EINDDINGE
‘N PAAR AFRIKAANSE TEOLOë
OOR DIE TOEKOMS VAN ISRAEL
Nota: in aansluiting by die vorige artikel oor die toekoms van Israel, gee ek Totius, WD Jonker, WJ Snyman, PA Verhoef, Hanan Viljoen en Johannes de Koning se sienings hier vir verdere bestudering oor die onderwerp. Totuis se opmerking in sy artikel is belangrik om te onthou as ons oor hierdie onderwerp besin, sodat ons sal besef die besinning oor die ‘toekoms van Israel’ is nie ‘n saak wat begin het aan die einde van die 19de eeu met die opkoms van die Dispensasie Chiliasme teologie nie:
“Die manne wat nou aangehaal word, onderskryf geeneen die belydenis van ‘n Chiliasme nie, d.w.s. hulle neem nie aan dat ons wêreldperiode met duisend jare van vrede op aarde sal eindig nie. Inteendeel, hulle verwerp hierdie beskouing, wat dan ook in ons Konfessie nie aanvaar is nie.”
“DIE HELE ISRAEL”
deur Totius
(Die Kerkblad, no. 1105, 22 April 1949)
Inleidend
Oor die vraag: „Wat sê die Skrif oor die toekoms van die Jode?” sal ons nou volgens belofte een en ander in die midde bring. ‘n Oplossing van die vraagstuk kan ons nie belowe nie. Daar is, ook onder Gereformeerde Skrifverklaarders, geen eenstemmigheid ten opsigte van die betrokke gedeeltes nie.
Maar mag ons dan tot die besluit kom om die hele kwessie agterweë te laat, aangesien daar soveel verskil van gevoele bestaan?
Nee. Ons dink hier aan die woord van Jesus: „Van nou af sê Ek dit aan julle voordat dit gebeur, sodat wanneer dit gebeur, julle kan glo dat Ek dit is” (Joh. 13:19). Die woorde van Jesus moet bewaar word, al sien ons nie terstond die hele vervulling daarvan nie. Die waarskuwing geld die veragting van die profesieë. Dan, naamlik, sal dit wees dat die dinge gebeur sonder dat ons die betekenis daarvan weet. Dan is ons geestelik aan die slaap. Die studie van die profesie moet van geslag tot geslag voortgaan. Dit moet as ‘n geestelike erfenis aan ons kinders nagelaat word. As ons dit nie sien nie— hulle sal dit sien „wanneer” dit gebeur. Die gelowige mag, insonderheid in hierdie dae, nie insluimer nie. Vergelyk die gelykenis van die tien maagde.
Dat hierdie vraagpunt van die Jode se toekoms baie belangrik is, blyk ook wel uit die feit dat prof. William Hendriksen, professor aan die Calvin-Seminarie te Grand Rapids, V.S.A., onlangs ‘n brosjure ter perse gelê het wat handel oor die woorde van Rom. 11:26: „En so sal die hele Israel gered word”.
Die brosjure, in Engels (Amerikaans) geskrywe, begin al dadelik met hierdie woorde: „Daar was lankal verskil in ortodokse kringe aangaande die beloftes wat aan Israel gegee is. Gelowiges wat van dieselfde fontein drink, dieselfde God aanbid, verlos is deur dieselfde Saligmaker, gelei word deur dieselfde Gees en „in alle droefheid met ‘n opgehewe hoof onse Here Jesus Christus uit die hemel verwag”, is nogtans ten opsigte van hierdie saak verdeeld”.
Hierdie verdeeldheid geld ook ten opsigte van die manne van streng-Gereformeerde belydenis. Hulle alleen word hier verderop vermeld, en wel soos hulle in drie dele uiteengaan. Ons volg die indeling soos deur prof. Hendriksen gegee. Die sitate ontleen ons aan die skrywers in die taal waarin hulle skrywe, nl. Hollands. Alleen die sitaat uit Calvyn is vertaal. Nog ‘n voorlopige opmerking: Die manne wat nou aangehaal word, onderskryf geeneen die belydenis van ‘n Chiliasme nie, d.w.s. hulle neem nie aan dat ons wêreldperiode met duisend jare van vrede op aarde sal eindig nie. Inteendeel, hulle verwerp hierdie beskouing, wat dan ook in ons Konfessie nie aanvaar is nie.
1) Calvyn
Die eerste gevoele wat hier nader bespreek moet word, is dié van Calvyn. En die teks wat meer bepaald ter sprake sal kom, is Rom. 11:26, in verband met die voorgaandes. Rom. 11:26a lui: „En so sal die hele Israel gered word”.
Calvyn meen dat „die hele Israel” beteken die ganse volk van God, die volle getal van die uitverkorenes uit Jode en heidene.
Hy sê: „Baie verstaan dit van die Joodse volk … , maar ek brei die woord Israel uit tot die hele volk van God, volgens hierdie bedoeling: Wanneer die heidene sal inkom, sal die Jode ook terugkom van hulle afdwaling na die gehoorsaamheid van die geloof; en so sal volkome word die redding van die hele Israel van God, wat vanuit altwee vergader moet word …”
Calvyn beroep hom verder op Gal. 6:16 waar staan: „En mag daar vrede wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!” Hy verklaar: „Die Israel van God is wat hy (Paulus) die kerk noem, saamvergaderd sowel uit Jode as heidene, en hy stel hierdie volk ….teenoor die vleeslike kinders van Abraham wat van sy geloof weggedwaal het”.
Eenselfde verklaring word gegee in die Kommentaar op die Romeine deur wyle prof. dr. J. A. C. van Leeuwen en dr. D. Jacobs, manne van Gereformeerde belydenls in die Hervormde Kerk van Nederland. Ons kan net hierdie sin aanhaal: „Zoo betekent hier „gansch Israël het geheele geestelijk Israël, alle erfgenamen der belofte, door Paulus Gal. 6:16 het „Israël Gods” genoemd” (bl. 227).
Ons stem saam met wyle prof. Greydanus dat die beroep op Gal. 6:16 hier nie beslissend is nie. Hy sê: „In hierdie verband pas hierdie opvatting tog nie, omdat dit hier (in Rom. 11) juis gaan oor Israel enersyds en die heidene andersyds, en vlak vooraf Israel duidelik op die Jode doel en ook die volgende verse blykbaar van hulle spreek” (Komm. Romeine, bl. 515). (Ons gee die aanhaling in Afrikaans, omdat dit hier nog al ‘n moeilike vraagstuk geld.)
Hier is dan die eerste opvatting, nl. dat „die hele Israel” slaan op die kerk soos dié in die loop van tyd vergader word uit Jode en heidene saam.
2) Bavinck
Die tweede verklaring van Rom. 11:26 is dié van wyle prof. dr. H. Bavinck, wat in sy Dogmatiek aldus skrywe:
„Die hele Israel in Rom. 11:26 is dus nie die volk van Israel wat aan die einde van die dae in massa bekeer sal word nie, dit is ook nie die gemeente uit Jode en heidene saam nie, maar dit is die pleroma (volheid) wat in die loop van die eeue uit Israel (kursivering van ons) toegebring word. Israel bly as volk, so voorspel Paulus, naas die heidene bestaan; dit bly tot die einde van die eeue, dit lewer sy volheid vir die Godsryk ewe goed as die heidene en behou vir die Godsryk sy besondere taak en plek” (Dogmatiek IV, 4, bl. 651).
Verder lees ons by Bavinck: „Die ingaan van die volheid van die heidene kan nie gedink word as tydelik voorafgaande aan die saliging van die hele Israel nie. Rom. 11:26 noem geen nuwe feit wat na die ingaan van die volheid van die heidene plaasvind nie” (t.a.p., bl. 652).
„Ten slotte”, sê Bavinck, „al sou Paulus aan die einde ook ‘n volksbekering van Israel verwag, hy maak tog met geen woord melding van ‘n terugkeer van die Jode na Palestina, van ‘n herbou van stad en tempel, van ‘n sigbare Christusregering nie; in sy toekomsbeeld is vir dit alles geen plek nie” (t.a.p., bl. 652).
Interessant is ook hierdie noot waarin Bavinck nog dit sê: „Origens moet ons die getal Jode wat in die loop van die tye en ook in hierdie eeu tot die Christendom bekeer word, nie te gering dink nie. Persentgewys is dit groter as dié van die heidene. Pastor Le Roy het die getal Jode wat in die 19de eeu Christen geword het, op ruim 220,000 bereken …. Dit is bes moontlik dat die getal van die uitverkorenes uit Israel in die laaste tyd veel groter sal wees as wat dit in Paulus se dae of later of in ons dae was; daar is geen enkele rede om dit te ontken nie” (bl. 651).
Op hierdie getallekwessie kom ons later terug.
Resultaat tot sover: Calvyn reken dat Jode en heidene saam uit die volke toegebring word en dat hulle saam „die volheid” vorm van diegene wat gered word. Iets besonders sien hy in die toebrenging van Israel nie.
Bavinck verskil van hierdie beskouing in sover hy meen dat „die hele Israel” van Rom. 11:26 nie aandui die volk van Israel wat in die laaste tyd in massa bekeer sal word nie, of dat dit verwys na die kerk uit die Jode en heidene saam nie (soos Calvyn doen) ; maar dit is die volheid wat in die loop van tyd uitsluitlik uit Israel vergader word.
3) Greydanus
Daar is egter n derde opvatting wat ook sy woordvoerders onder Gereformeerdes het. Prof. Greydanus omskrywe dit aldus:
„Die hele Israel” kan in hierdie verband moeilik iets anders beteken as Israel as geheel, teenoor ‘n klein deel tevore en teenoor diegene oor wie die „verharding vir ‘n deel” gekom het. Waar vroeër betreklik min Jode gelowig geword het en waar die meeste onder die oordeel van verharding gele het, dit word anders nadat die volheid van die heidene ingegaan het. Dan kom Israel as geheel, die Joodse volk in sy geheelheid, tot bekering en tot gelowige aanneming van die evangelie van God en die Here Christus.
Dit wil egter nie sê dat dan alle Jode gelowig word sonder een enkele uitsondering nie …. Dit gaan hier nie oor die aantal as sodanig nie maar oor die volksgeheel” (Komm. Romeine, bl. 515, 526).
Dieselfde gevoele word voortgestaan deur ds. G. Doekes in ‘n lywige werk, getiteld De beteekenis van Israels val, ‘n kommentaar op Rom. 9:11. Hy skrywe:
„In die vorige tien gevalle sien „Israel” onbetwisbaar op die Jode in teenstelling met die heidene. Watter besondere rede dring dan hier (vs. 26) tot ‘n ander opvatting? Stellig nie die teksverband nie, want die onderskeiding van Jode en heidene hou in vs. 25 nie op nie maar gaan ook in die volgende verse nog deur …. Daar is alles voor en niks teë nie om „die hele Israel” te verstaan van die Joodse volk” (bl. 298).
Uit die ou tyd wil ons nog noem die bekende Voetius. Van hom sê ds. H. Hoekstra in sy brosjure oor Het Chiliasme dit:
„Hy oordeel dat die Jode verwerp is en nie meer die besondere volk van God geag kan word nie. Die verwerping is finaal en onherroeplik, tot hulle tot Christus bekeer word. So ‘n bekering verwag Voetius egter op grond van Rom. 11:25-29. Hy oordeel dat in hierdie plek nie bedoel word die geestelike Israel uit die heidene en Jode nie maar dat hier in uitsig gestel word ‘n massale bekering van die Jode. Die nasie, globaal (as geheel geneem) sal toegebring word op dieselfde manier as wat die „volheid” van die heidene bedoel word, waartoe ook nie almal hoof vir hoof behoort nie” (bl. 46).
Terwyl ons nou met die getallekwessie besig is, herinner ons aan die feit dat ook die kanttekening van die Statebybel blykbaar nie die verklaring van Calvyn gevolg het nie. By die woorde „geheel Israel” van Rom. 11:26 word aangeteken: „Nie net ‘n paar nie maar ‘n baie groot menigte asof gelykstaande met die ganse Joodse nasie”.
In verband met hierdie derde gevoele kan ons ook nog noem die naam van die hooggeagte ds. J. van Andel, in lewe predikant van Gorinchem in Nederland.
Verder is dit nie nodig om op die onderwerp in te gaan nie. Die leser het seker wel gemerk hoe verskillend oor hierdie onderwerp gedink is, en dit deur manne wat gesamentlik bestryders van die Chiliastiese gedagte is.
Hierdie feit ontslaan ons egter nie van ons verpligting ten opsigte van die profetiese woord nie. Des te naarstiger moet ons daarop let, te meer as ons oorweeg dat die Bybel nie ‘n boek van waarsêery is nie. Die verborgenhede van die toekoms moet gelowig en biddend aangevoel en tegemoetgetree word.
Nota: die subopskrifte is bygevoeg.
deur dr. Willie Jonker
(Verklaring by Romeine 11:25, 26a)
“Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word …” (Rom. 11:25, 26a)
25 Die beginwoorde van v. 25 laat merk dat Paulus tans iets baie gewigtigs wil sê (vgl. 1 : 13; 1 Kor. 10: 1; 12: 1, ens.).
Hv wil aan sv lesers ‘n profetiese waarheid meedeel wat gedeeltelik op Goddelike openbaring berus en gedeeltelik reeds in die geskiedenis merkbaar is. Hy noem dit ‘n verborgenheid, ‘n benaming wat gewoonlik gebruik word vir ‘n waarheid wat tevore verborge was, maar in die loop van Gods handelinge met die mense langsamerhand duidelik geword het (vgl. Ef. 1:9; 3 : 3-7; Kol. 1 : 26, ens.). Dit is van belang dat die Christene uit die heidene hierdie waarheid omtrent Israel sal weet, sodat hulle nie eiewys mag wees nie, d.i. volgens hulle eie insig en wysheid oor Israel sal oordeel nie. Die verborgenheid bestaan dáárin dat die verharding wat oor Israel gekom het. ten dele is d.i. dit raak nie die hele Israel nie.
Daarby sal die verharding duur totdat die volheid van die heidene ingegaan het. Die volheid van die heidene is, net soos die volheid van Israel, die voile getal van diegene wat God uit die heidendom verlos. Met ingaan word kennelik bedoel: ingaan in die Koninkryk, deel ontvang aan die verlossing. Uit die feit dat die volheid van die heidene seker eers teen die einde van die tye ten volle in die Koninkryk ingebring sal word, mag ons aflei dat Paulus verwag dat die gedeeltelike verharding van Israel sal voortduur tot aan die einde van hierdie bedeling.
26a Met die hele Israel word dieselfde bedoel as met die volheid van Israel in v. 12 en dié begrip lê in lyn met die begrip volheid van die heidene in v. 25. Dit dui Israel as totaliteit aan, Israel soos dit deur God bedoel is om te wees en soos Hy Sy oorspronklike beloftes aan die vaders ten opsigte van hulle waargemaak het. Anders gesê: dit dui die voile getal Israeliete aan wat deur Gods genade gered sal word. Sommige verklaarders meen dat die hele Israel slaan op die kerk, die geestelike of ware Israel wat uit Jode en bekeerde heidene bestaan. Dié verklaring kan aansluit by die uiteensetting oor die takke van die wilde olyf wat ingeënt word op die mak olyfboom (vgl. v. 17-18). Waar Paulus egter nooit die benaming Israel in so ‘n geestelike sin (as aanduiding van die kerk) gebruik nie, terwyl hierdie hoofstukke spesifiek oor Israel as volk handel, is dit beter om te hou by die verklaring deur ons gegee.
Die woorde en so waarmee v. 26 begin, dui daarop dat die hele Israel gered sal word op die wyse wat in v. 25 aangedui is: die gedeeltelike verharding sal oor Israel bly, totdat die volheid van die heidene ingegaan het. Dit beteken nie dat daar dán, nadat die volheid van die heidene ingegaan het, skielik ‘n massabekering van Jode sal plaasvind nie. maar dat die bekering van die Jode só sal plaasvind dat die hele Israel ingebring word terwyl die gedeeltelike verharding voortduur. Terwyl sommige verhard is, kom ander tot bekering.
Dit sal so voortduur dwarsdeur die hele tydperk waarin ook die volheid van die heidene ingebring word. Wanneer die volheid van die heidene ingegaan het, sal ook die hele Israel gered wees. Dan is die einde daar. Dan is Gods beloftes ten volle vervul. In die lig van Paulus se verkondiging dat die bekering van die heidene Israel jaloers maak, is dit ook duidelik dat die ingaan van die volheid van die heidene die instrument in Gods hand is om die hele Israel tot die verlossing te lei.
Romeine 9-11
deur prof. PA Verhoef
(Geneem uit, Israel in die Krisis (Pretoria: NGK Boekhandel, 1967: bl. 74-76)
Verreweg die belangrikste Skrifgedeelte oor die posisie en die toekoms van Israel het ons in hierdie hoof stukke van die aangrypende Brief aan die Romeine.
Ongelukkig is die eksegese van hierdie hoofstukke nie so maklik soos Berkhof ons wil laat verstaan nie (a.w., bl. l32). Hy erken trouens self dat dit nie duidelik is wat die apostel met die volheid in 11: 12 en vers 25 bedoel nie; wat die strekking van die lewe uit die dode in verband met die aanneming van Israel is nie (11: 15), wat aldus in vers 26 beteken, en wat met gans Israel bedoel word nie (a.w., bl. l34 e.v.).
Inderdaad is dit juis die punte waarop dit hier aankom!
Prof. K. Dijk gee ‘n opsomming van die belangrikste verklarings in die kring van Gereformeerde teoloë, en daaruit blyk dat hulle op sommige punte van mekaar verskil. In drie opsigte is die betrokke Skrifverklaarders dit egter met mekaar eens: ten eerste, dat Israel in hierdie hoofstukke op die vleeslik nageslag van Abraham betrekking het; ten tweede, dat die gedeelte nie ‘n perspektief op ‘n uiteindelike massale bekering van Israeliete open nie; en ten derde, dat al sou Paulus so ‘n algemene kerstening verwag, hy hier tog met geen enkele woord spreek van ‘n toekornstige terugkeer na Pales-
tina, van ‘n herbou van stad en tempel en van ‘n sigbare en tydelike Christusregering nie (a.w., bl. 96).
Dit is duidelik dat die apostel in Romeine 9-11 nadruk lê op die wederkerigheids-verhouding tussen Israel en die “heidene” ten opsigte van die heil in Christus. Dit is die geopenbaarde misterie waarvan hy spreek. Aan die een kant wys hy daarop hoe Israel se ongeloof die weg vir die heidene tot die geloof ontsluit het. Hulle val is die rykdom (11: 12) en hulle verwerping die versoening van die wêreld (11: 1 5); wat die evangelie betref, is hulle vyande ter wille van die gelowiges uit die heidene (11 :28). Die seën wat vir alle volke bestem is (Gen. 12:3), en waarvan Israel die draer was, bereik die volke nie in die weg van Israel se eie begenadiging nie, maar juis in die van sy verwerping.
Die diepe gedagte in hierdie “verborgenheid” is dat die genade-karakter van die heil juis in hierdie weg gehandhaaf en verheerlik word. As Israel van sy verkiesing ‘n grond maak om nie meer van die genade van God te leef nie, word hy verwerp, en wend die Here Horn tot die heidene (vgI. Matt. 21:42 e.v.; 22:1-14; 1 Thess. 2:14 e.v.).
Die apostel wys egter, en aan die ander kant, daarop dat God Sy heilsplan ook met Israel volbring, juis omdat die genadegawes van God onberoulik is en Israel ook in sy verwerping “bemindes ter wille van die vaders” bly (11:28). God het Sy beloftewoord aan Israel nie laat verval, noudat hierdie volk deur die verwerping van die Messias voorwerpe van Sy toorn geword het nie. In werklikheid was dit vir die gelowige volksdeel bestem (9:6). Wat die teenswoordige betref, is daar nog altyd ‘n oorblyfsel ooreenkomstig die verkiesing van die genade (11:5), word sommige uit hulle gered (11: 14) en elkeen wat nie in die ongeloof bly nie, op die olyfboom ingeënt (11 :23), terwyl die verharding slegs vir ‘n deel oor Israel gekom het (11 :25), dus nie die voortgaande verlossing van die uitverkorenes verhinder nie.
En so sê die apostel, in hierdie weg, soos dit in die voorafgaande beskryf is, nadat Israel eers ten dele verhard is en deur sy val die rykdom van die wêreld geword het, sal die hele Israel gered word (11 :26).
Volgens Berkhof gaan dit hier nie om die sielehiel van die enkelinge nie, maar om die gang van God deur die geskiedenis. En dan beteken die weer-aanneming, al is dit net van die laaste generasie, die weer-aanneming van Israel in al sy geslagte – as teken dat hulle die geliefdes ter wille van die vaders was (a.w., bl. 137).
Ons vereenselwig ons egter met die opvatting van Ridderbos in sy Commentaar op Romeinen, wanneer hy sê dat die “hele Israel” dieselfde is as “hulle volheid ” in vers 12, dit wil sê die volle getal wat tot die geloof gekom het en wat as sodanig die volheid van Israel verteenwoordig. Hierdie volheid moet nie in nasionalistiese of universalistiese sin verstaan word nie, want dit sien nie op die nasionale herstel van die volk of van elke Israeliet, hoof vir hoof, nie. Dit bestaan ook nie in ‘n massabekering aan die einde van die dae nie. Die volheid van Israel is ‘n eskatologiese grootheid – so sal Israel daar uitsien wanneer die eeue voleindig word en die heilsraad van God volbring is. Dan sal die tans vertroebelde, onherkenbare beeld van Israel weer duidelik word; dan sal Israel in sy ware aard openbaar word en sal die “volheid” van Israel by die “volheid” van die heidene gevoeg word.
Dat daar ‘n bekering van die “hele Israel” sal plaasvind anders as in die normale weg van die evangelieverkondiging in die geskiedenis, bly vir die besef van Ridderbos ‘n merkwaardige uitwas van die teologiese denke oor Israel wat in geen enkele opsig in die heilshistoriese gedagtegang van Romeine 9 tot 11 pas nie. Wat Paulus ten slotte tot sy Iofverheffing in Romeine 11:33-36 bring, is nie die plotseling in 11 :26 onthulde Chiliastiese geheim nie, maar is die aanbiddellike handeling van God wat Hom eers van Israel tot die heidene wend, en daarna van die heidene tot Israel terugkeer.
Slegs hierdie verklaring laat aan Rorneine 9 tot 11, en aan die groot konklusie van die hele betoog in 11 :29-32, reg geskied (vgl. Geref. Weekblad, 26 Sept. 1958).
In hierdie oorsig van die inhoud van Romeine 9 tot 11 het ons net op die kernaspek van die probleem gekonsentreer. Ons verwys die geinteresseerde leser graag na ‘n deeglike verklaring van die hele gedeelte in die nuwe kommentaar op Romeine deur dr. W. D. Jonker. Dit is by die Ned. Geref. Kerk-Boekhandel verkrygbaar en seer die moeite werd om te lees. Ons mag ook verwys na ‘n suiwere bespreking van hierdie hoofstukke
deur ds. A. Konig, in Die Kerkbode van 1967.
___________________
Nota: In die boek van prof. Verhoef bespreek hy in baie meer detail die hele kwessie van die toekoms van Israel. Hy beantwoord vrae soos “Is Israel nog die uitverkore volk”, “Sal Israel ‘n massabekering ondervind?”, en vele ander omstrede vrae oor allerhande kwessies van die einddinge, chiliasme, eindtye profesieë, ens. Daar is ook ‘n deel waarin hy die Brits-Israelbeweging dwaling aanspreek en weerlê. Ongelukkig is die kosbare boekie nie meer in druk nie.
Oor die komende dinge en die terugkeer van Israel
(Nuwe en Ou Dinge, bl. 280, 281)
Komende dinge
Aanleiding tot hierdie bespreking is verskillende briewe wat ontvang is in verband met die Komende Dinge, m.i. oor die Duisendjarige Ryk. Die vraers se geduld moes op die proef gestel word as gevolg van ons afwesigheid na die Ekumeniese Sinode en opgehoopte werksaamhede in verband daarmee. Ons is bly om die lesers, wat al te lank moes wag, nou te woord te kan staan. Ons begin met ‘n paar algemene opmerkings en wel oor die Duisendjarige Ryk, waarop dit veral neerkom in die vrae.
Die heersende opvatting in ons Gereformeerde Kerk is ongetwyfeld die sg. “geestelike”, dat die Duisendjarige Ryk sien op die tydperk tussen die verhoging van Christus tot met sy wederkoms. Dit is egter nie die enigste toegelate opvatting nie. Dit het duidelik geblyk by die toetreding van die gemeentes onder die Kruis, wat oorwegend die “letterlike” opvatting toegedaan was, dat dit naamlik sien op ‘n periode van duisend jaar, wat ons nog moet verwag in die toekoms.
Hiermee is duidelik te kenne gegee dat ons Kerk, wat die Komende Dinge betref, tot op sekere hoogte ‘n oop standpunt wil inneem. Die opmerkings wat ons in hierdie verband wil maak, is eerstens dat geen lidmaat nog in die posisie geplaas is dat hy die Gereformeerde Kerk moes verlaat ter wille van ‘n letterlike verklaring van die Duisendjarige Ryk nie. En verder, as lidmate, watter posisie hulle ook mag beklee, sover gaan om vanuit hulle standpunt ander te beskuldig van onregsienigheid, dan gaan hulle verder as wat die Kerk hulle toelaat om te gaan. Dan is dit nie meer sake vir Die Kerkblad nie maar vir die kerklike weg. Die gesindheid het nogal deurgestraal in die onderhawige korrespondensie. Die redakteur van ons Kerkblad het die regte weg gevolg dat hy die saak nie wou laat voortgaan in die vorm van korrespondensie nie. Dit is gesonde kerklike beleid. Dit het nie meer die vorm van ‘n oop bespreking gehad nie.
‘n Volgende opmerking is dat ons hier nie met meninge te doen het wat vanaf gister en eergister teenoor mekaar staan nie. Ook nie maar sinds die vorige eeu nie. Die vraagstuk het al bestaan voordat daar ‘n Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika was. Dit is so oud as die Christelike Kerk self.
Daarom is dit ‘n verkeerde houding, ons bedoel, die verbasing dat ander nie maar direk kan instem met wat, volgens ons eie sienswyse, die enigste en regte verklaring moet wees nie. Ons behoort daarby te bedink dat albei hierdie opvattings van eeue ver van die bekwaamste en nougesetste Skrifverklaarders aan hulle kant gehad het, wie se opregtheid ons nie onder verdenking durf bring nie.
Ons volstaan met die name van ons hervormers. Luther en Calvyn het die letterlike verklaring van die Duisendjarige Ryk verwerp. Abraham Kuyper se opvatting het weer sterk afgewyk van die gangbare “geestelike” verklaring. Ook weer ‘n bewys van die mate van oopheid wat die Gereformeerde Kerke ten opsigte van “onvervulde” profesieë bewaar het. Ons moet nie verwag dat ‘n probleem van soveel eeue op ‘n gegewe moment somaar tot afsluiting gebring kan word nie.
Dit is miskien ook nie onnodig om mekaar daaraan te herinner dat ons almal glo in ‘n duisendjarige ryk nie. Ons moet daarin glo, want die Skrif leer dit in Openb. 20:1-7, al is dit die enigste plek waar dit met soveel woorde gelees word. Die verskil betref alleen die verklaring, nl. of dit letterlik verstaan moet word as ‘n tydperk van duisend jaar, wat nog moet intree in die toekoms voor die uiteindelike wederkoms van Christus, miskien ook voorafgegaan deur nog ‘n wederkoms, en of dit simbolies verklaar moet word, soos die getalle deurgaans in Openbaringe, en dit dan sien op die tydperk tussen Christus se eerste en tweede koms.
Die vraag dus, of ons nou leef in die voorlaaste bedeling van die wederkoms van Christus, en of ons leef in die laaste bedeling. Hierby wil ons dan opmerk dat as ons gekies het vir die eerste, die letterlike opvatting, dan is ons nog nie klaar nie. Dan is daar weer baie uiteenlopende verklarings. Byna elke boek wat hieroor verskyn — en daar verskyn baie — verteenwoordig weer ‘n eie opvatting. In vermoedelik die jongste boek (ds. A. A. Leenhouts: Gods Voorlaatste Geheim) val die oordeel oor die Antichris by die wederkoms van Christus (Openb. 19:20) en die oordeel oor Satan (Openb. 20:10) saam. Die Duisendjarige Ryk vind die skrywer in die verborgenheid wat Johannes nie mag neerskryf nie (Openb. 10:4, 7). Dit val in hierdie bedeling, in die toekoms. Christus se wederkoms is dus minstens binne duisend jaar nog nie te wagte nie.
Ons noem hierdie verskille nie om ondersoek te ontmoedig nie. Inteendeel, dit gaan om die waarheid, en vir die waarheid moet getuig word al bring dit stryd en verdeling (1 Kor. 11:18, 19). Wat ons alleen duidelik wil laat wees, is dat die verskil tussen die “letterlike” en “geestelike” verklaring nie die enigste verskil in hierdie verband is nie. Dit is uiters moeilik om die weg te vind te midde van die verskillende “letterlike” verklarings.
Regsinnige en onregsinnige chiliasme
Dit bring by ‘n volgende punt, nl. dat daar by die “Chiliaste” soos ons die voorstanders van die letterlike opvatting voorlopig wil noem, onderskei moet word tussen ‘n regsienige en onregsienige rigting. Sulkes wat met hulle geloof in ‘n Duisendjarige Ryk nie in botsing kom met die Gereformeerde Belydenis nie, en die wat daar wel mee in botsing kom. Die Kerkgeskiedenis leer dat Chiliasme by byna al die sektes voorkom.
Chiliasme bring in geselskap van sektes en bewegings soos die Dantiste, Adventiste, Sabbatariërs, Wederdopers, Russelliete. Ons kan verder gaan, dit was kenmerkend van die oudste sekte, die Judaïsme (Joods-Christendom). Dit was ook die kenmerk van die Fariseërs. Ons vind dit in die Joodse Apokalipse vóór, tydens en ná Christus. Ons sê dit ook weer nie om dit hiermee te veroordeel nie. Iets is nie verkeerd juis omdat ‘n Wederdoper of ‘n Russelliet dit ook leer nie. Of selfs omdat die Skrifgeleerdes en Fariseërs dit ook geglo het nie. Die Here Jesus het op sekere punte met die Fariseërs saamgestem, bv. oor die opstanding van die dode teenoor die Sadduseërs. Maar ons sê dit om gevaartekens langs die pad op te rig.
As ons die weg van die Chiliasme opgaan, moet ons ons deeglik kan rekenskap gee van hierdie uitdraaipaaie. Ons noem twee gevare, die een geld die koningskap van Christus, die ander die leer van die Verbond. Daar is Chiliaste wat glo dat Christus tans as Koning regeer en nie spreek net van ‘n teenwoordige priesterskap van Christus in die hemel en ‘n Koningskap van Christus in die toekoms op aarde nie, en wat ook die verbond, met Abraham verwesenlik sien in die Kerk. As ons Chiliasme egter daartoe lei om die teenwoordige Koningskap van Christus te misken en die Verbond op te breek, dan raak dit fondamentstene van die Gereformeerde Belydenis, en is ons op ‘n onregsinnige weg. Maar daar is nog ‘n ander gevaarteken, nl. om een of ander waarheid op die spits te dryf ten koste van ander waarhede. Dit is die weg van die sekte. Dit is ‘n kenmerk van die eintlike Chiliasme, vandaar Chiliasme (Chilias is die Griekse woord vir duisend). Ja, dit is nodig dat veral in ons tyd meer nadruk gelê sal word op die Komende Dinge.
Dit is waar dat dit in die Kerk, ook in ons Kerk, te veel op die agtergrond staan. So ontstaan sektes. Sektes is ‘n tugroede vir ‘n kerk wat sekere waarhede verwaarloos. Maar die fout van die sekte is weer dat dit die ander waarhede verwaarloos ter wille van die een, of dat dit al die waarhede sien deur die bril van hierdie eeu. Meer nog, dat dit geneig is om die saligheid te bind aan die dogma, en wel aan ‘n bepaalde dogma. Dit is gevare in verband met die Chiliasme. Dit het eintlik net ‘n oog vir ‘n bepaalde punt in die leer van die Komende Dinge, die duisend jaar, en is geneig om Openb. 22:19 te verbind met ‘n bepaalde verklaring daarvan.
Met hierdie paar opmerkings wil ons tans volstaan om op die vrae terug te kom. ….
Die Koningskap van Christus
By hierdie oorsig wat volg, maak ons veral gebruik van die uiteensetting van Erich Sauer in sy boek, Der Triumf des Gekreuzigten (Die Triomf van die Gekruisigde), ook in Engels verkrygbaar by Pro Rege-Pers, Potchefstroom. Ons sluit hierby aan omdat Sauer met sy geloof in ‘n toekomstige “Duisend-jarige Ryk” die teenwoordige Koningskap van Christus en die aanwesigheid van die Koninkryk van die Hemele nie oor die hoof sien nie.
Dit is die groot betekenis van die heilsfeite van Hemelvaart en Pinkster. Hemelvaart is die troonbestyging van die Koning van die ere. Toe is Hy met heerlikheid en eer gekroon. Toe is Hy in eintlike sin tot Here en Christus gemaak (Hand. 2:36) en is tans Gebieder (Jud. 4) en Heerser oor alle nasies (Matt. 28:18; Rom. 14:9). Die uitstorting van die Heilige Gees is saam met Hemelvaart die aanvang van die Koninkryk van God op aarde. Sinds Pinkster is die Koninkryk van God ‘n werklikheid op aarde. Ontkenning van die teenwoordige Koningskap van Christus kry ons dus net by sekere vorme van die Chiliasme. Hierdie laaste bring in botsing met ons belydenis (Heid. Kateg. So. 18). ….
Die terugkeer van Israel
By die leer van die “Duisendjarige Ryk” neem die terugkeer van Israel ‘n baie belangrike plek in. Dit bring by die “onvervulde profesieë”, wat in betrekking staan tot die terugkeer van Israel, almal beloftes van God aan Israel wat nog uitstaan. Wie gee ons die reg om dit te “vergeestelik” en oor te dra op die Kerk? So word gevra, en dan gesê: dit sou niks minder as bedekte bondsbreuk van God ten opsigte van sy volk wees nie!
Die versigtige skrywer laat egter onmiddellik volg: vergeesteliking en oordra daarvan op die Kerk kan nie heeltemal van die hand gewys word nie, want Paulus sien Jes. 11:10 (‘n “duisendjarige-ryk-hoofstuk”) vervul in die Kerk in Rom. 15:12; ook Hos. 1:10 in Rom. 9:25, 26. Petrus sien dieselfde profesie, vervul in die Kerk (1 Petr. 2:10) en Joël 2:28-32 in die uitstorting van die Heilige Gees (Hand. 2:16-21). Ons kan ook nog verwys na die “vergeesteliking” van Jes. 40 deur Johannes die Doper. Ons moet maar versigtig wees met die “onvervulde profesieë”. Hulle is vervul. God het in Christus sy beloftes aan die vaders bevestig en sy waaragtigheid bewys (Rom. 15:8-12), al moet daar nog verdere vervullings verwag word soos ons dit by profesieë dikwels aantref.
Nog voor die aanbreek van die “Duisendjarige Ryk” gaan Israel dan na Palestina. Die doodsbeendere van Eseg. 37 begin beweeg. As Jode gaan hulle na Palestina en word daar verander in Israel. Die weg van verlossing is nie die van geloof in die Gekruisigde nie, maar van aanskouing van die Verheerlikte. Met die verskyning van Christus in heerlikheid kom hulle tot bekering. Só word Openb. 1:7 verstaan as vervulling van Sag. 12:10. Dan vind die groot wonder plaas, die geestelike vernuwing van Israel. Daar vind weer ‘n uitstorting van die Heilige Gees plaas. Israel en die Kerk is twee. Daarom gebeur dieselfde dinge oor. Joël 2 (vgl. Eseg. 11:19) word ‘n tweede keer vervul (vgl. Hand. 2:16-18). Die profesie aangaande die Nuwe Verbond (Jer. 31:31-33) gaan ook dan eers in vervulling, ‘n profesie waarvan Jesus die vervulling verbind het aan die instelling van die Nagmaal wat die pasga kom vervang het soos die Doop die besnydenis as verbondstekens van die Nieu-Testamentiese volk van God, die ware Israel.
Die “onvervulde profesie” bevat tewens die wet, ook die skaduagtige (Eseg. 37-48). In die “Duisendjarige Ryk” word die hele tempeldiens met die priesterskap en offerandes weer herstel, die brand-, spys-, dank- en sondoffers, die Nagmaal is vervang deur die pasga, Sondag het weer plek gemaak vir die Sabbat. Ons is weer terug in die O.T. bedeling. Dit skyn “nouliks” moontlik, so word versigtig gesê, om hierdie profesieë geestelik te verstaan. Die leser moet maar self Hebr. 7-10 hiernaas plaas en sy eie oordeel vorm.
Die nasies en die sending
Die vernude Israel is God se sendeling in die volkerewêreld. Van Sion sal die wet uitgaan (Miga 4:2). Israel is die Paulus van die “Duisendjarige Ryk”. Die Olyfberg is vir Israel sy Damaskus. Die vereniging van die nasies en Israel onder die heerskappy van Christus, waarvan die profete spreek (o.a. Ps. 22:8, 47:8, 9, 72:8-10; Jes. 49:6, 42:6, 7; vgl. Luk. 2:31-32; Sag. 2:15, 8:22) en wat Paulus volgens Ef. 1:10 vervul sien, word dan eers vervul. “Die Duisendjarige Ryk” is die “gewigtigste” en die “eintlike” sendingtyd, want dan is Satan gebonde. Vir die eerste keer in die geskiedenis sal daar so iets as Christelike nasies wees.
Hier is dit duidelik wat daarmee gemoeid is as die Koningskap van Christus verlê word uit onse tyd in ‘n toekomstige “Duisendjarige Ryk”. Goed deurgedink kom ons uit by een van die modernistiese rigtings in die teologie (die Dialektiese) wat ontken dat hier so iets kan wees as “Christelike nasies”, “Christelike onderwys”, “Christelike samelewing”, “‘n Christelike lewe”. Dit is iets vir die eind- of bo-historiese. Waarvoor dan ons stryd?
Die Godsdiens in die “Duisendjarige Ryk” sal ook nie die Christelike wees nie, maar die Israelitiese, reuk- en spysoffers met verwysing na Jes. 56:7, 60:7; Mal. 1:11, en ook by die volkere sal die Sondag vervang word deur die Sabbat.
Die natuur
Die verlossing van die skepping waarvan Paulus spreek in Rom. 8:19-22 sien nie op die nuwe aarde nie, maar op die “Duisendjarige Ryk”. Die Paradys is daar min of meer herstel. Daar is ‘n weelderige plantegroei selfs in die woestyn (Jes. 41:18) veral in Kanaän. Soos daar vrede is onder die mense en nasies, so ook tussen dier en dier (Jes. 11:6, 7, 65:25), en tussen mens en dier, ook die slang (Jes. 11:8).
Die einde
Nieteenstaande die binding van Satan is daar tog nog sonde en ook dood, hoewel die mense minstens 100 jaar oud sal word (Jes. 65:20). Daar sal moontlik ook opstande wees teen die Christusheerskappy. Maar, dit sal met geweld onderdruk word. Die heerskappy van Christus en sy heiliges neem dus die vorm aan van ‘n soort dwangheerskappy in plaas van innerlike bereidheid en oorgegewenheid (Ps. 110:3), immers, geregtigheid heers op die aarde en woon nog nie daar nie. Op die end kom dit tot ‘n groot afval deur die verleiding van Satan. Die paradysgeskiedenis word min of meer herhaal. In die Paradys was dit so, dat die mens kon sondig. Hier is dit so, dat dit vir die mens nie swaar is om nie te sondig nie, want Satan is gebonde. Aan die einde word hy losgelaat. Onder die meer ideale toestande, onder die handtastelikste genadebetoon en onder die direkte heerskappy kies hulle vir Satan. Dit bring by die eindgerig.
Ons het hiermee so ‘n saaklike moontlike oorsig gegee van voorstellings in verband met ‘n toekomstig-letterlike “Duisendjarige Ryk”. Op enkele besonderhede hoop ons terug te kom, ook in verband met vrae wat ons intussen ontvang het. Uit wat gegee is, behoort die volgende duidelik te wees: Dat ons moet oppas om nie met ons menslike eensydighede teenstellings te skep wat die Skrif nie ken nie, bv. tussen letterlike en geestelike verklaring, Kerk en Israel, vervulde en onvervulde profesieë. Profesieë kan verskillende dieptes hê. Dieselfde profesie kan vervul en ook nog onvervul wees. Die letterlike sin kan ook nog ‘n geestelike diepte hê, sonder dat daar die minste aan die letter afbreuk gedoen word. Profesieë wat betrekking het op Israel kan oorgebring word, en word inderdaad deur die Skrif oorgebring op die Kerk.
Dit behoort verder duidelik te wees watter gevaar daar verbonde is aan die verlegging van die Koningskap van Christus na die toekoms. Dit raak die uitdra van die Evangelie na die nasies (Matt. 28:19) en die indra en uitlewe van ons Christelike beginsels in hierdie lewe (Matt. 5:13-16).
____________________
Nota: die opskrif en subopskrifte is aangepas waar nodig geag is. Sien die volledige artikels in prof. Snyman se saamgestelde bunde: Nuwe en Ou Dinge.
“Die verharding ten dele oor Israel?”
ds. Hanan Viljoen
(Geneem uit, Die Einddinge, bl. 113-115)
In 11:25 skrywe Paulus, dat die verharding “ten dele” oor Israel gekom het, “totdat die volheid van die heidene ingegaan het”. Wat sou hierdie “ten dele” beteken? Weereens moet die konteks van hoofstukke 9-11 dit vir ons verduidelik. Paulus het in 9:6 qese dat “nie almaI Israel is, wat uit Israel is nie.” Dit beteken, en ons herhaal, ‘n deel van Israel was nie regtig “Israel” in die ware sin van die woord nie. Die res van hoofstuk 9, asook 10 en 11, handel deurgaans oor die feit dat ‘n deel van Israel die evangelie verwerp het en hulle verhard het.
Ons moet die “ten dele” van 11 :25 dus ook in hierdie sin verstaan. Dit gaan oor ‘n deel van nasionale Israel wat hulleself teen God verset het en toe verhard is. Die New International Version Vertaling (NIV) praat van “a hardening in part”. Sien ook Rom. 9:18 en 11:7. Hierdie verharding, sê Paulus, sal duur “totdat die ‘volheid’ van die heidene ingegaan het.” Hierdie volheid van die heidene beteken die getal van die uitverkorenes uit die heidene. Wanneer sal hulle dan ingegaan het?
Uit die aard van die saak sal dit wees nadat “die evangelie van die koninkryk in die hele wêreld” verkondig sal wees tot ‘n getuienis vir al die nasies. “Dan”, se Jesus, “sal die einde kom” (Matt. 24:14). Hierdie “einde” is die finale afsluiting van die wêreldgeskiedenis.
Dit is dieselfde “einde” wanneer Christus “die koninkryk aan God die Vader oorgee” (1 Kor. 15:24). Dan wanneer Hy alle “heerskappy en gesag en mag vernietig het”. Die verharding van die gedeelte van Israel sal tot dan duur. Dan, so leer die Bybel herhaaldelik, sal daar ook nie meer geleentheid vir bekering en redding wees nie. Let op, dat ook hier, daar niks qese word van ‘n volksbekering van Israel of van ‘n uitstortinq van die Heilige Gees oor hulle nie.
Die hele Israel gered!?
Ons kom vervolgens by ‘n vers waaroor daar baie gedebatteer word. Wanneer ons dit egter verklaar soos dit verklaar moet word, naamlik teen die agtergrond van die hele Rom. 9 – 11, word dit baie duidelik!
Die eerste deel van vers 26 lui soos volg: “En so sal die hele Israel gered word.”
Die woorde “en so” word deur sommige verklaar as ‘n tydsaanduiding. Vir hulle beteken dit dan, dat iewers op ‘n tydstip in die toekoms, die hele biologiese nageslag van Abraham gered sal word!
Die woorde in Grieks vir “en so” nl. kai houtos, kan egter nie as ‘n tydsaanduiding vertaal word nie. Dit is ‘n “manier”-aanduiding. Prof. O. Palmer Robertson wys daarop, dat van die ongeveer 205 kere wat die woord houtos in die Nuwe Testament voorkom, dit nie eenkeer as ‘n tydsaanduiding gebruik word nie (The Israel of God: O. Palmer Robertson bl. 181).
Wat beteken die woorde “en so sal die hele Israel gered word” dan? Anders gestel, as die woord houtos die manier van redding aandui, na watter spesifieke manier van redding verwys dit? Ons moet weereens eerstens kyk na dit waaroor die hele Rom. 9 tot 11 gaan. Paulus was vanaf hoofstuk 9 deurgaans besig om te praat oor die feit dat God uit die breë volksverband van Israel, “die oorblyfsel” of ware Israel uitverkies en gered het. Dit was so vanaf Isak (9:7) tot by Jakob (9:13) tot by die seweduisend in die tyd van Elia (11 :4) tot by die oorblyfsel in die tyd van Jesaja (9:27) tot by Paulus (11: 1) en tot by “die teenwoordige tyd” waarvan Paulus geskrywe het (11 :5).
Al hierdie mense was gered “ooreenkomstig die verkiesing van die genade” d.w.s.die uitverkiesing (11 :5). Dít was dus die manier! waarop dit gebeur het. As Paulus dus sê: “en so sal die hele Israel gered word”, bedoel hy: op dieselfde manier, naamlik deur die redding van ‘n minderheid uit die Joodse nasie sal die volle getal van die uitverkorenes gered word! Hierdie minderheid is “die hele (ware) Israel”. As “die hele Israel” alle biologiese afstammelinge van Abraham sou bedoel, sou die woorde “en so” nie toepaslik wees nie, want dit is nie die manier waaroor Paulus tot dusver gehandel het nie. Anders gestel, “die manier” van redding kan nie ‘n ander manier wees as die redding van die volle getal uitverkorenes deur die verkiesing nie!
Ons kan verder gaan en sê, dat as “die heIe Israel” wat gered sou word al die biologiese afstammelinge van Abraham sou beteken, dit teenstrydig sou wees Paulus se hele betoog in Rom. 9 tot 11! Dit sou ook nie in harmonie wees met “die manier” waarop God deur die geskiedenis met Israel gehandel het nie. Dit sou dus ook die beginsel van die uitverkiesing ophef ! Handel God vandag só en môre weer anders? (Jak.1:17).
Tereg skrywe Dr. Martyn Lloyd-Jones in sy boek The Church and the last Things t.o.v. Rom. 9-11. “How dangerous it is to think in terms of the physical nation and not realise that they are not all Israel, which are of Israel.”
Om aan die hele nasionale Israel te dink as God se ewige uitverkore volk, bloot omdat hulle van Abraham afstam, het baie in gemeen met die manier waarop die Jode destyds oor hulleself gedink het! Dit was dieselfde ongegronde aanname waarteen Johannes die Doper die Jode gewaarsku het toe hy gesê het:
“Dra dan vrugte wat by die bekering pas; en moenie dink en by julleself sê: Ons het Abraham as vader nie … (Matt. 3:8-9).
Ons kyk vervolgens na die laaste deel van Rom. 11:26 en 27.
” … Die Verlosser sat uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes
wegneem.”
Die bostaande gedeelte wys daarop dat die redding van “die heIe Israel” gebeur op grond van ‘n belofte wat God in Jes. 59:20 en 21 herbevestig het. Die belofte gaan oor die Verlosser wat “uit Sion” sou kom. Hierdie “Sion” is die Joodse nasie, want Jesus sê: “die saligheid is uit die Jode” (Joh. 4:22). Die verlossing wat Hy sou bring sou “die goddeloosheid van Jakob” afwend en hulle sondes wegneem. “Jakob”, in teenstelling met Esau, is die stamvader van die uitverkorenes uit Israel. Vers 27 sê dat die Here die bogenoemde redding skenk op grond van God se verbond.
Trump en Jerusalem: moet Christene hande klap?
deur Johannes de Koning
Sien ook hierdie artikels oor einddinge/tye: Eskatologie
Leave a Reply