TOTIUS: DIE TWEESNYDENDE SWAARD VAN DIE EWIGE EVANGELIE (Op. 14:6-11)

TOTIUS: DIE TWEESNYDENDE SWAARD VAN DIE EWIGE EVANGELIE (Op. 14:6-11)

EN ek het ’n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met ’n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke. En hy het met ’n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het. En ’n ander engel het gevolg en gesê: Geval, geval het Babilon die groot stad, omdat sy al die nasies laat drink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery. En ’n derde engel het hulle gevolg en met ’n groot stem gesê: As iemand die dier en sy beeld aanbid en ’n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam. En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie—hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang.” (Op. 14:6–11)

Totius se verklaring van die tweesnydende aard van die ware evangelie van Christus wat aan die ganse aarde, aan alle volke verkondig moet word met ‘n liefdevolle waarskuwende oproep tot geloof en bekering (Matt. 28:18-20; Hand. 17:30,31), in alle tye, tydig en ontydig (2 Tim. 4:1-8), word gevind in sy oordenking vanuit Op. 14:6-11:

DIE TWEESNYDENDE EWIGE EVANGELIE*

“Nog ‘n laaste evangelieverkondiging! En nie deur ‘n prediker nie maar deur ‘n engel. Ook nie van ‘n preekstoel af nie maar van binne die hemel uit. En so dat nie net ‘n beperkte kring dit hoor nie maar die bewoners van die aarde en alle nasies en stamme en tale en volke (vs. 6).

Hier is nog evangelie, maar dit moet by ‘n bepaalde lig besien word, naamlik die lig van die naderende oordeelsdag. Ons moet dit goed raaksien, want dit is die sleutel tot die verklaring van verse 6 en 7, die verse wat nou by die bespreking van punt 1 in behandeling kom.

‘n Laaste evangelieverkondiging — laat ons eers die verband daarvan kortliks opspoor.

Die eerste deel van Openbaring het met ‘n eedswering geëindig. Die engel het uitgeroep “dat daar geen tyd meer sal wees nie” (10:6). Die betekenis hiervan blyk uit die woorde wat onmiddellik volg: “Maar in die dae van die sewende engel, wanneer hy met die basuin sal blaas, dan is die verborgenheid van God volbring, soos Hy die blye tyding verkondig het aan sy diensknegte, die profete” (vs. 7).

Die “verborgenheid” is die laaste plae wat oor al die goddelose sal neerdaal; dis nou ophande; dis die middelpunt van wat verder in die tweede helfte van Openbaring geprofeteer word.

En opmerklik !  die grondwoord wat vir verkondig gebruik word, is dieselfde as die van ons teks, naamlik evangeliseer of die bring van ‘n blye boodskap. Evangelie is tog, soos die leser weet, ‘n boodskap wat ‘n blye tyding bevat.

Nou ja, met die oog op die verskriklike dae wat onmiddellik aan die oordeel voorafgaan, die dae wanneer die sewende engel met die basuin sal blaas, wanneer ook die sewe wraakskale uitgegiet word wat uit die sewende basuin voortkom (hfst. 15 en 16) – met die oog daarop sê die engel van hfst. 10 dat daar geen tyd meer sal wees niet Hy wil met ander woorde sê dat daar geen tyd van genade meer sal wees niet “Dan kom met vinnige skrede, sonder onderbreking, die einde . . . Dan sal daar nie meer tyd van uitstel wees nie”, Die hede van genade behoort dan onherroeplik tot die verlede.

In die tyd val dan die evangelieverkondiging waarvan in ons teks sprake is; dan word die groot stem gehoor van die engel wat in die wye lugruim daarbo vlieg. Maar sal dit dan nog help? Is dit dan nie, soos ons gesien het, te laat nie? Ag ja, die vrugteoes is verby; maar daar kan tog nog aan die boonste tak ‘n enkele vruggie wees. Die oestyd is verby; maar daar kan nog ‘n paar are op die land lê, Die huis staan aan die brand; maar daar kan nog ‘n stuk brandhout gered word.

God is vrymagtig, en Hy is lankmoedig.

Hierby kom dat die evangelie altyd sy werking uitvoer: as dit nie ‘n reuk van die lewe is nie, dan is dit ‘n reuk van die dood. (sien 2 Kor. 2:14-17 – slc)

Daarom moet dit, of dit aangeneem word of nie, tot die einde toe verkondig word.

Die besondere karakter van die laaste evangelieverkondiging blyk ook as ons meer bepaald op die inhoud daarvan let. Daar staan dat die engel uit die hemel met ‘n groot stem sê: “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het” (vs. 7).

Die naam van Christus, die Lam van God, kom daarin nie voor nie. Hier word nie geroep: “Kyk die Lam van God, wat die sonde van die wêreld wegneem” nie. Hier word nie gemeld van Jesus, wat sy volk van hulle sondes verlos nie. In plaas van dié soetvloeiende klanke hoor ons die donderstem: “Vrees God!”

Kan dit dan ‘n evangelie genoem word?

Om hierop antwoord te gee moet die leser op die volgende punte let:

(a) Die engel sê dat die uur van die oordeel van God gekom het. Daaruit volg dat ons hier ontvang die evangelie van uiteindelike en volkome verlossing. Van Christus se kruisverdienste sien ons hier die volgroeide en verheerIikte vrug. Jesus self het dan ook sy wederkoms beskrywe as ‘n dag wat met opgehewe hoof en met blydskap ingewag moet word: “Dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid. En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Luk. 21:27, 28).

(b) Die: “Vrees God!” is ‘n alarmgeroep wat bedoel word om die verharde mensheid op te skrik om nog voor Jesus neer te kniel en sy erbarming in te roep. Ons dink hier aan wat gebeur het met die tronkbewaarder van Filippi. ‘n Groot aardbewing beweeg die fondamente van die gevangenis, en dan val die  tronkbewaarder bewend aan die voete van Paulus en Silas met die vraag: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” (Hand. 16:30). Ons dink ook aan wat die kwaaddoener aan sy medegekruisigde gesê het: “Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is?” (Luk. 23 :40). Om reeds by en in die oordeel te wees en dan nog God nie te vrees nie! Dit bring ons by ‘n derde punt:

(c) Die oproep van die engel: “Vrees God en gee Hom heerlikheid”, hou verband met die tyd van die einde. Dr. Greydanus sê: “Só algemeen is die vorm van uitdrukking dat dit skyn of ook ‘n nie-Christen hom daarin kan vind. Dit wys terug op ‘n toestand waarin die vrees en erkenning van God grotendeels weggeval het, sodat die mensdom weer soos na die eerste beginsels van die vrees van God teruggeroep moet word om Hom te verheerlik en te aanbid, die enige God in hemel en op aarde, wat aan alles wat bestaan, aansyn gegee het”.

Die mense sal die dier aanbid (13: 14, 15) maar God nie vrees nie. Dit sal dan skepselvergoding wees en daarteenoor Godslastering! Daarom moet die mense asof met ‘n kragtige ruk aan die skouer gegryp word om, indien moontIik, die diep ingesonke Godsbesef in hulle wakker te roep (vgl. Rom. 1: 19, 20).

Ja, dis nou al so opvallend: die verhardheid van die mens te midde van oordeelsorkane. Die uitroep word aan ons ontpers: “Is daar dan glad nie meer vrees vir die almagtige God nie?” In die opsig gaan die mensheid vinnig agteruit. ‘n Nebukadnesar het God nog geprys omdat “sy paaie reg is” (Dan. 4:27). Bn die koning van Ninevé het hom in ‘n rougewaad gehul en in die as gaan sit toe Jona hom gewaarsku het (Jona 3).

Maar teenswoordig lyk dit of die mensdom doof en blind is en of hulle waansinnig langs die heillose afdraand afdans na ‘n geopende verderf.

Mag ons gewaarsku wees, want die evangelie het ook sy baie ernstige kant. Wie in die Seun glo, het die lewe; maar wie aan die Seun ongehoorsaam is – die toorn van God rus op hom.

Hier sien ons hoe gevaarlik uitstel is – gevaarlik vir onsself, vir ons nageslag, vir die gemeente; hoe uitstel onverskilligheid en naderhand verharding in die hand werk, op klein en groot skaal. Laat ons dan luister terwyl die kruisgesante van Christus nog rondgaan. …

Wat in hierdie oordenking vooropgestel moet word, is dat ook in wat die tweede engel laat hoor, ‘n laaste waarskuwing vervat is. Na die aard en inhoud daarvan hoef ons nie ver te soek nie.

Hoofstuk 18 – die beskrywing van die val van Babilon – gee dadelik rigting aan ons gedagte. Daar hoor ons, by wyse van toepassing, die volgende wekroep: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap het haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (vs. 4).

‘n Woord van soortgelyke inhoud lees ons by Jesaja as hy die voleinding beskrywe: “Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ‘n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan” (26: 20) .

Op daardie stadium sal die Christelike getuienis die wêreld nie meer kan baat nie. Dit sal nie meer weerklank wek nie, want Ps. 82:5-8 sal dan ten volle in vervulling gaan: “Hulle weet nie en verstaan nie: hulle loop rond in duisternis; al die fondamente van die aarde wankel. Staan op, 0 God, oordeel die aarde! Want U het erfbesit van al die nasies.”

Iets daarvan sien ons nou al.

Nie net aan die dak van ons Christelike huis word geruk nie; nie net aan die muur daarvan word gebreek nie; nee, die koevoet word nou ingebeur tussen die fondamentklippe in. Dis soos dr. Kuyper êrens sê: “Die moderne lewe is eenvoudig ‘n geheel en al ontkerstende lewe. Die drywende mag van die staatslewe het teenswoordig prinsipieel on-Christelik en anti-Christelik geword” (Gem. gratie, 111, 145).

Vroeër was dit anders. Die staat, die maatskappy, die wetenskap en die kuns was Christelik, En al was dit “glad nie alles goud” wat geblink het nie, kon die Christen tog sy bootjie in die rigting van die groot lewenstroom laat vaar.

‘n Eeu gelede het dit egter anders geword. Die teenstelling het opgekom deurdat die openbare lewe hom al meer en meer teen die Christendom gedraai het. Die bootjie moes nou teen die stroom in geroei word. Die Christen moes hom met sy Christelike staatkunde, Christelike maatskappyleer en Christelike wetenskap teen die heersende mening stel.

En vandag is dit nog so. Daar is nog volop geleentheid om te stry vir die eer van God en van Christus, ons Verlosser. En wee ons as ons die geleentheid ongebruik laat verbygaan. Maar dit sal nie altyd so bly nie. Daardie oproei teen die stroom sal naderhand nie meer moontlik wees nie, dan sal die bootjie moet pad gee om skuiling te soek. Wanneer dit sal gebeur, weet ons nie, God sal dan self deur sy Gees openbaar aan die gelowiges wat dan lewe.

“Gaan uit Babel uit!” Dis ‘n laaste waarskuwing; dis die barmhartigheid wat nog teen die oordeel roem.

Met ‘n haastige basuinstoot word die mense nog gedring om behoudenis te soek. Die engel boodskap die val van BabiIon om daarmee te ontnugter en in die harte te roer: “Die stad het al voor Christus geval; daar is nie meer veiligheid nie; die goddelike Oorwinnaar kom aan; werp u nog aan sy voete!”

Wel hom wat hom dan, soos ‘n Lot, deur engelhand uit die brandende Sodomstad laat lei!…

Teenoor al die dwalinge van die menslike verstand en gevoel stel ons nie alleen die uitsprake van Jesus self nie (Mark. 9:44; Matth. 8:12; 13:42) maar ook wat die engel met ‘n groot stem meld: Die rook van die pyniging gaan op tot in alle ewigheid.

Wel beteken die woord ewig in die Skrif dikwels ‘n tydsduur wat nie absoluut eindeloos is nie – iets wat dan ook telkens uit die verband blyk – maar hier (en elders) dui die woord die onverganklikheid en onveranderlikheid aan wat eie is aan die “toekomende eeu” (Luk. 18:20). In die sin word ewig verbind met die weldade wat deur Christus verwerf is, by name die ewige lewe.

Maar net so behoort ook die “ewige” straf volgens die Heilige Skrif tot die toekomende eeu; ‘n eeu waarin daar geen verandering van staat meer moontlik is nie. En ons het geen reg om aan dieselfde woord in dieselfde verband tweërlei betekenis te heg nie. Nêrens gee die Woord van God dan ook opening om aan ‘n einde van die hellestraf te dink nie.

Vreeslike woord: ‘n rook van pyniging wat opgaan tot in alle ewigheid! ‘n Sodom wat sonder einde brand! Tereg sê Bengel: “Hierdie bo alle mate ontsettende bedreiging is seker die allerskerpste in die hele Heilige Skrif”.

En dan: om gepynig te word voor die Lam! ‘n Drinkbeker wat ongemengd ingeskink is – sonder ‘n druppel genade! Nie meer ‘n Lam van God wat Hom ontferm en nie meer ‘n Middelaar wat tussenbei tree nie!

Wel word daar gespot met die predikers wat dring en dreig, in die Naam van God, met onuitbluslike hellevuur en ewig opgaande swaweldamp. Maar omdat die Woord van God ons daarin voorgaan, sal ons die spot nie vrees nie. Sondaars moet tot bekering geroep word soweI deur die dreigstem as deur die lokstem van Gods Woord. Wee die prediker wat een van die twee nalaat!

Let dan op die drie laaste waarskuwings en let op hulle orde.

Eers kom die evangelieverkondiging met die roep: “Vrees God!” As dit nie ingang vind nie word die sondaar weer op ‘n ander manier gedreig: dit word hom aangesê dat die stad van sy sterkte en vertroue al geval het. Dit sal hom tog laat skrik! Maar as ook dit nie help nie, dan bly daar nog die allerergste oor, naamlik om die sondaar die vlamme van ewige hellevuur te wys; hom die ewig opgaande rook te wys; hom die beker van toorn sonder genade te laat sien.

Vir ons, lesers, gaan nou nog op die beker van verlossing deur die bloed van Christus. Laat ons dan gelowig daaruit drink, sodat die toornbeker nie eenmaal aan ons lippe gebring mag word nie. Laat ons ag gee op die Woord van God as dit met soveeI erns ons deur die siel sny.”
______________________
* Opskrif bygevoeg, sien die volledige verklaring hier: Versamelde Werke, 1977, deel 5: 369-377, Drie laaste waarskuwings

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑