STOKER OOR VRYHEID EN SKRIFKENNIS

STOKER OOR VRYHEID EN SKRIFKENNIS

[Die volledige artikel kan hier gelees word: Vryheid en Skrifkennis*]

WAT IS EN WAAR MOET ONS WARE VRYHEID SOEK?

“Vryheid moet gesoek word in die gehoorsaamheid aan die wil van God. Wie teen God kies, wie aan Sy ordinansieë ongehoorsaam is, vernietig die moontlikheid van vryheid.”

Dit is HG Stoker se woorde in sy artikel, Vryheid en Skrifkennis, hier is nog ‘n paar aanhalings om bogenoemde vraag te help antwoord, dit is ‘n wesenlike artikel om te bestudeer vir alle ware vryheid op alle vlakke, persoonlik, maar ook gesinne, gemeentes, gemeenskappe, volke, lande, ens., beklemtonings bygevoeg):

“… Lê dit nie voor die hand, dat hy wat die volk-stem vrymaak, vryheid in die wil van die volk veranker dat hy hom aan die grille en willekeur van die volk-stem verkneg, en dat ook hier ‘n Babelse verwarring die gevolg sal wees? Spreek dit nie vanself dat wie in diktatorskappe en ras-ideologieë gebou, sy vryheid soek en veranker, hom hieraan verkneg en sy persoonlike vryheid opoffer aan blinde rasmagte in die hande van ‘n nietige mens?”

Stem u nie toe, dat hy, wat sy vryheid en menslike heerlikheid soek in plesierjag, sensasiesug en sinne prikkeling, hom hieraan verkeng en welbehae vind in die skyn-vryheid van sinnelike verslawing en van sensasie-knegskap? Verslaaf die vrou, wat haar vryheid soek in manne-gelykvormigheid, haar self nie aan haar manne-ideaal nie? So sou ons kan aangaan.

Is dit nie ‘n wonderlike Goddelike ironie nie, wat Hy in die skeppingsordinansieë gelê het, dat elkeen wat sy vryheid nie in God veranker nie, maar dit in homself veranker en dit in die maaksel van sy hande probeer verwesenlik – slaaf en kneg sal word van sy eie voortbrengsele?

Die mens, wat in sy onselfgenoegsaamheid die selfgenoegsame grond vir sy vryheid soek, word slaaf van homself, word aan homself en aan sy eie onselfgenoegsaamheid verkneg. Hy wat sy vryheid in die natuurbeheersing veranker, en nie in God nie, word kneg en slaaf van daardieselfde natuur. Hy wat kuns, wetenskap, politiek, kultuur of wat ook beoefen – nie om God nie, maar om die kuns, om die wetenskap, om die politiek, om die kultuur self, word daaraan verkneg….”

“As u die verleiding van Adam en Christus in die lig van Gods Woord deurdink, dan word dit duidelik dat vryheid gevind moet word in gehoorsaamheid aan God – onvryheid en slawerny in ongehoorsaamheid aan God. Vryheid mag dus nie opgevat word, soos so dikwels gebeur, as die vermoë van die mens om tussen goed en kwaad te kies nie. Die moontlikheid om tussen goed en kwaad te kies is ‘n ,,blote’’ moontlikheid, niks meer en niks minder nie …”

“Die Skrifgelowige daarenteen weet, dat hy kind van God is. Daarin alleen kan en wil hy sy vryheid vind. God is waaragtig vry; dan moet hy as ‘n ware kind van God ook vry wees. Die kind van ‘n vrye God is geen slaaf nie. Hy weet dat hy na Gods beeld geskape is, en nie God is nie. Hy weet daarom ook dat sy vryheid die beeld moet wees van Gods vryheid, maar nie goddelik nie.

Hy ervaar dan ook gehoorsaamheid aan Gods wil nie as ‘n beperking en inkrimping van sy vryheid nie, maar as ‘n voorreg, ‘n Christelike gawe, wat alleen ‘n vrye mens kan geniet. Hy ervaar gehoorsaamheid aan Gods wil as die enigste moontlikheid tot vryheid, as die vanselfsprekende voorwaarde van menslike vryheid, as ‘n wonderlike genadegawe van God, as die hoogste verwesenliking van sy vryheid. …”

Die leraar is vry, wat in gehoorsaamheid Christus verkondig, nie hy, wat agter allerhande moderne versinsels aanloop nie. Sedelik is die mens vry, insover hy die sedewet gehoorsaam is en sedelike waardes verwesenlik, sy van God gegewe plig vervul, en in Gods wette sy verlustiging vind. Onvry is hy, wat sy eie luste en nukke volg in minagting van en onverskilligheid teenoor wat God van hom verwag.

Die onderwyser is vry insover hy die aan hom toevertroude kind tot vrye (d.w.s. gehoorsame) kind van God opvoed, en hom bevoegd maak om God te dien met die talente wat God hom gegee het. Daardie politikus, daardie volk, daardie party is vry, wat luister na die stem van God en sy van God gegewe roeping vervul.

Hier orals is die voorligting van die Heilige Skrif ‘n onvoorwaardelike eis; want hoe kan vryheid gesoek, gevind en verwesenlik word sonder Skrifkennis? Vryheid moet gesoek word in die gehoorsaamheid aan die wil van God. Wie teen God kies, wie aan Sy ordinansieë ongehoorsaam is, vernietig die moontlikheid van vryheid.

Tog is dit merkwaardig dat Christene in navolging van die ongeloof die vryheidsvraag so dikwels gesien het in die lig, waarin Satan ons ‘vryheid’’ voorspel, nl. in die verleidende (maar om sy slaafse karakter vernederende) vraag: ,’Kan jy aan God ongehoorsaam wees? Kan jy die wet oortree?’’ So soek Christene so dikwels vryheid in die moontlikheid van wetsoortreding, i.p.v. in die moontlikheid van wetsvervulling.

Ook hier geld: ‘Elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie’. Alleen kinders van God kan waarlik vry wees.”

Byvoeging: lees en peins oor Joh. 8:32-36, wat dit persoonlik vir jou en jou gesin, gemeente, gemeenskap, volk, land, ens. beteken.

Die volledige artikel kan hier gelees word: Vryheid en Skrifkennis*

____________________________________

Ander Stoker artikels: HG Stoker

____________________________________

* Stoker CD (VCHO), sien: https://vcho.co.za/

2 thoughts on “STOKER OOR VRYHEID EN SKRIFKENNIS

Add yours

  1. Hartlik goeie more. Ek wil net baie dankie sê vir elke email omtrent die Woord van die Here wat u gereeld vir my stuur. Ek het die hoogste wardeering daarvoor.. Dit is so leersaam. Ek is n sewentig jarige man, wat baie lief is vir die Here. En ek wil vra, of ek van u preke en leringe mag gebruik om mense nader aan die Here te bring. Ek aanbid by die Spadereën gemeentes van Suid Afrika. Laat weet my asb. Mooi dag vir u en ek bid u n baie voorspoedige nuwe jaar toe. Groete. Jan Knoesen.

Leave a reply to proregno Cancel reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑