PREEK TYDENS AFLEGGING VAN BELYDENIS VAN GELOOF (Jesaja 54:10,13)

PREEK TYDENS AFLEGGING VAN BELYDENIS VAN GELOOF (Jesaja 54:10,13)

Mia Le Cornu (in die middel), se aflegging van belydenis van geloof, 12 November 2023. Soli Deo Gloria!

Lees: Jesaja 54

Fokusverse: “Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredeverbond nie wankel nie, sê die Here, jou Ontfermer.En al jou kinders sal deur die Here geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.” (Jesaja 54:10,13)

Preekopname (GK Carletonville, 12 November 2023):

Aflaai: Belydenisaflegging-preek (Jes. 54:10,13)

Preeknotas [die volledige preek is die opname, hier onder is die preek notas]:

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Mia mag vanoggend haar geloof bely, in en voor die Here,

openlik in die midde van die gemeente.

Die geleentheid is nie net vir haar nie,

maar ook vir ons almal saam haar,

wat in die woorde van die apostel Paulus in 2 Tim. 4:8,

Christus ons Verlosser, se eerste verskyning liefhet.

Vir ons almal, nie net om getuies te wees nie, maar ook om opnuut herinner te word, aan ons wat ook nog ons geloof hier gaan bely, maar ook ons wat reeds ons geloof eens bely het,  om opnuut herinner te word, om te volhard in die geloof wat ons eens bely het.

I) Nou is die eerste vraag vanoggend vir ons almal,

Waar kom ons belydenis van geloof vandaan?

Anders gestel: waarin lê ons sekerheid, troos en hoop terwyl ons ons kinders opvoed in die vrese van die Here, dat hulle ook hul geloof sal bely,

en die goeie stryd van die geloof sal stry tot die einde toe?

a) Is ons hoop in ons werke, wat ons kan en moet doen, goeie godsvresende ouers te wees volgens wat die Here ons beveel in sy Woord, of

b) is ons hoop op die kinders self, hul vermoeëns, dat hulle deur hul werke,

hulself kan red … met die hulp van die Here?

Nee, geliefdes, ons enigste Troos, in lewe en sterwe,

in liggaam en siel, ook vir ons kinders om hul geloof te bely en daarin te lewe,

is geleë in dit wat ons Teks vir ons vanoggend openbaar,

hier by die geleentheid van Mia se persoonlike aflegging van die belydenis

van geloof: “Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredeverbond nie wankel nie, sê die Here, jou Ontfermer.” (Jesaja 54:10)

Daar geliefdes, is waar ons troos en hoop geleë is,

In die Here self wat goedertieren, dus trou is aan sy belofttes, wat ons Ontfermer is, in sy vredeverbond wat nie sal wankel tot in ewigheid nie.

Daardie vredeverbond wys op God se ewige Belofte, in Christus,

in die krag van die Gees, dat Hy ons Vader vir altyd sal wees, en ons sy kinders, Gen. 3:15; Gen. 17:7; Hand. 2:39; Op. 21:7

Jesaja kom dan in sy tyd, daar in die 8ste eeu,

waar die volk in ballingskap sou gaan,

en hulle dan sou worstel of die Here hul en hul kinders dalk vergeet het (40:27)

dan openbaar hy tot hul troos hierdie woorde van v. 9, 10 deur die Gees,

Ja, soos die vredebelofte van redding van Gen. 3 nie vernietig is deur Noag

se dae nie, so sal sy reddingsplan met sy volk nie in ballingskap eindig nie.

En dit profeteer van die Here se ganse reddingsplan, begrond in sy ewige verbond, sy vredeverbond, sy genadeverbond soos dit in die geskiedenis geopenbaar is,

DIT SAL nie wankel nie.

Hy gebruik die beeld van berge, ‘n simbool van vastigheid en sekerheid,

stewig, daar heeltyd, en selfs dit mag wankel, dink aan aardbewings,

maar die Here se goedertierenheid vir sy kinders, sy uitverkorenes,

sal nooit maar nooit ophou of tevergeefs wees nie.

Die woord goedertierenheid, chesed, wys op die mees intieme liefde, omgee, Ontferming van die Vader vir elkeen van sy kinders.

Hy sal vir hul sorg, bo alles elkeen van hul red vir die ewigheid,

daarom word die vredeverbond ook ‘n ewige verbond genoem.

En hoe het Hy dit gedoen, en is Hy besig om te doen deur al die eeue,

van geslag tot geslag, onder jonk en oud, onder alle volke, stamme, tale en nasies?

Dit is die belangrike konteks van Jes. 54, natuurlik die hele boek,

maar dan veral Jes. 53, by uitstek die hoofstuk, nie net in die hele Jesaja nie,

hele OT nie, maar hele Bybel, oor waar in die besonder en veral,

God se goedertierenheid, liefde, ontferming geopenbaar is en gegee is, die Messiaanse profesie van die Lydende Dienskneg, die Lam van Juda, ons Here Jesus Christus, wat sou kom, om te ly, om te kom doen wat ons laasweek geleer het oor die lyding van Christus, Hy deur Godverlate sou word, sodat ons nooit verlaat sal wees nie.

Kom ons luister na ‘n paar verse daaruit,

Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” (Jes 53:5–6)

DAAR geliefdes, is die Bron en oorsaak, van ons enigste troos,

dat die Here ons en ons kinders se Vader is, ons Redder is,

ons Versorger is, niks in onsself of mense of kinders nie, verbondsouers of verbondskinders nie.

Die HERE alleen red en sorg, nou tot in ewigheid.

Soos Jes. 54:10 ons duidelik leer, Hy wat beloof, sal red.

DAAROM kan ons die wese van die verbondsleer, verskillende name,

volgens die Skrif noem: Belofteverbond (Gen. 3:15); Genadeverbond (Gen. 17:7); vredeverbond (Jes. 54:10); ouer-nuwer verbond in terme van OT en NT bedelings, met dieselfde wese, Christus (Jer. 31:34), Ontfermingsverbond, goedertieren-liefdesverbond, en soos een vertaling ook dit hier vertaal (NET): vriendskapsverbond, die Here wat vir Abraham, en almal wat soos Hy glo, deur die vrede van die kruis, ‘n Vriend is …. sien Jak. 2:23 en Ps. 105:5 (berymd)

II) Maar nou belangrik geliefdes, moet ons sien,

Die GEVOLG van die Here se vredeverbond dit uit in die geskiedenis…, waarvan ek en jy, ons, Mia deel is… Sien die wonder van genade:

Maar dit het die Here behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ’n skuldoffer aangebied het, sal Hy ’n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die Here sal deur sy hand voorspoedig wees.” (Jes. 53:10)

Daar sal die vrug van ons Vader se reddingswerk,

die vrug sy Belofte van die vredeverbond, wees in die geskiedenis, deur die eeue

wat gefundeer is in die ewige raadsplan van Vrede met Hom, sien Tit. 1:1,2

en geopenbaar is in die ewige of vrede- of genadeverbond, vanaf Gen 3, 17

die vervulling van die nuwe of nuwer verbond in Christus….

Daar is dit geliefdes, nie dalk nie, nie moontlik nie, Hy SAL ‘n nakroos sien.

Die woord daar is die bekende woord ‘zera’ = saad sien, ‘n nageslag.

Daardie nakroos, soos reeds belowe in Gen. 12:3,

In jou saad sal die geslagte geseën word,

beteken omdat die Saad, DIT IS CHRISTUS, GAL. 3:16,  alles sal volbring,

sal daar, vir Hom ‘n saad wees, ‘n nageslag onder alle volke, stamme, tale en nasies, Gal. 3:29.

En daarom die profetiese woorde, ja, die volk sal terugkeer uit ballingskap,

daar is altyd ‘n oorblyfsel volgens die uitverkiesende genade van die Here wees, onder Israel, hul wat eers onvrugbaar is, sal weer vrugbaar word, en in en deur die vervulling in Christus, sal Hy dan ook ‘n nakroos, kinders van die Here sien onder al die nasies (54:1-5):

JUBEL, onvrugbare, wat nie gebaar het nie! Breek uit in gejubel en juig, jy wat geen weë gehad het nie! Want die kinders van die eensame is meer as die kinders van die getroude, sê die Here. Maak die plek van jou tent wyd, en laat hulle die doeke van jou tentwonings oopspan. Verhinder dit nie! Maak jou lyne lank en slaan jou penne styf in. Want jy sal regs en links uitbreek, en jou nageslag sal nasies in besit neem en verwoeste stede bevolk. 5 Want jou Maker is jou Man; Here van die leërskare is sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser. Hy sal die God van die hele aarde genoem word.

Die Here se kinders sal, met Christus wat die ewige verbond, vredeverbond handhaaf en vervul deur sy bloed, sal daar deur die verkondiging van die evangelie en die werk van die Gees, vir Hom ‘n nakroos wees.

Dit word ook geleer, en geprofeteer, daar in vers 13, “En al jou kinders sal deur die Here geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.” (Is 54:13)

Dit is die vervulling van die genadeverbond, wat ook genoem word die ‘nuwe verbond’, waarvan ons lees in Jer. 31:34, “En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.” (Je 31:34)

Daar hoor ons ook geliefdes, vir wie die Here se vredeverbond,

genadeverbond, nuwe verbond is…. klein en groot.

Sy kinders onder al die volke wat tot geloof kom, elkeen wat geroep word.

Die frase ‘klein en groot’ wys op die sterkes en die swakkes,

die aansienlikes, maar ook die gewones,

volwasse of ouer lidmate, maar ook dooplidmate,

Ons en ons kinders, elkeen wat die Here sal roep en red.

SO, geliefdes, die antwoord op die eerste vraag, waarin lê die troos om

ons kinders, almal te leer van die Here, sodat Hy hul sal red en versorg,

na sy welbehae?

Die antwoord is, die Belofte van die genadeverbond (vredeverbond, ewige verbond, nuwe verbond): Hy het beloof dat Hy vir ons en ons kinders ‘n Vader sal wees, en ons sy kinders.

III) MAAR, nou derdens, hoe werk hierdie vredeverbond uit in die geskiedenis, van geslag tot geslag, ook in ons lewens, as ons redding dan alles genade is ogv die Belofte in Christus deur die genadeverbond, wat is ons taak?

Geliefdes, ons glo en bely dat die genadeverbond twee kante of dele het,

ogv God wat alles doen, eis Hy nou alles van ons,

en daarom is daar ook die bevel van die bediening van die genadeverbond,

aan ons almal as gelowiges, maar ook aan ouers om ons kinders in sy weë op te voed en te leer.

Die Here wat goedertieren is, die Ontfermer is,

ontferm Hom oor sy kinders, klein en groot wat Hy wil red na sy vrye welbehae,

DEUR vir hul die evangelie te stuur, deur predikers, deur ouers, deur medegelowiges.

Jes. 54:13 en Jer. 31:34 beteken nie dat God nie middele gebruik nie,

nie sy kerk, deur sending en evangelisasie,

om die kroos in die bring nie, inteendeel, dit is hoe Hy dit beveel en verorden:

PAULUS, ’n dienskneg van God en ’n apostel van Jesus Christus, volgens die geloof van die uitverkorenes van God en die kennis van die waarheid wat na die godsaligheid is, 2 in die hoop van die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het, 3 en op die regte tyd sy woord bekend gemaak het deur die prediking wat aan my toevertrou is, ooreenkomstig die gebod van God, ons Verlosser—aan Titus, my ware kind volgens die gemeenskaplike geloof: (Tit. 1:1-3) Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.” (2 Ti 3:14–15)  En van wie het Timoteus dit geleer?

en as ek my herinner die ongeveinsde geloof wat in jou is, wat eers gewoon het in jou grootmoeder Loïs en in jou moeder Eunice, en wat—daarvan is ek oortuig—ook in jou is.” (2 Ti 1:5)

So geliefdes, ons as mede-gelowiges moet Jes. 54:13,

ook in ons lewens uitvoer, natuurlik deur sending en evangelisasie na alle mense,

en volke, 54:5, maar bo alles in ons eie huise, gemeentes

DAT DIE HEILIGE GEES SY KINDERS RED EN LEER, DEUR DIE WEDERGEBOORTE, EN DIE GELOOF EN BEKERING WAT VOLG…

Toepassings:

Ons almal, maar dan ook in die besonder Mia, GLO EN BELY, DIE VASTHEID VAN God se Beloftes deur sy genadeverbond, Jesus sê in Matt. 24:35, as die vervulling van Jes. 54:10, Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde (my vredeverbond, Beloftes) sal nooit verbygaan nie. (Matt. 24:35)

Bly dan in dankbaarheid in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het (jou ouers, ouderlinge, diakens, mede-lidmate, jou oupas en oumas, familie, vriende….) en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.

Ons almal, maar ook Mia: Lewe in dankbaarheid met die besef dat jou belydenis van geloof, is die vrug van Jes. 54:10, van die Belofte en vervulling van Jes. 53:10 …. genade op genade, dat die Here Hom in Christus, deur sy Gees ook oor jou Ontferm het, oor ons almal wat eers verlore was, maar gered is, deur die geloof in Jesus.

 En dan, laastens geliefdes,

Daar moet ook ‘n oproep van waarskuwing en ontferming wees op almal wat die Here se Naam bely, ook vir ons tye.

Die opdrag om ons kinders op te voed in die vrese van die Here staan onder groot druk, veral in die skoolonderwys.

Ons doopbelofte is om te onderrig en te laat onderrig, beteken die hele lewe, nie net huisgodsdiens en kerk nie, maar alle onderrig en onderwys moet in die lig van Jes. 53 en 54 plaasvind.

Daarom geen neutrale of afgewaterde onderwys nie, daar is groot bekering en reformasie in ons land en volk nodig hieroor.

Alle opvoeding en onderwys moet Jesus en Woord gesentreerd wees, Deut. 6:4-10; Ef. 6:1-4.

Dink ook aan die vyandige wetgewing teen roede toepassing in die gesin, die bedreigende Bela wetgewing wat ouers wil ignoreer in skole in terme van die wese en aard en taal van skole.

Wat gaan vir ouers en gemeentes die kosbaarste wees? 

Jes. 54:10, 13 geloof en lewenswyse…. of Babel en ballingskap lewenswyse?

WAT GAAN ONS GLO, BELY EN UITLEWE?

Gaan ons ons kinders, kleinkinders, gemeente se kinders blootstel aan evolusionistiese woke onderwysers… of gaan ons die erns van die vredeverbond onderwys navolg, en mekaar help met tuis ouerskole of privaat ouerskole?

GAAN ons ons wêreldse agendas agterlaat, die kruisvervolging opneem, en Jesus volg in ons ganse lewe, die drie hoeksverhouding handhaaf, dat gesin-, gemeente- en skool dieselfde belydenisgrondslag en lewensbeskouing het?

Mag die Here ons daarin help deur sy Ontferming, want Hy het ook die belofte gegee, al kan dit ons lewe kos, die woorde van verse 17, vir jou Mia, en ons almal wat glo, sy kerk, mag ons volhard tot die einde toe, die oë gevestig op Jesus (Hebr. 12:1,2):

Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê. Dit is die erfdeel van die knegte van die Here en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek die Here.” (Jes 54:17)

Amen.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑