HENDRIK DE COCK SE VERKLARING VAN DIE KINDERDOOP

‘N KORT VERKLARING VAN DIE KINDERDOOP IN VRAE EN ANTWOORDE

deur ds. Hendrik de Cock

Inleiding

Hendrik de Cock (1801-1842) het bekend gestaan as die “vader van die Afskeiding” in Nederland, die mees sentrale figuur in die Reformasie van die Kerk in die vervalle kerktye in Nederland in die Nederlandse Hervormde Kerk, wat gelei het tot die stigting van die ‘Christelijke Gereformeerde Kerke’ in Nederland en ‘n groot invloed uitgeoefen het 19de eeuse Nederland.

Sien hierdie verdere bronne oor Hendrik de Cock:

1834: Hendrik de Cock’s Return to the True Church

“A gripping account of one man’s struggle against a spiritually desolate state church, this book witnesses to the sole authority of sacred scripture and the binding authority of the Reformed creeds.”

Hendrik de Cock, the Dutch Martin Luther of the Secession

“In 1834 the Lord used the humble ministry of Pastor Hendrik de Cock in the town of Ulrum to spark a reform movement in the Dutch Reformed Church. This video tells the story of Hendrik de Cock’s background, preparation for the ministry, and his conversion while a preacher in Ulrum. It follows the story of how the hierarchy in the Dutch Reformed state church felt the need to suspend and depose a faithful Reformed preacher. The result would be the Afscheiding or Secession, the first major reform movement in 19th century Holland.”

Hendrik de Cock (1801-1842) – Nederlandse predikant

“De predikant Hendrik de Cock (1801-1842) was een van de leidende figuren tijdens de Afscheiding van 1834, een afsplitsing van de Nederlandse Hervormde Kerk. Hij wordt beschouwd als een belangrijke grondlegger van de Gereformeerde Kerken in Nederland, die in 1892 ontstonden.”

Hendrik De Cock: Reformed Reformer

“De Cock died at the age of 41 on November 14, 1842 in the province of Groningen. He did not live long, nor did he see his followers gain rest from suffering. But he had served his purpose according to the will of God, and the time came for others to continue the work. De Cock was a man of humble life, from our point of view unfitted for the greatness of the work. His followers were, for the most part, the poor, the uneducated, the despised, the ignoble of the land. But, for all that, they were the Godly, the pious, the upright who genuinely thirsted for that one true heavenly Bread which is Christ Jesus our Lord. Together God used them to bring genuine reformation to his church.”

Ek plaas hier onder de Cock se kort maar kragtige uiteensetting van die kinderdoop, wat baie leersaam is en ons help om mooi te verstaan dat die bediening van die kinderdoop moet plaasvind op grond van God se bevel en belofte aan almal wie Hy beveel dit moet plaasvind, maar dit is die Here alleen wat die Inhoud, Christus, gee vir kinders, sy uitverkorenes (Gen. 17; Hand. 2).

Hendrik de Cock: “Faith does not change either; whether we read Paul, or Augustine, or Calvin, or our fathers, or the present-day heroes of faith, it must be the same and remain the same. God’s Spirit enlightens and renews the understanding in the same manner, so that the true church of the Lord is always united in the truth and in love, being of one mind and one in endeavor, as the congregation of Jerusalem. In unbelief there is no real unity but a universal opposition to the truth, because the wisdom of God is foolishness with man. Oh, if only we may properly learn to understand and love one another in the Spirit, and learn to edify the congregation of the Lord in the Spirit.”

____________________________________________

‘N KORT VERKLARING VAN DIE KINDERDOOP IN VRAE EN ANTWOORDE

deur ds. Hendrik de Cock

[Vertaal deur Juandre Coetzee, GK Potchefstroom-Suid.  Bron: Verzamelde Geshriften van Hendrik de Kock, deel II, Houten: Den Hartog B.V., 1986, bl. 492-499]

EERSTE HOOFSTUK: Of mens die kinders wel mag doop

  1. Vraag: Wat was die Sakramente in die Ou Testament?

Antwoord: Die besnydenis en die Pasga.

  1. Vraag: Is hierdie Sakramente afgeskaf?

Antwoord: Nee, ons het in die Nuwe Testament twee ander Sakramente in die plek daarvan gekry, die doop en die nagmaal.

  1. Vraag: Word die nagmaal dan in die plek van die Pasga gevier?

Antwoord: Ja.

  1. Vraag: In pleks waarvan het die doop dan gekom?

Antwoord: In plek van die besnydenis.

  1. Vraag: Was die besnydenis ook ʼn Sakrament van die genadeverbond soos die doop?

Antwoord: Ja. Rom. 4:11.

  1. Vraag: Het hierdie twee Sakramente van die genadeverbond dieselfde wese?

Antwoord: Ja.

  1. Vraag: Is die eerste bondseël van die genadeverbond, die besnydenis, ook ʼn uitdruklike bevel van God?

Antwoord: Ja.

  1. Vraag: Is dit dan ook aan die nageslag van die gemeente bedien in die Ou Testament?

Antwoord: Ja. Gen. 17:10-14.

  1. Vraag: Moet dit dan nie ook voortgesit word in die Nuwe Testament nie?

Antwoord: Ja seker, want die seël wat in die plek daarvan gekom het, moet ook, op God se bevel, aan die kinders van die gemeente bedien word, solank daar geen uitdruklike teenbevel of enige grondige rede, nie teen die besnydenis nie, maar teen die doop, in God se Woord gevind kan word nie.

  1. Vraag: Sou daar wel in God se Woord enige beswaar gevind kon word teen die doop en nie teen die besnydenis nie?

Antwoord: Nee.

  1. Vraag: Sou die kinders in die gemeente dan nie op God se bevel net so gedoop moet word as wat hulle besny is nie?

Antwoord: Ja, omdat die doop in die plek van die besnydenis gekom het, wat twee Sakramente met ʼn noue ooreenkoms is. Ten eerste dat beide deur God ingestel is. Ten tweede dat dit een betekenis het, naamlik Christus alhoewel hulle hierin van mekaar verskil; (a) in die uiterlike seremonie; (b) die graad van maklikheid, want die Sakramente van die Nuwe Testament is makliker om te onderhou as die Sakramente van die Ou Testament. Ten derde, in die duidelikheid van betekenis. Ten vierde, in die tydperk daarvan, want die Sakramente van die Ou Testament duur slegs tot Christus se koms en die Sakramente van die Nuwe Verbond sal voortduur tot die einde van die wêreld.

TWEEDE HOOFSTUK: Van die kinders se verhouding met die kerk

  1. Vraag: Watter kinders het reg tot die doop?

Antwoord: Alle kinders wat die belofte toekom.

  1. Vraag: Watter kinders kom die belofte toe?

Antwoord: Niemand wat buite die gemeenskap van die kerk, onder die ongelowiges val; en wat nie tot die belofte geroep is nie, maar wel alle kinders van die gemeente.

  1. Vraag: Wie is die gemeente?

Antwoord: Die liggaam van alle ware begenadigdes, wat deur die Heilige Gees, in die geloof met Christus en mekaar, nou verenig is.

  1. Vraag: En wie is die kinders van die gemeente?

Antwoord: Alle kinders aan wie die kerk, ten opsigte van haar nageslag, nou verwant is.

  1. Vraag: Maar wie is die kinders dan?

Antwoord: Nie alleen hulle wat uit gelowige ouers gebore is nie, maar ook die in haar skoot wat uit bywoners gebore is en die kerk na billike wete in haar huis tot versorging aangeneem het en aan wie die HERE met sy vrymag ook die belofte geskenk het.

  1. Vraag: Wat is die gronde daarvoor?

Antwoord: Omdat die doop van kinders van dieselfde aard is as die besnydenis van kinders in Abraham se huisgesin; die doop van kinders en die besnydenis waarmee kinders gemerk is as ʼn seël van die genadeverbond, het dieselfde betekenis en dieselfde gronde; daarom is dit dat die Gereformeerdes die kinderdoop uit die besnydenis bewys en verklaar het. Kol. 2: 11, 12; 1 Kor. 7: 14.

  1. Vraag: Aan wie word die besnydenis dan bedien?

Antwoord: Die besnydenis moes bedien word aan alle kinders wat in Abraham se huisgesin was, nie net die wat uit sy liggaam gekom het nie, maar ook die wat uit sy onbegenadigde knegte gespruit het en die wat hy van vreemde volke af gekoop het, wat almal in sy huisgesin ingelyf was. Almal van hulle word gesien as Abraham se kinders terwyl hulle in daardie huisgesin was, waarvan hy die vader was. Gen. 17: 23-27.

  1. Vraag: Vir wie was die Sakrament, naamlik die besnydenis aan die liggaam van kinders, bedien?

Antwoord: Nie vir die kind wat besny word in besonder, wat nie weet wat gedoen word nie, nóg vir ʼn onbegenadigde kneg uit wie hy gespruit het en aan wie geen belofte gemaak is nie, maar die besnydenis was ʼn Sakrament vir Abraham aan wie God die belofte gemaak het. Gen. 17: 10.

  1. Vraag: Word die belofte dan aan Abraham alleen gemaak?

Antwoord: Nee, die besnydenis wat aan die liggaam van kinders bedien word verseël aan Abraham die belofte wat God aan hom gemaak het aangaande sy nageslag. Die belofte raak nie al die kinders van Abraham se huisgesin, kop vir kop, nie, maar alle uitverkore kinders wat God daarna sou aanwys. Rom. 9: 7, 8. Selfs al was die besnydenis ʼn teken vir Abraham, word die kinders daarvan nogtans nie uitgesluit nie, want wanneer die belofte aan Abraham verseël word, word die belofte daardeur tegelyk aan die kinders verseël omdat dit ʼn belofte is, wat die kinders raak en uit krag deur die seël sekerlik aan hulle vervul sou word.

Wanneer die kinders van die belofte hulle bekeer en in die voetspore van die geloof van Abraham volg, verbind dit hulle met daardie besnydenis sodat dieselfde teken nou ook ʼn seël vir hulle in besonder word sonder dat die besnydenis van aard verander. Vir ʼn kind wat verlore gaan kon die belydenis geen Sakrament wees om die belofte te verseël nie omdat die belofte nie aan daardie kind nie, maar aan Abraham gemaak is, nie ten opsigte van elke kind kop vir kop nie, maar ten opsigte van die uitverkore kinders tot wie daardie verworpe kind nie behoort nie. Rom. 9: 7, 8; Gen. 17: 10.

21. Vraag: Maar kom die kinderdoop met alles ooreen in die aard van die besnydenis?

Antwoord: Ja, al die kinders wat tot die huisgesin van die gemeente behoort moet gedoop word, nie alleen die uit gelowige ouers, ware lede van die kerk nie, maar ook die kinders van ander mense, wat in die skoot van die kerk gebore is en deur die kerk aangeneem is. Op hierdie gronde doop die Gereformeerdes ook kinders van onkundige mense, wat geen belydenis gedoen het nie, ook van onverskillige ouers wat deur die tug uitgesluit is. Die Eerwaarde A. V. B. het in sy werk genaamd “de kerkendienst” op bl. 91 gesê: “dat die goddeloosheid van die ouers van die kinders wat in die kerk gebore word nie ʼn hindernis moet wees nie, Eseg. 18”

Zoo moet mens met die doop van kinders nie op die goddeloosheid van die ouers let nie, maar op die heiligheid van die kerk waarin hulle gebore is, wat soos hulle moeder is. Hierom word die kinders van die ongelowige Jode ook besny, want die kinderdoop is ʼn Sakrament aan die liggaam van die kinders, wat aan die gemeente gegee is, om die belofte te verseël, wat God aan die gemeente gemaak het, aangaande die kinders van die belofte op dieselfde manier en met dieselfde gevolge wat ek sopas genoem het van die besnydenis van kinders. Van die ouers aan wie die verbond deur die kinderdoop verseël word, verstaan ek dat dit nie die natuurlike ouers van die kind is nie, maar die sedelike ouers. Die gemeente tot wie die natuurlike ouers, as ware lidmate behoort, wanneer hulle begenadig is, steun op die gronde dat Abraham die vader van sy hele huisgesin, aan wie die verbond verseël word, was.

Op hierdie gronde bewys die Kategismus die kinderdoop daaruit dat hulle tot die gemeente behoort, as die natuurlike ouers van die kind wat gedoop word Godsalig is. So kan hulle dieselfde voordeel trek uit daardie doop wat hulle saam met die gemeente in hulle eie kind ontvang wat ek sopas van die gemeente in die algemeen genoem het. Al is die Godsalige ouers omtrent hul eie staat duister, kan hulle met volle vrymoedigheid op die belofte wat aan die heilige Gemeente gemaak is, hul kind laat doop.

Hul durf nie dink dat hulle erfgename van die belofte is nie, maar hulle kan egter volkome seker wees dat God die belofte aan sy heilige gemeente gemaak het en dieselfde belofte wat aan die gemeente gemaak is in hul kind kan vervul. Hulle mag met vrymoedigheid in onderwerping vir die kind bid. As die natuurlike ouers, wat in die uitwendige gestalte van die kerk verkeer, onbegenadig is, het hulle ook ʼn onskatbare nut van die kinderdoop alhoewel hulle geen deel het in die belofte nie. Hulle gedoopte kinders behoort egter tot diegene waaromtrent God die dierbaarste belofte aan sy gemeente gemaak het, hulle word onder die verbintenis gebring om elk van hulle gedoopte kinders aan te wys as die goeie van God se gemeente wat die merk en seël van God dra, wat God in dieselfde liggaam aan die gemeente gegee het om hulle sorgvuldig op te voed en te leer en om toe te sien dat hulle deur geen voorbeelde, dade of versuiming verkeerd handel nie.

Onuitspreeklik groot is die nut wat die kinders self uit die kinderdoop kan trek al is hulle onvolwasse, al het hulle onbegenadigde, bose ouers, word hulle deur die doop deur die ganse gemeente aanbeveel om met die seël wat hulle in hierdie kinders ontvang ook vir hulself te pleit, om hul welstand as hulle eie aan te neem en vir hulle sorg te dra.

As ʼn kind wat gedoop is deur die jare tot onderskeid kom en onbegenadig is, kan hy wel nie dink dat sy doop vir hom ʼn seël sou wees wat aan hom gegee is as ʼn middel tot bekering nie. Hy hoef hom nie te bemoei met die geloof van sy ouers en voorvaders nie. Selfs as sy ouers en voorvaders onbekeerd is en die doop vir niemand van hulle ʼn seël is nie. Daar is egter veel beter gronde vir hom self om dit reg te gebruik. Hy moet hom dit voorstel dat God deur sy doop ʼn belofte, wat Hy sekerlik wil vervul, aan die gemeente verseël het om te weet dat Hy deur die krag van Jesus se dood en opstanding haar nageslag van skuld en sonde wil was; hy mag dink dat hy onder die kinders, waaromtrent die belofte aan die gemeente gemaak en verseël is, behoort.

Wanneer ʼn gedoopte kind bekeer, mag hy sy doop sien as ʼn seël  wat God nie alleen aan die gemeente nie, maar ook aan hom in die besonder nou verseël, dat hy uit die krag van Jesus se dood en opstanding van al sy sondes gewas is en altyd gewas sal word sedert hy uit geloof in die voetstappe van die geloof van Abraham wandel. Nou is dit geopenbaar dat hy ʼn kind van die belofte was en by die nageslag gereken word. Rom. 9: 8 antwoord 74 van die Heidelbergse Kategismus; uit artikel 32 van ons Nederlandse Geloofsbelydenis; die formulier van die kinderdoop. Gen. 17: 7. Hand. 2: 39. 1 Kor. 7: 14.

22.  Vraag: Sou mens die aard van die kinderdoop verder kan bewys op goeie gronde?

Antwoord: Ja, ten eerste die vernaamste Godgeleerde. J. Calvinus het dieselfde leer voorgestel. Institusie Cap. 16: 9. Die Goddelike teken wat aan die kind bedien is dien as ʼn seël van die belofte wat aan die Godsalige ouer gemaak en verklaar het om absoluut seker te wees dat die Heer nie vir hom alleen nie, maar ook vir sy nageslag ʼn God sal wees en in die vervolg toon hy watter groot voordele die kinders daarvan het.

Coccijus beskryf Aneido T. II. Bladsy 262 vs 67 beskryf dit so: derhalwe het die doop in die plek van die besnydenis gekom, en bevestig dit die belofte; en soos dit in die Ou Testament aan die Israeliete en hulle kinders behoort het, so behoort dit ook aan die gelowige ouers in die besnydenis waarin die kinders verseël word so behoort ook dieselfde belofte in die Nuwe Testament onbepaald tot die gelowiges en hul kinders en dit word ook deur die kinderdoop verseël.

God wou hê dat die ouers hulle kinders moes besny, want terwyl hulle ʼn belofte aangaande hulle nageslag het, dat die HERE vir hulle ʼn God sou wees, so wou God hê dat hulle weet dat ouers hierdie teken aan die liggame van hulle kinders moet ontvang omdat dit sou wys watter hoop hulle aangaande hulle nageslag het en van wie hulle die seën sou verwag en dat hulle hoop aangaande die kinders versterk sou word, wel nie so sterk dat hulle volstrek seker kan wees dat elke kind van hulle nageslag ʼn erfgenaam van die belofte sou wees nie, want dit word nie aan Abraham gegee om te weet of Ismael vir God sou lewe nie, selfs al moes hy besny word.

Gen. 17: 18, 23 vind ons ook by J. R. Rodol bl. 4. Kategismus 74 vs 2, 3. Hy sê die ouers ontvang hier ʼn seël van die verbond aan die liggaam van hulle kinders om die geloof van die ouers daardeur te versterk waardeur hulle die belofte van die gemeenskap van die verbond het wat hulle voor hulle kinders gemaak het.

Van Alphen sê die kinderdoop is ʼn teken van die verbond wat God met die gemeente gesluit het en die kinders behoort tot daardie verbond, volgens die belofte, om vir jou ʼn God te wees en vir jou nageslag na jou, Gen. 17: 7. Jy behoort tot die gemeente volgens wat Christus gesê het. Mat 19: 14, nie alle kinders, kop vir kop nie, maar net die kinders van die belofte, wat aan God alleen bekend is, is onderworpe om te weet aan wie die Gees sowel as die volwassenes belowe is.

Van der Kemp sê in sy verklaring van die Kategismus op bl. 549 dat die kinders van die gemeente wat die uitverkore kinders is, die is wat die Here onse God na Hom sal roep. Hand. 2: 39.

23Vraag: Sou mens dit nog beter op grond van die (Heidelbergse) leraar kan bewys (HK Sondag 27)?

Antwoord: Ja, die leraar stel hier eers die gronde van die kinderdoop, dan lei hy die noodsaaklikheid van die kinderdoop af, uiteindelik maak hy die waarheid oop en dring hy aan op die ooreenkoms van die doop met die besnydenis. Hy lei die kinderdoop op grond van twee dinge af.

Die eerste grond is daarom dat alhoewel hy as volwassene in God se verbond en sy gemeente begrip het sê hy nie dat die kinders God se verbond op dieselfde wyse as die volwassene begryp nie. Nie alleen die volwassenes nie, maar ook die kinders begryp die verbond elkeen op sy manier; hy spreek hier van die genadeverbond wat onveranderlik is, waaruit geen waaragtige bondgenoot ooit kan val nie. Jes. 54: 10 Joh. 10 vs. 28; wat God met Abraham, die vader van ons almal, en met ons en ons kinders gemaak het en die onveranderlike genadeverbond is nie alleen vir volwassenes nie, maar ook ons kinders begryp dit. Die bedoeling is nie dat hulle uiteindelik bondgenote sou wees nie omdat niemand sonder die Heilige Gees en die geloof bondgenote kan wees nie. Rom. 8 vs. 9.

Nou blyk dit dat baie kinders van die belofte, nie die Gees gehad het toe hulle gedoop is nie, want daar kan geen afvalligheid van die heiliges wees nie, maar hulle is onder die verbond. God het in die verbond aan ons kinders gedink en groot beloftes aan die gemeente gemaak vir daardie kinders toe Hy in Gen. 17 vs. 7 gesê het: om vir jou ʼn God te wees en vir jou nageslag na jou.

Op dieselfde wyse was daar vir Abraham se vleeslike nageslag ʼn verbond gesluit aangaande Kanaän. Gen. 15: 8. Op die dag het die HERE met Abraham ʼn verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, hulle is ook in die gemeente, wat uit ware gelowiges, uit ware lede bestaan, met wie God sy verbond opgerig het. Die bedoeling is nie dat alle kinders uiteindelik lidmate van die gemeente sou word nie, want dan sou hulle die Heilige Gees moet hê, Rom. 8: 9 en nooit weer onbekeerd kan word nie, maar hulle is daarby ingesluit as kinders van die gemeente waaromtrent God vir die gemeente groot beloftes gemaak het; in die sin sê Petrus. Hand. 3: 25, En julle is kinders van die profete en van die verbond wat God met ons vaders gesluit het toe Hy vir Abraham gesê het: In jou nageslag, en; so kan die man en die vrou hulle kinders en diensknegte, wat in die huishouding is, in die huweliksverbond insluit, nie dat hulle almal bondgenote in die huweliksverbond is en op dieselfde manier in die huisgesin is nie, maar elkeen is daar ingesluit op sy manier, die vrou as ʼn eintlike bondgenoot en eintlike lid wat solank sy en die man leef nie daaruit kan gaan nie, maar die ander is daarin as kinders en diensknegte op een of ander manier ingesluit.

Die tweede grond is van die lering van die kinderdoop is dat Christus se bloed hierdeur tot verlossing van die sonde en die Heilige Gees wat die geloof werk, niks minder aan kinders beloof as wat aan die volwassenes belowe word nie, die belofte word nie aan elke kind in besonder gemaak nie, maar aan Abraham en die kerk en daardeur ook aan hul nageslag omdat die belofte vas sou wees. Gen. 17: 7. Rom. 4: 16. Rom. 9: 7, 8.

Uit hierdie gronde lei die leraar nou af dat deur die doop, soos deur ʼn teken van die verbond, die kinders van die christelike kerk ingelyf word en van die kinders van die ongelowiges onderskei word. Hy noem die doop ʼn teken van die verbond, naamlik die genadeverbond wat God met Abraham en die kerk gesluit het, daarom word hulle by die christelike kerk ingelyf, wat so met hulle verenig is dat hulle ʼn noue verwantskap met hulle as kinders van die gemeente het. Soos ook die kinders van ʼn weduwee deur die huwelik met ʼn man deur sy vrywillige belofte by die man se huisgesin ingelyf kan word, nie as uiteindelike eggenote van die man nie, maar as kinders van sy eggenote. Die inlywing geskied deur die doop, nie asof die doop dit veroorsaak het nie, aangesien dit reeds voor die doop plaasgevind het, maar sover die doop die inlywing openlik verklaar. 1 Kor. 7: 14;

Om die formulier van die doop aan die kindertjies te bedien verklaar dat die besnydenis, soos ook die kinderdoop ʼn seël van die verbond is, wat God met Abraham, die vader van alle gelowiges, en so ook met ons en ons kinders gesluit het, om vir ons ʼn God te wees en vir ons nageslag na ons. Die doop is ʼn ordening van God om ons en ons nageslag met sy verbond te verseël. Die formulier van die volwassenes getuig dat die kinders van christene uit die krag van die verbond moet weet dat God met Abraham en die gemeente ʼn verbond gesluit het dat hulle gedoop moet word.

Die formulier van die jong kinders sê dat die jong kinders as erfgename van die ryk van God en sy verbond gedoop moet word. Dit wil te kenne gee dat die kinders van die belofte, wat vooraf bekend is, nie aan ons nie, maar aan God Rom. 9: 7, 8 ware erfgename van God se koninkryk en verbond is en dat die gemeente in die liggaam van elkeen ʼn seël ontvang dat God die erfenis aan baie reeds uitgedeel het en dat God dit op sy tyd aan almal sal gee. Die formulier sê: geliefdes in die Here Jesus Christus! Hier moet mens nie kyk na die ouers of getuies wat die kind na die doop toe bring nie, maar na die gemeente waaraan hulle behoort, as hulle begenadig is, is hulle bondgenote, as hulle onbegenadigd is, word hulle van die ongelowiges onderskei soos Israel onderskei was van die ongelowige heidene en Israel genoem word in uiterlike heiligheid. Eseg. 16: 20, 23-37, Rom. 9: 6.

Die formulier sê dat ons kinders in Christus geheilig is en daarom as lidmate van die kerk behoort gedoop te word. Mens kan nie sê dat alle kinders wat gedoop word inwendig heilig is en lede is wat onmiddellik deur die Heilige Gees verenig is en nooit onbekeerd kan word nie, maar alle kinders van ons kerk is waarlik uitwendig geheilig en dit beteken dat hulle ʼn ware betrekking op die inwendige kerk het en daardeur van die kinders van die ongelowiges afgesonder en onderskei word.

Paulus leer dat ʼn ongelowige man of vrou deur die betrekking op ʼn gelowige vrou of man sodanig geheilig is dat hulle kinders ook heilig is. 1 Kor. 7: 14. Hier verstaan die apostel dat die woord heilig geen inwendige heiligheid of vernuwing van hart beteken nie, want hoe sou ʼn ongelowige man of vrou sonder geloof inwendig geheilig of vernuwe kan wees, maar die woord heilig beteken hier afsondering waardeur iemand betrekking en ʼn reg op die heilige kerk en deel het aan die heilige verbond.

In hierdie sin is die kinders wat in die skoot van die kerk of gebore of aangeneem is, heilig. Nie dat hulle inwendig vernuwe sou word nie, maar vir sover as wat die kinders van die ongelowiges buite die kerk, afgesonder, aan die Here toegewy is en ʼn sekere betrekking op die kerk, die verbond en die belofte het soos die kinders van die knegte en die vreemdelinge in Abraham se huis Gen. 17: 13.

______________________________

Sien ook hierdie skrywe oor verbond, doop en die doopsformulier: In Christus geheilig – hoe moet die ‘Formulier vir die bediening van die Doop aan Kinders’ verstaan word?

Verdere artikels oor die Kinderdoop.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: