Die boek Openbaring word baiemaal vandag los van sy openbaringshistoriese konteks gelees, dit wil sê waar die boek inpas in die koms van die Koninkryk van God in Jesus Christus, soos geopenbaar in die Heilige Skrif, veral die Nuwe Testament. Met die herlewing van die chiliastiese dispensationalisme in ons land, is dit goed om opnuut te leer waar die boek Openbaring inpas in die res van die openbaring van God se Woord, en nie primêr waar ons dit wil maak inpas in vandag se politieke en ekonomiese gebeure nie.
Ja, natuurlik spreek die Woord van God tot alle tye, en daarom moet ons ons lewens en gebeure lees in die lig van die Skrif (openbaringshistoriese verklaring), en nie die Bybel lees in die lig van ons gebeure nie (sosio-historiese verklaring), d.w.s. ons tye mag nie bepaal hoe ons die Skrif lees nie, die Bybel spreek ons en ons tye aan. Die Bybel kritiseer ons, nie ons die Bybel nie, die Woord deur sy Gees bepaal hoe ons die Skrif moet verstaan en toepas in ons lewens.
Prof. Willie Snyman help ons hierin, in drie lesings wat hy gegee het baie jare gelede, en wat in die teologiese tydskrif, In die Skriflig, gepubliseer is. Hier is die voorwoord:
“Die versoek is om voordragte te gee oor die boek Openbaring. Dit is ‘n heel groot bestelling en groot saak om af te handel in enkele lesings. Daarom bring ek dit in die vorm van konsentriese sirkels; en omdat dit dan drie lesings moet wees, doen ek dit in drie konsentriese lesings:
1. Die plek van die boek Openbaring in die geskiedenis van die openbaring.
2. Die boek Openbaring self — die struktuur daarvan.
3. Die boek Openbaring besien vanuit die sentrum.”
Die artikels probeer dus geensins ‘n detail verklaring te wees van die boek Openbaring nie, maar probeer die breër raamwerk, die openbaringshistoriese raamwerk te gee waarbinne die boek verstaan, verklaar en toegepas moet word. Druk gerus hierdie lesings uit en bestudeer dit in gebed en met ‘n oop Bybel (Hand.17:11; 2 Tim.2:15):
Ek gaan hier ‘n paar aanhalings uit die drie lesings vir u deurgee, om u te wys hoe aktueel prof. Snyman se skrywe is vir ons tye waarin die valse leringe al hoe meer toe neem. Hy waarsku oorsigtlik:
“Samevatting van die algemene sendbriewe: dit handel oor die verborgenheid van die koninkryk — nie van die wêreld nie, maar in die wêreld.
Daar is tweërlei bedreiging van die koninkryk deur die eeue:
i. om die koninkryk van God in te trek in hierdie wêreld, en in die wêreldgeskiedenis — integrasie van die koninkryk;
ii. dat die koninkryk van God losgemaak word van die geskiedenis — isolering van die koninkryk.”
1. Die ‘social gospel’ en bevrydingsteologie (SARK/WRK)
Wat die integrasie gevaar betref, waarsku prof. Snyman teen die dwalinge wat die koninkryk van God nie raaksien in die wonder van die wedergeboorte nie, en die koninkryk iets wil maak wat ‘van’ hierdie wêreld is (kontra Joh.18:36) waarin die ‘antitese’ verlore gaan (kontra Gen.3:15), die kerk die wêreld moet akkomodeer sonder die eis van geloof, bekering en gehoorsaamheid. Hy noem dit nie by name nie, maar hier verwys dit sekerlik na die opkoms van die ‘social gospel’, die bevrydingsteologie-ideologie, en die opkoms van evolusionisme wat ons land begin oorneem het in die 70’er jare en daarna en vandag as ‘christelik’ beskou of ge-akkomodeer word. Hy skryf:
“Grondgedagte: die koninkryk is nie van hierdie wêreld nie. Wat is die koninkryk van God in hierdie wêreld? Dit is ‘n inplanting van ‘n nuwe lewe, van die wedergebore lewe (1 Petr. 1:3, vgl. Joh. 1:21). Die koninkryk wat ingeplant is in hierdie wêreld, word verwerp soos die siek liggaam ‘n gesonde orgaan wat oorgeplant is, verwerp. ‘n Siek en sterwende wêreld verwerp die koninkryk.
Daarom gaan dit in 1 Petrus — die verworpe steen. Dis nie God wat die wêreld verwerp het nie, dis nie Christus wat sy volk verwerp het nie — dis die wêreld wat God verwerp het, en dit is die volk wat die Christus verwerp het. Dit leer die geskiedenis vir ons.
So kom daar ook ‘n kerk — ‘n kerk is daar deur verwerping.
Dis omdat die wêreld die Evangelie nie aanneem nie; omdat almal nie Christus aanneem nie. Daarom praat Petrus van die verworpe steen; en: “laat julle bou as lewende stene” op die “verworpe steen”. So word ‘n kerk gebou — ‘n koninkryk wat nie van hierdie wêreld is nie, maar in die wêreld is, maar wat die wêreld verwerp omdat hy van God afvallig geword het (1 Petr. 2:1—10).
By 2 Petrus en Judas kry ons die volle openbaring van die sonde wat tot rypheid gekom het. Die geskiedenis van die openbaring is ook geskiedenis van die sonde, verborgenheid van die sonde (soos in die verborgenheid van die koninkryk) en die werkinge daarvan.
Judas en 2 Petrus toon die toppunt — dit is wanneer die sonde hom klee in die kleed van die genade; wanneer die genade ‘n middel word om ons in ons sonde te bevorder. Soos Judas dit sê: om van die genade wetteloosheid te maak en dit te verander in ongebondenheid. Die twee soorte water van Jakobus het nou waterlose fonteine geword, miswolke (2 Petr. 2:17).”
Veral die laaste opmerking is treffend: vandag se ‘populêre Christendom’ word nie gekenmerk aan die Skriftuurlike ‘sonde-verlossing-dankbaarheid’ openbaringshistoriese lyn en antitese nie, maar of ‘n mens vir of teen apartheid is/was, m.a.w. een of ander ‘sosiale norm’ het God se wet vervang. ‘Crimes against humanity’ het die sonde en opstand teen God en sy gebod (Ps.2) vervang. Heel konkreet, Mandela aanbidding het Godsaanbidding vervang.
Maar, prof. Snyman waarsku in sy tyd profeties ook teen die ‘isolering’ van die koninkryk van God in hierdie wêreld:
2. Teen die Bultmannianisme (die Nuwe Hervorming antropologie wat die liggaamlike opstanding en ander Bybelse waarhede soos saamgevat in die Apostoliese Geloofsbelydenis verwerp)
Prof. Snyman skryf treffend, asof hy deelneem in vandag se gesprekke met die Nuwe Hervorming ideologie (beklemtoning bygevoeg):
“ Dit bring ons by die anti-christendom; dit is die valse christus in die gedaante van die evangelie en in die gedaante van die christendom. … Hier gaan dit teen die skeiding van die geskiedenis (die wêreld) en die koninkryk. Daarom lê Johannes so geweldig nadruk op die werklikheid van die vleeswording (1 Joh. 4:2, 3; 2 Joh. 1:7); op die werklikheid van die versoening (1 Joh. 1:7; 2:2; 4:16), en op die historiese werklikheid van die opstanding — “wat ons met ons oë gesien het, met ons ore gehoor het en met ons hande getas het, dit verkondig ons vir julle aangaande die Woord van die lewe” (1 Joh. 1:1—4). Want maak ons die openbaring los van die geskiedenis en word die werklikheid en die vleeswording en opstanding geloën, dan is die liefde van God nie werklikheid nie (1 Joh. 4:9).
Dit is die werklikheid van die liefde van God dat Hy sy Seun gegee het, en dat dit sy Seun is wat gely het en gesterf het in die menslike natuur, en vir ons die ewige straf gedra en oorwin het, en wat weer sal kom om die lewende en dode te oordeel.
Johannes is die apostel van die liefde. Hy lê nadruk op die liefde, die broederliefde. Hier is die wortel daarvan. Die liefde van God vir ons (1 Joh. 4:10, 11).
Dis die twee lyne van die anti-christendom. Die anti-chris is diegene wat loën dat Christus werklik in die vlees gekom het, en wat die werklikheid van die koninkryk van God in die geskiedenis se realisering ontken.”
Die gelowige, die kerk van ons Here Jesus Christus moet dus vandag nog getrou beide die integrasie én isolasie van die Koninkryk van God verwerp, in gehoorsaamheid aan Judas 3.
Prof. Snyman vervolg verder met ‘n verdere stuk teen die ‘Integrasie Christendom’, wat ook die ‘Segregasie Christendom’ van die Nuwe Hervorming aanspreek:
“Die Bybel waarsku ons teen die intrekking van die koninkryk van God in die geskiedenis. Integrasie beteken die vernietiging van identiteit. Dit word toegepas op die koninkryk en op Christus. Dis ‘n integrasie-christendom. Christus se identiteit het met sy dood verdwyn — Jesus het maar net opgestaan in die geloof en in ‘n nuwe mensheid wat deur Hom opstaan.
Daarteenoor lê die Bybel alle nadruk op die identiteit; die identiteit van Christus wat deur die dood nie vernietig is nie, want die Here Jesus sê na die opstanding “ego autos”, dit is Ek, dit is Ekself (Luk. 24:39). Dit is die verskrikking vir die wêreld wat sy hande aan Christus geslaan het dat Hy opgestaan het uit die dode en dat Hy gesê het: “dit is Ekself’. Die Bybel leer: geen identiteitsvernietiging nie — selfs nie vir die ongelowige nie (Openb. 6:12—17, vgl. 2 Kor. 5:10). Dit is die betekenis van die geloof in die opstanding uit die dode. Val die opstanding en wederkoms weg dan is ook die fondamente onder hierdie hele lewe, ook die sedelike lewe, weg.
Waaragtige verantwoordelikheid bestaan alleen wanneer daar identiteitsbehoud is, en dat elke individu sy rekenskap sal gee, en gestel sal word voor God en sy Gesalfde. Maar die Regter wat sal kom om te oordeel is ook die Lam van God, en so roep die Skrif ons ook altyd tot die genade in die bloed van die Lam wat ons reinig van al ons sondes (Openb. 5:5, 6).”
In sy uiteensetting van die raamwerk van die boek Openbaring, verwerp hy die volgende verdraaiinge van die Koninkryk, ook die evolusie:
“Die boek Openbaring is moeilik om te verstaan — daar is so baie simboliek. Die gevaar is groot dat ons alles simbolies gaan verklaar, en die boek Openbaring gaan sien as ‘n simboliese voorstelling van die deurwerking van die eerste koms, dat daar eintlik maar net een koms is van die koninkryk — naamlik die eerste koms van Christus.
Die opstanding van Christus is dan dat Hy opstaan in die gelowige en in die toekomstige nuwe mensheid. Hierdie beskouing van die ewolusionisme integreer die koninkryk in die geskiedenis.
Andersyds kan die historiese en bo-historiese geskei word, en die koms van die koninkryk dan gesien word as die inslaan van die ewige in die tydelike; dat die net een kontak tussen die ewige en tydelike die persoonlike individuele belewing is; dat daar nie iets plaasvind in die geskiedenis nie en dat die verlede en toekoms van die koninkryk saamtrek in die hede.
Die koninkryk van God word losgemaak van die geskiedenis; dis maar net ‘n eksistensiële belewing; alle nadruk val op die hier en nou.
By die evolusionistiese beskouing is die hede eintlik niks nie — die hede is maar ‘n oorgang van die verlede na die toekoms.
Die eksistensialisme lê weer alle nadruk op die hede — toekoms en verlede word saamgetrek in die hede.
Vanweë hierdie verklarings van die simboliek is dit so nodig om die lyn van die wederkoms deur die hele Nuwe Testament vas te hou.
Die beginsel dan vir die benadering van die Openbaringboek is om van dit wat duidelik is te kom tot dit wat minder duidelik is — Skrif met Skrif verklaar. ‘n Mens moet die boek Openbaring benader vanuit die geskiedenis van die Openbaring.”
3. Die deformasie en verval van die kerk
Prof. Snyman, met verwysing na die sewe briewe aan die gemeentes in Op. 2 en 3, wys waar alle deformasie begin, en hoe dit verder ontplooi:
“Met Efese, is die groot teenstelling. “Efese, jy het jou eerste liefde verlaat” — dis die begin van alle deformasie. Uiterlik is alles nog reg, maar as jy van bo diep inkyk, soos Christus die Bruidegom kyk, ‘sien jy dat die eerste liefde weg is. Dit is die begin van die assimilasie, die integrasie van die kerk in die wêreld. …
Die kandelaargesig simboliseer die sewe gemeentes. Wat ons hier sien is dat Christus sy kerk vashou, want die sewe gemeentes simboliseer die hele kerkgeskiedenis, van Efese (die gemeente van die eerste liefde) tot Laodicea (die kerk in die laaste tyd). Dit laat die strydende kerk sien; dit laat ons die deformasie in al sy vorme sien — vanaf die gemeente van Efese, die eerste begin van die afdwaling. En waar begin die afdwaling van die bruidskerk, want dit is die bruidskerk? Daar waar sy haar eerste liefde verlaat het, waar Christus alleen kan sien, wat oë het soos vlammevuur; Hy sien die hart aan; Hy sien die heel begin van die afdwalinge. En daar waar die eerste verkoeling is van die liefde, sien Hy dit raak, en dit is die begin waar die pad uitmekaar gaan, en op die pad gaan dit van kwaad na erger, en dit eindig met die kerk in Laodicea — nog koud, nog warm; daar waar die valse kerk heeltemal beslag gelê het op die kerk van Christus.
Al die vorme van deformasie kom voor — inwendige: die verleiding van die kerk, en uitwendige bestryding van die kerk (wat gesimboliseer word in Smirna en Filadelfia), vervolging wat die kerk deurgemaak het, veral in die eerste eeue, en later in die tyd van die Reformasie, martelaarskap — en aan die einde sal die tyd weer aanbreek.
Daar is dus inwendige (verleiding) en uitwendige (vervolging) bestryding van die kerk.
Nou is die troosryke dit om te weet: ons hou nie die kerk vas nie, ons dra nie die gewig van die kerk nie. Dit is die eerste vergesig wat ons kry hier vanuit hfst. 10 en 11: Christus hou sy kerk vas; en daarom sal die kerk bly tot die einde toe, en, iets wat mens dikwels vergeet is dat Christus ook nog die ster vashou in Laodicea, en dat Hy ook die mees afgedwaalde kerk, Laodicea, nog nie afgeskryf het nie. Ook daar hou Hy nog die kerk vas.
4. Natuur en genade
Teenoor beide die integrasie en isolasie ‘Christendom’ (waarin die natuur die genade, of die genade die natuur opvreet), stel prof. Snyman dit dat die koninkryk nie net individue nie, maar huisgesinne en volke omvat, in hul uitverkorenes, d.w.s. die genade heilig die natuur:
“So het Johannes die hele geskiedenisvraagstuk saamgevat by die verkondiging van die koninkryk van God.
Die verseëldes (Openb. 7) die sê: nasies sal bestaan, want Johannes sien in die visioen die verseëldes uit Israel; en in die tweede deel van hoofstuk 7 sien hy die verseëldes uit alle volke, tale en nasies.
Dis nie individuele gelowiges wat gered word nie; dis nie die gelowiges wat losgemaak word uit die nasies om gered te word nie, en die nasies maar te laat verdwyn nie (soos ons vandag hoor dat nasies moet verdwyn, en dat ons een egalige, eenvormige nasielose mensheid kry nie — om te kan bestaan. Want, sê hulle, die nasies en die verskille tussen nasies is juis die ondergang van die mensdom). Daarom is die wêreld so ontevrede met ons — omdat ons vashou aan die nasiegedagte en die volkere-verskeidenheid nie wil prysgee vir ‘n eenheids-mensheid nie. Hulle sê ons is besig om die graf te grawe van die mensdom, want waar nasies is kry jy oorloë — dit is egter so vanweë die sonde en nie omdat daar nasies is nie. Openb. 11 praat ook van die toorn van die nasies.
Die hele geskiedenis is vol van nasies wat vir mekaar kwaad is, en vir mekaar skreeu, en mekaar wegwens van die aarde af. Dan staan in Openb. 11 — nou is die tyd van die toorn van die nasies verby, nou is die tyd van die toorn van God oor die nasies wat rekenskap moet gee. Wie sal bestaan? Volkere!
‘n Mens verdwyn nie in ‘n onsterflike nasie nie, en nasies verdwyn ook nie en leef ook nie voort in ‘n onsterflike mensheid nie. Dan maak ons van ‘n nasie en mensheid ‘n abstraksie; ‘n mensheid en nasies wat ewig is en waarin die individue maar kan weg-sterwe.
Hier werp Openbaring ‘n baie belangrike lig: dis nie die individue wat onsterflik is in die nasie nie, maar dis die nasie wat onsterflik is in die individue — en dan nie in al sy individuele nie; ‘n nasie is onsterflik in sy gelowiges. Dit is die hele verbondsleer — dis nie maar individue wat gered word nie maar huisgesinne; en as ons eers sê: “julle en julle kinders”, dan sê ons ook nasie/volk dis maar net ‘n uitgebreide huisgesin. Met ander woorde die historiese lyn, die lyn van die geskiedenis, word deur die verbond opgeneem, en die verlossing geld die mensheid in sy pragtige verskeidenheid — ons moet dit bewonder — van volke, stamme, nasies. Hy word konkreet gered in sy gelowiges. Dis die ongelowiges wat uitgeroei sal word uit die nasies, het Johannes die Doper gesê.
Die gelowiges verteenwoordig die nasies. In die gelowiges sal die volkere bestaan ook op die nuwe aarde — daar sal die verskeidenheid voortbestaan; daar sal nie eendersheid wees nie. As ons op pad is na die toekomstige koninkryk van God, dan is ons roeping beslis nie om dit voor te berei deur “mure af te breek” nie, deur die verskeidenheid uit te wis nie. Die koninkryk bestaan uit ‘n veelkleurige mensheid.”
5. Die gebed van gelowiges en die prediking
Baie insiggewend, wys prof. Snyman dat die belangrikste invloed op hierdie wêreld deur gelowiges nie die skuldmanipulering is van “julle moet almal gaan stem anders val die hele wêreld inmekaar nie …”, ook nie ons menslike strukture soos kerkverbande en politieke drukgroepe nie. Wat is dit ? Dit is die geheiligde gebede van gelowiges in Christus, Op.6:9,10; 12:11 (die aanbidding van die ware God wat alles in Sy Hand hou, ook die geskiedenis !), asook die ware verkondiging van God se Woord wat heeltyd die antitese, die teenstelling (van Gen.3:15) gehandhaaf in Christus (Joh.3:36), moet oproep:
“ ‘n Vierde gesig wat oopgaan in die geskiedenis is die van die twee getuies, hier in die sentrum van die boek Openbaring.
Dit dui die plek aan van die Woordverkondiging in die geskiedenis. Die toekoms van hierdie wêreld word nie beslis in die raadsale van die wêreld nie. Nie in die raadsale van die V.V.O. ens. nie. Nie dat hulle van geen betekenis is nie — die owerhede is geroepe — nie om die kwaad op te los nie; die kwaad sal nooit uitgeroei word deur die regering nie, dis ook nie hulle funksie nie — hulle kan wel die kwaad teëhou.
Ons is nie passiviste nie maar ook nie militariste nie, nie oorlogsugtig nie; ons moet alles doen om die kwaad te keer. (Ons weet ons kan die dood nie keer van geen mens nie, en tog, as jy siek is roep jy ‘n dokter in.) Jy moet gebruik maak van die middele om die kwaad te keer, al weet jy die oplossing is die koms van die koninkryk.
Laat ons dit onthou die toekoms van die mensdom word beslis in binnekamers, deur die ware gebede van die gelowiges. Die gebed is die beslissende krag vir die koms van die koninkryk. “Die gebed van die regverdige het groot krag” (Jakobus 5:16).
En dan word dit beslis in die verkondiging van die Woord. Op watter wyse is die Woord beslissend in die geskiedenis? Dit is deurdat die verkondiging van die Woord die teenstelling oproep. En die verkondigde Woord dui nie net op die predikante nie, maar die verkondigde Woord wat uitgelewe word. En as die Woord verkondig word, en ons as gelowiges is vrugbare akkers wat die Woord ontvang en uitlewe hier in die wêreld, moet nie dink dat u daardeur gelydelik die koninkryk van God realiseer hier op die wêreld nie. Dis nie so dat die kerk die koninkryk laat kom nie, en meewerk aan die koms van die koninkryk nie — dit sal nie geleidelik deurwerk totdat die hele wêreld naderhand gehoorsaam is en hulle onderwerp aan Christus nie; dit sal ook nie gebeur dat die Christelike beginsels gelydelik sal deurwerk nie.
— Daar is die gelykenis enersyds van die suurdeeg, die langsame deurwerking, maar andersyds is daar ook die gelykenis van die onkruid in die akker. As die saad van die koninkryk gesaai word dan is die teenstander daar, en dan saai hy sy saad ook.
Die verkondiging van die Woord roep die teenstelling op; Die inisiatief lê nie by die teenstand nie, maar by die kerk — positief: die verkondiging van die Woord van die waarheid, die uitlewing van die waarheid. Dit het die uitwerking in hierdie wêreld dat Satan lewendig word en wakker is. Satan kan rustig gehou word, deur die Woord nie uit te lewe nie, en nie jou beginsels uit te lewe nie. Dan kan ons vrede hê — vrede met Satan; dan oorwin Satan.
Maar leef ons die Woord uit, dan kom die teenstelling, dan kom Babel na vore, die anti-christelike magte. Op die wyse roep die kerk dan die uiteindelike teenstelling op deur die Woord, naamlik daar-die teenstelling wat eindig met die antwoord van Christus — en dit is met sy wederkoms om die gelowiges te kom verlos. So is die kerk aktief besig in die geskiedenis.”
6. Chiliasme (Openbaring 20)
Prof. Snyman sien die duisendjaar van Op.20 as simbolies vir die tydperk tussen die eerste en tweede koms van Christus:
“Eksegeties meen ons uit te maak dat hierdie duisend jaar val saam tussen die eerste en tweede koms van Christus. Daarmee wil ons nie beweer dat alle moeilikhede opgelos is nie. In alle geval moet ons daarvan geen dogma maak nie. Daar is probleme, die geskiedenis sal dit vir ons oplos. Dit mag wees dat ons hier te doen het met simboliek of ‘n toekomstige stuk geskiedenis. Die getal 1000 sal simbolies wees.”
[Sien hier meer oor die onderwerp van chiliasme: Chiliasme – terme en verduidelikings]
7. Evolusionisme
Prof. Snyman eindig sy lesings met die volgende woorde, waarin ook die huidiglike evolusionistiese geskiedbeskouing verwerp word, en die openbaringshistoriese Koninkryks geskiedsbeskouing bely word:
“Die Nuwe Jerusalem wat neerdaal uit die hemel met al die gelowiges vanaf die eerste Adam, almal wat heengegaan het — daaraan moet ons vashou; mens verloor jou identiteit nooit. Die dood is nie iets wat identiteit vernietig nie — dis wat ons opstandings-geloof vir ons sê.
Al roep die ongelowiges by die verskyning van Christus: “Heuwels bedek ons, berge val op ons”, wanneer daar nie meer ‘n skuiling is nie — dan weier die berge en heuwels, omdat identiteit nie vernietig kan word nie; God het die mens geskape om ewig te lewe. Dis ‘n ontvange ewigheid, nie iets wat hy in homself besit nie; hy het dit as ‘n skepsel ontvang, hy is bestem vir die ewigheid. Dis ook die antwoord van die Bybel — die behoud van identiteit. Dit is die betekenis van daardie groot woord van Christus met sy opstanding, nl. “Dit is Ekself” (Lukas 24:39). So ook met die gelowiges. Die toekomsverwagting van die kerk, is ‘n toekoms waarin die verlede en die hede terugkeer. Dis nie ‘n eindelose lyn wat agterlaat wat agter is nie — dit is die verfoeilike evolusie-leer: ‘n toekoms sonder ‘n verlede. Die evolusie leer ons om die verlede te los; die verlede is begrawe in miljoene en miljoene jare vir ewig; die hede beteken niks; die hede is maar net oorgaan van die verbygaande verlede na die komende toekoms; die lewe is weg, want die hede is weg, en die betekenis van die hede is weg. Dis ‘n gejaag en ‘n uitgestrektheid na ‘n toekoms wat nog nie bestaan nie; ‘n gryp na ‘n murasie.
Hier is ons Christelike geloof: ‘n verlede en ‘n hede wat terugkeer in die toekoms. Dit is die heerlike van ons verwagting, en daarom is dit wat weg is nie weg nie — dit kom weer. Vir die gelowiges ‘n heerlike vooruitsig!”
Al wat oorbly, is om te sê: tolle lege, neem en lees:
nota: ek vind myself veilig midde die postmillenialistiese en ammillenialistiese verklarings van die boek Openbaring en die eskatalogie as in lyn met die Heilige Skrif en gereformeerde belydenisskrifte, is verdraagsaam teenoor ‘historiese premillenialisme’, maar verwerp in wese die die dispensationalistiese premillenialisme van die 1870 en verder, wat in wese die verbondstruktuur van die Skrif verwerp, en meestal arminiaans is.
Sien meer hieroor in die boonste verwysing, asook hier: Against Dispensationalism Hierdie boek is ook ‘n goeie inleidende oorsig in Afrikaans oor die onderwerp: Die Einddinge, ds. Hanan Viljoen. Vir meer detail, sien Jan du Rand se ‘Die A tot Z van Openbaring’.