Bybels-gereformeerde beginsels en metodes van Skrifverklaring én toepassing

Bybels-gereformeerde beginsels en metodes

van Skrifverklaring én toepassing

“Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.” (2 Tim. 2:15)

Die Here roep ons deur sy Gees en Woord op om sy Woord reg te verstaan en toe te pas in ons lewens en tye. Ware prediking is die regte verklaring en toepassing van en volgens God se Woord.

In leer en lewe, in wat ons glo en doen, moet ons ons kan verantwoord uit die Skrif. Onderliggend ook aan elke etiese standpunt, of enige dwaling, is ‘n onderliggende Skrifbeskouing en manier van verklaring van die Skrif.

In ‘n vorige artikel het ek vermeld hoe in Nederland in die 1970’s en later nou in SA, ‘n sogenaamde ‘nuwe hermeneutiek’, ‘n ‘ander’ manier hoe om na die Skrif te kyk en dit te verklaar, gelei het tot huidige dwalinge soos bv. susters in die besondere dienste/ampte en in sommige kerke met gereformeerde belydenis, tot die goedkeuring van homoseksualisme.

Daarom is dit opnuut nodig om nie net na verskillende etiese sake te kyk opsigself wat die Skrif daaroor leer nie, maar veral ook oor hoe ons onsself verantwoord oor wat ons glo aangaande die aard van die Skrif, en hoe die Skrif verklaar en toegepas moet word vir alle tye, ook ons tye, met dit wat ons uit die Skrif self leer hoor hoe om ‘die woord van die waarheid’ reg te sny, tot eer van God, en heil van ons naaste.

Ek plaas hier onder ‘n paar artikels in Afrikaans wat ek sterk wil aanbeveel, met ‘n paar aanhalings uit elkeen (beklemtonings bygevoeg), vir u om te gaan bestudeer en u te help om die Woord reg te sny ook vir ons tye. Ek wil veral die eersgenoemde artikel aanbeveel, wat ‘n goeie oorsig gee oor al die belangrikste aspekte wat ons in ag moet neem in die verklaring én toepassing van die Skrif ook op ons tye, soos die Skrif ons oproep om te doen, sien Ps. 1; 119:9,18,105; Pred. 12;13,14; Jes. 8:20; Matt. 4:4; 5:13-20; Hand.17:11; Rom. 15:4; 1 Kor. 10:11; 2 Tim. 2:15; 3:14-4:5, ens.

DIE HERMENEUSE VAN DIE SKRIF MET DIE OOG OP HEDENDAAGSE KERKLIK-ETIESE VRAAGSTUKKE, J.C. Coetzee, B.J. de Klerk, L. Floor

“Daar is basiese reëls wat vir alle verklaring van boeke geld. Maar die eie aard en karakter van die Bybel bring ook hiermee dat sy verklaring ’n eie aard sal hê. Wat ’n mens van ’n bron dink, bepaal hoe jy met die bron omgaan. Geen eksegeet is onbevooroordeeld nie. ’n Mens se Skrifbeskouing bepaal ten diepste ook jou wyse van Skrifverklaring. Wie in die Bybel ’n gewoon menslike boek sien, sal dit met gewoon menslike hulpmiddels probeer verklaar. Geen eksegeet kan dus sonder voorveronderstellings na die Skrif gaan nie. Die objektiefste eksegeet is dié eksegeet wat hom duidelik vergewis het van sy voorveronderstellings en terdeë daarmee rekening hou.”

“Basiese uitgangspunt (van alle verklaring): Die Bybel is die ewige en altydgeldende Woord van God.”

“Die Bybel is geïnspireer deur die Heilige Gees. Daarom is die Bybel die ewige Woord van God soos dit onder die inspirasie van die Heilige Gees deur bepaalde mense onder bepaalde omstandighede tot ons gekom het. Die basis vir die gesag van die Bybel is dat God self die Een is wat deur en vanuit die Skrif tot ons spreek.”

” ’n Besliste vertrekpunt van elke Skrifverklaarder moet wees en moet bly: Ek moet uitgaan nie van die problematiese van die Skrifverstaan nie, maar van DIE AKSIOMATIESE!”

“Daarom het die Gereformeerdes nog altyd bely, en bely ons ook hier, die PERSPICUITAS (duidelikheid) van die Skrif. … Die Bybel is immers die lig vir ons pad (Ps. 119:105). Hiermee word voluit die duidelikheid van die Skrif bely. Die Bybel spreek vanself en geen mens of kerklike leeroutoriteit mag as ’n „middelaar” tussen die Woord en die gelowige hoorder gaan staan nie.”

“Wetenskaplike hermeneutiek, eksegese en hermeneuse is slegs en mag slegs wees ’n dienswillige diensmaagd om die gelowiges die Skrifte nog indringender te laat verstaan. Al is die Bybel helder en duidelik, neem dit nie ons verantwoordelikheid weg om uit die Bybel self reëls vas te stel vir die verstaan van die Bybel nie.”

“Ons stel as Skriftuurlike uitgangspunt dat die Skrif nooit tydgebonde is nie, maar wel tydgerig is. Inderdaad tree die Godswoord altyd in ’n bepaalde tydsverband op en het dit sy bedoeling met die oog op daardie spesifieke, tydgerigte situasie.”

“Wanneer die apostel Paulus in die eerste brief aan die Korinthiërs skrywe oor die verhouding man — vrou (1 Kor. 11) en hy aan die vrou ’n swyggebod gee (1 Kor. 14 : 34) dan is sy skrywe as ’n ad hoc korrespondensie gerig aan ’n bepaalde gemeente en dan het dit die vrouens in daardie bepaalde gemeente op die oog. Ons moet hier by egter wel in gedagte hou dat daar in daardie besondere situasie, tot vrouens in ’n bepaalde gemeente, ’n Woord van God kom wat ook bedoel is vir vrouens in alle gemeentes van alle tye.

“In verband met bv. vrae rondom ,die vrou in die amp’ kan daar gewys word op belangrike resente verskuiwinge in die hermeneuse van die Heilige Skrif. Daar is vroeër altyd gestel dat die uitsprake van die Bybel oor die vrou soos byvoorbeeld die ,swyggebod’ (1 Kor. 14:34; 1 Tim. 2: 11) uitsprake is wat vir alle tye geldig is.”

“Die goue reël van Gereformeerde Skrifverklaring bly: Sacra Scriptura sui ipsius interpres. Dit is: „Die Heilige Skrif is vir homself sy eie uitlegger”.”

“Dit is die één God wat deur sy één Woord (of Seun) sy Woord spreek onder inspirasie van sy één Gees! Dogmaties gesê: die een Gees van God is die Auctor Primarius van die hele Skrif.  DAAROM is Skrif-met-Skrif-vergelyking sowel moontlik as noodsaaklik. … By Skrif-met-Skrif-vergelyking as legitieme hermeneutiese beginsel moet dus volledig vasgehou word aan én die Godgegewe eenheid én die Godgegewe verskeidenheid van die Woord van God.”

“Die hermeneutiese beginsel: vanaf die duidelike na die minder-duidelike. Hierdie is ’n algemene beginsel van die logika, en dit is volledig geldig op die terrein van die Bybelse hermeneuse.”

” ’n Besonder belangrike faset hiervan is die feit dat die eksegeet/hermeneut bale deeglik rekening moet hou met die openbaringshistoriese situasie van enige betrokke Skrifwoord. Ons móét rekening hou met die feit dat dit God behaag het om HoM en sy wil in die loop van die geskiedenis algaande al duideliker te openbaar. ’n Teks in, sê Eksodus, en ’n teks in Romeine mag dus nie sommer so gelykskakelend langs mekaar gestel word nie. Die LATERE woord in die Godsopenbaring oor DIESELFDE SAAK is altyd deurslaggewend teenoor die voorafgaande!

“Wie opreg bely dat die hele Skrif „deur God ingegee” is, of dan „deur God geadem” is (theopneustos, 2 Tim. 3:16) en dat die Bybelskrywers „deur die Gees gedrywe” (hupo pneumatos hagiou feromenoi) (2 Petr. 1:21) is, moet daarmee nie alleen erken dat die Heilige Gees die Inspirator van die Skrif is nie, maar dat die Gees die eintlike en onmisbare Eksegeet van die Skrif is.

“Die geheimenisse van God kan alleen verstaan word deur mense in soverre hulle genadiglik verlig is deur die Heilige Gees. Dit is die Heilige Gees wat die hart van die mens moet sag maak, die ore moet deurboor en die oë moet oopmaak om die Bybel te verstaan. Die Gees tree in die proses van die verstaan van die Bybel op as die eintlike Skrifverklaarder.”

“Vir elke lidmaat van die Gereformeerde Kerk, en ook vir elke kerklike vergadering is die Drie Formuliere van Eenheid BINDEND omdat hulle in ooreenstemming is met die Woord van God.”

“Twee eensydighede moet hier vermy word: (i) Die verklaring, of hantering, van die Belydenisskrifte as die FINALE maatstaf en rigsnoer vir die eksegeet/hermeneut. …  (ii) Die opsyskuif van die Belydenisskrifte as nie ter sake by die eksegese onder die voorwendsel dat die eksegeet volkome vry en uitgangspuntloos sy eksegese moet kan verrig. …Wat is dan die plek van die Belydenisskrifte by die eksegese en hermeneuse? Ons wil dit so formuleer: Die Belydenisskrifte is die Gereformeerde eksegeet se VERTREKPUNT en sy BEGELEIDER by die hele proses van sy eksegese en hermeneuse.”

“Agter die benadering van die Bybel as ’n tydgebonde en daarom aan kritiek onderworpe voorstelling van Gods heil en agter die siening van die gesag van die Bybel as tradisie-gesag, sit ’n bepaalde Skrifbeskouing. Daarom is dit by die bespreking van die probleme met betrekking tot die posisie van die vrou in die kerk van die uiterste belang hoe ons die Bybel en die tekste wat spreek oor die plek van die vrou in die kerk benader.”

“Die inagneming van die skopus (gerigtheid) van die Skrif. Ons belydenis stel dit baie duidelik dat God sy Woord aan ons gegee het vir ’n bepaalde doel.  God se doel met sy Skrifopenbaring het ’n drieërlei faset: (i) God openbaar HOMSELF aan ons sodat ons Ham sal verheerlik. (ii) God maak in die Skrif SY WIL aan ons bekend as reel vir ons lewe op aarde, sodat ons Hom reg kan dien. (iii)  God wil ons daarin die WEG tot die ewige lewe bekend maak.”

“Vanuit die doel van die Skrif en die gevolglike skopus of gerigtheid van die Skrifgesag, blyk dit dat die Bybel aan ons nie gegee is as, en deur ons nie gesien mag word as ’n wetenskaplike handboek (bv. oor die ouderdom van die aarde of van die mens) nie. Andersyds mag egter nooit gesê word dat die wetenskap, of die kuns of sport of politiek neutrale gebed is waaroor God se Woord niks te sê het nie: Ons belydenis stel dit immers dat God Hom gesaghebbend in sy Woord so openbaar dat Hy geëer moet word as die God van die hele skepping; en ook dat God in sy Woord sy wil openbaar as reël, as beginsel vir ons lewe hier en nou en in al die fasette daarvan.”

“Daar is basiese stappe wat die eksegeet as leidraad kan volg, maar dan moet hy onthou dat hierdie stappe nie waterdig geskei kan word nie, maar in voortdurende wisselwerking met mekaar staan. Alle eksegese begin by die teks: wat staan daar presies? Dan word gevra na die verband waarin die teks staan en dan moet die eksegeet ten diepste die vraag vra: Wat wil God hierin vir ons sê?

“Die Bybel is die uitdrukking van God se wil om die openbaring van sy doel. Daarom sal die eksegeet van die Bybel hom ten diepste met die verstaan hiervan moet besig hou. Nie alles gedeeltes is ewe naby aan die sentrale doel nie, maar almal is gelykelik deel van God se openbaring aan die mens. Daarom moet elke eksegeet hom voortdurend die vraag afvra: Wat openbaar God hier oor Homself en oor sy wil vir sy volk.”

OOR WARE GEREFORMEERDE HERMENEUTIEK, proffs. GJC Jordaan & SP van der Walt

“Geloof in die Bybel as gesagvolle Woord van God is derhalwe ‘n voorveronderstel­ling waarmee die gereformeerde Skrifver­klaarder die Bybel benader. Dit rig alle eksegetiese arbeid — gevolglik ook die hermeneuse proses. Gereformeerde hermeneuse glo dat God se Woord ook op vandag van toepassing is. Die proses van hermeneuse wat begrond is op die Skrifbeskouing van en geloof in die Bybel as gesagvolle Woord van God, wil dus die betekenis van die Skrifboodskap toepas op die hedendaagse konteks. God wat eenmaal ‘n tydgerigte woord gespreek het, spreek daardeur ook tydgerig tot die konteks van vandag.”

SKRIFGESAG EN SKRIFVERTOLKING, prof. GJC Jordaan

“Aangesien die hele eksegeseproses, in sy grammatiese fase en in sy historiese fase, maar veral in die proses van sintese en hermeneuse, in werklikheid nie sonder die interpretasiegawe van die Heilige Gees kan geskied nie, is dit nie moontlik om dit werklik as ’n meganiese toepassing van hermeneutiese reëls te bedryf nie. Ook in die bepaling van wat werklik God se blywende opdrag vir ons vandag is, en wat slegs as situatiewe opdragte beskou kan word, in die bepaling van wat die fokuspunt van ’n Skrifdeel is en wat bysake is, ook daarin moet die Skrifverklaarder biddend werk dat die Heilige Gees hom die insig sal gee om te interpreteer en die gawe om te onderskei.”

‘N ‘OU BOEK in ‘n nuwe wêreld’, of ‘n ‘NUWE BOEK in ‘n ou wêreld’?, prof. JC Coetzee

“Hoe moet ons die Nuwe Testament besien? As, saam met Vorster: ,,’n Ou boek in ’n nuwe wêreld”? Of veeleer as: ’n Nuwe Boek in ’n ou (verslete, verbygaande) wêreld?”

“Die wonder en problematiek van die Bybel gaan dus oor die twee eienskappe wat dit besit: enersyds dat dit helder en duidelik is (die sg. perspicuitas van die Skrif), andersyds dat dit die onpeilbare dieptes van God bevat. Die groot wonder hiervan is dat dié twee  –  die helderheid en die onbegryplikheid van die Bybel   –  nie teenoor mekaar staan nie, maar mekaar aanvul. Die Bybel is so duidelik dat selfs klein kindertjies dit kan verstaan (Matt.11:25), maar dit bly steeds soos ’n onuitputlike goudmyn waarin elke gelowige moet bly delf om die rykdom van God se weë en gedagtes al beter te begryp.   Hierdie wonder van die Bybel bring ons te staan voor die noodsaak van Skrifverklaring.”

2 thoughts on “Bybels-gereformeerde beginsels en metodes van Skrifverklaring én toepassing

Add yours

  1. CALVYN SE SENTRALE VERTREKPUNT AANGAANDE DIE HEILIGE SKRIF: DIE SKRIF HET SY EIE GELOOFWAARDIGHEID

    “Laat dit dus onwrikbaar vas bly staan dat mense vir wie die Heilige Gees in hulle binneste geleer het, volkome in die Skrif berusting vind dat die Skrif OPSIGSELF geloofwaardig is, en dat dit ons nie geoorloof is om dit aan bewysvoering en redenasies te onderwerp nie.

    Tog verkry dit die sekerheid wat dit onder ons verdien, uit die getuienis van die Gees.

    Want ten spyte daarvan dat die Skrif vanself deur eie majesteit eerbied vir homself bewerk, beïnvloed dit ons tog eers ernstig wanneer dit deur die Gees in ons hart beseël is.

    As ons dus deur die krag daarvan verlig is, glo ons nie meer in ons eie of ander se oordeel dat die Skrif sy oorsprong in God het nie.

    Bo alle menslike oordeel besluit ons vas en seker asof ons die Godheid van God self daarin aanskou, dat die Skrif deur bemiddeling van mense juis uit die mond van God self na ons gekom het.

    Dan soek ons nie na bewyse of waarskynlikhede waarop ons ons oordeel kan grond nie, maar ons onderwerp ons eie oordeel en verstand asof dit ‘n saak is wat bo die oordeel van toeval geleë is.

    Sommige mense gryp gewoonlik ‘n onbekende saak aan, en wanneer hulle dit ondersoek het, kry hulle ‘n afkeer daarin. Ons doen dit egter nie, omdat ons deeglik daarvan bewus is dat ons daarin aan die onaanvegbare waarheid vashou.

    En ook nie soos arme drommels wat gewoonlik hulle verstand in gevangenskap aan bygelowe oorgee nie, maar omdat ons ervaar dat die krag van sy Godheid ongetwyfeld daarin lewe en werk, sodat ons daardeur willens en wetens nogtans lewendiger en kragtiger as deur die wil of wetenskap van die mens tot gehoorsaamheid meegesleur en aangevuur word.

    Gevolglik roep God met volle reg daartoe deur Jesaja uit dat die profete en die hele volk vir Hom ‘n getuie is omdat hulle deur godsprake so geleer is en ongetwyfeld vashou daaraan dat God sonder bedrog of dubbelsinnigheid gespreek het (Jes. 43:10).

    Dit is ‘n oortuiging wat nie redenasies nodig het nie.

    Dit is kennis waarby die hoogste rede hom neerlê; ‘n kennis waarin die verstand met groter veiligheid en bestendigheid kan berus as in enige redenasie.

    Kortom, dit is ‘n gevoel wat net uit hemelse openbaring kan ontstaan.

    Ek praat van iets wat elke gelowige by homself ervaar, behalwe dat my woorde ver te kort skiet om die saak na regte te verduidelik. Ek weerhou my nou van verdere verduideliking, omdat die geleentheid hom weer sal voordoen om die saak elders te behandel.

    Vir die huidige moet ons slegs daarvan kennis neem dat die geloof wat die Gees van God in ons hart verseël, uiteindelik waaragtig is.

    Ja, ‘n ingetoë en ontvanklike leser sal met dié een enkele rede tevrede wees: Jesaja belowe dat al die kinders van die hernieude kerk leerlinge van God sal wees (Jes. 54:13).

    God ag sy uitverkorenes alleen dié sonderlinge voorreg waardig wanneer Hy hulle van die hele mensdom onderskei. Want waar begin die ware leer nou eintlik anders as by die bereidwillige vurigheid om na die stem van God te luister?

    En tog eis God deur die mond van Moses dat ons na Hom moet luister, soos geskrywe is: “Moenie in jou hart sê: wie sal opklim in die hemel en wie sal neerdaal in die diepte? Kyk, die woord is in jou mond”. (Deut. 30:10)

    As dit dan God se wil was dat hierdie skat van kennis vir sy kinders verborge moes wees, dan is dit nie wonderlik en ook nie vreemd dat so ‘n groot onkunde en dwaasheid oor die algemeen by mense waargeneem kan word nie. Onder gewone mense reken ek ook die vooraanstaandes totdat hulle ook in die liggaam van die kerk ingelyf is.

    Voeg daarby dat Jesaja ons daarop wys dat die leer van die profete nie net vir vreemdelinge nie maar ook vir die Jode, wat as sy huisgenote gereken wou word, ongeloofwaardig sou lyk. Hy gee terselfdertyd ook die rede daarvoor aan, naamlik dat die arm van God nie aan almal geopenbaar sal word nie (Jes. 53:1).

    Elke keer as die geringe getalle van die gelowiges ons dus ontstel, moet ons aan die ander kant daaraan gedagtig wees dat niemand die geheimenisse van God kan begryp nie behalwe diegene aan wie dit gegun is.”

    “… Daar is nog baie ander kragtige redes waardeur die aansien en majesteit van die Skrif nie alleen vir godvrugtige harte bevestig word nie maar ook voortreflik teen die listige planne van valse aanklaers beskerm word. Dit is egter op sigself nie kragtig genoeg om ‘n onwrikbare geloofwaardigheid daarvoor te verkry nie, totdat ons hemelse Vader die eerbied daarvoor bo alle twis verhef wanneer Hy sy Goddelike krag daarin openbaar.

    Daarom sal die Skrif eers dán waarlik genoeg wees vir die saligmakende kennis van God wanneer die sekerheid daarvan op die innerlike oortuiging van die heilige Gees gevestig is. Daar is trouens ook getuienis van mense wat tot bekragtiging van die Skrif kan dien. Die getuienis sal dus nie sinneloos wees nie, mits dit as ondergeskikte hulpmiddels vir ons swakheid op die bogenoemde beginsel as die belangrikste en gewigtigste volg.

    Maar mense handel dwaas as hulle meen dat dit vir ongelowiges bewys moet word dat die Skrif die Woord van God is. Dit is iets wat nie sonder die geloof te wete gekom kan word nie.

    Augustinus het dus gelyk wanneer hy leer dat godsvrug en gemoedsvrede vooraf moet gaan, sodat die mens iets van sulke belangrike dinge kan begryp.”

    Bron: Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) I,7,5 & I,8,13.

    Nota: Dit is ook wat ons in navolging van die Heilige Skrif bely in NGB artikels 4,5,7

    Artikel 4 – DIE KANONIEKE BOEKE VAN DIE HEILIGE SKRIF
    “Ons vat die Heilige skrif in twee dele saam: die Ou en die Nuwe Testament. Dit is die kanonieke boeke waarteen NIKS ingebring kan word nie….”

    Artikel 5 – DIE GESAG VAN DIE HEILIGE SKRIF
    “Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook SONDER TWYFEL ALLES wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.”

    Artikel 7 – DIE VOLKOMENHEID VAN DIE HEILIGE SKRIF
    “… Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die GODDELIKE SKRIF gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié WAARHEID VAN GOD gelykstel nie, want die waarheid is BO ALLES. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Ps. 62:10: Ja, nietigheid is die mensekinders, leuens is die aansienlikes; in die weegskaal moet hulle opgaan, almal saam is hulle minder as nietigheid.). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie ONFEILBARE REEL ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: ‘…maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is’ (1 Joh. 4:1) en: ‘As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie…’ (2 Joh.:10).”

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑