IN CHRISTUS GEHEILIG: HOE MOET DIE GEREFORMEERDE DOOPSFORMULIER VIR KINDERS VERSTAAN WORD?

Datum: 29 Mei AD 2022                        GK Bet-el, Pretoria

Lesingtema: Hoe moet die “FORMULIER VIR DIE BEDIENING VAN DIE HEILIGE DOOP AAN KINDERS” (FBK) verstaan word?, deur S. Le Cornu

“En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ʼn vriend van God genoem.” – Jak. 2:23

Die verbond is die wese van die ware godsdiens – Herman Bavinck

En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ’n ewige verbond, om vir jou ’n God te wees en vir jou nageslag ná jou.” (Gen. 17:7) “Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.” (Hand. 2:39)

“Die HEER wat van geen wankel weet nie, sal nimmer sy verbond vergeet nie; al sy beloftes bly van krag tot in die duisendste geslag. Verbond met Abraham, sy vrind, bevestig Hy van kind tot kind.” (Psalm 105:5, berymd)

Sermon Audio: In Christus Geheilig – Wat beteken dit by die doop van verbondskinders?

[Korreksie, 26min: ‘maar my verbond sal ek met Esau oprig’… moet wees ‘met Isak‘ (Gen. 17:21)]

Die lesing was ‘n ‘power point’ aanbieding, die aanbieding kan hier gekyk word:

Formulier vir die Bediening van die Doop aan Kinders Power Point aanbieding

Die volledige studiestuk aanlyn beskikbaar: Doopsformulier studiestuk (kan bestel en aangekoop word as ‘n A5 ringgebinde boekie by Pro Regno Boeke: R70-00)

Hieronder is die studiestuk se voorwoord, oorsig en antwoord, finale opmerkings en samevattings, asook inhoudsopgawe:

VOORWOORD

Die studie is ‘n deeglike ondersoek vanuit die Skrif, die belydenisskrifte, die geskiedenis en reformatoriese bronne oor vrae rondom die gereformeerde doopsformulier.

Die studie spreek veral vrae aan oor die bewoording van die formulier wat gebruik word met die bediening van die doop aan verbondskinders. Sekere frases in die formulier kan moontlik by gelowiges die verkeerde indruk skep dat elke kind wat gedoop word gered is (of gered gaan word) en die ewige lewe het. Die doel van die studiestuk is om krities vanuit ‘n Gereformeerde Skrifbeskouing hierdie vrae en onduidelikhede te probeer opklaar.

Die leer oor die doop, en daarmee saam die verbond, is ‘n baie kosbare en troosryke erfenis uit die Woord. Daar bestaan baie verskille en misverstande oor hierdie leer en daar was en is steeds baie stryd tussen gelowiges hieroor – selfs tussen kerke wat die verbondsteken aan kinders bedien. Ons is baie dankbaar teenoor die Here dat Slabbert le Cornu (bedienaar van die Woord by die Gereformeerde Kerk Carletonville) ingewillig het om hierdie taak aan te pak. Die studie getuig van die mooi gawes wat die Here aan hom gegee het en wat Hy in sy diens gebruik om sy suiwere Woord uit te dra. Ons wil daarom aan Slabbert le Cornu ons opregte dank betuig vir sy harde en deeglike werk, en vir die baie ure wat hy spandeer het om sy gawes te gebruik tot voordeel van die verbondsgemeenskap.

Ons bede is dat hierdie werk tot seën en opbou van die Kerk van die Here sal wees.

‘n Woord van dank ook aan die lidmate van GK Bet-El wat hulle offergawes gewillig en met vreugde gee om ‘n bydrae te kon lewer tot die vergoeding vir al die ure se werk.

U broeders in Christus

Die Kerkraad

Gereformeerde Kerk Bet-El

www.gereformeerd.org

VRAAGSTUK EN OORSIG

Hoe moet die volgende woorde en sinne van die “Formulier vir die Bediening van die Heilige Doop aan Kinders” (afkorting: FBK) verstaan word, nl. dat elke kind wat gedoop is gered is of gaan word, of slegs die uitverkore kinders, wanneer dit die Here ookal behaag?

“Daarom word ons gedoop in die Naam van God:  die Vader en die Seun en die Heilige Gees (Matteus 28:19).  Want as ons in die Naam van die Vader gedoop word, betuig en verseel die Vader aan ons dat Hy ʼn ewige genadeverbond met ons oprig (Genesis 17:7, Galasiërs 4:6-7), ons tot sy kinders en erfgename aanneem en ons daarom met alle goeie dinge wil versorg en alle kwaad van ons wil afweer of tot ons beswil beskik.

Ten eerste: Hoewel ons kinders in sondes ontvang en gebore en daarom aan allerhande ellende, ja, aan die verdoemenis self, onderworpe is, bely u nogtans dat hulle in Christus geheilig is en daarom as lidmate van sy gemeente behoort gedoop te wees?

“Ons bid U, kragtens u grondelose barmhartigheid, dat u hierdie kind (kinders) van U genadiglik wil aansien en deur u Heilige Gees in u Seun Jesus Christus wil inlyf, sodat hy (sy/hulle) met Hom in sy dood begrawe mag word en met Hom in ʼn nuwe lewe mag opstaan.”

Moet die ‘ons’, ‘ons kinders’, ‘dat hulle in Christus geheilig is’, en, ‘hierdie kind van U’ verstaan word dat dit waar is van elke kind wat gedoop word, of slegs van die uitverkore kinders?

Probleem 1: as God sy belofte van redding wat Hy volbring het in Christus, vir elke kind bedoel het wat gedoop word (vir elke volwassene wat gedoop word), maar hul dan verlore gaan, beteken dit dat God se redding nie volmaak is nie, sy genade en Gees nie onweerstaanbaar is nie, Paulus se worstel vrae in Rom. 9:1-6a

Probleem 2: Wat beteken die ‘geheilig is’, bloot ‘n uitwendige heiliging, of ook ‘n inwendige heiliging in die bloed van Christus deur die Gees? As die laasgenoemde waar is, en dit geld vir elke kind (of volwassene wat gedoop is), beteken dit Christus het vir baie gesterwe wat nie gered gaan word nie = Arminianisme?

Die antwoord is aan die eenkant eintlik eenvoudig geliefdes, en dit word direk/indirek gegee in die teks van die FBK self, wie die ‘ons’ en wie ‘geheilig is’ behels, wie in die genadeverbond en bloed van Christus is:

“….totdat ons eindelik onder die gemeente van die uitverkorenes in die ewige lewe vlekkeloos gestel sal word…Want as ons in die Naam van die Vader gedoop word, betuig en verseel die Vader aan ons dat Hy ʼn ewige genadeverbond met ons oprig (Genesis 17:7, Galasiërs 4:6-7)… So spreek God ook tot Abraham, die vader van al die gelowiges, en daarom ook tot ons en ons kinders en sê: ‘Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag na jou in hulle geslagte as ʼn ewige verbond, om vir jou ʼn God te wees en vir jou nageslag na jou’ (Gen. 17:7). Dit betuig Petrus ook met woorde: Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here ons God na Hom sal roep (Hand. 2:39). “En hoewel ons kinders hierdie dinge nie verstaan nie, mag hulle nogtans nie daarom van die doop uitgesluit word nie, aangesien hulle sonder dat hulle dit weet, aan die verdoemenis in Adam deel het en ook, sonder dat hulle dit weet weer in Christus tot genade aangeneem word. … ‘dat hulle in Christus geheilig is en daarom as lidmate van sy gemeente behoort gedoop te wees…’

Die regte verstaan van die FBK is begrond in die regte verstaan van die genadeverbond soos geopenbaar in die Heilige Skrif. Die sleutel vir die verstaan van enige belydenis en formulier, is die Skrif self. Die historiese ontstaan konteks laat …  By elke kind wat in die gemeente gedoop word kom opnuut die appél: Wat sê die Skrif oor God se verbond en die saligheid en ons kinders?” Die vraag dus van die regte verstaan van woorde en frases soos ‘ons’, ‘ons kinders’, ‘ons en ons kinders, ‘in Christus tot genade aangeneem word’, ‘in Christus geheilig’, ‘hierdie kind van U’, ens., dan is wesentlik ook ʼn vraag nie net van hoe die FBK verstaan moet word nie, maar hoe die woorde en frases van die Skrif verstaan word in Gen. 17:7 en Hand. 2:39, ‘… met ons oprig’, ‘…jou en jou nageslag’, ‘…kom julle en julle kinders’, ‘…die wat die Here ons God na Hom sal roep ..’.

In ʼn neutedop sou my antwoord vanuit die Skrifte wees:

Die FBK moet verstaan word, gelees word, soos die Skrif gelees word in hierdie verse, woorde, frases, naamlik, wat ek noem of volg in navolging van baie gereformeerde teoloë en verklaarders wat ons voorgegaan het: organies-kollektief oftewel verbondsmatig (die volk/kerk in geheel word aangespreek in sy organiese verband) en nie individualisties-arminiaans/anabaptisties/metodisties (kop-vir-kop) nie. Die losse takke oftewel individue wat afgesny word, bepaal ook nie die verbondstaal van die Skrif, belydenis en formuliere nie, ook nie die FBK se verbondstaal nie, maar God self deur sy volk organies-verbondsmatig aan te spreek: “Die tweede eigenaardigheid van die genadeverbond bestaan daarin, dat dit in al sy bedelinge ʼn organiese karakter dra.” (Bavinck)

Feenstra (1950: 180) se spesifieke beskrywing van ‘organies’ is wat in hierdie studiestuk verstaan word die Skrif leer: “In Adam het almal gesondig en in Christus word alle uitverkorenes salig. Nou word in Romeine 5 gespreek oor baie en oor almal. Dit mag by ons geen verwarring skep nie. Die algemene versoening word deur die Skrif nie geleer, asof Christus vir almal gesterwe het nie. Christus het alleen vir die uitverkorenes gesterwe. Wanneer Paulus sê: almal in Adam en almal in Christus, dan wys hy op die organiese verhouding. Almal in Christus, d.w.s. nie alle mense hoof vir hoof nie, maar alle ranke van die Wynstok, almal, wat Christus deur ʼn ware geloof aanneem. En as hy spreek van baie, dan sien dit op die afsonderlike individue. Adam is die stam van het menslike geslag. Die sonde van Adam gaan deur alle takke. Christus is de ware Wynstok en die geregtigheid van Christus gaan ook deur tot alle ranke in die Wynstok.”

Ons mag daarom nie, die Skrif organies-verbondsmatig lees, maar as ons bv. soos sommige in die gereformeerde tradisie doen, as ons by die belydenisskrifte kom, of dan die Formuliere, ook die FBK, dan skielik dit wil lees as individualisties-anabaptisties nie. Ek is heeltemal bewus daarvan dat gereformeerdes deur die eeue (en vandag nog) baie verskil het oor die betekenis van hierdie woorde/frases in die belydenis en formuliere, en dit is jammer. Ek gaan nie daarop alleen fokus nie, maar fokus op wat ek glo hoe ons die Skrif verbondsmatig moet lees, dan volg dit vanselfsprekend dat die belydenis en formuliere ook so gelees en verstaan moet word, want die Skrif is alles bepalend vir ons belydenis en formuliere.

Natuurlik kan enige belydenis/formulier verbeter word, nog meer verduidelik word, en aangepas word, maar ek meen dat soos dit daar staan is dit ook nie oop vir misverstand nie, tensy die hermeneutiese sprong (?) gemaak word van ʼn verbondsmatige lees van die Skrif bv. Gen. 17:7 en Hand. 2:39 (dit behels nie elke Israeliet kop vir kop wat besny is [OT]; elke gedoopte, ‘klein of groot’ [NT] nie, maar kollektief as groep is al die uitverkorenes, ‘klein en groot’ gered) na ʼn skielike individualistiese kop-vir-kop lees van die FBK en ons belydenisskrifte.

In die res van hierdie studie gaan ek dus die vraagstuk aanspreek uit hierdie 3 hoofpunte of dele:

1 Wat leer die Skrif oor die genadeverbond met ‘ons en ons kinders’?

(Sleutel Skrifgedeeltes: Gen. 17; Hand. 2; Rom. 4, 9-11; 1Kor. 1:2; 7:14;  Gal. 3; 2 Tim. 2:19)

2 Wat leer die belydenisskrifte oor die genadeverbond met ‘ons en ons kinders’?

(Sleutel belydenisgedeeltes: NGB artikels 27-29; 33-35; HK So. 25-31; DL 1.17; 2.1-8)

3 Wat leer die FBK oor die genadeverbond met ‘ons en ons kinders’? 

FINALE OPMERKINGS, KONKLUSIE EN AANBEVELINGS

Die genadeverbond in sy wese, verstaan soos die Skrif dit leer en bely word in die gereformeerde belydenisskrifte (veral HK v/a 74; NGB artikels 33-35; DL 1.17 en 2.8) is met uitverkore volwassenes en hul uitverkore kinders, ook genoem met ‘gelowiges en ons kinders’, met ‘ons en ons kinders’ verbondsmatig organies/kollektief verstaan, maar die ‘bediening en administrasie’ van daardie genadeverbond is wyer as die uitverkorenes, almal wat die tekens van die genadeverbond ontvang, op grond van God se bevel en omdat Hy besig is om deur die eeue en onder alle volke vir Hom ʼn uitverkore volk vergader (HK v/a 54).

Die doel van sakramente is om geloof te versterk (NGB art. 33; HK Sondag 25),[1] waaraan die uitverkorenes alleen werklik innerlik deel, die doel van sakramente is om die sekerheid van God se genadeverbond te handhaaf, nie ‘onsekerheid, twyfel, dalk, moontlikhede, ‘asse’ nie’ visueel te verkondig in die sakramente nie: “Hier mag geen twyfel meer wees nie. Hier is alleen sekerheid. Hier moet kennis wees oor wat die genadeverbond beteken” (d’Assonville, 1981: 35).

Die ‘wil’ van God waarvan ons so baie lees in die eerste drie hoofpunte van die FBK, is nie ‘n ‘onsekerheid’ of ‘moontlikheid’ wat ‘dalk’ vir almal (kop-vir-kop) wat gedoop is sal plaasvind nie, maar ‘n vaste sekerheid wat ‘sal’ plaasvind kragtens die Here se volkome werk in Christus, vir hulle wat Hy uitverkies het en sy Seun gegee het, en dit word beseël deur die Heilige Gees, waarvan die doop ‘n uiterlike teken en seël is (HK Sondag 25-27; NGB art. 33, 34).

SAMEVATTEND is ek daarom van die oortuiging dat die volgende aspekte help om die FBK reg te verstaan in die lig van, of voortvloeiend van wat ons glo vanuit die Skrif volgens die belydenis, soos ek in die werkstuk deurlopend probeer aandui het:

  1. Die organies/kollektiewe verbondsmatige verstaan van die Skrif bepaal die belydenis en formuliere, dus ook hoe die FBK verbondsmatig verstaan behoort te word. Omdat die mens nie kan en mag oordeel oor die harte en onderskei tussen uitverkorene en nie-uitverkorene nie, daarom word die verbondsteken aan alle kinders van gelowiges bedien, kop-vir-kop, op grond van God se bevel en belofte dat Hy juis sy uitverkore volk, sy kerk versamel deur die geslagte op ʼn organiese verbondsmatige wyse (Gen. 17:7-11; Hand. 2:37-41; sien ook HK v/a 54).
  1. Die doel van die sakramente, om geloof te ‘versterk en te voed’ is allesbepalend om die FBK ook reg te verstaan, daar is nie sprake van net ʼn ‘objektiewe’ werklikheid en sekerheid ‘daarbuite’ nie, maar ook en veral ʼn innerlike werklikheid en sekerheid wat die Gees werk in die gelowiges se harte.
  1. Die historiese konteks en stryd teen beide Rome en die Wederdopers moet deeglik in ag geneem word in die lees van die FBK.
  1. Die inhoud of teks van die FBK self gee eksplisiet en implisiet reeds aanduidings vir wie die sakrament se inhoud (Christus) bedoel is, vir wie dit sekerheid, troos en bemoediging bring, deur die Here se Gees:

– “dat ons van ons sondes bevry en voor God geregverdig gereken word”
– “totdat ons eindelik onder die gemeente van die uitverkorenes in die ewige lewe vlekkeloos gestel sal word.”

– “… en ook sonder dat hulle dit weet, weer in Christus tot genade aangeneem word.”
– “in Christus geheilig is en daarom as lidmate … behoort gedoop te wees” (soos Bavinck aandui, die primêre Skrif begronding is 1 Kor. 1:2, en nie 1 Kor. 7:14 nie), nl. vir die gelowiges, vir die uitverkorenes, wie in Christus se bloed gereinig en gewas is, Ef. 1:4, klein en groot, nie ʼnet’ bloot ʼn uiterlike ‘objektiewe’ heiliging nie, maar ook werklik en innerlike heiliging deur die Gees vir sy kinders).

  1. In die bediening/administrasie van die genadeverbond, dus ook die bediening van die FBK, werk ons met die oordeel van liefde, DL 3/4.15 = ons hou/reken/beskou alle gelowiges en hul kinders as die Here se kinders, tot die teendeel blyk. Hierdie is nié die siening van die ‘veronderstelde wedergeboorte’ nie, maar die leer van die Skrif volgens ons belydenis (DL 3/4/15). Ons ‘veronderstel’ niks, maar glo en bely op grond van God se Goddelike Openbaring dat die Here sy kinders het in en onder die geslagte, deur alle eeue, daar is kinders van die belofte, en daar is kinders van die vlees, en die Skrif leer uitdruklik, nie die kinders van die vlees nie, maar ‘die kinders van die belofte word gereken as die nageslag.’ (Rom. 9:6-8)
  1. Baie belangrik is dit, wat prof. Engelsma sterk uitwys, is dat die FBK wys dat die ‘in Christus geheilig’ is wys op ons kinders ‘as kinders/as babas’, nie eers eendag of eers ‘later’ wanneer hulle so wil besluit nie. Ekself vind my dat die vervulling van die belofte van redding kan plaasvind ‘voor, tydens, of na die doop’, na God se vrye welbehae soos Hy dit bepaal vir elkeen vir sy kinders.
  1. Ek beveel aan duidelike onderrig en verklaring van die genadeverbond vanuit die Skrif en belydenis (dele 1 en 2), eerder as wat die FBK teks in sy wese verander word (sien Wielenga se opmerkings in die verband in deel 3 hierbo).
  1. In terme van moontlike verandering van die teks self, kan ek herhaal wat ek reeds genoem het daar in voetnota 73: “Een van die moontlike wysigings (weglating of byvoeging, waaroor daar onsekerheid is?) wat dalk wel plaasgevind het, om juis die FBK ‘duideliker … of onduideliker’ te maak afhangende van jou verbondsbeskouing(?), is die frase ‘onder die gemeente van die uitverkorenes’ by die derde punt van die FBK, wat blyk moontlik later ‘weggelaat of ingevoeg’ is, so dat dit is reeds duideliker gemaak is en duidelik wys vir wie sakramente is?” Let wel: soos hierbo by deel 2 duidelik aangedui, ons moet in lering ‘onderskei’ in die bediening van die sakramente wie ons beveel het om aan te bedien (aan almal wat glo en hul kinders, met die doop), maar dit is God alleen wat die Inhoud, Christus gee, soos ons bely in beide NGB artikels 34, 35 (sien deel 2).
  1. Alhoewel die sakramente se primêre doel is om te bemoedig, versterk, is daar vanselfsprekend ook vermaning soos gesien kan word in die FBK bewoording van ‘alle verbonde (bestaan) uit twee dele…”, wat ‘tweesnydend werk’ soos die Evangelie verkondiging en Christelike tug,[2] wat by implikasie oproep tot geloof en bekering, eenmalig asook lewenslank, aan almal wat met die doop bedien word ook, die inhoud van die FBK wys op hierdie sake as ons daar hoor,[3] die bediening van die doop aan almal wat die Here beveel is altyd opreg en waar, ongeag of mense innerlik ontvang het wat Christus alleen gee (want ons as ‘bedienaars’ kan nie in die harte kyk en oordeel nie):

– “Ons en ons kinders is in sonde ontvang en gebore en is daarom onder die toorn van God, sodat ons nie in die ryk van God kan inkom nie, tensy ons opnuut gebore word… Dit word aan ons geleer deur die indompeling in en besprinkeling met die water, waardeur die onreinheid van ons siele vir ons aangewys word, sodat ons vermaan word om ʼn afkeer van onsself te hê, ons voor God te verootmoedig en ons reiniging en saligheid buite onsself te soek.”

– “naamlik die afwassing van ons sondes en die daaglikse vernuwing van ons lewe…”
– “ons moet van die wêreld afsien, ons ou natuur doodmaak en ʼn godvrugtige lewe lei…”
– die eerste gebed is duidelik oor die oordeel vir hul wat nie bekeer is of bekeer nie, die Rooisee beeld ‘waardeur die doop afgebeeld is’: genadige redding vir die gelowiges, die uitverkorenes’ maar regverdige oordeel vir die ongelowiges, die nie-uitverkorenes wat in die sfeer van die verbond Hom verag en verwerp.

– die opdrag aan ouers is om kinders alles te leer en te laat leer, oor die inhoud van hul antwoord by die tweede doopvraag: die leer van die hele OT en NT, wat ook oproep tot geloof, bekering, ens. insluit.

– die laaste gebed, word daar gebid vir groei in heiligmaking, dus ʼn lewe van bekering, om moedig teen die sonde, wêreld en duiwel te stry, ens.

Daarom dat die sekerheid van die genadeverbond, ons juis oproep tot ʼn lewe van bekering, lewenslank, heeltyd, ‘totdat ons uiteindelik onder die gemeente van die uitverkorenes in die ewige lewe vlekkeloos gestel sal word.’   

  1. Bo alles, is die doel van die genadeverbond, en alles wat daarmee gepaardgaan: die eer van God,[4] dat Hy ons groot troos in lewe en sterwe is, dat Hy wat Syne ken, dus ons ken (2 Tim. 2:19), in sy Seun, die Middelaar en Hoof van die verbond, alles gedoen het vir ons redding, nie net die ‘moontlikheid’ van redding geskep het vir sy kinders nie, maar daadwerklik red, ook alles skenk wat nodig is om gered te word, genade op genade (Matt. 1:21; Rom. 8:28-39). Daarom is ons troos juis nie ons ‘bediening’ of ‘verduidelikings of ‘verbondsdebatte’ nie maar Hy wat die Inhoud skenk en gee deur sy Gees en Woord onfeilbaar en onweerstaanbaar na sy vrye welbehae, waarna die sakramente wys, getuig en verseël (NGB artikel 34):

“Die bedienaars gee ons van hulle kant dus met die sakrament wat sigbaar is, maar die Here gee wat met die sakramente aangedui word, naamlik die onsigbare genadegawes: Hy was ons siel, suiwer en reinig dit van alle vuilheid en ongeregtigheid; Hy maak ons hart nuut en vul dit met alle vertroosting; Hy gee ons egter sekerheid van sy Vaderlike goedheid; Hy beklee ons met die nuwe mens en ontklee ons van die ou mens en al sy werke.”

Die ‘volwasse doop’, maar soveel te meer die ‘kinderdoop, beklemtoon God se genade(verbond) in Christus, en daarom moet die verbondsdoop (aan ons én ons kinders) gehandhaaf word (Veldkamp, deel II: 59): “… Maar goedbeschouwd is de Kinderdoop veel ontroerender, als men dat woord wil gebruiken, omdat daar Gods vrijmachtig welbehagen ten volle uitschittert. Dat kleine kindje is zich van alles wat er gebeurt, niets bewust. Het ondergaat alles. Daar is geen groot mens, die eerst zʼn geloof belijdt. Daar is een kind des Verbonds, dat slechts het geloof als Gods gave bezit. Tenzij, wat God genadig verhoede, bij het opwassen het tegendeel zou blijken.”

Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredeverbond nie wankel nie, sê die Here, jou Ontfermer.” (Jes. 54:10)  Amen

Studietitel:

IN CHRISTUS GEHEILIG:

“Die doop is immers ’n seël en ontwyfelbare getuienis dat ons (én ons kinders) ’n ewige verbond met God het.”

INHOUDSOPGAWE

VOORWOORD

VRAAGSTUK EN OORSIG

DEEL 1: WAT LEER DIE SKRIF OOR DIE GENADEVERBOND MET ‘ONS EN ONS KINDERS’?

1.1 J. Calvyn by Gen. 17

1.2 Die Statenvertaling se kanttekeninge by Gen. 17:7

1.3 Prof. JC Coetzee verklaar Rom. 9:6-8

1.4 Die Statenvertaling se verklaring by Romeine 9:6-8

1.5 God bepaal die uitverkiesing, en daarom die verbond

1.6 Die Skrif leer die bybelse onderskeid van die genadeverbond en die bediening van die genadeverbond

1.7 Prof. GJC Jordaan oor die ‘bediening van die Ouer en Nuwer Verbond

1.8 TOEPASSING VANUIT DIE SKRIF OP DIE VRAAG OOR DIE VERSTAAN VAN DIE FBK

1.9 Kollektief organies-verbondsmatige verstaan van die Skrif

1.9.1 Dr. SJ van der Walt, Geloofsleer 

1.9.2 Prof. WJ Snyman, Nuwe en Ou Dinge

1.9.3 Die verbond werk organies – dr. PJ Coetzee

1.9.4 W. Hendriksen, The Covenant of Grace

1.9.5 Kosbare Goud: Die Genadeverbond, ds. JA Schutte

1.9.6 Bavinck, Gereformeerde Dogmatiek

1.9.7 H. Hoeksema, Het Organisch Idee in de Schrift 

1.9.8 J.D Vorster, Die Christelike Doop

DEEL 2: WAT LEER DIE BELYDENISSKRIFTE OOR DIE GENADEVERBOND MET ‘ONS EN ONS KINDERS’?

2.1 Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 74

2.1.1 Beteken v/a 74 van die HK dat almal wat fisies gedoop is, is of sal gered word?

2.1.2 Ursinus oor die genadeverbond (Large and Small Catechisms)

2.1.3 Olevianus oor die Genadeverbond

2.1.4 Hendrik de Cock oor HK v/a 74

2.2 Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 34

2.3 Onderliggend aan die Wederdoopse dwaling is die valse teenstelling tussen ʼnatuur en genade’

2.4 Leer ons belydenisskrifte dat almal gewas en gereinig is in Jesus se bloed, dus gered is?

2.5 Dordtse Leerreëls hoofstuk 2:8

2.6 Bavinck se verklaring van die Dordtse Leerreëls, 1.17

2.7 Organiese verbondstaal van ‘onderskeiding’ in ander gereformeerde belydenisskrifte

2.8 TOEPASSING VANUIT DIE BELYDENIS OP DIE VRAAGSTUK OOR DIE FBK

DEEL 3: WAT LEER DIE “Formulier vir die Bediening van die Heilige Doop aan Kinders” (FBK) OOR DIE GENADEVERBOND MET ‘ONS EN ONS KINDERS’?

3.1 Inleidend oorsigtelike antwoord

3.2 Geskiedenis van die teks van die FBK

3.3 Die historiese konteks van die FBK: ʼn stryd teen Rome en die Anabaptisme

3.4 Wesentelike vrae oor die frase, ‘in Christus geheilig is’

3.5 Die FBK word gelees deur verskillende ‘verbondsbeskouings’

3.6 Die wesentlike belangrikheid van die verbondsdebatte oor die doop, verbond en dus ook hoe die FBK verstaan behoort te word.

3.7 Verklarings deur die eeue van veral die ‘in Christus geheilig is’ van die eerste doopvraag

3.7.1 Johannes a La Marck

3.7.2 Utrecht sinode van 1727

3.7.3 B. Wielenga

3.7.4 Statenvertaling se kanttekening by 1 Kor. 1:2

3.7.5 H. Bavinck

3.7.6 H. Bavinck 

3.7.7 H. Bullinger 

3.7.8 Z. Ursinus

3.7.9 C. van der Heyden

3.7.10 Bastingius 

3.7.11 B. Smytegelt

3.8 WIELENGA KONKLUSIE by die eerste doopvraag     

3.9 Hendrik de Cock

3.10 Afscheiding sinode van Utrecht (1837)

3.11 Simon van Velzen 
3.12 Helenius de Kock 

3.13 A. Kuyper 

3.14 Vervangingsformule van Utrecht 1946
3.15 ‘Hierdie kind van U’ (Totius) 

3.16 DJ Engelsma se verklaring van die FBK

3.17 WIELENGA SE KONKLUSIE IS OOK MY, S. Le Cornu, SE KONKLUSIE EN AANBEVELING OOR DIE FBK EN MOONTLIKE VERANDERINGS

3.18 Is die belofte en geloof ‘voorwaardelik’?
3.19 Die werklike ‘probleem’ van die Kinderdoop

3.20 Die gereformeerde ‘oordeel van liefde’ vir gelowiges én hul kinders

3.21 Die sogenaamde ‘veronderstelde wedergeboorte’ as grond van die kinderdoop?

3.22 Calvyn se verklaring van Gal. 3:25 aangaande die sakramente wat vir gelowiges en goddeloses (hipokriete) aangebied word

4. FINALE OPMERKINGS, KONKLUSIE EN AANBEVELINGS

5. AANHANGSELS

5.1 Calvin on the Sacraments

5.2 The Basis or Foundation of Confession: The Covenant of Grace with Christ and His elect, by Herman Bavinck

5.3 Die Verbond en die Inwendige Genade, deur Herman Ridderbos

6. BRONNELYS

7. Meer oor die krywer

Afkortings:
FBK: Formulier van die Bediening van die Heilige Doop aan Kinders

NGB: Nederlandse Geloofsbelydenis

HK: Heidelbergse Kategismus

DL: Dordtse Leerreëls

Verdere navrae: slabberto@gmail.com of 082 770 2669  http://www.proregno.com

Pro Regno Boeke: Doopstudie

NOTA: sien ook mooontlike ekstra bronne, opmerkings en byvoegings in die ‘comments’ afdeling hier onder.

________________________________________

[1] Calvyn, Institusie, IV, 1,1; 14,5-8.

[2] HK Sondag 31 vraag 84, “Hoe word die hemelryk deur die prediking van die heilige evangelie oopgesluit en toegesluit? …”; vraag 85, “Hoe word die hemelryk toegesluit en oopgesluit deur die Christelike ban?…”

[3] “Als een jong rankje wordt het kind zo in Christus ingelijfd, maar nu moet het ook groeien. Daarom bidt de kerk, dat Christus dat onder Zijn hoede neme, en door Zijn Heilige Geest altijd wil regeren, opdat het een levende rank zij, want de dode ranken neemt Hij weg. Dat gebed vraagt ook het werk der ouders; God geeft de wasdom, maar zij hebben te planten en nat te maken, en als men ziet, hoe weinig er van het persoonlijk “onderwijzen in de voorzegde leer” terecht komt, kan men zich slechts verbazen over de barmhartigheid Gods, dat er van de Doop nog zoveel terecht komt! Tenslotte voegt de Catechismus hier nog aan toe, dat de kinderen der gelovigen door de Doop van de kinderen der ongelovigen onderscheiden worden. Natuurlijk niet zo, dat ze de Doop als een zichtbaar merkteken dragen, want van die Doop is straks niets meer te zien. Maar dat onderscheid bestaat in de nieuwe gehoorzaamheid, in een nieuw leven. Tegenover het zichtbare merkteken van de antichrist, hebben onze jonge mensen het onzichtbare merkteken van de Doop. En al zou het hun het leven moeten kosten, zij weigeren het teken van het Beest te dragen, en de God van hun Doop te verloochenen; indien zij tenminste steeds bedenken, dat het gaat om het al of niet verschijnen onder de gemeente der uitverkorenen in het eeuwige leven!” (Veldkamp, deel II: 62, 63). Sien HK Sondag 31,32 oproepe en vermaninge wat aan die hele gemeente moet uitgaan.

[4] “Die rede van hierdie vyandskap (Gen. 3:15 – slc) is dus die liefde van God, “So lief het God die wêreld gehad . . .” (Joh. 3:16). Hierdie liefde is ten slotte se selfliefde, want die skepping is sy werk en sy eer. Voel u nou hoe daar vreugde by ons moet wees, nie ter wille van onsself nie maar ter wille van God? Hoe Sion hom moet verheug nie oor vrede nie maar oor oorlog, nie oor vriendskap nie maar oor vyandskap, oor die ‘oordele van God’ (Ps. 97: 1,2, 8).” (Totius, Het Kerkblad, no. 276, 1 November 1912).

4 thoughts on “IN CHRISTUS GEHEILIG: HOE MOET DIE GEREFORMEERDE DOOPSFORMULIER VIR KINDERS VERSTAAN WORD?

Add yours

  1. Sien ook Geerhardus Vos se verklaring van die Doopsformulier in sy “Reformed Dogmatics”, one volume edition (Lexham Press, 2012-2016), p. 1040-1043).

    “The expressions in the Form itself—that God the Father establishes an eternal covenant of grace, that God the Son washes us in His blood, incorporates us into the fellowship of His death and resurrection, that the Holy Spirit wills to dwell in us, appropriating to us what we have in Christ—all these do not mean that the benefits promised here have their beginning just now or that they will first begin in the future. That cannot be, because the first part of the Form for Baptism is also used for adults; and for them, as appears from the questions, the beginning of subjective grace is assumed.

    Thus it can only mean that the triune God promises all these benefits to His congregation IN GENERAL; and this is done without specifying a time when they will begin to be bestowed, ALSO WITHOUT SPECIFYING PERSONS, other than according to a judgment of charity and according to the expectation that is based on the promise.

    For the individual, there is no other way to have the promise applied to oneself than the way of faith. If A has been baptized as a child and the Holy Spirit has sealed to him that He wills to sanctify him as a member of Christ and to apply to him what he has in Christ, then, as he grows up, he can have a well-founded assurance that that promise also concerns him only to the extent that he believes it.”

    ‘Judgement of charity’, sien DL 3.4.15, en baie belangrik as ons ‘gunstig oordeel’ (die ‘oordeel van liefde’) met volwassenes beoefen, hoeveel te meer met kinders van gelowiges, tot die teendeel blyk?

    “Verder moet oor hulle wat hulle geloof in die openbaar bely en hulle lewe verbeter, volgens die voorbeeld van die apostels, baie gunstig geoordeel en gepraat word, want die binneste van die hart is aan ons onbekend.” – DL 3/4.15

  2. Sien Calvyn se kommentaar by:

    oor wie is die kinders van Abraham, Joh. 8:33

    Beloftes net vir gelowiges: Hos. 6:4, Esg. 11:21; 16:60; Rom. 9:8

    Kommentaar by Gal. 3:27

    Kommentaar by 1 Pe 1:2

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: