REFORMASIE-PREEK 2023: JEREMIA 6:16

REFORMASIE-PREEK 2023: JEREMIA 6:16

Lees: Jeremia 6

Fokusvers: “So spreek die Here: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie.” (Jer. 6:16)

Preekopname (GK Carletonville, 29 Oktober 2023):

Aflaai: Reformasiepreek 2023: Jeremia 6:16

Preeknotas [die volledige preek is die opname, hier onder is die preek notas]:

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Waar begin die wese van alle ware bybelse hartgrondige reformasie, ook vir ons tye, vir my persoonlik, gesin, gemeente en gemeenskap?

Begin dit by die mens, begin dit by ‘n politieke, opvoedkundige, militere, of ekonomies hervorming wat moet plaasvind, sodat ons dan ook op elke terrein van die lewe kan reformeer, verander, regmaak?

Nee geliefdes, die sleutel van alle reformasie, reg maak, regtrek, herstel wat verkeerd is, hoor ons in ons teksgedeelte, daar veral in vers 16:

So spreek die Here: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie.” (Jer. 6:16)

Alles, van begin tot einde, begin en eindig, by die HERE,

die Verbondsgod van Abraham, Isak en Jakob,

die Vader van ons Here Jesus Christus,

wat spreek, wat openbaar, wat red en verlos en verander,

deur die kragvolle werk van die Heilige Gees wat onstuitbaar is.

En die vrug daarvan is dan bybelse bekering en reformasie in mense se lewens, gesinne, gemeentes, gemeenskappe en ten einde lande en volke, soos gesien kon word in die geskiedenis van die Reformasie van die 16-17de eeu in Europa, en al die vrug wat dit gedra het deur die eeue wêreldwyd, ook vir ons hier in SA.

Die Here spreek, Hy openbaar, Hy beweeg…

Maar nou belangrik geliefdes, die Here werk deur middele, sy Gees en Woord, en Hy werk deur mense.

En hier in die 7de eeu VC spreek Hy deur sy dienskneg profeet Jeremia, vir sy volk wat afvallig geraak het, Hom vergeet het, van sy verbond en wet, afgedwaal het, en nou op die vooraand staan van die Babiloniese ballingskap, sien vers 1, die onheil wat dreig uit die Noorde.

En deur Jeremia roep die Here sy volk op om stil te staan in hul lewens, self-ondersoek te doen, te bekeer, en terug te keer na die ‘ou paaie’ of ‘ou weë’ terug na die goeie weg, en dan daarin te wandel en te lewe.

Die woordtjie ‘ou’ van ou paaie is die Hebreeuse woord ‘olam’, wat ook vertaal kan word, afhangende van die konteks, ewige, langdurige, antieke, of ‘weë van die voortyd’

Hierdie ‘ou paaie’ is dus niks anders as God se wil soos Hy dit geopenbaar het nie, sy verbond, en verse 10 en 19, sy Woord en Wet.

In Mal. 4:2 kry ons ook die woorde ‘ou paaie’, en dan staan daar:

En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem.

 So, geliefdes, die wese van alle Reformasie, begin by die Here en sy Woord, terug kan sy Woord, dit is waartoe Jeremia die Here se volk oproep daar in die 7de eeu, en so doen die profete en apostels dit deur die hele Skrif, terug na die Woord, om daarin te wandel, te lewe.

Dit was dan ook die wesentlike terugkeer, bekering, reformasie wat in die 16de eeu plaasgevind het, waar die Here vir Luther, Calvyn, Zwingli en al die protestantse en veral gereformeerd protestantse kerke geroep het.

Hulle het deur die Gees die Woord herontdek, en dit het hul eie lewens, gesinne en kerke en lande en alles aangespreek en verander.

Daaruit het gegroei die slagspreuk wat vandag so bekend is:

‘sola Scriptura’ = die Skrif alleen, die ‘ou paaie’ alleen, met Christus se koms en vervulling is daardie ‘ou paaie’ nou volmaak, die wet en profete en apostels, Gen tot Op., Ef. 2:20, waarvan Christus (solus Christus) die hoeksteen is.

Calvyn praat van die Woord, die Skrif, die ‘ou paaie’ as die bril waardeur ons nou na die hele lewe kyk, dit is die finale absolute onfeilbare foutlose gesag van leer en lewe, wat ons moet glo en doen, ons ganse lewens- en wêreldbeskouing,

OOK vir ons tye geliefdes, alles staan en val by ‘sola Scriptura’

Baie dwalinge begin by verkeerde siening of verwerping van die ‘ou paaie’ ook in ons tye, ook al meer in ons eie kerkverband…

Daarom, soos Jesaja ook oproep, moet die oproep in ons tye wees:

“Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ’n volk wat geen dageraad het nie”… het hul geen toekoms nie, hoop nie, kan daar geen deurgaande, bybelse reformasie wees nie

En wat het die ‘ou paaie’ geleer, wat het die profete heeltyd gepreek, Jeremia hier, almal wat voor en na hom was, wat die apostels later gepreek het, wat Joh die Doper gepreek het, wat die ware kerk en ware predikers deur die eeue gepreek het, wat Jesus se hele bediening mee begin het, wat die Reformasie herontdek het, wat ons moet leer en preek…

Wat is dit geliefdes?

Vers 8, 10, 14-19…

Laat jou tugtig Jerusalem… bekeer jou van jou sondes, jou verwerping van sy wet en woord, bekeer jou van die valse profete en leiers wat onregverdige wins maak, wat bedrog pleeg, wat ‘n valse vrede tussen God en mens, en tussen mense verkondig, wat God se wet en heiligheid verag en afmaak, wat sy verbond vertrap en daarom kom die ballingskap, en die Here se regverdig strawwe.

En keer terug na die Here, na sy ou paaie, wandel daarin en in Hom, in sy genade en vergifnis, is die goeie en die ware rus, kyk die tweede deel van wat die inhoud is van die ‘ou paaie’, waarvan Gen. 3, 12, 17 en die hele Skrif getuig:

So spreek die Here: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel.” (Jer.  6:16)

Ja, die goeie weg is die goeie nuus in Jesus Christus, wat ware rus vir ons siele bring, nou en tot in ewigheid, om daarin te lewe.

Jeremia het dit, soos die profete verkondig in skadus en heenwysings, dink maar aan “KYK, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek vir Dawid ’n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land. In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.” (Je 23:5–6)

En dit is wat die Reformatore van die 16de eeu ook herontdek het, die goeie nuus van ware rus, wat alleen kom deur die geloof in Jesus Christus.

Nie jou eie werke nie, nie ‘n ander skepsel nie, nie die pous nie, nie die priesters of ‘n offer nie, maar Christus alleen (solus Christus) red ons.

En dit is alles gegrond in die Vader wat genadig is en ons uitverkies het in Jesus (sola gratia = genade alleen), en ons ontvang hierdie geskenk, hierdie goeie, hierdie ware rus, deur die geloof alleen (sola fide).

Dus: uit genade alleen, deur die geloof in Christus alleen, word ons gered.

wat ons gered en geroep het met ’n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is,” (2 Tim 1:9)

So geliefdes, sentraal in alle ware bybelse reformasie is die herontdekking van God wat deur die ‘ou paaie’, sy Woord en Gees spreek.

En wesentlik sentraal is die wesentlike boodskap wat van Genesis tot Openbaring na ons kom.

En wat gepreek, geleer, moet word, in die besonder in die prediking van die volle raad van God, rusdag na rusdag, maar ook in ons huise ons hele lewe.

In Roomse kerke, het die priester, die kore, het die uiterlike ‘show’, die offertafel sentraal gestaan, na die Reformasie het die Woord, en dan die evangelie van die Woord sentraal gestaan, ons hele erediens geliefdes is: die aanhoor van die Woord, die bid  van die Woord, die sing van die Woord, die evangelie wat sentraal staan, daarom die belydenis bv in HK Sondag 35,

98 Vraag: Mag ons beelde as “boeke van die leke” in die kerkgebou toelaat?
Antwoord: Nee, want ons moet nie wyser as God wil wees nie. Hy wil sy Christene nie deur stom beelde nie (a), maar deur die lewende verkondiging van sy Woord laat onderrig (b).

 Geliefdes, Jer. 6 leer ons dus van sola Scriptura, die ou paaie, dit leer van ons die goeie wat wat ware rus bring: redding uit genade alleen, deur die geloof in Christus alleen.

Maar, die Reformatore het, in lyn met die apostels en profete herontdek, die doel van alles, ook ons redding, ook al ons bekering en reformasie is wat?

Ja, soli Deo Gloria = aan God alleen die eer.

Die Here het Israel geroep, om deur hul sy Woord, sy evangelie aan die wereld te bring, sodat sy kinders onder al die volke gered mag word om Hom te eer.

Daarom, het u dit gehoor reeds daar in die 7de eeu voor Christus, nie net Israel se sonde en afvalligheid word aangespreek nie, maar ook alle mense en alle volke …. ook ek en u… om te bekeer, gered te word deur Jesus, sodat ons Hom in dankbaarheid kan eer:

Vers 18,19, “Daarom, hoor, o nasies! En weet, o vergadering, wat onder hulle is! Hoor, aarde! Kyk, Ek bring onheil oor hierdie volk, die vrug van hulle planne; want na my woorde het hulle nie geluister nie, en my wet, dié het hulle verwerp.” (Je 6:18–19)

Die doel van Gen. 3:15, van die genadeverbond deur Abraham, Gen. 12-17; sy wet in Ex. 20, is om te wys op die reddingswerk vir die ganse aarde, vir alle volke in hulle uitverkorenes, dat die evangelie mense mag red,

WANT, die wesentlike teks wat die Here gebruik het om Luther te bekeer, en die reformasie te bring:

“… ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.” (Rom. 1:16)

Daarom, dat Jeremia tydig en ontydig gepreek het, bekeer julle, vlug na die Here se ou paaie van genade om gered te word, want, soos hy noem in verse 13:16 en 20:13,

Gee eer aan die HERE julle God voordat Hy dit donker laat word en voordat julle voete stamp teen die berge in die skemering; terwyl julle wag op lig, maar Hy dit doodskaduwee maak, in donkerheid verander. (Jer. 13:16)

Sing tot eer van die HERE, prys die HERE! Want Hy het die siel van die behoeftige uit die hand van die kwaaddoeners verlos. (Jer. 20:13)

Ja, dit is wat die Reformatore ook herontdek het, deur die ou paaie en die goeie nuus in Jesus te herontdek: alles gaan oor soli Deo gloria!

EN NOU, hier is ons geliefdes, wat maak ons met die Reformasie in ons tye, wat maak ons bo alles met Jer. 6:16 vir ons lewens en tye, wat ons oproep tot bekering en reformasie?

Jesus waarsku in Matt. 23:30,31 hulle wat monumente bou vir die ou profete en die ou paaie maar in hul eie tyd die ‘ou paaie’ en die ‘ware profete’ verag….

In ons eie tye is daar so baie verval, die Here bring dit oor ons, tot ons tugtiging, tot ons bekering en verdere reformasie:

Gaan ons die ou paaie omhels, die evangelie omhels, ons doel vir die lewe omhels, ons van harte bekeer en reformeer?

Soek ons die ware Troos, die waarheid op regte plekke?

Onthou die stryd ook deur die eeue, wat geroep het tot bekering en reformasie:

Eerste paar eeue was die stryd oor die leer van God Drie-enig en Jesus wat ware God en ware mens is.

16de eeu: Die gesag van die Skrif en redding uit genade deur die geloof alleen.

Vandag: die skeppingsorde, die Vaderskap van Christus, die huwelik en gesin as bousteen van die samelewing,

Gaan ons reformatore VANDAG wees: die gesin herstel, die opvoeding en onderwys van ons kinders reformeer, die stryd oor VIDA, dit het alles met die Reformasie te doen, ook vir ons tye.

Daarom, terug na Jer. 6:16 reformasie, want ons moet ook waarsku:

Baie dinge kan ons tref, erge dinge, vervolging, dood, honger, pyn ens in ons tye…

MAAR die ergste ding wat kan gebeur met ons persoonlik, gesin, gemeente, gemeenskap, volk, beskawing, lees ons daar in verse 10, 13-14, 16-19, as mense hulle so verhard dat hul God se Woord en wil en dus die evangelie verag en verwerp:

“Ons wil nie getug word nie, ons wil nie die Woord hê nie, ons wil nie die wet en evangelie hê nie, ons soek valse profete en kerke om ons sondes goed te praat….”

DIT IS BAIE ERG GELIEFDES,

mag die Here ons daarvan bewaar…

HOE WEET EK DAN IN MY EIE LEWE EN ONS SAAM OF ONS REFORMEER OF DEFORMEER?

Daar is baie detail geliefdes oor die Reformasie van 16de eeu en daarna, maar ek vat dit vir u saam in hierdie x3 sake saamgevat vanuit die 5 sola reformasie slagspreuke:

a) ‘n terugkeer na die ‘ou paaie’ (sola Scriptura): hoe lyk dit met u eie Bybel lees, soeke na die woord, saam u gesin, huisgodsdiens?

Toe sê Jesus vir die twaalf: Wil julle nie ook weggaan nie? En Simon Petrus antwoord Hom: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe.” (Joh 6:67–68)

b) word opnuut getroos deur die herontdekking van die evangelie vir jouself en almal: redding uit genade alleen, geloof Jesus alleen (is prediking vir u en geliefdes kosbaar, die erediensbywoning?)

Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” (Matt 11:28–30)

c) soli Deo gloria, dit gaan alles oor God se eer, ook my saligheid se doel is God se eer

Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.” (1 Kor. 10:31)

Ek wil eindig met ‘n bemoediging, in die lyn van Jer. 6:16 en sy woorde in 13:16 en 20:13…

Hy wys en waarsku oor die donker en duisternis van die sonde, maar ook die lig van die evangelie, en dit het Jeremia verkondig, die Reformatore, en hopelik ook ons en ons kinders tot die laaste dag, ook as Reformatore in ons tye:

In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.” (Joh 1:4–5)

Amen.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑