PROFETIESE WOORDE VAN 1941 TEEN STAATSABSOLUTISME

STAATSABSOLUTISME

Ds. S.J. Stander

[Bron: Koers in die Krisis, deel 3, HG Stoker & JD Vorster (redakteurs), Stellenbosch: Pro Ecclesia Drukkers, 1941]

HK Sondag 34 Vraag 95 : Wat is afgodery? Antwoord: Dit is om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar, het, of naas Hom iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel.

Inleiding

Afgodery van mense en dinge kom al van die sondeval af, dit neem deur die eeue verskillende vorme aan. In die oploop tot die Reformasie van die 16de eeu, het die kerk as instelling ‘n afgod geword wat die mens moet red en reguleer in alles van sy lewe. In die 20ste eeu het dit in die vorm van die Fascisme en Naziisme die ‘bloed en volk’ as redder gehad, met die Fuhrer as messias-redder figuur. Een van die grootste afgode, deur die eeue, maar veral aan die einde van die 20ste eeu, en nou die 21ste eeu, is ‘die Staat’, waar mense en volke, selfs kerkmense blindelings hul vertroue en hoop op die staat stel. om na ‘gees en liggaam’ te sorg en te red. Dit wat God ingestel het as een van die vorme van regering (naas die individu, gesin, gemeente, ens.), het alles oorheersend geword, alles bepalend vir die hele lewe, oor alles en in alle regerings-instellings ingegryp.

Die ‘covid pandemie’ het dit veral duidelik uitgewys, hoe staatsleiers en burgerlike owerhede hul beperkte mag al meer uitbrei en misbruik om vir almal en alles voor te skryf, ook so ver al dat  dit neerkom op die verbod teen eredienste, om in te meng en namens die kerk te regeer en besluite te neem, want hul weet mos van beter…

En wat tragies is, is dat soos met die Naziisme, soos met die Marxisme, werk die kerk lekker saam en preek saam dat die burgerlike owerhede ook oor hierdie ‘goeie mediese saak’ heeltemal reg is, hoe hul dit hanteer en dat kerke gedweë moet saamdoen, ja, alle verbiedinge en reëls wat die owerhede daar stel absoluut gehoorsaam moet word.  Ja, dieselfde owerhede wat bv, korrupsie, misdaad, onreg, aborsie-moord, pogings tot grond diefstal, ens. in stand hou …. is skielik die messias-redder as dit by die ‘covid pandemie’ kom en natuurlik baie ander sake … buig onvoorwaardelik, want Romeine 13 leers so… meen baie.

Hierdie afgodery van die staat, is egter niks nuuts nie, die vorme daarvan verskil deur die eeue, ongelukkig ook in ons volkslewe en geskiedenis, daardie absolute vertroue dat ‘die goeie president of goeie staat’ sal ons en ons volk red op elke terrein: medies, onderwys, ekonomie, ens ens…. Daar is groot bekering en reformasie nodig op die terrein van ‘kerk en staat’, om opnuut te sien dat die staat se taak is alleen die handhawing van wet en orde en die gepaardgaande strafreg wat daarmee saamgaan, nie om god op aarde te probeer speel nie. Hul taak is nie om die hele samelewing, elke mens te probeer red en reguleer nie.

Ja, ons as burgers, as gelowige burgers moet ons bekeer daarvan, die verlange na die Egiptiese slawehuis van staatisme, of soos ds. SJ Stander dit in 1941 noem, staatsabsolutisme. Die Evangelie moet ons van eie sondes en afgodery bevry in denke, elke terrein van die lewe, ook die sonde teen die 1ste gebod, om op mense en dinge en instellings te wil vertrou en te hoop vir ons geluksaligheid na gees én liggaam. Sodra enige instelling buite sy bybelse terrein en bevoegdheid beweeg, of dit gesin, gemeente of burgerlike owerheid is, is daardie instelling en mense wat dit dryf, besig om God te probeer speel, Psalm 2 opstand teen die Here en sy Gesalfde.  Daarom moet ons opnuut besin oor wat die Skrif leer oor elke mens, en elke goddelike instelling se roeping, taak en terrein, soos die Here dit leer deur sy Woord.

Ek plaas ds. SJ Stander se artikel hier onder (na my mening is ds. Stander self hier en daar geneig na staatisme, maar hy sien wel baie duidelik die wesentlike probleem raak), in PDF dokument. Die boek waaruit ek dit geskandeer het, se bladsye is so verdof, dat ek dit nie ordentlik kon oorsit in MS Word formaat om hier volledig te plaas nie, en daarom as ‘n PDF dokument wat nog leesbaar is. Bestudeer dit gerus. Die profetiese woorde teen staatsabsolutisme in ds. Stander se tyd, 1941, is nog net so aktueel, as in ons tyd. Hy waarsku tereg teen die staatsabsolutisme van Facisme en Naziisme, maar ook in die SA van destyds, hoe die regering van sy dag ook elke lewensterrein en ander instellings begin oorheers het, wat natuurlik baie kenmerkend is ook van ons tye.

Ek gee hier onder ‘n paar aanhalings uit die artikel (beklemtonings bygevoeg), maar lees gerus die volledige artikel.

______________________________________________________

AANHALINGS UIT ‘STAATSABSOLUTISME‘, deur ds. SJ Stander

Wat is staatsabsolutisme?

“Die onderwerp waaroor hierdie artikel handel is “staatsabsolutisme.” Dit is ‘n onderwerp van lewensbelang, in besonder vir die Afrikaner vandag, waar hy deur die voortwoekering van die staatsalmag in sy land bedreig word. Ons moet ons afvra, wat is die staat, wat is sy gebied, waaroor hy bevoegd is, wat is die grense waaroorheen hy nie mag gaan nie, en wat is die gevare, as die staat hierdie perke oorskry en absoluut, onbeperk, wil heers. Ons moet duidelik sien hoe die staat in ons land sy perke te buite gaan, en hoe ons dit moet keer.”

“Die staat is ‘n instelling, ‘n verbinding van mense naas die gesin, die kerk, en ander instellinge. Elke instelling het sy eie taak wat aan hom alleen behoort. Die taak van die staat is nie om die ander instellinge te oorheers nie, maar om toe te sien dat orde en reg gehandhaaf word. Want deur die sonde is die mense geneig om die regte van ander hom toe te eien, ‘n gevaar vir ander te word, en die staat moet sorg dra dat die regte van elkeen geëerbiedig word, sodat elke burger en elke instelling vry sy pligte kan doen en vry kan ontwikkel.

Die staat moet nie net orde en reg handhaaf nie, maar moet ook geleentheid en voorwaardes skep, waarin sy burgers en die ander instellinge gunstig kan ontwikkel; hy moet help om alles wat hierdie ontwikkeling strem, te oorwin. Maar die staat het geen seggenskap oor die Kerk, oor die private gesinslewe, oor die geloof en die gewete van die mens, ens., nie; hy mag hulle nie oorheers nie, maar moet hulle vry laat om hul eie ideale uit te werk en hul regte te verwesenlik. Die staat is, van Calvinistiese oogpunt beskou, gebonde aan die ordinansieë van God, waarop die Heilige Skrif besondere lig gee.”

“Die staat kan egter sy gebied van regshandhawing oorskry en oor die mens se persoonlike lewe en oor die besondere gebied van ander instellinge probeer heers deur self te wil doen, wat eintlik hulle taak is, en nie die taak van die staat nie. Dan spreek ons van staatsabsolutisme. Staatsabsolutisme, kry ons waar die staat vir hom die monopolie en opperheerskappy oor al wyer gebied begin toe-eien, sodat hy langsamerhand alleen-seggenskap verkry, en alle terreine van die lewe (ook die van die kerk en die gesin, van die skool, van die enkele mens) oorheers en sodoende feitlik ‘n almagtige staat word. Dan eerbiedig die staat nie die besondere regte van ander nie en eis hy alle reg vir hom alleen op. So lê die staat naderhand sy hand op alles.”

Staatsabsolutisme in die ekonomie

“Tog is die staat in sulke gevalle geneig om alleenseggenskap te eis en die regte van ander nie te eerbiedig nie. Bowendien waar die staat te veel op hom neem, bestaan die gevaar dat hy private inisiatief en verantwoordelikheidsgevoel smoor. … Ook op ekonomiese gebied eien die regering in ons land hom al meer seggenskap toe. Ook hier is duidelike tekens van ‘n neiging tot  staatsabsolutisme gegee. … Liggame wat beter as die staat geskik sou wees om hierdie probleme aan te pak, kan dit uit gebrek aan fondse nie doen nie. Maar die staat het hier ook ‘n roeping, waar die armes ‘n deel van sy burgers uitmaak. Die strekking en die wyse van die hulp, wat die staat egter verleen, moet veroordeel word, omdat die staat absolutisties optree. Die staat brei sy magsgebied op so ‘n wyse uit dat dit nie alleen onoordeelkundig in sy hulpverlening optree nie, maar verslawend. Hy leer nie alleen ons armes om maar vir enige soort moeilikheid staatshulp in te roep nie, i.p.v. om hulle te leer hulle self te help, maar bind die armes op so ‘n wyse aan die staat dat hulle vryheid as burgers ondermyn word.  … Hierdie staatsabsolutistiese neiging om die vrye burgerregte en burgeroortuiginge van hulle, wat deur die staat gehelp word aan bande te lê, maak van hierdie armes meer en meer staatseiendoim, slawe van ‘n toevallig regerende party.”

“Hier by ons het die staat langsamerhand al dieper ingegryp in die belange van ander, en is hy besig om steeds verder in te gryp in die regte en besondere belange o.a. van die huisgesin. die skool, die ekonomiese lewe en selfs van die kerk.  Hierdie voortwoekering van die staatsalmag is vir ons as Calviniste en as Afrikaners nie alleen gevaarlik en verderflik nie, maar prinsipieel verkeerd. Dit raak ons diep en tref ons hoogste beginsels en belange. Ons mag ons hier nie oorgee aan die slegte neiging, wat ons het om alles maar gedweë  te laat loop; inteendeel moet ons ons aan hierdie neiging ontworstel en op een of ander wyse tot ons eie redding optree.”

Staatsabsolutisme mag nie predikers en die kerk se profetiese woord stilmaak nie

In die algemeen reeds mag die beginsel van ‘n oppermagtige en alleenmagtige staat op Bybelse grondslag en volgens Calvinistiese beginsels nie deur ons aanvaar word nie. Dit sou voer tot ‘n verafgoding van die staat, ‘n verheffing van die staat tot die posisie van God. Ons is geroepe om God te dien en Hom alleen te vrees. Die magte oor ons van Hom verorden, het wel gesag oor ons, maar alleen ontleende gesag. Dit mag nie verder strek as wat God die Oppermagtige en alleen absoluut Gesaghebbende toegelaat het nie, die grense waarvan Hy in sy Woord bepaal het.

Daar kom ‘n perk waar dit moet heet: ‘n mens moet vir God – soos die drie jongelinge vir Nebukadneser en die apostels vir die Joodse Raad laat verstaan het – meer gehoorsaam (moet) wees as vir die mens. As die mens, in watter posisie hy ook gestel mag wees, bevele uitvaardig in stryd met hoëre duidelik neergelegde verordeninge van God dan eis Gods Woord, en op grondslag daarvan die Calvinisme, dat die bestel van God nagekom en die bevel van die mens opsy geskuif sal word, want ook die owerheid is onderworpe aan die ordinansies van God. God alleen is absoluut soewerein. Alle mense, ook die staat is gebind aan die eise van God en sy Woord. Vir wie op Bybelse en Calvinistiese grondslag staan, kan daar dus geen absolute gesag bestaan buite of in stryd met die gesag van God nie.  Die draer van die boodskap van God, die verkondiger van sy Woord, mag dus nie verhinder word om ook aan die staat te sê: “So sê die Here!” nie.”

“Die neiging om behendig tussen die klippe deur te wil stuur ten einde niemand aanstoot te gee nie, is ‘n verderflike diplomatiese optrede in verkeerde skool geleer, wat allesins af te keur is en grootliks verantwoordelik vir die huidige betreurenswaardige toestand van sake gehou moet word. As die kerk hier steeds van sy pligte om te spreek probeer wegskram, dan word dit later van hom as sy plig verwag om hier te swyg; en as hy dan later anders sou wil optree, sou dit hom ten kwade gedui word en sy optrede as onchristelik bestempel word. Hierdie vernederende gevolge is dan sy eie skuld en verdiende loon, want hy het dan immers self die verkeerde vorm van christelikheid neergelê. … Nee, die kerk het ‘n dure roeping en sware verantwoordelikheid. Dit is sy taak om die lig van God se Woord onvervals, getrou en onverskrokke te laat hoor op alle lewensterrein – ook die  van die staat. Daaraan moet hy getrou wees, of hy word uit die plan van God as nutteloos opsy geskuif. Verdagmaking van bedienaars van die Goddelike Woord, wat die Woord getrou en na waarheid en in opregtheid verkondig is in grond ‘n sataniese werk, wat bereken is om ‘n herhaling van die paradys-episode te verseker en ‘n chaos in die menslike samelewing te veroorsaak.”

“Daarom mag die kerk nie toegee aan die staatsabsolutistiese strewe, wat hom die swye oplê, waar hy geroepe is om orals te spreek en te waarsku. Die vryheid van die verkondiging van Gods Woord mag die staat die kerk nie ontneem nie. Die staat het geen reg om die kerk voor te skryf, dat hy net dele van die Skrif wat geen direkte betrekking het op vraagstukke, wat ook die staat raak, mag verkondig nie. Christus is Koning van alle lewensgebiede en die kerk moet sy koningskap bly verkondig, veral juis daar waar die staat ‘n deel van die wêreld aan die koningskap van Christus wil onttrek.”

Die staat mag nie gesin en skool oorheers nie

“Ten slotte wil ons nog wys op die gevaarlike en prinsipieel verkeerde optrede van die staat i.v.m. die verhouding van huisgesin en skool. Dit is opvallend om te sien hoe min seggenskap die ouers, die natuurlike en van God verordende opvoeders van die kind, oor hul kinders het. Vir die hele, tienjarige periode van verpligte skoolbesoek, wat gedeeltelik die mees ontvanklike tyd is, gaan die kind in ‘n staatsinrigting skool, die seggenskap van die ouers in hierdie inrigting ontbreek geheel en al of is hoogstens nomineel. … Ook moet hier gewys word op die optrede van staatsweë om algemeen die beheer oor koshuise in te palm, waardeur die kinders nie net gedurende die vyf uur van skoolgaan per dag, maar ook gedurende die orige tyd onder staatsbeheer kom. Daardeur word die geleentheid vir die ouers om invloed op die opvoeding van hul kinders uit te oefen tot ‘n hulpelose minimum gereduseer. So word die kind byna geheel en al aan die staat toevertrou en die ouers hul van God gegewe regte ontneem.”

“Ons moet, wat die kwessie van alleen- en onbeperkte seggenskap van die staat oor die onderwys betref, allereers let op die eerste reg van die ouers. God het bepaal, dat die voortbestaan van die menslike geslag in die algemeen en van volkere in besonder sou verseker word langs die weg van natuurlike voortplanting deur die ouers. Daarmee het hy ‘n band gelê tussen ouers en kinders en tussen nasate en voorgeslag, wat seker nie aan getorring durf word sonder groot gevaar te loop om onberekenbare skade te berokken aan die mensdom in die algemeen en aan die volkere in die besonder nie. … Ouers wat dus toelaat dat hier ingegryp word en ‘n owerheid wat hom die reg  aanmatig om hier verkeerdelik in te gryp ten nadele van die eis van die gebod, maak hulle stellig  skuldig voor God en sal vroeër of later op een of ander wyse daarvoor moet boet. Daar is nog meer Skrifplase vir die Calvinistiese beginsel, dat die kinders in die eerste plek aan die ouers behoort en dat die ouers in die eerste plek vir die onderwys en opvoeding van die kinders verantwoordelik is.

“Gelykgesinde ouers behoort hulle eie groepskole te hê en te beheer, hulle behoort die gees en rigting van hulle skole en daarmee die toekomstige vorming van hul kinders te bepaal, en hulle alleen kan dit die beste doen. Elke groep van gelykgesindes sorg so vir die onderwys en opvoeding van sy eie kinders. … Die algemene gees en rigting van die onderwysstelsel sal sodoende aan die ideale en oortuiginge van ons Afrikanervolk reg laat wedervaar, christelik en nasionaal wees. Op ons groepskole kan ons die Bybel die ereplek laat inneem wat hom toekom en kan ons ons kinders volgens ons geloofsbelydenis laat opvoed en onderrig. Hulle sal hier beginselvastheid, vastheid van koers en karakter hul eie kan maak.”

Staatsabsolutisme vernietig die vryheid van die individuele persoonlike vryheid en ‘n vrye samelewing

“Soos dit hom vertoon, waar dit in die praktyk gebring word, en soos dit hom ook nie anders kan vertoon nie, loop staatsabsolutisme uiteindelik uit op die vernietiging van die indiwiduele, persoonlike vryheid van die mens. Hy word maar ‘n gedweë skakel of ratjie in die staatsmasjinerie. Sy wetenskaplike, sedelike en godsdienstige vryheid, die vryheid om ‘n mens se innerlike oortuiging te lug sal uiteindelik moet wyk en verdwyn. Die vryheid van ander organisasies en instellinge as die staat word aan die belange van die oppermagtige staat onderwerp, en verloor hulle vryheid. Die kerk, die gesin, die maatskappy, die pers, die handel, die boerebedryf, ensovoorts sal hulle vryheid moet inboet.”

Staatsabsolutisme in Fascistiese Italië en Nazi-Duitsland moet vir ons ‘n les wees

As ons let op die diktatorskap in Italië en Duitsland, dan moet ons toestem dat hulle baie goeds gedoen het om die volke ekonomies en nasionaal op te hef. Vir hul waarde mag ons nie blind wees nie. Maar vir hulle gevare en vir wat in hulle verkeerd is, mag ons ook nie ons oë sluit nie. Die  beginsels, wat aan die Fascisme en veral aan die Naziisme ten grondslag lê, kan nie met die beginsels van die Heilige Skrif gerym word nie. Alle gevare, wat die staatsabsolutisme saambring,  tref ons ook in die diktatorskappe aan. Individuele vryheid, vryheid van kerk en godsdiens, vryheid van denke en wetenskap kan hier nie tot sy reg kom nie. Daarom moet ons hierdie stelsels veroordeel. As ons egter die stelsels van Naziisme en Fascisme veroordeel en daarmee die beginsels van die regerende party (wat alle ander partye moet doodmaak) verwerp, wil ons daarmee die volke, die Duitsers en die Italiane, nie in hulle geheel veroordeel nie, want daar is onder hulle vele wat nie anders kan as om hulle aan die stelsels te onderwerp, maar die beginsels wat aan die stelsels ten grondslag lê, nie aanvaar nie. Daarom is Naziisme en Duitser-wees of Fascisme en Italianer-wees, nie noodwendig dieselfde nie.”

Alles moet God verheerlik, elkeen en elke instelling, ook die staat, op sy regmatige plek

Alles moet egter per slot van rekening om God gaan. Die ideaal: ‘God alles in almal’ (1 Kor. 15:25) moet nagestreef en sal uiteindelik verwesenlik word. Nou is dit ‘n eienaardige verskynsel dat Satan die meester-nabootser, telkens ook hierdie ideaal op eie manier en vir eie doel soek na te aap. Soos God sy heilige samekomste verorden en by ons laat posvat het, so het hy ook sy teensamekomste waarheen hy verlok en verlei— teenoor huisaltaar rig hy kaartpartye, ens. op; teenoor erediens en nagmaalsviering het hy dansparty en swelgparty, ens. Dit is ontsettend om die dinge op te merk oral in die lewe as die mens se oë daarvoor oopgegaan het.

So is hy ook besig om op grond van die menslike rede met verontagsaming van Gods Woord ook die idee van ‘alles in almal” te probeer verwesenlik en dit wel in die almagtige al-enige staat. In die grond van die saak het ons dus hier te doen met die Antichris en dien die christen en die Afrikaner as telg van ‘n kerngesonde christenvolk volk hier op die hoede te wees en geen onsekere geluid van hom te laat uitgaan nie. Die gang en ontwikkeling van die staat en die strekking van sy optrede moet goed dop gehou en ernstig nagegaan word, en gesorg moet word, dat elke ongesonde uitwas dadelik raakgesien en in die kiem gesmoor word. …

Wees waaksaam teen die staatsabsolutisme

“Elke lid van ons volk moet ontwaak, homself op hoogte van sake stel en probeer ‘n besef kry van wat staatsabsolutisme is, wat die volle verwesenliking daarvan elders meebring en hier ten gevolge sal hê en hoever ons reeds op weg daarheen is. Om te wag tot dit eers daar is en dan in opstand  daarteen te wil kom sou ‘n bloedbad veroorsaak, ‘n te dure prys verg en miskien ook te laat wees. Veel beter is dit om vooraf te besin, te besef en te voorkom. Miskien sou dit op die weg lê van ons  kultuur-vereniginge om hier op te tree ten einde die publiek in te lig en wakker te hou, asook om rigting van handeling te verstrek.  Ongetwyfeld sou dit seker ook nie uit die weg van die kerk wees om hier voorligtend en besielend op te tree nie, aan-gesien ons kultuur en godsdiens albei hier op die spel is, en dit terreine is waar die kerk hom seker nie behoor afsydig te hou nie.

As hierdie artikeltjie sal bygedra het om aan die dink te sit, om oë te open en mense in beweging te bring—dan sal skrywer se moeite en opoffering meer as beloon wees. Mag die alarm dan verneem en ter harte geneem word. Die gesonde ewewig tussen indiwidu en gemeenskap, tussen volk en staat moet gevind en behou word. Elke een soewerein op sy gebied tot eer van God sy ons leuse en wekroep.”

Volledige artikel: Staatsabsolutisme

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: