Teen die godsdienstige pluralisme rewolusie, handhaaf ons Christus se Koningskap oor die ganse lewe

Teen die godsdienstige pluralisme rewolusie, handhaaf ons Christus se Koningskap oor die ganse lewe

“En tog bring hierdie gedagte die ware koning na vore, naamlik om te erken dat hy self in die regering van sy ryk ‘n dienaar van God is. ‘n Koning wat in sy ryk nie so regeer dat hy die heerlikheid van God dien nie, beoefen nie regering nie, maar pleeg roof. Voorts bedrieg ‘n koning homself wanneer hy langdurige voorspoed vir ‘n ryk verwag wat nie deur die septer van God, dit is deur sy heilige Woord, geregeer word nie.” – Calvyn (voorwoord aan koning Frans I in sy Institusie)

“Die Bybel is ‘die boek van die Ryk van God’, nie ‘n boek vir hierdie of daardie eeu of slegs oor die enkeling nie, maar oor alle volke, vir die hele mensheid, nie vir een tyd nie maar vir alle tye. Dit is ‘n Ryksboek. En soos die Ryk van God nie naas en bo nie maar in en deur die wêreldgeskiedenis homself ontwikkel, so moet ook die Skrif nie afgetrokke, opsigself beskou en van alles geisoleer word nie, maar dit moet juis met ons hele lewe, met die lewe van die mensheid in verbinding gebring en tot verklaring daarvan gebesig word.

Kortom, die Skrif is ‘n boek uit die verlede, maar ook ook die hede en toekoms . . . Dit kom tot gesin en maatskappy, tot kerk en skool. Dit is in een woord: die sprake van God tot die mensheid.” – Herman Bavinck (voorwoord in Kennis en Leven & voorwoord tot Matthew Henry se kommentaar)

“Ons Konfessie sê: Alles wat geskape is, moet die mens dien, sodat die mens sy God kan dien. Dit sien ons in die beeld van Christus (vs. 1): My Kneg, my Uitverkorene.  In ons eeu wil almal graag dien, iets doen tot verheffing van die mens, maar een ding word vergeet, en dit is dat daar buitekant die diens van God om geen ware diens in belang van die mensheid kan wees nie. Hier word geoordeel alle filantrope en humaniste, selfs die „Heilsleër”, wat meer en meer in sosiale arbeid opgaan.

Die Kneg van die Here dra die reg uit na die nasies (v. 1): Reg beteken dit dat in die wette en insettinge van Moses aan die volk geopenbaar is die hele regsorde wat God vir die lewe van die mens op aarde bestem het, m.a.w. die ganse lewe moet aan sekere ordinansies van die Here beantwoord. Hier het ons dus die gedagte dat nie maar net die kerk nie maar alle vertakkinge van die lewe onder die gebod van God moet kom. Die Kneg van die Here bring nie maar net die evangelie na die mens nie maar die ganse regsorde van God. …  “Intussen gaan selfs tot die goddelose konings die prediking uit: “Wees dan nou verstandig, 0 konings; laat julle waarsku, 0 regters van die aarde! Dien die HERE met vrees, en juig met bewing” (vs. 10, 11). Die dag van wraak het nog nie gekom nie. ‘Kus die Seun, dat Hy nie toornig word nie’ – so eindig die psalm.” – Totius (Versamelde Werke, 1977, 4: 405)

BRIEF VIR BEELD, 2024-02-10*

Die godsdienstige pluralisme sienings van prof. Fika Janse van Rensburg (‘Dink na oor kerk en staat’, 14.02) en dr. Adelbert Scholtz (‘Predikers, kerke mag en moet politiek preek’, 17.02) is verteenwoordigend van ‘n tragiese vorige geslag wat hul rug gedraai het op die Koningskap van Jesus Christus oor die ganse lewe, insluitende oor die burgerlike regering, en ons sien die tragiese gevolge daarvan die afgelope paar dekades in ons land, en die kerke en predikers wat nutteloos geword het in hul sterk profetiese getuienis teen die regering van die dag met al sy korrupsie en wanorde.

Hierdie geslag wat omgedraai het in die dag van stryd teen die marxisties-humanistiese magte, wat ons land se Christelike beskawingswortels aangeval het (Ps. 78:8-11), het met die wêreld saamgespan om ons pragtige land met al sy volke en mense, ‘swart en wit’ oor te lewer aan ‘n sekulêre humanistiese nie-Christelike, en al meer wordende anti-christelike burgerlike regering.

Die humanistiese nie-christelike grondwet van die nuwe SA gaan ons en ons nageslag nie red van die groeiende onchristelike aanslag en vyandskap teen die Christelike geloof in ons land nie. Daar sal, deur die Here se genade in die verkondiging van die evangelie, ‘n nuwe geslag moet opstaan onder alle volke, wat nie net Jesus bely as Verlosser van ons sondes nie, maar ook as die Koning van ons ganse lewe, dus ook die hele samelewing, dus op beide terreine van ‘kerk en staat’.

Nie net verstaan prof. Janse van Rensburg die Amerikaanse grondwet nie reg nie (dit leer ‘n duidelike onderskeiding tussen ‘kerk en staat’, nié ‘n skeiding of teenstelling tussen ‘godsdiens/geloof en staat’ nie), maar mis hy ook heeltemal die wese van die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 36 (die oorspronklike of veranderde weergawe), naamlik, dat die doel van beide ‘kerk en staat’ is in wese ‘die Christendom’ vir alle mense en volke deur die verkondig van Jesus se wet en evangelie, en natuurlik, soos dit nog altyd bedoel was, elkeen op sy onderskeie terreine soos NGB art. 36 dit nog altyd bedoel het, nl. om “die koninkryk van Jesus Christus te bevorder, die Woord en die evangelie orals te laat verkondig, sodat God deur elkeen geëer en gedien word soos Hy in sy Woord beveel.”

 Sodat God deur elkeen geëer en gedien sal word soos sy Woord bevel, dus elke mens, elke volk, elke gesin, elke gemeente, en ook elke owerheidspersoon, dus beide ‘kerk en staat’ word opgeroep om op hul onderskeie terreine, elkeen in hul persoon maar ook in hul ampte en take Jesus Christus as Verlosserkoning te dien en te eer, met die hoogste en finale gesag, nie die mens en sy humanistiese ‘natuur’ grondwet nie, maar God se Woord.

God se geopenbaarde Woord geld vir alle mense, alle volke, alle burgerlike regerings (Pred. 12:13,14; Rom. 13:1-7, lees laasgenoemde in die konteks van Rom. 7:12 en 13:8-10 om te weet wat ‘reg en goed’ is vir alle geregtigheid op alle lewensterreine). Alle lande en volke se grondwette moet en behoort terug te hervorm na die beginsels van goeie regering en goeie wette volgens die beginsels van God se Woord, vir al sy burgers.

Jesus waarsku ons om ons nie te skaam vir sy Woord nie, nie vir sy evangelie of sy wet nie, dus ook nie vir daardie deel van sy Woord wat konings en burgerlike regerings oproep om Hom te dien en eer, ‘soos Hy in sy Woord beveel’ het nie (Ps. 2:10-12; Rom. 13:1-7, 1 Tim. 2:1,2).

Met prof. Janse van Rensburg se geslag se verwerping van die Christendom, ‘n Christelike regering en Christelike beskawingsroeping vir al die lande en volke soos die Christendom en ware kerke nog altyd geglo en bely het; en hul blindelingse vertroue in godsdienstige pluralisme en ‘n grondwet wat Christus in wese ontken en verwerp as die enigste Koning en Verlosser van die mensdom, is hulle ongelukkig leiers en ‘n geslag sonder toekoms en hoop vir al die mense en volke in ons land (Jes. 8:20; Joh. 15:5).

Mag die Here weer genadiglik daadwerklike redding en hoop skenk vir ons pragtige land en al sy mense en al die volke, in die kragtige onbeskaamde verkondiging van die evangelie aan almal, om ons van harte te bekeer na die goeie regverdige Koningsheerskappy van Jesus Christus vir ons ganse lewe in al ons verhoudinge met Hom en mekaar, sodat ons van harte persoonlik maar ook in ons ampte en take op elke lewensterrein, Jesus sal bely as “die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here.” (1 Tim. 6:15).

Aan alle regeringspersone, onthou ook die waarskuwende woorde van ons Here Jesus Christus: “Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die Here met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil” (Psalm 2:10–12)

_______________________________

* Ek het hierdie brief aan Beeld gestuur, maar dit is nooit geplaas nie, so ek plaas dit hier op my blog.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑