TOTIUS: “OORLOG IS HEL… LAAT ONS DAN VREES VIR ONSSELF EN ALLEEN OP GOD VERTROU”

TOTIUS: OORLOG IS HEL… LAAT ONS DAN VREES VIR ONSSELF EN ALLEEN OP GOD VERTROU*

“U moet tog daaraan dink dat oorlog sy oorsprong in die wêreld van Satan het. Die skriklike uitstorting van hartstog, van nyd en geweld wat ook die vorige oorlog gekenmerk het, kan in sy oorspronge nie anders verklaar word as uit Satan nie, wat van die begin af ‘n mensemoordenaar was (Joh. 8:44) en hom by die voleinding meer as ooit tevore as mensemoordenaar sal laat ken.

Hy sal sy hellemagte wakker maak en hulle monster om die mensheid aan te por en op te sweep tot slagting en lewensvernieling. Hoe dit alles presies sal plaasvind, watter strydende nasies teen mekaar sal optrek, of dit Asië teen Europa sal wees, die geel teen die blanke ras, dan wel of daar nog meer worstelaarsgroepe te voorskyn sal kom — dit alles en soveel meer moet ons uit die wordende gebeurtenisse probeer verstaan.

Eén ding is seker: “oorlog is hel”.

Dit het die soldate reeds uitgeroep toe die doodbrakende kanonne in Europa losgebars het; maar dit sal eers in alle werklikheid gevoel word as die ruitery van die hel losgelaat word waarvan Openb. 9 ons die skildering bied. …

Daarom, leser, moenie u langer in die slaap laat wieg deur die wysheid van ‘n verdwaasde wêreld nie. Die wêreld glo nie aan die bestaan van Satan nie en meen dat die mens se hart beskaaf en verbeter kan word, sodat daar van oorlog nie meer gehoor sal word nie. Maar die Woord van God leer ons anders. En wat die Woord ons sê, kan reeds in ontstellende verskynsels waargeneem word. Skrik daarom wakker as die Godsgerig voor die deur staan en ons lewenshuis deur aanvanklike bestorming reeds geskok word.

Glo in Christus, want Hy alleen is die behouer van beide siel en liggaam. Wat Satan doen, is moor; en wat die mens doen, is haat. Hoe hard dit ook is om so te spreek — die Woord van God alleen is waar en bly waar.

Dit geld ook ten aansien van wat die sesde basuin aankondig met betrekking tot die gedrag van die mense onder die ontstellende gebeurtenisse. Daar staan: “Die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan Sien of hoor of loop nie” (Op. 9:20).

Hier hoor ons van sowel ‘n direkte as ‘n indirekte duiweldiens.

Direk sal die duiwels “aanbid” word. Dit word reeds openbaar in wat teenswoordig satanisme en spiritisme genoem word. Daar word direkte gemeenskap met geeste gesoek, iets wat Gods Woord verbied (Deut. 18) en wat ewenwel ‘n kenmerk van die laaste tyd sal wees (1 Tim. 4:1).

Maar ook die diens van afgode is indirek, deur bemiddeling van goue en ander voorwerpe, ‘n aanbidding van duiwels (1 Kor. 10:20). En dat alles waardeur die mens sy vertroue van die enige ware God aftrek, afgodery en Satansdiens is, hoef ons hier seker nie nader aan te wys nie (vgl. Heid. Kategismus, Sondag 34).

Wat egter wel ons aandag vra, is dat die vermelding van afgodery vir ons hier allermins vreemd hoef voor te kom, aangesien die Oosterse volke nou op die toneel verskyn, soos hierbo duidelik gemaak is. Hulle is inderdaad nog duiwel- en afgodedienaars, en die loop van die evangelie sal, blykens ons hoofstuk, onder hulle geen wesenlike verandering aanbring nie. Selfs sal allerhande towery en waarsêery, allerhande vorme van teosofie [teosofie: “mistiek-wysgerige stelsel aangaande die trapsgewyse volmaking van alle skepsele”] en filosofie, allerhande swartkuns en bedrieëry vir hulle ‘n weg na die Weste baan en onder Christenvolke veroweringe behaal, iets wat nou reeds onder ons te sien is.

By hierdie sondes teen die eerste tafel van die wet sal nog gevoeg word sondes teen die naaste. Die mense sal hulle ook nie bekeer van hulle moorde en hulle towerye en hulle hoerery en hulle diefstalle nie (vs. 21). Wat ‘n donker skildery van ons menslike samelewing soos dit uiteindelik sal wees! Geen verandering of verbetering nie maar ‘n gaan van kwaad na erger. 

Hier word dit weer vir ons duidelik dat net die Heilige Gees die hart kan verander. Selfs die allerswaarste gerigte sal die mens nie tot inkeer bring nie.

Ons eie ervaring kan dan ook bevestig wat Gods Woord hier sê. Hoeveel smarte en ellendes het in die afgelope jare oor ons heengegaan – wêreldoorlog, wêreldhongersnood en pes — en nog gaan die wêreld in sy goddeloosheid voort.

Maar dit moet die mens weet: Dit loop alles na ‘n ewige straf, na ‘n beslissing wat vir ewig sy beslag sal kry. Daarom is dit dat God so waarsku en op bekering aandring; daarom is dit dat God altyd weer tyd gee, selfs as die eindgerigte al losbars. Só word aan die mens alle voorwendsel ontneem en sal sy mond gestop wees as hy voor die regterstoel van God verskyn.

Laat ons dan vrees vir onsself en alleen op God vertrou.

Laat ons Hom in dankbaarheid dien, nou dat Hy sy Seun aan ons gee om ons van ons sonde te was, laat ons deur sy Heilige Gees vashou aan die verbond wat uit genade met ons en ons kinders opgerig is.

Dit is tyd om te vrees en te aanbid, om te kerm en te smeek, om te worstel en te volhard.

Mag die skrik van die Here ons dan tot geloof beweeg deur die genadekrag van sy Heilige Gees!

Amen.

___________________________________

* [Bron: Versamelde Werke, deel 5 (Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers, 1977, bl. 330-333), opskrif en beklemtonings bygevoeg]

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: