STOKER OOR MENSEREGTE
Teenoor die outonome humanistiese natuurreg menseregte, moet die gelowige ‘In U Lig’ ontiese bybelse pligte en regte handhaaf
Inleiding
HG Stoker het ‘n artikel geskryf oor menseregte, getiteld, ‘n Kursoriese Besinning oor ‘Menseregte’[i], waarin hy ingaan op ‘n paar aspekte van ‘Menseregte’. Die volledige Afrikaanse artikel kan hier gelees word:
Hier is ‘n paar sentrale aspekte wat ek wil uitlig met die nodige aanhalings en beklemtonings, soos Stoker dit verwoord:
1. Drie wesentlike vrae oor ‘menseregte’
“Oor die vraag wat “reg” en “regte” is heers onder (juis ook Calvinistiese) regsgeleerdes en regsfilosowe meningsverskil. Hierop gaan ek nie in nie. Die omskrywing van “reg” wat vir my tot dusver nog altyd die aanneemlikste (hoewel ook nie volkome bevredigend nie) was, is dat ’n reg ’n aanspraak is wat die mens op iets het. Dát die mens regte het, het ek nie betwyfel nie. Die probleme vir my is: wat is hierdie reg, wat hou dit in en op grond waarvan het die mens dit?”
2. Alle positiewe reg (wat die mens vorm), moet aan die Goddelike, normatiewe wetsorde beantwoord en onderhewig wees
“Die mens vorm self reg (“laws” en “rights”). Dit blyk o.a. uit kerkordes, staatswette en statute van verenigings (en selfs uit “usansies”). Die deur die mens gevormde reg word positiewe (of gepositiveerde) reg genoem. Die genoemde voorbeelde van positiewe reg mag wel norme (“laws”) wees, maar hulle beliggaam ook regte (in die sin van “rights”). Laasgenoemdes word juridies onderskei in a. “kompetensie” (die reg om te handel), b. “subjektiewe reg” (die reg op iets) en c. “bevoegdheid” (die reg om met iets te handel). Die positiewe (d.w.s. deur die mens gevormde) reg behoort egter aan die Goddelike normatiewe wetsorde asook aan ’n ander “dieper reg” te beantwoord of mag ten minste nie daarmee in stryd wees nie. Die “dieper reg” (of “menseregte”) waaroor ons ons wil besin, is nie norme nie, maar regte (“rights”) in ’n ruime sin, wat “kompetensie”, “subjektiewe reg” en “bevoegdheid” insluit, m.a.w. dit wat aan hulle gemeenskaplik is, saamvat.”
3. Stoker vermy die ‘natuurreg’ benaming weens die humanisties-liberalistiese kaping daarvan
“Hierdie “dieper reg” noem ek liefs nie “natuurreg” nie, omdat die woord “natuurreg” veelsinnig is en veral omdat dit humanisties (in die reël liberalisties) opgevat word. Om dieselfde redes vermy ek ook die woord “aangebore menseregte”. Dooyeweerd se benamings “regsbeginsels” en “regsidee” het iets anders op die oog as wat ek met hierdie “dieper reg” bedoel. Hierdie “dieper reg” wil ek “basiese” of beter nog: “ontiese” reg noem. (Die “ontiese” beteken: die “synde”; “onties” is hiér dit wat met die menslike syn (of bestaan) gegee is). Omdat die in die geskiedenis deur die mens gepositiveerde menseregte (soos bv. in die betrokke norme (“laws”) beliggaam) die ontiese menseregte onderstel en dikwels daarmee in stryd was en is, vorm die positiewe reg nie ’n kriterium vir die bepaling van ontiese menseregte nie, al mag dit in gevalle wel as aanleiding dien om ontiese menseregte te ontdek. Wie tog van die positiewe reg as sodanig uitgaan om sy opvatting van “menseregte” te bepaal, verval in ’n historisme wat reg uitsluitlik ’n historiese produk maak, reg histories relativeer en daarmee in die grond van die saak reg nivelleer.”
4. Die gangbare opvatting van ‘menseregte’ is humanisties en outonomies, waarteen die Christen radikaal antiteties moet staan met die Woord
“Die gangbare opvatting van menseregte is humanisties. So word menseregte in fundamentele sin gefundeer, bv. in menslike behoeftes, in sy welsyn of gelukkigheid, in sy rede of wil, in sy selfverwesenliking ensovoorts, m.a.w. uitsluitlik in die mens, in sy mens-wees, in sy menslike outonomie en outarkie. En dan word in hierdie humanistiese sin van die “waardigheid” (“dignity”) van die mens gewag gemaak! Hierteenoor sal die Christen op grond van die openbaring van God in Sy Woord (aangaande Homself en aangaande Sy Verhouding tot alle dinge, wo. die mens) ’n insig in en begronding van ontiese menseregte moet vind, wat alle humanisme by die wortel afsny. Hy sal hulle “in U lig” moet ondersoek en leer ken. Ons sal dan ook nie van die “waardigheid” van die mens in humanistiese sin kan praat nie. Gods Woord spreek van die “kosbaarheid” van die mens in “Sy oë”, ’n kosbaarheid gegrond daarin dat die mens dienskneg van die Allerhoogste is, geskape as Sy beeld en gelykenis, die deur Hom geroepene.”
5. God alleen het absolute en algenoegsame reg op alles, nie die mens nie (en dus ook nié ‘die staat’ nie – slc), want die mens in al sy ‘ontiese regte’ is onderworpe aan die Goddelike wetsorde
“Ontiese menseregte sou ek wil omskrywe as aansprake wat die mens het kragtens sy fundamenteel kreatuurlike mens-wees, kragtens sy kreatuurlike fundamentele aard, struktuur, funksies, take en bestemming. “Kreatuurlik” — om die onderskeid en verband van God as Skepper en van die mens as skepsel voorop te stel. Want God alleen het absolute en algenoegsame reg op alles wat Hy geskape het (insluitende die mens en al sy doen en late), terwyl ontiese menseregte geheel en al kreatuurlik en onselfgenoegsaam is, onderworpe aan die Goddelike wetsorde vir Sy hele skepping (wo. die mens). In hul diepste wortels is ontiese menseregte gunste, vergunnings, voorregte wat God met die skepping van die mens aan die mens geskenk het en wel vir ’n bepaalde doel aan hom geskenk het. Teenoor God kan die mens as mens geen enkele reg, geen enkele aanspraak laat geld nie. Sy regte as mens het hy geheel en al aan God alleen te danke, en geeneen daarvan dra ’n absolute karakter nie.”
6. Ontiese regte moet individueel en sosiaal gehandhaaf word, dus beide die Nasionaal-Sosialisme (bloed is alles) én die Kommunisme (ekonomie is alles) moet verwerp word, en die Woord gevolg word wat beide die enkeling en samelewingskringe handhaaf in regte verhouding
“:Die eerste fout van die gangbare opvatting van menseregte is, soos reeds vermeld, dat dit humanisties is. Die tweede fout daarvan is dat dit vir die hierbo aangeduide (samehangende) verskeidenheid van die mensdom en daarmee vir die volle (samehangende) verskeidenheid van ontiese menseregte geen oog het nie. Die liberalistiese opvatting van menseregte is in fundamentele sin individualisties. Hiervolgens is bv. elk van die samelewingskringe soos huwelik, gesin, volk, staat, kerk ensovoorts ’n “insidentele” vereniging van individue. Met hierdie kyk op menseregte word die regte van die individu oorspan en verdwyn die regte van die samelewingskringe as sodanig uit die oog.
Maar al is die gangbare opvatting van menseregte oorwegend liberalisties, tref ons tog ook totalitaristiese (“universalistiese” of “sosialistiese”) opvattings van menseregte aan. Ook hulle eerste fout is dat dit humanisties is. Hul tweede fout is dat hulle in fundamentele sin menseregte in ’n betrokke menslike samelewingskring fundeer (bv. die nasionaal-sosialisme in die deur bloed en bodem bepaalde Germaanse volk; die fascisme in ’n eties gefundeerde staat; en die kommunisme in ’n ekonomisties bepaalde arbeidersmaatskappy).
Met hierdie kyk op menseregte word weer die regte van die betrokke samelewingskring oorspan en verdwyn in fundamentele sin die regte van die betrokke ander samelewingskringe asook van die enkeling uit die oog. Teenoor die liberalistiese en die totalitaristiese opvattings van menseregte sal die Christen op grond van die lig van Gods Woord op die mens die volle verskeidenheid maar ook die onderlinge samehang van regte van enkelinge en samelewingskringe eerbiedig.”
7. Daar kan geen ontiese regte wees sonder roeping en pligte nie
“Hierdie ontiese moontlikhede stel aan die mens sy van God gegewe opdragte, sy roeping. Roepingsvervulling is ’n plig wat God aan die mens stel. M.a.w. met sy ontiese moontlikhede is die mens onties sy pligte gestel. Om hierdie pligte te kan vervul, skenk (vergun) God die mens sy kreatuurlike ontiese regte. ’n Plig stel die mens wat hy behoort te doen. Ontiese menseregte wortel aldus in ontiese pligte van die mens en wel in fundamentele sin teenoor God. Ontiese menseregte is voorregte die mens van Godsweë vergun om te doen wat hy behoort te doen. Die mens beskik nie volgens sy menslike welbehae en goeddunke, outonoom en outarkies oor sy ontiese regte nie. Hy mag hierdie regte slegs uitoefen kragtens en ooreenkomstig sy roepingsplig; en omdat pligte behorenseiese is, behóórt hy hierdie regte uit te oefen slegs soos deur die ontiese pligte bepaal.
Ontneem die ontiese reg (m.a.w. dit wat hy mág doen, waarop hy aanspraak het) sy ontiese fundering in plig (dit wat hy behóórt te doen), dan vernietig u die reg as sodanig. So wortel bv. die ontiese reg (en dit is ’n wonderlike voorreg) van die ouers om hul kinders te voed en op te voed in die (met die kreatuurlike gesinstruktuur en gesinsbestemming gegewe) verpligtende moontlikhede, d.w.s. in die ouerlike roepingsplig tot voeding en opvoeding van hul kinders. In die uitoefening van sy ontiese regte geld vir die mens dat hy ’n reg het omdat hy onties ’n plig het.
8. Die hele skepping is onder die normatiewe wetsorde van God gestel = hoe en wat die mens ‘behoort’ te doen
“God het vir Sy hele skepping ’n wetsorde gestel, wo. vir die mens en al sy doen en late ’n normatiewe wetsorde (godsdienstige gebooie en kultuurnorme). Alle uitoefening van ontiese menseregte behoort aan hierdie normatiewe wetsorde te beantwoord en mag nie daarmee in stryd wees nie. Die mens behoort sy ontiese regte uit te oefen nie net volgens die onties gegewe pligte (wat stel wat hy behoort te doen) nie, maar hy behoort hulle bowendien uit te oefen volgens die Goddelike, normatiewe wetsorde (wat stel hóé hy dit behoort te doen). Van eie “welbehae” en “outonomie” is hier geen sprake nie. Met die wetsorde van God is meteen die eise van geregtigheid en regverdigheid gegee.”
9. Die mens se positiewe reg menseregte kan nie normatief wees nie, want die mens kan en dwaal inderdaad, daarom moet dit altyd beoordeel word ‘in U lig’
“Ook die menslike kennis het ’n geskiedenis en hieronder val ook sy kénnis van ontiese menseregte (Die kennis van menseregte soos dit in die gevorm is, kan dwaal en dwaal; maar dit is ‘n ander probleem). Dit is wel waar dat God in sy Woord ons ontiese menseregte openbaar. Maar dit is ook waar dat die mens met die voortgang van die geskiedenis in latere tye ontiese menseregte ontdek, wat hy in vroeëre tye nié of nie só ingesien het nie. Trouens, daar is reeds ’n openbaringsgeskiedenis in die Woord van God, wat sy kulminasie vind in die koms, woorde en dade van Jesus Christus. Menslike kennis van ontiese menseregte het ’n geskiedenis. Dat dit “in U lig” behoort te geskied, spreek vir ons vanself. As voorbeeld van hierdie geskiedenis wil ek verwys na vroeëre en huidige opvattings (juis ook onder Christene) aangaande die instelling van slawerny en aangaande die vrou en haar plek in die samelewing. …
Maar, en dit mag nie vergeet word nie, alle dinamiek van ontiese menseregte is onderworpe aan die normatiewe wetsorde (in casu die orde vir die regte) soos deur God bepaal.”
10. Die staatsgesag is nie ‘n absolute gesag nie, en daarom is die reg van verset teenoor die burgerlike owerhede ook ‘n ontiese reg
“Met al die bostaande as agtergrond kom die vraag op: wat is die onderskeie ontiese menseregte? As mens sou opsom wat o.a. Locke, Wolff, Rousseau, Maritain en wat die Amerikaanse Deklarasie van Onafhanklikheid (1776), die Franse Deklarasie van die Regte van die Mens (1789) en die V.V.O. se Universele Deklarasie van Menseregte (1948) as menseregte beskou, sou mens omtrent 30 positief en omtrent 20 negatief geformuleerde menseregte kon onderskei.
Afgesien van die humanistiese (en oorwegend liberalistiese resp. individualistiese) karakter daarvan, kan egter lang nie almal as ontiese menseregte beskou word nie.
Neem bv. die sg. reg van die enkeling om aan die regering deel te neem, of soos ek dit ook al geformuleer gesien het: “stemreg is ’n aangebore mensereg”. Dat hierdie (op liberalisties-demokratiese staatsbeskouing gebaseerde) “reg” geen ontiese mensereg is nie, blyk eerstens daaruit dat staatsvorme (bv. die patriargale staat, die feodale staat, die stande-staat, die monargie, die demokrasie, die korporatiewe staat ens.) met die tye gewissel het en ook in die toekoms sal wissel, en tweedens daaruit dat staatsgesag nie sy oorsprong in die enkeling (die staatsonderdaan) het nie, maar in die kreatuurlike struktuur van die staat as sodanig gegrond is en dat dit sy oorsprong vind in God namens wie die owerheid regeer (of soos dit soms geformuleer word: dat owerheidsgesag ’n van Gods gesag afgeleide gesag is, en dus “van bo” en nie “van onder” kom nie).
Maar (en hier het Calvyn reg gesien, al het hy die te noeme “beïnvloeding” in die kader van sy tydsomstandighede geformuleer), die enkeling of betrokke samelewingskring het (weens sy toerekenbaarheid en verantwoordelikheid — fundamentalitêr teenoor God) wel die reg om die owerheid te beïnvloed, en waar die owerheid onregmatig handel (ontiese menseregte krenk), selfs die reg van verset. Of neem die sg. reg van dieselfde loon vir dieselfde arbeid. Hier geld eerder dat die arbeider (nie die arbeid nie) sy loon werd is, d.w.s. reg op loon het; arbeid is geen koop-waar nie.
11. Die debat oor menseregte moet duidelik gesien word in die konteks van die Antitese tussen die Ryk van die Lig en die Ryk van die Duisternis, deur die geskiedenis
Hierbo is gewag gemaak van negatiewe formulerings van menseregte. Hieronder val bv. afwysing van moord, slawerny, marteling, belastering, uitbuiting ensovoort. Uit die aard van die saak is negatiewe bepalings van menseregte gegrond op positiewe bepalings daarvan. Ons verwys hierna egter slegs as aanleiding om die aandag te vestig op die met die sondeval gegewe bedorwenheid van die mens en die daarmee gegewe verskeurdheid van die onderlinge verhoudings en noodsaaklike stryd (wat Augustinus in fundamentele sin sien as die stryd tussen die Ryk van die Lig en die ryk van die duisternis), ’n stryd wat plaasvind in die hart van elke mens, tussen mens en mens, in elke samelewingskring, tussen enkeling en samelewingskring en tussen samelewingskring en samelewingskring.
Dit stel die vraagstuk van ontiese menseregte in skerpe nuwe lig, nie alleen wat betref die stryd van die onderling botsende opvattings van menseregte nie, en ook nie net wat die gevaar van foutiewe eie sienings aangaande ontiese menseregte betref nie, maar veral ook betreffende die konflik waarvoor die mens (die enkele mens, maar ook die samelewingskringe) te staan kom, nl. om in eie verskeurdheid en in gegewe verskeurde omstandighede (of situasie) en gegewe verskeurde tydsgewrig tussen ontiese menseregte (en die betrokke uitoefening daarvan) te kies, ’n keuse waarby noodwendig aan ’n bepaalde ontiese mensereg ten behoewe van ’n ander te kort gedoen word. In dergelike konfliksituasies (waarop ons nie in besonderhede ingaan nie) behoort te geld dat wat “in U lig” die swaarste weeg, die swaarste sal weeg.“
12. Christene mag ‘menseregte’ aanvaar, nie die humanisties-liberalistiese weergawe nie, maar die ontiese weergawe wat gegrond is ‘in U lig’ Goddelike normatiewe wetsorde
“En al meen ek dat ook die Christen heelhartig “menseregte” mag aanvaar, is hier tog ’n waarskuwing nie onvanpas nie. Omdat die uitdrukking “menseregte” vandag hoofsaaklik in humanistiese (en veral liberalistiese) sin verstaan word, behoort óns — om nie misverstaan te word nie en die juiste invloed uit te oefen — die aandag eerder op ontiese (kreatuurlik gegewe) mensepligte te vestig, omdat hulle as grondslag van ontiese menseregte dien.
Ten slotte, gedagtig daaraan dat die positiewe reg (naas die Goddelike normatiewe wetsorde ook) ontiese menseregte onderstel, daaraan behoort te beantwoord en ten minste nie daarmee in stryd behoort te wees nie, is ’n indringende en ekstensiewe studie van ontiese menseregte (naas dié van die Goddelike normatiewe wetsorde) “in U lig” vir die Christen ’n sine qua non vir sy toerekenbare en verantwoordelike vorming (positivering) van reg én vir ’n kritiese beoordeling van die gevormde (gepositiveerde) reg waaronder hy hom bevind en wat dus vir hom (en sy doen en late) geld. Dit is vir die Christen ’n gewetensaak.”
____________________________________
Ander Stoker artikels: HG Stoker
____________________________________
[i] Stoker CD (VCHO) & engelse weergawe in, Oorsprong en Rigting, deel 1. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers, 1967. p. 284-304.
Leave a Reply