TOTIUS OOR DIE JOODSE VRAAGSTUK IN DIE LIG VAN GENESIS 9:27

TOTIUS OOR DIE JOODSE VRAAGSTUK IN DIE LIG VAN GEN. 9:27

“Mag God aan Jafet ruimte verskaf, en mag hy woon in die tente van Sem! Maar Kanaän moet sy dienskneg wees.” (Genesis 9:27)

“Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding.” (Rom. 10:1)

“En as die Antisemitisme verwys na die geldmag van die Jode en na „die materialistiese en weinig konsensieuse gees” wat hierdeur aangekweek word, dan antwoord Kuyper „dat gelyke gees altyd die handel en met name die geldhandel beheers het, onder Christene ewe goed as onder Jode”. – A. Kuyper

“Ek gee hierdie verklaringe van die Noag-profesie, omdat dit hier van fundamentele betekenis is. Die Christendom is uit die Jode. Jafet het in die tent van Sem gaan woon. Vandaar dat die Israeliete ons geestelike voorouers genoem kan word. Maar dit is juis teen die vervulling van hierdie Noag-profesie dat die Antisemitisme hom verset. Openlik word dan ook beweer dat Christendom en Jodedom in hul wortel een was. Maar dit mag, volgens die Antisemitisme, nie langer so bly nie.

Die Ariese ras, so sê hulle in Frankryk, die Germaanse ras, so sê hulle in Duitsland, moet hom vry maak van alles wat Asiaties of Semities is. …  Dit is nie maar net die vraag of ons vir of teen die Jode is nie, maar ons kom te staan voor ‘n aksie wat selfs, volgens sommige van sy pleitbesorgers, die ganse Christendom wil verwerp. … Kuyper druk dit skerp uit deur te sê dat dit van die kerk is dat die groot sedelike mag moet uitgaan om onder die Christene alles wat na haat teen die Jood ook maar sweem, uit te roei. Dit is Christenplig, so vermaan Kuyper, om die naasteliefde ook teenoor die Jood nie te versaak nie…” – Totius

“Ook die Joodse volk het ’n van Godgegewe eieaard, taak, bestemming en roeping, wat ons moet waardeer en in sover ons daarmee in kontak kom, moet help bevorder. Anti-Semities mag ons nie wees nie. Maar Joodse bedreiging van ons volk en stremming van ons volksontwikkeling, asook die Joods-Kapitalistiese uitbuitery van die ekonomiese moontlikhede van ons volk, en ook die Joods-politieke intrige in regering en pers tot nadeel van ons volk moet ons bestry; — nie omdat ons anti-Semities is nie, maar uit die positiewe rede dat ons volk sy van God gegewe roeping sal vervul na die beste van sy kragte. ” – HG Stoker

INHOUDSOPGAWE

Voorwoord

1 Inleiding
2 Israel as wonderbare verskynsel deur die geskiedenis
3 Die geringe getalle van die Jode onder die nasies
4 Die Joodse geldmag
5. Die oorsprong en ontwikkeling va die rasgedrewe (nazi) Anti-semitisme wat nie net anti-Joods is nie maar anti-Christendom
6. Die ingewikkeldheid van die Joodse vraagstuk en die uitweg wat gereformeerde gelowiges moet volg volgens Kuyper
7 In afwagting oor die Palestynse vraagstuk: die verloop van gebeure tot en met voor 1948
8 Waarom is die saak so uiters ingewikkeld en tegelyk so wereldgevaarlik, ook met die opkoms van Sionisme?
9 Aan wie behoort die land?
10 Die twee maniere om te dink oor die Jode
11 Die nuwe staat, Israel in 1948 en die stryd wat voorlê
12. Ons medelye as Christene met Jerusalem
13. “As ek jou vergeet, Jerusalem…”
14. Die toekoms van israel: “so sal die hele israel gered word” (rom. 11:26) … wat sê die Skrif?

PDF aflaai weergawe van hierdie artikel: Totius oor die Joodse vraagstuk in die lig van Gen. 9:27

Voorwoord – Slabbert Le Cornu

Totius het vanaf 1934 tot 1949 ‘n paar artikels in ‘Die Kerkblad’ geskryf [bron: Versamelde Werke, 1977, deel 1: Die Bybel, bl. 345-369, beklemtonings en meeste subopskrifte bygevoeg hier onder. Ek het gewerk uit die De Jong 1960 Versamelde Werke weergawe] oor die Joodse vraagstuk wat in sy tyd afgespeel het, met die hoogtepunt die stigting van die Joodse staat in 1948. Ek het daardie artikels hier saam verwerk tot ‘n eenheid, aangepas in 15 afdelings of hoofstukke. Hy beskryf basiese historiese gebeure van die Joodse volk, asook al die ingewikkelde vrae wat daarmee saamgaan in die destydse konflik, en dus nog baie aktueel is vir die Israel-Hamas of Israel-Arabiere konflik wat tans aan die gang is.

Sien ook hierdie inskrywing oor die Midde-Ooste konflik, Einddinge: Die toekoms van Israel in die lig van die uitbreek van die oorlog teen Hamas, veral ds. Madany se artikels, ‘The Problems of Israel’ en die bronne daar vermeld, vir meer hedendaagse besinning oor die onderwerp.

Die belangrikste 3 afdelings van Totius se artikels, na my mening, is die volgende:

5 Die oorsprong en ontwikkeling va die rasgedrewe (nazi) Anti-semitisme wat nie net anti-Joods is nie, maar ook anti-Christendom

6 Die ingewikkeldheid van die Joodse vraagstuk en die uitweg wat gereformeerde gelowiges moet volg volgens Kuyper

15 DIE TOEKOMS VAN ISRAEL: “So sal die HELE Israel gered word… WAT Sê DIE SKRIF?

Hierdie artikels leer vir ons as gereformeerde gelowiges hoe om Bybels en prinsipieël te besin oor hierdie ingewikkelde aktuele en kontroversiële onderwerp, alles midde al die gelowige en ongelowige ‘Israelvisies’ van die verlede, asook ons hede. Ons verwerp ten einde al die valse vorme van ongelowige Zionisme gedryf deur sekularisme en/of Judaisme, maar tegelykertyd ook Anti-semitisme gedryf deur verskillende godsdienstige maar ook ongelowige ywer, soos Totius dit verduidelik. Ons kan en moet waarsku teen die Judaisme en ‘Joodse en nie-Joodse geldmagte’ wat nou nog aan die werk is en oorloë en konflik misbruik en uitbuit vir eie agendas en planne. Ons moet egter ook waarsku teen alle valse ywer wat ten einde anti-semities is en eindig in ‘n anti-Christendom ywer.

Ek stel Totius aan die woord:

TOTIUS EN DIE JOODSE VRAAGSTUK 

1 INLEIDING

‘n Vriend, volgens die naam geoordeel ‘n lidmaat van ‘n Gereformeerde gemeente, stuur my ‘n  pamfletjie deur hom in Engels geskrywe, met die opskrif: The Jewish problem of today in the light of God’s Word. In ‘n begeleidende skrywe hy: „Terwyl die dae donker word vir die Jode, Gods volk, neem ek die vrymoedigheid om u die aangehegte brosjure te stuur met die hoop dat u sal besluit om meer vir die Jood te doen as wat u alreeds gedoen het”.

Om die leser enigsins ‘n denkbeeld te gee van die inhoud van die pamflet, vertaal ek hier die eerste twee alineas:

„Vandag word vervul die profesie van Jesaja (kyk hoofst. 60 en 61) wat omtrent 2,650 jaar gelede uitgespreek is: die terugkeer na Palestina van Gods uitverkore volk, uitverkore kragtens die verbond wat die Here omtrent 3,850 jaar gelede met Abraham gesluit het. Die nasies van die wêreld word teenswoordig deur God gebruik om die Jood te dwing om die heilige land weer te bevolk. In Duitsland, waar die Jode byna hulle kenmerkende eienskappe verloor het, omdat hulle meer onverskillig is aangaande die glorie van oud-Israel as Jode in ander dele van die wêreld, word die Duitse volk gebruik as roede in die hand van God om hulle te oortuig dat hulle in God alleen vrede, reg en behoudenis kan vind.

„In Suid-Afrika win die beweging altyd meer veld om die Jood te vervolg, te beroof en uit die land te verdrywe, en binnekort sal die beweging ‘n wêreldwye omvang aanneem. In die Verenigde State van Amerika is die drang al amper onkeerbaar om van Joodse mededinging in alle vertakkinge van die handelswereld ontslae te raak. Lees Esegiël 7 om ‘n idee te kry van die algehele ontreddering van die Jode in hierdie tydsbedeling. Hoofstuk 11:16 voorspel hulle verstrooiing onder al die nasies, terwyl hulle daar ‘n smaad en ‘n spreekwoord sal wees (Jer. 24:9); maar Eseg. 11:17 bevat vir hulle die belofte van ‘n veilige terugkeer na Palestina, waar hulle voor spoedig sal wees, onderwyl die orige wêreld in groot benoudheid sal verkeer (vgl. Jes. 60). Die geskiedenis het ons geleer dat die seën van die Here met hulle gaan (Eseg. 11:16). Ek kan hier noem die tyd dat die Spaanse nasie besluit het om die Jode uit te drywe. Die Christen wat weer die Joodse nasie in beroering bring, verhaas alleen sy eie ondergang”.

In dié trant gaan die skrywer voort met sy beskouing waarin hy, volgens sy opvatting van die Bybelse profesie, die Joodse vraagstuk bespreek. Ek twyfel of ek aan die versoek van die vriend, altans in die besondere sin waarin hy dit blykbaar bedoel het, gevolg sal kan gee. Ek wil alleenlik een en ander ten beste gee oor die Jodedom as geskiedkundige verskynsel, om daarna weer bepaald oor die Joodse vraagstuk self te handel. Israel as nasie bly ‘n wonderbare verskynsel.

2 ISRAEL AS WONDERBARE VERSKYNSEL DEUR DIE GESKIEDENIS

Vlugtelinge na vreemde lande vereenselwig hulle gewoonlik met die nasies waaronder hulle huisvesting vind. So het byvoorbeeld die Franse vlugtelinge wat veiligheid gesoek het in Nederland en Suid-Afrika, hulle aangepas by die nuwe omstandighede waaronder hulle verkeer het, totdat hulle eindelik in die Hollandse of Suid-Afrikaanse volksbestaan opgegaan het. Daar was ‘n proses van verwording en samesmelting.

Die Jood het egter nie verander nie. Met sinspeling op die Jehova-naam (Ex. 2:14) het hy as leuse gehandhaaf: „Ek is wat ek is”. Al is dit ook onbewus, ewenwel het hy geleef en gehandel volgens die woorde van Bileam: „Kyk, ‘n volk wat afgesonderd woon”. Hy het getrek van land tot land, dikwels onder swaar vervolging; maar hy het homself steeds as Jood gehandhaaf. Selfs in die stede, waar veral sy woonplek was, het hy hom nie met die nasies vermeng nie maar eie „Jodebuurte” gestig en ‘n eie leefwyse gevolg.

Natuurlik wil ek hiermee nie te kenne gee dat dit die geval met alle Jode, hoof vir hoof, was nie. Die verwordingsproses wat ons, helaas, onder Christene opmerk, is ook onder die Jode werksaam. In baie gevalle selfs was dit so dat die grootouers streng ortodoks was, terwyl die ouers hulle alreeds as half-ortodoks laat ken het; hulle kinders weer het as „reform-Jode” bekend gestaan, en die se kinders wou liefs „skyn-Jode” genoem word.

In Om de oude Wereldzee sê Kuyper dan ook dat ‘n: „algehele opneming van die Joodse element deur die landselement seer stellig voor die deur sou staan as enkel met die Westerse Jodedom gereken word”.

In Philadelphia het ‘n Joodse kongres sover gegaan om in 1869 as ideaal dit te proklameer: „Geen skeiding meer tussen Jode en die ander nasies nie maar die vereniging van al die kinders van God in die belydenis van die monoteïsme (die leer dat daar net een God is), ten einde die eenheid van alle redelike skepsele voor te berei onder die een hoe roeping tot sedelike selfvolmaking”.

Die geskiedenis het egter twee maal geleer dat hierdie vereenselwiging slegs van tydelike aard is.

In die eerste eeu van die Christendom was daar orals in die Romeinse Ryk Joodse kolonies wat groot invloed uitgeoefen het op die Heidene. By duisende is daar proseliete gemaak, mense wat tot die Jodedom bekeer is. Maar dié kolonies het hulle nie gehandhaaf in hul selfstandigheid nie. Die Griekse en Romeinse kultuur was vir hulle te sterk. Na enkele eeu het hulle in Europa verdwyn deurdat  baie Jode na die Christelike kerk oorgegaan of hulle in Asië teruggetrek het.

Daar in die Ooste het die egte Jodedom hom egter gehandhaaf, en in plaas van om onder die nasies te verdwyn het dit hom weer geopenbaar en met die verjongde krag herleef. Onder ander omstandighede het in die sewende eeu wesenlik dieselfde plaasgevind. Toe was dit weer die Arabiese geleerdheid en beskawing wat tydelik vir die Jodedom te sterk geblyk het. In Bagdad en later in Spanje het die Jode die bekoring van die nuwe wêreldbeskouing geen weerstand kon bied nie. In die poging om geloof en wetenskap met mekaar te versoen het Joodse geleerdes die geloof aan die Skrifte prysgegee en daarvoor in die plek gestel ‘n verstandelike godsdiens wat die Jodedom van sy krag beroof het.

Maar ook hierdie proses van ontaarding het nie alte lank geduur nie. Die ou wortel het herleef, en in plaas van ten onder te gaan het die Jodedom sedertdien sy getalsterkte en sy krag meer as verdubbel. Vandaar dat Kuyper sê:

„Ek beskou dit daarom, met die oog op hierdie Grieks-Romeinse en Arabiese tydperke in die Jodedom van voor 20 en 11 eeue, as selfbedrog as die mense in sommige kringe hulle inbeeld dat die algehele oplossing van die Jodedom onder die Christennasies begin het en deur sal gaan tot die einde toe. Vergeet nie dat ruim drie vierdes van die Jode onder die Christennasies begin het en deur sal gaan tot die einde toe. Vergeet nie dat ruim drie vierdes van die Jode wat tans lewe, nog geheel en al buite hierdie proses staan en dat van die orige vierde meer as die helfte nog Joods voel” (I, bl. 253).

3 DIE GERINGE GETALLE VAN DIE JODE ONDER DIE NASIES 

Wat verder ons aandag trek by die bestudering van die Jodedom, is die betreklik geringe getal Jode wanneer ons dit naamlik vergelyk met die bevolkingsyfers van die nasies waaronder hulle verkeer. Hulle verdeling oor die state van Europa was in 1907 ongeveer soos volg:

Die groot massa Jode het toe, volgens gegewens wat Kuyper aan die Jewish year book ontleen, in Rusland en Pole gehuisves, en wel tot ‘n getal van ruim 5-miljoen. In Hongarye was daar 851,378, in Oostenryk 1,224,899, inTurkye 282,277, en inRoemenië n 250,000. In die Oosterse State dus ruim 7 en ‘n 1/2 miljoen. Vir die ander state van Europa het daar slegs 1,740,000 Jode oorgebly: in Duitsland 586,348, in Engeland 228,777, in Nederland 103,988, in Frankryk ‘n klein 100,000, in Italië ongeveer 35,000, terwyl die orige getalle vir ons doel onbeduidend is.

Die hoofmag van Jode moet dus in die Oosterse State gesoek word, waar hulle persentasie in vergelyking met die nie-Joodse bevolking ook ‘n hoë syfer bereik. In Nederland, byvoorbeeld, is die Jode ongeveer 2% van die hele bevolking, maar in Pole bereik hulle die hoë syfer van 16%.

In verband met hierdie vergelykenderwys geringe syfers moet die feit vermeld word dat baie Jode arm is. Aangaande Rusland word dit ons verseker „dat 9/10 van die Joodse bevolking daar nog ‘n hoogs armoedige bestaan ly; dat hulle in klein huisies opeengehoop sit, of ook in ‘n soort kasernes met meer as 1,000 siele opeengepak is, terwyl hoogstens ‘n 100,000 onder hulle in besit is van kapitaal van enige betekenis”.

4 DIE JOODSE GELDMAG 

Stel nou naas hierdie feite die ontsaglike geldmag van die Jode. Kuyper meld ons dat die „hoë finansies” van die hele Europa in hande is van enkele groot Joodse bankiershuise. Hy sê dit is die Rothchilds, die Bleichröders, die Oppenheims, die Warschauers, die Mendelsohns e.a. in wie se hande die beurs van Europa is. Dan noem Kuyper enkele besonderhede:

„Die Londense huis van Rothschild is die finansiële sentrum van die hele Europa, en die huise in Parys en in Wenen is die geldelike slagare vir die hele Europese vasteland. Aan die Paryse huis behoort o.m. die Noorder-Franse spoorweg, wat in 1900 n batige saldo van oor die honderdmiljoen franke afgewerp het. Op die Rand in Transvaal is die Joodse kapitaliste heer en meester“.

Dan vermeld Kuyper nog dit:

„Hierdie reusagtige kapitaalmag bring teweeg dat geen staatslening van betekenis sonder die hulp, altans nie teen die wil van die Joodse bankiers, tot stand kan kom nie. Feitlik is dan ook die lot van Turkye, Chili, Brasilië en Argentinië in hulle hand …In Berlyn vorm 280 Joodse huise die hoofmag op die beurs. In Hamburg besit hulle 40, in Hanover 30 groot huise. In Duitsland vorm die Jode nouliks 1 persent van die bevolking, maar byna 39 persent van die bankiers- en krediethuise behoort aan hulle. In die versekeringswese beskik hulle oor 7.16 persent van die huise. In die koopware- en produktehandel oor 13 persent. Daar bestaan dan ook geen twyfel dat die Jode altyd ryker word nie”.

Almal tesame spreek hierdie feite met ‘n duidelike taal. Wat ons mag dink van die verre toekoms — Israel onder die volke is n baie opmerklike vertskynsel.

Die Kerkblad, no 758, 7 Maart 1934.

5 DIE OORSPRONG EN ONTWIKKELING VAN DIE RASGEDREWE (NAZI)) ANTI-SEMITISME WAT NIE NET ANTI-JOODS IS NIE, MAAR OOK ANTI-CHRISTENDOM 

Die vorige keer het ek geskrywe oor die Jodedom as eiesoortige en eienaardige verskynsel. Nou moet gehandel word oor die vraagstuk wat die Jodedom in die lewe geroep het, ten gevolge waarvan die sogenaamde Anti-semitisme ontstaan het.

Ons lesers het die woord anti-Semitisme in die laaste tyd seker dikwels teëgekom. Dit dui aan die rigting wat ingaan teen alle Semitiese invloede wat op die Europese lewe beslag wil lê.

Eers was die Antisemitisme meer anti-Judaisme, d.w.s. daar het ‘n teëstelling tussen die Joodse en Christelike element ontwaak. Die eerste keer dat die anti-Joodse aksie in Duitsland opgekom het, was dit ‘n verset teen die gewetenlose besigheidspraktyke van die „Gründer”, wie se organisasie vir die grootste gedeelte in Joodse hande was.

Meer en meer het egter bepaaldelik die rasverskil op die voorgrond getree. Dan kom die eintlike Antisemitisme voor die dag. Alles wat Europees, Indogermaans of Aries is, word dan gestel teenoor wat van die Semitiese ras afkomstig is.

Die profesie van Noag het dit uitgespreek: „Mag God aan Jafet ruimte verskaf, en mag hy woon in die tente van Sem” (Gen. 9:27).

Dit beteken dat daar ‘n tyd sal kom:

„Waarin die Here ook in besondere sin die God van Jafet sal wees, ‘n tyd waarin Jafet in die verband van die Semitiese godsdiens opgeneem sal word, d.w.s. deur die Semiete tot die ware godsdiens sal kom” (Aalders).

“Die vervulling van hierdie profesie is duidelik—die evangelie is die heilsverkondiging wat uit die Semitiese in die Jafetitiese wereld oorgeplant is” (Delitzsch).

„Omdat Sem en Jafet gemeenskaplik aan hulle vader eerbied bewys het, daarom moet ook hulle nakomelinge in innige verbinding met mekaar bly voortbestaan” (Strack).

Ek gee hierdie verklaringe van die Noag-profesie, omdat dit hier van fundamentele betekenis is. Die Christendom is uit die Jode. Jafet het in die tent van Sem gaan woon. Vandaar dat die Israeliete ons geestelike voorouers genoem kan word.

Maar dit is juis teen die vervulling van hierdie Noag-profesie dat die Antisemitisme hom verset.

Openlik word dan ook beweer dat Christendom en Jodedom in hul wortel een was. Maar dit mag, volgens die Antisemitisme, nie langer so bly nie. Die Ariese ras, so sê hulle in Frankryk, die Germaanse ras, so sê hulle in Duitsland, moet hom vry maak van alles wat Asiaties of Semities is.

[slc nota oor die Nazisme: Totius skryf hierdie reeds nog voor die Naziisme in al sy boosheid sou uitbreek teenoor die Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog. In my lesing oor Totius, “Genade alles genade“, skryf ek as volg oor Totius se belewing van die nasionaal sosialisme toe hy in Duitsland was:

“Insiggewend, is Totius se aanvoeling van die gevare van Nazi-Duitsland, wat ‘n bevestiging is dat die ware Afrikaner, die gereformeerde Afrikaner is of behoort nie vriend te wees met die gevare van die humanistiese liberalisme, marxistiese kommunisme of die nasionaal sosialisme nie, soos prof. VE d’Assonville daaroor skryf:

Op 30 Julie land hulle (Totius en sy vrou in 1937) in Hamburg. Rikie Postma is weer in die geselskap. Die Duitsland van 1937 met die Hitler-bewind op ’n hoogtepunt, was ’n uitsonderlike ervaring. Maar Totius is glad nie op sy gemak in Nazi-Duitsland nie. Aan hulle seun Japie vertel mev. Du Toit in ’n brief ‘van al die benoudheid wat Pa in Duitsland uitgestaan het, julle ken Pa…’ Dit gaan voortdurend oor ‘wat mag en wat mag nie’ en hy kan nie ontspan nie. In dieselfde brief word ook vertel dat Totius ’n groot gevaar in die Nasionaal-Sosialisme sien en dat hy met sy kollega, prof. Van Gelderen [sy ou vriend met wie hy voortdurend in korrespondensie is], saamstem dat die ideologie van die Nazi’s antichristelik is.” (Dit is Totius: JD Du Toit 1877-1953, Pretoria: Marnix, 1993, bl. 213)

Sien ook Totius se vriend en tydgenoot, HG Stoker se werk, Die Stryd om die Ordes, waar die Liberalisme, Kommunisme, Fascisme, Naziïsme geweeg en te lig bevind word, en prof. Stoker wys na die ‘Calvinisme as wortel van ons volksbestaan’, sien hier meer: https://proregno.com/2010/02/04/calvinisme-as-wortel-van-ons-volksbestaan/. HG Stoker verwerp beide die ‘Joodse geldmagsugtiges’ en hul slinkse planne, maar ook die ‘Anti-Semitisme’, en dus ook die ‘Nasionaal-Sosialisme’, hy skryf onder andere: ‘Ook die Joodse volk het ’n van Godgegewe eieaard, taak, bestemming en roeping, wat ons moet waardeer en in sover ons daarmee in kontak kom, moet help bevorder. Anti-Semities mag ons nie wees nie. Maar Joodse bedreiging van ons volk en stremming van ons volksontwikkeling, asook die Joods-Kapitalistiese uitbuitery van die ekonomiese moontlikhede van ons volk, en ook die Joods-politieke intrige in regering en pers tot nadeel van ons volk moet ons bestry; — nie omdat ons anti-Semities is nie, maar uit die positiewe rede dat ons volk sy van God gegewe roeping sal vervul na die beste van sy kragte.’]

Die stryd gaan dus nie spesiaal teen die Jode as sodanig nie maar teen die Semitiese invloede wat die Europese (Ariese) lewe deursuur het. Die Fransman Auguste Dide het daar nadruk op gele „dat die Christendom ‘n vorm van Judaïsme is”; dat in die Christendom die Joodse gees hom van die volke van Europa meester gemaak het en dat die verlossing uit die bande van die Semitisme eers deur die volkome ondergang van die Christelike godsdiens moontlik is. Hierdie opvatting, konsekwent deurgedrywe, moet daarmee eindig dat nie meer die H. Skrifte nie maar die Veda’s die heilige boeke van die Weste moet wees.

6 DIE INGEWIKKELDHEID VAN DIE JOODSE VRAAGSTUK EN DIE UITWEG WAT GEREFORMEERDE GELOWIGE MOET VOLG VOLGENS KUYPER

Die leser voel intussen dat die Joodse vraagstuk ingewikkeld is. Dit is nie maar net die vraag of ons vir of teen die Jode is nie, maar ons kom te staan voor ‘n aksie wat selfs, volgens sommige van sy pleitbesorgers, die ganse Christendom wil verwerp.

Die aksie gaan dan teen die ganse Semitiese wêreldbeskouing, en vir sover die Jode- en die Christendom daarmee saamhang, ook daarteen.

So ingewikkeld is die vraagstuk, dat dr. Rost, self ‘n Antisemiet, die toekoms in hierdie donker kleure skilder: „Die redding uit die boeie van die Jodedom is hopeloos, ‘n Mens is geneig om met betrekking tot die duisendjarige geskiedenis van die Jodedom byna aan ‘n onvermydelike noodlot te glo waaronder die volke hulle gevange moet gee”.

Aan sulke noodlotsgedagtes wil ons ons ewenwel nie oorgee nie. Ons wil vra of daar geen middel is om die Joodse gevaar af te wend nie.

Dat daar volke is, ons Suid-Afrikaanse volk daarby gereken, wat deur stoflike agteruitgang, so nie ondergang nie, bedreig word, is ongetwyfeld ‘n feit. Ek wil oor hierdie punt nie uitwei nie. Die koerante het genoeg geskryf daaroor opgeneem. Dan, ‘n mens hoef maar net jou oë oop te maak en te betrag wat rondom jou gaande is, om te sien wat ons in die naaste toekoms kan verwag. Wanneer ons nou ‘n uitweg soek uit die moeilikheid, dan moet vooropstaan dat die Jood nie om sy godsdiens ontwil beswaar of gehinder mag word nie. In ‘n Christelike, Calvinistiese land moet daar vryheid van godsdiens wees, en niemand mag vervolg word omdat hy ‘n sekere geloofsoortuiging toegedaan is nie.

Kuyper druk dit skerp uit deur te sê dat dit van die kerk is dat die groot sedelike mag moet uitgaan om onder die Christene alles wat na haat teen die Jood ook maar sweem, uit te roei.

Dit is Christenplig, so vermaan Kuyper, om die naasteliefde ook teenoor die Jood nie te versaak nie; maar dit is tegelyk Rabbyneplig, sê hy, om hulle geloofsgenote te herinner aan die uitspraak van die Wet: „Wees heilig, want Ek is heilig”.

Maar soos die lesers weet, Kuyper was nie net prediker en teoloog nie maar ook staatsman. Met skerp blik het hy die wêreldvraagstukke deurvors. Ek stel daar prys op om hier mee te deel hoe hy oor die stoflike (ekonomiese) kant van die Joodse kwessie dink:

Ten eerste wil Kuyper, wat persoonlik die meeste betrokke lande bereis het, dat ‘n duidelike onderskeid sal gemaak word tussen die westelike en oostelike lande van Europa.

In die westelike lande het die koopmansgees onder die volke ‘n hoë trap van ontwikkeling bereik. Die handelstalent is daar teen die Jode genoegsaam opgewasse. Dit sou dus ‘n „misgreep” wees om daar hulle burgerlike posisie „ook maar iets te bedreig”.

Wel is dit ongepas dat Jode hulle invloed gebruik om die Christelike beginsel uit die staatslewe terug te dring; maar laat dan teen hulle opgetree word soos teen die ongelowiges wat vir hulle ongeloof publiek propaganda maak, naamlik deur die pers en andersins.

En as die Antisemitisme verwys na die geldmag van die Jode en na „die materialistiese en weinig konsensieuse gees” wat hierdeur aangekweek word, dan antwoord Kuyper „dat gelyke gees altyd die handel en met name die geldhandel beheers het, onder Christene ewe goed as onder Jode”.

Daarteen moet dan ook maatreëls getref word, sodat die grootbesit begrens en die aangroeiing van kapitaal onder ‘n meer sedelike (etiese) reël gestel word; maar dan moet ook nie teen Jode as Jode opgetree word nie.

Wat die oostelike lande betref, moet egter volgens Kuyper anders gehandel word. Hy sê: „In hierdie lande sou n algehele gelykstelling van die Jode die nasionale ontwikkeling nie bevorder nie maar bedreig …Verweer en beskerming van die nasionale lewe teenoor die superioriteit (oorwig) van die Joodse gees kan hier vereers nie gemis word nie. Aan vrye worsteling oorgelaat, sal hier die nasionale element steeds die onderspit delf”.

Nou meen ek dat wat Kuyper hier skrywe, ook op Suid-Afrika van toepassing is, al is dit nie juis in alle dele nie. Ek het spesiaal die oog op ons Afrikaanssprekende nasie.

Ons is ‘n jong nasie, afstammelinge van pioniers (voortrekkers) en boere. Die handelstalent is by ons nog nie breed ontwikkel nie. Maar meer en meer begin ons jongmense hulle tuis maak op handelsterrein. As volk móet ons dan ook op dié gebied ons spore kan verdien, anders bly ons voortdurend tot minderwaardigheid gedoem. Dat sommige Afrikaners al die onderspit moes delf, is nie onbekend nie, en die oorsaak is openbaar: ‘n alte skerp mededinging!

Toe ons nasie na 1875 uit die slaap ontwaak het, het die Patriot dadelik op die voorgrond gestel die verowering van die besigheidsterrein. Die leuse was: Rig „Boerewinkels” op! Ondanks veranderde omstandighede en teëslae moet dit, met die nodige wysiging in die manier van optrede, die leuse bly.

Nou gee Kuyper twee middele aan die hand waardeur die Joodse mededinging geneutraliseer moet word: (1) die sedelike en verstandelike verheffing van die eie volk en (2) die reëling van die ekonomiese wetgewing, sodat die onderdrukking van die swakkes uitgesluit is.

Ten opsigte van punt (2) dring Kuyper aan op verlenging van goedkoop krediet vir die boer en vrystelling van belasting as daar geen oes is nie. Verder: subsidiëring van nywerheid, handel en skeepvaart en beskerming van die opkomende nywerheid.

Nog meer punte sou ek kon noem, maar dit is nie nodig om in Die Kerkblad hierdie praktiese maatreëls te bespreek nie. Dit was alleen maar nodig om aan te toon dat daar vir ons wel ‘n uitweg is uit die moeilikheid, ‘n uitweg wat ook nie stry teen ons Christelike beginsel nie.

Of dié uitweg ook bewandel sal word? …

Die Kerkblad, no. 760, 4 April 1934.

7 IN AFWAGTING OOR DIE PALESTYNSE VRAAGSTUK: DIE VERLOOP VAN GEBEURE TOT EN MET VOOR 1948

Dit lyk of die Palestynse vraagstuk elke dag groter word. Uit die wêreldnuuis verdwyn dit nie. Van die atoombom hoor ons by rukke heel weinig of niks nie, maar die Joodse moeilikheid hou die pers en die radio en die staatsmanne van dag tot dag aan die gang.

Te meer is dit ‘n wonderbare verskynsel as ons bedink dat die Jode so ‘n betreklik klein nasie is, en dan nog ‘n nasie sonder ‘n land, oral in die wereld verstrooid. Maar dit lyk of die kleinheid of verstrooiing in hulle geval nie tel nie.

Leersaam is dit om kortliks op hierdie getalle te let. Hulle dateer wel uit opgawes van 40 jaar gelede, maar ons meen dat hulle lig werp op die teenswoordige verskerping van die Joodse vraagstuk. In die oostelike State van Europa was daar toe ongeveer 7 en ‘n half-miljoen Jode, terwyl die hele Europa net 8-miljoen getel het. Dit wil sê dat buitekant die oostelike State slegs 1,740,000 Jode in die hele Europa geleef het. In Pole het hulle 16.25 persent van die hele bevolking bereik en in Rusland en Roemenië ruim 4 persent. In Warschau was daar twee Jode op elke drie gedooptes. Duidelik blyk dus dat hul hoofmag in die oostelike State geskuil het.

Nou is die oostelike dele van Europa juis die terrein waar die jongste oorlog so langdurig en so fel gewoed en die ontreddering van die Jode vir ‘n groot deel plaasgevind het. Daarby kom dat ook met Duitsland en Oostenryk by die ontworteling van die Jode rekening gehou moet word. Dit is dus duidelik dat die jongste wêreldkryg ontsaglik veel daartoe bygedra het om die Joodse vraagstuk te verskerp en na vore te bring.

Maar laat ons nou eers let op die loop van gebeurtenisse sedert die oorlog beëindig is (Tweede Wêreldoorlog – slc). Miljoene Jode is in die jare van krygsvoering van al hul besittings beroof. Vanself het hulle na al die nasionalistiese propaganda hul oë op Palestina gevestig om daar te gaan woon. Maar die Engelse regering was bang om die poorte van Palestina te groot vir die Joodse immigrasie oop te sit, bang dat hy die ongenoeë van die Arabiere op hom sou laai. Dit was voorheen ook al die geval toe Brittanje na die eerste Wereldoorlog heel takties tussen die twee bevolkingsdele in Palestina moes maneuvreer, maar sedert die jongste oorlog beëindig is, het die moeilikheid hand-uitgeruk en het Engeland die hulp van die Verenigde State ingeroep. ‘n Gesamentlike kommissie moes verslag uitbring, so is toe besluit.

In Mei 1947 het die verslag gekom. Dit het verklaar dat Palestina ‘n heilige land is, dat dit gewy moet word aan die vereistes „van die broederskap van die mens, nie aan dié van enige nasionaüsme nie”. Gevolglik is dit „nog billik nog prakties dat Palestina of Arabiese staat sal word waarin ‘n Arabiese meerderheid die lotgevalle van ‘n Joodse minderheid sal bepaal, of ‘n Joodse staat waarin ‘n Joodse meerderheid dié van ‘n Arabiese minderheid sal bepaal. Die wettige nasionale aspirasies van sowel Jode as Arabiere moet versoen kan word sonder dat een van hulle die opkoms van die ander hoef te vrees”.

Dit is mooi woorde, en die redenering lyk logies. Maar mooi woorde wil nie help nie en logika nog minder. Nou is die saak na die V.V.O. verwys. Ons sal moet afwag om te sien of hierdie wêreldorganisasie ‘n knoop kan ontknoop wat die Britse regering nie kon loskry nie.

8 WAAROM IS DIE SAAK SO UITERS INGEWIKKELD EN TEGELYK SO WERELDGEVAARLIK, OOK MET DIE OPKOMS VAN SIONISME?

Wat die Jode betref, moet ons in die oog hou dat dit nie net ‘n kwessie is van deur vervolging ontworteldes vir wie êrens ‘n heenkome gesoek moet word nie. As dit so was, dan het ons net met ‘n vraagstuk van immigrasie te doen. Dan is daar genoeg lande wat ruimte kan bied. Alleen moet dan gesorg word dat die antisemitisme nie sy kop opsteek deurdat te veel Jode toegelaat word nie. Die Jode sou byvoorbeeld kon emigreer na Uganda, soos alreeds vroeër voorgestel is.

Maar nee, die doel van veral die Sionisme is iets anders en iets veel hoërs. Soos dr. Kuyper dit uitdruk: Enersyds ‘n poging om in Palestina die aloue Joodse volkstaat te herstel en andersyds om ‘n magtige hefboom op te rig ten einde die nasionale idee van saamhorigheid onder die Jode in Europa en Amerika te laat herlewe (Om de Oude Wereldzee,I, 271).

Die dryfkrag van die Sionisme sit dus baie diep. Dit is die nasionaliteitsidee. Hoe sterk hierdie idee is, blyk wel daaruit dat Brittanje node daarvoor terug moes deins in Egipte en Indië. Met Holland was dit in Nederlands-Oos-Indië net eenders. En ook Frankryk kry gedug daarmee te doen in Indo-China en Madagaskar. As empires vir dié idee moet uitwyk, hoe sterk moet dit dan wel wees?

9 AAN WIE BEHOORT DIE LAND?

Wat die Arabiere aangaan, hulle sê: Palestina is ons land; ons het dit al in die 6de eeu na Christus verower en besit dit nog steeds. In hierdie regaanspraak word hulle dan nog gesteun deur die Arabiere van Irak, Iran, Egipte, Saoedi-Arabië, Jemen ens., gesteun deur die miljoene Mohammedane in Indië, gesteun moontlik deur die nog verborge hand van Rusland.

Tussen dié twee vure het Engeland en nou ook die Verenigde State van Amerika belang. Hulle kan ook nie somaar daar tussenuit spring nie, want vir albei lê daar die ryk oliebronne (iets wat  die groot nasies nou meer as ooit nodig het), en vir Engeland lê daar die Suezkanaal, die belangrikste verbindingsaar van sy Empire. Die Arabiere roep dus: Dit is ons land! En die Jode se begroetingsformule is: Volgende jaar in Jerusalem! In dié land van ons voorvaders!

Die moeilikheid sit hierin dat die Jode ‘n volk is wat nie verbygegaan het nie. Hul land is nog daar, en hulle is ook nog daar. As die Kanaaniete nog as volk sou bestaan het, kon hulle op hul beurt gesê het: Dit is ons land! — Wie sal nou gelyk kry? Die Arabier het die land verower, maar die Israeliete het dit vóór hulle verower!

Meer as ooit gaan ons besef dat sake in die wereldhistorie tot ‘n punt gedrywe word. Want kyk, die Palestynse vraagstuk is nou internasionaal. Sal Palestina weer word die spil waarom die groot wereld gaan draai? Dié klein landjie en dié klein volkie! Sal die Verenigde Volke-Organisasie hom ook tussen dié twee vure gaan brand en self aan die brand slaan? Sal dié Organisasie die toets kan deurstaan? Of sal hy soos die Volkebond hendsop?

10 DIE TWEE MANIERE OM TE DINK OOR DIE JODE

Wat die Jode spesiaal betref, ons voel ons van tweërlei gedronge.

Enersyds bewonder ons hul idealisme: Na die land van die vadere terug! Watter warmte moet daar dan ook in hul hart oprys as hulle, die vlugtelinge, die Palestynse kus genaak. Daar is dan werklik die land van hul verlange, sy heuwels en vlaktes, sy berge en bosse, sy wolke en sy hemel!Na al die omswerwinge, eindelik rus! Na die gevare van die reis, op verouderde wrakke skepe, eindelik veiligheid! … Om dan weer opgevang en na Ciprus teruggevoer te word! Ons het gelees van ‘n Jood wat, nadat hy in Haifa geland het, op die Palestynse bodem neergeval en dit gekus het. Ons het daarby gedink aan Bilderdyk wat, toe ook hy as balling in Nederland teruggekom het, op die grond neergesink en sy opbruisende gevoel in hierdie digreëls vertolk het:

 ‘k Heb mijn kromgesloofde leden

Op zijn bodem uitgestrekt;

‘k Heb hem met mijn lijf bedekt;

‘k Heb hem met mijn arm omvadend;

‘k Heb zijn lucht weer ingeademd;

‘k Heb zijn hemel weergezien,

God geprezen op mijn knieën.

Ons het ook in Palestina Jode ontmoet wat in die kolonies net werk vir kos, klere en slaapplek. Hulle spring op van vreugde as hulle met n handswaai aandui hoe mooi alles groei en hoe mooi hulle die landgaan maak.

Aan die ander kant is dit onbegryplik wat die terroriste met hul geweldpleging op die oog het. Die mens se lewe word in gevaar gestel en die hele land in verwarring gebring. Al word die Jood se geduld swaar op die proef gestel, ons verstaan nie wat hy met sulke geweldpleging wil bereik nie.

Alreeds is daar in die wereld die antisemitisme. En dit het sy oorsaak, wat veral gesoek moet word in die uitbuiting van volke. ‘n Voorbeeld van hul geldmag. Kuyper meld dat (40 jaar gelede) in Berlyn 280 Joodse huise die hoofmag op die beurs gevorm het. In Hamburg het hulle 40, in Hanover 30 groot huise besit. Mettertyd het dan ook toe die ongeveer 600,000 Jode in Duitsland oor ‘n kapitaalmag beskik asof hulle 20-miljoen in getal was (a.w., bl. 288, 289).

Inderdaad is die wandade van die terroriste genoeg om vervreemding van die volke in die hand te werk en die Joodse saak te vertroebel. Deur die Joodse Agentskap, die liggaam wat die Joodse saak in politieke opsig in Palestina behartig, is dan ook die geweldpleging ten sterkste veroordeel.

Met betrekking tot die Joodse vraagstuk is daar groot verdeeldheid, ook onder teoloë. Ons gaan daar nie op in nie.* Alleen wil ons sê dat seker niemand, aan watter kant hy ook al mag staan, hom die loop van sake só voorgestel het nie.

Die Kerkblad, no. 1061, 23 Mei 1947.

[*Nota: Totius het wel geskryf oor die betekenis van ‘die hele Israel gered word’ (Rom. 11;26), en verskillende teoloë aangehaal en bespreek, sien hier: “Die hele Israel“, Die Kerkblad, no. 1105, 22 April 1949, wat ek hier onder plaas onder nr. 15. ‘So sal die HELE Israel gered word – Wat sê die Skrif?]

11 DIE NUWE STAAT, ISRAEL IN 1948 EN DIE STRYD WAT VOORLÊ

Die koerante is vol van die nuwe staat, Israel, ‘n Mens voel dus behoefte om in Die Kerkblad daar iets oor te skrywe. Maar wat? Op die oomblik is dit een en al verwarring en onsekerheid. Na alle waarskynlikheid het sake al ‘n ander bestendiger loop geneem as ons blad verskyn.

Ons sal dit ewenwel waag om een en ander in die midde te bring oor hierdie nuwe staat en alles wat daarmee verband hou. Soos ‘n wonderboom het hierdie nuweling uit die grond opgerys.

En nou word fluks gedebatteer wat die bestaansmoontlikhede daarvan is. Sommige publisiste is nogal hoopvol gestemd. Hulle meen dat die Jodedom in Palestina wel opgewasse is teen die vyf Arabiese state daaromheen. Met verskillende faktore word dan rekening gehou. Die Arabiere tel wel miljoene as hulle bevolkingsyfer teenoor die skaars eenmiljoen van die Jode. Maar daarteenoor staan dat die Arabiere se leërkorpse nie so goed gedissiplineer en gewapend is nie.

Hierby moet bedink word, so gaan die redenering voort, dat die Arabiese volke wat nou teen die staat Israel optree, geen soliede eenheid vorm nie. Hulle  spreek dieselfde taal, wat ‘n magtige faktor is, en hulle is almal Mohammedaans in hulle geloof, wat ‘n nog magtiger faktor is. Maar daarmee kan die skaal nie heeltemal deurslaan nie. ‘n Hele aantal onderlinge vetes maak dat in die Arabiese blok krake en barste gesien word. Abdoellah van Transjordanië, Ibn Saoed van Saoedi-Arabië en Koning Faroek van Egipte is nie sulke danige vriende nie. Daar is ‘n spel van jaloesie wat tussen hulle afgespeel word.

Vandaar die gevolgtrekking van beoordelaars dat die saak van die Jode nie so sleg staan nie.

Daar word dan ook verder ten gunste van die Jode in die midde gebring dat hulle vasgegryp is deur één ideaal en dat hulle moed gestaal word deur die feit dat nou inderdaad ‘n staat Israel uitgeroep is. Hulle droom van die eeue het werklikheid geword. Ja, hulle het nou binne bereik gekom van méér as wat hulle voorgespieël is. Nie meer net ‘n “tuiste” waarin hulle godsdienstig en kultureel kan aard nie, maar – wonder bo wonder – ‘n staat waarin hulle ou roem sal herlewe.

Nie meer die belofte van Balfour namens die Engelse regering nie maar ‘n bona fide-staat waarin weer staats- en krygsmanne sal opstaan soos Dawid en Salomo en die Makkabeërs van lank gelede!

So lyk dit dan met die vooruitsigte van die staat Israel nie te sleg nie.

Aan die ander kant word gesê dat die jong Joodse staat onmoontlik kan opweeg teen die vyf Arabiese lande wat hulle tot die stryd aangegord het. Die rekruteermoontlikhede is te gering. Hulle is ook ingesluit tussen hul vyande.  Alleen na die seekant is daar ‘n opening deurdat Jaffa en Haifa in die besit van die Jode is.

En nou het daar wel skeuring gekom van enkele magtige wêreld-state, maar watter nuttigheid het dit? Die skeuring is de facto (feitlik) maar nie de jure (regtens) nie. Die gevaar bestaan dat as die Jodedom in Palestina nie deur ‘n magtige arm van buite gesteun word nie, die staat Israel gaan doodbloei vanweë die wonde wat hom geslaan word.

Engeland, wat so begerig was om ‘n sleutelposisie in die Midde-Ooste te besit, wat hom naby die Suezkanaal en olievelde kon laer, wat trouens aan die Jode al dertig jaar gelede ‘n “tuiste” belowe het — dié Engeland het al haas met pak en sak verhuis. En van ‘n arbeiders-regering aldaar hoef geen suinigheid meer verwag te word om te help nie. Wat ‘n tragedie vir dié eens so magtige empire.

Nou is die plan in Lake Success beraam om vereers ‘n middelateur na die Midde-Ooste te stuur ten einde vrede tussen die vegtendes te bewerkstellig. Maar as ‘n boer sien dat sy veld aan die brand is en die vlamme deur die grashalme slaan, stuur hy tog nie net een man om die vuur dood te slaan nie! Graaf Bernadotte, wat welgevallig is om te gaan, besef dit blykbaar, te oordeel na wat hy self gesê het. [Die graaf is op 17 Sept. 1948 – drie maande ná hierdie artikel verskyn het – in Jerusalem om die lewe gebring.]

Kan die Veiligheidsraad van die V.V.O. dan nie help nie? Miskien wel, maar ons moet in gedagte hou dat die vredesduifie in ‘n wêreld vol wilde diere maar ‘n skigtige dingetjie is.

Nog onlangs het ‘n groot staatsman namens sy staat gesê: “Ons wil vir die toekoms enkel vrede hê.” Maar net na hom het ‘n ander spreker, ‘n voorman van dieselfde land, in dieselfde radioberig laat weet dat hulle vliegtuie nou 8 000 myl [12 800 km] kan vlieg en dus enige plek sonder onderbreking kan bombardeer. Asof oorlog en vrede so gearmd met mekaar kan aanstap!

In elk geval staan ons voor ‘n feit wat iemand aldus omskrywe het: “Die slagvelde waar Kanaäniete en Filistyne, waar die Farao’s, Babel en Assirië, waar Romeine, kruisvaarders en Sarasene, waar Napoleon, Britte en Turke slae gelewer het, sal weer die bloed van die Jood en Arabier drink.”

Maar … sal dit al wees?

Vir die Bybelleser is die berigte uit Palestina nie maar gewone oorlogsnuus nie. Die Bybelse name wat ons in die koerante lees en oor die radio hoor, spreek ons toe met ‘n besondere intimiteit en roep in ons verre herinneringe wakker. Daar is Berseba, Hebron en Betlehem op die pad waarlangs nou die Egiptenaars opruk. Daar is Gasa en Jaffa (Joppe), die ander roete van hierdie veroweraars. Daar is die wêreldvermaarde Jordaan (tans van ‘n elektriese kragstasie voorsien!) waardeur die Transjordaniërs vir hulle ‘n pad moet baan ten spyte van die “pronkbosse” wat op beide oewers welig groei, en ten spyte van die skaarste van driwwe. Daar is die dorpe en nedersettings rondom die See van Galilea, waar teen die soldate van Sirië en Libanon geveg moet word. Ons word omvleuel deur herinneringe uit Bybelse dae toe die klein Palestina groot oorloë aanskou en gewigtige beslissinge in die wêreldgeskiedenis beleef het.

Maar die meeste dink ons aan Jerusalem. In dié stad van beleëringe word nou weer hard geveg, veral in die Joodse gedeelte. Nou moet die leser daaraan herinner word dat die huise tussen die soliede, dertig voet hoog oprysende stadsmure, saamgepak lê. Die meeste strate is maar gangetjies. Hoog rys die mure (aan weerskante) van die blokkerige huise wat teen mekaar vasgestawel lê. Oop plekke of pleine ken die ou stad nie. Die groot geboue, soos die Kerk van die Heilige Graf, die Joodse Sinagoge, die kloosters en hospitiums, is toe deur die opdringende bousels wat hulle omring. [hospitium: ‘klooster wat gasvryheid aan deurtrekkende reisigers bied’, WAT]

En nou word in die benouende engtes met bomme en ander plofstowwe geveg! Puin word weer gemaak in ‘n stad wat alreeds met altwee sy voete in die puin van die eeue staan. In die Tyropoeondal, wat die ou stad deursny van noord na suid, lê die oorblyfsels van vroeëre wonings 40 tot 50 voet diep op sommige plekke. En daarop is dan weer huise gebou.

12. ONS MEDELYE AS CHRISTENE MET JERUSALEM

By die oorweging van dit alles kom in ons die woorde van die Psalmis op: „U knegte het sy klippe lief en het medelyde met sy puin” (Ps. 102:15).

Maar ook die Christenpelgrims van soveel wêreldlande sal dink aan die oomblik toe hulle, vanaf die laaste hoogte, Jerusalem vir die eerste keer gesien en dit met onuitspreeklike weedom in hulle hart begroet; het. Daar lê ook vir hulle ‘n moederstad. Die nuus uit Palestina is vir ons meer as gewone oorlogsnuus.

En die bombardement van Jerusalem jaag ‘n siddering deur ons lede heen. Ons sal afwag, maar ons vrees ook. As die skietery miskien ophou en gevolg gegee word aan die oproep uit Lake Success, is die probleem waaroor geveg word, nog nie opgelos nie.

Die Kerkblad, no. 1085, 4 Junie 1948.

13. “AS EK JOU VERGEET, JERUSALEM…”

Sedert jare al gebeur daar wonderbaarlike dinge, die een omvangryker en ingrypender as die ander. En wat is die gedrag van die mense te midde van dit alles? Hulle betitel die gebeurtenisse met die woorde „senuwee-oorlog” en „koue oorlog”, en dan gaan hulle met hul gewone lewe en gedrag voort. Die „skrik sonder einde” is vir hulle geen skrik meer nie. En die tekens van die tye is vir hulle iets wat geen besondere aandag verdien nie.

Die Skrif waarsku ons om nie geestelik in te sluimer nie, want dit gebeur so maklik by geweldige spanninge.

Een van die tekens wat ons nugtere opmerksaamheid verdien, is die feit dat nou in Palestina inderdaad ‘n Joodse staat gestig is.

Enkele maande gelede het uit Jerusalem hierdie berig gekom:

„President Chaim Weizmann van Israel (so heet dié Staat) het amptelik die Konstituante hier geopen. Hy het gepleit vir vrede met die Arabiese buurstate. Die eerste parlementsitting van dié Staat Israel is in die eeue-oue stad Jerusalem gehou, waarvan (nl. van Jerusalem) die status self nog vasgestel moet word.

„Toe die Eerste Minister, Dawid Ben-Gurion, op die finale sitting van die voorlopige vergadering gepraat het, het hy die plan van die Verenigde Volke insake internasionale beheer oor die Heilige Stad bestry. Hy het gesê: „Jerusalem is en sal deel van Israel bly“.

„Duisende mense het langs die strate saamgedrom, terwyl Arabiere op die mure van die Ou Stad van verkykers gebruik gemaak het om die kleurvolle tafereel in die Joodse gebied te aanskou.

,,’n Ontwerpgrondwet van die nuwe staat is deur dr. Leo Kohn, een van Israel se  regsdeskundiges, opgestel.

„Die grondwet bepaal dat die Staat Israel ‘n soewereine, onafhanklike, demokratiese republiek sal wees. Hebreeus sal die amptelike taal wees, daar sal geen doodstraf wees nie, en daar sal vryheid van taal, die godsdiens en die pers wees. Die wetgewende mag sal berus by ‘n Kamer van Verteenwoordigers, wat om die vier jaar gekies sal word, terwyl die uitvoerende mag in die hande van die president van die republiek en ‘n uitvoerende raad sal wees”.

Tot sover die koerantberig, wat soos die pure prosa klink; in die nuusblad wat voor ons lê, word dit met ‘n klein letter op ‘n minder opvallende plek afgedruk.

Prosa.

Maar wat sit daaragter?

Eeue lank, sedert oer-ou tye het die Jode, in ‘n nou gangetjie by die fondament van die  Klaagmuur vasgedruk, gestaan en weeklaag. Hoog bo hulle, 59 voet in die hoogte, omarm die Klaagmuur die Tempelplein, die plek waar Israelse heiligdom gestaan het en waar die heerlikheid van die Here in die binneste Tempel gewoon het. Maar wie ook al toegang tot dié plein mag hê, nie die Jood nie. Die Arabiere belet hulle dit. Hulle kan buite, in die diepte, staan!

Daar het dan ook oud en jonk, manne, vroue en kinders, hulle klaaglied uitgesug en uitgesnik: „Vanweë die Tempel wat verwoes is . . . vanweë die mure wat geskeur is . . . vanweë ons glorie wat verdwyn het, sit ons eensaam neer en ween . . . Ag, wend U genadig tot Jerusalem . . . troos hulle wat oor Jerusalem treur . . . mag vrede en vreugde in Sion vertoef!”

Dit was die klaaglied.

Daarnaas het die Jode op hoë feestyd jaarliks mekaar toegewens: „Volgende jaar in Jerusalem!”

Sal nou, na die stilte en vergeefsheid van die lange eeue, nou eindelik hierdie klagte verhoring vind en hierdie wense in vervulling gaan?

En dan juis op hierdie tydstip?

Daar was in die loop van die geskiedenis al baie vervolgelinge van die Jode en baie oorloë, ook in die ooste van Europa, waar soveel Jode woonagtig is, maar geeneen van dié het ‘n massa terugkeer na Palestina of vestiging van ‘n Joodse staat tot gevolg gehad nie.

Ons wat hierdie dinge sien, moet daarop ag gee.

Ons kom op enkele punte in die nuusberig terug. Gemeld word nie of die eerste parlementsitting van die Joodse Staat in of buite die ou stad Jerusalem plaasgevind het nie. Soos bekend is daar ook ‘n nuwe Jerusalem, wat buitekant die ringmuur van die ou stad nuut opgebou is, met geboue in moderne styl en teerstrate wat vir die van ons nie onderdoen nie.

Ons onderstel dat dié gebeurtenis binne-in die ou stad plaagevind het, aangesien daar sprake is van „die Joodse gebied”.

Jerusalem is naamlik tussen sy mure nog verdeel in ‘n Joodse, ‘n Arabiese en Christelike gedeelte, m.a.w. die drie volke wat elkeen ‘n godsdiens besit wat oor die wereld bekend is, woon nie deurmekaar nie maar het elkeen sy afsonderlike deel in die met huise volgepakte stad. Natuurlik sal ‘n eerste parlementsitting in die ou stad van groot historiese betekenis wees.

‘n Tweede punt van belang is dat die Arabiere, wat nog onlangs in bloedige stryd met die Jode gewikkel was, op die dag van die Parlementsitting met verkykers vanaf die breë stadmure die skouspel bekyk het.

‘n Derde opmerking geld die berig dat die Hebreeuse taal die offisiële taal van die nuwe staat sal wees. Miskien dink ‘n enkele leser dat dit vanself spreek en in ‘n kabelberig nie genoteer hoef te word nie. Maar so is dit nie. Dat Hebreeus vandag weer in Palestina as lewende taal gespreek word, is ook een van die wonderbaarlike dinge wat nou onder ons oë gebeur. Feit is dat die Hebreeus tot ‘n halwe eeu gelede feitlik ‘n dooie taal was, wat alleen in die sinagoge gebruik is. ‘n Omgangstaal was dit nie meer nie. Die Jode het mees Jiddisj gepraat, wat ‘n mengsel is van verskillende tale.

Dat Hebreeus weer uit sy graf opgestaan het en dat nou die kindertjies selfs in Palestina die taal vlot praat (inderdaad ken hulle geen ander nie), is ook ‘n opmerklike feit wat baie gewigtig is in verband met die herstel van Israel. Geen volk sonder ‘n eie taal nie. Dat die doodstraf afgeskaf word, is ‘n bewys dat die samesteller van die grondwet nie die Ou Testament op die voet gevolg het nie.

Die indrukwekkendste verskynsel is egter die feit dat ‘n Joodse staat tot stand gekom het.

Engeland het as mandaathouer in hierdie saak met die Jode „wegkruipertjie” gespeel. Vanweë die hulp wat die Jode in die Eerste Wereldoorlog aan die Geallieerdes verleen het, is belowe dat die Jode in Palestina ‘n „tuiste” sou verkry. Dit was ‘n onbestemde term. Deur strenge beperking van die immigrasie sou die Jode seker nie vinnig vooruitgekom het nie. Brittanje moes deur dié beperking die Arabiere te vriend hou, want hy het baie belange in die Midde-Ooste gehad. Eindelik moes Brittanje die Palestynse grondgebied verlaat.

Aanhoudende immigrasie het gemaak dat die Jode hulle sterk genoeg gevoel het om tot die stigting van ‘n staat oor te gaan. Die eintlike Sioniste het teëgehou, soos dit dikwels gaan, die ekstremiste het deurgedruk.

Inderdaad was die bedoeling van die Jode van huis uit ‘n Joodse staat. Die brosjure wat die vader van die Sionisme in 1896 geskrywe het, heet dan ook „Der Judenstaat“. Lloyd George het ook in 1938 geskrywe dat die mikpunt uiteindelik ‘n „Joodse dominium” sou wees as die Jode eenmaal ‘n meerderheid in die land sou vorm. Dit was ook die gevoele van president Wilson van die V.S.A. En hulle het geweet wat die belofte van ‘n „tuiste” beteken het. En nou is daar nie net ‘n tuiste nie maar ‘n staat.

Te oordeel na wat van bevoegde kant gesê word, lyk dit of dié Staat hom sal kan handhaaf. Militêr het die Jode al hulle oorwig bewys. Tewens het hulle in die smeltkroes taamlik wel één geword, terwyl die Arabiere, nou dat dit tot positiewe optrede moet kom, al meer verdeeld raak.

By die eerste parlementsitting is aangekondig dat die Staat Israel al deur die regeringe van sowat 42 lande (de facto) erken is. Met alles wat tot hiertoe gesê is, wil ons nie beweer dat die Joodse vraagstuk opgelos is nie. Wat voor ons oë geskied, bly raaiselagtig. Jerusalem bly ,,’n baie swaar klip vir al die volke” (Sag. 12:3).

Die moeilikheid het ‘n Joodse Rabbyn uit die ou dae van die Spaanse Inkwisisie aldus onder woorde gebring: „Op ons Jode rus daar sowel ‘n seën as ‘n vloek. Vandag probeer julle (d.i. die Christene) om ons uit te roei, maar ten spyte van al julle inspanning sal julle geen sukses hê nie; want op ons rus ‘n seën. „Nogtans sal die dag kom wanneer julle sal probeer om ons te help en op te hef, maar dan sal julle ook geen sukses hê nie; want op ons rus ‘n vloek”.

Hierdie laaste woorde aangaande die vloek laat by ons die vraag opkom of die vloek dan nie verwyder sal word nie?

En daaruit kom weer ‘n ander vraag voort: Wat sê die Skrif?

Al kan ons nie veel beloof nie, tog hoop ons om by ‘n latere geleentheid hierdie vraagpunt nader te oorweeg.**

Die Kerkblad, no. 1104, 8 April 1949.

[**Nota: dit is in hierdie volgene artikel van Totius, waarin hy hierdie vraag beantwoord, as hy skryf oor die betekenis van ‘so sal die hele Israel gered word’ (Rom. 11:26), waarin hy ook verskillende teoloë aangehaal en bespreek:]

14. DIE TOEKOMS VAN ISRAEL: “So sal die HELE Israel gered word” (Rom. 11:26) … WAT SÊ DIE SKRIF?

Inleidend

Oor die vraag: „Wat sê die Skrif oor die toekoms van die Jode?” sal ons nou volgens belofte een en ander in die midde bring. ‘n Oplossing van die vraagstuk kan ons nie belowe nie. Daar is, ook onder Gereformeerde Skrifverklaarders, geen eenstemmigheid ten opsigte van die betrokke gedeeltes nie.

Maar mag ons dan tot die besluit kom om die hele kwessie agterweë te laat, aangesien daar soveel verskil van gevoele bestaan?

Nee. Ons dink hier aan die woord van Jesus: „Van nou af sê Ek dit aan julle voordat dit gebeur, sodat wanneer dit gebeur, julle kan glo dat Ek dit is” (Joh. 13:19).

Die woorde van Jesus moet bewaar word, al sien ons nie terstond die hele vervulling daarvan nie. Die waarskuwing geld die veragting van die profesieë. Dan, naamlik, sal dit wees dat die dinge gebeur sonder dat ons die betekenis daarvan weet. Dan is ons geestelik aan die slaap. Die studie van die profesie moet van geslag tot geslag voortgaan. Dit moet as ‘n geestelike erfenis aan ons kinders nagelaat word. As ons dit nie sien nie— hulle sal dit sien „wanneer” dit gebeur. Die gelowige mag, insonderheid in hierdie dae, nie insluimer nie. Vergelyk die gelykenis van die tien maagde.

Dat hierdie vraagpunt van die Jode se toekoms baie belangrik is, blyk ook wel uit die feit dat prof. William Hendriksen, professor aan die Calvin-Seminarie te Grand Rapids, V.S.A., onlangs ‘n brosjure ter perse gelê het wat handel oor die woorde van Rom. 11:26: „En so sal die hele Israel gered word”.

Die brosjure, in Engels (Amerikaans) geskrywe, begin al dadelik met hierdie woorde: „Daar was lankal verskil in ortodokse kringe aangaande die beloftes wat aan Israel gegee is. Gelowiges wat van dieselfde fontein drink, dieselfde God aanbid, verlos is deur dieselfde Saligmaker, gelei word deur dieselfde Gees en „in alle droefheid met ‘n opgehewe hoof onse Here Jesus Christus uit die hemel verwag”, is nogtans ten opsigte van hierdie saak verdeeld”.

Hierdie verdeeldheid geld ook ten opsigte van die manne van streng-Gereformeerde belydenis. Hulle alleen word hier verderop vermeld, en wel soos hulle in drie dele uiteengaan. Ons volg die indeling soos deur prof. Hendriksen gegee. Die sitate ontleen ons aan die skrywers in die taal waarin hulle skrywe, nl. Hollands. Alleen die sitaat uit Calvyn is vertaal. Nog ‘n voorlopige opmerking: Die manne wat nou aangehaal word, onderskryf geeneen die belydenis van ‘n Chiliasme nie, d.w.s. hulle neem nie aan dat ons wêreldperiode met duisend jare van vrede op aarde sal eindig nie. Inteendeel, hulle verwerp hierdie beskouing, wat dan ook in ons Konfessie nie aanvaar is nie.

1) Calvyn

Die eerste gevoele wat hier nader bespreek moet word, is dié van Calvyn. En die teks wat meer bepaald ter sprake sal kom, is Rom. 11:26, in verband met die voorgaandes. Rom. 11:26a lui: „En so sal die hele Israel gered word”.

Calvyn meen dat „die hele Israel” beteken die ganse volk van God, die volle getal van die uitverkorenes uit Jode en heidene.

Hy sê: „Baie verstaan dit van die Joodse volk … , maar ek brei die woord Israel uit tot die hele volk van God, volgens hierdie bedoeling: Wanneer die heidene sal inkom, sal die Jode ook terugkom van hulle afdwaling na die gehoorsaamheid van die geloof; en so sal volkome word die redding van die hele Israel van God, wat vanuit altwee vergader moet word …”

Calvyn beroep hom verder op Gal. 6:16 waar staan: „En mag daar vrede wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!” Hy verklaar: „Die Israel van God is wat hy (Paulus) die kerk noem, saamvergaderd sowel uit Jode as heidene, en hy stel hierdie volk ….teenoor die vleeslike kinders van Abraham wat van sy geloof weggedwaal het”.

Eenselfde verklaring word gegee in die Kommentaar op die Romeine deur wyle prof. dr. J. A. C. van Leeuwen en dr. D. Jacobs, manne van Gereformeerde belydenls in die Hervormde Kerk van Nederland. Ons kan net hierdie sin aanhaal: „Zoo betekent hier „gansch Israël het geheele geestelijk Israël, alle erfgenamen der belofte, door Paulus Gal. 6:16 het „Israël Gods” genoemd” (bl. 227).

Ons stem saam met wyle prof. Greydanus dat die beroep op Gal. 6:16 hier nie beslissend is nie. Hy sê: „In hierdie verband pas hierdie opvatting tog nie, omdat dit hier (in Rom. 11) juis gaan oor Israel enersyds en die heidene andersyds, en vlak vooraf Israel duidelik op die Jode doel en ook die volgende verse blykbaar van hulle spreek” (Komm. Romeine, bl. 515). (Ons gee die aanhaling in Afrikaans, omdat dit hier nog al ‘n moeilike vraagstuk geld.)

Hier is dan die eerste opvatting, nl. dat „die hele Israel” slaan op die kerk soos dié in die loop van tyd vergader word uit Jode en heidene saam.

2) Bavinck

Die tweede verklaring van Rom. 11:26 is dié van wyle prof. dr. H. Bavinck, wat in sy Dogmatiek aldus skrywe:

„Die hele Israel in Rom. 11:26 is dus nie die volk van Israel wat aan die einde van die dae in massa bekeer sal word nie, dit is ook nie die gemeente uit Jode en heidene saam nie, maar dit is die pleroma (volheid) wat in die loop van die eeue uit Israel (kursivering van ons) toegebring word. Israel bly as volk, so voorspel Paulus, naas die heidene bestaan; dit bly tot die einde van die eeue, dit lewer sy volheid vir die Godsryk ewe goed as die heidene en behou vir die Godsryk sy besondere taak en plek” (Dogmatiek IV, 4, bl. 651).

Verder lees ons by Bavinck:

„Die ingaan van die volheid van die heidene kan nie gedink word as tydelik voorafgaande aan die saliging van die hele Israel nie. Rom. 11:26 noem geen nuwe feit wat na die ingaan van die volheid van die heidene plaasvind nie” (t.a.p., bl. 652).

„Ten slotte”, sê Bavinck, „al sou Paulus aan die einde ook ‘n volksbekering van Israel verwag, hy maak tog met geen woord melding van ‘n terugkeer van die Jode na Palestina, van ‘n herbou van stad en tempel, van ‘n sigbare Christusregering nie; in sy toekomsbeeld is vir dit alles geen plek nie” (t.a.p., bl. 652).

Interessant is ook hierdie noot waarin Bavinck nog dit sê:

„Origens moet ons die getal Jode wat in die loop van die tye en ook in hierdie eeu tot die Christendom bekeer word, nie te gering dink nie. Persentgewys is dit groter as dié van die heidene. Pastor Le Roy het die getal Jode wat in die 19de eeu Christen geword het, op ruim 220,000 bereken …. Dit is bes moontlik dat die getal van die uitverkorenes uit Israel in die laaste tyd veel groter sal wees as wat dit in Paulus se dae of later of in ons dae was; daar is geen enkele rede om dit te ontken nie” (bl. 651).

Op hierdie getallekwessie kom ons later terug.

Resultaat tot sover: Calvyn reken dat Jode en heidene saam uit die volke toegebring word en dat hulle saam „die volheid” vorm van diegene wat gered word. Iets besonders sien hy in die toebrenging van Israel nie.

Bavinck verskil van hierdie beskouing in sover hy meen dat „die hele Israel” van Rom. 11:26 nie aandui die volk van Israel wat in die laaste tyd in massa bekeer sal word nie, of dat dit verwys na die kerk uit die Jode en heidene saam nie (soos Calvyn doen); maar dit is die volheid wat in die loop van tyd uitsluitlik uit Israel vergader word.

3) Greydanus

Daar is egter n derde opvatting wat ook sy woordvoerders onder Gereformeerdes het. Prof. Greydanus omskrywe dit aldus:

„Die hele Israel” kan in hierdie verband moeilik iets anders beteken as Israel as geheel, teenoor ‘n klein deel tevore en teenoor diegene oor wie die „verharding vir ‘n deel” gekom het. Waar vroeër betreklik min Jode gelowig geword het en waar die meeste onder die oordeel van verharding gelê het, dit word anders nadat die volheid van die heidene ingegaan het. Dan kom Israel as geheel, die Joodse volk in sy geheelheid, tot bekering en tot gelowige aanneming van die evangelie van God en die Here Christus. Dit wil egter nie sê dat dan alle Jode gelowig word sonder een enkele uitsondering nie …. Dit gaan hier nie oor die aantal as sodanig nie maar oor die volksgeheel” (Komm. Romeine, bl. 515, 526).

Dieselfde gevoele word voortgestaan deur ds. G. Doekes in ‘n lywige werk, getiteld De beteekenis van Israels val, ‘n kommentaar op Rom. 9:11. Hy skrywe:

„In die vorige tien gevalle sien „Israel” onbetwisbaar op die Jode in teenstelling met die heidene. Watter besondere rede dring dan hier (vs. 26) tot ‘n ander opvatting? Stellig nie die teksverband nie, want die onderskeiding van Jode en heidene hou in vs. 25 nie op nie maar gaan ook in die volgende verse nog deur …. Daar is alles voor en niks teë nie om „die hele Israel” te verstaan van die Joodse volk” (bl. 298).

Uit die ou tyd wil ons nog noem die bekende Voetius. Van hom sê ds. H. Hoekstra in sy brosjure oor Het Chiliasme dit:

„Hy oordeel dat die Jode verwerp is en nie meer die besondere volk van God geag kan word nie. Die verwerping is finaal en onherroeplik, tot hulle tot Christus bekeer word. So ‘n bekering verwag Voetius egter op grond van Rom. 11:25-29. Hy oordeel dat in hierdie plek nie bedoel word die geestelike Israel uit die heidene en Jode nie maar dat hier in uitsig gestel word ‘n massale bekering van die Jode. Die nasie, globaal (as geheel geneem) sal toegebring word op dieselfde manier as wat die „volheid” van die heidene bedoel word, waartoe ook nie almal hoof vir hoof behoort nie” (bl. 46).

Terwyl ons nou met die getallekwessie besig is, herinner ons aan die feit dat ook die kanttekening van die Statebybel blykbaar nie die verklaring van Calvyn gevolg het nie. By die woorde „geheel Israel” van Rom. 11:26 word aangeteken: „Nie net ‘n paar nie maar ‘n baie groot menigte asof gelykstaande met die ganse Joodse nasie”.

In verband met hierdie derde gevoele kan ons ook nog noem die naam van die hooggeagte ds. J. van Andel, in lewe predikant van Gorinchem in Nederland.

[slc nota: Die derde standpunt is ook die standpunt wat prof. JC Coetzee, NT professor van die GKSA gehuldig het, in sy D. studie, Volk en Godsvolk in die Nuwe Testament, voorstaan:

“Dit staan dus vas dat met ‘hele Israel’ hier sprake is van die werklike histories-etniese volk Israel, die volk uit Abraham gebore. Maar die volk Israel in watter vorm? …. Reeds in 11:1-2 word die ‘uitverkiesing’ geteken as die waarborg vir die behoud van die volk en dan ook net die waarborg — die ‘uitverkorenes’ is nog net Israel in nuce en nog nie Israel as geheel nie. Hierdie kern van Israel in die hede is waarborg dat dit sal kom tot redding van die volk, van Israel as geheel. Volgens 11:7-16 is daar in die hede ‘n “tekort” ‘n “val”, ‘n “verwerping” van Israel as geheel, maar dit sal kom tot ‘n volheid, tot ‘n aanneming. So ook 11:17, 23-24: daar is nou ‘n boom met vele afgekapte takke, maar daar sal nog weer ‘n inenting van takke plaasvind.

Die ‘uitverkorenes’ is vir Paulus ‘n tydelike verskynsel en nie die einde van die heilsgeskiedenis vir Israel nie. Dit moet nog kom tot die verlossing van die hele volk. Die strekking van 11:25, 26 is dus duidelik: vanuit die gedeeltelike verharding, of van die ander kant besien: vanuit die kleine ‘uitverkorenes’ sal dit via (temporeel of modaal) die toetrede van die heidennasies kom tot redding van die ‘hele Israel’.. … Die ‘uitverkorenes’ van Israel is die gelowige kern wat daar in die hede (±57 n.C) reeds is, ‘hele Israel’ is die gelowige ‘uitverkorenes’ van die hede plus almal wat reeds vroeër geglo het en nog gelowig sal word — en Paulus verwag dat so ‘n gelowigwording kragtig teweeggebring sal word via die binnekoms van die heidennasies; — ‘hele Israel’ is dus alleen gelowige Israeliete, die gelowige volk Israel.” Sien ook hier meer daaroor.]

Verder is dit nie nodig om op die onderwerp in te gaan nie. Die leser het seker wel gemerk hoe verskillend oor hierdie onderwerp gedink is, en dit deur manne wat gesamentlik bestryders van die Chiliastiese gedagte is.

Hierdie feit ontslaan ons egter nie van ons verpligting ten opsigte van die profetiese woord nie. Des te naarstiger moet ons daarop let, te meer as ons oorweeg dat die Bybel nie ‘n boek van waarsêery is nie. Die verborgenhede van die toekoms moet gelowig en biddend aangevoel en tegemoetgetree word.

Die Kerkblad, no. 1105, 22 April 1949.

_______________________________

Die ‘Jode’ in die die Gereformeerde Psalmboek:

“… Die leer van die heilige Drie-eenheid is in die ware kerk van die tyd van die apostels
af tot nou toe altyd onderhou en gehandhaaf teenoor die Jode, Mohammedane en
sommige valse christene en ketters soos Marcion, Mani, Praxeas, Sabellius,
Samosatenus, Arius en derglike, wat tereg deur die regsinnige vaders veroordeel is.
Daarom aanvaar ons in hierdie opsig graag die drie belydenisse, naamlik dié van die
Apostels, Nicéa en Atanasius en ook wat die ou vaders in ooreenstemming hiermee
besluit het.” – Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 9: Skrifgetuienis oor die leer van die Drie-Eenheid

“Teenoor die kettery van die Wederdopers, wat ontken dat Christus die menslike vlees uit sy moeder aangeneem het, bely ons daarom dat Christus die vlees en bloed van die kinders deelagtig geword het (Heb. 2:14), dat Hy wat die vlees betref, ’n nakomeling van Dawid is, as mens gebore is uit die geslag van Dawid (Hand. 2:30 en Rom. 1:3), ’n vrug van die moederskoot van Maria (Luk. 1:42), gebore uit ’n vrou (Gal. 4:4), ’n spruit van Dawid (Jer. 33:15), ’n loot uit die wortels van Isai (Jes. 11:1), van die geslag van Juda afstam (Heb. 7:14), uit die Jode as mens gebore (Rom. 9:5), uit die geslag van Abraham, aangesien Hy die geslag van Abraham aangeneem het en in alle opsigte – maar sonder sonde – aan sy broers gelyk geword het (Heb. 2:17 en Heb. 4:15). Ons bely inderdaad dat Hy waarlik ons Emmanuel is, dit wil sê: God met ons (Matt. 1:23).” – Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 17 – Die Verlosser deur God beloof

Ons glo daarenteen dat ons hulle behoort te doop en met die teken van die verbond
te beseël, net soos die kindertjies in Israel kragtens dieselfde beloftes besny is as
wat aan ons kinders gemaak is. En, waarlik, Christus het sy bloed nie minder vir die reiniging van die gelowiges se kindertjies as vir die volwassenes vergiet nie. Daarom behoort hulle die teken en die sakrament te ontvang van wat Christus vir hulle gedoen het, soos die Here in die wet beveel het om hulle kort na die geboorte deel te laat hê aan die sakrament van die lyding en sterwe van Christus deur vir hulle ‘n lam te offer, wat ‘n sakramentele heenwysing na Jesus was. Buitendien doen die doop aan ons kindertjies dieselfde as wat die besnydenis aan die Joodse volk gedoen het; dit is die rede waarom die heilige Paulus die doop die besnydenis deur Christus noem (Kol. 2:11: in wie julle ook besny is met ‘n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus). – Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 34 – Die Heilige Doop

“Die Sinode leer: Dit ontken Moses as hy die Israelitiese volk soos volg toespreek: Kyk, aan die HERE jou God behoort die hemel, ook die hoogste hemel, die aarde en alles wat daarin is. Maar net aan jou vaders het die HERE ‘n welgevalle gehad om hulle lief te hê, en Hy het julle, hulle nageslag ná hulle, uit al die volke uitverkies, soos dit vandag is (Deut. 10:14-15). En Christus het gesê: Wee jou, Gorasin, wee jou, Betsaida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hul lankal in sak en as bekeer het (Matt. 11:21). – Dordtse Leerreëls hfst. 1, verwerping 7.

“Net soos met die lig van die natuur, so is dit ook gesteld met die Tien Gebooie wat God deur Moses in besonder aan die Jode gegee het. Die wet vlek wel die grootheid van die sonde oop en oortuig die mens hoe langer hoe meer van sy skuld, maar dit dui geen geneesmiddel aan en deel geen kragte mee om uit hierdie ellende te kom nie. Die wet het dus, omdat dit deur die
sondige natuur kragteloos gemaak is, die oortreder onder die vloek laat bly. Daarom kan die mens nie deur die wet die saligmakende genade verkry nie” – Dordtse Leerreëls hfst. 3/4 art. 5 

Die Sinode leer: Behalwe die ervaring van alle tye getuig die Skrif immers ook dat dit vals is, want Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en verordeninge. So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, dié ken hulle nie (Ps. 147:19-20), en God het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hull eie weë sou wandel (Hand. 14:16), en: Hulle (naamlik Paulus en sy reisgenote) is deur die Heilige Gees verhinder om die woord in Asië te verkondig; en toe hulle by die grens by Misië kom, het hulle probeer om na Bithinië toe te gaan, maar die Gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie (Hand. 16:6-7). – Dordtse Leerreëls hfst. 3/4, verwerping 5.

Gebed: O almagtige, ewige God, U het volgens u streng oordeel die ongelowige en onboetvaardige wêreld met die sondvloed gestraf en die gelowige Noag met sy gesin – agt mense – deur u groot barmhartigheid gered en bewaar. U het die verharde Farao met al sy manne in die Rooisee verdrink en u volk Israel op droë grond daardeur gelei – waardeur die doop
afgebeeld is…” – Formulier vir die bediening van die heilige doop aan kinders

“En u, geliefde gemeente, dank God dat Hy u waardig ag om hierdie dienaar te ontvang en
uit te stuur. U wat eertyds ook ver was maar nou deur die bloed van Christus naby
gekom het mag nou wat u ontvang het, aan ander gee wat nog ver is. Gee as kinders van
die Koning van konings ruin en mild vir hierdie werk van die Here. Vergesel hierdie
dienskneg van God bo alles met u gebede, sodat ‘n woord hom gegee kan word as hy sy
mond oopmaak, om met vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend te
maak. Laat vanuit u hart en van u lippe die bede: Laat U koninkryk kom! nooit wyk nie,
sodat die dag nader mag kom waarop die volheid van die heidene sal ingaan en die hele
Israel sal salig word. Maranata! – die Here kom!” – Formulier vir die bevestiging van sendelinge

“Ons bid U vir die arbeid van die sending onder Jode, Mohammedane en heidene, en vir
alle evangeliearbeid onder hulle wat nog die naam van Christen dra, maar van u waarheid
ver afgewyk het. Gedenk aan die Christelike onderwys met almal wat daarin arbei en
daarvoor sorg. Wil ook seën alle vereniginge van oueres en jongeres, wat volgens die
reël van u Woord bedoel die heiliging van u Naam, die koms van u ryk en die
volbrenging van u wil. Wees met alle stigtinge van barmhartigheid en skenk aan hulle
wat daarin arbei, in ryke mate die gawe van die liefde.” – Gebed vir al die behoeftes van die gelowiges, om gebruik te word op die rusdag na die eerste preek

Belydeniskrifte hier beskikbaar.

_______________________________

PDF aflaai weergawe van hierdie artikel: Totius oor die Joodse vraagstuk in die lig van Gen. 9:27

Sien ook die “The Willowbank Declaration on the Christian Gospel and the Jewish People: World Evangelical Fellowship“, beskikbaar ook hier in Gary North se boek, ‘The Judeo-Christian Tradition‘ (ICE, 1980: 180-188)

Hitler en die stryd om idees

Nog artikels van en oor Totius hier.

Einddinge artikels hier.

4 thoughts on “TOTIUS OOR DIE JOODSE VRAAGSTUK IN DIE LIG VAN GENESIS 9:27

Add yours

  1. Baie dankie. Sedert die Gaza debakel broei die vrae oor die bestemming van Israel/Jode in my kop. Die Totius artikels verskaf waardevolle insigte, ook vanuit die Skrif, oor die vrae. Groete Nic Grobler

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑