POSTMA AS PREDIKER

Inleiding en voorwoord

1EK besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: 2verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; 3want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. 5Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ’n evangelis; vervul jou bediening.” (2 Tim. 3:13–4:5)

“In die eerste plek kan gekonstateer word dat Postma se prediking rondom die een groot hoofwaarheid sentreer het: die bloed van Jezus Christus reinig van alle sonde… Die onvermoë van die mens om self tot die saligheid te kom, beklemtoon hy baie sterk. … en daarom geld, volgens Postma, vir elke kind van God: “zalig die zich als zondaar, ja als de grootste der zondaars nederwerpt aan de voeten van Jezus.”  Dit bring ons as vanself by sy prediking van die Christus as die gekruisigde Verlosser. Christus is reeds in die O.T. “het voorwerp des geloofs en der liefde,” wat in die volheid van die tyd in die vlees verskyn het. In Hom het God sy “algenoegzame genade” openbaar. … die soewereine genade van God in Christus is trouens die grondtoon van die prediking van Postma en van heel sy lewe. …. Hierdie opbou van die gemeente en behoud van sondaars in Christus is egter ondergeskik aan en in diens van die einddoel van alle dinge: “de verheerlijking Gods”, of anders gestel, maar van dieselfde inhoud: “de opbouw der gemeente (Ef. 2:22; 4:11 e.v.; 1Kor. 14:3,5,12,26), en daarin de komst van het koninkrijk Gods, en in die komst de verheerlijking van de Naam des Heren.” (1 Kor. 1:26-31) ” – GCP van der Vyver 

Aflaai: Postma as Prediker

Ek wil hierdie boekie oor die prediking van Dirk Postma, en dus ook oor die prediking self, soos beskryf deur prof. GCP van der Vyver in sy skitterende werk, Dirk Postma: 1818-1990[1], baie sterk aanbeveel vir beide jong en ouer predikers. Ons as predikers, in liefde tot die Herder én sy skape (Joh. 10; 21:15-19), kan nooit genoeg leer van die genadige voorreg om die Woord van God, die evangelie van Christus, die ‘Wet en Evangelie’ soos Postma dit ook beskryf, te kan verkondig, ‘tydig en ontydig’.

As predikers moet ons lewenslank leer om ‘eerste vir onsself te preek’ en dan vir die gemeente en ten einde vir die ganse wêreld, en daarom die oproep van Paulus vir alle tye: “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.” (2 Tim. 2:15)

Die boekie is egter ook vir alle ampsdraers, en alle lidmate wat die verkondiging van die Woord liefhet, en ook die voete wat die wonderlike evangelie verkondig (Rom. 10:15). Ons mag ons nie skaam vir sy Evangelie of vir sy evangelie-dienaars nie (Mark. 8:38; Rom. 1:16,17; 2 Tim. 1:8,9), en daarom wil die Here se volk weet wat prediking is en behoort te wees, hoe die Woord verkondig moet word, wie die geroepe bekwame predikers moet wees (en nie mag wees nie, 1 Tim. 2:11-15!), waarvoor moet lidmate bid vir hul predikers, ens.

Hopelik kan die boekie ook gebruik word vir teologiese opleiding van ons teologiese studente, om opnuut ook te leer van ons ‘kosbare ou goud’: “Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.” (Hebr. 13:7).

Deur prof. van der Vyver se beskrywing word Dirk Postma se prediking self en prediking as onderwerp aangeraak, onder die belangrike temas:

–    die wese van prediking: die verklaring én toepassing van God se Woord, tot eer van God en die heil van die naaste!

–    Sewe eksegetiese reëls of vereistes van die prediking: o.a. die prediker moet wedergebore wees!

–    Beoordeling van Postma se prediking in terme van die inhoud, objek en doel van die prediking: Prof. van der Vyver is respekvol opbouend krities by sekere aspekte van Postma se prediking, wat goed is, want daar was net een volmaakte Prediker, Christus. So kan ons leer van alle predikers, ook in hul ‘foute en wanbalanse’. Ekself stem nie heeltemal saam met al die kritiek van (o.a dié van D. van Dijk waarna verwys word), asook van prof. van der Vyver self nie[2], maar dit raak nie die kosbare waarde en bydrae van hierdie boeke in sy geheel nie, inteendeel, dit bevestig dit nog meer, soos ons heeltyd leer deur die verdere reformasie van die prediking, ook vir ons tye.

Treffend in Postma se prediking is, en hierdie is my eie beskrywing: dat hy geen valse teenstelling tussen ‘uitverkiesing en verbond’ gesien of verkondig het nie, ook nie tussen die ‘objektiewe en subjuktiewe prediking’ aspekte nie (indikatiewe én imperatiewe prediking is nodig!)[3], tussen ‘ware leer én ware lewe’ prediking nie, tussen ‘troosryke én gerigsprediking’ nie, ens.

Dit is juis op grond van die troosvolle vaste ‘dogmatiese konfessionele waarhede’ begrond in die Woord, wat die persoonlike oproep en appél tydig en ontydig plaasvind tot geloof en bekering!

Ja, ons prediking is ten einde diep ‘piëtisties (godsvresend)’ maar nie ‘piëtisme’ (wêreldmyding) nie![4]

Die prediker self – verhewe eis, roeping en bekwaamheid, voordrag[5]: sien ook die humoristiese beskrywing van Postma van die ‘ampsgewaad’, wat hy meen aandag aftrek van die verkondiging van God se Woord.

–  Samevattende waardering van Postma se prediking deur prof. van der Vyver:

“Dat daar kritiese aanmerkinge gemaak kan word op die styl, homiletiese opset en inhoud van Postma se preke, het ons aangetoon. Dit neem egter niks weg van die feit dat hy beslis ʼn prediker was met ʼn besondere aanleg, versier met ryke gawes van hart en verstand. As ons nou in ʼn enkele woord ʼn waardering moet uitspreek oor die prediking van Postma, dan wil ons graag die karakteristieke tekening van die prediking uit die tyd van die Afskeiding 1834 deur G.M. den Hartogh met algehele instemming onderskryf as ʼn wesensgetroue en kernagtige weergawe, ook van die prediking van Postma: “Het ging in de Afscheiding om de prediking van zonde en genade.”  

Hulle, die predikers, het teruggegryp na [450] “de leer van ’s menschen dood in de zonde en van zijn verlossing uit vrije genade door het zoenbloed van Christus, in het geloof aanvaard.”   Ja, dit was inderdaad die kern van die prediking van Postma: Verlossing deur die geloof uit vrye genade alleen, om Christus ontwil. In ʼn eeu toe die Liberalisme, ʼn algemene versoeningsleer, en die Remonstrantisme, soos ons alreeds gesien het, menige preek in Nederland en ook in Suid-Afrika sy krag ontneem het, het Postma die blye Evangelie van “genade alleen” weer helder en suiwer laat hoor.”

Prof. van der Vyver, haal ook Postma op ‘n plek aan, oor die noodsaak om nie volgens (in my eie woorde): die tydsgees te preek nie, maar in en volgens die krag van die Heilige Gees, dus in ‘Gees en Woord’ prediking:

“So sterk beklemtoon Postma die feit dat die prediking “volgens de Heilige Schrift,” moet wees dat dit vir hom die onderkenningsteken is tussen die ware en die valse leraars: “En daaraan zullen de ware van de valsche leeraren ook onderkend worden, naamlijk of hunne leer uit God is, te weten, wanneer zij zich houden aan zijn Woord, niets zeggende buiten, veel minder tegen de Heilige Schrift.” Woordbediening is “bediening van goddelijke verordening, ʼn voortreffelijk” werk waarin die Woord van God vir die prediker die enigste inhoud en rigsnoer moet wees, sodat die bedienaar van die Woord nie in “arglistigheid” sal spreek “om menschen te behagen”, maar hom gebonde sal ag “alleen en altoos” aan “de woorden Gods.” En om hierdie bediening van die Woord “Gode behagelijk te verrichten,” mag die bedienaar van die Woord nooit “het Woord Gods vervalsenen. … Die Skrifondersoeker en -verklaarder moet self “een wedergeboren mensch” wees met “een godvreezend gemoed,” wat moet besef dat hy in die ondersoek en verkondiging van Gods Woord “dienaar” is van “den hoogen God.”

Mag die Here genadiglik die predikers van ons dag versterk, om te preek, in die vrese én liefde van God (2 Kor. 5:11-21): so sê die Here, tot lof van die Here en die redding van sondaarmense na sy vrye welbehae in krag van die evangelie van Christus, deur die krag van die Gees. En, mag die Here onder alle volke stamme en tale nasies predikers skenk wat Hom as enigste Koning en Verlosser erken en liefhet, en sy Woord sal bring, tydig en ontydig, terwyl ons almal 2 Tim. 4:6-8 najaag.

Tolle lege!

Slabbert Le Cornu[6]

Aflaai: Postma as Prediker

Die A5 gedrukte boekie kan ook by Pro Regno Boeke aangekoop word: R20-00 per boekie. 

Prof. GCP van der Vyver se boek: Dirk Postma, beskikbaar teen R90-00, ook by Pro Regno Boeke

_______________________

[1] Elektronies hier beskikbaar, met verdere inligting oor die boek, skrywer, ens.: https://proregno.com/2024/03/04/boekbekendstelling-professor-dirk-postma-1818-1890/

[2] Veral dat hy meen Postma het die ‘objek van die prediking’ = hoe die gemeente beskou en behandel moet word, nie heeltemal reg verstaan nie, sien my opmerkings by daardie afdeling, en in die ‘eindnota, bl. 42-45.

[3] Sien my eie studie daaroor: Heilshistoriese én Indikatiewe prediking, https://proregno.com/2010/06/30/heilshistoriese-en-eksemplariese-prediking/

[4] Sien ook hierdie artikel wat ‘n paar verder aspekte van Postma se teologie beskryf: “‘n Paar teologiese opvattings van Dirk Postma(1818-1890), hier: https://proregno.com/2010/07/21/n-paar-teologiese-opvattings-van-dirk-postma-1818-1890/

[5] Sien ook die kosbare boeke van Herman Bavinck, Welsprekendheid, wat predikers help in die ‘hoe’ of voordrag in  prediking: https://proregno.com/2024/12/20/bavinck-oor-welsprekenheid/

[6] https://proregno.com/about/

Verder skrywers oor prediking: Preke en Prediking

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑