hy met my. Eers dan kan hy vir my ‘n naaste wees en ek vir hom.” [p. 59]
17 Christus ‘vervul’ die wet, die gelowige bewaar of onderhou die wet
“Ons het gesien dat die wet nie verval het omdat Jesus dit vervul het nie. Die wet is die wil van God vir die menslike lewe op hierdie aarde en bly gevolglik sy normatiewe betekenis vir die mens behou (vgl. o.a. 1 Kor. 7:9, Rom. 13:8-10). Nooit word die dekaloog nie die vervulling deur Christus deur ‘n ander hoër wet vervang nie – selfs nie die liefde word norm en rigsnoer vir die nuwe lewe as die iiefde ‘n plaasvervanger van die wet sou beteken nie. Dit is die dwaling van die nuwe moraliteit, waarop ons vroeër alreeds die aandag gevestig het.
Omdat die wet sy imperatiewe karakter nie verloor het nie, staan die gelowige dus nog steeds voor die appél van hierdie wet, en die vraag is nou:
Hoe “vervul” die gelowige die deur Christus reeds vervulde wet?
En ons sou selfs kon vra: kan hy en mag hy die wet vervul op die wyse waarop Christus dit vervul het? Hierop is daar maar dan net één antwoord te gee: so kan hy en mag hy dit nooit doen nie. Wat Christus gedoen het, kan geen mens ooit oordoen of nadoen nie. Hy het gedoen wat die Messias alleen kan doen: as God-mens vir sondige mense het Hy die wet vervul. Daarom is Christus se vervulling van die wet in prinsipiële sin anders as die gelowige se gehoorsaamheid daarvan.
Meer nog: wie soos Christus sou probeer om die wet te vervul, oortree dit en doen sonde. Die gelowige vervul nie die wet nie; hy bewaar of onderhou die wet.
Maar hoe bewaar hy die wet?
Deur te aanvaar dat die wet reeds vervul is en nie nog deur die mens vervul moet word nie. Die gelowige wat die wet bewaar, staan nie voor ‘n versameling voorskrifte en reëls wat hy pynlik noukeurig met oorgawe en toewyding moet nakom asof sy heil en saligheid daarvan afhanklik is nie.
Hy staan voor ‘n Persoon wat van hom ‘n beslissing vra: geloof in Hom.
Die gelowige onderhou die wet, nie wanneer hy nie doodslaan, egbreuk pleeg of steel nie; nie wanneer hy sy ouers eer of die Sabbat heiiig nie, maar wanneer hy in Jesus Christus glo.
Daarom is sonde allereers – laat dit duidelik gesê en tog goed begryp word – nie om dood te slaan en te steel nie om die Sabbat te ontheilig en om te begeer nie, maar om nie te glo in Jesus Christus nie. Wie in Jesus Christus glo, is terug geplaas in die orde van God waaruit hy – vanweë die sonde – uitgeval het. … Deur die geloof kry die gelowige deel aan die geregtigheid van die koninkryk wat in Christus gekom het, en word in sy eie lewe ook iets van daardie geregtigheid tot openbaring gebring.
Laasgenoemde beteken konkreet: nou dat die gelowige Christus aangeneem het, gaan ook hy volgens die eise van die wet lewe. Maar dan is dit nie eise waarvan sy heil en saligheid afhanklik is nie, dog eise wat aan ‘n dankbaarheidslewe vorm en gestalte wil gee. Nie heilseise nie, maar dankbaarheidseise ontmoet die gelowige wanneer hy voor die wet te staan kom. … Die wet is nie voorwaarde vir ‘n verloste lewe nie, maar teken van ‘n verloste lewe. … Geloof in Jesus Christus is die geboorte van die nuwe mens; onderhouding van die wet is die groei van die nuwe mens. … Wie dus aan die wet gehoorsaam is, leef as burger van die koninkryk. Of anders gestel: waar die wet gehoorsaam word, daar breek iets van die koninkryk deur. [p. 61-63]
18 Die ongelowige doen die ‘werke’ van die Wet, nie die wet self nie, Romeine 1 en 2 (2:14,15)
“Vir ‘n ordelike bestaan en voortbestaan moet ook die ongelowige hom aan die wet van God hou. Mar as hy dit doen, presies wat doen hy dan?
Vervul hy die wet? Nee.
Dit kan hy nie doen nie, want Christus alleen het die wet vervul.
Bewaar of onderhou hy die wet?
Ook dit doen hy nie, want die bewaring of onderhouding van die wet, het ons gesê, vind plaas alleen deur en in en as gevolg die geloof dat die wet deur Jesus Christus vervul is. En van geloof in Christus is daar by die ongelowige uiteraard nie sprake nie. Trouens, by hom is geen sprake van ‘n aanvaarding dat die wet vir die morele lewe van die mens inderdaad van Goddelike oorsprong is. … Miskien moet ons dit so stel: Jesus Christus vervul die wet; die gelowige bewaar of onderhou die wet, en die ongelowige doen die werke van die wet. … [p. 69]
19 Die ‘natuurreg’ is nie die kenbron van sedelikheid, dus norm of maatstaf vir die mense se lewe nie
“Dikwels was in die verlede al juis op grond van hierdie woorde (Rom. 2:14,15) beweer dat daar so iets soos ‘n natuurlike sedelikheid en natuurreg bestaan en dat ons nie kan aanvaar dat die menslike hart totaal deur die sonde bedorwe is nie? Niks is verder van Paulus se bedoeling nie. Met nadruk sê Paulus dat die heidene nie die wet yan God nie, maar die werk van die wet in hul harte het. In hierdie werke van die wet, sê K. Schilder, gaan dit om konkrete uiterlik waarneembare handelinge wat formeel gesproke wel ooreenkoms vertoon met wat die wet eis, maar sonder dat daarmee die motiewe, beginsels of dryfvere van daardie handelinge aangedui word.
En as ons vra maar waarom doen hulle dan die werke van die wet? – is daar maar één antwoord te gee: nie omdat hulle self sulke goeie mense is nie, maar omdat God hulle nog nie losgelaat het nie. … Dat die Here God die heidene nie aan hulleself oorgelaat het nie, sodat hulle radikaal die volledige wet elke oomblik van die iewe sou oortree, is juis bewys van Gods beswarende hand en Sy bemoeienis met die ganse wêreld, vrug van Sy onderhouding van en regering oor die werke wat uit Sy hande voortgevloei het – bewys van die wêreldomspannende karakter van Sy koninkryk.” [p. 70]
20 Die mens se gewete is nie normatief of kenbron van sedelikheid nie
“So verklaar is die doen van die werke van die wet van nature nie ‘n konstante en stabiele vermoë wat die mens as ‘n aangebore besit eie is nie, ewe min geskied dit vanweë geloof in Jesus Christus, maar is gegrond op en vrug van die onderhouding en regering van God.
Dit is nie die gewete van die mens wat tot kenbron van die sedelikheid verhef word nie, maar die gewete wat in sy verhouding tot en onder oorvleueling van Gods bemoeienis met die mens, gaan funksioneer: ten goede maar uiteraard ook ten kwade. … So word dan ook die heiden, sonder sy wete en soms slefs ook teen sy wil in, deur God in diens geneem – in diens van Sy ryk op aarde” [p. 71]
21 Die nomisme (legalisme, wettisisme) van die Fariseërs
“Ten diepste het die Fariseërs die wet dus nie wet laat bly nie. Ons het gesien dat die Wet, binne die ruimte van die verbond, bedoel is as bewys en as vrug van Gods heilshandelinge met Sy volk. Maar die Fariseërs en die Skrifgeleerdes het hierdie orde omgekeer en die wet foutieflik gaan verstaan as voorwaarde vir die ontvangs van die heil; van die wet en met name ‘n wetsgehoorsame lewe was opname in die verbond en mitsdien ook die verkiesing afhanklik. Nie meer Gods soewereine verkiesende liefde nie, maar die prestasie van die mens het die basis geword van die verhouding tussen God en mens. …
Kortom: die wet het ‘n nuwe heilsweg geword. Langs die weg van ‘die werke van die wet’ (Rom.3:20. 9:32) wou die Jood sy eie geregtigheid voor God verdien. … lsrael se sonde was dat hy die wet sélf wou vervul! Israel had vir die Messias geen plek nie, want Israel was self die Messias! Maar wanneer die wet uit die verband waarin God dit geplaas het – na en nie voor die verbond en die verkiesing nie – losgemaak en in eie hande geneem word – omdat dit ten diepste ook uit Gods hande geneem is – dan word die wet ‘n wet tot die dood toe, i.p.v. ‘n wet tot die lewe” [p. 73-75]
22 Die missionêre doel van die wet
“Daarom kon Israel dan ook nie sy roeping tot getuienis teenoor die heidense volke rondom hom verstaan nie. Die wet is juis aan Israel gegee sodat die heerlikheid van die Here in die dade van Sy volk tot sigbaarheid sou kom voor die oë van die nasies. Die gebooie was immers nie blote hulpmiddels om die verlossingsdade van die Here met betrekking tot Sy volk in herinnering te roep nie, maar sou as werwende krag ook ver en wyd rondom Israel uitgryp na hulle wat (nog) buite die verbondskring gelewe het.
Eerder as om sendelinge na die omringende volke uit te stuur om hulle tot bekering op te roep, moes Israel in sy wetsgetroue volkslewe so ‘n konkrete gestalte aan die heerlikheid van sy God gee dat nasies daarheen getrek sou word…. Jes. 2:3, vgl. Miga 4:1ev; Jes. 60:3ev; Sag. 8:20ev) [p. 77, sien ook Deut. 4:5-8, slc]
23 Die antinomianisme = verwerping van die wet
“Die wet kan oortree word deur wel daarmee besig te wees en dit selfs – formeel altans – te gehoorsaam, maar dit tog so te verander dat dit nie meer die wet van God is wat deur Jesus Christus vervul is nie. By hierdie gestalte van wetsoortreding het ons in die vorige paragraaf stilgestaan. Maar daar is ook ‘n tweede wyse van oortreding, nl. wanneer die wet geheel en al verwerp of geignoreer word. In die eerste geval knoop die mens aan by wat God gegee het, maar, omdat hy nie daarmee tevrede is nie, verander hy dit soos hy goedvind.
In die tweede geval is daar wel nie van aanknoping sprake nie, maar ook hier handel die mens volgens sy eie insigte. In die grond van die saak het ons dus in albei gevalle te doen met die mens wat beter weet as God en self wil kies omdat hy sy eie maatstaf is. In die eerste geval is dit outonomie met die wet, in die tweede, outonomie sonder die wet – albei dus die uiterste moontlikhede van wetsoortreding en gevolglik van sonde.” [p. 78]
“Wie die wet minag en die werke wat die wet eis, nie doen nie, hy stel hom buite die orde wat God vir hierdie wêreld en vir die lewe van die mens bepaal het. Meer nog: sy lewe is ‘n inbreuk op die Goddelike regsorde. … Wie die wet dus nie gehoorsaam nie, maar hom buig voor afgode, die Naam van die lewende God ydellik gebruik, die Sabbat nie gedenk nie, sy ouers nie eer nie, doodslaan, egbreuk pleeg en steel – wie dit doen, hy maak die lewe én die dood van Christus aanfluiting; dan word die struikelblok – die heilsame struikelblok – vernietig en die vyandskap teen die kruis geopenbaar. Oortreding van die wet is die verwerping van die vervulde wet, dus verwerping van Christus self. [p. 79]
24 Verwerping van die wet openbaar die vyandigheid teenoor God
“Vyandskap teen God is nie net die gevolg van die feit dat die mens die wet oortree nie, maar omdat hy met God in vyandskap verkeer, daarom oortree hy die wet. Dit is die menslike natuur wat sedert Adam en Eva in opstand lewe teen God en die naaste, wat die wet nie wil en nie kan nakom nie. Nie net sy uiterlike dade nie, maar ook sy innerlike lewe is nie in ooreenstemming met Gods orde nie. Hierdie innerlike vyandigheid word in die Skrif ook as positiewe opstand beskrywe (Hebreeus : pésja). Dit is die opstandige ongehoorsaamheid van die mens wat hom nie wil onderwerp aan die Koning van die konings nie. Hier word die diepste agtergrond geteken waaruit die sondige dade opkom: uit grenslose hoogmoed en matelose selfoorskatting. Hier ontmoet ons, wat vandag vry algemeen genoem word die mondige mens. Die mens wat met Sy mond God nie napraat nie, maar teen-praat, omdat hy beter weet. Die mondige mens is die mens sonder en die mens teen die wet van God (Grieks – anomia) – dus die mens met sy eie wet.” [p. 80]
25 God se wet is vir elke lewensterrein want God se heerskappy is oor alles
“Meer nog: die dekaloog is alleen die grens van ‘n onoorsigtelike groot gebied van lewenshandel en lewenswandel in verband waarmee daar geen nadere en uitgewerkte bepalinge gegee word nie, maar wat deur Gods volk self ontdek moet word. Dit wil natuurlik nie sê dat daar so iets soos ‘n neutrale gebied is waar Israel en die gelowiges volkome willekeurig mag handel nie. Inteendeel. Daar is geen enkele terrein waaroor Gods heerskappy nie gaan nie en waar Sy wet – die wet van die koninkryk! – nie geld nie.” [p. 85]
_________________________________
Artikels oor wet en evangelie
Artikels oor die wet
Leave a Reply