TOTIUS OOR DIE WESE VAN KERK WEES: DIE VERBORGENHEID VAN DIE GODSALIGHEID WAAROOR ONS BLY IS! (1 TIM. 3:16)

TOTIUS OOR DIE WESE VAN KERK WEES VIR BEIDE DIE PLAASLIKE KERK EN KERKVERBANDE: DIE VERBORGENHEID VAN DIE GODSALIGHEID WAAROOR ONS BLY IS! (1 TIM. 3:16)

[Hierdie sinodale openingswoord is deur Totius uitgespreek by die aanvang van die Sinode op 24 Januarie 1945, in die Gereformeerde Kerk Potchefstroom.]

Lees: Ps. 122 en 1 Tim. 3:1-16.

Ter wille van my broers en my vriende wil ek spreek: Vrede in jou! Ter wille van die huis van die  Here onse God wil ek die goeie vir jou soek” (Psalm 122:8–9)

En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die  vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid.” (1 Timoteus 3:16)

Inleiding

Ek dank die voorsitter van die laasgehoue Sinode dat hy my vereer met die versoek om by  hierdie geleentheid die sinodale openingswoord te spreek. Ek het eers geaarsel maar ‘n oomblik later besluit om aan die vererende opdrag gevolg te gee, veral omdat dit in my gedagte gekom het dat dit, sover ek kan sien, die laaste Sinode sal wees wat ek as professor in aktiewe diens sal bywoon.

By so ‘n geleentheid bestaan die neiging om te dink en te peins oor die dinge wat met hulle  geweldige sleepsel agter ons lê, om lank en langsaam te dink, as ‘t ware met die verkyker in die hand, totdat gebeurtenisse uit die verste verlede by ons kom staan, terwyl wat rondom ons is, eerbiedig na die agtergrond wyk.

Ons wil dink maar ook dank en die lof van die Here vertel, soos die sangers uit die voortyd gedoen het. Sulke gedenkdae mag nie wegbly saam met die reekse gebeurtenisse wat soos ‘n stroom by ons verbygaan nie. As hulle maar die wydingsmerk van aanbidding en danksegging dra!

Op 26 September 1903 is ek hier tot die leraars- en herdersamp ingelei deur wyle ds. M.  Postma, destyds predikant van al die gemeentes op die Rand. In hierdie selfde gebou en met hierdie selfde woorde uit Ps. 122:8,9 het ek my toe van hierdie kansel aan die gemeente verbind. Ek wil nou weer ten eerste oor dié woorde spreek.

Hulle is allesins gepas in hierdie stond, want by ons almal moet veronderstel word die strewe om die goeie vir Jerusalem te soek. En vir ons almal staan die jare, van korter of langer duur, gereed om die antwoord op ons doelstelling te vra.

Psalm 122 se heimweë en vreugde oproep

Wat ‘n kort psalmpie! En wat ‘n ingehoue meesterskap! Hier is ‘n egte digtersiel aan die woord, ‘n man wat oorstroom is deur ‘n gevoel van salighede, maar wat ook tegelyk weet dat elke taalskat te arm, absoluut ontoereikend is om die bedding vir sy gevoelstroom te wees.

Vandaar die eenvoudige: Ek was bly – bIy toe hulle my opwek om na die huis van die Here te gaan. Ek was bIy-dit is die stameltaal ook van die allereenvoudigste as hy dié wonder van onuitsegbare emosie belewe.

So vinnig vlieg dit deur hom heen dat hy, die bedevaartsganger, miskien afkomstig uit ‘n verwyderde hoek van die heilige land, in die tweede vers Jerusalem al bereik het: “Ons voete staan in jou poorte, o Jerusalem“.

Nie lank daarna nie hoor ons al die vreugdegroet; ‘n gepaste afskeidsgroet.

Dit is opmerklik hoe besoekers van die heilige land hul onmag bely om aan hul ongekende gewaarwordinge uiting te gee by die eerste blik op Jerusalem.

My vader sê in sy Bybellande deurreis: “My eie gewaarwording by die eerste gesig op Jerusalem kan ek so weinig beskrywe dat ek liewer die beskrywing van ‘n ander reisiger oorneem”. Hy haal dan aan wat Manning daarvan skrywe: “Elke reisiger hou hier halt. Selfs die ligsinnigste voel hom tot ‘n plegtige stilswye gedronge. Nie weinige aanskou hierdie toneel met trane in die oë nie. Dit is JERUSALEM!

Die oomblik wanneer sy sombere, versterkte mure, minarette en koepels hulle die eerste keer aan die oog vertoon, kan nooit weer vergeet word nie. Die droombeeld, die verwagting van ‘n ganse lewe is vervul. Die een gedagte: Ons voete staan in u poorte, o Jerusalem!’ verswelg al die ander”. So word dan maar weer die woorde van die heilige sanger deur Manning in die gedagte teruggeroep.

Self het ek, by die eerste aanblik van die stad, gepoog om iets van my ontroering aldus weer te gee: “Die gewaarwordinge … Hieroor kan ‘n mens net stamel met woorde so kort en onsamehangend soos dié van ‘n pasgespeende kind. ‘n Onbekende stad, nog nooit gesien nie, net die verlange in die hart… of dit ooit sal gebeur! En daar is dit nou! Die berge dra nog die boodskap en die dale sê: Hier was dit! Hier het die heilige, hemelse vuur gebrand en het God direk deur wonders gespreek, wonders van verlossing wat in Christus hulle hoogtepunt bereik het.

En nou sien ek die plek!

‘n Onbekende stad en tog ‘n ou bekende. Bekend uit die Bybel, wat nou met nuwe glanse oorgiet word. ‘n Ou bekende … en die gevoel van ‘n verlore seun wat teruggekeer het. Daar is die vaderhuis en die moederstad. Nog ‘n blik omhoog en … die ewige dinge kom nader: die hemelse Sion waar Christus is“. [Kyk Bybellande deurreis]

Toe ons die stad verlaat het, het my reisgenote saam met my swyend in die kompartement gesit. Ons was hartseer. Dit het gevoel of ons ons tuiste verlaat!

Waarom was dit so?

En terwyl die teenswoordige reisiger ‘n toneel van verarming en verwaarlosing aanskou in teëstelling met wat die pelgrimsanger gesien het. Die omgewing van Jerusalem is betreklik dor, Karooagtig sou ons sê. En Jerusalem is nie meer gebou soos ‘n stad wat goed saamgevoeg is nie.

Tussen die swaar klipmuur wat Soleiman in die 16de eeu daaromheen gebou het, gevaartes van meer as 30 voet hoog, lê die opeengehoopte huise onordelik saamgepak. Die strate is gangetjies. Selfs die tempelplein, nou ‘n Mohammedaanse heiligdom, met sy kosbare kunsgewrogte, die Rotskoepel en die Aksa-moskee, gee nie die indruk van goed versorg te wees nie. Dit is nie meer ‘n stad van Dawid en Salomo nie, selfs van Herodes die Grote nie. Eségiël het al die heerlikheid van die Here uit die stad sien vertrek [Sien die gedig ‘Die mure van Jerusalem’ in ‘Skemering’]. En ná die verwerping van Christus het ‘n geheimsinnige vloek op die omgewing neergedaal. Die marmergestalte van die stad het verdwyn.

Die belangrikheid van Jerusalem

Vanwaar dan die gehegtheid aan hierdie plek? Die antwoord is: 

– Hier het die heerlikheid van die Here sigbaar gewoon tussen die gérubs in die binneste heiligdom.

– Hier het Israel gekom om die Naam van die Here te dank (vs. 4). En die Naam is die openbaring van die Here.

– Hier het “die stoele van die huis van Dawid” gestaan (vs. 5), versinnebeelding van “die heerskappy van die groot Dawid-seun, in wie se naam eenmaal alle knieë hulle moet buig” (Fil. 2:10) (Wielenga: De Bijbel als Boek van schoonheid, bI. 333).

-Maar hier lê ook Getsernané, Gabbata, Golgota, die Graf van die Opstanding en die Olyfberg, die trappe waarlangs die Middelaar verneder is en daarna tot heerlikheid opgeklim het.

As die skulp ons dan al só aantrek, hoe skoon moet die pêrel wees wat daaruit verwyder is!

As die eggo’s al nie wil wegsterf nie, hoe moet die klokgelui van sabbatsvrede wees! “Vrede in die vesting“. Kersfeesklokke in ‘n wêreld ‘van onuitroeibare onvrede!”

Ons moet verder gaan.

Met aandagtige liefde betrag die sanger hierdie verborgenheid. Hy wil die goeie soek vir die stad: (1) ter wille van sy broers en sy vriende, en (2) ter wille van die huis van die Here ( vss. 8 en 9).

Wat beteken dit vir ons?

Jesus en Psalm 122

Jesus het ons losgemaak van die tempel. Die gesprek met die Samaritaanse vrou sê hier alles. Op reis na GaliIea het Hy by die Jakobsbron gaan sit, wat nou nog te sien is langs die weg daarheen. Hoog rys die ronding van die berg Gerisim in die onmiddellike nabyheid. Bo-op die berg staan ‘n tempel, waarvan die ruïnes nou nog te sien is. En nou die ontsaglike woord wat feitlik twee bedélings van mekaar skei: “Vrou, glo My, daar kom ‘n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie” (Joh. 4:21).

Uitwendige siening het nou afgedaan.

Rome kan Jerusalem nie vervang nie.

En as die Roomse sê: “Waar die Pous is, daar is die kerk,” antwoord ons: Nee, waar twee of drie in die Naam van Christus vergader, daar is Hy, en daar is die kerk.

Geen tempel, geen gebou, geen mens, geen genootskap, geen organisasie kan, as uitwendige selfwaardigheid, ooit meer met reg en in waarheid op die naam kerk aanspraak maak nie. Daarom sê Jesus verder aan die vrou: “Daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in ge-es en waarheid sal aanbid” (Joh. 4:23).

Drie bedélinge moet onderskei word: (1) die bedéling van die skaduwees, (2) die bedéling van die werklikheid en (3) die bedéling van die heerlikheid, wanneer hier alles verby sal wees. Die eerste is gewees (onder Israel). Die tweede is die uur waarvan Jesus gesê het: “Dit is nou” – die werkIikheid.

Maar, wat dikwels vergeet word – daarom het die kerk ook wel sy penne so diep in ons aardse bodem geslaan – dit is ‘n geestelike werklikheid, ‘n geloofsverborgenheid… Christus het hierop heengewys toe Hy van die aanbidding “in gees en waarheid” gespreek het.

Laat ons nou luister na ‘n lied uit die Nuwe Testament om in te sien hoe die profetiese aanvoeling van die sanger van die ou tyd in vervulling gegaan het.

Psalm 122 en 1 Timoteus 3:16 gaan oor een heilige algemene christelike kerk

Paulus, die sanger van die nuwe bedéling (dink bv. aan Rom. 8:18-39 en 1 Kor. 13), breek in ekstase uit:

Die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid.” (1 Tim.3:16).

Skrifverklaarders meen dat hierdie woorde die oorblyfsel is van ‘n ou Christelike lied. In elk geval is dit poësie deur die Heilige Gees geïnspireer en aan ons bekend gemaak deur dieselfde ingehoue meesterskap wat ons in Ps. 122 bekoor het.

Maar waar die blydskap oor die Ou-testamentiese sanger deur die sluierwoorde van die psalmis skemeragtig gefiltreer het, sien ons hier die glanse van die allesoorwinnende lig.

En wat het die jubelstemming by Paulus verwek?

Diepste grond is die vleesgeworde en verheerlikte Christus, maar, let wel, die onmiddellike aanleiding is die kerk, die gemeente van die lewende God.

Dink u nou miskien aan die kerk in haar ongerepte bruidsgestalte soos Johannes dit op Patmos gesien het, dan sê ek: Nee, dit is hier nie die naaste aanleiding nie.

‘Hierdie dinge’ van kerkwees is wesentlik belangrik vir Christus

Paulus sê: Ek skryf jou “hierdie dinge” (1 Tim. 3:14), d.w.s. die dinge wat in hfst. 2 en 3 ter sprake was. En wat is dit? In hfst. 2 die samekomste van die gemeente en in hfst. 3 die vereistes tot die amp van ouderling en diaken, in een woord: “Hoe iemand hom moet gedra in die huis van God”, hetsy gemeentelid of ampsdraer. En is dit dan wel grond en rede om bly te wees?

Daar is ook wel kerklede wat reken: As jy in jubelstemming wil kom, as jy bly wil wees, bly dan van die kerkdiens af weg. Dit is die plek om jou te verveel!

Paulus roep op tot die blydskap van Ps. 122 vir die NT kerk se samekomste en ampsdraers

Paulus het daar glad anders oor gedink. En die oudste kerk het dié diep-inwendige verheuging van hom oorgeërf. In verband met die belydenis soos in die 12 Artikels saamgevat, het iemand die treffende opmerking gemaak, dat ons ons nouliks meer kan voorstel met watter blydskap die eerste Christene die kerk begroet het.

Dit was ten volle die vervulling van die Psalmwoord : “Ek was bly!”

Vandaar in dié Artikels, so streng-sober van inhoud, dadelik die uitbundigheid van byvoeglike naamwoorde: Ek glo aan ‘n (of een) heilige, algemene, Christelike kerk! (Die Apostoliese Geloofsbelydenis, sien HK Sondag 21 -slc)

Die kerk se verkondiging as troos en hoop vir verlore gebroke sondaarmense

As ons in die geskiedenis van die heidense wêreldryke, met name van die Romeinse imperium, wat toe die wêreld oorheers het, lees hoe moord en selfmoord veral in die heerserskringe aangegryp is as die verlosmiddels uit ‘n Iewe wat totaal verward geraak het deur die sondes van sinlikheid, hebsug en onmatigheid, dan kan ons verstaan dat die eerste Christene uitgeroep het: Hoe bly is ons dat die Here ons dáárvan verlos het, en dat Hy vir ons in sy kerk ‘n heeltemal ander, nuwe lewe gebring het. Ons is verlos van die tirannie van die vlees, die sonde, die duiwel. Prinsipieel is hul mag nou gebreek. (sien HK Sondag 52 v/a 127 – slc)

Volgens gangbare afleiding beteken kerk: huis van die Here. [Gr. kuraikon v. kurios = Here]. Ons kan daarom die waarde van die verheugde sanger uit die Ou Testament oorneem: Ter wille van die huis van die Here wil ons die goeie vir Sion soek. Vir hom was die majestueuse verborgenheid die Naam van die Here wat in die tempel gewoon het. Vir ons egter is die geopenbaarde geheimenis des te meer grond en oorsaak van verheuging, omdat hier in drie magtige teëstellinge deur een geloofsgreep, wat tyd en ewigheid omvat, die ganse, volle Christus voor oë gestel word (in 1 Tim. 3:16):

(1) God openbaar in die vlees maar ook in sy hoë Middelaarskap geregverdig in die Gees, d.w.s. in die gelyk gestel deur die Heilige Gees in sy verhoging;

(2) Christus het verskyn aan engele wat Hom by die opstanding en hemelvaart as hul Here en Gebieder begroet het, maar Hy is ook verkondig onder mense, die heidene of volke;

(3) Christus is geglo in die Godevyandige wêreld – ‘n wonder van genade hier benede – maar ook is Hy in heerlikheid opgeneem daarbo.

Verder sal ek hierdie woorde, swaar van inhoud, nie verduidelik nie.

Waar dit vir ons nou op aankom, is dat die kerk pilaar en vastigheid is van hierdie waarheid wat as die firmament bo ons verrys en die anders vir ons egale wit van die ewigheid verander in kleurryke koepel van Christus se lyde en heerlikheid.

Die kerk is, soos Christus, ‘n onwankelbare geloofsvoorwerp

As ons maar steeds wil onthou dat die kerk, net soos die Christus, in sy wesè ‘n geloofsvoorwerp is; dit is die huis van die Here, nie van mense nie.

Die voorregte van verkiesing, wedergeboorte, geloof, bekering en heiligmaking het hul onsigbare wortel in die verborgenheid van die GodsaIigheid, in Christus self. En dié wortel sal deur geen aardskudding of ongeloofswoeling ontbloot word nie.

Dink ons by “die huis van die Here” meer besonder aan die onsigbare kant van die kerk, aan die Naam van die Here, aan sy Openbaring wat met dankoffers van blydskap begroet word, die tweede beweegrede van die psalmis: “Ter wille van my broers en my vriende wil ek spreek: Vrede in jou!” Laat ons maar die kerk sien soos dit na buite tree. Daarby vergeet ons nie dat die kerk hier nog in strydgewoel gewikkel is nie. Daarom staan daar: “Vrede in jou skanse” en “rus in jou paleise” (vs. 7), ja, ook rus in die paleise waarin dikwels soveel onrus vir die wêreld gebore word.

Vir wie glo, klink hierdie verbindinge nie wondersprekig nie.

Die plaaslike selfstandige kerk

Van hierdie “broeders en vriende’ (Ps. 122:8) spreek Paulus in duidelike bewoordinge, want hy handel oor die samekomste en oor die ampte wat daarin moet funksioneer. In plaaslike samekomste – so tree die kerk in die nuwe bedéling na buite op.

Die Nuwe Testament ken dan ook in kerkregtelike sin geen vas aaneengeslote, wyd uitgestrekte korporasie met “besture”, naas en bo die gemeente, met altyd stygende bestuursmag nie. Die priesters, biskoppe, aartsbiskoppe, pouse, metropolitane het eers later gekom. Daarom spreek ons van plaaslike, selfstandige gemeentes waarin die wettig geroepe beamptes van die huis van die Here optree.

Dit bly maar altyd “broeders en vriende”, aangesien ook die kerkraad nie ‘n heersende mag is nie maar ‘n dienende. Jesus se grondleggende woord is baie duidelik: “Een is julle leermeester, Christus, en julle is almal broeders” (Matth. 23:8). “Die oudste onder julle moet word soos die jongste, en wie ‘n leier is, soos een wat dien” (Luk. 22:26). ‘n Dienende leierskap is vir ons geen paradoks, geen wonderspreuk nie.

Kerkregering is ‘n wesentlike saak vir die kerk

Ek kom met nog ‘n eenvoudige waarheid en lê op hierdie twee grondstellinge nadruk, omdat ‘n gesonde ontwikkeling van die kerk daarvan afhanklik is. Dit is dan ook ‘n dwaling om te sê dat dit op die kerkinrigting nie sodanig aankom nie, as die evangelie maar gepredik word. Paulus het nie verniet sy brief aan Timotheüs geskrywe nie.

Ons konfessie handel dan ook nie oor die diepste wese van die kerk nie, maar ook oor die regering van die kerk (vgl. Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 27-32, en Heidelbergse Kategismus, Sondag 31). Ons Konfessie sê dit nadruklik dat daar ‘n Raad van die kerk moet wees om “deur hierdie middel die ware godsdiens te onderhou en te sorg dat die ware leer sy loop kan hê” (NGB art. 30). Dit is dan ook ‘n verblydende teken dat meer en meer gevra word, ook buite ons kring, na die Skriftuurlike beginsels van kerkregering en die regte toepassing daarvan.

As gepoog word om eenheid in belydenis tot openbaring te bring, moet die kerkregering nie die mure van skeiding al hoër en hoër optrek nie.

Kerkverband: Handelinge 15

Die tweede grondwaarheid dan is meteens die beantwoording van die vraag: Of die verspreide groepe en groepies dan nou op eie geleentheid moet bly voortbestaan, om afsonderlik die goeie vir die huis van God te soek?

Ook op hierdie vraag gee die Nuwe Testament uitsluitsel.

Daar moet onder die broeders en vriende samebinding wees, nie net lokaal nie maar tewens in wyer verband. In hierdie opsig verwys ek terloops na die persone van die apostels wat in die oudste gemeentes ‘n saambindende krag was. Paulus skrywe nadruklik aan die Korinthiërs: “Timotheüs sal julle herinner aan my handelwyse in Christus, soos ek oral in elke gemeente leer” (1 Kor. 4:17) (sien ook 1 Kor. 14:36 -slc).

Ek verwys ook in die verbygaan na die kollekte wat Paulus in die gemeentes uit die heidene georganiseer het, om daar deur handreiking te doen aan die behoeftiges in die gemeentes van Judea. Dit was vir hom, die belangelose Paulus, ‘n baie vername saak; meteens ‘n aansporing om saam te doen wat elke gemeente nie afsonderlik kon volbring nie (vgl. Rom. 15:25-29 en ander plekke).

Maar die hoofsaak staan in Handelinge 15.

In die pas gestigte gemeentes in Klein-Asië het oor die onderhouding van Mosaiese wette, spesiaal oor die besnydenis, groot moeilikheid ontstaan. Hoe sou die gemeentes self, pas gestig uit die heidendom, ooit die geskil tot oplossing gebring het? Die verwarring sou allig nog groter geword het, gesien die halsstarrigheid van die Judaïste. Daarom het die gemeente van Antiochië, die moeder van die Klein-Asiatiese gemeentes, Paulus en Barnabas afgevaardig om na Jerusalem te reis, ten einde saam met die apostels en ouderlinge oor hierdie saak finaal te oordeel.

Wat ‘n heilsame uitwerking het hierdie samekoms gehad!

Vir die jeugdige kerk was dit ‘n vroeë reën wat die erfdeel van die Here laat herleef het. Hier is die yk wat alle meerdere vergaderings gewaarmerk het. Hier is ‘n voorbeeld wat meteen ‘n voorskrif is.

Calvyn sê dan ook met reg: “Hier word ons van Godsweë die grondvorm en die reël vir die sameroeping van sinodes voorgeskrywe as geskille voorkom wat anders nie bygelê kan word nie“.

Nou gaan Paulus en Silas vreugdevol op reis om aan die gemeentes die gesaghebbende “dogmata” (Hand. 16:4), verordeninge van die Jerusalemse vergadering, mee te deel. Dié vergadering self het verdwyn, geen vaste bestuursmag is gekreëer nie (ook ‘n voorbeeld wat ons Kerkorde nagevolg het), maar die geseënde vrugte is gepluk.

Die kerkorde… ter wille van ‘broeders en vriende’

Hierdie voorbeeld in sy elementêre vorm het in ons Kerkorde ‘n rykdom van vertakkinge voortgebring. Gedurig word gehandel oor kerkvisitasie en deputasie, oor naasgeleë gemeentes, oor klassisse, oor partikuliere en generale sinodes, wie se hulp ingeroep moet word ter wille van die “broeders en vriende”.

Met rigtige, altyd nog bewonderenswaardige takt, met ewewigtige, fyn oorlegde beleid word telkens die pad gewys. Aan die plaaslike gemeente in sy selfstandigheid word geen skade aangedoen nie; ongerep loop hierdie goue draad deur die hele weefsel heen.

Aan die ander kant word geen voet gegee aan die Kainsvraag nie. Is ek my broer se wagter?

Gereformeerd, nie Independistisme nie

Hoeveel seën het dan ook hierdie twee grondwaarhede in hul juiste handhawing en samehang vir die kerk gebring! Ons eie ervaring druk daar die seël op. Ten onregte word dan ook die  Gereformeerde Kerk van Independentisme beskuldig. Wie so spreek, het geen studie van die Kerkorde gemaak nie.

Slotwoord

Geagte afgevaardigdes na die Sinode, ek roep u hiermee ‘n hartlike welkom toe by u saamvergadering in die oudste dorp van Transvaal en in een van die oudste gemeentes van die Gereformeerde Kerk, die plek waar die Skool van die Kerk en die P.U.K. vir C.H.O. gevestig is.

Ek hoop dat u verblyf onder ons aangenaam sal wees, en dat ook die uitwendige omstandighede bevorderlik sal wees vir die volvoering van u taak, naamlik die behartiging van die gemeentes.

Ons enigste dryfveer in alles: die verkondiging van Christus, ook in alle meerdere vergaderinge

Soos uit die verhandelde blyk, is diepste drang, drif en dryfveer in ons diens die Christus. Maar hoe sal ons ons in Hom kan verheug as Hy nie gepredik word nie; en hoe sal Hy gepredik word as hulle, die predikers, nie gestuur word nie; en hoe sal hulle gestuur word as daar geen kerklike diensinrigting is nie?

Hier lê ons taak, en hier is ook ons blydskap.

Paulus sê in 1 Tim. 3:1: “Dit is ‘n betroubare woord: as iemand na ‘n opsienersamp verlang, begeer hy ‘n voortreflike werk“.

Daar is baie verdienstelikhede in die wêreld, maar geeneen daarvan kleef aan die diens van die Here nie. Ons vaders het dan ook met die Hollandse beryming van Ps. 119 gesing: “Uw liefdedienst heeft mij nog nooit verdroten”.

So getuig die heilige sangers in die Skrif aangaande die kerk.

Wat is u getuienis?

Wat is u ervaring aangaande u diens in die kerk?

Mag de Here die sinodale vergadering wat nou sy sittinge begin, ryklik seën uit die bron van sy weldadigheid en trou!

AMEN.

_________________________________

Bron: Bron: Die Kerkblad no. 1008, 9 Februarie 1945.

(‘Versamelde Werke van J.D. Du Toit (Totius)’, ‘Sinodale Openingswoord’, deel 3: bl. 335-343 (Johannesburg: Dagbreek-Boekhandel 1960 uitgawe). 

___________________________________

* [Opskrif en beklemtonings bygevoeg]

Meer Totius artikels hier

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: