Opebrief aan Die Kerkblad en prof. Amie van Wyk aangaande die VIDA saak in die GKSA

‘N OPEBRIEF AAN DIE REDAKTEUR VAN DIE KERKBLAD, PROF. AMIE VAN WYK EN ANDER WAT SKRYF EN OPTREE IN ONS KERKVERBAND ASOF DIE GKSA NIE VIR DEKADES LANK DIE VIDA SAAK AL BESTUDEER HET EN REEDS SKRIFTUURLIKE WESENTLIKE BINDENDE BESLUITE DAAROOR GENEEM HET NIE

Die redakteur van die Die Kerkblad, ds. Cassie Aucamp, skryf in die Des. 2023/Jan. 2024 uitgawe oor wat hy meen die taak van die Die Kerkblad is, ook oor die VIDA sake wat ons kerkverband al vir dekades verdeel en bedreig, deur gemeentes wat nie wil bly en berus by wesentlike leerbesluite wat reeds geneem is op grond van Skrif, belydenis en kerkorde, oor hierdie saak nie (beklemtonings bygevoeg):

“In die eerste uitgawe van Die Kerkblad in 2023 het die nuwe redaksie die versugting uitgespreek: Hoe dankbaar sal ons nie wees nie as die Here Die Kerkblad sou gebruik om daartoe by te dra dat al ons gemeentes as een Gereformeerde familie sal saamleef! Ons gaan regtig sterk klem plaas op die eenheid van ons kerke, midde in ’n gesonde verskeidenheid…. Soos ds. Piet Venter, Voorsitter van 2023 se Sinode berig het: In die GKSA het ons deur die jare oor baie sake ernstig verskil, en tog kon ons ons eenheid bewaar. Maar oor die saak van vroue in die diens van ouderling en predikant skryf hy in Die Kerkblad van Maart 2023: “Dit het werklik intense spanning en polarisasie na vore gebring. … Tydens ons samekoms van 22 Julie het hy hierdie kommer nog sterker en dringender na vore gebring. Intussen het ons verneem dat hierdie saak ’n hindernis is vir van ons kerke om ordelik in sekere meerdere vergaderings te konstitueer, terwyl die basiese taak van kerklike eenheid tog is om saam te vergader en te regeer. Die Kerkblad mag nie kant kies in hierdie saak nie, maar ek glo dat ons tog ’n beroep op ons kerke kan doen om kragtens die besluit waarop ons in Sinode ooreengekom het, die uitkoms van die studie van die Deputate wat juis hiervoor aangewys is, af te wag. Ons moet glo dat die Here ons langs hierdie weg waarop ons ooreengekom het, sal lei.”

Prof. Amie van Wyk (emeritus, Pretoria) skryf ook in dieselfde uitgawe se briewekolom oor die VIDA saak (beklemtonings bygevoeg):

Indien die VIDA-aangeleentheid vir die GKSA van fundamentele belang is, dan kan die verhouding tussen die GKSA en die nuwe NGK baie moeilik as ekumeniese eenheid beskryf word en sal die GKSA hierdie eenheid moet hersien. Indien die GKSA oordeel dat VIDA wel ’n belangrike, maar nie ’n fundamentele saak is nie, dit wil sê nie die Christelike geloof wesenlik ondermyn nie, kan die aangeleentheid gerus aan die plaaslike gemeentes en kerkrade vir besluitneming oorgelaat word.”

Liewe prof. Amie, ek was bevoorreg om nog ‘n jaar by u te kon klas kry in my eerste jaar van teologiese studies in Potchefstroom (2002) toe dit nog PU vir CHO was, die ‘In U Lig’ (Ps. 36:10) dae. Soos destyds, vind ek nou nog u boeke en skrywes aangaande die Koninkryk van God (en Augustinus) baie leersaam. Juis daarom vind ek u en Die Kerkblad, asook ander kerkleiers in die kerkverband saam u, se hantering van die VIDA sake die afgelope jaar, baie hartseer, verwarrend en teleurstellend, en nié tot opbou en eenheid van ons kerke nie.

Hoekom betreur ek dit?

Omdat dit so oorkom – die redakteur van die Kerkblad en u brief – deur u skrywes en opmerkings oor VIDA dat u en Die Kerkblad blykbaar bloot ignoreer of vergeet of dit nie baie ernstig opneem (?) wat die afgelope paar dekades, en veral die laaste 15 jaar Skriftuurlik en kerkregtelik gebeur het oor die VIDA sake in ons kerkverband nie? Asof al ons algemene sinodes se worstelinge en diepgaande wesentlik besluite op grond van Skrif, belydenis en kerkorde, nie werklik plaasgevind het en kerke en lidmate daarby behoort te berus nie?

Het u en Die Kerkblad al die worstelinge en studies en toewyding aan hierdie saak vir dekades gemis, juis oor die waarheid en eenheid van ons kerke op grond van die Skrif, veral die amptelike bindende leerbesluite daaroor, onder andere:

1) In 2009 is uiteindelik saam besluit, na baie jare se studie van die Woord oor die saak, dat ons kerke saam op grond van die Skrif, soos saamgevat in die studierapport se deeglike eksegese, dat susters nié as ouderlinge en predikanteverkies en bevestig mag word in ons kerkverband nie.  Ons het die besluit biddend geneem, omdat ons die waarheid van die Skrif en die eenheid van ons kerke liefhet.

2) In 2015 besluit ons kerke saam na nog baie verootmoediging en studie en leiding deur die Gees van God, dat VIDA is ‘n wesentlike saak. Dus, al ons gemeentes in kerkverband moet in liefde vir die eenheid én waarheid, liefde vir die Koning van die Kerk, Jesus Christus, asook liefde vir die gemeentes en mekaar, berus by hierdie besluit oor ons kerkregering. Verder beteken dit om te berus ook by ons ooreengekome kerkordelike weg daaroor, wat o.a. beteken elke gemeente, terwyl hul deel bly van ons kerkverband is, mag nié eiewillig en eensydig hierdie wesentlike besluit ignoreer nie, want die Koning van die Kerk, bepaal sy kerkregering vir sy kerke (1 Tim. 2 en 3, 1 Kor. 14:33-40; sien ook NGB art. 30-32). Die gemeentes wat dus reeds die eenheid van die Here se kerke bedreig en verdeel en de facto verbreek het (sien Dr. J Visser, Die Kerkorde in Praktyk, 2006: 131), is die kerke wat nie by die Skrif se kerkregering wil bly nie, hul verwerp in wese die gesag van die Skrif, die Koning van die Kerk se gesag, en dit is eiewilligheid, nie tot eer van God nie, en nie tot die heil en eenheid van ons kerkverband nie.

3) In die buitengewone algemene sinode van 2016, loop ons gemeentes en broers, terwille van die eenheid van die kerke wat as afgevaardiges saamkom, nog ‘n verdere ekstra liefdevolle myl deur gebed en die genadewerk deur die Gees om die eenheid van die kerke te soek en te bewaar, die eenheid en waarheid van Gees en Woord (Joh. 17:17-21), en bestudeer in diepte saam in die lig van die Skrif, al die beswaarskrifte wat die besluite van 2009 tot 2015 teen staan om sodoende VIDA toe te laat in die kerkverband. Al ses beswaarskrifte word saam afgewys in die lig van Skrif, belydenis en kerkorde, na deeglike oorweging en behandeling.

4) In 2018 het nog ‘n paar beswaarskrifte nie geslaag oor die VIDA saak nie, en baie belangrik, ook nie die beswaarskrif teen die 2015 besluit dat VIDA ‘n wesentlike fundamentele belangrike saak is vir ons kerverband, nie.

5) Teen 2023 is daar nie ‘n enkele beswaarskrif op die sinodetafel wat al die VIDA besluite teenstaan of omkeer nie.

En tog, na al daardie paaie wat die Here ons reeds gelei het, na al daardie ekstra myle saamloop in groot geduld, is daar nog steeds ‘n deel van ons kerke en kerkverband (‘n minderheid, maar ‘n minderheid wat nie wil berus nie?), wat aanhou die verdeeldheid onder die dekmantel van die ‘ons soek die eenheid van die kerke’ verkondig en deurdruk op meerdere vergaderings?

Waarom kan sommige gemeentes, sommige professore, Die Kerkblad as amptelike blad van die GKSA, nie berus by ons besluite nie, terwille van die heiligheid, vrede én eenheid van ons kerke nie, en bo alles tot eer van die Koning van die Kerk, sodat ons juis ons kragte kan spandeer aan ons plaaslike gemeentes, evangelisasie, sending, diensbaarheid orals, hoekom aanhou hierdie VIDA agenda stoot in ons kerke wat al die onenigheid en verdeeldheid en liefdeloosheid aanvuur?

Liewe Prof. Amie, hoe kan u dan ook wil aanhou beweer “Indien … indien…”?

Hoe kan die redakteur beweer dat Die Kerkblad nie kant kies nie, terwyl dit tog so duidelik was en is dat kant gekies word:

–  teen wat reeds volgens die Skrif besluit is,

– daar word kant gekies om nie te berus by besluite nie, en die Koning van die Kerk se kerkregering nie.

– daar word in die praktyk deur die redakteur en sommige professore besluit om nie die kerke saam op te roep tot berusting in ons kerkregering besluite oor VIDA op grond van die Skrif nie, maar dit aanhou openlik te bevraagteken, te betwyfel, dit af te maak as nie-wesentlik, ens.

Beste broeders, weereens: ons kerke saam in baie sinodes het klaar duidelik en seker besluit wat ons glo en bely oor ons kerkregering volgens die Skrif, en waarin ons ons deur die Openlike Verklaring verbind in ons meerdere vergaderinge … of veronderstel is om aan te verbind in lyn met die negende gebod:

  1. VIDA is ‘n wesentlike bindende saak vir alle lidmate, gemeentes en meerdere vergaderings in ons kerkverband, én
  2. susters mag nie as ouderlinge en predikante verkies word nie.

Hierdie is vas en bindend tot daar deur die kerkordelike weg van art. 31 dit vanuit die Skrif, verander word, en daarby moet ons berus. Gemeentes wat hierdie bindende besluite op grond van die Skrif verwerp en ignoreer, het hulself buite kerkverband geplaas. In dr. Jan Visser se kommentaar by KO art. 31, in sy Kekrorde in Praktyk,

Die besluite van alle kerklike vergaderings, wat wettig met meerderheid van stemme geneem is, is vas en bindend. Dit beteken dat alle kerke en lidmate binne die gebied van die vergadering wat die besluit geneem het, hulle daaraan moet hou en daaraan uitvoering moet gee. Om eensydig en eiewillig sulke besluite te ignoreer en te maak asof dit geen regskrag het nie, is onordelik en onaanvaarbaar. In wese is dit nie gereformeerd nie, maar independentisties. Dit kom prakties neer op verbreking van kerkverband.”

Daarom behoort u en ander kerkleiers in ons kerkverband, veral professore, afgetredes en huidiges, Die Kerkblad, in lyn met die Skrif, en saamgevat in KO artikel 18, 53 en die onderteningsformulier, hierdie wesentlike besluite van ons kerkregering – geneem op grond van die Skrif – te leer en teen dwalinge van die tydsgees wat VIDA vereis, weerlê, juis in liefde vir die kerkverband, juis om die eenheid van ons kerke te bewaar.

Daarom moet u eerder soos volg geskryf het in u briewekolom prof. Amie, om juis die waarheid in liefde te soek vir ons kerke:

“Die VIDA-aangeleentheid is vir die GKSA van fundamentele wesentlike belang soos wat reeds op grond van die Skrif deur die kerkverband besluit is deur sy Gees en Woord (2015/6), daarom kan ons ongelukkig nie met kerke wat in die VIDA dwalinge volhard en nie wil bekeer daarvan in eenheidsbande bly nie, ook nie die nuwe NGK nie. Die GKSA het lankmoedig oor baie dekades reeds geoordeel dat VIDA ’n belangrike, wesentlike fundamentele saak is en moet daarvolgens self in al hul meerdere vergaderinge optree, asook in al hul ekumeniese bande, binne-en buitelands, want ons moet meer gehoorsaam wees aan die Koningskap van Jesus Christus, as aan mense wat die tydsgees in ons kerke wil indra. Ons Here Jesus Christus, nie die feministiese tydsgees nie, bepaal die regering van sy kerk, deur sy Gees en Woord (Luk. 6:46; Joh. 17:17; 1 Tim. 2 en 3).”

Daarom prof, u en ek, en elke leraar en elke gereformeerde professor en elke kerkraad weet dit, en behoort te weet: die VIDA saak is ‘n wesentlik fundamentele saak, want onderliggend aan hierdie saak (soos die hele kerkgeskiedenis ook getuig en gereformeerde kerke nog altyd handhaaf), is die wesentlike fundamentele saak wat ons kerkverband glo aangaande (sien die Konferensie hier onder):

a) die aard en gesag van die Heilige Skrif (Skrifbeskouing en Skrifgesag), asook
b) die vraag oor wie is die Koning in die Kerk, wie is die Koning van die kerke wat saamvergader as GKSA: ons, ons tydsgees, of ons Here Jesus Christus alleen?

Mag die Here ons genadig wees sodat ons almal sy Woord ernstig sal opneem vir ons roeping as gemeentes afsonderlik en saam hier waar ons geroep is in Afrika.  Alleen as al ons kerke weer erns maak met bindende besluite wat geneem is oor die kerkregering op grond van Skrif, belydenis en kerkorde, dan alleen kan die oproep vir die handhawing van die eenheid van die kerke ernstig opgeneem word, anders gaan die eiewilligheid en wanorde net nog meer toeneem, as elke gemeente maar kan doen net wat hul wil oor wesentlike sake, soos die Skrif self waarsku: “want God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges…. Of het die woord van God van julle uitgegaan, of het dit tot julle alleen gekom?” (1 Kor. 14:33, 36)

Broedergroete in Jesus Christus, die enigste Koning van die Kerk

Slabbert Le Cornu

GK Carletonville

DIE GEREFORMEERDE KERK CARLETONVILLE

BIED AAN

IN U LIG” 2024 Konferensie

TEMA: SKRIFBESKOUING IN DIE GKSA

Datum: 3 Februarie DV 2024

Plek: h/v Topaz- en Pewter plek, Carletonville (Kaolinstraat 157)

Spreker: dr. Christiaan Jooste* (GK Waterberg)

Program:

Saterdag, 3 Februarie

08h00 – 09h00: Registrasie en koffie 

Opening: 09h00

09h15 – 10h00 Lesing 1: Gereformeerde Skrifbeskouing – Beginselstelling

10h00-10h15: Bespreking

10h15 – 11h00 Lesing 2: Skrifbeskouing in die Gereformeerde Kerke – Historiese perspektief

Bespreking en koffie&tee: 11h00-11h30

11h30 – 12h15 Lesing 3: Een op grond van die Skrif – Die pad vorentoe

Bespreking: 12h15-13h00

Afsluiting, ete en saamkuier: 13h00

Kostes (Saterdag): R50-00 per persoon, verversings en ete ingesluit.

RSVP voor Sondag, 28 Januarie 2024

Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig.” (Ps. 36:10)

*Dr Christiaan Jooste is ‘n boorling van die Wesrand en het in Krugersdorp groot geword. Na ‘n tydjie in die boerderybedryf het hy die roeping gevolg om predikant te word en bedien drie gemeentes in Pretoria (Innesdal/Eloffsdal en Wonderboompoort). Hy is tans predikant van GK Waterberg in Nylstroom. Hy is getroud met Irma en het vyf kinders (vier dogters en ‘n seun). Hy behaal sy Doktorsgraad in Ou Testament met spesifieke fokus op Deuteronomium se opdrag om die kinders te onderrig.

VERDERE NAVRAE: Slabbert Le Cornu 082 770 2669 of slabberto@gmail.com

VIDEO – UITNODIGING:

One thought on “Opebrief aan Die Kerkblad en prof. Amie van Wyk aangaande die VIDA saak in die GKSA

Add yours

  1. Dankie ou ds. Slabbert. Here in America, the theological left kept bringing up, for example, similar issues every year at the old PCUSA General Assemblies that had already been decided based upon scripture alone. (The same with the CRCNA).

    They tend to wait until the conservatives hive off to form new denominations until they get a majority and then they take over the whole. The issue in the last 10 years had been homosexuality, but now the issue is transgender, and similar grievous sins. Will pedophilia and polygamy be next?

    Now they are trying slowly, but surely to infiltrate the more conservative break off reformed denominations.

    However, I know you know this! I pray this does not happen to the GKSA!

    Mark R. Kreitzer, DMiss, PhD

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑