BOEKBEKENDSTELLING: Professor Dirk Postma (1818-1890)

BOEKBEKENDSTELLING: Professor Dirk Postma (1818-1890)


Inleiding

Dirk Postma was die eerste leraar van die Gereformeerde Kerke in SA (1859), asook die eerste professor van die Teologiese Skool in Burgersdorp (1869). Die standaardwerk oor Dirk Postma, “Professor Dirk Postma (1818 – 1890)” (deur Dr. G.C.P. van der Vyver, Pro Rege Pers, 1958) is nou ook elektronies beskikbaar hier (met groot dank aan dr. Attie Bogaards se inisiatief om dit so beskikbaar te stel vir ons kerke en nageslag, en Willem Swanepoel wat al die harde werk gedoen het. Die harde kopie boek self is ook by my beskikbaar by Pro Regno Boeke, R100-00):

Professor Dirk Postma 1818 – 1890

Dr. van der Vyver se boek is nie net die geskiedenis van Dirk Postma, sy Nederlandse agtergrong en familie nie, maar ook die geskiedenis, redes, tye van die herstigting van die GKSA onder leiding van Postma en andere.  Die boek leer ons van die liberale tydsgees in die 19de eeu, die kerklike stryd daarteen op verskeie vlakke, die stryd oor die suiwer leer, erediens, tug, kerkregering en baie meer.

Ek kan die boek baie sterk aanbeveel vir elkeen wat meer wil leer van ons kerk maar ook volksgeskiedenis, om daardeur ook beter te verstaan waar ons vandaan kom, ons vandag die goeie stryd van die geloof in Christus te stry, deur sy Gees en Woord, ook in ons kerkverband vandag. Baie sake wat vermeld word, is vandag nog net so aktueel, sien die volgende artikels wat ek op grond van en/of uit dr. van der Vyver as bron verwerk het, saam ander bronne:

Pro Regno – Dirk Postma artikels

Sien veral hierdie artikel as samevatting van die bybels-teologiese denke van Postma:

‘n Paar teologiese opvattings van Dirk Postma (1818-1890)

Ek plaas ook van der Vyver se boek se voorwoord en inleiding hier:

VOORWOORD
Hierdie werk het aanvanklik gedien as akademiese proefskrif vir die graad Theologiae Doctor aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Met die voltooiing van hierdie studie is dit die behoefte van my hart om enkele woorde van dank uit te spreek.

Reeds in my voorbereidende studie aan die destydse Potchefstroomse Universiteitskollege vir C.H.O. is by my, met as hoofvak Geskiedenis vir die B.A. graad, meer belangstelling opgewek in die historiese wetenskap deur prof. dr. A.J.H. van der Walt. Aan die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika het ek die voorreg gehad om ingelei te word in die teologiese wetenskap deur professore C.J.H. de Wet, S. du Toit, en wyle die onvergeetlike professor J.D. du Toit. Ek dink aan hulle terug met diepe erkentlikheid en veral aan prof. S. du
Toit wat verantwoordelik was vir die vak Kerkgeskiedenis.

Aan u, hooggeagte promotor, prof. dr. J.P. Jooste, ʼn besondere woord van dank. U vriendelike welwillendheid en nougesette noukeurigheid waarmee u leiding gegee het by die voltooiing van hierdie studie, sal by my in dankbare erkentlikheid voortleef.

Dit is my ʼn behoefte om hier ook met dankbare erkentlikheid te meld van vriendelike hulp wat ek met die navorsing in Nederland ontvang het van prof. dr. G.M. den Hartogh van Kampen, wat my aandag op bepaalde aangeleenthede gevestig het. Sy belangstelling en die aangename verblyf in die huis van dr. en mev. D.J. de Groot van Kampen, het veel bygedra om die verblyf en arbeid in die vreemde te veraangenaam.

Die medewerking en hulp wat ek van die argivarisse van al die kerklike en staatsargiewe en van bibliotekarisse van biblioteke ontvang het, was my tot groot hulp. Een naam kan ek nie onvermeld laat nie en dit is Mnr. N. Venter, bibliotekaris aan die Teologiese Skool te Potchefstroom.

In dié verband wil ek ook graag met erkentlike dankbaarheid die naam noem van Prof. S.P. Engelbrecht wat my met tegemoetkomende welwillendheid en vriendelikheid toegang verleen het tot sy privaat argief.

Ek dink ook nog met groot dankbaarheid aan die tegemoetkoming van die kerke waaraan ek verbonde was en is. Die kerkraad van my vorige gemeente Pretoria-Brooklyn het my ses maande studieverlof toegestaan met die oog op navorsing oorsee, en die kerkraad van Bloemfontein-Suid twee maande voltyds en twee maande deeltydse studieverlof.

Weens die baie argiewe in Suid-Afrika en in die buiteland waar navorsing gedoen moes word, sou hierdie studie sonder hierdie tegemoetkoming nie voltooi kon word nie. My dank ook aan die Nasionale Raad vir Sosiale Navorsing, wat die groot finansiële laste aan hierdie studie verbonde, met ʼn ad-hoc toekenning ʼn weinig verlig het. My dank en waardering ook aan Mnr. J.P. Bingle van die Universiteit Pretoria, wat hierdie werk taalkundig nagesien het.

En nou ʼn woord van meer intiem-persoonlike aard.

Die nagedagtenis van wyle my dierbare vader en die belangstelling en opvoeding van my moeder was in my studieloopbaan vir my ʼn groot steun. Ek kan ook nie nalaat om hier van die inspirerende belangstelling te meld van my broers en susters en nie die minste van hom, my geliefde broer, wat kort voor die voltooiing van hierdie studie deur die dood weggeneem is nie.

Ook my skoonouers se belangstellende hulp leef by my voort in dankbare gedagtenis. Hierdie studie, met sy moeilike en uitgebreide studieprogram het hoë eise gestel aan my eggenote en twee dogtertjies. Veral my eggenote het haar groot opofferinge getroos. Vir haar steun en onbaatsugtige hulp my innige dank en waardering.

Maar bo alles, wil ek in ootmoedige dankbaarheid buig voor my getroue God en Vader wat my al die jare om Christus ontwil gedra het met sy gunsryke genade.

Aan Hom alleen die eer.

INLEIDING
Dit is ietwat bevreemdend dat daar nog geen biografie van prof Dirk Postma die lig gesien het nie. In Suid-Afrika neem hy in die geskiedenis van die Christelike kerke, as stigter van die Gereformeerde kerk, tog ʼn belangrike plek in. Daar is altans alle aanduidinge dat sodanige behoefte aan ʼn biografie van prof. Postma vir geruime tyd al leef in die hart veral van Gereformeerdes.

Reeds so vroeg as 1917 het wyle prof. F. Postma, in lewe rektor van die Potchefstroomse Universiteit vir C.H.O., ʼn begin gemaak met die insameling van stof met die oog op ʼn biografie van sy grootvader. In 1918 spreek wyle ds. Postma (dr. O’Kulis) die hoop uit dat daar wel nog ʼn studie oor die lewe van wyle sy vader gemaak sal word en, voeg hy daarby, “dit word hoog tyd.”

In 1929 spreek J.P. weereens die hoop uit “om nog later ʼn beskrywing te kry van sy lewe en werk,” en in 1944 gaan daar nogeens ʼn stem op van die Postma-familiefees dat sodanige biografie die lig moet sien.

Maar selfs in wyer kring was daar tekens van ʼn behoefte aan sodanige studie. As prof. Henry Beets van Grand Rapids, N.-Amerika, kennis neem van die reeds vermelde voorneme van prof. F. Postma, rig hy aan laasgenoemde ʼn brief hieromtrent waarin hy o.a. verklaar: “gij onderneemt een werk dat ook in Amerika zal gewaardeerd worden.”

En, ten slotte, in sy uitgawe van 8 Mei 1953 spreek die redakteur van “Die Brandwag” teleurstelling uit dat daar nog geen biografie oor prof. Postma verskyn het nie, veral ook met die oog op die eeufees van die Geref. Kerk in Suid-Afrika.

Uit bogenoemde enkele getuienisse is dit wel duidelik, dat veral in die hart van die
Gereformeerdes, ʼn behoefte aan sodanige studie bly voortleef het. Dit is te  Begrype. As stigter van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika leef prof. Postma in dankbare nagedagtenis voort by die lidmate van genoemde kerk en is die begeerte na meerdere kennis oor sy persoon en werk, veral in die lig van die naderende eeufees van die Geref. Kerk, eintlik ʼn vanselfsprekendheid.

Sy aandeel dus aan die stigting van die Gereformeerde Kerk, wat hom terselfdertyd ʼn belangrike plek gee in die geskiedenis van die Christelike kerke in Suid-Afrika, beklemtoon en regverdig vir ons die noodsaaklikheid en belang van hierdie studie.

Ten spyte van bogenoemde poging van prof. Postma en uitgesproke verwagtinge, is die hoop op ʼn biografie van Postma in die verlede nie verwesenlik nie.

In die kerkgeskiedskrywing in Suid-Afrika, meesal van populêre aard, is wel kortliks aandag gegee aan sy persoon en werk, veral in verband met die stigting van die Gereformeerde Kerk.

In besonder in verband met lg., is Postma ʼn veel omstrede figuur. Soos uit die verloop van hierdie studie sal blyk is alles en nog wat sy persoon en werk toegedig. Uit die weinige wat oor hom geskryf is spreek veral ʼn gebrek aan insig in sy Nederlandse agtergrond waar ʼn groot deel van Postma se lewe en arbeid lê.
In verband met laasgenoemde het prof. S.P. Engelbrecht ʼn verdienstelike en insiggewende artikel: “Ds. Dirk Postma voor sy koms in Suid-Afrika,” die lig laat sien. Hiernaas het enkele mededelinge oor sy lewe verskyn, maar tot ʼn volledige skets van sy lewe en arbeid het dit nooit gekom nie.

Deurdat ʼn skat van dokumentêre gegewens in ʼn groot aantal munisipale, (in Nederland genoem gemeentelike) kerklike, en staatsargiewe, sowel in Nederland as in Suid-Afrika, bewaar gebly het, is ons in staat gestel om ʼn geheelbeeld van die lewe en werk van prof. Postma weer te gee. In dié verband moet ons meld dat die nougesette presiesheid waarmee Postma self belangrike dokumente bewaar het, waarvan sommige soms letterlik opgeneem is in notuleboeke, veel bygedra het tot die voltooiing van hierdie studie.

Uit ʼn massa van argivale bronne, sowel in Nederland as in Suid-Afrika, kan tog enkele as die belangrikste aangemerk word. Uit die notules van kerkrade en meerdere vergaderings, het die kerklike lewe uit ʼn vêr verlede weer duidelik tot ons gespreek. Baie belangrike bronne word bewaar in die argief van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika in Potchefstroom, waarsonder geen historikus ʼn wetenskaplik verantwoorde beeld van Postma of die stigting van die Gereformeerde Kerk kan skep nie.

Ons dink veral aan Postma se “Reisjournaal”, die dokumente onder die hoof “Postma-versameling”, en verder aan ʼn menigte pamflette, briewe en persoonlike stukke van Postma wat nog ongeorden is. Dit, saam met veral “De Maandbode”
was onontbeerlike bronne van informasie. In Nederland dien ook nog vermeld te word die twee kerklike blaaie “De Stem” en “De Bazuin”.

Wat sy optrede in Transvaal aanbetref, het die Staatsargief, Pretoria, veral in die stukke van die Staatsekretaris, belangrike gegewens na vore gebring. Ten slotte enkele opmerkinge oor die indeling van die stof. Die lewe en werk van Postma val,
vanweë sy vertrek uit Nederland na Suid-Afrika, baie duidelik uiteen in twee tydperke: die eerste in Nederland 1818-1858 en die tweede in Suid-Afrika 1858-1890. Ons het dit dan ook goed gedink om die stof sodanig te verdeel in ʼn Afdeling A en B. Hoewel Afdeling B, sy lewe en arbeid in Suid-Afrika, as die belangrikste beskou kan word, wil dit geensins sê dat die deel van sy lewe in Nederland as onbelangrik geag moet word nie. Afgesien van sy betekenis vir,
en plek in die kerklike lewe van die Nederland van sy tyd, ag ons dit veral as ʼn agtergrondstudie as onontbeerlik vir ʼn histories verantwoorde perspektief op sy optrede in Suid-Afrika. Al is dit dus twee Afdelings vorm dit tog een samehangende geheel.

In Afdeling A word sy afkoms en jeug, sy aandeel in die opbou van, en plek in die kerk van die Afskeiding 1834 behandel, en dan sy afvaardiging en vertrek na Suid-Afrika. In SuidAfrika is veral toegespits op sy aandeel in die stigting van die Gereformeerde Kerk, in die vestiging en opbou daarvan as predikant en later as professor aan die Teologiese skool. Die belangrikste hoofstuk is seker die wat handel oor Postma en die stigting van die Gereformeerde Kerk.

Ons wil hier met klem die aandag daarop vestig dat hierdie hoofstuk nie pretendeer om ʼn volledige histories-kritiese studie oor die stigting as sodanig te wees nie. Dit gaan hier om die plek van Postma daarin, en hiermee hou ons in besonder in hierdie hoofstuk rekening. Dat hierdie hoofstuk ʼn ruim deel van hierdie studie beslaan kan wel begryp word. Ons moes by sekere aspekte van die stigting van die Geref. Kerk breedvoeriger stilstaan om Postma en sy optrede in dié verband, in woord en daad, in die regte perspektief te sien.

Ons volg in hoofsaak die kronologiese gang van gebeure. Tussenin, sonder om die groter kronologiese geheel te skaad, word temas soos versoeningspogings in Nederland, opleiding, sending, en christelike onderwys, afsonderlik behandel waarop die aandag en arbeid van Postma in besonder toegespits het.

Ons sluit af met ʼn studie oor Postma as prediker, sy geslag, sy lewenseinde en ten besluite samevattend sy karakter, persoon en betekenis. Aan die einde word enkele bylae en ʼn volledige lys van geraadpleegde bronne gepubliseer.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑