Nuwejaarsoordenking 2024: Nuwe en Ou Dinge, prof. WJ Snyman

Nuwejaarsoordenking 2024

Nuwe en Ou Dinge

deur prof. Willie J. Snyman*


Matt. 13:44-52 — “Toe sê Hy vir hulle: Daarom is elke skrifgeleerde wat
‘n leerling geword het in die koninkryk van die hemele, soos ‘n huisheer
wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring“.

Die woorde van ons oordenking is in die voorgelese gedeelte, in Matthéüs 13:52.

Na die vraag wat Jesus aan Sy dissipels vra, antwoord hulle Hom dat hulle al hierdie dinge verstaan. Dan voeg die Here daaraan toe dat elke skrifgeleerde wat ‘n leerling geword het in die Koninkryk van die hemele, soos ‘n huisheer is wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring. Dit is dan die gedagte waarby ons met u wil stilstaan: Christus, die Huisheer en Sy skatte.**

Dit is baie opvallend dat onse Here Jesus Christus hier spreek van die huisheer as ‘n skrifgeleerde. Ons ken tog die uitsprake en veroordeling van die Here Jesus teenoor die skrifgeleerdes en Fariseërs en hoe skerp Hy teen hulle opgetree het. Die gedagte kom by ons op dat die Here Jesus skrifgeleerdheid eintlik verwerp. Dit is vir ons van besondere betekenis om te weet dat die Here dit juis nie teen skrifgeleerdheid het nie.

Die sektes se anti-skrifgeleerdheid***

Ons kom seker almal een of ander tyd met sektes in aanraking. Hierdie mense is veral gerig teen die Kerk en sy ampte en kerkmense word dikwels vereenselwig met (of genoem ) Fariseërs. Dit is mense wat nie aan die Kerk wil behoort nie, omdat hulle hul nie skuldig wil maak aan Fariseïsme, dit is skynheiligheid, nie. Hierdie mense stel dit so asof ander mense, wat wel aan die Kerk behoort, eintlik val onder die groep wat die Here Jesus veroordeel het, nl. onder die Fariseërs en skrifgeleerdes.

Dit is vir ons ook van belang om hierdie dinge te weet met die oog op die gebruik
van die Nagmaal. Ons het al gehoor dat mense nie vrymoedigheid het vir, of liewer, wegbly van die Nagmaal omdat hulle nie skynheilig wil wees nie. Dit word dan nou aangegryp teen die Kerk, teen die ampte en selfs teen die Nagmaal en ‘n beroep word gedoen op die Here Jesus self, nl. dat Hy so skerp opgetree het teen die skrifgeleerdes en Fariseërs.

Ware en valse skrifgeleerdes
Daarom is dit vir ons van besondere betekenis dat die Here Sy eie volgelinge skrifgeleerdes noem. Wat vir ons duidelik moet wees, is dat die Here Jesus nie
skrifgeleerdheid as sodanig veroordeel nie, maar dat Hy onderskeid maak tussen ‘n ware en ‘n valse skrifgeleerde.

Hier het ons dan die ware skrifgeleerde: dit is die werk van ‘n huisheer wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn haal. Die Heilige Skrif is die skatkamers waaruit ons die skatte moet opdiep en uitgrawe. 

Daarom het ons skole nodig. Daarom het ons onderrig nodig en kan ons sonder
geleerdheid nie klaarkom nie. Dit help om die Skrifte en hulle waarhede, die goud wat in hierdie myne opgeslote sit, uit te haal en om dit te bedien soos ‘n goeie huisheer die skatte uitdeel aan sy mense. Ons het almal die skat, ons het almal die Woord van God en ons moet almal daarin delf om die skatte daaruit te haal.

Dit is tog maar al wat gedoen word deur ons voorgangers, die ampsdraers, waaronder ook die bedienaars van die Evangelie. Al wat gedoen word, is maar net om ons te help, om ons dieper in te lei in die Skrif en om die skatte wat daar in die Skrifte verborge is, uit te grawe.

Die ware geleerdheid is om dissipel-leerling van Jesus te wees
Verder kry ons hier ‘n baie treffende teëstelling. “Daarom is elke skrifgeleerde wat ‘n leerling geword het…” *Die ware geleerdheid is om ‘n leerling te wees, om ‘n dissipel te wees van onse Here Jesus Christus.* Dit is om aan die voete van die Here Jesus te sit, om gedurig te leer en om altyd ‘n leerling te bly. Dit is om altyd ‘n dissipel te bly.

Dit is onder baie treffende woorde dat die Here Jesus sy eerste ampsdraers gekies het, nl. die dissipels. Ons lees dat Hy hulle uitgekies het “om saam met Hom te wees”, om maar net altyd by Hom te bly. Dit is om te sien wat Hy doen en om gedurig aan Sy lippe te hang. Daardie eerste ampsdraers moes niks anders doen as om te verkondig die dinge wat hulle gesien en gehoor het nie. So rus die apostelskap in die dissipelskap.

Alle gelowiges, nie net amspdraers nie, moet getuig en vertel
Daarom, die ware skrifgeleerdheid waarvan die Here Jesus hier spreek, nl. om ‘n
geleerde te wees, is niks anders as om ‘n leerling te bly nie. Dit moet ‘n mens jou hele lewe lank doen, die Woord verkondig en uitdra. Daartoe is ons almal geroep: om verder te vertel. Daarom is dit nodig om altyd dissipels te bly, dit is leerlinge van onse Here Jesus Christus, dit is leerlinge van die Woord. Huisheer, skrifgeleerde, dissipel.

Maar ek dink nou nie alleen aan die ampsdraers nie. As ons van die huisheer lees,
dink ons ook aan u, vaders en moeders, onderwysers en onderwyseresse. Wat ‘n
heerlike taak is dit nie vir elkeen van ons om te staan in Sy diens nie, ek wil maar sê: in die voortsetting van die apostelskap. Dit beteken om as huisvader en -moeder uitdelers te wees van hierdie skatte en om van ons kinders, wat aan ons toevertrou is, dissipels te maak. Dieselfde verhouding wat tussen die Here Jesus Christus en Sy dissipels was, moet ook in ons huise en in ons skole wees.

Dit moet daarom gaan om ons kindertjies ook dissipels te maak van onse Here Jesus Christus. Dan is ons ook almal soos die huisheer waarvan die Here hier spreek, dit is huisvaders en huismoeders. U moet uit hierdie skat van die Woord van die Here uitdeel aan u kindertjies. Nie net vir hulle tydelike lewe, soos ons moeders maar gedurig doen nie, maar ook uit hierdie geestelike skat, om ons kinders daarin te laat deel. Huisheer, skrifgeleerde, leerling, dissipel in die
Koninkryk van die hemel.

Ons moet nuwe en ou dinge leer van die Koninkryk van die hemele

Dit was die samevatting van die hele prediking van onse Here Jesus Christus. Sy hele prediking het neergekom op een enkele onderwerp. Ons weet dit nou. Dit het gegaan oor die Koninkryk van die hemele.

Wanneer ons dan opgeneem word in die diens van die Koninkryk, laat daardie gedagte ons tog altyd bybly, watter diens dit ook al mag wees, nl. dat dit nog altyd die voortsetting is van die werk waarvoor die Here Jesus na die aarde toe gekom het. Alles wat die Here gepreek het, ook die aanduiding van ons taak in hierdie wêreld, gaan oor die Koninkryk.

Koninkryk, kerk en kerkisme

Die Koninkryk van die hemele is ook die samebinding van die kerke. Daar is so baie verskillende kerke. Daar is so ‘n verbrokkeldheid van die Kerk. Dit moet aan een enkele ding toegeskryf word en dit is dat daar nie genoeg erns gemaak word met die prediking van die Koninkryk van die hemele nie. Daar is maar net een manier om kerke saam te bring en dit is om leerlinge te wees in die Koninkryk van die hemele, om die Koninkryk van die hemele reg te verstaan.

Dit is waar al die verwarring op kerklike gebied vandaan kom. Ons het te min insig omtrent die Koninkryk van die hemele. Dit gaan, verder, by ons meer om die Kerk self as om die Koninkryk. Daar is dikwels meer bekommernis oor die voortbestaan van die Kerk as wat dit daarom gaan om net ‘n middel te wees in diens van die Koninkryk.

Die Koninkryk moet ons saambind. As die Koninkryk ons nie saambind nie, verval ‘n mens tog so maklik in wat ons noem kerkisme. Dit is dat die een kerk die ander wil verdruk in plaas daarvan dat ons saamstaan (gesamentlik staan) en saamgebind word deur daardie hoër diens waartoe ons geroep is — die diens van die Koninkryk. Die rede hiervoor is dit: die Koninkryk van die hemele is die samebinding van die Skrifte, van die hele Bybel.

Die Bybel van die Koninkryk

Die Woord van God is ryk. ‘n Mens kan ook so maklik verward raak as vir hom gevra word: Waaroor gaan dit presies in die Woord van die Here? Al die dinge in die Bybel, van Génesis tot Openbaring, gaan net oor hierdie een ding, die Koninkryk van die hemele.

Deur dissipels te wees, deur leerlinge te wees in die Koninkryk van die hemele, kry ons die regte insig in die Bybel. Verder, omdat ons leerlinge is in die Koninkryk, in die Bybel, en waar dit in die Bybel gaan om die Koninkryk, kry ons ook insig in alles wat gebeur in die lewe en word ons ook saamgebind met die hele wêreldgeskiedenis. Ons weet dat die geskiedenis tog so verwarrend is. Nie net ‘n mens se eie lewe kan vir hom verwarrend wees nie, maar ook al die dinge wat gebeur in hierdie wêreld.

Die Koninkryk en die geskiedenis

Maar as ons leerlinge is in die Koninkryk van die hemele, het ons insig in die ganse geskiedenis van die wêreld. Want, waarom gaan dit presies in die wêreld?

Gaan dit in die wêreld nie juis om die koninkryke nie? Die een koninkryk word opgerig teen die ander koninkryk. So is ons wêreldgeskiedenis van vandag niks anders nie as dat een koninkryk die ander hier op aarde verdring. Dit was
die geskiedenis van die begin af, van Babel af: die oprigting van die een koninkryk
teenoor die ander koninkryk en die een wat die ander onder die voete wil kry.

Hierteenoor staan die Koninkryk van God. Dit is dan waarom dit gaan, nl. om die
koms van die Koninkryk en sy uiteindelike voleinding. Dit is die Koninkryk as ‘n skat, waaruit ons nuwe en ou dinge te voorskyn moet haal. Hier sien ons die verskil tussen die valse en ware skrifgeleerdheid.

Die skrifgeleerdheid wat die Here Jesus hier veroordeel, wil uit daardie skat alleen die ou dinge te voorskyn haal. Hulle wil net vashou aan die ou dinge. Ons ken ook die stryd in onsself, die stryd teen die ou dinge. Daar is dan diegene wat net wil vashou aan die ou dinge, net soos daar ander is wat weer al die ou dinge wil
verwerp (omverwerp) en net wil streef na nuwe dinge.

Ons het seker wel kennis geneem van die stryd wat ook in ons eie volkslewe aan die gang is tussen die ou en nuwe dinge.

Ons moet nie net aan die ou dinge vashou nie

Die Here Jesus veroordeel die skrifgeleerdheid wat net wil vashou aan die ou dinge. Dit was tog die kenmerk van die skrifgeleerdheid in die tyd van die Here Jesus, en ook die kenmerk van die Fariseërs. Hulle het met alle mag vasgehou aan die Ou Testament en aan die Wet, om deur middel van die vervulling van die Wet die nuwe dinge tot stand te laat kom.

Vir ons tyd kan ons maar net die Wet waaraan die skrifgeleerdes en Fariseërs
vasgehou het, vervang met die natuurwet. Ons mense glo vandag in die natuurwet, dit is om deur vervulling en kennis van die natuurwet deur ons wetenskap die toekoms van hierdie wêreld te verseker. As die Skrif- en Wetsgeleerdheid van die ou tyd veroordeel moet word, omdat hulle net wou vashou aan die ou dinge, dan moet ook die geleerdheid en wetenskap van vandag veroordeel word vir soverre hulle net wil vashou aan die natuurwet en aan hierdie wêreld en sy dinge.

Hier het ons ewe-eens ‘n valse behoudendheid. As daar iets is wat bekrompe is, dan is dit die ongelowige wetenskap. Daar kom nuwe dinge waarvan ons elke dag hoor, nuwe uitvindinge, nuwe gebeurtenisse — ons leef werklik in ‘n tyd van nuwe dinge! Dink maar aan die verowering van die ruimtes en hoedat die gebeurtenisse in verband hiermee mekaar opvolg. En tog, met al hierdie dinge bly die wêreld maar dieselfde ou wêreld.

Hierdie moderne wêreld met al sy uitvindings, met al sy nuwe dinge, bly maar die wêreld van die sonde en die dood. Daar is werklik niks nuuts onder die son nie en die wêreld bly oud en aan verandering onderhewig.

Die nuwe dinge van die ewige koninkryk in Christus

Daarteenoor is dit nou die wonderlike van die Koninkryk van God, dat dit daarin gaan om die nuwe dinge, dinge wat die oog nie gesien, die oor nie gehoor, en wat in die hart van die mens nie opgekom het nie. Die wonderlike nuwe dinge van die Koninkryk lê daarin dat dit vir ons vertel van vervulling. Daarom is dit Evangelie, die Evangelie van die Koninkryk.

Soos iemand gesê het: “Dit is die heerlike van die Koninkryk dat die toekoms van die profesie oorgegaan het in die hede van die verlede”.

Daardie groot klip van Daniël se droom het losgegaan en is besig om die aardse
koninkryke te vermaal (slc: sien Dan. 2) . Dink ons genoeg aan die heerlike werklikheid? Dat hier op aarde, te midde van al die koninkryke wat ons sien, ook ‘n ander koninkryk, die Koninkryk van God, bestaan? Dit is die Koninkryk wat bestem is om die aardryk te vervul. Die Koninkryk is opgerig! Dit is die heerlike, die nuwe, wat gekom het. Dit is die blye boodskap van die Evangelie.

Die Koninkryk bevaat nuwe en ou dinge!

Maar nou is die treffende van die Koninkryk van God dit: dit is nuut, maar dit bevat
ook ou dinge. Dit is vir ons belangrik om ook daarop te let dat die nuwe dinge voorop staan met betrekking tot die oue. Daar is eers sprake van nuwe dinge en daarna van ou dinge. Dit is nou die heerlike van die koms van die Koninkryk dat die nuwe dinge vir ons aangebreek het in hierdie ou dinge.

In hierdie ou wêreld, in hierdie verskriklike kringloop waarin ons vasgevang is, het God die nuwe dinge ingeplant en het Hy sy Koninkryk opgerig.

Laat ons dit so stel: die ewige jaartelling het ‘n aanvang geneem met die koms van onse Here Jesus Christus. Ons jaartelling is ‘n deel van die nuwe bedeling wat gekom het. Dit is die jaartelling van die Koninkryk van God wat gekom het om te bly tot in alle ewigheid.

Die Here Jesus het met Sy koms die onsterflikheid kom inplant in die verganklikheid. Hy het die nuwe lewe kom inplant in hierdie ou wêreld. In die duisternis van die dood en van die sonde, het die Koninkryk van God gekom en terwyl dit nag is om ons heen, het God vir ons laat opgaan die Son van  Geregtigheid en van die ewige lewe.

So is die profesie van Sagaria vervul: “Teen die aand dan, sal dit lig wees“. (slc: sien Sag. 14:7)

Die koninkryke van die wêreld vergaan, maar God se koninkryk bly tot in ewigheid

Die wêreld is besig om onder te gaan. Ons lewe in ‘n wegsinkende wêreld. Maar God het sy Koninkryk ingeplant in hierdie wêreld om te bly tot in alle ewigheid en dan so dat met die nuwe wat gekom het, die oue nie opsy gesit is nie. In die nuwe dinge is die ou dinge opgeneem.

Die Bybel eindig met ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde. Dit is nie ‘n ander aarde nie,
nie ‘n ander soort lewe nie, maar dieselfde lewe en dieselfde verhoudinge waarmee ons nou aanmekaar gebind is. Dit is dieselfde ou aarde wat vernuut word. Dit is hierdie lewe wat nou op die oomblik verdonker is deur die sonde en die dood. Dit is dieselfde lewe wat op die nuwe aarde voortgesit sal word sonder dood, dieselfde lewe wat ons eintlik nie anders ken nie as ‘n lewe van droefheid en teleurstellings.

Hierdie selfde lewe sal voortgesit word sonder droefheid — ‘n lewe sonder trane — soos dit beskryf word aan die einde van die boek Openbaring. Dan eers sal ons sien die heerlikheid van die verloste lewe — lewe sonder sonde en dood. Dit is die ou dinge. Dit is hierdie lewe wat in die Koninkryk van God opgeneem sal word en wat vernuut word en wat sal bly tot in alle ewigheid.

So sal diegene wat leerlinge geword het in die Koninkryk van die hemele, die heerlike waarheid in hulle harte dra en daarmee verder gaan in die versekerdheid van die verlossing en van die ewige lewe.

Mag die Here ons daarin sterk om waarlik te wees leerlinge in die Koninkryk van die hemele en dat ons ook die skatte van die Koninkryk mag besit met sy nuwe en ou dinge.

Amen.

_______________________

* Prof. Willie Snyman (professor in NT, Teologiese Skool Potchefstroom, 1946-70, oorlede: 1981-06-06) se boek Nuwe en Ou Dinge, ‘ n samestelling van artikels en preke uit sy pen, is nou danksy die harde werk van Willem Swanepoel, aanlyn beskikbaar: Nuwe en Ou dinge

** Alle beklemtonings bygevoeg.

*** Alle subopksrifte bygevoeg.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑