ALWEER DIE EINDTYE: AFRIKAANSE BRONNE OM TE LEES IN EINDTYD VRESE

ALWEER DIE EINDTYE: AFRIKAANSE BRONNE OM TE LEES IN EINDTYD VRESE

In die lig van nog ‘n ‘Wegraping’ datum, 23/24 September 2025, wat gekom en gegaan het, en wat baie mense mislei het, is dit belangrik om opnuut toegerus te wees oor wat die hele Skrif leer oor die ‘eindtye en einddinge’. Daar is ‘n magdom engelse en nederlandse literatuur beskikbaar, maar hier onder noem ek ‘n paar wat in Afrikaans beskikbaar is, wat ek by my gemeente aanbeveel het toe ekself deur die boek Openbaring gepreek het (afwisselend tussen 2018-2021).

Let wel, die lys probeer glad nie volledig wees en noodwendig alle eskatologiese skrywers en standpunte weer te gee nie, dit is hoofsaaklik amill van aard, terwyl ek myself beskou as iewers tussen postmill en amill, inteendeel ek dink ek is ‘n “optimistiese amill” of “pessimistiese postmill”, albei standpunte val binne die gereformeerde belydenis (sien terme verduidelikings hier onder wat ek aanbeveel om te lees).

Eskatologie in terme van postmill, premill of postmill, is nie ‘n verlossingskwessie opsigself nie, maar wel ‘n baie belangrike gehoorsaamheidskwessie wat ons roeping en taak as gelowiges in die ganse lewe, ons siening van die koninkryk van God geweldig beinvloed. Dit beinvloed ook ons lewens- en wêreldbeskouing, en gelukkig is baie van ons nie altyd konsekwent met ons eskatologiese sienings nie, want baie wat sekere eskatologieë het wat baie pessimisties is, is nogsteeds getrou om die evangelie en bybelse wereldbeskouing orals te proklameer en tydig en ontydig besig te wees op die ‘sinkende skip’. Baie ‘verloorders’ se hele lewe is as’t ware as wenners, meer as oorwinnaars in sy diens, en dan is daar weer ander wat ‘n optimistiese eskatologie het, maar as’t ware niks doen nie en bloot wag vir die wegraping en wederkoms, ens.

My oortuiging is dat ons getrou moet wees, en orals tydig en ontydig die Woord en evangelie sal bring (2 Tim. 3:14-4:8) in dankbaarheid vir ons verlossing in Christus, tot eer van ons Vader, in die krag van die Gees, ongeag wat die profesieë oor die eindtye is en gaan wees volgens God se Raadsplan soos dit ontvou deur die geskiedenis tot die voleindig, die Luther beskouing van as die Here môre kom, plant ek vandag ‘n boom, ens. Die HK Sondag 9 en 10 gesindheid van Daniel se drie vriende om in alle tye en omstandighede die Here te dien en ons naaste lief te hê en van Jesus te vertel, sien Dan. 3:17,18.

So hier is ‘n paar Afrikaanse bronne om te bestudeer:

Inleidend en oorsigtelik, sien hierdie artikel, wat die verskillende sienings kortliks verduidelik, sien veral “Chiilasme: terme en verduidelikings”: 

https://proregno.com/2014/10/10/rapture-and-left-behind-fever-die-leer-van-die-einddinge/

Prof. WJ Snyman se verskillende artikels oor Openbaring in sy boek ‘Nuwe en Ou Dinge’: ek plaas dit hier onder om te lees, kosbare leesstof om die groot raamwerk van die boek Openbaring raak te sien!

Ds. MJ Booyens, Kom Here Jesus: Openbaring oordenkings

Prof. Willem Hendriksen, Meer as Oorwinnaars

Dr. Thinus Du Plessis, Bybelstudie – Openbaring

Prof. VE d’Assonville, Die Boek Openbaring

Dr. EP Groenewald, Die Boek Openbaring

Ds. Hanan Viljoen, Die Einddinge

Enige boeke van dr. Jan Durand oor die onderwerp: A-Z van Openbaring; Die Einde; Openbaring bybelstudie boek van Bybelkor

My eie skrywes oor eskatologie en ander bronne hier: https://proregno.com/category/einddinge/

Sommige van bogenoemde boeke is beskikbaar by Pro Regno Boeke, doen gerus navraag, en sommige is aanlyn elektronies ook beskikbaar: https://proregno.com/category/pro-regno-boeke-te-koop/

Ek het klompie jare gelede reeds hierdie skrywe hier op Pro Regno geplaas, ek plaas dit weer in die lig van nuutste gebeure wat die ‘eindtyd debat’ raak:

“‘n Paar skote klap in die Midde-Ooste, en al wat ‘n ‘Eindtyd blokkiesraaisel en bible code profeet’ is weer wakker geskud om ons te vertel die tyd is nou! Wel, die tyd is van altyd af nou vir ons, “VANDAG as jy sy stem hoor…!”, ja Christus regeer nou reeds, en ons moet ons nou en elke dag bekeer, en uitsien na sy wederkoms, terwyl ons hard werk, bid en die evangelie aan alle volke bring: Christus, sy kerk, die evangelie aan alle volke is die fokus … nie wat uit ‘my profetiese glasbal’ uitgevryf kan word en ‘verkoop’ kan word nie. … nie my obsessie om ‘end time’ debatte te wen nie!”

Ek het reeds in die verlede geskryf en/of bronne vermeld oor eskatologie, eindtye, chiliasme, dispensationalisme, Israel se toekoms, die boek Openbaring, ens., en gaan nie weer alles herhaarl nie.  Ek wil egter wel uit al die ou bronne, die volgende belangrike bron as baie goeie oorsig en vertrekpunt aanbeveel by elke gelowige, mag die Here jou deur die bestudering van hierdie bronne, wat jou na die Skrif alleen vat, jou opnuut bemoedig om die goeie stryd van die geloof te stry tot die laaste dag … wat enige dag vir jou en my kan wees …. (2 Tim. 3:14-4:5; Judas 3).

PROF. WILLIE J. SNYMAN SE SKRYWES OOR DIE BOEK OPENBARING, DIE DUISENDJARIGE VREDERYK EN CHILIASME

“Met Efese, is die groot teenstelling. “Efese, jy het jou eerste liefde verlaat” — dis die begin van alle deformasie. Uiterlik is alles nog reg, maar as jy van bo diep inkyk, soos Christus die Bruidegom kyk, ‘sien jy dat die eerste liefde weg is. Dit is die begin van die assimilasie, die integrasie van die kerk in die wêreld.”

Dit is oud-prof Willie J. Snyman (in lewe, NT professor by die Teologiese Skool, Potchefstroom) se treffende woorde oor waar alle deformasie persoonlik, gesin en gemeente begin…. iets om oor te besin vir ons ‘eindtye’.

Prof. Willie sien die duisend jaar van Op. 20 as simbolies van aard in die konteks van die hele boek se literatuuraard, nl. dit wys op die tydperk tussen die eerste en tweede koms van Christus, maar hy ontken nie die ‘moeilikhede’ wat daar nog is oor die saak nie:

“Eksegeties meen ons uit te maak dat hierdie duisend jaar val saam tussen die eerste en tweede koms van Christus. Daarmee wil ons nie beweer dat alle moeilikhede opgelos is nie. In alle geval moet ons daarvan geen dogma maak nie. Daar is probleme, die geskiedenis sal dit vir ons oplos. Dit mag wees dat ons hier te doen het met simboliek of ‘n toekomstige stuk geskiedenis. Die getal 1000 sal simbolies wees.”

Sien sy artikels in sy saamgestelde werk (deur sy studente?), Nuwe en Ou Dinge, wat aanlyn beskikbaar is, asook hierdie ‘In die Skriflig’ artikels (ek is nie seker of dit opgeneem is in NOD nie?):

A. Die Openbaring van Johannes teenoor die afvallige leringe vandag: drie lesings

“Die versoek is om voordragte te gee oor die boek Openbaring. Dit is ‘n heel groot bestelling en groot saak om af te handel in enkele lesings. Daarom bring ek dit in die vorm van konsentriese sirkels; en omdat dit dan drie lesings moet wees, doen ek dit in drie konsentriese lesings:

1) Die plek van die boek Openbaring in die geskiedenis van die openbaring.

2) Die boek Openbaring self — die struktuur daarvan.

3) Die boek Openbaring besien vanuit die sentrum.”

Hier het ek prof. Willie se lesings op my blog geplaas en bietjie bespreek en toegepas, onder die volgende temas, om daarmee te wil wys wat moet ons juis uit die boek Openbaring leer vir ons tye … dit is nie ‘n ‘toekomstige blokkiesraaisel of bible code’ speletjie nie:

1. Die ‘social gospel’ en bevrydingsteologie (SARK/WRK)

2. Teen die Bultmannianisme (die Nuwe Hervorming antropologie wat die liggaamlike opstanding en ander Bybelse waarhede soos saamgevat in die Apostoliese Geloofsbelydenis verwerp)

3. Die deformasie en verval van die kerk

4. Natuur en genade dilemma

5. Die gebed van gelowiges en die prediking

6. Chiliasme (Op. 20)

7. Evolusionisme

Sien my opmerkings en aanhalings hier:

Die Openbaring van Johannes teenoor die afvallige leringe vandag

B. Sien die volgende artikels van prof. Willie wat eers in die Kerkblad verskyn het en toe in sy saamgestelde werke uitgegee is (Nuwe en Ou Dinge):

1. Oor die Komende Dinge

“Die heersende opvatting in ons Gereformeerde Kerk is ongetwyfeld die sg. “geestelike”, dat die Duisendjarige Ryk sien op die tydperk tussen die verhoging van Christus tot met sy wederkoms. Dit is egter nie die enigste toegelate opvatting nie. Dit het duidelik geblyk by die toetreding van die gemeentes onder die Kruis, wat oorwegend die “letterlike” opvatting toegedaan was, dat dit naamlik sien op ‘n periode van duisend jaar, wat ons nog moet verwag in die toekoms.”

2. Die Komende Dinge: ‘die duisendjarige ryk’ in die algemene trekke

“Ons het hiermee so ‘n saaklike moontlike oorsig gegee van voorstellings in verband met ‘n toekomstig-letterlike “Duisendjarige Ryk”. Op enkele besonderhede hoop ons terug te kom, ook in verband met vrae wat ons intussen ontvang het. Uit wat gegee is, behoort die volgende duidelik te wees: Dat ons moet oppas om nie met ons menslike eensydighede teenstellings te skep wat die Skrif nie ken nie, bv. tussen letterlike en geestelike verklaring, Kerk en Israel, vervulde en onvervulde profesieë. Profesieë kan verskillende dieptes hê. Dieselfde profesie kan vervul en ook nog onvervul wees. Die letterlike sin kan ook nog ‘n geestelike diepte hê, sonder dat daar die minste aan die letter afbreuk gedoen word. Profesieë wat betrekking het op Israel kan oorgebring word, en word inderdaad deur die Skrif oorgebring op die Kerk.”

3. Die eindevangelie (preek: Op. 14:7b)

“Ons tyd is seker nie gekenmerk deur afwesigheid van vrees nie. Inteendeel. Vrees is die kenmerk van ons tyd. Ons kan ons eeu beskryf as die eeu van angs. Maar juis nie van vrees vir God nie maar van mensevrees: vrees van die een mens vir die ander; van die een volk of ras vir die ander. Wat is oorsaak en wat gevolg? Het mensevrees die plek kom inneem van vrees vir God of die vrees vir God heeltemal verdring? Dit is die een sowel as die ander. Omdat die mense God nie vrees nie, daarom is hulle uitgelewer aan mekaar. Nou gaan die vrees vir God ook heeltemal skui.1 agter die vrees van die mense vir mekaar. Hulle is meer bevrees vir mekaar as vir God.”

slc opmerking: vandag is dit nog steeds ‘vrees vir mense’ en die …. ‘covid vrees’ wat mense so angstig maak, omdat daar geen vrees en vertroue op die God van Romeine 8:28-39 is nie? 

4. Die simboliek van die getalle in Openbaring

“Dit word dikwels gesê dat die boek Openbaring verwarrend is. In sekere sin is dit waar. Dit bevat wêreldgeskiedenis, en die wêreldgeskiedenis is dikwels baie verwarrend, soos nóü weer. Dit is nie altyd maklik om die deurlopende lyne in te sien nie. Tog is dit daar. Dit is die volvoering van God se raadsplan waar alles vas en seker is. So ook Openbaring. By nadere beskouing blyk dat ons hier te doen het met ‘n goddelike kunswerk, waarby elke onderdeel pas in die geheel en alles bereken is tot in die kleinste besonderheid. Dit blyk veral uit die getalle. Ons het hier ‘n heilige getalleleer. Die regte insig kan ons alleen kry deur die Heilige Gees (Openbaring 13:18). In Openbaring kom slegs sekere getalle voor. Dit is die volgende: 3; 3½ ; 4; 7; 10; 12; 24; 42; 144; 666; 1 000; 1 260; 1 600; 144 000. Dit is nie maar willekeurige getalle nie. Ons kan al hierdie getalle herlei tot drie, nl. 3, 4, 10. Hieruit is al die ander op een of ander wyse saamgestel. Ons let dus eers op hierdie drie getalle.”

Sien al die artikels in prof. Willie se boek: Nuwe en Ou Dinge

Eie opmerkings en Openbaringpreke

Prof. Willie fokus in al sy lesings en artikels op die ‘groot openbaringshistoriese lyne’ van die boek Openbaring, wat soveel belangriker is as sekere detail waaroor die kerk deur die eeue nog altyd kop gekrap het, ek sal prof. Willie se artikels sterk aanbeveel vir enige een wat ‘n studie begin oor Openbaring, om ‘n goeie oorsig te kry in terme van die verstaan daarvan in die lig van Hand. 17:11 oproep.

Ekself hoop om DV iewers in Junie klaar te maak met my eie preek reeks uit die boek Openbaring, wat ek terug in Julie 2018 begin het (maar nie elke Sondag oor gepreek het nie), ek volg ook die groot openbarings-historiese lyne, probeer nie om in detail te verval nie, wat na my mening meer vir Bybelstudie bedoel is. Die preke was en is nog so bemoedigend vir my persoonlik en ek glo en vertrou ons hele gemeente, om die groot troosryke waarheid oor en oor te leer, waaroor die boek Openbaring sentraal gaan:

“Die Verlossers-Koningheerskappy en oorwinning van God die Vader, in ons Here Jesus Christus, deur die krag van die Heilige Gees, tot lof van sy Naam en heil van sy uitverkore volk, die Kerk van Christus deur alle eeue tot die laaste dag”

Die boek is en was nooit bedoel as ‘blokkies raaisel’ of ‘Bible code’ speletjie nie,  om ‘gloom en doom’ angs aan te blaas en sensasies te soek nie.

Mag die Kerk van Christus opnuut getroos word, as ons aanhou uitroep midde die goeie stryd van die geloof tot die laaste dag: Kom Here Jesus, ja, kom gou! Amen.

______________________

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑