TOTIUS SE HERVORMINGSPREEK: WARE VRYHEID (Gal. 5:1,13)



TOTIUS SE HERVORMINGSPREEK: WARE VRYHEID (Gal. 3:1,16)

“Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie . . . . Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ‘n aanleiding vir die vlees nie, maar dien  mekaar deur die liefde (Gal. 5:1, 13).

Daar gaan ‘n geroep van vryheid dwarsdeur die wêreld. “Vry wees!” so klink dit uit die mond van almal.

Die groot oorlog wat nou woed, word ‘n bevrydingsoorlog genoem. Die klein nasies sal uit hulle bande van onderworpenheid verlos word – so word gesê. Maar ook die groot nasies skud die juk af. Kyk, daar is Rusland! – word gesê – hulle het hulle bevry van die heerssugtige Tsaar en sy mederegeerders. Ja, so word voortgegaan, al die nasies is besig om hulle aan tirannie en slaafse oorheersing te ontworstel. Kyk maar na wat die Sosialiste doen: hulle bring in alle lande ‘n omwenteling teweeg; hulle Iê orals die grondslae van ‘n ewige vryheid. Die nag het verbygegaan, en die daeraad van vryheid en broederskap breek aan – so word daar gejubel.

Is dit waar?

Breek die dag eindelik oor die donker wêreld aan?

Het die mense eindelik die ware vryheid gevind?

Tot beantwoording van hierdie vrae het ons op hierdie gedenkdag van die Hervorming ‘n voor die hand liggende aanleiding. Immers, die groot skat wat die Hervorming aan die wêreld teruggegee het, is: die vryheid, die vryheid wat deur menslike oorheersing orals verlore gegaan het.

Maar laat ons begin met die vraag oor wat die Woord van God ons daaromtrent sê, so het die Hervormers gemaak, en sal ons aanhou doen; want daaruit sal blyk of ons waarlik kinders van die Hervorming is.

Ons teks is ‘n woord wat Paulus aan die Galasiërs geskryf het, ‘n woord wat nadere toeligting vra.

Die aanleiding tot die skryf van die Galatebrief is bekend. Paulus het die Galasiërs tot vryheid geroep, die vryheid naamlik wat in Christus is.

Christus het hulle verlos van die vloek van die wet, deurdat Hy vir hulle ‘n vloek geword het. Dit het aan die kruis gebeur; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang (3: 13). Die verdoemende krag van die wet bestaan dus nie meer vir hulle wat in Christus Jesus is nie, Wat vir die mens onmoontlik was, naamlik om te bly in alles wat geskrywe is in die boek van die wet om dit te doen (3: 10), is deur Christus tot die laaste jota en tittel volbring.

Hierdie blye boodskap van die evangelie het die Galasiërs uit Paulus se mond gehoor en met bly harte aangeneem (3: 2-6). Sedert sy vertrek het daar egter ook valse broeders ingesluip om die vryheid te bespied wat die Galasiërs in Christus Jesus deelagtig geword het, sodat hulle hulle tot diensbaarbeid sou bring ( 2 :4). Teen die sodaniges keer die apostel hom nou, teen die voorstanders van die Fariseïsme, wat hom in tweërlei vorm geopenbaar het.

Ten eerste wou hulle die gemeentes in Galasië tot diensbaarheid bring deur opnuut Ou-Testamentiese vorme, gebruike en seremonies in te voer. Paulus spreek van die waarneming van dae en maande en tye en jare (4:10). Dit was egter skaduwees wat voor die lig van Christus moes wyk. Hulle herinvoering was dus niks anders nie as die weeroplegging van ‘n juk wat Christus van die skouers van die gelowiges afgenèem het.

Maar die valse broeders was daarmee nie tevrede nie, ‘n Poging is aangewend om “die hele wet” aan die Galasiërs op te lê as voorwaarde tot saligheid. Nie net die seremoniële wet nie maar ook die sedewet. Die “doen dit en jy sal lewe” sou in die plek kom van die geloof in Christus Jesus, wat die hele wet vir die gelowiges volbring het. Vandaar dat Paulus waarsku: “En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou. Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (5:3,4).

Let ook op wat voorafgaan.

In hoofstuk 4 vergelyk Paulus die verbond wat op Sinai met Israel gesluit is, met Hagar, die slavin van Abraham. Ons egter, sê hy, is kinders van Sara, die vrye. Die teenswoordige Jerusalem is met haar kinders saam in slawerny. Maar Jerusalem daarbo is vry en dit is die moeder van ons almal (4:25,26).

Op grond daarvan sê die apostel: “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarbeid bring nie”.

Die Galasiërs word tot ‘n besef van vryheid opgeroep.

Maar daar staan ‘n voorwaarde by.

Dit is die vryheid waarmee Christus hulle vrygemaak het. Met ander woorde: hulle was vry, nie “tot diensbaarheid” nie, maar ook nie tot losbandigheid nie. Daar moes nie ‘n “juk” wees nie maar ook nie ‘n “aanleiding vir die vlees” nie.  Die wet sou in een opsig bly, nl. om te dien deur die liefde (5: 13), om te wandel deur die Gees (5:16). In plaas van knegte kom daar kinders, wat “Abba, Vader” roep en die wet uit dankbaarheid volbring (4:6).

Hiermee is ons tekswoord genoegsaam toegelig.

Ons gaan nou daartoe oor orn in verband daarmee die groot feit van die Hervorming te gedenk.

Deur die wêreld gaan ‘n geroep orn vryheid. Geen wonder nie, want die mens is nie tot slawerny nie maar tot vryheid geskape. Wel het die sondeval tussenin gekom, maar dit het die dors na vryheid nie vernietig nie. Vandaar dat die leuse van “Vry wees!” altyd weer op gevoelige ore val.

Wat die sondeval wel gedoen het, is dat hy die mens altyd weer die vals artikel in plaas van die regte in die hande gee. Vandaar dat nie enige vryheidsgeroep ons as gelowiges kan bekoor nie. Dit het die Hervorming ons geleer. Laat ons dit nader aanwys deur vervolgens te let op ons persoonlike, kerklike en staatkundige vryheid.

Persoonlike vryheid

Wat ons persoon betref, het die Hervorming die vryheid van die gewete uitgeroep. Daaronder word verstaan dat ons in alles wat die diens van die Here betref, vry is van die juk van alle menslike gesag en in ons gewete alleen onderworpe is aan God en sy Woord.

Die Roomse Kerk het hierteen gesondig deur ten eerste die Woord van God, die Heilige Skrif, aan die gewone gemeentelede te onthou. Ten tweede het Rome teen die beginsel van gewetensvryheid gesondig deur naas Gods Woord as bindend en gesaghebbencl te stel die oorlewering (tradisie) en die besluite van die Kerk. Roma locuta est (Rome het gespreek) was genoeg om aan enige geskil ‘n einde te maak. Wat die priester bepaal het, het alle teenspraak beëindig. Hy het geordineer wat mag en wat nie mag nie; hy het die gewig van die sondes wat bely is, geweeg, en hy het van sy biegstoel af geproklameer wat die sendaar moes doen om weer die vrede van die siel deelagtig te word.

Die Jesuïtiese “perinde ac cadaver”, d.w.s. “gehoorsaam aan die Kerk asof jy ‘n siellose lyk is”, karakteriseer die hele strewe van die Roomse Kerk.

Dit is nou die tirannie wat Luther verbreek het.

Hy het die pouslike bul verbrand en in gloeiende woorde verkondig “die vryheid van ‘n Christenmens”.

Daarin is hy deur Calvyn en ons Belydenis gevolg. Laasgenoemde sê: “Want aangesien die wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin (in sy Woord) geheel en al en uitvoerig beskrywe is, is dit aan geen mens, al was dit ook die apostels, geoorloof om anders te leer nie as wat ons alreeds geleer word deur die heilige Skrifte”.

Luid het die Hervormers geroep: “Staan dan in die Vryheid!”

Maar hulle bedoeling was nie om die gewete geheel en al bandeloos te maak nie. Met Paulus het hulle aan hierdie vryheid ‘n voorwaarde verbind: “Staan in die vryheid waarmee Christus julIe  vrygemaak het.”

Hoe het Christus die mens vrygemaak?

Deur hom aan die wet van die Here te bind.

Wie die sonde vrylik doen en die drifte van sy vlees volg, meen dat hy vry is, maar hy is ‘n dienskneg (letterlik: ‘n slaaf) van die sonde (Joh. 8: 34). Die daarenteen deur Christus vrygemaak is, hy is waarlik vry (Joh. 8 :36).

Vryheid is dus nie bandeloosheid nie maar gebondenheid aan ons lewenselement, dit is: die wet van die Here.

‘n Boom is vry om hom te ontwikkel en sy takke breed te laat uitskiet so lank as hy maar gebonde bly aan sy wortel en sy lewensbodem. So ook die mens.

Die vervulling van die wet van die Here uit liefde tot God en die naaste is die ware vryheid.

Nie soos slawe nie maar soos kinders dien ons God. Nie soos kontraktante nie maar soos broeders dien ons mekaar.

Laat ons altyd bedink dat ons vryheid is die band aan die Woord van God.

So baie dryf die persoonlike vryheid te ver. Die een sê: Paulus gee my verlof om alle dinge te ondersoek, solank as ek maar die goeie behou”.

Seker.

Maar het u nou die reg om te gaan ondersoek waarvan u vooruit weet dat dit sleg is? Het u die reg om met u sondige vermaak aan te gaan – altyd maar met verwysing na daardie apostoliese woord? Dit word, helaas! sa dikwels gedoen.

Iemand anders beroep hom op wat 1 Kor. 3: 22 sê: “Alles behoort aan julle, hetsy teenswoordig of toekomende dinge.”

Seker, maar bedink u daarby dat u aan Christus behoort (vs. 23)?

Het u reg op alles, ook as u u swakkere broeder wil laat struikel?  Is dit ‘n dien van mekaar deur die liefde? Of sê Paulus: “Moenie deur jou voedsel hom te gronde rig vir wie Christus gesterf het nie” (Rom. 14:15)?

Laat ons dus staan in ons persoonlike vryheid, maar laat ons daarby bedink: Dit moet die vryheid wees waarmee Christus ons vrygemaak het.

Kerklike vryheid

Ook oor die kerklike vryheid moet hier gehandel word. Rome het, soos gesê is, die gesag van die Skrif weggeneem en in die plek daarvan die gesag van die Kerk gestel. Daarby het gekom dat die gewetens deur allerhande bepalinge omtrent sakramente, aflaat, bieg en baie ander dinge aan bande gelê is. Dis dus nie ‘n wonder nie dat nie alleen die persoonlike vryheid nie maar ook die kerklike lewe in ‘n toestand van knegtelike diensbaarbeid gevange gelê het.

Vandaar dat die Hervormers opgetree het met die leer dat die kerk nie die reg gehad het om iets naas die Woord van God – hetsy oorlewering, hetsy besluite van kerklike vergaderinge – te stel asof dit met goddelike gesag beklee is nie. Jesus het tag gesê: “Tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Matth. 15 :9). Die gevolg van die instellinge van die Fariseërs was selfs dat die gebod van God opsygesit is (Mark. 7:9). “As julle dan”, sê Paulus, “saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog in die wêreld lewe, onderworpe aan insettinge soos: raak nie, smaak nie, roer nie aan nie?” (Kol. 2:18-23).

Onder die Ou Testament was dit wel noodsaaklik, maar met die vryheid waarmee Christus die kerk vrygemaak het, was reglemente eenvoudig onbestaanbaar. Hiermee is egter nie gesê dat alle kerklike belydenis, oorlewering en besluite heeltemal verwerplik is nie. Dit is die uiterste van die valse vryheid waarteen ons moet waak.

Want – let wel – ons Belydenis stel hom nie naas of teenoor die Woord van God nie. Nee, maar dit wil niks anders wees as ‘n refleks, ‘n afspieëling van wat ons in die Woord van God geopenbaar is nie. Die Belydenis sit dus nie die Woord van God opsy nie maar handhaaf die Woord wanneer die dwaling hom daarteenoor stel.

As daar dus geroep word: “Weg met alle dogma, met alle belydenis, met alle gesag in verband met die geloof!” – dan weerstaan ons dit as ‘n uiting van die valse vryheid en stry ons vir die geloof (die belydenis) wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.

Dieselfde geld van die oorlewering en die kerklike besluit. Hulle moet Skrifmatig wees, of hulle word nie deur ons aanvaar nie. Dit is ook van toepassing op die dienare wat deur Christus

tot die diens van die kerk geroep is. Ons bestry die priesterheerskappy, maar dit regverdig nie die bewering dat alle ampte in die kerk van Christus nou verwerplik is nie. Dit is Christus wat die dienaars aan sy gemeente gee (Ef. 4: 11), en daarom moet ons aan hulle gehoorsaam en onderdanig wees (Hebr. 13:17).

Hoe dikwels word dit vergeet en teen hierdie waarheid gesondig!

Hoe menigeen sê (of dink): “Laat die dominee maar preek: hy word daarvoor betaal; maar ek het my eie opinie, en ek sal my nie aan sy vermaning steur nie”. Hoe menigeen sê (of dink): “Laat die ouderling maar waarsku teen die sonde, laat hy maar vermaan om die diens van die Woord en die Sakrament nie te verwaarloos nie; ek sal nogtans my eie pad loop; ek het ook my eie verstand en laat nie vreemdes in my huis toe nie”. Hoe menigeen sê (of dink): “Die diaken is eintlik maar net ‘n laspos; hy kom my gedurig opwek tot offervaardigheid en dade van barmhartigheid; maar ek weet wel self hoe ek my sake moet bestuur en laat nie toe dat iemand anders oor my besitting heers nie”.

Dit is nou ‘n misbruik maak van die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het.

Die verwerping van die gesant van Christus is die verwerping van Christus self. Die valse vryheidsgees wat van dag deur die wêreld waai, het ook die kerk van Christus binnegedring en het ook daar sy verwoestinge aangerig – meer as wat ons kan dink.

Mag ons herdenking van die Kerkhervorming daarom daartoe strek dat die kerk weer uit sy verval opgehef word en met die gesag van Christus beklee word!

Die ingewing (inspirasie) van die valse vryheidsgees sou ons ook op ander terreine kan aanwys. Daar word gekla dat die kinders nie meer aan die ouers onderdanig is nie. Daar word gekla dat die dienskneg teen sy heer opstaan. Vandaar dat die sonde die jeug verwoes en dat die werkstakings die maatskappy ontwrig.

En nou is allerhande soorte baasspeleryen onderdrukking wel die onrniddellike aanleiding tot al hierdie wantoestande en verwarring. Maar in die grond van die saak is dit gesagsverwerpende invloede wat die wêreld van kwaad tot erger drywe.

Laat ons woord van protes dan daarteen staan.

Ons is tot vryheid geroep, maar nie om daarin ‘n aanleiding vir die vlees te vind nie.

Staatkundige vryheid

Ten slotte nog ‘n woord oor ons staatkundige vryheid. Dit is nie meentlik om oor die Hervorming te spreek en hieroor te swyg nie.

Luther het nie alleen teen die heerskappy van die priester geprotesteer nie maar ook teen die onderdrukking deur die adel van sy tyd. Sy vryheidsroep het nie tot die kerk beperk gebly nie, maar het allerweë tot die maatskaplike en politieke lewe deurgedring.

In sterker mate was dit die geval met die Calvinistiese Reforrnasie.

Volgens die gevleuelde woord van Groen van Prinsterer is die Calvinisme die oorsprong en waarborg van ons staatkundige vryhede.  In Calvinistiese lande soos Holland, Engeland en Noord-Amerika het die politieke vryheid dan ook sy skoonste triornfe gevier.

Maar, kyk, dit het nie lank geduur nie of hierdie vryheid, wat uit die geloof geborre is, is uitgeruil vir ‘n ander een, wat ‘n kind van die ongeloof is.

Toe die Boereopstand in Duitsland uitgebreek het, het Luther hom gedwonge gevoel om daarteen ‘n luidklinkende verset aan te teken. Immers, die valse vryheid het aan die woord gekom en het homself in gesagsverwerping geopenbaar. Calvyn moes dieselfde doen toe die Libertyne die vryheid as ‘n aanleiding vir die vlees begin gebruik het.

Eindelik het die vrug van valse vryheid in die Franse Rewolusie ryp geword – ‘n beweging wat sy begin in die ongeloof het en sy einde in die verwerping van alle gesag. Die volk sou met meerderheid van stem beslis wat reg en wat anreg is. Met die tirannie is ook die heerskappy verwerp.

“Geen God en geen baas nie !” was voortaan die leuse.

Hierdie vryheidsroep, eers grotendeels tot Frankryk beperk, gaan nou soos ‘n magtige stroom dwarsoor die wêreld. Die bestaande regerings moet weg. En wat kom in die plek daarvan? Die meerderheidstem van die volk; van daardie volk wat vandag roep: “Kroon hom!” en more: “Kruisig hom!”

Ons verset gaan dus nie teen die uitbreiding van volksinvloed nie (die Calviniste het dit selfs gewiI en inderdaad bevorder) maar teen die stel van die volksgesag in plaas van die owerheidsgesag – iets wat gewoonlik tot gevolg het die verwerping van die Godsgesag self.  Die Russe, wat hulle Tsaar onttroon het, het dadelik die leuse aangehef: “Nie meer ‘n regering by die grasie van God nie !”

Laat hierdie gebeurtenis (en baie ander) vir ons tot ‘n waarskuwende voorbeeld strek. Dit is nie die vryheid waarmee Christus die mens vrygemaak het nie. Dit is vals, want dit bring die mens altyd weer, sy dit dan ook in ander vorm, onder die heerskappy van sonde en geweld.

SA spreek die Hervorming dan nog sy woord tot ons en kan die gedenkdag daarvan vir ons ‘n groot seën bring. As ons maar vashou dat nie alle vryheid die ware vryheid is nie.

Alleen as die Seun ons vrygemaak het, is ons waarlik vry.

Hy verlos ons deur sy bloed van die sonde en maak ons tag gehoorsame kinders van God deur die werking van sy Gees. Deur Hom alleen salons eenmaal priesters en koning wees vir God en sy Vader!

AMEN

Bron: Het Kerkblad, no. 384, 1 November 1917.

___________________________________

* [Opskrif en beklemtonings bygevoeg]

Meer Totius artikels hier

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: