Die WARE emansipasie van die vrou én die man en die kinders … nodig vir ons tye!

Die WARE emansipasie van die vrou

én die man en kinders… is nodig vir ons tye!

Die ware emansipasie (van man, vrou en kinders! – slc) is emansipasie van sonde en die gevolge daarvan. Dit behels in die eerste plek vrymaking van alle valse dogmas of bygelowe, soos in die voorgaande aangestip en bespreek.” – DCS van der Merwe

Inleiding

So skryf dr. DCS van der Merwe reeds in 1980, en dit is nog steeds so aktueel en dalk nog meer in ons tye.  Vandag, al meer vroue wat manne probeer wees, en manne wat vroue probeer wees, teen God se skeppingsorde en bevel, inderdaad ‘n gruwel voor God soos die Skrif leer.

Gaan lees gerus die hele boekie wat dr. van der Merwe geskryf het, hier onder plaas ek slegs ‘n gedeelte uit die hoofstuk oor ’emansipasie’ en ‘n ander paar aanhalings uit die werk, saamgevat in 7 opskrifte of stellings (beklemtonings bygevoeg):

MAN EN VROU: Wat is ware liefde? Hoe werk dit?

Emansipasie — nie net van die vrou nie maar ook van man en kind

1) Onenersheid is nie gelyk aan ongelykheid nie
Emansipasie is vrymaking — vry van iets maar ook vry tot iets. Die luidrugtige en wêreldwye “Woman’s Lib” wil te kenne gee dat dit net die vrou is wat vrygemaak moet word en wel van die onregverdige heerskappy van die man, tot volle gelykheid met hom. Hierdie volle gelykheid en vryheid kan volgens hulle alleen verwesenlik word as man en vrou absoluut eners gemaak word. Enersheid in alle opsigte is vir hulle die noodsaaklike voorwaarde vir gelykheid. Daarom mag daar volgens hulle nie van “meneer”, “mevrou” of “juffrou” gepraat word nie, maar slegs van “persone”. Om ‘n mens se seks in sy benoeming aan te dui is, volgens hulle, diskriminasie en ontmensliking van die mens. Die mens is eintlik seksloos, en sy seks is net ‘n bykomstige aanhangseltjie, wat in sy menswaardigheid van geen belang en waarde is nie.

2) Man en vrou is nie eners nie
Soos reeds uiteengesit is hierdie standpunt van die “Woman’s Lib” in alle opsigte regstreeks teen Skriftuur en natuur. Die Skrif openbaar baie duidelik, en die natuur bevestig dit, dat ‘n mens nie ‘n mens kan wees sonder om man of vrou te wees nie. Die keuse tussen die twee berus in die beskikking van God, nie by die mens se ouers en ook nie by homself nie.

Dit is ‘n verskil en onenersheid wat die mens se lewe bepaal, wat nie deur die mens self bepaal  kan word nie maar wat slegs uit die hand van God aanvaar moet word. Dit berus ook nie op die bepalinge en wette van ‘n sogenaamde manlik oorheerste samelewing nie. Deur die sonde is en word daar dikwels onregverdig teen die vrou gediskrimineer, maar dit is ‘n misbruik van die Godgegewe onenersheid en berus nie in die wese van die saak nie.

Onenersheid is dus die finale grondslag van die hele Skrif oor man en vrou. Dit is egter geen ongelykheid nie. By die heilige Drie-eenheid van God sien ons dit ook baie duidelik. Vader, Seun en Heilige Gees is nie eners nie, in baie opsigte verskillend, maar dit tas hoegenaamd nie die absolute gelykheid van Godwees by die drie onderskeie Persone aan nie. Hulle is in alle opsigte volkome gelyk God. (Lees weer artikel 8 en 9 van die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Athanasium.) Hierdie totale gelykheid word ook nie opgehef of hoegenaamd aangetas deur die feit dat die Vader eerste is, die Seun tweede en die Heilige Gees van beide Vader en Seun uitgaan nie.

Netso stel die Skrif’ wel dat die man eerste is en die vrou tweede, en uit hulle liefde daarna eers die kind. Hierdeur word ook die menslike gelykheid tussen man en vrou nie aangetas of verminder nie. Die kind is egter aanvanklik ondergeskik aan vader en moeder, net soos die skepping nie aan God gelyk is nie. Uiteindelik leer die Skrif tog duidelik dat alle mense voor God gelyk is, en gevolglik die kind ook aan sy ouers. God ken geen aansien des persoons nie.

3) Man, vrou en kind het al drie emansipasie nodig
Deur die sondeval is die eerste heilige driehoek heeltemal geskend, en daardeur ook die tweede en het al drie, man, vrou en kind hulle inherente geskape heiligheid en gelykwaardigheid voor God verbeur.

Hulle het al drie slawe geword in plaas van konings en koninginne. AL DRIE het nou emansipasie nodig en nie net die vrou nie. Dit is nie emansipasie van manneheerskappy nie maar emansipasie van die heerskappy van Satan, van die sonde in al sy verskriklikhede.

Dit gee God uit loutere genade in Jesus Christus deur die Heilige Gees. Dit kondig Hy self die eerste keer in Gen. 3:15 in die Moederbelofte aan. Almal is gelyk geskape, almal het gelyk in Adam in die sonde geval, en almal word gelyk uit louter genade in Christus, die tweede Adam, gered en bevry (Rom. 5:12-21). Hierdie gelykheid in geskape volmaaktheid en redding uit loutere genade hef egter die geskape onenersheid hoegenaamd nie op nie.

“Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus” (Gal. 3:28).

Let wel, daar staan nie “eners in Christus” nie maar “een in Christus”. Die nuwe vertaling stel dit duideliker: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één”. Die hele Nuwe Testament vertel nêrens dat ‘n vrou wat tot Christus bekeer is, daardeur minder vrou geword het nie. Sy het eintlik meer eg vrou geword. Net so het die bekering tot Christus geen man sy manlikheid ontneem nie, en kinders het kinders gebly, gelyk in Christus aan hulle ouers maar nie eners met hulle ouers nie. Die bekering het nie die vyfde gebod vir Christenkinders opgehef nie.

Die kind bly kind. Die kind kry wel ‘n besondere ereplek in die koninkryk van God, as Christus self hom vir ons as voorbeeld in die geloof voorhou (Matt. 19:13-15 en elders). Dit neem egter nie weg dat die Skrif ook neerhalend van die sondige kind praat nie (Pred. 10:16; Matt. 11:16 en 17). In Afrikaans word hierdie saak en onderskeid baie duidelik vasgevat in die twee woorde kinderlik en kinderagtig.

In opregte kinderlikheid openbaar die kind homself as die gelyke van vader en moeder, selfs as hulle meerdere in die geloof miskien, maar hy bly kind, net soveel jonger as sy ouers as die dag toe hy gebore is — al is hulle negentig en hy sewentig. Die onenersheid van kind en ouer kom veral tot openbaring in die verskeidenheid in geslagte van die mensheid deur die jare en eeue heen. Hierdie verskil en verskeidenheid, onenersheid van die geslagte, hef ook geensins hulle gelykheid voor God, beide in skepping en herskepping, op nie. 

Hierdie geopenbaarde waarhede van God, wat die gelowige slegs deur die genadige werking van die Heilige Gees in kinderlike geloof kan aanvaar, verstaan en begryp die ongelowige emansipasionis glad nie. Volgens hom word elke mens mondig gebore en is dit slawerny en ontmensliking om hom aan die gesag van sy ouers te onderwerp.

4 Gelykheid en ware vryheid deur onenersheid
Dit ken die ongeloof glad nie, omdat hulle God drie-enig nie ken nie. Net so ken hulle ook nie die vryheid van ware gehoorsaamheid en die slaafsheid van ongehoorsaamheid in sy wese nie. Die ware vryheid in gehoorsaamheid kry ons alte duidelik in die verhouding van Seun tot Vader, veral by die kruisiging en in Getsemane net tevore (Matt. 26:39,42 en 44).

Hoe duidelik stel Christus nie telkens dat Hy en die Vader een is nie, maar tog is Hy aan die Vader volkome gehoorsaam! Die Vader stuur die Seun, die Vader word nie gestuur nie; die Seun word gekruisig en nie die Vader nie. Dit is geweldige verskille, wat nie die eenheid van Vader en Seun ophef nie maar Hulle ook nooit eners maak nie.

As ons as Christene hierdie kernwaarhede van die Skrif los en kwytraak, dan bly ons saam met die ongelowige wêreld verward verdwaal in die doolhof van god-losse, goddelose denke en doen.

5 Permissiwiteit geen oplossing nie
Die losbandige mens bekommer hom nie oor so iets soos sonde nie, behalwe miskien soms, noodgedwonge, oor die openbare gevolge van sy wellus. Freud e.a. se oplossing van die probleem van die “private helletjie” is permissiwiteit: laat loop al jou begeertes, volle vaart, anders word jy gek. Raak ontslae van al jou inhibisies, soos hulle dit noem, anders kan jy nooit waaragtig mens wees nie. Hierdie praktyk is horingoud, hoewel die teorie in sy bewoording en beredenering modern mag wees. Dit word vir ons volledig in sy totale misoes in Rom. 1 beskryf. In plaas van die mens by die hemel te bring, lewer dit hom aan die hel uit, nou, hier op aarde, en hiernamaals. Die moderne seksuele losbandigheid bewys nog eens bloot uit die natuur die waarheid van Rom. 1, veral vv. 18-32. 

6 Genade en vergifnis

God se oplossing is in die eerste plek die kruis van Christus en die heiligmakende krag van die Heilige Gees. Daar is volop genade en vergiffenis by God, beide vir openbare en geheime seksuele sondes. Daar is ook telkens weer opstandig uit die sonde, ná waaragtige bekering, en ‘n voortgang in ‘n waaragtige manlike of vroulike lewe, met die gepaardgaande wettige verlangens en begeertes — ‘n ware menslike lewe — deur die inwonende krag van die Heilige Gees. Al sondig ek herhaaldelik, teen my goeie wil in. God se genade is steeds groter as alle sondes, ook die teen die sewende gebod. Lees hieroor Paulus se stryd in Rom. 7. Die Skrif leer genade en vergiffenis sonder om van sonde ‘n ongeneeslike siekte te maak waarvoor die sondaar dan geensins verantwoordelik is nie.

Homoseksualiteit kan, soos byvoorbeeld alkoholisme, naderhand ‘n onweerstaanbare siekte word, maar dit neem nie die aanvanklike sonde en die verantwoordelikheid van die sondaar weg nie. Ook hier is genade en vergiffenis geensins gelyk aan permissiwiteit nie. Christus se woorde bly steeds staan: “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie” (Joh. 8:11). Uit eie krag is dit vir die sondaar onmoontlik; deur die Heilige Gees is alles by God moontlik. Die sondaar word egter nie op hierdie pad van geloofstryd gehelp deur bejammering en deur aan hom te vertel dat sy sonde nie sonde is nie. Deur sodanige permissiwiteit word hy verby die kruis van Christus gerangeer: sonder skuldbelydenis, regverdigmaking in Christus. kan hy nie by die Heilige Gees en heiligmaking uitkom nie. Hier geld egter in die optrede teenoor sulke sondaars die waarheid van Jes. 42:3: “Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie …” Barmhartigheid teenoor die sondaar, nie teenoor die sonde nie. is hier die sleutelgedagte en praktiese oplossing.

7 WARE en volledige emansipasie – van man, vrou en kind

Die stryd vir die emansipasie van die vrou (“Woman’s Lib” en geesverwante rigtinge) bevestig uit die natuur maar net die waarheid wat God ons in die Skrif openbaar: “. . . met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers” (Gen. 3:16). Die heerskappy van die man is die gevolg van die sonde; dit is ‘n ontaarding ten gevolge van die sonde en ter wille van die sonde, van die feit dat die man eerste is in die menslike drie-eenheid van man, vrou en liefde, die tweede heilige driehoek, soos in hoofstuk 1 behandel.

Deur Christus is daar genade en vergiffenis en ook regstelling van die
posisie van die vrou, soos ons dit reeds by Christus self vind. Sonder enige “Woman’s Lib” het die vrou deur die eeue onder invloed van die Christendom geweldige vooruitgang gemaak. Op grond van reeds genoemde waarhede van die Skrif moet op hierdie weg van vrymaking van die vrou voortgegaan word.

Soos reeds gestel, is vrymaking nie net vir die vrou nodig nie maar ook net soveel vir die man en kind. Nie net die vrou is deur die sonde en sondige toestande verneder nie maar ook die man en kind. Almal het die heerlikheid waarin die mens geskep is kwyt geraak en moet in die regte verhouding tot God en mekaar gestel word. Poligamie krenk net sowel die man as die vrou, want dit maak uiteindelik van hom ook maar net ‘n aanteeldier soos die vrou. As ‘n kind nie in die regte sin op sy plek gehou word nie, dan krenk dit homself en almal wat met hom te doen het. Elkeen het sy paslike plek op aarde deur God aan hom gegee. Daarbuite verwoes en vernietig hy homself en sy medemens. “Onder drie bewe die aarde, en onder vier kan hy dit nie uithou nie: onder ‘n slaaf as hy koning word, en ‘n dwaas as hy volop brood het; onder ‘n nie-geliefde as sy tog ‘n man kry, en ‘n slavin as sy haar meesteres uit die besitting verdrywe” (Spr. 30:21-23).

Emansipasie van valse dogmas
Die ware emansipasie is emansipasie van sonde en die gevolge daarvan. Dit behels in die eerste plek vrymaking van alle valse dogmas of bygelowe, soos in die voorgaande aangestip en bespreek. As die mens werklik glo dat hy iets kan bereik of dat hy teenoor iets anders magteloos is, dan het dit ‘n geweldige invloed op sy begeertes en handele. Mense wat glo dat hulle hulle manlikheid en  vroulikheid tot niet kan maak en engele kan wees, sal dit probeer en daarmee hulleself vernietig, tensy hulle miskien van die enkele mense is wat heeltemal die gawe van onthouding het. In sover hulle in elk geval nie slaag nie, sal hulle gedurig onder ‘n valse en vernietigende skuldgevoel leef. ‘n Jong vryerspaartjie wat glo dat die ware liefde onmiddellik op seksuele verkeer en orgasme moet uitloop, sal onmoontlik hulleself kan beheers tot by hulle huwelik. Twee manlike vriende wat glo dat alle verhoudings op seksuele verkeer moet uitloop, sal noodwendig by homoseksualisme uitkom.

Dit geld al die behandelde verhoudinge tussen mense as manne en vroue teenoor mekaar. Die regte denke en begrip, die leef in die Waarheid van God is hier die enigste ware emansipasie. Ons moet sorg dat ons God ken en alles wat Hy ons in Skriftuur en natuur openbaar. Ons mag nie deur leuens en bygelowe aan die neus gelei word nie, al word hulle in die naam van die wetenskap opgedis.

Eers as ons op hierdie gebied die volle en onvervalste waarheid van God ken en in ons denke ten volle daarin leef, gelei deur die Heilige Gees, sal ons in staat wees om ons drifte te ken en te tem en seksueel tot eer van God te lewe.

Christus bevry ons waarlik

Die teoretiese en praktiese aanvaarding van die waarheid van God of die waarhede deur God in verband met die seksuele lewe van die mens geopenbaar, begin by die aanvaarding uit die hand van God van myself, hetsy as man of as vrou. Dit berus op die vyfde gebod: ek kan nie my eie ouers kies nie, en hulle kan nie kies of ek ‘n seuntjie of dogtertjie sal wees nie. In hierdie opsig moet ek heel eerste volle vrede met my God bereik deur te aanvaar dat ek nie self God is nie maar skepsel.

Dit sluit dan vanself in dat God deur sy beskikking mettertyd op sy wyse vir my my huweliksmaat sal gee. Met hierdie maat moet ek dan ‘n huweliksverbond voor God sluit. Indien ek geen maat raakloop nie, moet ek daarin berus en God in die omstandighede om die nodige krag en genade bid, net soos wewenaar en weduwee. Verder moet ek al die medemenslike manlike en vroulike verhoudinge in hulle oneindige verskeidenheid en onenersheid raaksien, erken en elk op sy Godgegewe plek en tyd in diens van God ter uitbreiding van sy koninkryk aanvaar.

Die aanvaarding van die waarheid van God behels eintlik ten diepste die aanvaarding van Jesus Christus, die Weg en die Waarheid en die Lewe. Die Doopformulier sê immers:

“En as ons somtyds uit swakheid in sondes val, moet ons nie aan die genade van God twyfel of in die sondes bly lê nie, aangesien die Doop ‘n seël en ontwyfelbare getuienis is dat ons ‘n ewige verbond met God het”.

___________________________

Volledige teks is hier: Man en Vrou, dr. DCS van der Merwe

Sien meer artikels hier oor huwelik, gesin, ens.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑