Die saligprekinge (7): Salig is die vredemakers

DIE SALIGSPREKINGE (7):

SALIG IS DIE VREDEMAKERS

deur Totius

(Inleiding op bergpredikasie hier beskikbaar, ander saligsprekinge-oordenkings hier beskikbaar.)

Lees: Openb. 22.

Sing: Ps. 37:19; 85:3; 4; 119:62.

Teks: Matth. 5:9: Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

Salig is die vredemakers!

Hier het u die sewende woord van saligheid. Die sewende en feitlik die laaste. Die heilige sewetal, die skone ry van sewe, is daarmee volledig. Wat verder volg, is aanvoegsel, iets ekstras, iets besonders; wel heerlik op sigself maar tog bykomstig by die voorafgaande.

Wat ‘n mooi reeks. Die een saligspreking sluit by die ander aan. Die een vloei uit die ander voort. Daar is ‘n opeenvolging op grond van inwendige drang. Dit gaan van saligheid tot saligheid, van heerlikheid tot heerlikheid. Altyd verder en altyd hoër!

Hier is ‘n Jakobsleer, “wat op die aarde opgerig is en waarvan die spits tot aan die hemel reik”. En ons kan daar byvoeg: “Die engele van God klim daarlangs op en daal daarlangs neer”.

Langs hierdie ligleer beweeg die nuwe mens in die weg van die aanskouing van God. En terwyl hy styg, omsweef die hemelse glans van ‘n engeleskare hom.

Hier word ‘n leer geplaas wat tot aan die aarde raak. Die begin is tog: armoedigheid van gees. Maar die spits reik tot aan die hemel. Op die laaste sport het die salige woord betrekking: “Hulle word kinders van God genoem”!

Maar is dit nou werklik die laaste en die hoogste? Kan by daardie sesde woord van saligheid werklik nog ‘n sewende gevoeg word? Die reinheid van hart en die aanskouing van God — is dit dan nie alles wat die mens kan begeer nie? Is die toppunt van heil nie daarmee bereik nie?

Om hierop te antwoord, moet ons in die betekenis van hierdie sewende woord indring, moet ons let op

  1. die vredemakers,
  2. wat kinders van God genoem word. 

 

1. Die vredemakers

“Vrede!”

Watter weeldewoord in die gewoel van die wêreld! Rondom ons bots en bruis dit: mens teen mens, verstand teen verstand, krag teen krag, beroep teen beroep, party teen party, koninkryk teen koninkryk, volke teen volke — alles saam ,,’n gedruis soos die gedruis van geweldige waters”.

Die see het ewenwel sy eiland en sy ver kus, sy grens van beweging en onrus. Maar die see van die lewe rol in eindelose deining voort en ken nêrens ‘n hawe van vrede nie.

Die wêreld het sy Sabbat van vrede, sy rus in God verloor. Nooit kan dit sê: “Hier is die rusplek” nie. Duisende harte sug en duisende kele kerm dit uit: “Hoe word ons mishandel en hoe lank nog!”

Die diep kwaal van die sondaarshart word in daardie een woord blootgelê: “Geen vrede, sê die HERE, vir die goddelose nie!” (Jes. 48:22;  57:21).

En wat moet ons nou sê van meer as die helfte van die wêreld wat nou al drie jaar lank openlik in oorlog verkeer? Dit het weer luid verkondig dat die uitnemendste, die beste waartoe dit kan kom, volkeremoord en wêreldbrand is. Die ewige Sabbat sal die wêreld in homself nie kan vind nie, want sy wurm sterf nie en sy vuur word nie uitgeblus nie.

Maar nou kom God met daardie ander woord, daardie eindwoord van vrede in Christus Jesus, onse Here. Voordat die profeet dit uitroep dat die goddelose geen vrede het nie, sê die Here dit: “Ek skep die vrug van die lippe; vrede, vrede vir die wat ver en die wat naby is” (Jes. 57:19).

Daardie woord vrug het in die oorspronklike ‘n kragtige en unieke betekenis. Dit kan vertaal word met “pragspruit”. Die profeet gee te kenne dat die verkondiging van vrede die hoogste en edelste bloei van alle profesie is. Hoër kan hy nie; meer kan hy nie; hy het die toppunt bereik.

Dit is dieselfde wat Jesus doen, ons groot Profeet. Die sewende saligspreking bring vir ons die woord van vrede. Jesus roem die geluk van die vreedsame of, liewer: van die vredemaker, want só staan dit letterlik daar: Salig is hy wat die goddelike vrede deelagtig is en wat nou self in die wêreld die vrede stig.

Die boom van saligsprekinge dra die pragblom van vrede. Op die gesalfde lippe van Jesus bloei eindelik die vredewoord, omdat Hy deur sy lyde en opstanding die Vredevors geword het.

As hierdie saligheid uitgespreek is, in die mensehart oorgeplant is en daarvandaan vredemakend die aarde seën, dan, ja, dan is die hoogste goed bereik.

Maar let nou eers op die grondslag van hierdie vrede wat alle verstand te bowe gaan. Die vredemaker moet nie net kan sê: “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God” (Rom. 5:1) nie, maar hy moet ook kan roem: “Salig is die wat rein van hart is” (sesde saligspreking).

Die blom van vrede bloei alleen in die gereinigde hart.

Op die wêreld word daar gedurig vrede gestig, maar dit is klein van krag en kort van duur. Dit kan nie stand hou nie, omdat dit in die grond van ‘n onrein hart wortel. Daar is skyn maar geen wese nie; valsheid maar geen opregtheid van gemoed nie.

So ‘n vrede begeer ons nie, want netnou bars die kwaad nog erger daaruit voort.

Alle bybedoelings, alle bedrog, alle lis en onwaaragtigheid moet eers afgestroop wees voordat die vrede van Jesus sy palme wuif.

Daarom is dit nodig dat ons ons aangord tot die vredeswerk; dat ons die Here ernstig bid om ‘n rein hart en ‘n opregte gemoed.

Die stryd moet by onsself begin, en die oorwinning moet oor onsself behaal word. Die vrede van Jesus is ‘n stryd teen die sonde en word teen ‘n bloedige prys gekoop.

Daar word vandag in Europa gepraat van “vrede deur oorwinning” en van “vrede op die slagveld”. Daarmee word bedoel dat die stryd tussen die nasies uitgeveg moet word. Hulle wil nie ‘n halwe, ‘n “opgelapte” vrede hê — wat maar net die grondslag van groter kwaad kan wees nie. Hulle wil uitveg, sodat dan lank gerus kan word!

Nou ja, wat hier maar skyn is, is in die koninkryk van die hemele hoë werklikheid. Namate deur die genade van God die vrede binne-in ons duursaam is, na daardie mate sal ons vrede stig in die wêreld buite ons.

Vervolgens moet u dan let op die aanskouing van God, wat aan die reinheid van hart verbind word. As u oog eenvoudig is, sien u God, sien u Hom by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie, wie se troon stil en onbewoë bokant die aardbol staan. Watter rusbrengende gesig! Watter helder, vaste ster hoog bokant die donker stormwolke van hierdie lae, felbewoë aarde!

Wie God aanskou, besit die vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Die natuurlike mens het daarvan nie ‘n begrip nie, omdat hierdie vrede midde-in die gevaar ons siel en sinne bewaar. “Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see” (Ps. 46:3). As God met ons is, wie kan teen ons wees?

Wie die vrede van God deelagtig is, kan ook vir ander rus bring. ‘n Mens bewonder vanself die kalmte, die onverskrokkenheid, die rustige hoogte van die man van vrede. Hy sien God in sy onbewoë heerlikheid; daarom besit hy die krag om jou op te trek uit jou modderige slyk, om jou voete op ‘n rots te stel wat anders vir jou te hoog sou gewees het.

Helaas, ons ken hierdie vrede so min! Die worstelende jare van ‘n lang lewe is nodig om ons die regte genieting daarvan te bring. Maar gelukkig sal die einde van daardie man (die gelowige) vrede wees.

2. Wat kinders van God genoem word

Die vredemakers verwerf vir hulle ‘n eretitel, nl. kinders van God. Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

Ons dink gewoonlik nie veel van ‘n naam nie. Dit is vir ons meestal ‘n leë klank. ‘n Mens word in die omgang nou wel so genoem, maar hy kon net sowel anders geheet het. Sy wese, sy diepste lewens-wortel is tog nie daarmee gemoeid nie — so dink ons.

Maar by God is dit anders. As die Here iemand ‘n naam gee, dan is daardie persoon wat sy naam vir ons sê. Daarom ook dat die Skrif soveel waarde aan ‘n naam heg. Christus neem dan ook nie afskeid van die armes, die treurendes, die sagmoediges, die hongeriges, die barmhartiges, die wat rein van hart is, die vredemakers, voordat Hy hulle met ‘n naam, ‘n allesomvattende naam genoem het nie. Hierdie naam roep Hy uit as Hy eindelik sê: Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

Hoe kan ‘n arme mensekind nog meer verwag? Die afkoms uit die hoogste adel kom nie daarby nie. Watter weelde is dit om kinders van God genoem te word, omdat ons nou werklik kinders van God is!

Die dissipel is weer soos sy Meester; die skepsel dra weer die beeltenis van sy Skepper. Hulle staan weer in die verhouding van Vader en kind. Wat in die paradys verlore gegaan het, word nou herwin om nooit weer verlore te gaan nie. “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun” (Rom. 8:29). En wie die gelykenis van die Seun dra, het hom met die nuwe mens beklee “wat vernuwe word na die beeld van sy Skepper1(Kol. 3:10).

Hoe moet dit verklaar word?

Daar word gesê dat ‘n man en vrou wat in die huwelik saam-gebind is en saam oud geword het, naderhand na mekaar begin lyk. Dat hulle mekaar soveel jare lank wedersyds sien, roep die diepere trekke van wesensgelykheid te voorskyn.

Maar laat ons ‘n ander, duideliker voorbeeld neem: Die blom maak sy kelk oop en staar in die gesig van die son van die môe tot die aandskemering. Deur daardie stil staar neem die blom die glanse en die kleure van die son in hom op. Dit word volgens daardie hemelbeeld verander van gedaante tot gedaante, van kleureprag tot kleureprag.

As u die blom uit die sonlig wegneem, as dit in die skaduwee te staan kom, dan vervlieg sy glanse en verbleek sy kleure: dit sien die beeld van sy son nie meer nie!

So, en baie sterker, skou die siel na bo. Sy oë is gedurig op die Here om van gedaante verander te word, om in heerlikheid toe te neem.

So, en baie sterker, word hy deur die goddelike Sonnebeeld belonk, totdat sy blomkelk volmaak is as hy oopgaan in die môrestrale van die ewige lig.

Daardie dag sal kom, en die skaduwees sal wegvlug. Dan sal ons kinders van God wees en daarom die naam kinders van God waardig dra.

“Ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. Elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:2, 3).

“(Sy diensknegte) sal sy aan gesig sien, en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees”  (Openb. 22:4).

Hiermee is ons saligheid voltooi, is die laaste sport van die leer bereik.

Mag die Here ons deur en in die verheerlikte Middelaar hierdie aanskouing gee, en mag Hy ons hierdie naam gee!

AMEN.

___________________________________

* Beklemtonings en subopskrifte bygevoeg.

Bron: ‘Versamelde Werke van J.D. Du Toit (Totius)’, deel 2: bl. 57-103 (Johannesburg: Dagbreek-Boekhandel 1960 uitgawe). 

Sien ander saligsprekinge-oordenkings asook ander Totius artikels hier

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: