Twee preke van Dirk Postma (1818-1890): DIE FONDAMENT EN SEEL EN STAAN VAS (2 Tim. 2:19) & DIE HEERLIKHEID VAN SION (Ps. 87)

DIE FONDAMENT EN SEEL STAAN VAS (2 Tim. 2:19) & DIE HEERLIKHEID VAN SION (Ps. 87) 

Twee preke van Dirk Postma (1918-1990)*

Preek 1: PREKE FONDAMENT EN SEËL STAAN VAS

Sing: Psalm 118: 1; 87: 2, 3; 138: 4; 119: 53.

Skriflesing: 2 Timoteus 2.

Teksvers: 2 Timoteus 2:19 – “Ewenwel, – die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, – afstand doen van die ongeregtigheid.”

Daar is baie dinge wat die geloof van die enkel gelowige, sowel as die kerk in geheel soms skok. U staan dikwels verbaas oor die swakheid in u om die sonde te weerstaan. U dink dat u sterk is en die sonde maklik kan bestry, maar as u weer sien is die sonde nog te sterk vir u en moet u weer, tot u skande, die nederlaag ly.

Of, u dink miskien dat diegene wat die Here bely, die lidmate van u kerk, die waarheid, reg en godsvrug ernstiger opneem as wat hulle moet. Tot hulle swig onder die verleiding van vreemde leer of sondige leefwyse. En as daar soms sulke skrikwekkende tye oor u persoonlik, of oor die gemeente van die Here kom, tye van afval en versoeking, dan vra meer as een miskien: wat sal van ons word? Wat sal van my word?

So was daar ook swaar tye vir die gelowiges in Efese waar Timoteus gearbei het. Paulus het gehoor dat die stryd vir Timoteus moeilik was en dat die verwoestende invloed van die dwaalleraars hom soms geskok het en gedreig het om hom moedeloos te maak. In hierdie brief wek die apostel dus sy geliefde seun in die Here op om sterk te wees omdat God ons nie ʼn gees van vreesagtigheid gegee het nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing. Dan wys Paulus op die verlossing wat in Christus aan hom gegee is voor al die eeue heen volgens God se besluit.

Met ʼn enkele voorbeeld uit sy eie lewe vertel Paulus hoe hy onder verdrukking gely het en selfs in boeie was soos ʼn misdadiger vir die evangelie, maar dat hy dit alles verduur het terwille van die uitverkorenes sodat hulle versterk kan word in hulle geloof en die verlossing wat in Christus Jesus is met ewige heerlikheid kan verkry. As daar dan dwaalleraars soos Himeneus en Filetus met groot woordoorloë kom en ʼn verderflike invloed uitoefen met hulle woorde, wat versprei soos ʼn kanker, waardeur sommige se geloof verwoes word, dan kom Paulus met hierdie heerlike waarheid dat, soos ons teksvers sê, die gemeente van die Here egter nie ten gronde kan gaan nie, want sy rus op ʼn onwankelbare fondament; sy het ʼn fondament en ʼn seël. Sy is van ewigheid af uitverkies en word tot heerlikheid gelei.

Die verborgenheid van die ewige uitverkiesing van die gemeente van God word in die teks ontvou as:

1) ʼn Ryke vertroosting, en

2) ʼn heiligmakende krag vir die gunsgenote van die Here

1) Die ryke vertroosting

Die fondament dui op dit wat onbeweeglik vasstaan. In ʼn figuurlike sin beteken die fondament die onbeweeglike standvastigheid of die eerste beginsel van ʼn saak soos blyk uit die woorde van Paulus in 1 Timoteus 6:19, waar hy die werk van geloof noem: ʼn goeie fondament vir die toekoms. Ook word die leer van bekering van dooie werke ʼn fondament genoem, waarop gebou moet word, Hebreërs 6:1. Die leer van die apostels word ook ʼn fondament genoem. En in 1 Korintiërs 3:11 lees ons dat niemand ʼn ander fondament as wat gelê is, naamlik Christus, kan lê nie.

Die onbeweeglike fondament van u as gelowige, van ons dierbare kerk, is dat die verlossing in niemand anders as in Christus alleen is nie. Dat Christus vir u en vir sy volk die ewige verlossing verkry het en die verlossing op ons toepas deur die Heilige Gees. Daartoe is Christus van ewigheid af verordineer as ons Middelaar en Saligmaker.

Die fondament van u verlossing is dus nie eers gelê toe u Hom as u Verlosser leer ken het nie. Dit is soos Paulus sê “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus, soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld – om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees.”

Die ewige uitverkiesing van God se kinders is die verborge, diepe, vaste, onwrikbare fondament waarop die ware gelowiges op aarde onwankelbaar vasstaan. Die fondament van God staan vas. Van hierdie fondament word gesê dat dit goddelik is, dat dit staan en dat dit vas is. God is die boumeester, die argitek daarvan. Hy by wie geen verandering of skaduwee van omkering is nie. Die fondament is deur God gelê met wysheid in die vrye krag van sy soewereine welbehae in ooreenstemming met die hoë doel n.l. die verheerliking, ook deur u, van sy Naam wat nooit genoeg geprys kan word nie. Dit is gelê op die berge van sy heiligheid, ja op die koperberge van sy Raad, veilig en rustig en dit weet van geen wankeling nie.

Waar die fondament sigbaar word, het dit twee opskrifte op die hoeksteen en dit word, in ons teksvers, ʼn seël genoem. Met hierdie seël: Die Here ken diegene wat aan hom behoort leer ons dus in die eerste opskrif dat die Here sy kinders ken. Die Here ken alles en almal. Vir ons mag die verskyning van sonde op aarde vreemd en onoplosbaar lyk, maar God het vooruit geweet van hierdie sondemag en Hy ken ook al die goddeloses wat vanweë hierdie mag ewig verlore sal gaan. Ja, hy ken hulle, maar in sy verskriklike toorn berei Hy hulle vir vernietiging voor.

Tog, aan die anderkant, ken die Here ook weer diegene wat Syne is, maar sien hulle in barmhartigheid aan. Wat ʼn ryke troos is dit nie om te dink dat die Here u onder sy kinders tel en ken. Ook waar u van nature geneig is om God en u naaste te haat. Waar u nie altyd omsien na God of uitsien na versoening of vir ontferming vra nie. Ja, u ken die Here met toegeneentheid en met liefde. God het u nie eers leer ken toe u Hom leer ken het in berou oor u sonde nie, maar reeds lank vantevore. Dit is soos ons sing in Psalm 139:

“Voor iets van my ’t begin te lewe, was alles in u boek geskrewe.”

Juis omdat die Here diegene wat aan Hom behoort so ken, soek Hy hulle op, vind Hy hulle en sorg Hy dat hulle behoue bly. Dink maar aan die sondige koning Manasse, wat in die tronk eers sy God leer ken het, dink aan Lydia die purperverkoopster wat deur die prediking van Paulus tot bekering gekom het, dink aan Levi, die tollenaar, wat Jesus by sy kantoor gevind het en hom sy dissipel, Matteus, gemaak het, dink aan Saggeus in die vyeboom en aan die moordenaar aan die kruis. Moet nooit sê dat u omstandighede van so ʼn aard is dat die Here u nooit sal ken of vind nie. Wie sou ooit kon dink dat die Here ‘n moordenaar as uitverkorene aan ‘n kruis sou hê en dat God hom daar sou kry?

Omdat die Here sy kinders van ewigheid af ken, verordineer Hy die middele en die tyd vir sy kennismaking met hulle. Onder hierdie middele kan die vleeswording en kruisdood van Christus, die prediking en die bediening van die sakramente en sy voorsienige bestuur oor ons lot en lewens gereken word. Omdat God ons as syne ken, bedrieg Hy ons nooit. Hy ken die harte en beproef die niere. En as die sonde ons harte bederf stuur Hy berou, want Hy ken die mag van die sonde en weet hoe om die mag in ons harte te breek. Die werk van sy hande laat Hy nooit vaar nie – al is u geloof nog klein. Kyk maar na Petrus, wat sy Heiland verloën het.

Tog is daar nie net ʼn ryke troos in hierdie Godskennis van ons nie, maar ook:

2) ʼn Heiligmakende krag vir sy gunsgenote 

Ons het gesien dat die eerste opskrif van die goddelike seël is: “Die Here ken diegene wat aan Hom behoort.” En die seël gee te kenne dat God ʼn besitreg op ons het. Terwyl die tweede opskrif van die seël te kenne gee wat die doel en die bestemming van ons, wat aan die Here behoort, moet wees. Daarom lei die tweede opskrif: “Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.”

Dit is nie die hele Israel wat in die sigbare kerk op aarde Israel genoem word nie. Daar is soveel kaf tussen die koring. Baie gee voor dat hulle die Here ken en dan is hulle maar naamchristene, huigelaars, wat die gedaante van godsaligheid besit, maar die krag daarvan verloën.

Die tweede opskrif op die seël van verkiesing wil ons dus leer dat ons moet afstand doen van ons ongeregtigheid, as ons deel wil hê aan die troos van die uitverkiesing. Dit is immers onmoontlik om ʼn uitverkorene te wees en dan nog in die ongeregtigheid te bly staan en eintlik vir altyd daarin vasgevang te wees. Neem afstand van die ongeregtigheid in die algemene betekenis daarvan – alles wat teen God ingaan in belydenis en wandel. Daarenteen word van diegene wat aan God behoort, van hulle wat die Naam van Christus noem verwag dat hulle moet staan in die waaragtige kennis van God, in ʼn suiwere opvatting van die evangelie en dat hulle alles wat met die gesonde leer in stryd is moet haat en daarvan moet wegvlug.

Ag, hoeveel is daar nie onder ons wat wel die Naam van Christus noem, maar nie wil afstand doen van allerlei ongeregtighede nie. Die suigkrag van die sonde is vir ons te sterk sodat ons, tot ons droefheid en skande, moet opmerk dat baie van ons oneerlik is as ons besigheid doen, onopreg is in ons omgang met mekaar, koud is in ons liefde, onversoenlik is teenoor ons naaste, ja baie keer ons broer of suster, gelykvormig is aan die wêreld, nie ag gee op die gebooie van die Here met betrekking tot ons private en publieke lewens nie, ons ontheilig die dag van die Here. Ja, daar is te veel ongeregtighede onder ons om op te noem.

Teen dit alles en soveel meer gaan die Woord van God, gegraveer op die seël van ons uitverkiesing uit: “Doen afstand van die ongeregtigheid.” Ja, al die arbeid van die kerk wat rus op dit wat Christus bewerk het, deur alle eeue vantevore, word gedurig as ʼn slagoffer getoon. Dit alles benadruk die woorde “doen afstand.”

God verkies nie alleen uit nie, maar wil ook deur die arbeid van sy Woord en Gees ʼn reiniging van ongeregtigheid onder ons teweegbring. Want wat het die ongeregtigheid nie al veroorsaak nie! Dink maar aan ʼn paar uitstaande gevalle waarvan die Bybel ons vertel: die paradysvreugde verval, broedermoord in die eerste familiekring, skeiding tussen troue en geliefde familielede, Abraham en Lot, ewenwel die skeiding van tweelingbroers, Jakob en Esau, wat van mekaar af vlug, ongeregtigheid tussen Jakob se seuns sodat Josef as slaaf verkoop word, ongeregtigheid en onsedelikheid onder Israel, die uitverkore volk van God, tot die Here uiteindelik moes uitroep: “Ek walg van u.” En die stroom van ongeregtigheid stroom maar breed en diep voort. Dink maar aan wat al gebeur het in u omgewing, lees maar in die koerant wat als plaasvind in ons land en skaam u u nie dikwels oor die boosheid en ongeregtigheid in u gedagtes en dade nie!

En nou, teenoor die diepbedroefde, klink die magtige Woord van God kort en kragtig: “Ewenwel!” Dit wil sê nieteenstaande dat dit so is wil Ek, God Almagtig, dit anders hê. Uit die volslae bedorwe menslike geslag wil en sal Ek My uitverkorenes vergader, wat sal afstand doen van die ongeregtigheid en My sal eer. En om te bewys dat God ernstig is oor die “Ewenwel” gee hy sy Seun, sy Eniggeborene, om al die ongeregtigheid van sy uiverkorenes te dra. En nou weet u dat Christus, vanweë ons ongeregtigheid, ʼn skandelike kruisdood moes sterf. Tog ag Hy sy lewe nie te kosbaar om ʼn volk vir God te reinig nie.

En u, wat in sy Naam gedoop is, u wat sy Naam by u belydenis genoem het, wat aan die tafel gedrink het uit die beker van sy verlossing, wat tans sy Woord hier hoor. Hy wil u reinig van die dooie werke deur u nou weer vir die soveelste keer toe te roep : ”Doen afstand van die ongeregtigheid.” Die Here help u om nou en elke dag die Woord van God so te gehoorsaam, sodat u, in die dag van dae, as hierdie bose wêreld moet vergaan weens al die ongeregtigheid, ewenwel behoue mag staan op die vaste fondament van God se uitverkiesingsgenade omdat God u geken het as sy kind en u afstand gedoen het van alle ongeregtigheid.

Amen.

___________________________________________

Preek 2: DIE HEERLIKHEID VAN SION

Sing: Psalm 122: 1; 122: 2; 87: 2; 87: 3, 4.

Skriflesing: Psalm 87.

Teksvers: Psalm 87.

Al ons aardse instellings, inrigtings en verhoudings is onvolmaak en gebrekkig. Dit maak ons bedroef en maak ons lewens vir ons swaar. Hoe vertroostend is dit dan nie om te weet dat God ons arme mense vereer het om vergader te word vir sy Sion: eers in die strydende kerk hier op aarde om later ewig te jubel in die triomferende kerk. Let ons op die lede in die kerk, haar lede en haar dienaars, dan is daar soveel wat ons bedroef maak. Luister ons egter wat God van die kerk, van sy Sion sê, dan is daar vir ons meer as genoeg rede om van harte dankbaar te wees en ons ywer te wys in ons godsdiens.

Ons kan dit hoor in Psalm 87, ʼn kort lied, wat die kinders van Korag gesing het. Dit is ʼn vreugdesang oor die skone Jerusalem, geleë op die berg Sion. Die lied is heel waarskynlik opgestel na die wonderbare verlossing van die Here van Jerusalem wat deur Sanherib beleër is in die tyd van Hiskia. Die verlossing, so groot en wonderbaar, is vir Israel ʼn nuwe bewys van die standvastigheid en heerlikheid van die Godsstad en terselfdertyd ʼn profesie van wat die stad in God se kerk vir alle volke sal wees:

Die standvastigheid van God se kerk

“Sy grondvesting is op heilige berge.”

Hoe gerus voel ons nie as ons ʼn sterk fondament en ʼn vaste grondvesting sien nie! Wel, as die digter hier van die wese van die kerk praat noem hy eers haar fondament, haar grondvesting. Gelukkig rus die kerk se grondvesting nie op die mens nie, want dan het sy nooit standvastigheid of heiligheid gehad nie. Mense en sake word wel gebruik om die grondvesting van die kerk aan te wys. So het ons byvoorbeeld uit die ou verbond vir Noag en sy ark wat, te midde van oorstromende water, God se kerk dra.

Ons het vir Abraham en God se verbond met hom, dat God van hom ʼn nasie sal maak, so ontelbaar soos die sterre in die hemel. Ons het Moses wat na die aardse vors Farao gaan en Israel uit die bande van Egipte uitlei met die Naam van God: “Ek is wat Ek is.” Ons het die standvastigheid van die grondvesting wat tevergeefs vir Hiskia in Jerusalem probeer vernietig is. En wanneer al hierdie bogenoemde tipes verdwyn, dan kom die ware grondvesting na vore, naamlik. Christus, waarvan daar in die Skrif geskryf staan: “Kyk, Ek lê in Sion ʼn uitverkore en kosbare hoeksteen.”

Omdat Christus heilig is, daarom kan daar gesê word dat Sion se grondvesting op die berge sy heiligheid is. Wat ʼn ewige vastigheid dus, vir die gelowige volk van die Here! Laat die kerk dus dierbaar wees vir u en ʼn rots van vertroue, omdat die grondslag van Sion op die berge van God se heiligheid is.

Die beminlikheid van die kerk

“Die HERE het die poorte van Sion lief bo al die wonings van Jakob. Heerlike dinge word van u gesê, o stad van God!”

Alles wat onheilig is, is in God se oë verwerplik, hoe dit ook al die sondige hart behaag. So bemin God nie die danssaal, die sirkustent en al sulke plekke van ydele vermaak nie. Die poorte daarvan bemin nie God nie, maar Satan. Alles in ons, wat in die kerk is, is wel onheilig – ja, selfs ons beste werke is met sonde besmet en daarom ʼn weggooibare kleed, maar omdat Christus in die kerk is as haar Hoof, bemin God Sion op grond van Christus se heiligheid. Die poorte van Sion verskaf toegang aan diegene wat in haar moet kom, weer diegene wat nie in haar hoort nie af en beskerm die wat in haar moet wees.

Daarom bemin die HERE die poorte van Sion. Voor ons is die poorte van die prediking van die Woord, die bediening van die sakramente en die uitoefening van die kerklike tug, alles genademiddele waardeur die HERE sy kerk, deur die werking van sy Gees vergader, opbou en beskerm.  Alle wonings van Jakob, waar die vrome huisvaders met hulle huisgesinne die HERE dien, het God lief, maar bo al die wonings bemin die HERE die poorte van Sion. O, wat ʼn voorreg dat ek, skuldig voor die oë van God weens al my sonde, aan die hand van Christus deur die poorte ingelei mag word om daar deur God bemin te word! Besef ons die groot liefde van Christus as Hy vir ons sê: ‘Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind”?

Dat die poorte van Sion bemin word, is nie al nie.

“Heerlike dinge word van u gesê, o stad van God.” Omdat Jehova die boumeester van Jerusalem is, omdat Christus die Koning van sy kerk is, word daar van die stad van God gesê: “Jerusalem wat gebou is as ʼn stad wat goed saamgevoeg is, waarheen die stamme optrek, die stamme van die HERE – ʼn voorskrif vir Israel! – om die Naam van die HERE te loof. Ek sal u stene sierlik lê en Ek sal u op saffiere grondves. En u glasvensters sal ek van kristal maak. Skoon deur my verhewenheid, die vreugde van die hele aarde is die berg Sion, aan die noordekant, die stad van die groot Koning! God het Hom in sy paleise bekendgemaak as ‘n rotsvesting.” Gemeente van Christus, laat u wandel in die kerk dan in ooreenstemming wees met hierdie skoon lofspraak. Vlug dus van die sonde af weg en reinig u van alle ongeregtighede. God wil egter nie alleen deur u geken word nie. Nee, die roem van Sion gaan veel verder. Let op:

Die omvangrykheid van Sion

“Ek wil Rahab en Babel vermeld onder hulle wat My ken; kyk, Filistéa en Tirus saam met Kus – hierdie een is daar gebore.” Hier tree die kerk uit die skrikwekkende nasionale groep van die Jode en word sy internasionaal in die ganse wêreld. Dit wil sê dat die kerk ook uit ander nasies as die Jode sal bestaan. Maak nie saak hoeveel pogings aangewend is om groot en ryk wêreldryke te vestig wat klein nasies insluit nie, die wêreldryke het die een na die ander ondergegaan. Dit is egter heeltemal anders met die koningryk van God, want die grondvesting daarvan is nie mensekennis nie, maar die genade wat God aan ons bewys in die liefde van Christus as ons Saligmaker.

Let op die verskillende nasies wat hier vermeld word, dan is dit opmerklik dat die kerk van Christus die rekonstruksie van die hele gevalle menslike geslag is. Dit is ook volgens die belofte aan Abraham: “In u sal al die geslagte op aarde geseënd wees.” Die woorde van God word aan Israel toevertrou, maar God laat die ander nasies nie aan hulself oor nie, Nee, Hy voer sy bestel oor sy uitverkorenes uit en wys hoe die volke ʼn roeping het en voor die roeping talente ontvang het sodat die vrugte daarvan in die Koningryk van God ingedra kan word. Kyk maar na Egipte, hier in ons teks word dit Rahab genoem, wat “trots” beteken. Ja, hoe trots was die Farao van Egipte nie toe hy geweier het om God se volk, Israel, te laat trek nie! Maar onder God se bestel moes Egipte, naas Farao, alle eer aan Josef betoon. Josef, die kneg van die HERE.

Egipte moes Moses, ook ʼn kneg van die HERE, onderrig in al hulle wysheid, sien trek met hulle slawevolk, Israel, en die trek van Israel veroorsaak die ondergang van Farao en sy ruiters in die Rooisee, terwyl Israel, verryk met Egipte se goud en silwer die diep waters van die see veilig deurgetrek het. Later genees God weer sy volk van afgodsdiens in Babel.

Daar in Babel kry die profete van die HERE die geleentheid om die heerlike woorde van God in profesie te verkondig. En ook daar bewerk die HERE dit so dat sy volk na Kanaän terugtrek met hierdie woorde: “Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort – mag sy God met hom wees, en laat hom optrek na Jerusalem wat in Juda is, en die huis van die HERE, die God van Israel, bou! Hy is die God wat in Jerusalem is.” En met die bou van die vorige Tempel, word Israel na Tirus en Sidon gestuur met argitekte en manne, ervare in die bewerking van goud, silwer en allerlei stowwe.

Daarom sê die psalmis: “En, o dogter van Tirus – met geskenke sal hulle u guns soek, ja, die rykstes van die mense.” Ons kyk verder en sien dat Christus, met sy geboorte, geskenke van goud wierook en mirre ontvang het van heidense wyses uit die Ooste. Daarna word die waarhede van God in die Evangelie opgeskryf in die Griekse taal, wat die diepste en volledigste ontleding gee van die verborgenheid van die mens se innerlike lewe.

Ons sien dus dat die liefde en wysheid van God so ryk is dat dit strek tot alle volke, tale en nasies. Soos ons dan ook hoor by die stigting van die eerste Christelike gemeente met die uitstorting van die Heilige Gees: “En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is?” En vandag kan God se Woord al in meer as vierhonderd verskillende tale regoor die wêreld gelees word. Ons bewonder die omvangrykheid van God se Sion waarmee die Seun van God ʼn gemeente vergader uit die ganse menslike geslag. En ek? Ek glo dat ek ʼn lewende lidmaat daarvan is. Nie omdat ek so goed is nie, maar omdat Hy my so goedgunstiglik ingereken het in die opskryf van die volke op grond van die wedergeboorte. Want let nou op:

Die sekerheid van die Sioniete

“En van Sion sal gesê word: “Man vir man is daarin gebore, en Hy, die Allerhoogste, hou dit in stand. Die HERE sal tel as Hy die volke opskrywe: Hierdie een is daar gebore.” As mens gebore is, kan daar geen meer twyfel wees dat mens bestaan nie. In hierdie verse word die geestelike bestaan van God se kinders ten sterkste bevestig. Hierdie een en daardie een is daarin gebore. Dit wil sê man vir man. Dit word herhaal in die volgende vers, waarin voorgestel word dat die HERE ʼn register vir die volke opstel en Hy rekening hou van elke Sioniet en van hom sê: “Hierdie een is daar gebore.”

Ek weet dat ek  ʼn mens is omdat ek as sodanig gebore is. En van die wedergeboorte bely ons kerk so treffend skoon, dat dit ʼn heeltemal bonatuurlike, baie kragtige en tegelykertyd ʼn baie soete, wonderbare, verborge en onuitspreeklike werking is wat in haar krag nie minder, nóg geringer is as die skepping of die opwekking uit die dode nie.

Ook dat al diegene in wie se harte God op hierdie wonderbaarlike wyse werk onfeilbaar sekerlik en kragtig wedergebore word en daadwerklik glo. En hierdie wedergeboorte geskied nie uit verganklike, maar uit onverganklike saad deur die lewende en ewigdurende Woord van God. Soos God by die skepping ʼn woord spreek en deur sy woord geskape dinge voortkom, net so geskied die herskepping of wedergeboorte deur die krag van God se Woord, die Woord wat gepredik, gelees en geloof word. By die Woord voeg Hy die sakramente om die geloof in die Woord te versterk.

En nou, u hoor die Woord en gebruik die sakramente as lidmaat van die kerk tog seker nie uit blote gewoonte nie! Nee, u doen dit om die geloof in die wedergeboorte te versterk.

En as wedergeborene is u ʼn edelgeborene, nie om in die donker klowe van sonde af te dwaal nie, maar om die vars berglug van God se liefde en vergewingsgesindheid te geniet. Maar sal ek daarin staande bly? Die ou mens in my is so listig en ek is so swak! Juis daarom sê ons Psalm “Die Allerhoogste hou dit in stand.” God sal sorg dat ons, hoe ons ook al in sonde val nooit uit sy genade sal val nie omdat Christus, as ons voorspraak, steeds by Hom vir ons pleit. Moet dit nie vir ons die grootste vreugde verskaf nie? Ja, daarom eindig die psalmis deur te wys op:

Die grote vreugde in Sion

“En die wat sing sowel as die wat vrolik is, sê: Al my fonteine is in jou!”  ʼn Ander vertaling hiervan lui: “Met sang en dans sal almal Sion prys.” Hier word uitdrukking gegee aan die opgewektheid en vrolikheid wat in Sion heers. Ek hoef u net te vertel van die Hallelujas en lofliedere wat Israel uitgejubel het met Paasfees, Pinkster en die Loofhuttefees.

Die vreugde het reeds begin toe Israel veilig deur die Rooisee getrek het en Miriam ʼn trom in haar hand geneem het en al die vroue agter haar uitgegaan het met tromme en tamboeryne. Die vreugde duur voort tot hier op Sion se Tempelberg waar trompetgeskal en basuingeklank weerklink. Dit is ʼn geklaag en ʼn geween op aarde van die dag af wat die eerste mens gebore is en Kain die eerste moord gepleeg het as gevolg van die val van die eerste Adam.

Net so word daar weer vreugde voorberei reeds by die aankondiging van die Moederbelofte, waar die koms van die tweede Adam voorspel is. Christus, wat die kop van Satan sou vermorsel. Daar was groot blydskap in die hemel toe die Vreugdebringer, Christus, gebore is. Die engele het ʼn engellied gesing. Ook die herders in die velde van Bethlehem het oral verheug die blye boodskap verkondig.

En wanneer Christus later sy werk op aarde doen, spring die water uit die fonteine van sy genade en vergifnis. Fonteine van allerlei gawes, van genesing, opwekking van dooies, wonderwerke van verlossing, van vrede, geregtigheid en blydskap. En veral wanneer die fontein van die Heilige Gees oor die kerk loop op Pinksterdag. Christus het wel bitterlik gely, ja, aan die kruis van Godsverlatenheid gekla, maar juis daardeur verwerf Hy vir ons as sy Sioniete die ewige vreugde, wat as HERE geestelike fonteine laat opspring uit die dieptes van God se ewige liefde.

Sien, dit is u deel en moet deur u geniet word, as lidmaat van die kerk, waar u deur die poorte van Sion binnegelei word om binne haar te woon.

Dit is u lot, ook te midde van al die droefheid van hierdie wêreld. Maar moet dan nie deur die poorte van die sonde gaan nie. As edelgeborene, in Sion gebore, kom terug na haar, bly in haar, verlustig u in haar, soek haar verlossing, haar eer en u sal vreugde in u siel hê om ook ewig salig te wees.

Amen.
_____________________________________________

Bron: Lig op mij Pad: vij en twintig preke, uitgegee op las van die Algemene Vergadering van die Gereformeerde Kerk in die Kaap Provinsie, 1917.

* Met dank aan die vertaler, Juandre Coetzee, lidmaat van GK Potchefstroom-Suid.

Sien hier nog artikels van en oor Dirk Postma.

Prof. Victor d’Assonville se artikel hier oor Postma.

Standaardwerk om te lees en te bestudeer oor Dirk Postma, is GCP van der Vyver se werk, Professor Dirk Postma (1818-1990).  Beskikbaar by Pro Regno Boeke vir R70-00.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: