TOTIUS: WAS DIE SINAI VERBOND ‘N GENADEVERBOND OF NET ‘N NASIONALE VERBOND WAT NET VIR ISRAEL BEDOEL WAS?

TOTIUS: WAS DIE SINAI VERBOND ‘N  GENADEVERBOND OF NET ‘N NASIONALE VERBOND WAT NET VIR ISRAEL BEDOEL WAS?

deur Totius

Die verbond van God met Israel, waarvan die Sinaïtiese  wetgewing grondslag en fondament is, was na sy wese ‘n geestelike, ‘n genadeverbond; maar na sy uitwendige gedaante was dit ‘n nasionale verbond. Daarmee wil ons sê dat die Here sy verbond met Israel as nasie gesluit het; dat Hy die geestelike, die genadeweldade eers toegedraai het in die windsels van die Israelitiese volk, om eers in die volheid van die tyd dit aan die hele wêreld openbaar te maak.”

Inleiding

Hoe moet ons die verbond by Sinai verstaan, was dit net vir Israel bedoel, en is nie meer van toepassing op die NT kerk nie, nou dat Christus gekom het?

Lees hoe Totius in navolging van die Skrif en die gereformeerde belydenis, verklaarders en teoloë versigtig die Skrifte onderskei: wat was die wese en die vorm van die Sinai verbond, wat is tydelik, en wat is ewig, waar is daar kontinuiteit, en waar is daar diskontinuiteit tussen die ou(er) en nuwe(r) verbond, die OT bedeling en NT bedeling, wet en evangelie, ens.

Soveel dwalinge en misverstande het deur die eeue onstaan oor hierdie en ander aspekte van die genadeverbond soos die Here dit heilshstories én openbaringshistories aan ons gegee het deur die eeue.

Hier is Totius aan die woord (beklemtonings bygevoeg by Totius s’n, hoof opskrif is ook bygevoeg):

“Die verbond van God met Israel, waarvan die Sinaïtiese wetgewing grondslag en fondament is, was na sy wese ‘n geestelike, ‘n genadeverbond; maar na sy uitwendige gedaante was dit ‘n nasionale verbond.

Daarmee wil ons sê dat die Here sy verbond met Israel as nasie gesluit het; dat Hy die geestelike, die genadeweldade eers toegedraai het in die windsels van die Israelitiese volk, om eers in die volheid van die tyd dit aan die hele wêreld openbaar te maak.

Neem ons dus aan dat die verbond van Sinai tot stand gekom het in die lewe van Israel as nasie, dan is dit vanselfsprekend dat die wette, as grondslag van dié verbond, ook rekening sou hou met Israel se bestaan as nasie.

Vandaar dat loon en straf in die Mosaïese wette verband hou met die wel en weë van die Israelitiese volk. Selfs die wet van die Tien Gebooie kom tot ons in ‘n omkleding wat ons gedurig herinner aan sy historiese oorsprong.

– Die aanhef spreek van die Here God wat Israel “uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het”.

–  Die tweede gebod noem as straf dat God die misdade besoek tot in die vierde geslag en

dat Hy sy liefhebbers beloon deurdat Hy aan hulle duisende (geslagte) barmhartigheid bewys.

– Dieselfde gebod maak ook melding van die vreemdeling wat in Israel se poorte (stede) is.

– In die vierde gebod is die belofte dat die dae verleng sal word in die land wat die Here

gee (nl. Kanaän).

Deur uitwendige hulpmiddels, deur vooruitsig van voor- en teëspoed het die Here Israel opgevoed en bekwaam gemaak om langsamerhand deur te dring tot die geestelike kern van sy verbond.

Hier geld die woord van Paulus: Die natuurlike eers, daarná die geestelike.

Te meer kon dit nie anders nie waar Israel ook by die uittog uit Egipte nie hoog-geestelik gestemd was nie. Ondanks al die wonderdade van die Here, het die volk gou afgewyk en gemurmureer. Dit is dan ook die bestanddeel van waarheid in die bewering wat ons hierbo bestry het.

Die Here het in sy wysheid en goedheid terdeë rekeninggehou met die werklike toestand van Israel. Selfs het die Here tot opsekere hoogte rekening gehou met die geloof wat destyds (en nou nog!) algemeen was, nl. dat die God wat kan red uit gevaar en voorspoed kan gee, die ware God is; terwyl die God wat nie in nood kan help en teëspoed nie kan afweer nie, die ware God nie is nie.

Ons sê tot op sekere hoogte, want dat die Here ook gaandeweg ánders gehandel het, om sy volk tot hoër lewens- en Godsbesef op te kweek, is nie moeilik om aan te wys uit die  geskiedenis van Israel nie, ook al in die periode van die Rigters nie.

Ons wil dus toegee dat Israel in die woestyn nie gestaan het waar die gemeente van die Pinksterdag eenmaal sou staan nie. Ver daarvandaan.

Maar ons handhaaf (en dit negeer die moderne teologie) dat die wetgewing van Sinai ‘n regstreekse openbaring van die lewende God was; ‘n openbaarmaking van sy wil vir tyd en ewigheid.

Dit is dan ook hoogs gewigtig dat die Tien Gebooie begin met die groot woord: “Ek is die Here, jou God”.

Wat dit vir Israel beteken het, het ons probeer duidelik maak in die voorlaaste artikel (ek plaas daardie artikel volgende keer – slc).

Die Here, wat Hom aan Moses by die doringbos bekend gemaak het as die Een wat “is wat Hy is”, as die Onveranderlike en Ewigblywende, dié Here het op Sinai plegtig verseker dat Hy die God van Israel is.

Dáár gee Hy sy gebod. Wat kan dit anders beteken as dat Hy, die Ewige, met die mens in gemeenskap tree?

Dit is of ons hier die woorde van die apostel Johannes verneem: “Hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar (1 Joh. 2:3). En dan weer: “Elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is” (1 Joh. 2:5).

Wie kan die gebod van God bewaar en dan nog in die duisternis van die ongeloof bly? Wie kan die gebod van die Ewige betrag en dan nog in die dood bly?

Dit is dan ook baie opmerklik dat daar in die hele Mosaïese wetgewing net een magtige refrein beluister word. Elke keer hoor ons die goddelike uitroep: “Ek is die Here, jou God!” of kortweg net: “Ek is die Here !”

Laat die leser daarop ag gee as hy die boek Levitikus lees. Dié woorde staan daar nie verniet so menigvuldig nie!

Deur dié kragtige klanke word Israel elke keer uit sy dieptes opgeruk.

Die Here is die Wyse, die AItyd-Blywende, die Ewige. Wie dan ook sy gebod ontvang en daarin wandel, wie die verbond met die Ewige aanvaar het; het in gemeenskap getree met die Ewige en is daar vir rekening van die Ewige.

Die vrome Israeliet het dan ook in dié woorde, ja, in die strekking van die ganse wet troos gevind, nie alleen vir vandag en môre nie maar vir altyd. (Totius skryf in die voorafgaande artikel: ‘Israel as volk het geglo aan die ewige lewe. Daarom juis kon die volk van God so lig daartoe  oorgaan om die Godsopenbaring te misbruik deur nou die dooies op te soek in plaas van die Here te raadpleeg. Dat Israel dus ‘n volk was wat net die aardse lewe toe in Kanaän gesoek het, kan nie bewys word nie. Ook hulle sondige bygeloof om die dooies te vra (iets wat algemeen verbreid was) toon dat hulle geen volk van materialiste was niet Die geloof aan ‘n ewige lewe was gemeengoed onder die volk Israel.’ – Die Kerkblad, no. 621, 20 Maart 1928. )

Deur die verbond van Sinai het die Here sy God geword. Wat dit vir sy gemoedslewe beteken het, sal later ontplooi word as ons die Psalms uit dié oogpunt beskou.

Ten slotte roer ons nog ‘n ander belangrike punt aan.

By Sinai het die Here bevel gegee vir die oprigting van die tabernakel. Daarin moes volgens vaste wette die diens van die versoening deur middel van die offerandes plaasvind.

Nou was dit onder Israel ‘n algemeen bekende waarheid dat die dood ‘n straf op die sonde was. Uit die Paradys vandaan is dié waarheid aan die patriargale families oorgelewer. Deur hulle het dit aan Moses en aan die volk van Israel bekend geword. Die dood is ‘n straf op die sonde. Maar as daar nou versoening vir die sonde plaasvind, dan verval die straf mos. En dit (die versoening) is juis wat in die tabernakel gebeur het: daar het die Here die sondeoffer van die gelowige Israeliet aangeneem en hom vry gemaak van die bande en die straf van die sonde.

Ewenwel het alle Israeliete, net soos alle mense, die natuurlike dood gesterwe. Hier op aarde was dus die vrug van versoening nog nie in sy volkomenheid sigbaar nie, sodat die oog gerig moes word op die Messias en op die lewe wat anderkant die graf Iê.

Dáár eers sou die volle vrug van die versoening geniet word in die gawe van die ewige lewe. Ons kan ons dan ook goed voorstel dat nie net Jakob nie maar duisende vrome Israeliete gesterf het met die uitroep: Op u saligheid (of redding) wag ek, Here!

Bron: Die Kerkblad, no. 622, 3 April 1928.
(Versamelde Werke, deel 2: Die Kerk, bl. 407-409 [Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers, 1977])

___________________________________________

Sien ook hierdie verskillende afdelings oor die genadeverbond, verhouding OT en NT, wet en evangelie ens., wat alles wesentlik belangrike onderwerpe vir ons Christelike geloof en kerkwees:

https://proregno.com/category/wet-en-evangelie/

https://proregno.com/category/vriend-van-god-artikels-oor-die-genadeverbond/

https://proregno.com/category/genadeverbond/

https://proregno.com/category/verbond/

One thought on “TOTIUS: WAS DIE SINAI VERBOND ‘N GENADEVERBOND OF NET ‘N NASIONALE VERBOND WAT NET VIR ISRAEL BEDOEL WAS?

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: