Hendrik Gerhardhus Stoker (1899 – 1993), gebore in Johannesburg in die ZAR (Suid-Afrika), was ‘n Calvinistiese filosoof wat aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) gedoseer het, en was as lidmaat van sy gemeente, verbonde aan die GKSA. Hy is deur ‘n wêreldbekende apologeet, dr. Cornelius van Til van die VSA, beskou as een van die grootste reformatoriese filosowe in die wêreld van die 20ste eeu.
Vir meer inligting oor sy lewe en werke, asook om ‘n CD met Stoker se werke daarop te bestel, gaan na:
Akademiese publikasies van HG Stoker
Ek het sy artikel, Calvinisme as wortel van ons volksbestaan, op my blog geplaas as ‘n voorsmaak dat u hopelik meer van Stoker sal lees. Dit sluit mooi aan by die verskillende lesings oor Christus en Kultuur wat ek reeds vermeld het, nl. van Totius, Schilder en Rushdoony se kultuurbeskouings. In hierdie artikel van Stoker kry ons as’t ware ook sy ‘kultuurbeskouing’, en dit sal goed wees om die eenheid raak te sien tussen hierdie klomp calvinistiese denkers.
Hier is ‘n paar aanhalings uit die artikel:
“Hierdie waarheid – dat alles aan God behoort en aan Sy Christus, en dat ons alles, ook ons hele lewe, ‘in U lig’ moet sien en daarvolgens moet wandel – bely en handhaaf die Calvinis in alle konsekwensie. Daardeur breek hy radikaal met die dualisme van die Rooms-Katolisisme, naamlik die leer van die twee terreine, en wel die van die genade en die van die natuur. Maar daarmee verskil hy ook van alle parsiële Christendom (soos die Lutheranisme, Metodisme, Barthianisme), wat die Christendom beperk tot kerk en godsdiens en die sedelike. En daarmee breek hy ook met alle Christendom (soos die Liberalistiese, die Kritisistiese en die Dialektiese) wat nie die Bybel as geheel as die onfeilbare Woord van God en as ‘n lig op alle lewensterreine aanvaar nie. Dit is dan ook alleen die Calvinisme wat as ‘n totalitêre Christendom in alle konsekwensie die noodsaaklikheid insien van ‘n Christelike wetenskap, ‘n Christelike politiek, ‘n Christelike kuns, ‘n Christelike ekonomie, ja, van die christianisering van die hele kultuur, en wat nie net die noodsaaklikheid van ‘n Christelike godsdiens stel nie, en wat verder die eis stel van ‘n Christelike verlowing, ‘n Christelike huwelik, ‘n Christelike gesin, ‘n Christelike volk, ‘n Christelike skool, ‘n Christelike vakvereniging, ja, van die christianisering van die hele samelewing, en hom nie net beywer vir en in ‘n Christelike kerk nie.
Dit is wel waar dat die insig in en die verwerkliking van ‘n christianisering van die hele kultuur en van die hele samelewing eers in latere en onlangse tye algaandeweg meer eksplisiet sy beslag gekry het; maar dit is tog ‘n skriftuurlike en meteen ‘n werklikheidseis wat Calvyn reeds in beginsel gevind en ten dele reeds uitgewerk het (vergelyk sy uitbouing van ‘n staatsteorie, sy bydrae tot oplossing van ekonomiese vraagstukke, en so meer).”
“Die Calvinisme is in sy grondbeginsels en in sy grondhouding universeel en orals dieselfde. Dit is egter in sy historiese verwerkliking gevarieerd en vorm en ontwikkel in elke volk met sy besondere aard en omstandighede ‘n besondere tipe. “Die Afrikaanse Calvinisme is elementêr, minder filosofies deurdink en uitgewerk as in ouer lande; dit is egter ook meer spontaan en prakties in sy toepassing op die volkslewe, wat trouens in ‘n jong land soepel is en nog nie gestereotipeer nie. Hy het voor ‘n kragproef te staan gekom en dit glansryk deurstaan, naamlik om sy houding te bepaal teenoor die naturellevraagstuk.
Spontaan het die eenvoudige Boer-Calvinis die patriargale houding gekies en vir geslagte volgehou. Dit het van beslissende waarde geblyk vir die sedelike en nasionale bestaan van die Afrikanervolk. Dat ‘n handvol witmense hulle rein gehou het, met weinig uitsonderings van menslike swakheid, in ‘n swart see van barbaredom, is ‘n skitterende vindikasie van die Calvinisme as ‘n kolonisasie-prinsipe. Vergelyking van Suid-Afrika met Suid-Amerika is in die opsig baie leersaam!
Dit kom ons voor dat hy aan die Nederlandse Calvinisme sy lewens-erns, sy leer- en kerkvastheid en sy nugterheid te danke het: aan die Franse Calvinisme sy kinderlike en diepe vroomheid; aan die Engelse, al is dit indirek, sy onmiskenbare Puriteinse inslag. Sy spontaan ontwikkelde en sy oorgeërfde goeie eienskappe het hy onder Gods seën hard nodig om die groot vyande te weerstaan wat hom belaag: metodisme, modernisme, isolasie, gebrek aan deurgevoerde organisasie en swart en wit heidendom.”[1]
Juis ook ‘n dergelike tipering van die besondere aard van die Afrikaanse Calvinisme moet in die ‘ideologiese’ geskied-beskrywing van ons volk tot sy reg kom. En is dit nog nodig om in hierdie verband te wys op die Christelik-republikeinse ‘ideologie’ die republikeinse ideale en republikeinse sin en die besondere republiekvorming van die Afrikaanse Calvinis?”
“Sinkretisme is in enger sin die vereniging van die Christelike met ‘n heidense godsdiens, maar in ruimer sin, soos dit hier gebruik word, die vereniging van geloofsinhoude of van stelsels of van lewens- en wêreldbeskouings of van lewenshoudings, lewenstyle, lewensgewoontes en lewenswandel wat op botsende grondslae, op botsende fondamente of op botsende grondbeginsels rus. Waar die Calvinisme in ons volksgeskiedenis voorheen op vreemde ‘ideologieë’ temperend en omvormend kon ingewerk het, daar het die vreemde ‘ideologieë’ vandag so aan krag en invloed gewen dat hulle hulself in ons volkslewe en teenoor die Calvinisme kan handhaaf. En juis omdat die Calvinisme wortel van ons volksbestaan was en nog grotendeels is, ontstaan in ons volkslewe die sinkretisme van Calvinisme en modernisme, van Christendom en moderne heidendom, asook van gereformeerde en nie-gereformeerde religie.
Ons volk wil op die betrokke onderskeie terreine en in die betrokke onderskeie kringe sy Calvinisme verenig met, onder andere, modernisme, humanisme, liberalisme, positivisme, scientisme, evolusionisme, materialisme, pragmatisme, nasionaal-sosialisme, ekonomisme, metodisme, irrasionalisme, eksistensialisme, en dialektisisme. Hy wil Calvinis en tegelyk iets anders wees. Die enigste rigting waarteen ons volk hom vierkant verset en waarmee dit (afgesien van enkele uitsonderlike gevalle) geen sinkretisme aangaan nie, is blykbaar die Kommunisme, wat in sy uitgesproke anti-Christelike en antigodsdienstige karakter en op grond van sy gevaar vir ons naturellebevolking, moeilik met ons volk se Calvinisme verenigbaar is.
Maar afgesien hiervan: Sinkretisties is ons huweliks- en gesinslewe; sinkretisties ons skoolwese; sinkretisties ons maatskaplike lewe; sinkretisties is ons pers (met sy onverkwiklike sensasionalisme); sinkretisties ons politieke organisasies en ons volksbewegings en volksorganisasies; sinkretisties is ons ekonomiese lewe en arbeidersorganisasies; sinkretisties is verskillende staats-wette; sinkretisties is ons wetenskaplike denke; sinkretisties is ons letterkunde; sinkretisties is ons sedelike lewe; sinkretisties sou selfs ons godsdienstige en kerklike lewe genoem kon word weens die vereniging van die gereformeerde godsdiens en belydenis met die metodisme en met die dialektiese teologie.
Dat die sinkretisme bevorder word deur die oorheersende invloed van die tegniek, deur die wêreldkontakte wat, onder andere, vervoer, die pers, die radio en die filmwese bring, en deur die huidige wêreldwye vervlegting van ons belange met die van ander volke – dit wil ek net noem.
Die gebrek aan bewuste antitese in ons volkslewe is maar die keersy van die sinkretisme. So sinkretisties as dit hier by ons toegaan, gaan dit by ander volke nie toe nie. Sinkretisme by ons is ‘n defaitistiese handeling waarmee die Calvinisme as wortel van ons volksbestaan hom nog probeer handhaaf teen die vreemde ,ideologieë’ wat vir hom te invloedryk is. En dis ‘n teken van swakheid.”
“Nieteenstaande hierdie agteruitgang glo ek nog dat daar ‘n kern van ons volk is wat aan sy verlede ten volle trou bly en in die regte rigting voortbou. Ek glo nog dat daar ‘n tyd sal kom waarin God ons volk sal wakker skud tot ‘n stryd wat die so nodige antitese sal skep en die toegedekte antitese, die dubbelslagtige en dubbelhartige karakter van die sinkretisme, sal ontbloot en daardeur vernietig – ‘n stryd wat noodwendig op kerklike en godsdienstige terrein sal moet begin omdat die Calvinisme die geestelike wortel van ons volksbestaan is. Ek glo dit omdat die taak wat God aan ons volk hier in Suid-Afrika en ten bate van die hele Afrika gestel het, nog lank nie afgehandel is nie, ‘n taak waarin die stryd tussen Oos en Wes ‘n sentrale rol gaan speel. Dat God ons volk roep, blyk duidelik uit die roeping van ons volk in die huidige wêreldverwarring.”
Sien die volledige artikel hier: Calvinisme as wortel van ons volksbestaan