TOTIUS: Die Generaal voor ons, die Generaal agter ons (Hebr. 4:1,2; 11:27,39-12:2; 13:8)

Totius oor die Openbaringshistoriese of Heilshistoriese verstaan van die verhouding OT – NT*

“LAAT ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie. 2Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie. ….

Deur die geloof het hy Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien.. En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie, omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie. DAAROM dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê  die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof…. “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (Hebr. 4:1,2; 11:27, 39-12:2; 13:8)

Nota: Totius het ‘n deeglike reeks geskryf in sy tyd teen die dwaling van hulle wat glo dat die OT gelowiges nie ook kennis gehad het en  bewus was van ‘hemel en hel’, die lewe na die dood, nie, ens (Versamelde Werke, 1977, deel 6: 385-470). Ja, natuurlik, nog nie so oorvloedige kennis as in die NT nie, maar wel in sy kern was dit baie duidelik daar [sien die woorde van NGB art. 9 oor die leer van die Drie-eenheid vir dieselfde ‘openbaringshistoriese beginsel van die voortgaan van God se openbaring aan die mens].

Dit wat hy leer, nie net oor die onderwerp van hemel en hel nie, maar hoe ons as gelowiges moet omgaan met die hele Skrif, verhouding OT – NT is baie belangrik nie net vir die leerstuk van ‘Christus/redding in die OT’ nie, maar ook vir ander belangrike sake soos, verhouding wet-evangelie; ouer en nuwer verbond, besnydenis-doop, sonde en genade, kerk onder een volk, na kerk onder alle volke, ens, om goed te verstaan wat die wese van die OT verbond was wat blywend is, en, die vorm, bedeling, toepassing, struktuur wat verbygegaan het, dus dat beide kontinuiteit én diskontinuiteit gehandhaaf word, om die woord van die waarheid reg te sny, te ken, verkondig, leer ens, ook vir ons tye (2 Tim. 2:15; 4:2).

Daarom plaas ek hierdie kort maar kragtige sleutel tot die verstaan van die Skrif, vir ons ‘leer en lewe’ (dus ‘dogma én etiek), om Christus te ken, gered te word, maar ook tot eer van God te kan lewe in dankbaarheid in alles (1 Kor. 10:31; 2 Tim. 3:14-17; Matt. 4:4; sien ook NGB art. 2-7):

___________________________________

Die Openbaringshistoriese verstaan van die verhouding OT-NT*

… Al dadelik wil ons opmerk dat vroeër nie genoeg rekening gehou is met die gang, met die wording van die Godsopenbaring nie.

Teveel het die voorstelling ingang gevind dat die kennis aangaande Gods wil en werk gedurende al die eeue ‘n vasstaande grootheid was en dat die gelowige van die Ou Verbond omtrent net soveel geweet het as die van die Nuwe Verbond. Daar is nie genoeg besef dat Israel in die mêreskemering geleef het en dat die volle dag eers later deurgebreek het nie.

Natuurlik was die kennis van die saligheid altyd aanwesig; wat die uiese van die openbaring betref, was daar geen verskil nie, reeds by die paradyspoort het die Here sy genade geopenbaar en ‘n uitsig op volkome verlossing geopen deur die aankondiging van ‘n Oorwinnaar (Gen. 3:15). In die kiem het die ou vaders alles besit.

Ons Gereformeerde teoloë het dan ook volkome gelyk gehad toe hulle die stryd teen Coccejus en sy volgelinge begin het. Coccejus tog het op grond van Rom. 3:25 geleer dat daar onder die Ou Verbond nog geen volle vergewing van die sondes was nie; daar was net ‘n “oorsien” of “verbysien” van die misdade. Ja, die hele openbaring was vir Coccejus eintlik niks anders as ‘n historiese proses nie: elke keer ander verbonde met ander beloftes en ander uitsigte op die ewigheid.

So egter is daar groot geweld gepleeg aan Gods Woord, is die Ou Testament omlaag getrek en is daar vir Abraham geen plek meer as “vader van die gelowiges” nie. Al die geloofshelde van Hebreërs 11 verloor dan die stralekrans wat hulle hoof omskitter het; hulle is dan geen helde en voorgangers nie maar mense wat in ‘n halfdonker rondgetas het.

Teenoor die Coccejanisme het ons godgeleerdes beslis gehandhaaf die Skriftuurlike waarheid dat Gods heil altyd dieselfde was en dat daar tussen die geloof van Abel en die geloof van die laaste gelowige wat in heerlikheid sal ingaan, geen wesentlike verskil is nie. Inteendeel, die vraag is of hulle kerngeloof nie baie intenser, baie sterker was as ons geloof nie!

Dat die heilsopenbaring altyd dieselfde was, omdat God in sy beloftes nie kan verander nie, kan ons nie beter duidelik maak as deur die beeld wat Da Costa gebruik het nie. Hy sê:

As ‘n leër soldate by ‘n tol verbytrek – sulke tolle was daar nog kort gelede by brûe -, dan moet hulle betaal. Maar die soldaat het self geen geld nie. Om by die tol te kan verbykom, moet hy egter betaal. Daarom wys die voorste soldate terug op hulle generaal wat aankom en vir hulle sal betaal – en hulle word toegelaat om verby te trek. Maar die soldate wat agter die generaal aankom, wys vorentoe op die generaal wat vir hulle betaal het – en hulle word ook toegelaat om verby te marsjeer.

Net so gaan dit met die lang reeks van gelowiges wat optrek na die heerlikheid toe. Die geloofstryders wat voor Christus geleef het, wys op die Messias wat nog sal kom om vir hulle te betaal; en hulle wat na Christus lewe, wys terug op die Messias wat gekom het om vir hulle te betaal.

In altwee gevalIe is daar betaal, en daar is maar een Naam wat almal noem en wat vir almal ‘n deurtog verleen. Dit is die ooreenkoms tussen die twee groot reekse van gelowiges. In wese en grond is dit dieselfde saligheid. Alleen in graad en toepassing is daar verskil.

Laat ons dit probeer duidelik maak met die woord van prof. H.H. Kuyper, wat onlangs ons land besoek het en wie se magtige woord seker nog naklink in die oor van menigeen. In ‘n reeks stukke wat lang gelede in die Heraut verskyn het onder die titel “Nederdaling ter helle”, sê die geagte professor dat die bedoelde  verandering van toestand nie die wese van die genade raak nie maar die toepassing. Maar laat hy liewers self spreek:

“Die arme Lasarus”, sê hy, “gaan na Abraham se skoot, terwyl vir die Christen sy heerlikste verwagting is dat hy by Christus sal wees… Vir die moordenaar aan die kruis word gesê: Vandag sal jy met my in die paradys wees. Dié woord kon nie gesê word vir die gelowige van die Ou Verbond nie. Hulle het na hulle sterwe nog nie na die paradys gegaan nie maar na Abraham se skoot; hulle het nog nie die gemeenskap met die mens geworde Middelaar geniet nie”.

Al gebruik die Skrif beeldspraak, soos in die gelykenis van Lasarus en die ryk man (so merk dié professor verder op), agter dié beeldspraak moet ‘n werklikheid skuil. Dan vervolg hy:

“Eers deur Christus se sterwe en opstanding het daardie verskil weggeval en geniet die aartsvaders tans dieselfde voorreg wat ook aan ons dooies geskenk word.”

Saam met prof. Bavinck beskou prof. Kuyper die “paradys” en die “skoot van Abraham” as plekke van geluksaligheid. Ons verwerp daarom die lering aangaande ‘n “bewaarplek”. Die gelowige van die Ou Verbond het nie, saam met al die ander afgestorwenes, na ‘n soort skimmeryk gegaan nie; hulle is na hulle dood in die gemeenskap van die Here opgeneem. Net, die toestand van heerlikheid was voorlopig; voorlopig in dié sin dat hulle, soos prof. Kuyper dit so korrek uitdruk, nog nie die gemeenskap met die mensgeworde Middelaar geniet het nie.

So sien ons dat die aanvalIe op Gods Woord, waarvan hierbo melding gemaak is, gedien het om ons insig in die gang van die Godsopenbaring te verhelder. Baie dinge is daar wat nog onverklaar bly. Oor die leer van die “laaste dinge” sweef ‘n geheimsinnige duisterheid wat eers verdryf sal word deur die môre van die opstanding. Maar Gods Woord bevat ook duidelike aanwysings, ligstrale wat onmiskenbaar is, en vir dié lig moet ons dankbaar wees.

______________________________________________

*Bron: ‘n Bewaarplek?, Die Kerkblad, No. 558; 16 Junie 1925. Versamelde Werke, 1977: deel 6, bl. 410-412. Opskrifte en Bybelverse bygevoeg.

Sien ook hierdie bronne oor ware Bybels-gereformeerde Skrifverklaring:

Bybels-gereformeerde beginsels en metodes van Skrifverklaring én toepassing

Gereformeerde Skrifverklaring: Openbaringshistories of Sosio-histories?deur prof. GJC Jordaan

Ander Pro Regno artikels oor Skrifverklaring

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑