AAN DIE VOORAAND VAN GKSA SINODE 2023: TOTIUS SE OPENINGSREDE VAN DIE SINODE IN 1936



GLO EN BELY:

SKRIFGELOOF EN SONDEBESEF

(2 THESS. 2)*

[Die volgende preek is uitgespreek as openingsrede by die aanvang van die Sinode op Donderdagaand, 5 Maart 1936, in die Gereformeerde kerk van Bethulie oor 2 Thess. 2.]

Enkele jare gelede het tot my ‘n versoek gekom om in die diens van die  oord in ‘n gemeente op te tree. Die leraar het geskryf dat hy wel ‘n enkele preek wil mis, maar wat nie agterweë mag bly nie, is ‘n toespraak tot die jongrnense van die gemeente. Hieruit was dit vir my duidelik dat die oog gerig moet word op die toekoms.

Dit was vir my nie dadelik duidelik waaroor ek moes preek nie. 

Onder die voorbereidingsdiens het ek geluister na die vrae gestel by die aflegging van belydenis van geloof deur die jongmense. Ek het geluister na die eerste vraag, nl. “of u van harte glo en beIy dat die boeke van die Ou en Nuwe Testament Gods enige en waaragtige Woord is”, en na die tweede vraag: “of u van ganser harte glo en bely dat ons in onsself deur die sonde heeltemal bedorwe is …”

Dadelik het ek besef dat hierdie twee punte die onderwerp van my toespraak moet wees.

Hulle bevat ‘n profetiese taal. Daarin is ‘n profetiese klank wat kom uit ‘n skone kerkverlede, wat wys oor ‘n stormagtige hede na ‘n wegdeinsende toekoms heen.

In 2 Thess. 2 is daar twee maal sprake van die leuen, en daar word gesê dat die waarheid, nl. die evangelie, soos die “Kanttekening dit verklaar, verwerp sal word. Die leuen sal soseer regeer dat alle kragte, tekens en wonders uit die Ieuen gebore sal word en tot vervalsing van alle lewensverhoudinge sal strek. Hier word dus in Gods Woord ‘n skerp teenstelling tussen die Ieuen aan die een kant en die waarheid aan die ander kant getrek. Dit is die tyd van die Afval, soos die Kanttekening sê: “die algemene afval van die suiwerheid van die evangelie”. Dit is  vanouds die gebruik om die ganse inhoud van Gods Woord aan te dui as “evangelie”.

Waar kom dit alles op neer?

Hierop naamlik dat in die toekoms verkondig sal word: God het nie gespreek nie.

Dit was die eerste en dit sal die laaste leuen wees. Reeds in die paradys het Satan vir Eva gesê of dit is dat God gespreek het en iets gesê het. En as Eva in die staat van regtheid aan die leuen geloof geslaan het, hoeveel te meer die mense in hulle gevalle staat en die mense van die toekoms!

Hoe baiemaal lees ons in die Bybel: “God het gesê” of “God het gespreek” !

Kyk maar in ‘n konkordansie.

Maar die leuen sê: Dit is alles inbeelding en fantasie. God het nie gespreek nie. Dis nie ‘n stem van buite nie maar van binne. As die Skrif só tot swye gebring is, dan praat die heidense orakels weer. Dié het dan wel gepraat.

Opmerklik in ons dae is dat daar boeke verskyn oor die moderne heidendom. Ons tas seker nie mis deur te sê dat ons vandag op die keerpunt staan nie alleen van die wêreld nie maar ook van die Christendom. In die praktyk sien ons die verwerping van die Skrif.

Die tydperk van die geveinsde onderwerping aan die Skrif en die Christendom soos daar gespreek word in Ps. 68 van die onderworpeling wat stukke silwer bring, is verby. Nou kom die tydperk van Ps. 82 waarin al die fondamente van die samelewing omgekeer word.

In Rusland is die Grieks Ortodokse Kerk weggestoot van sy staatsregtelike posisie. In Italië het ons blykbaar as ideaal die ou Romeinse standpunt dat ‘n magsoorlog genoeg is om ‘n oorlog te regverdig. In Duitsland is in sommige kringe die terugkeer tot die heidendom aangekondig. 

Die woord heidendom word gebruik in die belydenis vir sommige hoëskole, en dit is geen skeldwoord meer nie maar ‘n erewoord. Die berigte mag wel oordrewe wees, maar Soveel is dan tog duidelik dat die feite daar is. Ons hoef nie net op daardie lande te let nie. Daar het God seker ook wel sy duisende wat getrou sal bly. In Rusland word dan ook weer vandag martelaars gevind. Maar ook in Wes-Europa en in Suid-Afrika tref ons die heidense gees aan. Dink maar aan verskynsels soos lykverbranding, naaktkultuur, aanbidding van die godin Fortuin in weddenskappe en dobbelarye. Vir hierdie wending in die tydgees mag ons die oog nie sluit nie.

Dit is voorafgegaan deur teoretiese Skrifverwerping: God het nie gepraat nie.  Dit het hulle eers sg. histories en letterkundig bewys en daarna op sg. wysgerige gronde die inspraak van God in die hart van die mens en sy toespraak in sy oor as onmoontlik verwerp.

Daar word ook gesê: Ons moet verskil maak tussen wat God gespreek het en wat die mens gespreek het. Ons moet daartussen onderskei, en dan moet ons hou op wat God gesê het. Deur hierdie standpunt van die kritiek is dele van die Skrif verwerp.

Wie nog aan hierdie standpunt wil vashou aan die goddelike woord in die Skrif, vind ‘n wisselspel van menings.

Daarteenoor staan ons belydenisvrae (sien NGB art. 2-7, slc) waarin ons die profetiese klank beluister, dat die boeke van die Ou en Nuwe Verbond die Woord van God is, waarvan ons niks mag afdoen of waaraan ons niks mag toedoen nie, En om die saak volkome seker te maak word in ons geloofsbelydenis al die boeke opgesom van Genesis tot Openbaring.

So word die Skrif ommuur.

En vandaar die belang van die eerste belydenisvraag: of u van ganser harte glo en bely dat die boeke van die Ou en Nuwe Testament God se enige en waaragtige Woord is.

So lê daar dan tussen ons en diegene wat buite is, die heilige Skrif. Hier is ‘n diep kloof. Hoe seer ons ook met ander mense mag verkeer, hier is tussen ons en die ongelowiges ‘n kloof gevestig wat nie maar ‘n wisselende, wegbrokkelende spoelsloot is nie maar ‘n kloof in die berge van ewige basalt, en ons kan daaroorheen nie, ons hand toereik aan die wat nie glo nie, tensy dat ons God verloën, en hulle kan dit nie doen nie, tensy dat hulle hulleself verloën.

Hier staan leuen en waarheid onversoenlik teenoor mekaar.

Ons moet vandag in die eerste plek vra:

Hoe staan ons as Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika teenoor die heilige Skrif?

Glo ons met sielsoortuiging dat die boeke van die Skrif boeke is van God se getuienis, of is dit vir ons ‘n blote leerwaarheid wat hoog bo ons hoofde sweef?

Glo ons só dat die wat met ons in aanraking kom, voel dat ons glo?

Ek dink hier aan ‘n moeder wat haar afvallige seun uit die Skrif vermaan het, en ek kon dit in haar woorde voel dat sy glo aan die heilige Skrif. Daardie diep bevindelike oortuiging het my getref, en ek het gesê dat as iemand só oor en uit die Skrif spreek, dan moet hy meer wees as teoloog. Dan moet hy in die hoëskool van die Heilige Gees gewees het.

Hierdie Skrifgeloof moet ook ons houding teenoor ander kerke bepaal.

Ons kan ons wedersydse verhouding nie uitmaak deur te sê: Jy is ‘n Metodis, ek is ‘n Calvinis; jy is evangelies en ek ortodoks nie.

Daardie teenstellinge baat nie meer nie. 

Dit is nou tyd om te sê: Al wat Skrifkerk is, met dié voel ons een.

Die beskuldigings teen mekaar is soms soos skermutselinge van soldate wat somaar onverantwoordelik op mekaar losbrand. Dit kan ook nie afgedoen word met die woorde nie: Julle het die leer en ons het die lewe of byvoorbeeld deur te sê: Die Gereformeerde Kerk ken geen emosie nie.

Lees maar die Christelike gebede agter in ons Psalmboek. Die belydenisformuliere is die grond waarin ons Kerk wortel, die liturgiese formuliere is die kerk in sy werking en groei, maar die Christelike gebede is die gebedsvrug van die Gereformeerde Kerk.

Waar word daar skoner mistiek as in die Christelike gebede gevind?

‘n Sekere predikant van die N.G. Kerk het aan ‘n presbiteriaanse kollege die Christelike gebede in ons Psalmboek ter hand gestel. Toe hy dit terugbring, sê hy: Ek is hoogs opgenome, ja,  opgetoë hiermee.

Dit is godsvrug wat die vaders ontwikkel het uit die Gereformeerde leer. As ons nie tot daardie geloofshoogtes kan en wil opklim nie, is ons die glorienaam van gereformeerd nie werd nie. 

En as dit só is, dan staan Skrifkerk by Skrifkerk.

Ons mag ons nie meer so laat verbrokkel en verdeel nie. Dit is die Skrif wat ons nader bymekaar moet bring, en ons moet ons verhoudinge duidelik teenoor mekaar bepaal voordat die splytswam van die kritiek ons verder verdeel.

Hoor hoe bepaal die Christelike gebede ons verhouding tot die Skrif.

Lees maar wat daar staan in die gebed voor die Kategismusprediking:

“Omdat ons van nature blind is en onbekwaam tot enige goed, en U ook niemand wil aansien wat nie ootmoedig en verslae van hart is en u Woord vrees nie, daarom bid ons U dat U ons duistere verstand wil verlig met u Heilige Gees en ons wil gee ‘n sagmoedige hart waaruit geweer word alle verwaandheid en vleeslike wysheid wat vyandskap teen U is, sodat ons, as ons u Woord hoor, dit reg verstaan en ons lewe daarna inrig”.

Waarom word die nadruk hier so op die Skrif gelê?

Omdat van A tot Z die Skrif nadruk lê op Christus.

Want daar is baie en heerlike figure in die Skrif, maar as ons lank kyk, dan vervaag hulle, en ons sien net die ligtende gestalte van Christus. Hy was maar kort op aarde, maar altyd wandel Hy tussen die kandelaars, d.i. tussen sy volk. Maar wat vir ons van belang is, is dat die Heilige Gees wat ons na die Skrif lei, ons ook lei na Christus; Die Heilige Skrif en die Christus van die Skrif is vir ons alles. 

Die tweede vraag vir die belydenis lui: “of julle van ganser harte glo en bely dat ons in onsself deur die sonde heeltemal bedorwe is”?

2 Thessalonicense 2 spreek van “die mens van sonde”.

Nie die sondige mens nie, want dit is ons almal.

Hier word bedoel die inkarnasie, die bevlesing van die sonde. Sonde was daar altyd. Ons wil nie die ou tyd ophemel en die teenswoordige tyd slegmaak nie. 

Die verskil is egter dit: vroeër het die sonde gekruip en gesluip in die donker, maar nou kom dit soms sonder masker na vore. Daar word gesê: Sonde is natuur. Leef jou natuur uit. Daar word selfs gesê: Ons glo in die gesende bloed van die nasie en van elke persoon.

Ons sê: Nee, in daardie bloed lê juis al die prikkels tot die sonde. 

Daarom soek ons behoudenis deur die heilige bloed van Christus. 

Die uiteinde is dat menige uitlewer sink soos ‘n wrak van sonde swaar in ‘n donker see, of hulle lê daar uitgespoei soos ‘n eensame wrak op ‘n eensame kus. Dis veral die geval met  geslagsondes. Dis die put, die afgrond, en as dit effens oopgaan, dan slaan daar ‘n peswalm uit op na bo. Gelukkig die man en vrou wat maar min weet van die dieptes van Satan.

Ons vra soms in wanhoop: Hoe moet ons jongmense rein bly in so ‘n wêreld?

Dis nie die vraag van ‘n bekrompe hart nie.

Selfs die jongmense wat ‘n insig in sake kry, kom vra met bewende stem: wat moet word?

Hûlle is moedeloos, en óns moet hulle troos.

Die kerk moet waarsku en die jongmense daaraan herinner dat hulle self bely het dat hulle gans bedorwe is. En hoewel daar verskynsels is wat ons laat skrik, mag ons tag nie wanhoop nie. Ondanks dit alles moet ons moed hou en die jongmense toeroep: Wees ‘n Josef.

En dan word daar gesê: Dis Ou-Testamentiese moraal.

Was ons tog maar almal onderworpe aan daardie Ou-Testamentiese moraal wat sê: Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God? (sien Gen. 39:9, slc)

Ons moet die verbondsgebed beoefen. Die gedurige gebed veral vir ons jongmense is ‘n eerste vereiste. En as daar tog maar meer sondebesef was! Dan was die taak van die kerkrade soveel makliker.

As ons tog maar wil insien dat die toekoms met nuwe verleidings en dieptes van Satan kom. Dit gaan so geleidelik en stadig soos ‘n ysgletser. Dit skuif stadig.

Ons het onlangs gelees dat ‘n sekere biskop in Engeland sy geestelikes genooi het om ‘n stil dag by hom te kom deurbring en oor geestelike dinge te gesels. Een van die geestelikes het geantwoord: Nee, ek kom nie, want waar ek arbei, het ons nie behoefte aan ‘n stille dag niemaar aan ‘n aardbewing.

Waarom word daar gedurig gevra: Is dit of dat sonde?

Moet ons dan altyd op die rant van die afgronde wandel in piaas van op die groot en wye pad van goeie werke en geregtigheid wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel?

As die Gereformeerde Kerk se geregtigheid nie oorvloediger is as die van die Fariseërs nie, dan kan ons maar “Ikabod” sê.

Streng moet ons waarsku maar met teerheid.

Lees maar die formulier oor die afsnyding.

Die bestrawwer is daar net so verbrysel as die een wat bestraf word. Hier is geen “ag”- en “wee”-geroep uit die hoogte nie, wat ‘n stinkende hoogmoed en afskuwelike eie-geregtigheid kan wees, maar sielsopregtheid soos die van die moeder van Augustinus wat om haar kind se terugkeer gebid het.

Ons hart moet ween oor verbondskinders wat afgedwaal het. Ons moet by God aanhou.

Die regte lewe onder ons, die ware godsvrug alleen sal ‘n einde maak aan die gesegde : Die Doppers dans en drink en dobbel ook. 

Maar wie is daartoe bekwaam?

Wie kan in die dal van doodsbeendere van sy sonde indaal as Christus se ligtende gestalte nie voorgaan nie?

Ons het dus die twee sake: Skrifgeloof en sondebesef.

As dié daar nie is nie, word daar gepleister met los kalk, maar dit val af, want daar is geen vastigheid in die muur nie.

Laat ons oorweeg dat ons (eerstens) ‘n Gereformeerde Kerk is, maar dan moet ons gedurigdeur die reformasie ter hand neem. Dan is reformasie nie iets net van die 16de en 17de eeu nie.

Die gevaar bedreig ons dat ons nie meer reformeer nie.

Elke lidmaat moet dit as sy plig besef. Want die kerk bestaan tog uit sy lidmate. Anders kry ons ‘n klompie yweraars, en die suurdeeg werk nie deur nie.

In die tweede plek moet ons oorweeg dat ons die Christelike Kerk is.

Met Petrus moet ons Christus sien as Messias.

Hier verkeer ons wel in ‘n ballingsoord, maar daar by Christus is die Messiaanse ryk van vrede. 

Met Paulus moet ons uitroep: Ek weet niks anders as Christus nie, en Hom as gekruisigde

Paulus het Golgota in sy hart gedra, al was hy miskien self nooit daar nie. 

En soos ‘n Johannes op Patmos, wat Hom gesien het as ‘n Lam staande as geslag.

Hulle is ons voormanne deur die Gees gedrewe.

En rondom hulle is daar ‘n skare van profete en martelaars in altydwyer kringe wat in knielverkleining voor die Messias buig.

In die derde plek moet ons oorweeg dat ons ‘n Bybelkerk is, omdat ons glo aan al die boeke van die Heilige Skrif. Wanneer dit tot die punt van die Skrif kom, sê ons, deur Gods genade:  Hier staan ons, hiervandaan versit ons nie, hier hou ons, hier los ons nie. Hier is die woorde van die lewe.

Die Sinode sal moet leiding gee en beslis.

Daar is soveel meninge.

Menigeen het teen die Sinode soos teen ‘n berg opgesien.

Mag ons beskaamd word.

Laat ons ‘n hoë standpunt inneem.

Aan ‘n vergesig het ons behoefte.

Daar is groot dinge, en ons moet groot kan sien.

Laat ons ‘n vaste standpunt inneem, dan sal ons nie vervaard wees nie maar rustig kan besluit. 

Die Here regeer.

Mag God ons sy genade daartoe gee. 

Bron: Die Kerkblad, no. 804, 18 Maart 1936.

___________________________________

* [Opskrif en beklemtonings bygevoeg]

Sien ook TOTIUS: Ware eenheid van gelowiges en gemeentes volgens Johannes 17

Meer Totius artikels hier

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: