CALVYN VIR VANDAG…. OP SY VERJAARSDAG!

JOHANNES CALVYN: gebore op 10 Julie 1509 (gesterwe: 27 Mei 1564) 

Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.” (Hebr. 13:7)

“As gevra word waar die Christelike geloof dan hoofsaaklik vir ons op rus en wat deur ons as waarheid voorgehou word, sal gevind word dat die volgende twee nie net die primêre plek inneem nie, maar al die ander dele omvat en gevolglik die hele wese van die Christendom. Dit is in die eerste plek ‘n ware kennis van die wyse waarop God behoorlik aanbid/gedien moet word. Tweedens, die bron van ons saligheid. Wanneer hierdie twee buite rekening gelaat word, alhoewel ons mag spog in die naam Christene, is ons belydenis leeg en tevergeefs.” – Calvyn oor die noodsaak van kerkreformasie

“Want ons wysheid moet niks anders wees nie as om met ootmoedige leersaamheid alles wat in die Skrif oorgelewer is, sonder uitsondering te aanvaar.” – Institusies I, 18, 4

Prof. FJM Potgieter oor Calvyn*:

“Calvyn is ons geestelike vader. En tog het die meeste van ons nog min gelees wat hy self geskryf het. Hierdie dagstukke is ‘n keur uit sy skriftelike nalatenskap. Die oorgrote meerderheid kom uit die Institusie (oftewel die Onderwysing in die Christelike godsdiens). Hy het die vrug van al sy Skrifondersoek daarin saamgevat. In die Woord Vooraf aan die koning van Frankryk sê hy dat hy hierdie werk hoofsaaklik aangepak het ter wille van sy landgenote, die Franse. Hy het gesien dat so “baie van hulle na Christus gehonger en gedors het”.

Die waarheid verouder nie. En omdat Calvyn niks anders wou doen nie as om oor die geopenbaarde waarheid na te dink, het hy ook vir ‘n tyd soos dié waarin ons leef, beslis ‘n boodskap. Die dagstukke is geen parafrase nie, maar die hervormer word self aan die woord gestel – daar word so na as moontlik aan die oorspronklike teks gehou, maar om Calvyn terselfdertyd in lewende Afrikaans te laat praat, is nie maklik nie. … ‘n Werk soos hierdie moet uit die aard van die saak ‘n meditatiewe inslag hê. Daar is egter ook gepoog om ‘n geheelbeeld van Calvyn se insigte te gee. Aan altyd aktuele sake soos die predestinasie, kinder­doop en gebed word baie ruimte afgestaan. Maar sake soos kleredrag, die reg van verset en God se voorsienigheid kom ook aan die orde. ‘n Register van onderwerpe verskyn agter in die boek.

Mag die Drie-enige God, vir wie Calvyn van harte wou eer en dien, vir leser en hoorder ‘n groter werklikheid word: “Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees …”

Lewenskets van Calvyn (deur prof. FJM Potgieter)

“Jean Cauvin (Johannes Calvyn) is op 10 Julie 1509 in Noyon, Pikardië, gebore. Sy moeder, Jeanne Lefranc, was baie godsdienstig en het hom volgens die Roomse leer van die tyd grootgemaak. Na sy eerste skooljare in sy geboorteplek is die talentvolle Jean deur sy vader na Parys gestuur; in hierdie stadium wou hy hê dat sy seun in die teologie moes studeer. In die Franse hoofstad was Calvyn onder meer ‘n student van die beroemde opvoedkundige van dié tyd, Mathurin Cordier. Aan hom het Calvyn sy deeglike kennis van Latyn en Frans te danke.

God het dit so beskik dat Calvyn – ondanks sy Rooms-Katolieke agtergrond – reeds gedurende sy jeugjare in aanraking sou kom met mense wat die weg vir die Hervorming help baan het. Hier dink mens aan iemand soos Le Fèvre. Sy vader het intussen van gedagte verander oor sy seun se toekoms – hy het gemeen dat Jean as regsgeleerde gou roem en rykdom sou verwerf. Veral in die lig hiervan het die negentienjarige Calvyn nie meer in die teologie gaan studeer nie.

Calvyn is gevolglik na Orléans om in die regte te studeer, ‘n Doktors­graad word enkele jare later aan dié briljante student toegeken. Hierdie studies het uit die aard van die saak sy natuurlike sin vir logika en orde besonder opgeskerp. Dit is moeilik om presies vas te stel op watter tydstip hy die “plotse­linge bekering” – soos hy dit self later beskryf – beleef het. Dit was nietemin kort na sy regstudies, d.w.s. vroeg in sy twintigerjare. Wat die aard daarvan betref, sê Calvyn, is hy uit die bodemlose slyk van die pouslike bygelowigheid verlos. In sy verklaring van Jer. 31:18 sê hy dat die bekering “‘n vernuwing van die verstand en die hart” is.

Vir hom was die geloof nie bloot ‘n saak van die verstand nie, maar gee hy ruim plek aan die warm mistiek van die hart. Hy had gevolglik ‘n afkeer van die sieldodende haarklowery van die Middeleeuse teologie. Met sy terugkeer na Parys studeer Calvyn nie aan die Rooms-Katolieke Sorbonne nie. Wel laat hy hom inskryf by die pasgestigte College de France waar die dosente baie simpatiek was jeens die opko­mende Protestantisme.

In 1532 verskyn sy kommentaar op die Romeinse wysgeer Seneca se De dementia (Aangaande die sagmoedigheid). Hieruit blyk die jong Calvyn se verbasende belesenheid en geleerdheid.

Nie net sy insigte nie, maar ook sy geestelike lewe het merkwaardig verdiep. Eers in hierdie stadium het hy met die kerk van sy vaders gebreek. ‘n Tydperk van vervolging het nou aangebreek – ook vir Calvyn. Toe dit duidelik word dat sy lewe op die spel staan, was hy verplig om sy vaderland te verlaat. Hy het aan die begin van 1535 in Basel aangekom en ongeveer ‘n jaar vertoef. Hier verskyn in 1536 die eerste uitgawe van sy Institusie in Latyn. Calvyn was toe 26 jaar oud.

Sy kenbron was die Heilige Skrif wat hy onvoorwaardelik as die onfeilbare Woord van God aanvaar het. Hy het hom in die Skrif verdiep en kommentare gelewer op die meeste Bybelboeke. En namate hy die waarheid verder daaruit opgediep het, het hy die Institusie uitgebou. Die laaste uitgawe hiervan (wat in 1559 verskyn het) beslaan sowat 1 750 bladsye.

Die merkwaardige aspek van die Institusie is dat die grondgedagtes van die eerste uitgawe nog net so in die laaste voorkom. Omdat Calvyn so Skrifgebonde in sy besinning was, kon hy net konsekwent op die grondslae van die eerste uitgawe voortbou.

Na die verskyning van die Institusie verlaat Calvyn Basel. Hy reis o.m. deur Genève waar hy net wou oornag. Willem Farel, ‘n hervormer van die kerk in Frans-Switserland, het verneem dat Calvyn daar was en soek hom nog laat die nag op. Hy het by Calvyn aangedring om daar te bly en hom te help om die Reformasie te bevorder.

Toe Calvyn allerlei verskonings maak, spreek Farel sy gedenkwaar­dige woorde uit: “U praat van u studies en rus. Nou ja, ek sê nou vir u in die Naam van die almagtige God dat as u weier om ons te help terwyl die kerk in so ‘n groot nood is, en uself meer soek as vir Jesus Christus, God u studies en rus sal vervloek.” Calvyn het nie verder gereis nie.

Maar in 1538 word hy uit Genève verban nadat hy die sosiale misstande daar met groot vasberadenheid bestry het. Hy is toe na Straatsburg waar hy die predikant van die Franse vlugtelingegemeente geword het.

In die loop van 1538 verskyn die eerste Psalmboek waarvan Calvyn ‘n medewerker was. En in die volgende jaar trou hy met Idelette van Bure.

Intussen het die sedelike toestande in Genève so versleg dat die stadsvaders Calvyn versoek het om na die stad terug te keer. Sy voor­waarde was dat ‘n kerkorde ingestel moes word. Hieraan word voldoen en voortaan is die kerklike tug daadwerklik gehandhaaf.

Soos wat te wagte kan wees, was daar verset hierteen. Veral die meer vrysinniges en die aristokrasie het Calvyn teëgestaan, maar mettertyd het sy invloed toegeneem.

In hierdie tyd is Servet aan godslastering skuldig bevind deur sowel die Roomse Kerk as die Switserse Protestantse kerke. Nadat hy uit die gevangenis in Vienne ontsnap het, het die Roomse sy beeltenis en van sy boeke verbrand.

In Genève is Servet weliswaar op ‘n wenk van Calvyn gevange geneem; Calvyn het ook saamgestem dat hierdie lasteraar die dood skuldig was. Maar Calvyn het hom nie (soos wat soms nog geglo word) laat verbrand nie – Servet is volgens landswet tot die brandstapel veroordeel. Calvyn het in der waarheid alles in sy vermoë gedoen om dit te verhoed. Dit blyk onteenseglik uit twee van sy briewe aan Farel (vgl. die dagstuk vir 30 Desember). Voorts moet onthou word dat Calvyn se aanhangers op dié tydstip ‘n minderheidsparty in die stadsraad van Genève was.

Sy invloed het nou hand oor hand toegeneem en in 1555 word sy aanhangers die meerderheidsparty in die stadsraad. Kort hierna (in 1559) bereik Calvyn se loopbaan ‘n hoogtepunt met die publikasie van die finale uitgawe van sy Institusie. Hierdie werk is in verskeie tale oorgesit en is die “stamboek” van ons eie belydenisskrifte.

Gedurende dieselfde jaar word een van Calvyn se hartewense vervul: ‘n universiteit op Christelike grondslag is in Genève geopen. Negehonderd studente – veral uit Frankryk, Engeland en Nederland – het hulle laat inskryf. En deur hierdie manne is die Skrifwaarhede in hul onderskeie vaderlande uitgedra.

Calvyn se skriftelike nalatenskap in Latyn en Frans beslaan ruim 60000 bladsye. ‘n Paar duisend van sy briewe is ook in die Opera Omnia (sy versamelde werke) opgeneem. Daarbenewens het hy sy kategismusse en ‘n groot aantal vlugskrifte gelewer (soos sy beroemde antwoord aan kardinaal Sadoletus).

Hy was ook voortdurend by belangrike kerklik-teologiese samesprekinge betrokke. ‘n Mens staan ten einde laas verbaas oor wat Calvyn in ‘n betreklik kort lewe van 55 jaar verrig het. Hiervoor is daar net een verklaring: God het deur sy Heilige Gees sy liefde op ‘n besondere wyse in Calvyn se hart uitgestort (Rom. 5:5).

Theodor Beza sê in sy lewensbeskrywing van Calvyn dat hy van nature ernstig was – ook in wat hy geskryf het. “Maar tog was daar niemand wat in die gewone omgang aangenamer was as hy nie.”

Johannes Calvyn is op 27 Mei 1564 oorlede. En daarvan sê Beza: “Op dié dag, toe die son onder gaan, is hierdie skitterende lig van ons weggeneem.”

*Bron: FJM Potgieter, Calvyn vir Vandag Dagstukke (Verenigde Protestantse Uitgewers)

Een oordenking uit Calvyn vir Vandag:

22 Mei  Lees: Psalm 23  SKAPE VAN SY WEIDE

Ons, u volk en u kudde, sal U altyd loof, van geslag tot geslag sal ons van u roemryke dade vertel. – Ps. 79:13

Al sien die gelowige ook dat hongersnood dreig omdat die oes doodgeryp het, die koue dit vernietig of die hael dit verwoes het, sal hy tog nie mismoedig word nie. Hy sal nie teen God murmureer nie, maar in hierdie vertroue volhard (Ps. 79:13).

Ons word tog deur die Here behoed en as sy skape in sy weivelde versorg. Hy sal ons dus na selfs die grootste misoes mildelik van kos voorsien. Al word die gelowige ook deur ‘n siekte geteister, sal hy nie deur die bitterheid van die smart gebreek word nie. Die gelowige sal gevolglik nie in ongeduld losbars en so met God twis nie. Inteendeel. Hy sal homself opwek om geduldig te wees deur in God se kastyding tog sy sagtheid en geregtigheid te erken.

Kortom, hy sal – wat ook al gebeur – alles met ‘n kalm en dankbare gemoed aanvaar. Want hy weet dat dit deur God se hand gebeur. Hy sal hom dus nie hardkoppig teen God se heerskappy – tot wie se beskikking hy homself eenmaal gestel het – verset nie.

Laat die Christen veral nie die volgende dwase en allerellendigste troos van die heidene (wat hul teëspoed aan die noodlot toeskryf) koester nie. Hulle wil so hulself teen onheil gerusstel. Hulle ag dit naamlik dwaas om vir die noodlot kwaad te word, aangesien dit doel­loos en toevallig sou wees. Hulle meen dit het sowel diegene wat dit verdien het, as dié wat dit nie verdien het nie, blindelings gewond. Daarenteen is dit die reël van die vroomheid: dat alleen die hand van God voorspoed en teëspoed bepaal en beskik. Dit oorval ons nie met onbesonne geweld nie. Wel word goed en kwaad op volmaakte wyse aan ons uitgedeel.

Inst. III, 7, 10

 Hoe goed is dit om te weet dat ons ‘n Vader het wat weet!”

Boeke van en oor Calvyn te koop by Pro Regno Boeke:

Kyk hier vir die pryse: https://proregno.com/2025/07/03/pro-regno-boeke-3-julie-2025-verkope/

Lees ook HG Stoker se: Calvinisme as wortel van ons volksbestaan 

Calvinisme as wortel van ons volksbestaan

Pro Regno skrywes van en oor Calvyn is hier beskikbaar: Johannes Calvyn

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑