HET DIE CHRISTENDOM GEFAAL?
[Hoogleraar in die Sendingwetenskap aan die Potchefstroomse Universiteit vir C.H.O. en Teologiese Skool te Potchefstroom].
Inleiding – S. Le Cornu
Op die vooraand van die Geloftedag 2021, is dit goed om opnuut persoonlik, in gesins- gemeente en veral volksverband oor hierdie belangrike vraag te besin. Ek gaan DV, in my preek vanuit Ps. 127 & 128 by Geloftedag môre, daarop antwoord: JA en NEE….
Vir nou wil ek prof. Du Plessis aan die woord stel, toe hy reeds in 1960 hierdie vraag aangespreek en beantwoord het, in die breë konteks van sy tyd, veral die stryd tussen ‘Ooste en Weste’, en hoe die Weste sy geestelike fondament (die Christendom) verwerp en verag het, en daardeur geen antwoord of profetiese stem meer het teenoor die ‘heidense’ Ooste nie …. en as ons na die wêreld om ons kyk, ook na die ‘nuwe SA’ … nog steeds nie het vir die huidige heidendom om ons nie. Hy skryf:
Duisende studente uit die Ooste het na Amerika en Europa gegaan om daar verder te studeer. Sou hulle miskien hier ‘n ideologiese basis vind vir hulle nuwe volksgebou? Maar hulle is wreed ontnugter, want hier moes hulle ervaar dat die Westerling sy eie godsdiens reeds verloën het. Dat die Weste ‘n grootskaalse ontkersteningsproses deurgaan en dat die Weste alleen nog maar materiële hulp kan aanbied maar geen boodskap van hoop vir die wêreld in sy nood en ellende het nie. Van ‘n Christelike ideologiese basis is daar niks meer te bespeur nie. Inderdaad diep beskamend dat erken moet word dat die Weste in hierdie opsig niks vir die Ooste aan te bied het nie. … En as die Weste sy eie godsdiens so verloën, waarom sal die Ooste dan nog hier geestelike houvas soek? … Kan ons die Ooste kwalik neem dat hier tot die oortuiging gekom is dat die Christendom gefaal het. Die Christendom is geweeg en te lig bevind, dit bied geen hoop vir die wêreld nie. Wat ‘n ontsettende aanklag!
Hy wys ook waar ons hand in eie boesem moet steek, self ondersoek doen oor ons roeping en taak hier in Afrika, maar ook die baie baie belangrike onderskeid tussen wat ons kan en moet doen in die verspreiding van die Christendom, wat maar gebrekkig en onvolmaak is, en wat God onfeilbaar deur die geskiedenis reeds gedoen het, en aanhou sal doen, sy Koninkryk sal nooit gestop kan word deur die eeue in die ganse geskiedenis tot die laaste dag nie, want sy Seun het uitgeroep, dit is volbring:
Die verwyt en aanklag teen die Christendom kan egter nie God en sy Woord tref nie, want hierdie evangeliewoord is die enigste vaste anker en hoop vir ‘n ontredderde wêreld. Ook moet erken word dat daar heelwat ondankbaarheid in die spel is en dat die ellende van die nie-blanke ook tot ‘n groot mate aan homself te wyte is en dat hier ook verharding is teen die kruiswoord van genade. Maar selfs as ons dit alles in aanmerking neem kan die feit nie ontken word nie dat die baie ernstige aanklag dat die Christendom gefaal het wel deeglik betrekking het op die draers van die sogenoemde Westerse beskawing. Ook moet erken word dat die sendingwoord meestal gebring is sonder ‘n boodskap vir die werklike lewe, dat die kerk verbind is aan die Westerse beskawing as ‘n vreemde instelling vir die nie-blanke en dat van honger en uitgeputte en versieklikte mense soms verwag is om van die geestelike Woord alleen sonder brood te lewe.
In een van my ou geskiedenisboeke wat ek het, begin die skrywer sy boek met o.a. die volgende woorde, in my eie woorde deurgegee: ons moet bid én werk dat die kinders van Augustinus (Noord-Afrika), die kinders van Calvyn (suidpunt van Afrika), mekaar halfpad in Afrika sal ontmoet, menende: dat deur die verspreiding van die evangelie en wet van Christus, die Christendom oor en in die hele Afrika sal versprei, tot eer van die Here se Naam (Rom. 11:36) en die heil van sy kerke onder alle volke, nasies en tale. Deur die eeue het dit al hier en daar gebeur, maar mag dit deur sy genade weer en nog meer gebeur! Dit was en is nog altyd ons roeping, nie net persoonlik, gesin en gemeentes nie, maar ook ons volksbestaan, roeping!… soos verwoord in die gebed van Jan van Riebeeck (1654) en die geestelike toon van die Gelofte self, dat daar vir Hom ‘n huis gebou sal word, wat nie net in Pietermaritzburg gebeur het nie, maar ook ‘n kerk en latere kerke onder die Zoeloes.
Baie dekades het verloop sedert prof. du Plessis die belangrike vraag gevra het, maar dit is ‘n vraag wat ons heeltyd moet vra, sodat ons ons sal verootmoedig voor ons Here, dat ons die sondes sal bely waarvan ons ons moet bekeer (Dan. 9), en op die goeie sal voortbou van die verlede, soos oom Pauls ons geleer het. En dan, moet ons opnuut voortbou volgens God se Woord, deur die evangelie van Christus, en volgens sy wet en woord (Op. 12:17), vir elke volk in Afrika.
Prof. du Plessis skryf oor die enigste Hoop en Troos vir ons eie volk en elke volk in Afrika en orals as volg, nl. Jesus Christus wat red deur die evangelie alleen, en regeer deur sy wet (Op. 11:15; 12:17):
Die Weste, smadelik teruggedring uit die Ooste, verwerp, het gefaal en daarmee ook die Christendom in die oë van die Oosterling, en nou die diepe vernedering dat die lig van die Ooste in die plek van die verdwynende son van die Aandland moet kom! Dit wil egter nie sê dat Christus ook hiermee verdryf is nie. Daar is nog oral Christelike kerke, wat, hoewel hulle nou ‘n minderwaardige posisie moet inneem en die heidense godsdienste daarnaas voorrang geniet, nou dat hulle selfstandig is, oorgaan tot ‘n meer bewuste getuienis van die waarheid teenoor die heidendom van hulle eie mense.
En dan moet vurg van geloof in Christus, ook in ons lewe teenoor ons naaste, ook van ander volke gesien word, dus nié net die Verlosserskap nie, maar ook die Koningskap van Christus moet orals geleer en verkondig word, die evangelie én wet, elkeen in sy regmatige plek soos die Skrif leer:
Op ons word ‘n baie groot verantwoordelikheid gelê ook om deur ‘n voorbeeld van ‘n ware christelike lewe die nie-blankes vir die koninkryk van God te wen. Hoe baie word afgeskrik deur die slegte voorbeeld van die onsedelike, onchristelike en ongelowige lewe van blankes. Sal dit later gesê word dat die Christendom in Afrika gefaal het deur die slegte voorbeeld van die volk wat God hierheen gestuur het om ‘n lig vir die nasies te wees?
Maar het ons nog so ‘n boodskap vir die wêreld, is daar by ons die waaragtige oortuiging dat Christus alleen die Weg en die Waarheid en die Lewe is vir alle lewensprobleme en omstandighede? Het ons ook hierin gefaal dat ons dit nie meer werklik glo nie?”
Prof. du Plessis se slotwoorde, roep ons ook om vandag en vir die toekoms, wat ons roeping hier betref, opnuut biddend te besin, mag dit ook die gesindheid wees waarin ons Geloftedag vier môre:
Die Here self bring ons nou in die vuurproef en Hy verwag ‘n antwoord van ons, nie môre of oormôre nie maar nou. En die antwoord wat Hy van ons verwag is die daad van gehoorsaamheid. Gehoorsaamheid aan die bevel van Jesus Christus, om aan al die volke die Lig te bring. ‘n Lig tot verligting van die heidene. Hierdie Lig sal seker nie faal nie.
______________________________________
HET DIE CHRISTENDOM GEFAAL?
deur prof. H. DU PLESSIS
I. DIE OOSTE ONTNUGTER?
Dit is die wil van God dat elke volk vry moet wees in sy eie land. So het die Here ook ons Afrikaanse volk hier in Suid-Afrika geplant en laat groei tot ‘n volk met ‘n eie land. Maar dit is ook die wil van die Here dat die Bantoevolke vry word in hulle eie gebiede. en die vrug van die prediking is dan ook dat die Bantoe-christen nie meer onherroeplik vasgeketting wil wees aan die slaafse bande van sy eie heidense stam gemeenskap en die ongelowige en fatalistiese onderworpenheid aan die natuur en die kragte daarvan nie, maar dat hy as beelddraer van God ook oor die natuur wil heers, en as ‘n mens met menslike waardes wil strewe na vooruit-gang; dat by hom ‘n tydsbesef gebore word en dat hy besiel word met toekomsideale vir homself, sy huisgesin en sy volk.
Teen dit alles as sodanig kan niks ingebring word nie, en ons wat self gely en gestry het vir die bestaansreg en voort-bestaan en toekoms van ons eie volk, ons taal, ons land en kultuur, sal die laaste wees om aan die Bantoe ‘n eie nasionale toekoms te ontsê.
Maar die nasionale ontwaking in Afrika wat nie gekeer kan word nie en op een of ander tydstip moes kom, maar ons nou onverhoeds oorval, kan sonder Christus die chaosmagte uit die wêreldsee wees wat alle christelike beskawing wil uitroei en wat kan terugval tot ‘n barbaarse woestheid en goddelose heidendom.
Iets wat dus op sigself goed is kan ontaard tot die teenoorgestelde daarvan deur die menslike faktor. Is daar tekens dat met die verwerping van die voogdy van die blanke ook die Christendom verwerp sal word, en sal die aanklag teen ons ingebring word dat teen die Christendom gekies word ook omdat dit in die oog van die nie-blankes gefaal het as ‘n opbouende en inspirerende krag vir hulle nuwe lewe?
Omdat die nasionale ontwaking onder die nie-christelike volke van die wêreld reeds die verste gevorder het in die Ooste en hier reeds taamlik omlynde omtrekke aangeneem het wat simptomaties kan wees vir die moontlike ontwikkeling in Afrika, wil ons die tendens van ontwikkeling hier probeer skets om so ook te probeer om moontlike wegwysers vir ons eie optrede aan te toon.
Die Ooste met sy oeroue beskawing, wat reeds in die gryse verlede tot hoë ontwikkeling gekom het en telkens maar wou deurdring na die Weste, het, nou na ‘n eeuelange slaap, weer ontwaak. Die eerste geluide van hierdie onverwagte wending in die wêreldgeskiedenis het weerklink met die kanonskote van die Japanse vloot wat die Russiese vloot in 1905 verslaan het. Soos die seismograaf die fynste trillinge van ‘n aardbewing opvang, so het die trilling van hierdie kanonskote dwarsdeur die Ooste in die harte van die Oosterlinge gebewe en dit het selfs ver in Afrika ‘n weerklank gevind.
Japan, wat soos niks gereken was, ‘n veragte nie-blanke volk, het ‘n wêreldmag geword. En as Japan sy vlerke so hoog en ver en wyd kan uitslaan bo die eeuelange beklemming en minderwaardigheid, waarom ons ook nie? So is in die Ooste gevra. Japan, wat nieteenstaande dit daarna op sy knieë gedwing is met die tweede wêreldoorlog maar wat nou reeds weer ‘n wêreldmag van betekenis word en as bewys van die potensialiteit van sy slaankrag nou weer kom met die prestasie van die bou van die grootste tenkskip ter wêreld; of China die groot reus wat nou skielik ontwaak het uit sy slaap van eeue en eersdaags sy eie kernkrag sal ontwikkel; of Indië wat wil ontwikkel tot ‘n industriële staat, straks met sy eie lug en see vloot hier aan ons poorte; of die Mohammedaanse Midde-Ooste wat weer eens ‘n bedreiging word vir Afrika en die Weste — watter hiervan kan beskou word as die grootste gebeurtenis van hierdie eeu en watter is die grootste gevaar?
Dit is die nuwe Asië, die groot wêrelddeel met meer as die helfte van die wêreldbevolking, die ou Asië wat nou uit sy slaap ontwaak het wat nou soos ‘n donkerswart dreigende gevaar voor ons staan; daar is China wat reeds meer as ‘n halwe eeu gelede deur dr. A. Kuyper gesien is as dié groot gevaar vir die Weste as dit eers tot ontwaking kom en wat nou saam met die kommunistiese wêreld of alleen uit is op wêreldverowering; daar is die Mohammedaanse Midde-Asië wat al dieper indring in Afrika; daar is Indië wat uitbreiding soek na Afrika; daar is die ganse Ooste saam en die wêreldkommunisme verenig in die opset om Afrika van die Weste te vervreem en dit by hierdie anti-Westerse blok in te skakel.
Die Weste, wat nog kort gelede in trotse hovaardigheid en onversteurbare selfversekering dit as vanselfsprekend beskou het dat die nie-Westerse wêreld daar is in belang van die blanke en wat oral koning gekraai het. moes die vlag stryk, en die blanke wat oral geëer was se prestige het nou soos mis voor die son verdwyn, en die Ooste wat die eeuelange onderworpenheid aan die Weste as ‘n diepe vernedering beskou, hef nou fier en trots die hoof na bo en is besiel met ‘n diep gesetelde haat teen die blanke; en hulle leiers, wat as opstandige rebelse kommunistiese agitators beskou was en byna almal een of ander tyd in tronke beland het, ontmoet nou die grotes van die Weste, hulle eertydse “onderdrukkers”, as hulle gelykes.
Ja, die Oosterling wil in geen enkel opsig onderdoen vir die blanke nie, hy wil in alle opsigte as die gelyke en selfs as die meerdere van die blanke beskou. erken en behandel word. Die tyd van blanke hegemonie is vir goed verby en die blanke sal geheel en al moet afsien van die gedagte en houding dat alles in hom gesentreer is en sy wêreld die enigste wêreld is. Daar is nie meer plek in hierdie nuwe wêreld vir enige vorm van Europasentrisme nie.
Maar dit word baie deeglik deur die Oosterling besef dat gelykheid in naam nog nie ‘n magsfaktor kan wees nie sonder die daad van vooruitgang in materiële welvaart, tegnologiese en industriële ontwikkeling en algemene rehabilitering nie. Waar die Weste hierdie lande in die grootste armoede agtergelaat het en dit beskuldig word dat dit die helfte van die aarde uitgebuit en geëksploiteer het tot eie voordeel en die skatte van die wêreld nou by die Weste opgehoop is, eis die Ooste ook nou sy regmatige aandeel hierin en hulle wil dit ook deur eie prestasie verwerf.
Hulle wil ook, wat kennis en ontwikkeling en welvaart betref, die Weste ewenaar en selfs oortref. Maar terwyl aanvanklik van die standpunt uitgegaan is dat vir sodanige ontwikkeling dit ‘n vereiste is dat die Oosterling die blanke in alles moet na-aap en daar selfs gespreek is van een wordende wêreldkultuur van ‘n kosmopolitiese wêreldbevolking, het die nasionale ontwaking nou meegebring ‘n gloedgolf van nasionale entoesiasme en aspirasies. Hulle wil hulleself wees en geen nageaapte blankes nie. Hulle wil wel die skatte van die blanke vir hulleself toeëien en verwerf maar hulle verag die blanke en sy kultuur. Hulle is trots op hulle eie taal, hulle eeu-oue kultuur, hulle tradisies en hulle volk. Hulle is nasionaliste en vaderlanders en verseg dit ten enemale om vir iets anders as wat hulle is aangesien te word.
Maar hier het die denkende deel van hierdie bevolkings voor ‘n moeilikheid bly steek, want ook hulle godsdiens is deel van hulle verlede en hulle het getwyfel of hierdie ou godsdienste soos die Islam, Hindoeïsme en Boeddhisme as basis kan dien en nog van lewende betekenis wees vir die moderne lewe. So het hulle gedeeltelik in ‘n geestelike vakuum beland. Waarmee sou dit opgevul word? Sou die Christendom hiervoor kan dien en ingepas word by hierdie nuwe nasionale ontwikkeling en as die eie aanvaar word?
Duisende studente uit die Ooste het na Amerika en Europa gegaan om daar verder te studeer. Sou hulle miskien hier ‘n ideologiese basis vind vir hulle nuwe volksgebou? Maar hulle is wreed ontnugter, want hier moes hulle ervaar dat die Westerling sy eie godsdiens reeds verloën het. Dat die Weste ‘n grootskaalse ontkersteningsproses deurgaan en dat die Weste alleen nog maar materiële hulp kan aanbied maar geen boodskap van hoop vir die wêreld in sy nood en ellende het nie. Van ‘n Christelike ideologiese basis is daar niks meer te bespeur nie.
Inderdaad diep beskamend dat erken moet word dat die Weste in hierdie opsig niks vir die Ooste aan te bied het nie. Vir die sosio-politieke-ekonomiese lewe word nie meer gevra wat sê God en sy Woord nie maar wat sê Eisenhower of MacMillan of Kroetsjef. ʼn Massale konstruksie wat sonder ‘n vaste fondament uiteindelik moet ineenstort.
Wel word deur wetenskaplike navorsers vandag in teenstelling met vroeër erken dat aanvaar moet word dat God die oorsprong is van die skepping, en wel is selfs ‘n historikus soos Toynbee op grond van sy wetenskaplike historiese studies verplig om te erken dat die Europese beskawing geen toekoms het sonder ‘n godsdienstige ideologie nie, maar watter godsdiens en watter God word hiervoor voorgehou? Volgens Toynbee kan enige soort godsdiens hiervoor dien, die Buddhisme of Hindoeïsme of Confucianisme of Islam vir die Ooste en die Christendom vir die Weste of selfs omgekeerd.
Die feite dwing dus tot die erkenning van die goddelike, maar soos deur niks anders word juis hierdeur aan die lig gebring die verhardingsproses waardeur die mens nie vir Christus wil buig nie.
En as die Weste sy eie godsdiens so verloën, waarom sal die Ooste dan nog hier geestelike houvas soek? Die Oosterling is trouens reeds ontnugter deur die twee wêreldoorloë waarin blanke nasies mekaar wreed na die keel gegryp het en mekaar in strome bloed wou uitdelg, en die Weste word verwyt dat dit gefaal het deurdat dit geen oplossing kan bied vir die rasse- en die oorlogsvraagstuk en die groot nood van Asië nie kon verlig nie.
Wat het die Weste gedoen om bv. die verskriklike nood en ellende van Indië te verlig waar 75% van die bevolking ly aan ondervoeding en die gemiddelde lewensduur maar 27 jaar is, waar miljoene sterf sonder dat hulle ooit die genot van ‘n volle maaltyd geniet het. Volgens dr. H. Bergema in Pioniers van het nieuwe Azië het dr. Idenburg na ‘n besoek aan Indië geskrywe dat al die ellende wat hy in sy lewe tot nou toe aanskou het, net ‘n fraksie is van die verskrikking wat hy op die trappe na die Ganges waargeneem het. Wat het die Weste gedoen om China te help om op die been te kom? Kan dit China kwalik geneem word dat die toevlug tot die kommunisme geneem is in sy groot nood met ‘n boere bevolking waarvan 85% ten tyde van die onttrekking van die Westerse invloed-sfeer, uitgesuigde bywoners was?
Kan dit nog verwag word dat die Ooste by die Weste geestelike houvas en hoop moet soek as onder die wêreldheerskappy van die Weste meer as twee-derde van die bevolking van die wêreld feitlik ondervoed is. terwyl die Weste self in oordadigheid lewe? In plaas van af te neem, sê dr. Bergema, beweeg die persentasie van die ondervoede bevolkingsdeel van die wêreld nog steeds in stygende lyn. Van minstens 38% voor die tweede wêreld-oorlog het dit tot byna 60% in 1952 gestyg o.a. deur die sterk toeneming van die bevolking van hierdie deel van die wêreld met ongeveer 30 miljoen mense per jaar.
Kan ons die Ooste kwalik neem dat hier tot die oortuiging gekom is dat die Christendom gefaal het. Die Christendom is geweeg en te lig bevind, dit bied geen hoop vir die wêreld nie.
Wat ‘n ontsettende aanklag!
Moet ons hier in Suid-Afrika onsself nog sien as deel van so ‘n ontkerstende Weste? Kan ons nog trots wees om die naam van Westerlinge te dra, kan ons ons nog verhef op ons Westerse beskawing? Moet so ‘n beskawing nog deur ons gehandhaaf en hier in Afrika voortgesit word? Is dit die blanke beskawing wat ons ook in Afrika moet propageer?
Die verwyt en aanklag teen die Christendom kan egter nie God en sy Woord tref nie, want hierdie evangeliewoord is die enigste vaste anker en hoop vir ‘n ontredderde wêreld. Ook moet erken word dat daar heelwat ondankbaarheid in die spel is en dat die ellende van die nie-blanke ook tot ‘n groot male aan homself te wyte is en dat hier ook verharding is teen die kruiswoord van genade. Maar selfs as ons dit alles in aanmerking neem kan die feit nie ontken word nie dat die baie ernstige aanklag dat die Christendom gefaal het wel deeglik betrekking het op die draers van die sogenoemde Westerse beskawing. Ook moet erken word dat die sendingwoord meestal gebring is sonder ‘n boodskap vir die werklike lewe, dat die kerk verbind is aan die Westerse beskawing as ‘n vreemde instelling vir die nie-blanke en dat van honger en uitgeputte en versieklikte mense soms verwag is om van die geestelike Woord alleen sonder brood te lewe.
Terwyl dit vir die Ooste baie duidelik geword het dat die Christendom gefaal het, is daarna die nodige ideologiese basis gesoek by die kommunisme, en op grond van die feitlike verbeteringe wat hierdeur in verskillende lande teweeg gebring is, is die hoop op die kommunisme met sy ideaal van materiële gelykheid in voorspoed gevestig. Maar ‘n groot gedeelte van die Ooste is ook reeds deur die kommunisme ontnugter. Sy ateïsme stuit die godsdienstige Oosterling teen die hors, en so ‘n ideologie kan nie dien as ‘n basis vir die Oosterse lewe nie. Daarbenewens wen die oortuiging veld dat die kommunisme, veral die kommunistiese Rusland, nog meer imperialisties is as die eintlike Weste. Daarom word dit nou oor ‘n groot deel van Asië verwerp, en daar word nou weer terug-gegryp na die ou godsdienste. Wat eers onmoontlik voorgekom het kan miskien nog moontlik wees, en pogings word nou in die werk gestel om hierdie nasionale godsdienste te laat herleef, te moderniseer. selfs met vermenging van christelike elemente en aanpassing by die moderne omstandighede.
Terwyl dr. S. Zwemer in 1916 nog gedink het dat die Islam nie meer onder die moderne omstandighede kan dien as ‘n ideologiese basis nie, moes hy reeds in 1931 erken dat dit weer opgestaan het en herlewe.
As ons hierdie eeu wil vergelyk met ‘n vorige tyd in die geskiedenis, dan kom dit, wat die Ooste betref en miskien Afrika ook, die naaste aan die eerste paar eeue voor en na die koms van Christus op aarde. Toe was daar ook ontwortel-de volke en daar is gesoek na ‘n vaste godsdienstige houvas en fondament. Toe was daar ook verskillende godsdienste wat hiervoor aangebied is. Maar die kardinale verskil van toe met nou is dat in daardie tyd die Christendom ‘n nuwe lewenskragtige godsdiens was, terwyl volgens die Oosterlinge die Christendom vandag reeds gefaal het vir ‘n nuwe toekoms, maar hiermee net die vernedering vir die Christendom nog nie tot sy klimaks gekom nie, want aangesien aangeneem word dat die Christendom gefaal het en geen hoop vir die wêreld bied nie, word nou met ‘n fanatieke sendingywer hierdie nie-christelike godsdienste gepropageer as die nuwe hoop vir die wêreld.
En waar ons nie wou uitgaan tot die eindes van die aarde met die Enigste Lig en Waarheid nie, kom die eindes van die aarde nou na ons met die lig van die heidendom, as die nuwe hoop vir die wêreld. Sendelinge word opgelei en oor die hele wêreld gestuur om hierdie godsdienste, veral die Islam en Boeddhisme, te propageer. Honderde sulke Islamse sendelinge is oral in Afrika geplaas en meer as 100 opgeleide arbeiders is gestuur na ander nie-Mohammedaanse lande, tot in Amerika en Europa. En hulle dring deur Afrika met die leuse: “Die son kan sy loopbaan verander en die sterre hulle plekke maar niks of niemand kan Allah en sy profeet oorwin nie”, en diep in hulle hart is daar die geloof: “Oor die wêreld van môre sal net een vlag waai.”
Ook die herleefde Boeddhisme is in beweging.
In Duitsland alleen is daar meer as 30 Boeddhistiese monnike wat hulle geloof onder die Duitsers propageer en daar is reeds ongeveer 10,000 Boeddhiste in hierdie land.
Die Weste, smadelik teruggedring uit die Ooste, verwerp, het gefaal en daarmee ook die Christendom in die oë van die Oosterling, en nou die diepe vernedering dat die lig van die Ooste in die plek van die verdwynende son van die Aandland moet kom!
Dit wil egter nie sê dat Christus ook hiermee verdryf is nie. Daar is nog oral Christelike kerke, wat. hoewel hulle nou ‘n minderwaardige posisie moet inneem en die heidense godsdienste daarnaas voorrang geniet, nou dat hulle selfstandig is, oorgaan tot ‘n meer bewuste getuienis van die waarheid teenoor die heidendom van hulle eie mense.
Daarbenewens is dit nog te betwyfel of hierdie ou godsdienste kan dien as ‘n basis van moderne welvaartstate en gemeenskappe, en dr. H. Kraemer is selfs van gedagte dat die evangeliewoord nog nie so gebring is dat die Ooste voor ‘n beslissende keuse gestel is nie.
Niemand kan egter met sekerheid voorspel wat uit hierdie kookpot van die Ooste te voorskyn kan kom nie.
2. DIE CHRISTENDOM EN AFRIKA
Teen die agtergrond van hierdie ontwikkeling moet ons die ontwaking tot wordende nasies in Afrika sien. Ook hier is daar verset teen blanke voogdy, ook hier word leiers as agitators in die tronke gestop maar een na die ander land word onafhanklik en hulle leiers is nou hoog geëerde volksleiers van die nuwe Afrika. Ook in Suid-Afrika is daar die begin van ‘n nasionale ontwaking, opstootjies wat onderdruk word en telkens maar weer opvlam. Ook hier is daar tekens dat hier en daar die Christendom afgesweer word, dat teruggekeer word na die ou heidendom of dat dit weer in die baie sinkretistiese sektes herlewe, nou vermeng met christelike bestanddele.
Ook hier reeds, veral by die meer ontwikkeldes, die oortuiging dat die Christendom gefaal het, en in Afrika veral ‘n sterk Mohammedaanse propaganda aan die gang, waarvoor duisende naturelle beswyk. Reeds meer as 80 miljoen Mohammedane in die Noorde, en in Wes-Afrika gaan van elke 10 bekeerlinge tot ‘n ander geloof sewe oor tot die Islam en slegs drie tot die Christendom.
Die ou heidense godsdienste van Afrika sal nie as ‘n godsdienstige basis onder die moderne omstandighede kan dien nie en die kommunisme sal o.i. ook nie deur die naturelle aanvaar word nie. Hulle sal uiteindelik kies tussen die Islam en die Christendom. Watter van die twee gaan hulle kies? Die Islam pas aan by die bygeloof en kultuur van die naturelle en dit ken geen rasse-onderskeid nie en dit word gesien as ‘n bondgenoot teen die blanke “onderdrukkers,” of sal die inboorlinge van Afrika dan net die sekularistiese beskawingsvoordele verkies sonder enige binding aan die Woord van God?
Sal dit ook een dag soos in die Ooste deur Afrika gesê word: die Christendom het sy tyd gehad maar dit het gefaal? Wat die antwoord op hierdie vraag gaan wees hang tot ʼn groot mate af van die optrede van ons blankes hier in Afrika. Veral ons hier in Suid-Afrika word gesien as die verteenwoordigers in Afrika van die Weste en die Christendom. Maar nou word deur die hele wêreld die vinger na ons gewys en selfs deur gelowige mede-christene word gesê dat een van die twee grootste gruwels van die Weste, waardeur die nie-blanke wêreld met wantroue vervul is teenoor die Weste, apartheid is. Die ander een hieraan gelyk is: Hiroshima! Nou ontsê ons ten enemale aan die Weste, gesien hulle eie verlede. die reg om ons voor die vierskaar te daag, en ons is ook geensins van plan om hier in Suid-Afrika te kapituleer nie. Daar word baie vir die nie-blankes van Suid-Afrika gedoen en dit dikwels ten-spyte van ondankbaarheid van hulle kant. Ons hoef ook nie die wêreld te vrees as ons beleid en die toepassing daarvan asook ons eie optrede in alle opsigte christelik en regverdig is.
Maar nou is daar ‘n sekere mate van ongerustheid oor die vraag of die toepassing van die beleid in alle opsigte op grond van die Woord van God geregverdig kan word. Ook in hierdie opsig word ons gedwing om onsself hieromtrent rekenskap, baie ernstige rekenskap te gee.
Ons sal moet hard en gou dink om, sonder prysgawe van ‘n beleid van afsonderlike ontwikkeling, reg te stel wat verkeerd en onchristelik mag wees en om aan die nie-blankes ‘n menswaardige toekoms te verseker. Daar mag nie later gesê word dat ons as erfenis vir die naturelle nagelaat het ‘n ontwortelde proletariaat in ons midde en uitgeputte reservate.
Ons sal moet leer om af te sien van die gedagte dat ons alleenreg het op Suid-Afrika en dat ons Afrikaners die enigste volk is vir hierdie land, en ons sal moet leer om te gee en te offer, want van hom aan wie baie gegee is sal ook baie geëis word.
Veral is nodig dat ons die nie-blankes met baie groter simpatie moet bejeën. Hoewel ons nie wil ontken dat beperkende apartheidsmaatreëls nog nodig is, verloor ons die nie-blanke as mens te veel uit die oog en word apartheid vir ons ‘n ideologie: ons moet leer om onsself in die nie-blankes se plek te stel en van hulle gesigspunt dinge te sien.
Stel u self in die plek van ‘n beskaafde naturel wat vanweë die karige loon nie as ‘n beskaafde kan lewe nie en wat telkens geïrriteer en lastig geval word deur die optrede van die polisie. Stel u self in die plek van die naturelle-arbeider wat wil vorentoe beur in die lewe en die geleentheid daarvoor word nie aan hom gegun nie.
Die lewensmoeilikhede oorval dikwels veral die meer ontwikkelde naturelle. Die goeies onder hulle word deur opruiende elemente geïntimideer, hulle staan onder wette wat as dwangmaatreëls sonder hulle op hulle gelê word. en dit is soms vir hulle of die hele blankendom teen hulle gekant is en hulle weet nie altyd wat om te, doen nie. Wat ‘n oplugting is dit vir hulle as ons aan hulle werklike belangstelling toon in hulle moeilikhede, as ons waarlik simpatiek teenoor hulle optree, met hulle oorleg pleeg en hulle raadgee, maar ook luister wat hulle sê en hulle laat uitpraat. So alleen kan die wantroue oorwin word.
Op ons word ‘n baie groot verantwoordelikheid gelê ook om deur ‘n voorbeeld van ‘n ware christelike lewe die nie-blankes vir die koninkryk van God te wen. Hoe baie word afgeskrik deur die slegte voorbeeld van die onsedelike, onchristelike en ongelowige lewe van blankes. Sal dit later gesê word dat die Christendom in Afrika gefaal het deur die slegte voorbeeld van die volk wat God hierheen gestuur het om ‘n lig vir die nasies te wees?
Met reg word gesê dat ons hier in Suid-Afrika die Christendom in Afrika verteenwoordig en dit word ook gesê dat ons beleid van apartheid hier die hele Weste by die nie-blanke wêreld in verdenking bring. Waar ons hier gestel is as die verteenwoordigers van die Christendom veral m.b.t. die besondere rasse probleme wat eie is aan hierdie land en dit ons eie probleme is, verteenwoordig ons inderdaad die Christendom in ons optrede in hierdie verband, veral vir die naturel van groot Afrika. As ons hierin faal, word dit die Christendom as sodanig ten laste gelê. Daar word dus inderdaad ‘n baie groot en swaar verantwoordelikheid op ons gelê.
Maar nog swaarder is die verantwoordelikheid en ernstiger die saak in die lig van die smaadheid wat op Christus gelê kan word deurdat ander struikel deur ons onchristelike optrede en die Christendom verwerp word deurdat ons faal. Dat ons hierdie tyd besonder begaan is oor die toekoms van ons eie volk is begryplik en handhawing en bevordering van ‘n eie volksbestaan is roeping en plig, maar die groot versoeking in so ‘n krisistyd soos nou is om alle ander oorweginge en belange hieraan ondergeskik te maak en om vanuit hierdie gesigspunt ‘n selfsugtige beleidsrigting neer te lê wat alleen maar die eie belange beoog.
So ‘n optrede moet noodwendig lei tot die aanvaarding en deurvoering van maatreëls wat in die pad is van die uitbreiding van die koninkryk van God. Ons vrees dat nou reeds by baie die hoof- en soms ook die enigste, oorweging is die versekering van ons blanke toekoms en ons blanke “beskawing”. Daarvoor kan selfs die sending ook desnoods ingespan word. So ‘n houding lei nie alleen tot ?n onchristelike optrede en tot die uitvoering van onderdrukkende maatreëls nie maar daardeur word ook die lewe verloor. Ons sal steeds op ons hoede moet wees om nie bewus of onbewus ons deur sulke selfsugtige oorweginge te laat lei nie en ons sal baie ernstig werk daarvan moet maak om in die geloof eers die koninkryk van God en sy geregtigheid te soek, of sal daar ook gesê word dat die Christendom in Afrika gefaal het omdat ons hier aan die suidpunt ons eie volks- of persoonlike belange gestel het bo dié van die koninkryk van God?
Boweal sal die sendingtaak vir ons die groot lewenstaak moet wees, en dit sal op baie groter en grootser skaal aangepak moet word. Daarbenewens sal veral elke Christen moet besef dat hy hierin ʼn roeping het. Die Here het hier ‘n volk geplant om hier in Suid-Afrika ‘n lig vir die heidene te wees. Daarom het elkeen ‘n persoonlike roeping in hierdie verband en kan dit nie net gelê word op sendelinge en sending-kommissies en ander indiwiduele persone nie. Dan kon die Here net so goed enkele sendelinge van Europa gestuur het en kon Hy ons maar weer laat teruggaan na Europa. Die sending is alleen dan waarlik kerklik as die hele kerk, die hele gemeente aktief sendingbewus en werksaam is.
As ons nie hieraan wil beantwoord nie, sal ons die beskuldiging moet hoor dat die Christendom gefaal het vanweë die nalatigheid van die hierheen gestuurde blanke volk.
As ons werklik glo dat alleen die evangelie-woord die hoop is vir onsself en vir die wêreld en dus ook vir Afrika, dan sal ons ook besiel met heilige ywer hierdie lewenswoord wil laat gestalte aanneem ook in die naturellelewe.
Maar het ons nog so ‘n boodskap vir die wêreld, is daar by ons die waaragtige oortuiging dat Christus alleen die Weg en die Waarheid en die Lewe is vir alle lewensprobleme en omstandig-hede? Het ons ook hierin gefaal dat ons dit nie meer werklik glo nie? Die Woord van God sal so gebring moet word dat dit spreek tot die siel van die naturel, as ‘n nuwe blye boodskap van hoop vir ‘n nuwe lewe, ook vir die ontwakende nasionalisme. ‘n Woord vir die hele lewe en nie net ‘n Sondagsboodskap nie.
Ons sal as kerk, as volk, ons ook rekenskap daarvan moet gee of ons die Woord waarlik bring as ‘n krag vir die hele lewe en ons sal baie ernstige werk daarvan moet maak om die evangelie so te bring dat dit spreek tot die siel van die nie-blanke en vir sy hele lewe en ook vir die opbou van sy eie nasionale toekoms. Ook sal ons baie diep moet dink om die kerk vir die Bantoe so te bring dat dit ook waarlik aangevoel word as ‘n eie kerk en nie ‘n Westerse kerk of ‘n regerings-kerk nie of as deel van die beskawing nie. ‘n Vrye kerk dus, alleen in Jesus Christus self gebind aan die Lewende Woord en so één met die Kerk van alle eeue.
Die naturel sal moet voel dit is die kerk van Christus. sy Verlosser, dit is die kerk waarin hy hom as naturel tuisvoel en in sy geloofslewe op sy manier hom kan uitlewe. Of moet ons ook aanskou dat die kerk hier net soos in die Ooste ver-werp word vanweë die Westerse vorm waarin die Christendom aangebied word, die vreemdheid van ‘n vreemde kerk?
Benewens die gevaar van ‘n vreemde kerk hang daar oor Afrika die dreigende wolk van die materialistiese beskawing en kultuur van die Weste. Waar die hele wêreld vandag die oë op Afrika rig en die volke wat saamgetrek is in die V.V.O. begerig is om materiële hulp aan die onderontwikkelde gebiede in Afrika te verleen, moet by alle waardering daarvoor die vraag gestel word of dit al is wat die Weste aan te bied het. As dit so is en maar net klippe vir brood gegee kan word, sal hierdie hulp alleen maar lei tot die algehele ontwrigting van die swart heidendom, wat dan vir die nodige geestelike houvas uitgedryf sal word na die Islam of sal ontaard tot die mees antichristelike chaosmag in die wêreld sonder enige gods-dienstige binding, en so sal hierdie bloot materiële hulp nog die grootste ramp wees wat Afrika kan tref.
En so sal ook ons universiteite en ons hospitale en die versnelling van die tempo van die ontwikkeling van die reservate — alles baie goeie en nodige dinge — sonder Christus en sonder die christelike suurdeeg vir die hele lewe nog blyk die grootste van alle gevare vir die naturel te wees.
Die groot krisis vir ons hier in Suid-Afrika lê nog voor en die beslissende keuse van die nie-blankes in Afrika moet nog gedoen word.
Mag die Here verhoed dat Christus verwerp word en gekies word vir ʼn blote sekularistiese beskawing of dat die keuse teen die Christendom gaan op grond van die beskuldiging dat die Christendom gefaal het vanweë die onchristelike voorbeeld van die draers daarvan hier in Suid-Afrika of deur hulle nalatigheid om die Woord van God onder die nie-blankes te verkondig, of deur hulle onsimpatieke selfsugtige optrede, of hulle ongeloof en koue onbesieldheid vir die heilige saak van God.
Die Here self bring ons nou in die vuurproef en Hy verwag ‘n antwoord van ons, nie môre of oormôre nie maar nou. En die antwoord wat Hy van ons verwag is die daad van gehoorsaamheid. Gehoorsaamheid aan die bevel van Jesus Christus, om aan al die volke die Lig te bring. ‘n Lig tot verligting van die heidene. Hierdie Lig sal seker nie faal nie.
Leave a Reply