Die saligprekinge (1): Inleiding op die bergpredikasie en saligspreking 1, deur Totius

DIE SALIGSPREKINGE (1):

DIE KENMERKE VAN EN BELOFTES VIR DIE BURGERS VAN DIE KONINKRYK VAN GOD*

deur Totius

Inleiding – S. Le Cornu

Hierdie Skrifoordenkings of preke van Totius is baie kosbaar, en daarom het ek besluit om dit hier aan die einde van die jaar 2022, en die begin van 2023 op my blog te plaas, een vir een. Ek het die hoofopskrif* bygevoeg en hier en daar tegnies versorg vir die huidige leser, gebruik dit gerus vir persoonlike stiltetyd, huisgodsdiens of bybelstudie.  Dit is ook baie goeie oordenkings vir jongmense.

Mag dit ook vir u, en u gesin en gemeente bemoedig om die goeie stryd van die geloof tot die einde toe te stry (2 Tim. 3:15-4:8), met die wonderlike troos van die beloftes van ons Here Jesus vir elkeen van sy kinders op hul pelgrimspad tot eer van God:

Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matt. 6:33)

Nota: die teks kom uit ‘Versamelde Werke van J.D. Du Toit (Totius)’, deel 2: bl. 57-103 (Johannesburg: Dagbreek-Boekhandel 1960 uitgawe). Beklemtonings bygevoeg.  

______________________________________________

INLEIDING OP DIE BERGPREDIKASIE EN SALIGSPREKING 1

SALIG DIE WAT ARM VAN GEES IS

Lees: Matth. 5:1-20. Sing: Ps. 72:2;  130:1, 4;  146:4, 5.

Teks: Matth. 5:3: Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Ons sal nou saam oordink die wonderskone, diepsinnige saligsprekinge van ons Here Jesus Christus. En daarby sal ons op twee punte let:

  1. Op die “bergpredikasie” self en
  2. op die eerste saligspreking. 

1. Inleiding en oorsig op die bergpredikasie (Matt. 5-7)

By hierdie eerste punt sal ons ondersoek instel na die omstandighede waaronder Jesus hierdie rede uitgespreek het, om daarna kortliks te let op die inhoud van die rede.

(a) Jesus preek in die vrye natuur.

Dit het Hy baie dikwels gedoen. Nooit was dit egter gepaster as juis by hierdie geleentheid nie, want meer as Moses is hier. Daarom moet die hemel sy ore neig en moet die aarde die woorde van sy mond hoor (Deut. 32:1).

Nie ‘n sinagoge of tempel, nie ‘n kerk of ‘n katedraal nie maar hemel en aarde is die grootste getuies van Jesus se woorde. Hulle moet verneem wat die Ewige Woord sal verkondig aangaande die koninkryk wat immers hemel en aarde omspan. Ja, hier is ‘n groot woord van die groot Profeet;

– ‘n woord oor alle mense, regverdiges en goddelose,

– ‘n woord oor hemel en hel;

– ‘n woord oor die nuwe aarde en die buitenste duisternis.

Bokant Jesus welf die hoë hemel. Voor Hom strek die aarde ver uit. Hy sit teen die helling van ‘n berg. Dis daar dat Hy gaan spreek.

o Erediens in die ope veld,

waar lewe en waarheid ongedeeld,

in eenheid kom van klank en beeld,

in spraak van taal en werklikheid.

Van hierdie berg — die natuurlike ontmoetingsplek van hemel en aarde — sal die woorde klink wat ‘n keerpunt in die geskiedenis van die wêreld sal wees. Van hierdie berg af sal gehoor word die klanke van saligheid en seëning. Die jaar van die welbehae van die Here sal daar luid geboodskap word, en eers aan die einde van die rede sal die nag van die wraak duidelik aangekondig word.

Vanself dink ons hier aan daardie ander berg, aan Sinai, waarop God in donkerheid en onweer neergedaal het om die woorde van sy wet uit te spreek. Maar toe die kinders van Israel dit nie kon hoor nie, sê hulle vir Moses: “Spreek u met ons, dat ons kan luister; maar laat God nie met ons spreek nie, anders sterwe ons”.

Maar kyk, hier op die berg van saligsprekinge tree ‘n ander Moses op. Hierdie een is die Middelaar van die nuwe verbond, wat gekom het met die duidelike en blye openbaring van saligheid en seën.

Het God dan sy heilige wet ontbind?

Sekerlik nie; maar Christus is die einde en die vervulling van die wet (Matth. 5:17; Gal. 3). Daarom is daar ook nie meer vervloeking vir die wat in Hom glo nie.

Waar die Israeliete dan ook vroeër padgegee het van Sinai af, daar sien ons nou hoe die dissipels en die skare (5:1; 7:28) na die hoogte van saligspreking toestroom. Hier donder dit nie, maar dit drup van vettigheid. Die eerste woord wat oor die lippe van Jesus kom, is die uitroep “salig”,”salig”, nie minder as 9 maal nie.

(b) Maar hierdie saligsprekinge staan nie heeltemal afgesonder nie.

Hulle vorm die voorportaal van die skone gebou wat ons gewoonlik die “bergrede” noem. Hier het ons dus die ingang, wat ons uitnooi om binne te kom om die skatte van die wysheid van God te bewonder.

Daarom moet ons eers, al is dit ook hoe vlugtig, ‘n blik op die geheel werp.

Die rede van Jesus is ‘n eenheid wat ons in drie dele kan onderskei:

i. Daar is eers die uitnodiging om in die skone belofte van saligheid in te kom (5:3-20);

ii. daarna die eis van geregtigheid en heiligheid, om te word wat mens is, nl. kinders van God (5:21-7:14), en

iii. eindelik die waarskuwing vir die komende gerig (7:15-29).

In die eerste deel tref ons hierdie drie punte reeds aan:

i. Daar is dan die belofte van saligheid (vs. 3-12),

ii. wat gevolg word deur die eis dat ons ons lig moet laat skyn (vs. 13-16), en

iii. dit word beëindig met die waarskuwing dat ons geregtigheid oorvloediger moet wees as die van die Skrifgeleerdes en Fariseërs, as ons in die koninkryk van die hemele wil ingaan (vs. 17-20).

Die tweede hoofdeel kom met die wet, wat aan die kind van God gegee is as reël van dankbaarheid. In drie teenstellings word aan ons gesê hoedanig ons geregtigheid moet wees:

i. nie soos die van die Fariseërs nie (5:21-6:18);

ii. nie soos die van die heidene nie, want hulle leef slegs vir die hede 6:19-34), en

iii. nie soos die van die skyngelowiges en die mondbelyers nie (7:1-14).

Hierdie afdeling bevat die vernaamste deel van die rede, en die leser word versoek om die aangeduide punte self in sy Bybel na te gaan.

Eindelik volg dan die slotwaarskuwing.

Die nou poort aan die einde van die pad word sigbaar. Daardeur sal niemand kan ingaan net deur Here! Here! te roep nie. Iemand wat hom daarop verlaat, bou op sand. Die val van sy huis sal groot wees.

Dit is dan die samevatting van ‘n mooi sluitende geheel.

O, mag baie hierdie bergpredikasie lees en verstaan, en mag dit aan baie gegee word om in te gaan deur die nou poort wat na die ewige lewe lei.

2. Saligspreking 1: “Salig is die wat arm van gees is”.

Wat beteken dit? Wat het aanleiding gegee tot die uitspreek van hierdie woorde? Wat is die regte betekenis daarvan? Hoekom begin Jesus daarmee?

Dit is drie vrae wat nou behandel sal word, om langs hierdie weg deur te dring tot die ryke inhoud van die eerste saligspreking.

(a) Daar was ‘n voor die hand liggende aanleiding vir Jesus om die armes van gees salig te noem. Maar om dit te sien moet ons na die Ou Testament teruggaan.

Die woord arm is die vertaling van ‘n Hebreeuse woord waarmee die verdrukte en onderdrukte aangedui word, hulle wat onder ellende en nood gebuk gaan en wat in die wêreld geen reg en geen helper het nie.

“Arm” is dus in die Skrif ‘n veelomvattende begrip en baie ryker van betekenis as by ons. Armoede was daar nie net ‘n stoflike nood nie. Nee, die aardse teenspoed het by die ware Israeliet die gevoel gewek dat hy van God verlore was. (Lees Ps. 73 in hierdie verband.)

In armoede is gesien ‘n besoeking oor sonde wat die mens self bedryf het; en hierdeur is ‘n honger en dors na die geregtigheid van God opgewek. So het die woord arm ‘n godsdienstige betekenis verkry. Dit was dus heeltemal anders as by ons, waar die armoede meestal eindig met gevoelloosheid, onverskilligheid of botte verset teen die rykes.

In die begin was daar egter nie baie armes onder Israel nie Sedert die ballingskap het die volk egter arm geword, ‘n toestand waarin Jesus baie aangetref het toe Hy op aarde verskyn het Moet ons ons dan daaroor verwonder dat Hy sy eerste woord tot die armes rig?

En is dit so onverstaanbaar dat Hy hulle “armes van gees” noem?

Die werklik armes is mos die swakkes, die wankelendes, die wat deur die wêreldse magtiges onderdruk word en wat bowendien ook meen dat hulle van God verlate is. Hulle gees is leeg getap, en die krag van hulle bestaan is weg.

“Salig is julle, armes!” sê Jesus.

Dit is die regte toestand vir die sondaar om gered te word en veronderstel dan ook reeds die genadewerk van die Heilige Gees.

O, hoe lieflik moet die woord geklink het in die ore van hierdie skare, verdruk soos hulle was deur die Romeine, belas soos hulle was deur die insettinge van die Fariseërs! Dit kon aan hulle oë gesien word dat hulle in hulle hart sê: “Ai! Hier hoor ‘n mens iets nuuts; hier is ‘n man wat anders praat as die skrifgeleerdes; so iets het ons nog nooit gehoor nie!”

(b) Hiermee het ons dan die weg gebaan om die ware betekenis van hierdie saligspreking oop te vou. Diepsinnige onderskeidinge sal ons hier niks baat nie. Ons moet by die tasbare bly.

Wie is werklik arm van gees?

‘n Kind, want ‘n kind besef slegs dit dat hy niks het nie en dat niks is nie. ‘n Kind is net ryk in die kennis van sy behoefte; in die wete dat hy alles net in sy vader en moeder besit.

Die saligspreking is dan ook allereers van toepassing op die breë skare van uitverkore kinders, van wie Jesus op ‘n ander plek sê: “Aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele” (Matth. 19:14).

Watter troos is dit vir die gelowige ouerhart!

Want, ag! so baie kinders, ja, soveel as die helfte van die mensheid, sterf voor hulle sewende jaar. Hoe salig is dit daarom dat gelowige ouers dit mag weet: Ons kinders was arm van gees, maar die koninkryk van die hemele behoort aan hulle. Hulle geringheid, hulle armoede van gees, hulle gebrek aan geestelike besef en geestelike ontwikkeling is nie ‘n hindernis vir hulle om in die ewige lewe in te gaan nie. Aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Vandaar dan dat Jesus aan die volwassenes met ‘n plegtige “voorwaar” sê: “As julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie” (Matth. 18:3).

Hier, in die eerste saligspreking word ‘n armoede veronderstel wat so groot is dat dit net deur die Gees van God gewerk kan word.

Die Here wil die sondaar laat verstaan dat hy niks het waarop hy hom voor God sal kan beroep nie; ja, ook die besef van geestelike armoede is ‘n werk van die genade van God.

Hier is die eerste gestalte van hulle wat tot die lewe kom.

Vandaar dat daar geskrywe staan dat Jesus gekom het om “aan die armes die evangelie te verkondig” (Matth. 11:3). Dit is alles genade, en dit kan net hy verstaan wat deur en deur arm van gees is, behoeftig, nooddruftig, ellendig in sy hele bestaan voor God en mens. Hier is die fondament van alle ander saligheid.

 (c) Waarom Jesus met hierdie saligspreking begin

Nou dat ons tot hierdie punt gekom het, kan dit reeds vir ons duidelik wees waarom Jesus met hierdie saligspreking begin. Ons, volwassenes, wil maar nie verstaan dat God die Eerste is en niemand anders nie. Al is dit nog so min, maar iets wil ons tog darem alte  graag  van  ons  kant  doen.

Die een vra: Moet ek treur om die saligheid deelagtig te word? Nee, broeder, suster, u is reeds een stap te ver. U wil die tweede tree maak voordat die eerste gemaak is. U wil u treurigheid aandra as u aandeel in die verlossing. Dit laat God nie toe nie. Ook die treurigheid moet die vrug van sy genade wees; en dit word in die eerste saligheid van die armoede van die gees aan u geskenk.

‘n Andereen sê: Moet ek sagmoedig wees, of moet ek honger en dors en soek na heil; of moet ek barmhartig wees, of moet ek eers my hart reinig van die sondesmet? Nee, u is almal veels te ver. Dit is u eie, dit is menslike beginsels, wat telkens en telkens weer op die proef gestel word. Daar bly net één ware begin van saligheid, naamlik: om voor God niks te wees nie, sodat sy genade alles mag wees.

Wat ‘n saligheid!

Sal ons dit nie dan eers verstaan wanneer ons in die magteloosheid van die dood wegsink nie; dan wanneer alles ons ontval en nog net die kinderlike gevoel stamel: Dis alles weg, maar God is nog daar?

En wat is nou, eindelik, daardie koninkryk van die hemele, wat hier beloof word?

Met hierdie woord sluit Jesus aan by die prediking van sy voorloper, Johannes die Doper. Hy het uitgeroep: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matth. 3:2).

Hierdie uitdrukking kom nie in die Ou Testament voor nie. Daar is alleen sprake (al is dit nie met dieselfde woord nie) van ‘n “koninkryk van God”. Die Psalmis sê: “Die HERE, die Allerhoogste, is gedug, ‘n groot Koning oor die hele aarde” (47:3). En Sagaria profeteer: “En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde” (14:9).

Die uitdrukking “koninkryk van die hemele” kom by Mattheüs omtrent altyd voor in plaas van  “koninkryk van God”,  die ander naam wat deur die orige evangeliste gebruik word.

Wat bedoel Jesus as Hy aan die armes die koninkryk van die hemele toesê? Word daarmee bedoel ‘n koninkryk wat in die hemele opgerig gaan word ? Nee, dit kan dit nie wees nie. Reeds by Johannes die Doper is dit nie die geval nie. Hy staan tog immers op die aarde, sodat die aarde die plek is waar die koninkryk van die hemele, wat naby is, verwag moet word? Ook Jesus gee hoegenaamd nie te kenne dat die armes van gees dadelik in die hemel weggeruk sal word nie. Die teendeel sal duidelik uit die volgende saligsprekinge blyk.

Die benaming “koninkryk van die hemele” sien dus op die oorsprong van die ryk. Dit kom nie uit die aarde nie; is dus nie aards en sondig nie; maar dit kom uit die hemel en is daarom hemels en heilig.

Dat die hemelse ryk later op die aarde sal neerdaal en ook die aarde sal omvat, word hier glad nie ontken nie.

Dit is dan die belofte: die armes van gees is in beginsel reeds besitters van ‘n hemelse, goddelike, ewige koninkryk.

Mag God ons by die uitnodiging ook die gawe van hierdie saligheid deur Jesus Christus, onse Here, gee.

AMEN.

___________________________________

* [Opskrif en beklemtonings bygevoeg]

Die ander saligsprekinge oordenkings asook ander Totius artikels hier

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: