Teenoor vandag se politiek van staatisme, die Verootmoedigings-verklaring van ons voorgeslagte voor ons HERE

Teenoor vandag se politiek van staatisme, die Verootmoedigings-verklaring van ons voorgeslagte voor ons HERE

Terwyl SA weer in ‘n verkiesingsmania is met verskeie slagspreuke van watter partye en leiers nou die ‘slegste’ is, en watter ‘goeie’ prinse en partye en ons gaan red in die nuwe SA (Ps. 146:3-5), insluitende Afrikaner Verklaringsplanne wat vir ons nog hoop, brood en spele sal bring in die Nuwe SA, is dit goed om te lees van die:

VEROOTMOEDIGINGS-EN DANK VERKLARING VAN 9 AUGUSTUS 1901*

(Proklamasie van die ZAR en OVS Republieke)

“Ons wil voor die Here belydenis doen dat hoewel Hy ons sedert ons volksbestaan keer op keer verlos het toe ons in benoudheid was en tot Hom geroep het, ons Hom nogtans verlaat en ander gode gedien het, en die Here dan vra om ons volk te verlos, en ons wil ook ons sondes nie alleen bely nie, sodat dit by ‘n mondbelydenis bly, wat ‘n gruwel in die oog van God is, maar die Here vra om ons ons sondes reg te leer ken en ons gewillig te maak om hulle te laat vaar, sonder rang en klasse van ons volk, en sondes van verskillende aard, soos sondes met betrekking tot ontheiliging van die Sabbat van die Here, dronkenskap, ongeloof, vormgodsdiens, ontrouheid aan me­kaar, wapenaflegging, begeerlikheid, diefstal, kwaadpraat met die mond, ens.

Maar van meer sondes sou ons die name nie durf noem nie, want ons sondes is legioene. Laat ons as regering en volk op die dag van verootmoediging en gebed die Here ernstig vra en bid om ons in staat te stel om voortaan in ons regering en wetgewing altyd en uit­sluitend die eer en verheerliking van ons God te bedoel.

Die stuk is onderteken deur die wnd. President van die Z.A.R., die President van die O.V.S., die Kommandante-Generaal van die Z.A.R. en O.V.S. en die Asst.-Kommandant-Generaal van die Z.A.R.”

Agtergrond van die Verootmoedigings proklamasie

Totius wat na hierdie Boererepublieke proklamasie in een van sy lesings** verwys oor ‘Christelike politiek’, skryf op ‘n ander plek as volg daaroor:

“Nou gaan ons in die geskiedenis terug. Die datum is 8 en 9 Augustus 1901. Dit is oorlog. Die presidente Schalk Burger en Martinus Steyn is saam met ander voormanne byeen om n proklamasie vir ‘n dankdag en dag van verootmoediging op te stel. Die Engelse het daarvan, hoe dan ook, berig gekry en wou die dapper manne op die plaas in die Heidelbergse distrik oorval. Maar toe die sterk troepemag daar kom, het die voëls al gevlieg! Alleen enkele vroue is gevang en na die kamp vervoer. Die plaas is in die as gelê. Weer ‘n stuk tragedie.

Nou gee ons hier die ontroerende proklamasie (ten dele in opsomming, ten dele voluit) wat ons in ‘n plakboek sedert dié jaar bewaar het.

Die dankdag (8 Augustus) was bepaal (1) vir die oorwinninge oor die vyand behaal, (2) vir wondervolle bewaring en uitredding, (3) vir God se vaderlike voorsiening in daaglikse behoeftes, (4) vir mislukking van die vyand, dat hy die land nie geheel van vee en graan kon beroof nie, en (5) vir die heerlike gees van volharding ook by die vroue en kinders: „In een woord vir die instandhouding
van ons as ‘n volk gedurende ‘n geweldige stryd van bykans twee volle jare, waaruit duidelik blyk dat God nie behae in ons ondergang het nie, maar in ons terugkeer tot Hom”.

Die dag van verootmoediging het op 9 Augustus gevolg. Wat nou kom, gee ons letterlik, in sy geheel weer ….

Ons meen dat dit die regte tydstip is om hierdie proklamasie weer te publiseer. Dit is die weemoedige lig van die verlede wat weer aan ‘n vergete horison oprys. Die lys van openbare sondes is onaangename lektuur. Maar hoe is dit vandag? Waar dit ons eintlik om te doen is, staan in die gekursiveerde woorde. Let wel, daar staan in ons Regering en Wetgewing. Mag die Here voormanne en volk daartoe bekragtig. (Die Kerkblad, no. 1090, 20 Augustus 1948.)”

Ons moet ook verootmoedigend vir ons tye vra in 2024: MAAR HOE IS DIT VANDAG MET ONS VOLK, OOK MET BEIDE KERK- EN POLITIEKE LEIERS?

Ek plaas van Totius se verdere opmerkings in sy lesing hier onder, ook in antwoord op die moderne ‘staatisme politiek‘*** waarin baie Afrikaner leiers ook geval het in die 20ste eeu, en tot vandag toe aanhou soek, mag hulle en ons almal daarvan bevry word:

“Die einde van al Gods weë is liggaamlikheid.” Dit is ‘n woord van ‘n Bybelkenner wat ‘n belangrike waarheid tot uiting bring. Ons kan dit ook anders sê: ‘Die Here se weg is van binne na buite.’ (A. Noordtzy: Kommentaar op Esegiël, bl. 402).

… Aan ons as Christelike nasie kom hiermee, insonderheid in hierdie tydsgewrig, ‘n verreikende boodskap, al is dit dat daar tans geen teokrasie (direkte Godsregering) meer op aarde is nie. In die nuwe be­déling hoor ons die triomfroep: ‘Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon (lett.: getabernakel), en ons het sy heerlikheid aanskou” (Joh. 1:14). By die uitstorting van die Heilige Gees vind die­selfde Goddelike werking van binne na buite plaas. Lees maar in Handelinge 2:1-4 hoe sigbare tekens die Pinksterwonder aankondig en daaraan gestalte gee.

Word daar in ons teenswoordige Christendom nie ‘n omgekeerde rigting geopenbaar nie, naamlik van buite na binne? Ons vlug wel nie soos die  kloosterlinge uit die lewe nie; maar wat ons doen, kom in die wese van die saak tog op dieselfde neer. As ons ‘n Christennasie is, moet ons dit in die openbaar wees. Anders word die betiteling ‘n holle frase. Die sonlig ken geen grense nie, nog minder die Woord van God in sy uitstraling.

Hierdie rigting (van buite na binne!) het as gevolg dat daar onder ons terreine is waar die Bybel met sy gesagswoord nie meer kom nie of waar hy net effens geduld word. Ek hoef dié terreine waarlik nie te noem nie. Maar die Bybel laat hom in sy straal nie breek nie. Hy sal óns breek as ons in dié rigting voortgaan. Ons het dan ook in ballingskap gegaan.

Laat my in hierdie verband ‘n taamlik onbekende staatstuk in her­innering bring. Dit is ‘n proklamasie van die destyds nog bestaande regeringe van die gewese Republieke, gedateer 9 Augustus 1901, ‘n oproep tot ‘n dag van verootmoediging. Dit lui [vertaal]: …” (sien hierbo)…

Totius skryf verder:

“Die laaste woorde van die proklamasie het ek gekursifeer, omdat dit uitdrukking gee aan wat die Woord van God wil: die rigting van binne na buite. Onvergeetlik staan dit daar: ‘In ons regering en wetgewing altyd en uitsluitend die eer van God!”

Maar ons volk het in ballingskap gegaan: die manne is van ons kuste af weggetransporteer, en die vroue en kinders is in die kampe op-gesluit.

En nóg is ons in ballingskap, in figuurlike sin.

Die teerste en fynste bande van geskiedenis en tradisie, van godsdiens en vaderland word van ons weggeskeur, dikwels deur ons eie toedoen. Nog in ons land woonagtig, kan ons sê dat ons veelsins ‘n volk sonder vaderland is. [Hierdie waarheid beklemtoon hy ook in die lied ‘Geen vaderland’. – Kyk onder die afdeling Gedigte, deel 10 -red.] Besef ons dit wel? Sou ‘n letterlike wegvoering hierdie waarheid nie nader aan die poort van ons hart gebring het nie?

Laat ons nou hierop ag gee dat of ons al die verlossingsheerlikheid van God vir ons persone, ons huisgesinne of ons volk soek – die heerlikheid kom langs die weg van lyde.

Daardie biddagbrief toon hoe die oorlogslyde louterend op ons voormanne ingewerk het. Vandaar die swart sondelys wat hulle opgeskryf het. En as ons sondelys opgeteken word, sal dit nog swarter voor ons oë staan (en vandag, in 2024? – slc)

Maar die manne het toe ook besef dat ons volksgenote, ondanks hulle afkerigheid, tog kinders van die Vader bly, en watter vader is daar wat sy kind verjaag? Meer nog, ondanks hulle afkerigheid was hulle beloftedraers. En so is dit nog. Ons is sleg, maar ons saak is reg. Ons het die veroweraar geen onreg aangedoen nie. Daarom kan ons God om erbarming smeek. …

Tot vertroue op dié God spoor die profeet Juda aan. Hoe nietig moet die mensegewemel uit die hemelvertes lyk! God is onverstoor­baar in sy wese en werk. Ja, ook in sy werk. Daarom roep die profeet sy volk terug tot die wet en tot die getuienis (Jes. 8:20). Alleen wanneer hulle dit verlaat, sal hulle geen daeraad hê nie.

Helaas, ons het maar al te seer by wêreldgrotes heil gesoek en gemeen dat die voortbestaan van die Afrikaanse nasie van ‘n slim buitelandse politiek afhanklik is. Vandaar dat ons oorstroom is deur allerlei vreemde -ismes: imperialisme, liberalisme, humanisme, nasionaal-sosialisme, kommunisme en wat nie al nie – alles vreemde goed wat gretig geïmporteer is. Daarteenoor is die Bybels-Calvinistiese grond­slag van ons volkslewe veronagsaam.

Ten opsigte van verskillende -ismes is al ‘n gedugte les geleer. Sal ons dan nou weer ‘n eksperiment met ander -ismes gaan waag? Die sogenaamde nuwe vorme wat in die verlede die volk sou gered het, het op ‘n treurige mislukking uitgeloop. Hulle het die Afrikaanse volk geruïneer: hulle het die armblankedom geskep, hulle het die naturel­levraagstuk oneindig bemoeilik, hulle het ‘n onnasionale onderwys-stelsel in die lewe geroep, hulle het. . . maar genoeg. Die Afrikaners is hulle terdeë daarvan bewus dat hulle op ‘n verkeerde trekpad was. Ons sal net moet oppas dat nie weer ‘n verkeerde koers ingeslaan word nie, sal die lyde van die verlede louterend op hede en toekoms inwerk.

Opmerkingswaardig is in hierdie verband die woord van Groen van Prinsterer, die Nederlandse Christenstaatsman [vertaal]: ‘Anneksasie is nie die gedugste ramp nie. Selfs in die diepste vernedering, selfs in die ingelyf wees (nl. in ‘n wêreldryk) kan ‘n seên lê en die voorberei­ding van ‘n beter toekoms. . . . Nee, die ergste volksramp is dit nie wanneer onder die strenge tugroede van die vreemdeling, deur die verdrukking self, ‘n nasionale wedergeboorte voorberei word nie. Dit is die ergste wanneer ‘n nasie, wat in die wêreldgeskiedenis ‘n toonbeeld van die seëninge van God op die belydenis van die evangelie gewees het, deur eie ontsenuwing, verbaster; wanneer hy, in die ondankbaarheid van sy afval, ‘n nasionale selfmoord pleeg en, voordat hy die dood­vonnis ondergaan, sy lewensreg verbeur.” (Enkele sinsdele het ek gekursiveer.)

Is dit nie letterlik en ontnugterend op die Afrikaanse nasie van toe­passing nie?

‘n Nasie ‘wat in die wêreldgeskiedenis ‘n toonbeeld van die seëninge van God op die belydenis van die evangelie was!’ Dink maar aan die woorde van president Kruger dat die Here die Boerevolk ‘met wonders en mirakels’ uit die slawehuis uitgelei het. Moet so ‘n nasie uit die buiteland gaan invoer – ‘n nasie wat so ‘n ryke, almagtige God besit?

Het ons nie ‘deur eie ontsenuwing’ al genoeg ‘verbaster’ nie?

Die vraag kan gestel word: Moet dan niks aan die buiteland ontleen word nie? Ons voer tog ook ‘n ploeg in as dit ‘n nuttige werktuig mag blyk.

My antwoord is: ‘n Beginsel is nie ‘n ploeg, nie ‘n afsonderlike handelsartikel nie. ‘n Beginsel staan gewoonlik in die nouste verband met ‘n ander beginsel, en tesame vorm hulle ‘n sisteem. Waarom die een ingevoer en die ander nie ? Wie sal hier die grens aanwys ? En as ‘n hele sisteem ingevoer word, wat word dan van ons eie lewensisteem waardeur ons ‘n „toonbeeld” in die geskiedenis geword het?

Kyk, die saak staan so.

Die Afrikaner se lewensbeskouing (sien HG Stoker se ‘Calvinisme as wortel van ons volksbestaan‘) is gegrond op die onfeilbare en volmaakte Woord van God. Dit het geskied in ooreenstemming met die Calvinistiese Skrifverklaring, wat vir ons die suiwerste en mees volledige vertolking van die Skrifwaarheid is, terwyl dié waarheid in ons eie geskiedenis vir alle lewensfronte vlees en bloed geword het. Ons gaan dus só te werk:

  1. Ons raadpleeg die Heilige Skrif as die absolute, geïnspireerde gesagsbron.
  2. Ons hou sekondêr rekening met die Skrifverklaring in Calvinis­tiese sin, want daarin was die Heilige Gees „verligtend” werksaam.
  3. Ons bestudeer ons geskiedenis om te sien hoe die Skriftuurlike waarhede daarin praktiese werklikheid geword het.

As volgens hierdie metode gewerk word, hoef vir geen leemtes gevrees te word nie. Waarom sal ons dan gaan „oorneem”? Bowendien kan uit ‘n logiese sisteem nie die helfte of driekwart somaar oorgeneem word nie. Alles staan met mekaar in verband en moet vanuit ‘n beheersende middelpunt verklaar en gewaardeer word. Enkele voorbeelde kan verduidelik wat ek hier bedoel.

As gesê word: Julle moet die beginsel van rassuiwerheid oorneem – is die antwoord: Die Afrikaner hét dit. Maar die beheersende middel­punt is hier nie net suiwerheid van ras as sodanig nie; maar aanvaar­ding van dié beginsel geskied in gehoorsaamheid aan die Woord van God (ek vermoed Totius se kritiek hier is teen die Naziisme-ideologie wat sommige wou invoer, terwyl die rasse of volkere beleid volgens hom gegrond was en behoort te wees op God se Woord, nie nazi-ideologieë nie – slc).

As gesê word: Julle moet die betekenis van die huisgesin beklemtoon – is die antwoord: Die Afrikaner doen dit saam met alle volke van Calvinistiese herkoms. Maar die beheersende middelpunt is nie net die huisgesin as sodanig nie, maar aanvaarding van dié beginsel geskied omdat God, alreeds in die paradys, die huisgesin ingestel het (sien Totius se belangrike lesing by die 50-jarige bestaan van die GKSA: Ons roeping en toekoms)

As gesê word: Julle moet die armoede bestry – is die antwoord: Die Afrikaner ken die gebod, want die Skrif sê: „Daar moet geen arme by jou wees nie, want die Here sal jou ryklik seën” (Deut. 15:4); maar die beheersende middelpunt is nie net armoede as sodanig nie; die gebod is van God afkomstig en moet daarom opgevolg word.

Natuurlik kan en moet ons by die praktiese aanwending van die laaste beginsel veel van die buiteland leer, maar daarom hoef ons nie van sisteem te verander nie.

Hierdie uiteraard kort aanduidinge, hoop ek, is genoegsaam om te motiveer waarom nie somaar van „oorneem” gespreek kan word nie.

Teenswoordig verkeer die Afrikanervolk in ‘n krisis, ‘n krisis met baie moontlikhede. Maar laat ons nou oppas! Met watter nuwe vorme gaan ons ‘n nuwe toekoms tegemoet? Laat dit die regte vorme wees wat ons na die hemel toe oophou om die kristalhelder reënwater te ontvang. En dan sê ek: Hou die emmers en reënbakke en damme gereed, en die God van ons vaders sal die seën daarin laat neervloei.

Geagte jong Vriende, – ek stel dit op prys dat u bestuur my gevra het om hierdie openingswoord te spreek. Dadelik het ek dan ook aan dié versoek gevolg gegee. Soos altyd is dit nou weer vir my ‘n besieling om die ligvonkeling in die oog van belangstellende jongmanne en -vroue op te merk. Ek beskou dit as die eerste skietstrale van ‘n ont­luikende dag.

Te meer is dit ‘n voorreg om van oog tot oog en van hart tot hart met u te spreek, omdat ons as volk in ‘n beproewingsuur verkeer. Wat die dag van more ons gaan bring, weet niemand nie. Vandaar dat dit te meer eis is om versigtig voorwaarts te gaan.

Van my jeug af het ek met voorliefde studie gemaak van staatkun­dige en maatskaplike vraagstukke soos dit by die lig van die Woord van God moet geskied. Alreeds die program van beginsels deur my vader vir die Afrikanerbond ontwerp het my belangstelling gaande gemaak. En in my studentetyd was dit vir my ‘n liefhebbery om die werke van manne soos Groen van Prinsterer en dr. A. Kuyper te bestudeer. Altyddeur, en tot vandag toe, het ek my verlustig in die ideaal dat ons van huis uit Christelike nasie daartoe gelei sal word om in al sy lewensvorme beslis die Christelike waarheid te bely en te belewe.

Van die pogings wat aangewend is om tot hiertoe te kom, sal ek nou nie spreek nie. Ek hoop dat die woord wat hier tot u gerig is, van u kant dieselfde belangstelling sal geniet as wat my te beurt geval het ioe ek jare gelede ‘n reeks lesings oor die Christelike Staatsleer vir die studente gehou het. Dit het my sindsdiens geblyk dat dié leringe nie weggesterf het nie maar dat hulle dit as lewende kieme in hulle harte verseël het.

Die kanse van ‘n getuienis vir die Christelik-Calvinistiese staatsbeskouing het sedertdien gaandeweg verbeter. Ons kan alreeds die resultate verwelkom waartoe manne gekom het wat van hierdie onderwerp ‘n studie gemaak het. En ons Afrikanervolk besef nou in ruimer kring dat ons volkshuis volgens vaste riglyne opgerig moet word.

Sal ons die kwalifikasie van ‘n Christelike volk te wees nie heeltemal verspeel nie, dan moet die studiekring nou uitgebrei word. Aan u behoort die toekoms, en u moet tot vaste gedagtes kom ten einde in staat te kan wees om vir u volk die regte lewe voor te berei. Die term ‘Christelik-nasionaal’ is vol magtige potensialiteite vir die kenner, en die bodem waarin ons moet plant, is nog goed. U moet plant en natmaak, en God sal die wasdom gee.

Mag ek sluit met ‘n kostelike woord van Groen van Prinsterer?

Dit is van hierdie inhoud [vertaal]: „U vrees,” skryf hy, „dat ek my laaste kragte verteer. Dit is nie beklaenswaardig nie. Wat sou daar vir ‘n Christen heerliker kan wees as om iets te kan voel van die ‘ywer van u huis het my verteer!’, as om enigsins, met toepassing op eie lewensbesteding, die eenvoudig-verhewe beeldspraak van die Benediktyners, die brandende kers met die opskrif: Ter ar dum prosim (laat ek verteer word, as ek maar net van nut kan wees) te verstaan!”

Dit gaan nie om u persoon, u eer of welvaart nie maar om die eer van u God!

_______________________________________

* Titel asook beklemtonings in die teks bygevoeg.

** Christelike Politiek: nuwe vorme (Openingswoord uitgespreek tydens die Volksjeugkongres van die Afrikaans-Nasionale Jeugbeweging by Mooirivier se oog, Potchefstroom, van 19 tot 23 Desember 1941). Bron: Versamelde Werke, 1977, deel 7, bl. 3ev., ek haal slegs dele daaruit aan.

*** Sien ook hierdie artikels oor staatisme:

RC Sproul on Statism

Statism and Christianity

Why We Confront Statism

Verder bronne van Totius op Pro Regno hier beskikbaar.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑