CALVYN LEER VOLGENS STOKER:
Nie die natuur openbaring (natuurreg) nie, maar God se morele wet (teonomie) is die absolute gesag en standaard vir alle etiek vir alle mense vir elke lewensterrein
Inleiding
HG Stoker het ‘n artikel geskryf oor ‘Calvin and Ethics’[i], waarin hy ingaan op ‘n paar aspekte van ‘Calvyn se Etiek’. Die volledige Afrikaanse artikel kan hier gelees word: Calvyn en die Etiek.
Sien , kursief en beklemtonings bygevoeg. Hier is ‘n paar sentrale aspekte wat ek wil uitlig met die nodige aanhalings, soos Stoker dit verwoord:
- Daar moet voortgebou en verder gereformeer word vanuit Calvyn se bybels-teonomiese etiek
“Dit verbied dus dat die huidige Calvinistiese etiek by die etiek van Calvyn sal bly staan. Die huidige Calvinistiese etiek moet dus verder gaan as die van Calvyn gegaan het. … . Die reformasie ontken nie die take van die verlede en van die toekoms nie, maar wil in die betrokke tydsgewrig en historiese situasie die verkeerde antwoorde deur die juiste vervang. Insover die antwoorde van Calvyn verkeerd was, sal die huidige Calvinistiese etiek dit moet bestry, d.w.s. die etiek moet reformeer op grondslag van die gemeenskaplik aanvaarde juiste antwoorde.
- Vir Calvyn is die absolute en onfeilbare Heilige Skrif die vernaamste bron van etiek vir die totale lewe; nie die mens se verstand nie, wat onvoorwaardelik onderworpe aan die Woord moet wees
“Gods Woord is vir hom die vernaamste bron van kennis van die sedelike. Hy leer o.a. dat die Heilige Skrif die absolute en onfeilbare Woord van die lewende God is; dat dit sy oorsprong in die hemel het; dat dit met Goddelike gesag beklee is en die kerk nie daarbo staan nie, maar daaraan onderworpe is; dat vir die ware geloof ons nie op persoonlike ingewing en nie op inwendige verligting mag vertrou nie, maar slegs op die krag van Gods Woord self, en op die getuienis van die Heilige Gees in ons harte aangaande die waaragtigheid van hierdie openbaring van God; dat die menslike verstand en rede nie oor die waarheid van Gods Woord beskik nie, maar onvoorwaardelik voor die Woord van God moet buig; dat dit ‘n gids is vir die hele lewe van die gelowige in hierdie bedeling en ‘n norm vir al sy doen en late.”
- Algemene openbaring word deur Calvyn erken, solank dit in die lig van die spesifieke openbaring (die Heilige Skrif) gelees en verstaan word; en, die ‘natuurlike mens’ (natuurreg) kan nie die norm wees nie, want die mens het in sonde geval en kan nie ‘goed en kwaad’ bepaal nie, daarom moet alles getoets word aan die Heilige Skrif, in die besonder aan God se Wet
“Vir sy etiek put hy eintlik nie uit die openbaring Gods in die ‘natuur’ nie. Tog handhaaf hy dat God in Sy goedheid ook aan die ongelowiges en heidene uitnemende gawes van verstand geskenk het; dat die waarheid wat ons bv. by die heidene vind (o.a. in hul regsgeleerdheid, redeneerkunde, geneeskunde, wiskunde en natuurkunde) nie verwerplik is nie, en dat ons dit selfs mag bewonder en dankbaar daarvan gebruik mag maak omdat die Heilige Gees die Outeur daarvan is; maar dat ons dergelike waarhede altyd moet sien op die grondslag van die Goddelike waarheid deur Hom in Sy Woord geopenbaar; dat die heidene van nature die dinge van die Wet doen en dat die werk van die Wet ook in hulle harte geskrywe staan; dat die verstand van die natuurlike mens nog enigsins kan onderskei tussen goed en kwaad; maar dat ons omdat die menslike verstand deur die sonde verduister is, sy kennis van goed en kwaad moet toets aan die openbaring van die Wet in die Heilige Skrif; dat ons ook by goddelose mense soms deugde van bv. geregtigheid, vriendskap, matigheid, soberheid, kuisheid en die onderhouding van reg en wet aantref; maar dat hulle hierdie goeie werke op ‘n slegte manier volbring op grond van die bose gesondheid van hul harte.”
“Die algemene religie (en algemene etiek) is iets anders as natuur-religie; natuur-religie is paganisties. Sowel die kennis van die orde van verlossing (en hiermee kennis van wat ons besondere religie en besondere etiek noem) as die kennis van die orde van die skepping (en hiermee kennis van wat ons algemene religie en algemene etiek noem) kry ons volgens Calvyn uit Gods Woord. Calvyn ontken nie (soos reeds aangetoon) die openbaring van God in die ‘natuur’ nie, ‘n openbaring wat slegs by die lig van Gods Woord reg verstaan kan word.”
“Wat die horisontale visie van die sedelike betref moet ons Calvyn se sterk begronde waarskuwing ter harte neem dat kennis van die ware religie en van die ware sedelike norme nie uit die ‘natuur’ as ‘natuur’ verkry kan word nie. Dit weerspreek nie die moontlikheid en onthef ons nie van die plig nie om die sedelike (w.o. norme, eise, pligte, deugde, waardes, ens.) horisontaal maar ‘in U lig’ te bestudeer. Dit is o.a. juis die taak van ons huidige wysgerige en vakwetenskaplike etiek.”
- Natuurlike moraal (natuurreg) wat verdorwe en sonde bevlek is weens die sondeval, kan nooit die finale maatstaf vir etiek wees nie
“Calvyn sluit die ondersoek van die sedelike in die ‘natuuropenbaring’ van God, gesien in die lig van Gods Woord, nie uit nie, en verwys herhaaldelik hierdie taak na filosowe, nieteenstaande hy dit wat filosowe bied gewoonlik ongenadiglik kritiseer. Tereg waarsku Calvyn dat die kennis van God en Sy gebod, van die ware religie en van die ware sedelik-religieuse norme nie uit die ‘natuur’ geken kan word nie; dat die ‘natuurlike’ moraal nooit tot maatstaf van die ware moraal gestel mag word nie (nie net omdat die natuuropenbaring van God onvoldoende is nie, maar veral ook omdat die historiese gang as sodanig nooit norm van Gods wil kan wees nie en dus die norm van die dinge nie in die ‘natuur’ lê nie waar in Gods wil); en dat wie die norm ontleen aan die natuur, dit ontleen aan die sedelik verdorwe ‘natuur’ van die mens en van die van God afgevalle wêreld.”
[Nota: sien Dordtse Leerreëls ¾.4,5 wat ‘natuurlike openbaring’ of ‘natuurreg’ van die ‘natuurlike mens’ nie net verwerp as middel om a) salig te word nie, maar ook b) as onfeilbare norm/standaard van etiek te dien:
“Na die sondeval het daar in die mens tog nog ‘n bietjie van die lig van die natuur oorgebly. Daardeur het hy ‘n mate van kennis van God, van die natuurlike dinge, van die onderskeid tussen die betaamlike en onbetaamlike bly behou en vertoon hy in ‘n sekere mate ‘n strewe na deug en uiterlike tug. Vir die mens is dit egter onmoontlik om deur hierdie lig van die natuur tot die saligmakende kennis van God te kom en hom tot God te bekeer. Gevolglik kan hy selfs in natuurlike en burgerlike sake hierdie lig nie reg gebruik nie. Hoe ook al, veeleer bederf hy dit heeltemal op verskillende maniere en hul hy dit in ongeregtigheid. Omdat hy dit doen, is daar vir hom geen verontskuldiging voor God nie. Net soos met die lig van die natuur is dit ook gesteld met die Tien Gebooie, wat God deur Moses in besonder aan die Jode gegee het. Die Wet vlek wel die grootheid van die sonde oop en kla die mens hoe langer hoe meer van sy skuld aan, maar dit dui geen geneesmiddel aan en deel geen kragte mee om uit hierdie ellende te kom nie. Omdat die Wet dus deur die sondige natuur kragteloos gemaak is, laat dit die oortreder onder die vloek bly. Daarom kan die mens nie deur die Wet die saligmakende genade verkry nie.
- Teenoor die autonomie en natuurreg stel Calvyn teonomie (God se morele wet) wat oor die totale kosmos en hele lewe van die mens gaan
“Ons beperk ons m.b.t. die teosentriese fundering van Calvyn se etiek tot sy leer van teonomie en van voorsienigheid. Die teonomie van God is absoluut en radikaal en gaan teaal oor álles wat Hy geskape het, en geld godsdienstige en religieus vir die hele lewe van die mens. Die hele skepping is onvoorwaardelik gebind aan Sy wetsorde.
Vir die mens geld Sy sedewet absoluut. Daarteen het die mens niks in te bring nie, en daaraan sal hy hom in al sy doen en late onvoorwaardelik onderwerp. Dit vind sy besondere uitdrukking in die 10 gebooie en in die dubbele liefdesgebod van Jesus Christus. Dit is die enigste norm van die sedelik goeie, ‘n norm wat Calvyn konsekwent religieus opvat. Die sedelike goeie as beantwoording aan die sedewet vind sy grond in God alleen.”
“Calvyn laat nie toe dat hierdie radikale teonomie van die sedelike verswak word nie. God egter staan Self absoluut bo die sedewet, en Hyself mag nie beoordeel word volgens die norm wat Hy aan die mens gestel het nie; Hy mag nie onder die kategorie van menslike sedelikheid gestel word nie. Menslike gehoorsaamheid aan die sedewet is geen verdienste nie, maar vrug van Gods werk in die mens. Die verwerkliking van die sedelike goeie is ‘n werk van God kragtens Sy goedheid en genade, kragtens die soenverdienste van Jesus Christus en kragtens die alomteenwoordige leiding en inwerking van die Heilige Gees.”
- Die wedergebore hart en wil van die mens is waarlik vry deur gebonde te wees aan God se Woord
“Deur die wedergeboorte word alle dele van die siel hernu. Met die wederopstanding staan die mens as eenheid met siel en liggaam op. Juis in die siel en sy werkinge is die sedelike geleë. … Die ware geloof (wat geen superadditum is nie) wek die liefde en is ‘n kennis van en ‘n gerigtheid van die hart op die enige en ware God volgens Sy Woord, en is slegs moontlik deur die soenverdienste van Jesus Christus en die genadige inwerking van die Heilige Gees in die harte van die gelowiges. … ‘n Goeie gewete is die innerlike opregtheid van die hart. Sy vrugte (bv. vrede, gemoedsrus) kom die mens toe, maar self is die gewete op God gerig. Die gewete is deur die wet van God gebind, en nie deur mensgemaakte wette nie, en is in middelmatige dinge vry.
…. Die mens het na die val nie sy verstand en wil verloor nie, maar wel die gesondheid van beide. Insover die mens in hierdie staat nog die ware kan ken en sy wil nog die goeie kan doen (hoe ook al beide deur die sonde verdorwe is), is dit ‘n gawe van God. Nieteenstaande die verlossingswerk van Christus bly die mens in hierdie bedeling nog sondaar. Die genadige tegemoetkoming van die Woord hef die duisternis van die verstand nie op nie, maar lei tot suiwerder begrip en onderskeiding en tot verstandsverheldering; en die genadige wedergeboorte en bekering rig die hart en wil weer tot God, al bly dit nog aan die sonde gekluister.”
- Die Tien Gebooie en die dubbele liefdesgebod van Christus wys ons op die liefde tot God en ons naaste, wat slegs uit sy Woord reg geken kan word
“Die algemene etiek het betrekking op die aard van die mens soos hy goed geskape is en bied dus norme wat vir die mens as mens geld; dit laat ons die mens in sy originele en normale verhouding tot God sien. Dit behandel die vraag na die wil van God vir die hele lewe van die mens. Hierop antwoord Calvyn dat ons die wil van God uit die wet van God, die norm vir die hele lewe, moet leer ken. Die hoofdoel daarvan is dat ons God, ons Skepper en Vader, sal eer. Ons is Hom álle eerbied, liefde, vrees en gehoorsaamheid verskuldig. Die wet leer ons om self in ons onmag en ongeregtigheid ken en eis dat ons geregtigheid sal betrag. Dit eis aan die een kant teenoor God ‘n reinheid van hart en aan die ander kant teenoor mense ‘n eerbare wandel met die regte gesindheid. Sy dieper sin is gegee in die dubbele liefdesgebod van Christus. In besonder toon Calvyn dit aan met sy behandeling van die 10 gebooie.
Hierdie behandeling gaan uit van die bepalings dat in elke gebod meer opgesluit lê as wat in die woorde uitgedruk word; m.a.w. dat ons die verdere bedoeling van elke gebod moet leer verstaan; en dat in elke gebod ‘n verbod en in elke verbod ‘n gebod opgesluit lê. Die eerste tafel het betrekking op die diens van God; en die tweede hoe ons ons teenoor mense moet gedra. Die tweede tafel moet in sy verband met die eerste verstaan word. Die wet kom met bedreigings en beloftes ooreenkomstig die geregtigheid en liefde van God. Dit is God wat met Sy heerlike majesteit ons beveel om te gehoorsaam. Slegs uit Gods Woord leer ons Sy wil reg ken.”
- Die evangelie bestry nie die wet nie, maar bevestig die Belofte, Christus: OT en NT is gelyk Woord van God en moet gelyk gehandhaaf word in hul regte verhouding
“Die besondere etiek stel die sedelike in ‘n nuwe verhouding tot die wet van God (sonder om dit op te hef) soos dit deur die genade van die evangelie geopenbaar word. Die evangelie bestry nie die wet nie, maar bevestig veeleer alles wat die wet beloof het, en voeg aan die skaduwee die liggaam toe. Die verbond wat God met Israel opgerig het is wesenlik en saaklik dieselfde as die wat Hy met ons opgerig het; die verskil tussen beide lê slegs in die manier van die bediening. Die besondere religie loop deur die Oue en die Nuwe Testament heen en kom in die Middelaar tot sy skoonste openbaring. Ons moet dan ook uitgaan van die gelykheid van die Oue en die Nuwe Testament, ook al noem die Heilige Skrif die Ou Testament o.a. ‘n testament van bediening en die Nuwe, ‘n testament en vryheid; en al het God tot op die koms van Christus een volk uitverkies in wie Hy Sy genadeverbond onderhou het, terwyl daar met die koms van Christus nie Jood of Griek meer is nie, maar Christus in almal.”
“Christus het as Middelaar vir ons die genade van God, die vergewing van sondes en die saligheid verdien. Die verlossingswerk van Christus word ons deel deur die verborge werksaamhede van die Heilige Gees. Deur die geloof (‘n gewisse kennis van die barmhartigheid van God in Jesus Christus) word ons wedergebore en dit is die werk van die Heilige Gees van ons aanneming tot kinders van God. Die regverdigmaking deur die geloof is dan ook geen verdienste nie, maar onverdiende genade en gawe. Wie roem in die verdienstelikheid van die werke, vernietig sowel die lof van God wat geregtigheid skenk as die sekerheid van ons saligheid. Die saligheid van gelowiges is alleen gegrond in die welbehae van die verkiesing deur God.”
- Daar is ‘n eenheid van die ganse lewe in diens van God drie-enig: my totale lewe en elke terrein is in diens van God
“Calvyn se algemene en besondere etiek vorm ‘n eenheid wat die ganse lewe van die Christen in diens van God Drie-enig stel, en wat eis dat ten opsigte van onsself ons sober sal leef, regverdig teenoor ons naaste en vroom teenoor God; ‘n eenheid wat aan die een kant die kerklike en aan die ander kant die lewe van huis, staat en maatskappy omspan.”
- Die Bybel is kenbron vir alle wetenskappe, nie ‘wetenskaplike handboek’ nie, maar Godsopenbaring wat waar is oor alles wat dit openbaar
“Kenbronne vir die wetenskap (i.c. die etiek) is Gods Woord en Sy skepping (of kosmos). Die Heilige Skrif is hoofsaaklik, maar nie uitsluitlik nie, die kenbron vir teologie; want Gods Woord bied ook gegewens wat vir wysbegeerte en vakwetenskappe van belang is. Die kosmos is hoofsaaklik, maar nie uitsluitlik nie, die kenbron vir wysbegeerte en vakwetenskappe; want teologie mag die openbaring van God in Sy skepping (gesien in die lig van Sy Woordopenbaring) nie links laat lê nie.”
- Skrifbeskouing is allesbepalend vir die hele lewe van etiek, hetsy in die binnekamer, gesin, gemeenskap, wetenskapbeoefening, ens.
“Calvyn se beskouing aangaande die Heilige Skrif en aangaande die betekenis van die Skriflig vir die hele lewe van die mens, en sy leer aangaande die besondere en algemene openbaring van God is vir die huidige Calvinistiese etiek grondleggend en onmisbaar. In hierdie verband wil ek egter die aandag vestig net op ‘n merkwaardige oopheid van gemoed by Calvyn teenoor andersdenkendes. Ek het hier in gedagte sy opmerkings oor die uitnemende gawes van verstand wat God aan ongelowiges geskenk het en dat ons hulle bevindings (insover waar en ‘in U lig’ gestel) mag bewonder en gebruik omdat die Heilige Gees daarvan die Outeur is. Is ons nie te dikwels te negatief m.b.t. wat andersdenkendes ons bied? Ek dink hier aan die houding wat ons in die reël inneem o.a. teen die waarde-etiek (wat iets anders is as deugde-etiek), teenoor die eksistensie-wysbegeerte en teenoor die fenomenologiese metode van intuïtiewe insig.”
- Nie net persoonlike etiek nie, maar ook sosiale etiek moet begrond wees in die Woord van God
“Merkwaardig is dat vanaf Calvyn tot vandag Calvinistiese etiek oorwegend individuele etiek is op die agtergrond van die aanvaarde eenheid van die mensegeslag na die vloede in Adam en van die herbore mensegeslag in Christus. Die erkenning van naasteliefde (wat inter-individueel is) maak hierdie etiek nog nie ‘n sosiale etiek nie. ‘n Sosiale etiek gaan uit van die eenheid van die betrokke samelewingskringe (huwelik, gesin, geslagte, volke, ens.) en ook hiervoor bied nie net die samelewing self nie, maar ook die Woord van God ryke gegewens.”
- Calviniste moet tereg (behalwe die evangelie) ook die wet op sy regte plek beklemtoon
“Besonder kragtig beklemtoon Calvyn die onvoorwaardelike onderwerping van die mens aan die sedewet van God omdat dit Gods wet is en Sy wil uitdruk. Hierom en omdat Calvinistiese etiek (veral in die verlede) die verhouding van mens tot God te veel as ‘n regsverhouding gesien het, is Calvinistiese etiek van nomisme beskuldig. Die beskuldiging mag oordryf wees, maar ontken kan nie word nie dat Calviniste vanaf Calvyn tot vandag ‘n besondere nadruk op die wet van God lê; en tereg ook. Maar ‘n ander vraag is of hulle nie te eensydig die wet van God beklemtoon het nie en beklemtoon; o.a. uit die vrees dat ons die wil van God uit die gevalle skepping (‘natuur’) moeilik reg kan ken.
Ons beland hier in die fundamentele en aktuele probleem van kasuistiek en situasie-etiek deur dr. A Troost so indringend in sy proefskrif behandel. Die kernwaarheid van die situasie-etiek behoort ons m.i. te erken, al is dit op ander wyse as wat daardie etiek dit tot dusver gedoen het. Die Heilige Skrif is vol daarvan dat God ons ook deur die tekens van die tye toespreek, dat daar ‘n tyd is om dit te doen en ‘n ander tyd om iets anders te doen, en dat ek met alle mag moet doen wat my hand vind om te doen. ‘Roep’ bv. ‘n baba in sy wieg nie om voeding en opvoeding nie? Selfs die ongelowige wat Gods geopenbaarde wet nie ken nie, sal dit beaam. Maar kan ons die aanspraak wat vanuit ‘n konkrete historiese situasie tot my kom volkome herlei tot dit wat die wet van God van my eis? Dit tog nie. Aan die ander kant sal ons ook die konkrete situasie in sy hic-en-nunc-beroep op my moet beoordeel in die lig van die geopenbaarde wil en wet van God. As ons hieraan reg laat wedervaar, verval die beskuldiging van nomisme, d.w.s. ‘n eensydige benadrukking van die wet van God.”
- Etiek moet gerig wees op die eer van God, die bevordering van sy koninkryk en dat die Here se wil sal geskied
“Calvyn se etiek is so ryk; daar is nog soveel om te sê. Maar uit wat gesê is blyk dat Calvyn ‘n fondament gelê het waarop ons veilig en vrugbaar verder kan bou; dat sy sisteem (as ons dit so mag noem) ‘n oop sisteem is omdat hy die laaste grond van die sedelike nie in die kosmos nie, maar in God vind, en ons die sedelike in die lig van die openbaring van God laat sien. Gehoorsaam aan God se wet vir die geskiedenis kan ons in die uitbou van teologiese, wysgerige en vakwetenskaplike etiek bou op die hegte fondamente deur Calvyn gelê en meteen in die voortgang van die geskiedenis daardie take onderneem waartoe God Drie-enig in die stryd tussen die Ryk van die Lig en die ryk van die duisternis ons juis vandag roep, eerstens tot Sy eer en verheerliking, tweedens tot bevordering van Sy koninkryk en derdens as middels in Sy hand vir die verwesenliking van Sy raadsplan op aarde.”
____________________________________
Ander Stoker artikels: HG Stoker
____________________________________
[i] Stoker CD (VCHO) & engelse weergawe in, Oorsprong en Rigting, deel 1. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers, 1967. p. 284-304.
Leave a Reply