TOTIUS: Ware eenheid van gelowiges en gemeentes volgens Johannes 17

WARE EENHEID VAN GELOWIGES EN GEMEENTES VOLGENS JOHANNES 17

deur Totius*

“In die vorige stukke het ons gelet op die toestand van die kerk in die teenswoordige wêreld en op die menigvuldige vorme waarin dit openbaar word» Indié beeld was te sien die trekke van gedeeldheid en verdeeldheid, en die weemoedige vraag het seker by die leser opgekom: Waar is dan die eenheid?

Hierdie vraag, hoe moeilik ook al, roep nou om beantwoording. Ons begin met die teks wat as tema by die sameroeping van die wêreldkonferensie gebruik is en nog aarselend en met ‘n gevoel van beskaming aangehaal word. Dit is die woord van Jesus in die hoëpriesterlike gebed: „Dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het” (Joh. 17:21).

As Jesus hier voor alles om uiterlike eenheid van die Kerk gebid het, dan het sy bede al die eeue deur onverhoord gebly. Maar dit kan nie, want die Here sê elders tot die Vader: „Ek het geweet dat U My altyd verhoor” (Joh. 11:42). Ons moet dus ‘n ander weg inslaan by die verklaring van Joh. 17:21.

Wat word dan daarmee bedoel?

Let daarop dat Jesus eers bid om waarheid in vs. 17: „Heilig hulle in u waarheid; u Woord is die waarheid”.

Teenswoordig word gebid om en gestreef na eenheid, maar daar word net soveel gebid, gespreek, gehandel dat die waarheid mag seëvier? Dit staan vas dat die soek na eenheid met verswakking of verswyging van die waarheid nie ooreenkomstig die gebed van die Here kan wees nie.

Ons weet dan ook dat Calvyn by sy eenheidstrewinge die „waarheid van God” gestel het bo die „eenheid van die kerk.”

Let verder op die woorde „net soos U. Vader, in My en Ek in U”, d.w.s. ons eenheid hier moet ‘n afglans wees van die eenheid van die Middelaar met die Vader — dus ‘n ware, innig deurvoelde eenheid. Eers as die hart van die gelowiges deur die kosbare olie van die liefde gesalf is, kan gesê word: Hoe goed en lieflik is dit dat broers ook saamwoon! (Ps. 133:1).

Ons moet van die standpunt uitgaan dat die kerk, van sy onsigbare, geestelike kant gesien, ‘n eenheid is en nie bloot eenheid gemaak kan word nie. Die kerk is volgens die Skrif ‘n liggaam wat tot organiese saamhorigheid saamgevoeg is. ‘n Lyk ontbind, val in stukke uiteen, maar ‘n liggaam groei deur ‘n allessaamhoudende krag. Hierdie eenheid bestaan ten eerste in die verbinding met die Hoof, Christus (Joh. 17, Ef. 1:22, 23). Al verenig ons al die kerklike institute op die aarde en daar is geen mistieke vereniging met Christus nie, dan geraak ons nie tot die voorgestelde doel nie.

By eenheidstrewings moet dus die vraag vooropgestel word of in der waarheid die oortuiging bestaan dat Christus die enigste en volkome Saligmaker is.

Ten tweede is daar ‘n eenheid van die liggaam (Ef. 4: 4; Rom. 12:4, 5; 1Kor, 12:12). Die enkele gelowiges kan eers tot ‘n gemeente saamgevoeg word en hulle kan eers in wyer kerkverband saamlewe as dié eenheid alreeds aanwesig is. Hy wat uit en in Christus lewe, is alreeds één met sy medegelowige. „Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, so is ons almal saam een liggaam en elkeen apart lede van mekaar” (Rom. 12.4, 5).

Ten derde moet genoem word die eenheid van die Gees, soos ons Nagmaalsformulier spreek van „dieselfde Gees wat in Hom (Christus) as die Hoof en in ons as sy lidmate woon” (Vgl. Ef. 4:4; 1Kor. 12:4 — 6, ens.). Die Gees wat in die gemeente woon, bring die lewensgemeenskap tussen die Hoof en die lede: „Dit is een liggaam en een Gees” (Ef. 4:4). 

Maar daar is nog ‘n verbondenheid wat die Skrif ons leer ken en wel in drieërlei opsig.

Ten eerste die eenheid van die geloof: „Een Here, een geloof, een doop” (Ef. 4:5). Hier moet onder geloof in die eerste plek verstaan word die geloof waardeur ons glo (onderwerplik). Natuurlik sal dit ook verband hou met die geloof wat geglo word, naamlik die belydenis. Maar dié kan eers tot stand kom as die onderwerplike geloof vooraf gaan, naamlik dié wat die Heilige Gees skenk om aan Christus vas te klewe. Soos die skulp hom vassuig aan die rots, so klem alle ware gelowiges hulle vas aan die Rots, Christus.

Wat openbaar word in die geloofsbelydenis (die voorwerplike geloof), t.w. die belydenis van een God en Vader, een Middelaar, een Gees, is dan die gevolg van wat alreeds voorafgegaan het. By almal wat die Christus waarlik bely, moet hierdie geloof een en dieselfde wees. Die rank wat nie in Christus is nie, verdor (Joh. 15:6). Hoe die belydenisse ook al mag verskil, ter saligheid moet daar een geestesuiting wees wat die Christus omhels.

Ten tweede, die band van die liefde. In ‘n liggaam kan die hand en die voet nie teen mekaar stry nie. Die ware gelowiges moet een wees, anders is die liggaam van Christus gedeel, wat nie kan nie. Die liefde word deur Paulus dan ook die band van die volmaaktheid genoem (Kol. 3:14).

Eindelik nog die eenheid van die hoop.

Christus is in die hemel, maar die strydende kerk is nog op die aarde.

Die hoop kan daarom nie gemis word nie: dit is die verwagting om eenmaal te wees waar Christus is (Rom. 6: 4-8, Fil. 3: 10). Die arbeider hyg na die aand, so die gelowige na die dinge wat bo is (Kol. 3). Voorop moet gestel word dat die kerk in wese en kern ‘n voorwerp van geloof is.

Daarom het ons vaders die onderskeiding tussen onsigbare en sigbare kerk gehandhaaf.

Onsigbaar wil sê: „Die inwendige; geloof van die hart, die wedergeboorte, die waaragtige bekering, die verborge gemeenskap met Christus, ens., is geestelike goedere wat met die natuurlike oog nie waargeneem kan word nie, en wat tog aan die kerk sy eintlike forma (gestalte) skenk” (Bavinck: Dogmatiek, IV, bl. 329).

So is dit in die Twaalf Artikels bedoel, en so het die Gereformeerdes dit in hul belydenisse: vasgelê.

Wie sê: Ek glo in God, die Vader, in Jesus Christus, die Verlosser, in die Heilige Gees, erken meteen dat hy geloofsverborgenhede omhels. Maar dan moet hy nie wegswenk as hy by die artikel aangaande die kerk kom nie. Die heilige, algemene Christelike kerk moet óók as ‘n verborgenheid geken word.

Ten grondslag aan die kerk lê die ewige uitverkiesing.

Hier is die openbaarmaking van die ewige welbehae van God. Hier is ‘n geskenk uit die hemel. Ter ere van die Lam word in die hemel gejuig: „U het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Openb. 5:9).

Word met hierdie geestelike gestalte van die kerk, wat fundamenteel is, wel genoegsaam in die praktyk rekening gehou? As daar sprake kom van uitwendig-institutêre, vereniging — word die uitwendige kant van die kerk (die sigbare) nie alte seer op die voorgrond geskuiwe nie?

Alreeds het ons gesien dat die Roomse standpunt (wat onsigbare en sigbare Kerk laat saamval) hierop neerkom: „Wens julle eenheid, dié is daar alreeds. Keer tot ons terug en alles is in orde”. Ook die houding van die Oosters-Ortodokse kerk was op die genoemde wêreldkonferensies dit: „Ons is van die oudste Christendom die draers. Wil julle eenheid hê, kom dan tot ons terug”.

Is dit ook onder Protestante nie soms die gesindheid nie: „Kom oor na my instituut en . . . ons is een”?

Die Kerkblad, no. 996, ‘Eenheid’, 21 Julie 1944.

___________________________________

* [Opskrif en beklemtonings bygevoeg]

Sien die volledige reeks oor die ‘eenheid van die kerk’, in Versamelde Werke, deel 2 (Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers, 1977, bl. 92-113).

One thought on “TOTIUS: Ware eenheid van gelowiges en gemeentes volgens Johannes 17

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: