Die profetiese roeping van die kerk volgens die Skrif – ten opsigte van ons volkere verhoudinge

Die profetiese roeping van die kerk

volgens die Skrif

 ten opsigte van ons volkere verhoudinge

Skrywer: prof. dr. JC (Johannes Christiaan) Coetzee (2 Mei 1936 – 10 Oktober 2002. Professor in Nuwe Testament, Teologiese Skool Potchefstroom, 1971-1998).

Bron: In die Skriflig, vol. 11 no. 44 (1977), bl. 4-21 (MS Word weergawe hier.)

Inleiding

Ek wil hierdie lesing/artikel van oud (NT) prof. JC Coetzee van harte aanbeveel vir alle gelowiges van alle volke (kan iemand dit vir ons in Engels en al die ander tale van ons land vertaal asb), maar in die besonder vir predikante en kerkrade, om verootmoedigend biddend te bestudeer in die lig van die Skrif (Hand. 17:11), om weer te ontdek hoe die Woord van God ‘n lig op ons pad is: Jesus as ons Verlosser en Koning (Hand. 10:34-46), vir ons ganse lewens (1 Kor. 10:31), en daarom ook in ons volkere verhoudinge hier in Afrika.  ‘So sê die Here’ en ‘Daar staan geskrywe’ prediking moet die ganse lewe aanspreek, met die Here se wet en evangelie (2 Tim. 4:1-5; Op. 12:17). 

Prof. Coetzee se artikel bestaan uit twee groot dele om van te leer:

A. Godsvolk en volkere in die Skrif, en

B. Die profetiese taak van die kerk vir en aan alle volkere

Prof. Coetzee spreek dwalinge of skeefverdraaide sienings aan oor of beide tafels van die wet verkondig moet word, of net die eerste of net die tweede tafel, wat mens dikwels hoor in slagspreuke soos ‘die predikant mag nie politiek preek nie’. Verder wys hy ook op die  ‘allereers’ fokus van alle ware prediking (Matt. 6:33), nie net vir individue nie, maar ook vir volke en hul leiers wat dit moet hoor.   

Albei uiterstes (en mengsels tussen-in) oor kerksiening vandag, soos prof. Coetzee dit uiteensit, moet verwerp word, ‘n wêreldkerk wat wil hê volke en tale en kulture moet almal opgaan in ‘n nuwe wêreldorde van een taal mengelmoes onder valse voorwendsel dat die evangelie dit sogenaamd eis; asook ‘n nasionalistiese kerk waar alles van die geloof en kerkwees moet opgaan in die volk se agendas en lewens, maar Christus nie sentraal staan midde ons taal, kultuur en volkslewe nie, en daarom nie enige vorm van eenheid met ander gelowiges van ander volke soek en erken nie. 

Ek plaas hier onder ‘n paar hoofpunte en aanhalings uit dr. Coetzee se lesing, wat ek sien as ‘n teologies-toepaslike lesing vanuit sy D. studie*, wat ‘n in diepte studie is van die Heilige Skrif, in die besonder die NT oor volkere verhoudinge in Christus, tot eer van God Drie-enig. 

(LET WEL: u moet die opmerkings en aanhalings hier onder in die konteks van die hele artikel gaan lees om dit behoorlik te verstaan en daarmee in gesprek te gaan asb.) 

A. GODSVOLK EN VOLKERE IN DIE SKRIF

1 Enkele skeefgetrokke sieninge van die verhouding: kerk en volk

Ons moet radikale ‘Christelike’ internasionalisme, radikale ‘Christelike’ individualisme, genasionaliseerde kerk (of godsdiens), godsdiensnasionalisme verwerp.

2 Het volk (volkere) ‘n plek in die ontvouing van Gods heilswerk? Indien wel, hoedanige plek?

“Wanneer gegewens oor volk(ere) in verhouding tot die kerk (Godsvolk) in die N.T. egter noukeurig nagegaan word, is die besondere prominensie wat volk, nasie, volkere, nasies inneem in die Godsopenbaring besonder opvallend.”

“Wie daarom tot die essensie van die Skrifboodskap wil deurdring, moet die kairoi in God se heilsgeskiedenis opspoor en daar diep delf! ‘n Objektiewe toets om vas te stel of nasies en volke enigsins in die primêre gesigsveld van die Evangelie kom, sou wees om te kontroleer of volk en nasie enige (prominente) plek in hierdie karoi beklee.”

“Veral ses sulke kairoi troon uit (bo verskeie ander) in die N.T. bedeling” (ek voeg tussen hakies by hierdie opskrifte, die relevante teksgedeeltes wat prof. JC behandel):

(i) Geboorte van Jesus as die koms van die Verlosser. (Luk. 2:29-32)

“Hier het ons teenoor die partikularistiese godsdiensnasionalisme van die Jode wat die Messias se werk gesien het as heil vir Israel ten koste van die nasies, die getuienis van heil wat die wêreld omspan — maar só dat die volk Israel en die nasies van die wêreld daarin deel!”

(ii) Kruisiging van Jesus as dié versoeningsdaad van die Verlosser. (Joh. 11:48-52)

“Hier kry ons naakte, selfsugtige nasionalisme by die Joodse leiers: ons moet geloof in Jesus teëstaan anders gaan land en nasie verlore! Ons kry kru,  Hitleragtige, nasionalisme by Kajafas: ons nasie se behoud is al wat tel dan is dit gewettig om liewer een man te vermoor, om land en nasie te red! En die antwoord van die Skrif hierop is nie: Nee! Dit gaan in die verlossing nie om nasie en vaderland nie, want Jesus red net indiwiduele siele Maar op ‘n manier totaal anders en verhewe bo Kajafas se moordlustige en die Jode se selfsugtige nasionalisme, het Jesus inderdaad gesterf ter wiïlle van die nasie van Israel én vir al Godskinders oor die hele aarde. Jesus wil deur sy sterwe die nasies red!”

(iii) Opstanding van Jesus as die oorwinning oor en ons bevryding van die ewige dood. (Luk. 24:46-47)

“Hier weer het ons ‘n radikale deursnyding van die Joodse partikularisties-nasionalistiese denke oor God se heilswerk — maar opnuut só dat die ekumeniese karakter van Christus se opstandings-genade juis gerig is op die nasies van die mensdom.”

(iv) Pinkster, die uitstorting van die Heilige Gees, as die begin van die bedeling van die laaste dae. (Hand. 2:1-13)

Kenmerkend van die aanvangsmoment van die bedeling van die Heilige Gees is die nadruk in Hand. 2 : 1—13 op die universaliteit: Hier deurbreek in prinsipe God se volk die grense van sy nasionale beperktheid tot een volk en word wêreldwyd. En daarom is deste-meer opvallend dat in hierdie eerste universele prediking die volke en die onderskeiding van die volke so prominent is. Die skare daar byeen, hoewel hulle almal Grieks kan verstaan, ontvang die Evangelie elkeen in sy eie taal waarin hy gebore is! Hier by die aanvangsmoment van die ekumeniese kerk of die wêreldkerk word die skare, wat uit baie wêrelddele saamgekom het, nie in die prediking benader as ‘n massa kosmopolitiese indiwidue nie, maar as lede van onderskeie volke en tale en nasies.

Die Heilige Gees is die Bewerker van die ware eenheid tussen mense op aarde — ‘n eenheid van die ware geloof onder mense oor die wêreld heen wat almal een Gees ontvang het. En tog, hierdie ware eenheid in die Heilige Gees kom hier, heel aan die begin juis tot openbaring in die gemeenskaplike ontvangs van dieselfde evangelie in die eie taal as lede van afsonderlike volke!”

(v) Die finale prediking voor die oordeelsdag. (Op. 14:6,7)

(vi) Dié dag wanneer die verlostes die nuwe Jerusalem binnegaan. (Op. 21:24-26)

3 Die verhouding van kerk en volk veral volgens die N.T.

‘n Korrekte vertrekpunt is onmisbaar as ons die Skrifgegewens hieroor reg wil hanteer: binne die vraagstuk van die verhouding kerk—volk moet onthou word dat dit in die Bybel steeds in die eerste plek gaan om die kerk of die volk van God, en nie in die eerste plek om die volk(ere) nie (hiermee word natuurlik net gesê dat “kerk” in die Skrif meer sentraal staan as “volk(ere)” en nie dat ‘dit dié absolute sentrale of primêre saak is nie). Daarom kom die Skrifgetuienis oor die verhouding kerk—volk alleen in die regte perspektief te staan as ons uitgaan van die openbaring aangaande die kerk in die N.T. Dus kyk ons kortliks na drie hoofkenmerke van die kerk van Jesus Christus in die wêreld en bekyk die verhouding kerk—volk vandaar uit:

3.1 Die universaliteit van die kerk. (Hand. 10:34-36)

“En dan is dit duidelik:

“(i) God het in ons tyd tog nie meer net een nasie as sy uit-verkore volk nie. Nee, “Jesus is Koning (Here) oor almal”, oor al die nasies. Godsdiensnasionalisme en ‘n genasionaliseerde kerk is hier by die wortel afgesny.

(ii) Binne Christus se kerk word ook alle vyandskap tussen die nasies en alle selfverheffende eksklusiwisme opgehef: Jesus is draer en bewerker van die goeie boodskap van “vrede tussen die nasies”. Elkeen wat Hom vrees, is Hom welgevallig.

(iii) Maar dit word óók nie een groot deegskottel waarin ‘n massa verloste indiwidue soos meel gemeng word nie. Nee, “in elke nasie” is elkeen wat Hom vrees, Hom welgevallig. Vgl. Hand. 15 : 14 waarby ons hierna sal kom.

(iv) Saamgevat: Die ware universaliteit van die kerk word dus bereik deurdat elke volk in en deur sy gelowige lede, deel kry aan die God se volk!”

3.2  Die eenheid van die kerk. (Hand. 15:14)

“Ewe duidelik is ook: God versamel vir hom een volk waarin “al die nasies” ‘n plek kry! Die ware eenheid van die volk van God kom tot uitdrukking daarin dat die gelowiges m Israel voor God die ware volk Israel is, die gelowige Grieke die ware Griekse volk is, ens. — en dat so én Israel én die Engelse volk én die Afrikanervolk almal opgeneem word in Jesus se een kerk, in God se een volk.  Dit is dan ‘n eenheid in die kerk wat wel die grense tussen die nasies oorspan, sonder om die verskeidenheid uit te wis.”

3.3 Die gelykheid van alle gelowiges binne die kerk. (Gal. 3:26-28)

“(i) Hierdie Skrifwoord kry sy besondere skerppunt in sy konfrontasie met die tipiese Joodse godsdienstige diskriminasie teen die nie-Jood (of Griek), teen die slaaf en teen die vrou wat voor God glad nie of minder aanvaarbaar sou wees. ‘n Bekende (berugte!) Rabbynse voorskrif lui dat elke vrye Joodse man die Here daagliks soos volg moet dank: “Geprese is U, o God, dat U my nie geskape het as ‘n heiden, as ‘n slaaf of as ‘n vrou nie (p Ber 13 (b); b Men 43 (b)). Maar God ken in Christus geen sodanige rasse-, (volks-), stande- en geslagtelike diskriminasie nie. Dit tel by Hom vir opname in sy volk geen bloue duit nie.

(ii) Dit gaan hier egter hoegenaamd nie daarom dat almal nou eners moet word nie. Jood en Griek, Afrikaner en Engelsman en Zoeloe hoef net so min kleurloos eners te word binne die kerk as wat man en vrou, hoewel gelyk voor God, geslagloos eners kan word !”

B. Die profetiese taak van die kerk in dié verband:

Wat is die taak en hoe moet dit uitgevoer word?

1 Die Ou Testament

1.1. Die trefveld van die profetiese getuienis

“1) By intensiewe lese van die profetiese geskrifte val dit sterk op dat geen terrein van die menslike lewe uitgesluit word nie — die totaliteit van die lewe, “godsdienstige” en “sekulêr”, persoonlik en sosiaal val binne die trefveld van die profetiese getuienis. Vir ons doeleindes is ter sake enkele voorbeelde op die sosio-politieke vlak:

(i) Oor getuienis teen die ongeregtige verhoudinge tussen ryk en arm kan voorbeelde vermenigvuldig word — ons volstaan met verwysing na Jer. 2 : 34; Amos 2 : 6—7; 3 : 15; 5 : 11—12; 6 : 4.

(ii) Jeremia getuig openlik en reguit teen die politieke beleid van sy tyd, naamlik om strategiese verbonde met Egipte te sluit — natuurlik wel vanuit godsdienstige bewoënheid dat Israel nie sy heil mag soek by heidense bondgenote nie (Jer. 2 : 18; Jer. 42).

(iii) In Jer. 22 : 1—4 gaan die profetiese getuienis selfs direk teen die koning (die regering) in vanweë die gebrek aan sosiale geregtigheid.

Dus:

– Die simplistiese teëstelling: “op die kansel die evangelie en nie politiek nie”, is in sy algemeenheid en ongekwalifiseerdheid sonder meer vals.

– Eweneens is die standpunt dat die profeet (prediker, kerk) hom as lojale landsburger moet weerhou van enige openbare kritiek op die regering van die dag sonder meer vals.”

1.2 Profetiese moed en moet!

“Dus: Ten opsigte van die profetiese roeping van die kerk op alle vlakke, ook in die sosiale, in die menseverhoudinge, in die politiek moet dit duidelik wees: die profeet is ‘n gedronge en gedwonge mens. Hy kan nie swyg net omdat sy woorde onrus by “sy mense” veroorsaak nie. Allermins mag hy swyg omdat hy vrees vir teenkanting teen sy persoon; vrees vir ongewildheid, vervolging, selfs die dood!”

1.3 Ware en valse profete

“Bogenoemde is belangrik want dit laat ons duidelik ver-staan dat die waarheid of die valsheid van ‘n profetiese woord nie somaar ‘n objektiewe, bo-tydelike, bo-persoonlike saak is nie. Pro­fesie mag nooit verwar word met sg. “ewige waarhede” nie, “gevleuelde woorde” wat ewig en oral geldig is nie. Nee, egte profesie is altyd ‘n woord van ‘n Persoon, die Here God, deur sy persoon­like gesant, aan ‘n persoon (persone) op ‘n bepaalde tyd en plek, in konkrete omstandighede en gebring op ‘n Godgewilde manier. Dus: Geen “profeet” kan homself verdedig bloot met die verweer: maar wat ek sê, staan mos in die Bybel nie, oftewel: is mos wat die HERE al gesê het nie.”

“Konkreet gestel vir ons: Wil die kerk in sy profetiese taak vandag die profetiese getuienis van die Ou-Testamentiese profete, getrou aan die waarheid van die Woord, toepas in ons konkrete situasie, dan is dit sy magtige roeping om deur vurige gebed en deur indringende Skrifstudie seker te maak dat hy die regte Ou-Testamentiese woord kies en toepas waarmee ons, ons situasie, ons sonde, ens., vandag waarlik korreleer.”

1.4 Die gees van die ware profeet teenoor sy eie volk

“Die ware profeet verval nooit in die eensydigheid van kritiek net na buite, net teen die ander volke as die “skuldiges” nie, maar ook nooit in die eensydigheid van ‘n skielike “skuldkompleks” wat net oog het vir die sonde en skuld van sy eie mense nie. (Vgl. Jes. 1—9 en 10—23; Jeremia het naas sy oordeelsaankondiging oor Israel ook hoofstukke 25 en 46—51; vgl. Amos 1 : 1—2 : 3 en 2 : 4—3 : 15; ens.). Maar selfs die getuienis teen die eie volk se sonde en ongeregtigheid word altyd gedra deur ‘n gees van bewoënheid en liefde teenoor, en verbondenheid aan die eie volk. (Vgl. Du Toit, 1943, 11—12.)”

1.5 Getuienis ook teenoor andere

“Die profete getuig wel waar nodig lynreg teen die volk en teen sy eie selfgeregtigde nasionalisme in, maar nooit eensydig nét daarteen nie. Maar altyd word óók getuig aan én teen die omringende, heidense volke; ook oor hulle ongeregtighede, sondes; óók teen die vyandskap teen die eie volk. Jeremia is daarom ‘n profeet vir die nasies (Jer. 1 : 5, 10). Hy het ‘n getuienis van God vir en teen Israel, maar eweneens vir en teen al die ander volke van die aarde.”

1.6 God se “opvoedkundige” wyse van handel

“Laastens, heel in die algemeen, wil ons stel dat die Ou Testament ons leer dat die Here God op ‘n besondere wyse “opvoedkundig” te werk gaan in sy openbaring aan sy volk in hierdie wêreld: God werk naamlik, ook deur sy profete nóg rewolusionêr — ongeregtigheid word nie in een dag radikaal uitgewis nie; nog idealisties — ongeregtigheid word nie in een dag weggedink of weggeëis van die mense nie.”

2. Nuwe Testament

2.1 Vertrekpunt

“Die vertrekpunt in verband met die kerk se profetiese getuienis ten opsigte van alle aardse vraagstukke, en dus ook ten opsigte van volkereverhoudinge, moet bo alle twyfel wees die goue reël van Matt. 6 : 25—34, besonderlik vers 33: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle by-gevoeg word”. Dit moet dan ook die ganse profetiese getuienis van die kerk kenmerk: ten alle tye moet die primêre (Christus en sy versoening) primêr bly, die sentrum van ons profetiese getuienis, en nie die sosiaal-aardse nood nie !

Dit moet daarom ook die getuienis van die Christelike kerk aan die volk en volkere kenmerk. Die kardinale vraag bly: wat is ons en julle eintlike nood? Politieke regte? Een man een stem? Gelykberegtiging? Of: ons sondeverlossing? Die verlossing van vol­kere deur geloof in Christus Jesus se versoening?”

2.2. Bewoënheid oor menseverhoudinge daarom op non-aktiwiteit?

“Hierin is die kerk van Jesus Christus geroepe om Sy navolgers te wees: met profetiese moed en met profetiese moet.

Profetiese moed: Daartoe gee Jesus self opdrag in Matt. 10 : 16 —32. Onbevrees, met geloofsmoed moet getuig word voor regbanke, voor goewerneurs, voor konings (vss. 17—18), vreesveragtend teen­oor reaksies van haat (vs. 22); vervolging (vs. 23); doodstraf (vs. 28). Vergelyk ook Hand. 9 : 15—16. Hierdie profetiese moed open-baar ‘n Petrus, vervuld met die Gees, voor die Joodse Raad (Hand. 4 : 5—21), en selfs na dreiging (Hand. 4 : 21) en gevangeneming (Hand. 5 : 17—18) gaan hy voort om voor en téén die Joodse hoë owerheid te getuig, terwyl Stefanus dit beseël deur selfs in die aangesig van die dood die hoë owerheid te striem vanweë hulle ongeregtigheid (Hand. 7 : 51—53).

Profetiese moet: Hierin het die kerk geen keuse nie. Die moet is hom opgelê. Dit is ingebou in sy wese (Matt. 5 : 13—16). Daarom mag kerk in sy profetiese getuienis nooit anders as om met Petrus te sê teenoor wie ook al wat met verwerping, hoon, dreiging die getuienis wil smoor:

“Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek nie…” (Hand. 4 : 19—20). “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan mense” — al is dit ook die hoë owerheid’ (Hand. 5 : 29). Tot hierdie moet bind die Heilige Gees die diens-knegte van Jesus Christus tot die dood toe! (Hand. 20 : 22—24).”

2.3. Profeteer so lank moontlik op só ‘n wyse dat daar môre weer geprofeteer kan word!

“Wat hier gesê word, geld alleen en moet alleen gelees word binne die raamwerk van die voorafgaande profetiese “moed” en “moet”. Daaraan mag nooit te kort gedoen word nie. Maar dit mag nooit deur die kerk, die leraar, die getuigende gelowige misbruik word om sy eie onverantwoordelike, ontydige, onnadenkende, onbewoë, bars, kru, selfverheffende, vernederende (of welke ander foutiewe) manier van getuig goed te praat nie.

Wanneer Jesus sy dissipels uitstuur om onbevrees te getuig, waarsku Hy tóg ook: “Wees dan versigtig soos die slange, opreg soos die duiwe (Matt. 10 : 16). “Versigtig” nie in die sin van “bang om gevaar te loop”, of “dink twee keer of dit veilig vir julle sal wees om te getuig nie” (dit weerspreek die hele reeks van Matt. 10), maar “met ‘n heilige listigheid”, ‘n “heilige diplomasie”; om nie met ‘n “rush in where angels fear te tread”-voortvarendheid die goeie saak van jou getuienis te verongeluk nie.”

2.4 . ‘n Gesindheid van verbondenheid en bewoënheid is nodig

“Die profetiese getuienis, wat nie mag uitbly ook in politieke sake, ook oor volkereverhoudinge, ook oor sosiale ongeregtigheid nie, word soos in die Ou Testament so ook in die Nuwe Testament wel onbevrees, eerlik en reguit gelewer — vergelyk byvoorbeeld die getuienis van Petrus oor die Joodse rassediskriminasie in Hand. 10 : 28, 34—36 en 11 : 1—18; en Paulus se getuienis téén Petrus oor dieselfde sonde binne die kerk in Gal. 2 : 11—16, en Paulus se getuienis teen die Joodse diskriminasie op rasse-(volks-), stande-en geslagsgrondslag in Gal. 3 : 26—28. Maar terselfdertyd word dit gekenmerk deur ‘n gees van ware verbondenheid en bewoënheid oor die eie volk — vergelyk byvoor­beeld Matt. 23 : 37; Hand. 28 : 17—29; Rom. 9 : 1—5.”

C. ENKELE KONKLUDERENDE PRAKTIESE OPMERKINGS

1 Daar is geen uitkomkans: die ware kerk moet getuig ook oor volkereverhoudinge: hetsy bemoedigend vir, hetsy vermanend teen die eie volk. 2

2 Die teenstelling: “die Evangelie — nie politiek nie” op die preek-stoel, is ‘n valse teenstelling.

3 Maar die eerste dinge in die opdrag van die kerk moet eerste bly: ongeag die lewende situasie — al sou dié hoe donker, verkeerd, ongeregtig denkbaar wees vir hierdie of daardie volk of groep — die eintlike nood, en eintlike verlossing in Christus moet die primêre van die kerk se profetiese woord bly.

4 Ons moet in ons getuienis oor volkereverhoudinge rekening hou met die definitiewe onderskeid van ons situasie rakende die ver-houding kerk—volk by die Afrikaner teenoor sowel die Ou-Testa-mense situasie as die Nieu-Testamentiese situasie (vgl. A.4.).

5 Ons moet onthou: Alles kan nie somaar so simplisties toegepas word nie. Die gesagsverskil tussen die “So sê die Here HERE” van die geïnspireerde profeet, én aan die ander kant die kerk se prediking van daardie absoluut-gesaghebbende Woord moet vasgehou word wanneer die kerk profeties die Woord wil toepas in ons konkrete volkere-problee Stadig veral met toepassinge wat nie eksplisiet in die Skrif gemaak word nie.

6 Die ware profetiese woord aan die volk sal só moet deurkom dat twee dinge baie duidelik is:

  • dat die profeet (kerk) nie die Woord verdoesel of die swye oplê om die volk te paai nie;
  • dat die profeet (kerk) nooit sy liefde vir en trou aan sy (al is dit diep-sondige) volk verloor of verloën nie. 

7 Ons moet as kerk in ons getuienis rakende ongeregtigheid waak sowel teen ‘n rewolusionêre tendens as teen ‘n swewende idealisme. Hierby geld veral twee Skrifbeginsels:

(i) Die Here self realiseer sy koninkryk — per slot van sake is dit nie in ons hande om dit hier as ‘t ware af te dwing nie.

(ii) In hierdie bedeling leef ons nog in ‘n gebroke wêreld — in die spanning tussen die “reeds” en die “nóg nie”. Die per-feksie van die toekomende eeu is hier nog nie. Hiermee moet deeglik rekening gehou word.

8 Ons profetiese roeping as kerk eindig nie by getuienis teenoor die Afrikanervolk nie — met egte profetiese moed sal ons, veral vanweë die verkeerde gesindheid van sovele Swartes en Bruines, ook die swart en bruin volke sterk moet aanspreek en vermaan vanweë hulle sonde, ongeregtigheid, laksheid, en vanweë hulle haat teen die witman en besonderlik teen die Afrikaner.

9 Die profetiese woord van die kerk moet steeds so ingeklee word, en net sover gaan dat daar móre en oormöre wéér en nog getuig kan word — ja, só dat die volk dit kan “dra” — tensy ons werklik oortuig is dat daar sodanige verharding in die sonde is dat ons skerp-veroordelend moet getuig ondanks die konsekwensies.”

______________________________

Die gereformeerde standaardwerk in Afrikaans oor ‘kerk en volk’ in die lig van die Heilige Skrif: 

Volk en Godsvolk in die Nuwe Testament – ‘n Eksegetiese Studie 

2 thoughts on “Die profetiese roeping van die kerk volgens die Skrif – ten opsigte van ons volkere verhoudinge

Add yours

  1. Slabbert, Ek hoop jy hou meer van my kommentaar oor prof Christi se “Volk en Godsvolk” as oor jou “vertaling” van Lukas 18:15 ☺ Hand. 17:26 is n blywende riglyn vir God se raadsplan met volkere en hul tye en grense.. Die BDV het nie raad geweet met God se vooraf nie, toe laat hulle dit maar weg! Ons geliefde Afrikaner-volk (so geliefd soos Israel vir Paulus), in die gelowige volksdeel (NG én Gereformeerd) het God en sy weë ingeruil vir gebrarste reënbakke. En nou probeer ons maar die beste maak van ‘n slegte saak (soos beskrywe deur die profeet Jesaja, hoofstuk 22). Mag God in Sy ondeurgrondelike verkiesende genade aan ‘n oorblyfsel bekering skenk!

    Ek het sedert De Klerk se referendum van 1992 nooit weer aan ‘n algemene verkiesing deelgeneem nie. Die rede was hoofsaaklik dat ek nie iemand parlement toe kan stuur wat by ampsaanvaarding ‘n eed van trou aan die grondwet moet sweer, terwyl die grondwet God AFsweer!

    Ek het ook ‘n beginselbeswaar teen die moderne demokrasie: die beginsel is dat jy jou aan die meerderheid moet onderwerp, MAAK NIE SAAK wat die meerderheid sê nie.

    Maar HOE, vra my broeders my altyd, kan ons dan ons stem in die hoogste vergadering van ons land laat hoor.My antwoord is: deur die verpligte getuienis wat ons voor konings en owerhede moet aflê. Dit beteken dat ons sterk en duidelik ons stem moet laat hoor teen die VALSE PROFESIE.

    Ek hoef niks verder te sê nie – jy weet dit beter as ek! Met hoogagtende broedergroet en seënwense van Marinus

    1. Dankie vir die verwysing na Hand. 17:26, ek het vinnig daarna gekyk.

      Die Direkte Vertaling daar is amper ‘vryer’ en erger as my vertaling van Luk. 18:15 !? 😳😬

      Hulle vertaal nie ‘DIREK’ die ‘pro’ van protasso (voor- of verordineer of voor-af bepaald, eng: preappointed) nie, dit is jammer, die NAV het ook net ‘bepaald’ nie voorafbepaald nie.

      Dankie vir die res van jou boodskap, ek kan maar net antwoord: Amen.

      Sterkte en seën ook daar toegebid, ons kuier weer een of ander tyd, DV.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑