BAVINCK: Die Basis of Fondament van ons Belydenis – Die Genadeverbond

Die Basis of Fondament van ons Belydenis van Geloof – Die Genadeverbond*

“Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.” (Hebr. 13:15)

Inleiding

Ek plaas hieronder hoofstuk 1 uit Herman Bavinck se boek wat geskryf is vir kinders van die verbond wat belydenis van geloof aflê, oppad na die nagmaalstafel: De Offerande des Lofs: Overdenking voor en na de toelating tot het Heilige Avondmaal  (sien hier waar ek die boek reeds aanbeveel het [Engelse titel: The Sacrifice of Praise]: BAVINCK OOR ONS KINDERS SE “AFLEGGING VAN BELYDENIS VAN GELOOF”), onder die titel: Die Basis of Fondament van ons Belydenis van Geloof – Die Genadeverbond.**  In hierdie hoofstuk vind ons die wese van die verbond soos Bavinck dit volgens die Skrif verstaan, en watter groot troos dit vir die Here se kinders en hul nageslag is, contra al die verdeeldheid en misverstande wat daar oor die genadeverbond is deur die eeue, vandag nog. In Bavinck se eie woorde: Die verbond is die wese van die ware godsdiens, en daarom moet dit vir elke ware gelowige en ware kerk wesentlik belangrik en kosbaar wees, sien ook hierdie artikels: ‘n Vriend van God – Artikels oor die Genadeverbond

NUWE BYVOEGING: PODCAST (POTGOOI) OPSOMMING VAN DIE ARTIKEL KAN HIER GELUISTER WORD: 

Teks van die potgooi hier beskikbaar: PODCAST

__________________________________________________________

Die Basis of Fondament van ons Belydenis van Geloof – Die Genadeverbond***

“En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ʼn ewige verbond, om vir jou ʼn God te wees en vir jou nageslag ná jou.” Genesis 17:7.

Die genadeverbond staan onwankelbaar vas in God se ewige ontferming.

In die eerste verbond, wat voor die sondeval opgerig is, het God gehoorsaamheid van die mens geëis. Hy het eers ná volkome gehoorsaamheid aan die wet die ewige lewe en hemelse saligheid aan hom beloof. Hierdie verbond het dus rekening gehou met die mens se wil en werk. Dit het gedeeltelik in sy hand gelê en was daarom wankelbaar en verbreekbaar.

Maar die genadeverbond, wat die eerste keer in die moederbelofte aangekondig is (Gen. 3:15), het sy grondslag en sekerheid alleen in God se genaderaad. Al kom die woord verbond nog nie in daardie belofte voor nie, is die saak wat die woord aandui, reeds volledig daarin. Want voordat die mens deur sy oortreding ʼn vriendskapsverbond met Satan aangegaan het, tree God tussenbeide. Hy stel vyandskap in die plek van die geslote vriendskap en bring die mens deur die saad van die vrou weer na Sy kant toe oor. Die genadeverbond het dus heeltemal van God uitgegaan. Hy bring dit Self volledig tot stand. Daarom berus dit ook nie by die mens nie en hang dit nie van sy goedkeuring af nie. Dit is ewig, onveranderlik en onwankelbaar, soos God Self: “…. berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredeverbo d nie wankel nie, sê die HERE, jou Ontfermer.” (Jes. 54:10)

In hierdie verbond is God die eerste en die laaste, die begin en die einde, die alfa en die omega (Hebr. 13:8; Op. 1:8). Op ʼn wonderlike manier handhaaf dit God se absolute soewereiniteit in die hele werk van verlossing. Want van die begin tot die voltooiing daarvan voeg die mens niks daarby nie en dra hy niks daartoe by nie. Verlossing is by uitstek God se werk: ʼn werk van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Alle roem is uitgesluit. Die eer kom net aan God toe, wat die Skepper én die Herskepper van alle dinge is (1 Kor. 1:30;31).

Daarom is dit ʼn verbond van genade, van genade alleen.

Hierdie verbond het sy oorsprong in God se genade; genadegawes vorm die inhoud daarvan, en die verheerliking van die genade is die einddoel daarvan. Dit is God wat hierdie goedgeordende en ewige verbond ingestel het. Hy neem die mens, wat deur die sonde van Hom vervreem is, daarin op. Hy laat hom in al die weldade van die verbond deel. Hy laat hom op die pad van die verbond wandel en lei hom deur hierdie verbond na die hemelse saligheid.

Die vastheid van hierdie verbond is die rede waarom die Heilige Skrif dit meermale as ʼn testament voorstel. Dit is nie ʼn wedersydse verdrag (of kontrak) nie. Dit is nie soos ʼn ooreenkoms tussen twee mense wat dit ná oorweging, deur saam te beraadslaag en met wedersydse instemming tot stand bring nie. Nee, die genadeverbond is ʼn instelling, ʼn genadige beskikking van God, ʼn gawe in Christus. Jesus het gesê: “En Ek beskik vir julle ʼn koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het” (Lukas 22:29). 

Die Goddelike seëninge van hierdie verbond kom na ons soos deur ʼn testament: deur ʼn laaste, vrye beskikking, in die vorm van ʼn erfenis, buite ons wil en sonder dat ons dit kies. Dit is die kosbaarste gawe, die volmaakste geskenk, wat van bo af na ons neerdaal, van die “Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.” (Jak. 1:17)

Kyk net watter soort gawes die inhoud van hierdie vrye en ewige verbond vorm! Saam vorm hulle ʼn rykdom van geestelike en materiële, hemelse en aardse, ewige en tydelike seëninge. Daarin word ʼn volheid van saligheid, ʼn fontein van heil, ʼn lewensbron vir die mens oopgemaak. Die een genade volg op die ander en word op sy beurt deur nuwe genade opgevolg. “En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.” (Joh. 1:16)

In die eerste plek geestelike seëninge

Dit is in die eerste plek geestelike weldade wat die mens in hierdie verbond ontvang. Want Christus het bo alles aarde toe gekom om te soek en te red wat verlore was. Hy het nie opgetree as ʼn hervormer van die samelewing, ʼn politieke volksleier, ʼn kunstenaar of ʼn filosoof nie. Nee, Verlosser was Sy Naam en Sy amp. Daarvoor het die Vader Hom met Sy Gees gesalf: “om ʼn blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ʼn vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep ʼn jaar van die welbehae van die HERE” (Luk. 4:18,19).

Dit is daarom veral geestelike seëninge waarmee die Vader van ons Here Jesus Christus die gemeente in die hemel seën.

In die gemeenskap met Christus ontvang gelowiges vergifnis en wedergeboorte, geloof en bekering, heiligmaking en volharding. Christus se Gees vernuwe hulle bewussyn én hulle bestaan, hulle posisie voor God én hulle lewenswyse. Deur die Gees wat in hulle woon, het hulle ander mense geword. Hulle is nie van onder nie, maar van bo. Hulle word uit God gebore, deur Hom as kinders aangeneem en vir die hemelse erfenis bestem. “die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” (2 Kor. 5:17)

Die tydelike seëninge wat volg

Maar saam met hierdie geestelike en ewige seëninge kom ook aardse en tydelike seëninge. Hemel en aarde, gees en materie, siel en liggaam is immers veels te nou aan mekaar verbind om heeltemal van mekaar geskei te kan word. Die profesieë van die Ou Testament skets vir ons ʼn heerlike toekomsbeeld. Daarin sien ons nie net dat Israel ʼn heilige volk sal wees aan wie die Here Hom vir ewig verbind nie, of dat Hy hulle van alle onreinheid sal reinig en ʼn nuwe hart sal gee nie. Die profesie bevat ook die belofte dat Israel onder die Vredevors uit Dawid se huis veilig sal woon. Hulle sal ʼn voorheen ongekende voorspoed beleef en ʼn buitengewone vrugbaarheid van die aarde geniet.

So voeg die Nuwe Testament ook die fisiese en geestelike seëninge saam. Dit lê wel die klem op die geestelike seëninge (nota: sien Matt. 6:33, daar is ‘n baie duidelike beklemtoning deur Jesus van ‘soek eers’, maar nie in stryd of teen ‘en al hierdie dinge’ nie, die ‘eers’ moet die ‘dinge’ stuur bepaal – slc). Die koninkryk en sy geregtigheid moet eerste gesoek word. Dié wat die evangelie van Christus glo en hulle met ʼn opregte hart tot God bekeer, ontvang hierdie koninkryk reeds hier op aarde. Want dit word in die eerste plek binne-in mense se harte gevestig. Dit bestaan nie uit kos of drank nie, maar uit geregtigheid, vrede en vreugde deur die Heilige Gees (Rom. 14:17)

Maar wie hierdie koninkryk soos ʼn baie kosbare pêrel gesoek en gevind het, ontvang daarna ook al die ander dinge. So iemand hoef nie meer soos die heidene bekommerd te wees en angstig te vra: “Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want sy hemelse Vader weet dat hy al hierdie dinge nodig het” (Matt. 6:32) . “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Rom. 8:32). Die hare op hulle kop is almal getel. Hulle brood is seker en hulle water gewaarborg. Wie Jesus wil volg, moet wel alles verlaat, maar ontvang reeds in hierdie lewe vaders en moeders, broers en suster, vriende en grond terug, en in die toekomstige eeu ook die ewige lewe (Mark. 10:30). “Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ʼn groot wins, die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het.” (1 Tim. 6:8; 4:8)

Al hierdie weldade van die verbond is saamgevat in die een groot belofte dat God ons God sal wees, en die God van ons nageslag (Gen. 17:7; Hand. 2:39).

Met hierdie belofte begin die aankondiging van verlossing. God soek die mens ná sy val weer op, verbreek die geslote vriendskap met Satan en stel vyandskap in die plek daarvan. So neem Hy die mens weer in Sy gemeenskap op. Hierdie belofte staan voorop in die verbond wat met Abraham gesluit is. Dit staan bo-aan die wet wat aan Israel gegee is en vorm die hoofinhoud van die genadeverbond soos dit in die Ou-Testamentiese tyd bedien is. In hierdie belofte vind die vromes hulle saligheid en troos te midde van nood en ellende. Buiten God het hulle niemand in die hemel nie, en buiten Hom verlang hulle ook niks op aarde nie. Hy is die rots van hulle hart en hulle deel vir ewig. Wanneer Israel Hom verlaat, bly dié sekerheid tog bestaan: God bly die God van Sy volk. Hy versamel hulle weer uit hulle verstrooiing en rig aan die einde van die dae ʼn nuwe verbond met hulle op. Daarin sal hulle Sy volk wees en Hy hulle God.

Die OT Genadeverbond vervul en gehandhaaf in die NT Genadeverbond

Hierdie belofte gaan ook die Nuwe Testament binne. Dit is vervul in Christus. In die bangste versoeking, die swaarste aanvegting, die worsteling van Getsemane en die lyding aan die kruis het Hy staande gebly, omdat God Sy God was en Hy Sy geliefde Seun (Matt. 3:17; 17:5. Dit word vervul in die gemeente, wat in Israel se plek gekom het. Die gemeente roem in Immanuel, God met ons, en is as Sy volk aangeneem. En dit sal volkome werklikheid word wanneer die nuwe Jerusalem van God uit die hemel neerdaal, wanneer Sy tabernakel by die mense sal wees en Hy by hulle as Sy volk sal woon (Op. 21:1-7).

Watter gawe is groter as dié van God Self? (nota: Sien die troosvolle verbondswoorde in Ps. 130… ‘en Hy self sal Israel [die kerk van alle tye onder en in alle volke] van al sy ongeregtighede’, sien ook Rom. 11:27!. – slc)

Wat kan Hy meer gee as Homself, Homself met al Sy deugde en volmaakthede, met Sy genade en wysheid, met Sy geregtigheid en almag, met Sy onveranderlikheid en trou? “As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” (Rom. 8:31) Wat ons ook al tref, Hy is en bly ons sʼn: in nood en dood, in lewe en sterwe, vir tyd en ewigheid. “Hy is tog nie ʼn God van dooies nie, maar van lewendes”  (Matt. 22:32). “Welgeluksalig is die volk wie se God die HERE is!”  (Ps. 144:15)

Die genadeverbond met ons … en ons nageslag!

Hierdie belofte is boonop soveel ryker omdat God Hom daarin verbind om nie net ons God te wees nie, maar ook die God van ons nageslag. Dit sou reeds groot gewees het as God Sy gemeenskap aan losstaande mense geskenk het wat geen band met mekaar gehad het nie. Dit sou reeds groot gewees het as Hy bloot willekeurig te werk gegaan het, geen rekening met die geslagte gehou het nie en Sy uitverkorenes losgemaak het uit elke historiese band met hulle familie.

Maar die Here tree nie so op nie. Hy rig Sy verbond met die mensdom as ʼn lewende geheel op, in Christus as Hoof: eers by Adam en dan by Abraham, wat ʼn vader van alle gelowiges is (Rom. 4:11-16; Gal, 3:28,29). Met Sy genade volg Hy die lyn van die geslagte. In die herskepping sluit Hy by die skepping aan. Hy voer die uitverkiesing uit langs die weg van die verbond. As Vader van alle barmhartigheid loop Hy op die spoor wat Hy Self as Vader van alle dinge uitgelê het.

Daarom is die genadeverbond ook ewig in dié sin dat dit in die geskiedenis van geslag tot geslag voortgaan en nooit afgebreek word nie. Die genade is ʼn stroom wat ná die sondeval begin, ʼn bedding deur die mensdom se geskiedenis grawe en eers in die ewigheid uitmond. As verbond kan dit deur verskillende bedelings gaan en in verskillende vorme voorkom. Tog het dit juis in hierdie verbond, deur God se almag, ʼn onuitroeibare deel van die wêreld en ʼn onvernietigbare besitting van die mensdom geword.

Juis omdat dit ʼn verbond is, kan dit nie vernietig word nie.

In die verbond is daar twee dele

In alle verbonde is daar immers twee dele. Eers gee God Homself daarin aan ons. Maar daardeur vermaan en verplig Hy ons ook tot nuwe gehoorsaamheid: dat ons hierdie enigste God, Vader, Seun en Heilige Gees, sal aanhang, vertrou en liefhê met ons hele siel, ons hele verstand en al ons kragte; dat ons die wêreld sal verlaat, ons ou natuur sal doodmaak en ʼn godvresende lewe sal lei. Wanneer God Homself aan ons gee, wil Hy dat ons daarna ook onsself aan Hom sal gee: onsself geheel en al, onverdeeld en onvoorwaardelik; onsself met ons siel en ons liggaam, met ons gawes en kragte, met ons geld en besittings, met ons kinders en kleinkinders. Ook, en veral, met ons kinders, wat ʼn erfdeel van die Here en Sy kosbaarste aardse seën is. Hulle moet aan God behoort omdat ons aan Hom behoort.

Tog bly Hy die eerste wat die rykdom van Sy genade aan ons én ons kinders verheerlik, selfs wanneer Hy ons en ons kinders in die verbond vir Sy diens opeis. Hy is die eerste wanneer Hy Adam en Noag, Abraham tot Sy gemeenskap roep. Maar Hy bly ook die eerste wanneer Hy hulle kinders saam met hulle in Sy verbond opneem. “om vir jou ʼn God te wees en vir jou nageslag ná jou” — so lui die belofte waarmee Hy Hom aan die uitverkorenes in hulle geslagte verbind. En voordat ons kinders gebore was of enigiets goeds of kwaads gedoen het, was dit Hy wat in Sy vrymag gesê het: “Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.” (Rom. 9: 15,16)

Ons kinders kom nie in die verbond omdat ons hulle aan die Here opdra nie. Nog minder kom hulle daarin omdat hulle self deur die een of ander deug of verdienste waardig geword het om opgeneem te word. Nee, hulle is daarin op grond van God se belofte. Hulle word daarin gebore en is van die eerste oomblik van hulle bestaan af daarin ingesluit. Dit is nie van nature nie, maar uit genade, omdat God Hom verbind het om die God van die gelowiges en hulle nageslag te wees.

In die geestelike lewe geld dieselfde wet as in die natuurlike lewe.

Ons het almal ʼn natuurlike lewe wat ons deur ons ouers van God ontvang het: God, die Almagtige, Skepper van hemel en aarde. Dat ons hierdie lewe het, is nie vanselfsprekend nie. Ons het dit nie aan onsself gegee nie. Ons het dit nie verdien nie; deur ons skuld het ons dit selfs verbeur. Dit is in die volste sin ʼn gawe — wel nie van God se besondere genade nie, maar tog van Sy algemene genade. Ons ontvang dit deur bevrugting en geboorte, waarby ons heeltemal passief is. Sonder dat ons dit bewus kies of wil, word ons in ʼn wêreld vol ryk gawes geplaas. Ons ontvang die groot erfenis van die vorige geslagte. Ons staan op hulle skouers en geniet wat hulle met die sweet van hulle aangesig verdien en bymekaargemaak het.

Dit alles geld nog baie sterker vir die geestelike gawes van die verbond. Dit werk immers nie so dat ons eers ʼn tyd lank buite die verbond ronddwaal en daarna deur geloof en bekering, as ons eie wilsdade, tot die verbond toetree nie. Want geloof en bekering is nie voorwaardes buite die genadeverbond waaraan ons moet voldoen om daarin te kom nie. Hulle is weldade binne die verbond. Hulle veronderstel die gemeenskap met Christus en maak die toegang oop tot die genieting van Sy weldade (Ef. 2:8-10).

Al hierdie weldade — vergifnis en vernuwing, heiligheid en heerlikheid — kom immers net deur die Middelaar na ons. Hy het hulle teen die prys van Sy bloed verkry. Ons kan nie daarin deel nie, behalwe deur deel te hê aan Sy Persoon. Die mistieke vereniging met Christus gaan aan al die weldade vooraf en word eerste in geloof en bekering sigbaar. Net soos die natuurlike lewe by geboorte aan ons geskenk word en daarna in dade van verstand en wil na vore kom, word die geestelike lewe deur wedergeboorte ons eiendom. Daarna dra dit die vrugte van geloof en bekering.

En weer is dit onmoontlik om gemeenskap met Christus te hê, tensy die Vader hierdie Christus aan ons gee. Die aanbieding en gawe van Christus gaan aan al Sy weldade vooraf. Dit is God wat Christus aan ons gee, wat in Christus Homself aan ons gee, en wat ons in die gemeenskap met Hom die een weldaad van die verbond ná die ander laat ontvang — die volle saligheid.

Die doop is die teken en seël van hierdie onuitspreeklike gawe van God se genade. Want iemand wat waarlik gedoop is, is net so seker deur Christus se bloed en Gees van die onreinheid van sy siel, dit is van al sy sondes, gewas as wat hy uiterlik met water gewas is. Water was immers gewoonlik die vuilheid van die liggaam weg.

Die doop is immers ʼn doop in die Naam van die drie-enige God.

Wanneer ons in die Naam van die Vader gedoop word, getuig en verseël God die Vader aan ons dat Hy met ons ʼn ewige genadeverbond oprig, ons as Sy kinders en erfgename aanneem en ons daarom van al die goeie wil voorsien. Hy wil alle kwaad van ons afweer of dit tot ons beswil laat dien.

En wanneer ons in die Naam van die Seun gedoop word, verseël die Seun aan ons dat Hy ons in Sy bloed van al ons sondes was. Hy lyf ons in die gemeenskap met Sy dood en opstanding in, sodat ons van al ons sondes bevry en voor God regverdig gereken word.

Net so, wanneer ons in die Naam van die Heilige Gees gedoop word, verseker die Heilige Gees ons deur hierdie heilige sakrament dat Hy in ons wil woon en ons as lede van Christus wil heilig. Hy maak wat ons in Christus het, ons eie: die afwassing van ons sondes en die daaglikse vernuwing van ons lewe. Dit doen Hy totdat ons uiteindelik sonder vlek in die ewige lewe, tussen die gemeente van die uitverkorenes, gestel sal word.

Die doop is vir ons ʼn getuienis dat God vir ewig ons God sal wees, as ʼn genadige Vader vir ons. Want Hy het ons beveel om almal wat aan Hom behoort, te doop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. (Gereformeerde doopsformulier)

In die doop gee God ons die sigbare bewys dat Hy in Christus Homself aan ons geskenk en ons as Sy kinders aangeneem het.

En hierdie aanneming is die grondslag van ons belydenis.

______________________________________________

* ‘n Maklike-Lees Afrikaanse vertaling uit die Nederlands, deur Joseph Oosthuizen (predikant van Bet-el Gereformeerde Kerk)

** Die boek is gratis hier in Engels beskikbaar: Monergism. 

Hier is ‘n nog ‘n onlangse engelse vertaling in gedrukte kopie te koop: Reformation Heritage Books. 

Dit is ook elektronies by Kindle en Logos beskikbaar.

Nederlandse weergawes kan gesoek word hier: Neo-Calvinisme

Sien hier twee resensies van Bavinck se boek ‘Lofoffer’, ter bevestiging van die kosbare waarde van die werk:

Review: The Sacrifice of Praise: Meditations Before and After the Lord’s Supper (Herman Bavinck) 

Book Review: The Sacrifice of Praise, Herman Bavinck

*** Beklemtonings, subopskrifte, notas en teksverwysings is bygevoeg.

___________________________________________________

Verdere inligting oor Bavinck:

Bavinck se enigste opgetekende preek (oud-pres Paul Kruger was in daardie erediens om die preek te hoor): 

Herman Bavinck preek vir Paul Kruger: Die wêreldoorwinnende krag van geloof (1 Joh. 5:4)

Bavinck oor prediking: Herman Bavinck on Preaching and Preachers

Verdere Pro Regno artikels van of oor Bavinck

Meer oor Bavinck: The Bavinck Institute

Reformed Forum: Bavinck

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑