PREEK: ROM. 4:1-3 Reformasiedag 2026

PREEK: ROMEINE 4:1-3

REFORMASIEDAG 2026

Ek plaas hier ‘n preek van my van Reformasiedag 2016:

Lees: Romeine 3:10-4:8

Teks: WAT sal ons dan sê, het Abraham, ons vader na die vlees, verkry? Want as Abraham uit die werke geregverdig is, het hy iets om op te roem, maar nie teenoor God nie. Want wat sê die Skrif? Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken.” (Romeine 4:1-3)

Preekopname (GK Carletonville, 2026-10-30):

Aflaai: Reformasiepreek 2026

Preeknotas (let wel: slegs notas – die opname is die volledige preek):

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

“Iemand wat nie in die geskiedenis belangstel nie, stel nie in die toekoms belang nie” (RJ Rushdoony)

Iemand wat die hede vernietig vernietig die verlede, is rewolusionêr besig.

Ons leef vandag in sulke vernietigende rewolusionêre tye, in die samelewing wat ons ons bevind, party van ons jonger mense weet nie van iets anders nie,

want veral vanaf 1995 met die nuwe bedeling,

lewe ons in wat ons kan noem: rewolusionêre tye,

waar daar geen respek is vir die verlede nie,

alles moet afgebreek word in die samelewing,

in taal, op universiteite, werksituasies, ekonomie, alles.

En die afgelope paar jaar spring omtrent alle mense op die waentjie

Ongelukkig gebeur dit ook nie net in die wêreld nie, maar ook in die kerk.

 

Mense wat radikaal wil breek met die geloof wat eenmaal aan ons oorgelewer is,

wil breek met die ‘ongetwyfelde christelike geloof’ volgens die Skrifte,

mense wat meen hulle is na 1000e jare die eerste mense wat nou eers die Skrif werklik verstaan.

 

Dit vind met ons die humanistiese liberale godsdienstiges,

of die charismatiese geesdrywers wat meen hul het nou op ’n mistiese wyse, die waarheid ontdek  ….

daarom breek met die kerk, breek met die belydenis, breek met die geloof wat ons oorgelewer is, radikaal!

 

Maar geliefdes, is dit wat die Skrif ons leer ?

Is dit wat ons belydenisskrifte in navolging van die Skrif van getuig, en dan in die besonder is dit wat die kerkreformasie van die 16de eeu was?

Was dit ’n rewolusionêre breek met alles van die verlede, en het hul gemeen hulle is die radikales wat alles nuut uitgedink het?

Nee, daarom staan die gebeure van die 16/17de eeu bekend as die kerk-reformasie, of kerk- hervorming, nie die kerkrewolusie nie.

Rewolusie is ’n radikale totale breek met die verlede ongeag hoe goed of sleg dit was, Reformasie is om die bestaande te herstel deur dit aan te pas, te skaaf

om terug te keer na hoe die kerk behoort te wees, om te onderskei tussen die goeie en die slegte van die verlede.

“Haal uit die verlede wat goed is en bou jou toekoms daarop” (Paul Kruger)

 

Vanoggend, wil ons sien hoe die Skrif ons oproep tot reformasie, en nie rewolusie nie. (tema)

En ons gaan sien hoe die reformatore deur hul 5 slagspreuke, wat ek saam gaan vat in 3 slagspreuke,

reformatories te werk gegaan het, en nie revolusionêr nie.

Hulle het die waarheid herontdek, nie nuut uitgevind of self geskep nie

Toepassing: En dit is wat ons taak ook is as kerk van Christus vandag,

die taak van my en my gesin,

om opnuut die ware geloof wat deur die eeue nog altyd daar was (Judas 3),

te herontdek vir my lewe en daarvolgens my hele lewe te reformeer, vandag !

Ons gaan uit ons teksgedeelte 3 sake raaksien,

wat in ’n neutedop ook saamvat wat die hervormers,

die kerk van die 16/17de eeu ook herontdek het.

Die eerste saak waaroor die geloof en die reformasie gegaan het,

sien ons daar in Rom.4:3, se eerste woorde:

 

1) ’n Terugkeer na “wat sê die Skrif?”

Na die kerkreformasie eeue plaasgevind het,

en dit later bestudeer is, is een van die sentrale kenmerke gesien in

’n terugkeer na die Skrif alleen (sien nuusbrief) = sola Scriptura

En hierdie lewens ingesteldheid, lewensbeskouing is gefundeer in die Skrif self.

In ons teksgedeelte hier, sien ons dit by Paulus.

Paulus skryf hierdie brief aan die kerk wat in Rome is,

hy het hul nog nie besoek nie, en nou skryf hy aan hulle hierdie brief,

wat (1:15) die Evangelie is wat hy aan hulle verkondig.

Onthou die eerste eeuse konteks waarin hy die evangelie skryf,

1:16, hy skryf vir die Jode, die Here se OT volk,

en vir die nie-Jode, die Grieke en Romeine van sy dag.

Hy moet sy boodskap wat hy oordra, aan hulle bekendstel.

En HOE doen Paulus dit?

Hy verkondig God se Woord, die Here se openbaring aan die mens,

hy verkondig nie ’n mens se boodskap of wysheid of die Grieke se

wysheid, of die Romeine se filosofieë, of selfs die Jode se tekens en wonders wat hul najaag nie.

Kyk hoe stel hy dit op 2 ander plekke:

1 Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie. 12 Want ek het dit ook nie van ‘n mens ontvang of geleer nie, maar deur ‘n openbaring van Jesus Christus. – Galasiërs 1

20Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie? 21Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red; 22want die Jode vra ‘n teken en die Grieke soek wysheid, 
23maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke;  24maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God. – 1 Kor.1

In die boek Romeine self, kyk hoe begin die hele boek, 1:1,2 (lees)

… in die heilige Skrifte …. begronding van sy hele brief in die (OT) Skrifte!

Regdeur die hele boek, 16 hoofstukke, is daar omtrent 60 verwysings na die OT geskrifte, die meeste van enige sy briewe (MA Seifrid, Comm OT in the NT)

Ons hoor dikwels “soos geskrywe is”, 1:17; 2:24

of in ons teks “wat sê die Skrif” v.3

of `die wet en profete´ 3:21

soms groot aanhalings, v.3:10-18 of hst. 10 en 15

En nou gaan ons in die 2de punt van ons preek, hoor wat dit is wat Paulus

opnuut herontdek het in die Skrif, so ook wat Luther, Calvyn … en wat ons, elke nuwe geslag moet herontdek.

Maar eers dit is belangrik om hier raak te sien,

ware reformasie kom waar ek en jy, vaders en moeders, ampsdraers,

alle mense weer begin vra: wat sê die Skrif ? oor enige lewensaak.

 

En dit is wat met die kerkreformasie gebeur het in die 16de eeu en daarna.

Ja, die eeue wat dit voorafgegaan het, het die Woord al meer op 

die agtergrond geskuif, om vervang te word deur die tradisies van mense,

die pouslike uitsprake.

Die Bybel was slegs in Latyn beskikbaar, die gewone mense kon die Bybel nie lees nie, slegs die priesters het toegang tot die Bybel gehad, die pousdom het die plek van Christus begin inneem en sy Woord.

Met die reformasie, was daar ’n terugkeer na die Skrif, wat sê die Skrif,

en het die hervormers begin om die Bybel te vertaal in al die mense tale,

waarvan ons nou nog die vrug geniet, en nou in AFRIKAANS ons Bybels kan lees en Psalms sing!

Die humanistiese rewolusie van ons dag, wil niks weet van God se Woord nie,

dit is nog dieselfde opstand as Ps.2, kom ons breek die bande van God se Woord,

in die valse kerk, soos dit in die Roomse kerk is, gaan dit oor wat die mens wil, mense gevoelens en ervarings, 

die wysheid van die mens teenoor die wysheid van God.

 

Toepassing: ONDERSOEK U HART – wat is u, rewulosionêr of reformator, besig met die Bybel, is u besig om heeltyd ook te vra: wat sê die Skrif ?

Of vra jy heeltyd wat ‘ek’ wil, of ‘ons’ wil, of die massas wil, of die tydsgees wil?

Dit bring ons dan by die tweede saak wat ons leer, waarom ons reformatore is, nie rewolusionêr nie.

Ja, hoekom vra Paulus daardie vraag, wat is die spesifieke inhoud of saak waaroor Paulus gevra het, wat sê die Skrif ?

En die antwoord is, is die tweede punt wat die Skrif leer en die Reformasie herontdek het, naamlik:

 

2) Die mens word gered uit genade alleen, deur die geloof alleen, in Christus se geregtigheid alleen

uit genade – sola gratia

deur die geloof alleen – sola fide

in Christus alleen – solus Christus

En Paulus se hele brief, sy grootste brief wat hy geskryf het, wil ‘vanuit die Skrif’ dit vir sy lesers aandui, dus ook vir ons.

In sy brief, die eerste 3 hoofstukke tot by 3:20, wys  hy dat alle mense, Jood en nie-Jood deur die sondeval en hul eie sonde dood is in die sonde,

v.10-18 is die hoogtepunt wat die verdorwenheid en verlorenheid van die mens beskryf, en dit word dan saamgevat in die woorde van v.19, 20 (lees)

Die mens kan nie deur sy eie krag, sy eie werke (sleg of goed) weer regverdig,

weer volmaak in homself voor God wees of wandel in sy volmaakte wet nie,

want die mens is in homself goddeloos en verlore.

Daarom het die mens redding, verlossing, geregtigheid nodig wat BUITE HOMSELF IS, iemand nodig wat in sy plek volmaak God se wil gaan nakom en aan God se geregtigheid kan nakom, dus vir die mens se sondes betaal EN volkome volgens God se wet lewe.

Dit is die slegte nuus wat Paulus verkondig daar, ook vir ons

Maar dan kom die goeie nuus, en dit leer hy in wese daar in verse 21-31

In een of twee woorde is die goeie nuus: Jesus Christus self, Hy is ons geregtigheid wat v. 25 met sy bloed versoening gedoen het vir al ons sondes (betaal),

maar ook sy geregtigheid vir ons te skenk, dit vir ons toe te reken,

dus op ons rekening te plaas, wat Paulus in hst. 4:1-8 uiteensit,

sien v.6 – geregtigheid toegereken, sonder die werke, deur die geloof. 

Saamgevat in die woorde van 3:28,

Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet. 

En Paulus wys uit die OT, deur na Abraham en Dawid te verwys,

dat hulle ook nie gered is deur hul eie werke, mense pogings en kragte of ‘samewerking’ nie,

maar uit genade (God se uitverkiesing, NGB art. 16-21),

deur die geloof (die middel waardeur ons redding ontvang, NGB art. 22-23)

in Jesus Christus (sy volkome werk in lyding en doen, NGB art. 18-20, 26).

 

En, dit is presies wat Luther ontdek het, toe hy begin vra het ‘wat sê die Skrif’

Hy het veral die boek Romeine bestudeer, en dit was Rom.1:16,17

asook hierdie gedeelte, veral vers 28,

wat hom bevry het, wat hom verander het van ’n mens wat swaarmoedig,

teneergedruk, verlore was in sy eie werke om God te probeer tevrede stel.

En dit is hierdie goeie nuus – Die Here red in Christus, nie my armsalige werke red my nie, maar die Here het my gered, wat soveel mense bevry het van ander mense, en kerklike instellings, eie selfredding, ens om op die Here deur die geloof alleen te vertrou!

Daar is net een Middelaar, nie die kerk of ampte of priesters of moeder Maria, of tradisie of geleerdheid of wat ookal nie, maar Jesus Christus alleen deur die geloof.

Rewolusioneres sê ons het geen verlosser nodig nie, ons werke sal ons red, die mense instellings sal ons red, of help red.

Rewolusioneres in die kerke sê, die Here sal ons red … as ons Hom toelaat

Reformatore sê, redding is uit genade alleen, deur die geloof alleen, in Christus se geregtigheid alleen = dit is nie ’n werk van ’n mens nie, dit is van begin tot einde,

100 persent God alleen, sien Ef. 2:8-10!

Toepassing: Geliefde, omhels jy Christus deur die geloof alleen, rus jy in sy werke alleen, vertrou op sy GEREGIGTHEID (Christus) alleen, met jou hele lewe, indien nie, bekeer jou!

En dit bring ons by die laaste kenmerk van die reformasie:

 

3) Aan God alleen die eer, alle roem gaan aan God alleen

Hoekom, want as Hy ons red en Hy alleen, dan moet ons Hom in dankbaarheid eer vir alles, ons redding maar ook ons hele lewe hier en nou, sien 1 Kor. 10:31.

Maar, as die redding van die mens ’n werk is van die mens self, of samewerking tussen God en mens, in die sin dat God kan niemand red as die mens nie eers toestemming gee nie, wel dan gaan die ROEM en EER aan die mens, of aan beide mens en God.

En hierdie kettery, hierdie dwaling wil Paulus vernietig, dit is vir hom afskuwelik.

Daarom dat hy in ons teksgedeelte alleen dit twee maal noem,

dat wat op die spel is aangaande die redding van die mens,

die hele doel van die bestaan is: aan wie gaan die eer en roem?

Kyk daar in vers 27, as hy daar vra …. (lees)

En dan ook in verse 2 van hoofstuk 4 …. 

“2Want as Abraham uit die werke geregverdig is, het hy iets om op te roem, maar nie teenoor God nie.” (Romans 4:2)

So wat sê Paulus?

Hy leer dat sou Abraham, of Dawid of Paulus of u of ek of enige mens gered sou wees deur ons werke, of gedeeltelik deur ons werke in samewerking met God, sou ons iets gehad het om op te roem,

dus in onsself, maar ‘nie teenoor God nie’, dus:

ons sou die roem en die eer nie aan die Here alleen gee nie.

Dan trek ons ’n streep deur die genadige uitverkiesing,

want dan beteken dit is nie God se vrye welbehae, nie sy liefde,

sy genade wat die verskil maak tussen 2 mense nie,

maar een mens wat beter is as ’n ander mens, een wat beter kan kies as ’n ander, wat in hulself ‘waardiger’ is vir redding.

En dit was presies die dwaling ook in Luther se tyd,

die kerk wat meen deur die ‘mede-hulp of bydrae’, die Christus-plus aflate,

of deur Maria se voorbidding, of deur die priesters se voorspraak, of die mense samewerking met God, die mens tog iets bydra tot sy saligheid en die eer weggetrek word van God.

Daarteenoor skryf Paulus later in sy brief, spesifiek Rom.11:33-36 (lees)

Ja, al die eer moet aan God gaan = soli Deo Gloria!

daarom moet ons Hom nou dank en loof vir ons verlossing, hele lewe

in dankbaarheid vir Hom toewei, daarom volg 12:1,2 op 11:36, 

“EK vermaan julle dan, (dus op grond van alles wat geleer is in Rom. 1-11) broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer—dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”

So geliefdes, laat ons dit opnuut gedenk, in lyn met wat die Skrif ons leer

as reformatore, sodat ons ook ons hele lewe besig sal wees met, in ons dankbaarheidslewe as sy kinders:

  1. wat sê die Skrif – sola Scriptura
  2. ons word gered uit genade (sola gratia), deur die geloof alleen (sola fide), in Christus alleen (solus Christus), en
  3. die doel van dit alles, is dat die roem en eer aan God alleen gaan (soli Deo gloria)

 Soos 1 Kor. 1:29-31 dit ook saamvat, dat ons ook bybelse reformatore sal wees midde ons tye:

“… en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.” 

Amen.

___________________________________

Nog verdere artikels oor die Reformasie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑