
My nuwe werksplek vanaf 1 Junie 2026
Verwelkoming deur die AFRIKAANSE PROTESTANTSE AKADEMIE:
Welkom aan ds. Slabbert le Cornu as bibliotekaris van die APA
Die Afrikaanse Protestantse Akademie verwelkom vir ds. Slabbert le Cornu wat vanaf 1 Junie 2026 as bibliotekaris by die APA aangestel is.
Ds. Le Cornu is ‘n bekende figuur in Gereformeerde kringe in Suid-Afrika. Hy het vir baie jare as predikant van die Gereformeerde Kerk Carletonville gedien en is tans steeds deeltyds in die gemeente betrokke. Gedurende sy bediening het hy hom onderskei as prediker, skrywer, openbare spreker en voorstander van die Gereformeerde geloof en wêreldbeskouing.
Hy is die dryfkrag agter die bekende “Pro Regno” bediening en platform, waar hy oor jare heen honderde artikels, lesings, boekbesprekings en teologiese bydraes gepubliseer het. Sy werk fokus veral op Gereformeerde teologie, Christelike opvoeding, kultuur, kerkgeskiedenis en die toepassing van die Christelike geloof op alle terreine van die lewe.
Ds. Le Cornu is gebore in Pietersburg en het sy skoolopleiding aan Affies in Pretoria voltooi. Hy is getroud met Dorothea en hulle is ryklik geseën met nege kinders. Sy liefde vir boeke, studie en die bewaring van die Christelike intellektuele tradisie maak hom besonder geskik vir sy nuwe rol by die APA.
Die biblioteek vorm die hart van enige akademiese instelling. Dit is die plek waar kennis bewaar, ontdek en oorgedra word. Ons vertrou dat ds. Le Cornu se ervaring, geleerdheid en liefde vir die waarheid ‘n groot bydrae sal lewer tot die verdere uitbou van die APA se biblioteek en akademiese missie.
Ons bid die Here se seën op sy werk toe en sien uit na die waardevolle rol wat hy by die APA sal speel.
Bron: APA Facebook
My skrywe by bogenoemde inskrywing op Facebook:
“Baie dankie vir die besondere verwelkoming met hierdie woorde, asook wat ek reeds die afgelope 2 dae by die APA beleef het. Dit is ‘n groot voorreg om saam te kan werk in ons Here se Koninkryk, ook deur die roeping en diens wat die APA lewer. Ek hoop om ook mede-instrument te kan wees om ad fontes, ‘(terug) na die bronne’, te bevorder onder ons mense, alles tot Sy eer.”
Meer inligting oor die doel en visie van die APA: Afrikaanse Protestantse Akademie
Ontbytsake advertensie oor die verskillende studierigtings by die APA: Advertensie
LET WEL: Die bedieningsooreenkoms gaan voort met GK Carletonville, maand vir maand, en ons as gesin woon nog in Carletonville, totdat verskeie sake in plek val vir ons om, DV, na Pretroria as gesin te verhuis. Ek werk in die week by die APA in Pretoria, en naweke is ek in Carletonville, ook vir die Sondag erediens bediening. Ons is as gesin is baie dankbaar oor die Here se sorg in dit alles, en dat Hy vir ons die pad aanwys as gesin, gemeente en nou ook die roeping en taak deur die APA. Aan Hom al die eer!




Leave a comment