Posted by: proregno | January 1, 2007

DIE UITVERKIESING VAN GOD deur ds. M. Postma

DIE UITVERKIESING VAN GOD (predestinasie) IS DIE VASTE GROND,
DIE VASTE FONDAMENT VAN DIE SALIGHElD VAN DIE UITVERKORENES
deur Ds. M. POSTMA, M. A. te Pretoria
[1]

Teks: 2 Tim. 2:19, “Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.”

Leerrede oor 2 Tim. 2 : 19.

Sing: Ps. 89: 1.
Lees: 2 Tim. 2 en Rom. 8: 28-39.
Sing: Ps. 89: 7.
Gebed.
Sing: Ps. 89: 8.
Teks: 2 Tim. 2 : 19.
Gebed.
Sing: Ps. 138: 4.

Uit die gevangenis te Rome skryf Paulus hierdie sendbrief aan Timotheus, wat toe leeraar te Efese was. In die eerste hoofstuk van hierdie brief wek hy Timotheus ernstig op om die dierbare, voortreflike en vertroostende leer van die Evan­gelie van Jesus Christus naarstigtelik te verkondig en te versprei. In die tweede hoofstuk vermaan hy Timotheus tot getrouheid en standvastigheid in die verdrukking (v. 3): “Ly dan verdrukking soos ’n goeie krygsman van Jesus Christus.”

Hy beveel hom om die leer van die opstanding van Jesus Christus uit dood met erns te verkondig (v. 8): “Onthou dat Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dode opgewek is.”

Hy waarsku hom teen die ketters, veral Himenéüs en Filétus, wat die opstanding uit die dood verloën (v.17,18): “onder wie daar Himenéüs en Filétus is, wat van die waarheid afgedwaal het, omdat hulle sê dat die opstanding al plaasgevind het; en hulle keer die geloof van sommige om.”

In hierdie verband wys Paulus op die vastheid en sekerheid van die saligheid van die gelowiges. Van die ewigheid af het God uitverkies wie salig gaan word, en al wyk sommige nou van hierdie waarheid af, verander dit nie die besluit van God nie. Hulle wat afwyk behoort dan nie tot die getal van die uitverkorenes nie. Dat daar sulke valse leringe en dwalinge versprei sou word, word deur Chris­tus reeds voorspel in Matt. 24:24: “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.”

Maar dié, naamlik die uitverkorenes, kan nie ver­lei word nie, want hul saligheid is vas en seker in die ewige ­raad van God. Die apostel Paulus vergelyk hul sekerheid van die saligheid met ‘n fondament wat vas, heg en seker is. Die fondament lê diep en kan nie beweeg word nie. Die voorneme van God na die ewige verkiesing is vas en seker, daarom sê die profeet Jesaja in hoofstuk 14 : 27: “Want die HERE van die leërskare het dit besluit – wie sal dit kan verydel?”
En weer in Jesaja 46 : 10: “Wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen.”

Die name van die uitverkorenes is in die hemel in die boek van die lewe opgeskrywe, want die Here Jesus sê in Luk. 10: 20: “Maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskrywe is.”

Hierdie uitverkorenes, wat van hul saligheid in Jesus Christus, deur God se Heilige Gees verseker is, mag dan ook nie en sal dan ook nie agter alle ligsin­nige leer en dwalinge aanloop nie.

In hierdie teks spreek die apostel van een seël. Die vaste fondament van God staan en het hierdie seël. Hierdie fondament het ‘n seël, waarvan aan die een kant as’t ware geskryf staan: “Die Here ken die wat syne is”, en aan die ander kant: “Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.”

Die heerlikheid van hierdie uitverkiesingsleer is dat God die wat Syne is van alle ewigheid af ken. Die Here Jesus self het dit gesê waar Hy Homself vergelyk met die Goeie Herder (10: 14): “Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken.”

Die verwerpers van die predestinasie of uitverkiesing beskuldig dikwels die aanhangers en verdedigers daarvan, van sorgeloosheid. Hulle sê die predestinasie maak sorgelose mense, want, sê hulle, as die Here van ewigheid besluit het wie salig sal word, dan kan die mens maar lewe soos hy wil, hy sal wel tog salig word, as hy uitverkore is.

0 nee, sê ons, dit is ‘n valse beskuldiging. Nee, die predestinasie of uitverkiesings-leer, maak nie sorgelose, maar inteen­deel, versigte mense. Want as ek eenmaal weet dat God van ewigheid my so liefgehad het om my tot die ewige lewe te verkies, dan sal ek, met God se hulp, tog o so versigtig lewe en wandel om hierdie God nie te bedroef nie. Daarom sê die tweede gedeelte van ons teks tog so uitdruklik: “Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.”

In hierdie vers sien ons dus in die eerste gedeelte die heerlike leer van die uitverkiesing aan ons voorgestel: “Die Here ken die wat syne is”, en in die tweede gedeelte die uitwerking, die gevolg van die aanneming van hierdie leer, naamlik: “Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.”

Na aanleiding van ons teks, met die hulp van die Here, wys ek u dan op:

1. Die heerlike troos van die uitverkorenes: “Die Here ken die wat syne is”
a. God ken die wat Syne is van ewigheid af, van die grondlegging van die wêreld.
b. God ken die wat Syne is in die smarte van wedergeboorte en verseker hul van hul saligheid.
c. God ken die wat Syne is in die moeilike stryd van die geloof.
d. God ken die wat Syne is in hul beproewinge en liggaamlike lyding in hierdie rampwoestyn.

2. Die ernstige waarskuwing en vermaning wat daaruit volg: “Doen afstand van die ongeregtigheid”
a. Doen afstand van die ongeregtigheid van alle valse leer.
b. Doen afstand van alle ongeregtigheid in u wandel.

1. Die heerlike troos van die uitverkorenes

a. God ken die wat Syne is van ewigheid af, van die grondlegging van die wêreld.
Die Here Jesus sê in Matt. 25: 34: “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.”

Toe, in die ewig­heid wat nie ‘n begin het nie, toe hemel en aarde gegrondves is, toe daar nog niks van ons, die uitverkorenes was nie, ja, toe het God in Jesus Christus, Sy geliefde Seun, Hom ontferm oor sy volk, die uitverkorenes, en hul liefgehad. ‘n Moeder het haar kind vurig lief reeds vóór die geboorte, maar die onbegrypelike liefde van God gaan veel verder terug, tot die grondlegging van die wêreld. By die grondlegging van die wêreld het God reeds sy uitverkorenes geken, sien Matt. 20: 16: “Want baie is geroep, maar min uitverkies.”

Joh. 6 : 37: ” Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.”

Die uitver­korenes is ook geheel onmagtig om tot God te gaan; hy word getrek soos Jesus sê in Joh. 6: 44: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie.”

En Paulus sê so heerlik in Rom. 8 : 29: “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders”.

So uitdruklik sê Paulus in Efesiërs 1 : 4: “Soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees”.

0 ! as die uitver­korenes, as die kind van God nadink oor hierdie ewige, hierdie onbegryplike liefde, dat God hom liefgehad het by die grondlegging van die wêreld en toe reeds in Jesus Christus, die Saligmaker, wie bestem was om vir hom te ly, dan sink hy weg in dankbaarheid.

By die grondlegging van die wêreld word die naam van die uitverkorenes in die boek van die lewe geskrywe. Die uitverkorenes kan dus nie verlore gaan nie, want die raad van God staan vas. Dit is wel treurig wanneer ‘n uitverkorene, soos ‘n Dawid, in sonde val. Maar hy kan nie wegval nie. God rig hom weer op uit sy diepe val en bewaar hom vir die ewige lewe, want die Here sê immers in Jes. 49 : 16: “Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer”.

Maar die uitverkorene kan homself dan ook nie self be­keer nie en kan ook nie deur ‘n ander, deur sy mede­mens, mede-sterweling, bekeer word nie. 0 nee, die beke­ring is ‘n goddelike werk. Veral in ons tyd gaan baie rond om mense te bekeer en doen so tekort aan God se eer.

Die predestinasie, die fondament van die suiwere Gereformeerde leer, word ontken en verwerp. Daardeur, deur hierdie verkeerde verwerping, word dan ook ons voortbestaan als Calvinistiese, as Afrikaanse volk, vernietig.

Heerlik is dus hierdie troos vir u, gelowige ! uitverkorene !, dat God u reeds by die grondlegging van die wêreld geken en liefgehad het. Om nog meer te sê, Christus, God se Seun het ons liefgehad toe ons nog sondaars was, toe ons nog kragteloos, toe ons nog vyande was, want sê Paulus in Rom. 5 : 6 “Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe.”

Toe ons nog diep in die val van Adam was, toe het Christus vir die wat Syne is gesterwe. Daarom sê Paulus is Rom. 5 : 7, 8 “Want nouliks sal iemand vir ’n regverdige sterwe – vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe – maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”

Maar, sê u, hoe weet ek dat ek ‘n uitverkorene is ?

Dit kan u, dit moet u weet in hierdie lewe voor u dóód. Die Here gee deur sy Heilige Gees sekere kenmerke in onse harte, waardeur ons oortuig word: “God het ons uitverkies tot die ewige lewe.” Byvoorbeeld, wanneer u diepe smart en rou oor u sonde voel, is dit ‘n wenk van die Heilige Gees, en ‘n bewys dat God u trek, want in die natuurlike mens sal hierdie smart nie wees nie.
Wanneer, deur God se Heilige Gees, die kragtige en onbegryplike liefde van Jesus Christus in u hart uit­gestort word en die siel tot Christus, as die enigste Borg en Middelaar getrek word – dit is ‘n kenteken van die uitverkiesing – want in die wêreldse, natuurlike hart woon die liefde van Christus nie. Wanneer die siel lus en welbehae kry in die dinge van God se Koninkryk, heilig wil lewe en wandel, en, die Naam van Jesus Christus bo alles liefhet en bemin – dit is ‘n kenteken van die uitverkiesing (sien ook NGB artikel 24, HK v/a 64; DL 5.9; 5.V5 – SLC).

So keurig word dit uitgedruk in die vyf artikels teen die Remonstrante – Hoofstuk 1 art. 12 oor die verkiesing en verwerping – wat ons hier letterlik oorneem:

Die uitverkorenes word op God se tyd van hulle ewige en onveranderlike uitverkiesing tot saligheid verseker. Dit gebeur in verskillende trappe en nie vir almal in gelyke mate nie. Hierdie versekering ontvang hulle nie as hulle nuuskierig die verborgenheid en dieptes van God probeer deursoek nie. Hulle ontvang die sekerheid egter as hulle in hulleself die onfeilbare vrugte van die uitverkiesing, soos in die Woord van God aangewys, met geestelike blydskap en heilige vreugde waarneem.

O heerlik ! O salig is u troos, u uitverkorene ! u gelowige ! u kind van God ! U het niks gebring nie, u kon niks voeg by u saligheid nie. Maar u verbonds-God het u liefgehad by die grondlegging van die wêreld. Hy het toe u naam in die boek van die lewe geskrywe, en op sy tyd deur sy Heilige Gees, aan u hart die versekering van hierdie ewige verkiesing gegee. Aan God alleen die lof, eer en danksegging nou en tot in alle ewigheid !

Is u uitverkore ?
Dit is een allergewigte vraag.

b. God ken die wat Syne is in die smarte van wedergeboorte en verseker hul van hul saligheid.
Elke siel wat op ‘n latere leeftyd wedergebore word, ondergaan in die wedergeboorte bittere smarte, want immers dan word die siel oorgeplant uit die ryk van die duisternis in die wonderbare lig van Christus. Die siel word losgeskeur van die sonde en ongeregtigheid, en tot Christus, die enigste Borg en Middelaar gebring. Dit kan geen mens doen nie. Dit is ‘n goddelike werk in die siel. Juis in sulke smartlike oomblikke is dit ‘n troos om te weet dat God die wat Syne is ken. In hierdie oomblik bring God die siel, deur middel van sy Heilige Gees tot die wedergeboorte, tot die nuwe mens. Dus kan een mens ‘n ander mens nooit bekeer nie. Daarom staan daar so duidelik in ons Borstius Kinder-vraagboekie:

Vraag. Kan die mens homself bekeer?
Antw. Nee, God gee die bekering tot die lewe.

Wanneer die siel, deur God se Heilige Gees, tot ontwaking gebring word en haar eie ellende en doemwaardigheid insien, dan beef en skrik hy, want immers het hy te doen met ‘n regverdige God en die ewigheid staan hom voor die deur. Maar dan hoor hy die lieflike lokstem
van die Here Jesus in Matt. 11: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.”

Die siel is dood in sonde en misdade en dreig om verslaan te word deur die satan, die vors van die duisternis. Maar in ‘n oomblik omhels die Here Jesus die siel so lieflik en toon haar sy ewige­
liefde. Deur die Heilige Gees word die siel deur die wedergeboorte gebring tot die nuwe lewe in Christus en vind dan rus en vrede. Die walglike, die afskuwelike toestand van die siel in die wedergeboorte word so duidelik beskryf deur die profeet Esegiël in die 16de hoofdstuk deur die beeld van ‘n pasgebore kind wat onrein is. Ons wil u aanbeveel om tog biddend en bedaard die hele hoofstuk te lees, veral vers 6: “En Ek het by jou verbygegaan en jou sien spartel in jou bloed; toe het Ek vir jou gesê in jou bloed: Leef! Ja, Ek het vir jou gesê in jou bloed: Leef!”

Maar in dieselfde vers en dieselfde hoofstuk word ook die goddelike krag in die bekering getoon deur die woord: “Ek vir jou gesê – Leef! Ja, Ek het vir jou gesê in jou bloed: Leef!”

Terwyl die siel haar rondmaal in haar onreine bloed van sonde en onge­regtigheid, gee God se Heilige Gees lewe, krag en genade. As die barmhartige God Hom nie in sulke oomblikke ontferm oor die siel nie, dan moet dit verniel en verwoes word deur die sielevyand, die satan. Daarom skryf die kind van God die wedergeboorte toe nie aan homself of enige mens nie, maar aan God en God alleen.
Hoe troosryk is hierdie waarheid dat God die wat Syne is in die wedergeboorte ken en ook verseker van hulle ewige saligheid. Met Paulus roep die kind van God dit uit in 2 Tim. 1 : 12: “Ek weet in wie ek geglo het, en ek is oortuig dat Hy mag het om my pand te bewaar tot dié dag toe.”

In die Heilige Skrif vind ons dan ook baie duidelike voorbeelde dat God deur sy Heilige Gees, die siel in die wedergeboorte ken. As Saulus op die weg na Damaskus verbryseld op die aarde lê en in die hewige sielestryd verkeer, roep Jesus van die hemel tot hom: “Ek is Jesus wat jy vervolg”, en vind hy rus in die Saligmaker. As die tronkbewaarder te Filippi, in die bange nag, in die kerker worstel met sy onsterflike siel en deur Paulus en Silas op Jesus Christus as die
Enigste Redder en Saligmaker gewys word, Hand. 16: 25­-34, ken God hom in die smart van die wedergeboorte en die ewige lig van God se genade skyn in sy siel. God ken die wat Syne is, maar wie Syne is ken ook vir Hom. Hulle weet en voel, dit is die tyd van beminning.

Ken u daardie oomblik van wedergeboorte in u lewe ?

0, hoe gelukkig wanneer u dit ken, maar indien nie, dan leef u nog onbekeerd voort, in die sonde en ongeregtigheid. Hoe vreeslik is dan u toestand.

c. God ken die wat Syne is in die moeilike stryd van die geloof.
Wanneer die wedergeboorte plaasgevind het, dan is maar nog die eerste treë op die weg van die geloof gestap, daar moet nog ‘n geloofslewe volg. Daar kom dan ‘n moei­like stryd, want ons het drie doodsvyande wat ons siele vervolg en probeer doodmaak, naamlik: die satan, wat die vors van die duisternis is, die wêreld en ons eie verdorwe vlees. In hierdie moeilike stryd ondersteun en versterk God die wat Syne is deur sy goddelike krag. As ons die god­delike hulp elke oomblik nie ervaar nie, dan moet ons nie beskwyk nie. Daarom kon Dawid, die man na God se hart, wat vele sielestryd moes ondergaan, so gelowig sing in Ps. 27 : 7 (berymd):

As ek op aard, deur soveel smart omgewe,
Omring deur droefenis en dood en rou,
nie meer sou glo dat ek in hierdie lewe
die goeie van Gods hand nog sal aanskou –
dan het ek lankal in my druk versmag.
Wees sterk, my siel, wees altyd sterk en wag !
Die HEER sal hoor en op jou roepstem merk,
Hy sal jou weer met nuwe krag versterk.

In hierdie moeilike stryd bid Jesus vir hulle wat Syne is, stry vir hulle, bewaar hulle en bring hul eenmaal in die baie wonings daarbo. Die gelowige het geen krag. Al sy krag is in sy Verbonds-God. Al het die gelowige so menigmaal en so swaar gesondig, sy Verbonds-God laat hom nie los nie. Sien byvoorbeeld die aartsvader Jakob vlugtende na Paddan Aram. Hy het alles verbeur, niks verdien a.g.v. sy bedrog en sluwe lis – maar in die bange nag te Bet-el, kom sy Verbonds-God tot hom aan en bowendien van die leër en sê (Gen. 28 : 13): “Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee”.

Ons hoor van geen verwyt, wat Jakob eintlik verdien het, maar enkel van liefde en ontferming, en nog weer in vers 15: “En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan”.

Petrus, die vurige apostel, wil sink op die ope see en roep dan uit: “Here, red my!” (Matt. 14 : 30). Maar Jesus gryp hom by die hand en sê: ” Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?” (v. 31). Die siel kwyn menigmaal en satan bestorm haar op alle moontlike wyses om die geloof uit te doof, maar hier kom die heerlike troos in Jes. 42 : 3: “Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie”.

God dink aan sy verbond wat vas en seker is.

Paulus, die apostel, wat tog so sterk is in die geloof, voel en beskryf die inwonende stryd van die geloof in Rom. 7 : 18, 19: ” Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek.”. En verleë roep hy dan uit in vers 24: ” Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” Maar hoor wat sy heerlike vertroue en vaste hoop is, soos dit uitgedruk word in vers. 25: ” Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!”.

Gelowige ! God ken u in hierdie stryd. Hy hou u staande.

0, in hierdie aanvegtinge vlug die siel tot Christus, soos die duif na Noag se ark. Die duif kon geen rus vir haar voete vind nie, so kan die siel geen rus vind buite Christus nie. Heerlik is dan u troos, uitverkorene. God ken u in hierdie moeilike stryd, versterk en help u en gee in uiteindelik die oorwinning, want Jesus, u Saligmaker, het aan die kruishout uitgeroep: Dit is volbring ! Vertrou dan vas op Hom.

Is u ‘n uitverkore ?
Dit is ‘n allergewigtige vraag.

d. God ken die wat Syne is in hul beproewinge en liggaamlike lyding in hierdie rampwoestyn.
Hierin bestaan ook die heerlike troos van die uitverkorene, dat God hom ken en help nie alleen in alle sielelyding nie, maar ook help en ken in alle liggaamlike lyding en smarte. Die liggaam van die gelowige is ook die eiendom van Christus, waarvoor Hy sorg. Hierin bestaan die voortreflikheid van die Gereformeerde leer, wat aan ons preek en leer dat onse Hemelse Vader ook vir ons liggame en tydelike bestaan sal sorg. Ons het dus geen dweepsieke leer, wat verkondig dat ons alleen vir die siel moet sorg nie. Nee, daarom is ons Calviniste, Gereformeerdes en nie Metodiste nie. Die strenge Metodis leer dat as iemand bekeerd word, hoe gouer hy dan sterf en na die hemel ver­huis, hoe beter. Die strenge Calvinis, die Gereformeerde, daarenteen leer dat as iemand bekeer word, hoe langer hy deur Gods genade kan lewe, hoe beter; want dan is hy eers nuttig op elke gebied en terrein van die lewe. Want dan versprei en verbrei hy die ewige beginsels van God se liefde in Christus, die e­wige beginsels van waarheid en geregtigheid. Hy word dan ‘n soutende sout vir kerk en maatskappy.

So pragtig word hierdie sorg van God vir ons ligame, vir ons tydelike bestaan uitgedruk in die eerste vraag en die antwoord daarop in ons Heidelbergse Kategis­mus, dat ons elkeen wil aanraai om dit uit die hoof te leer en ernstig te bedink. Dit lui as volg:
Vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe ?
Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

Maar o, die gelowige, die kind van God, het soveel liggaamlike lyding deurgegaan, soveel bittere beproewing ondergaan in hierdie rampwoestyn van die lewe. Die Vader laat dit juis toe dat soveel storms oor sy kind moet kom, om hom te beproef en te louter vir God se Koninkryk. Die Here Jesus het immers self gesê (Joh. 16: 33): “In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”

Maar in al die beproewinge en smarte ken God die gelowige. Hy help, red en beskerm hom, neem die kruis weg of gee anders krag op die pad van die kruis. ‘
In die geskiedenis van God se volk, Israel en sy kinde­rs, is soveel treffende voorbeelde van die redding van God. Toe Israel sug in die verdrukking in Egipte, beskik God ‘n Moses en Aäron wat hul uitlei. Met manna word hul gevoed in die woestyn.
Toe Dawid, die man na God se hart, rondvlug in die woestyn voor Saul, beskerm, bewaar en red God sy kind keer op keer.
As Job in die grootste ellende – liggaamlik en geestelik neersit en treur – ken God hom in al sy ellende, troos en red hom, sodat hy in geloofstriomf uitroep (Job. 19: 25): “MAAR ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan.”

Die drie jongelinge in die vurige oond word wonderbaarlik bewaar, die monde van die leeus word vir Daniel in die leeukuil gesluit sodat hy ongedeërd daaruit kom.

God ken hulle wat Syne is in hul tydelike nood.

Onse dierbare Saligmaker spysig vyfduisend mense met vyf brode en twee visse (Matt. 14 : 15-21). Die apostel Paulus, die groot geloofsheld, word so menigmaal in die bangste gevare bewaar en gered.

Kind van God ! uitverkorene, gaan dus met al u tydelike noo­d en behoeftes tot onse genadige Verbonds-God. Hy ken ons en kan en wil ons red. Maar weet dit, as Hy u nie daarvan red nie, dan moet u u kruis met lydsaamheid dra en die woord van die apostel Paulus leer verstaan in Rom. 8 : 28: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”

Want God soek bo alles die geestelike en ewige heil van sy uitverkorenes. Daarom moet dan ook menigmaal die gelowige op aarde swaar beproef en gelouter word, om geskik gemaak te word vir God se ewige en heerlike koninkryk.

2. Die ernstige waarskuwing en vermaning wat daaruit volg:
“Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid”

Ons het opseltlik lank stilgestaan by die eerste gedeelte, om u die heerlike troos van die uitverkiesings-leer voor te stel. Ons wil nou met ‘n kort woord van waarskuwing eindig. Reeds in die eerste gedeelte het ons gesê dat die verwerpers of bestryders van die predestinasie-leer die aanhangers daarvan, beskuldig van sorgeloosheid. Hulle sê die predestinasie maak sorgelose mense, want as dit nou eenmaal besluit is dat ek salig sal word, dan kan ek maar sorgeloos lewe – ek word tog salig. O nee ! sê ons, die predestinasie maak versigtige mense – want as ek weet dat God my van alle ewigheid af liefgehad het voordat daar nog iets van my was, dan sal ek, met God se hulp, tog o so versigtig lewe en wandel om hierdie God nie te bedroef nie, maar om Hom in my lewe en wandel te verheerlik.

Maar ek sal dan ook versigtig wees om nie alle valse leer en dwalinge na te volg nie. Daarom roep die apostel ons toe:

a. Doen afstand van die ongeregtigheid van alle valse leer.
Dit was die eerste bedoeling van die apostel – want hy wys in die vorige verse op die dwaling, wat Himenéüs en Filétus versprei het – naamlik dat die opstanding reeds plaasgevind het. Dit is ‘n groot sonde om die valse leer en dwaling na te volg. Neem byvoorbeeld die geskiedenis van Israel. God het aan sy verbondsvolk die suiwer godsdiens gegee, maar hulle wil die vreemde gode dien en die sedes van die vreemde volke navolg. Dit is waarom Israel menigmaal so swaar gekasty is en uiteindelik in ballingskap weggevoer is.

Ons het as Calviniste die suiwere predestinasie-leer ontvang en al die dierbare leerstukke wat daaruit volg. Hoe sal ons dan nou alle valse leringe wil volg ?

Wat sal u dink van die man wat ‘n rots het as fondament waarop hy sy huis kan bou, maar hy verkies tog liewer om op sandgrond te bou? Sommige dink dit is ‘n groot sonde as ‘n mens skuldig is aan dronkenskap of andere growwe sonde, maar hul meen dit is nie ‘n groot sonde om valse leringe en dwalinge aan te hang nie. Dit is ‘n ewe groot sonde.

Watter treurige verskynsel sien ons ook in ons dag. Daar kom miskien ‘n geheel vreemde man uit Engeland of ‘n ander land. Hy hou bekerings­vergaderings. Elke aand bekeer hy soveel. Hy preek en handel direk in stryd met die Gereformeerde leer, dat nie die mens, maar God die bekering tot die lewe gee. Maar vele van dié wat die Gereformeerde leer bely gaan tog daarheen en werk saam. Ja self het ons verneem en in die nuusblaaie gelees dat leraars, wat die drie formuliere van Eenheid onderteken het, daar­heen gaan, meewerk en selfs hierdie arbeid aanprys. Deur so ‘n leer van ligsinnige bekering en uitwendige godsdiens word ons suiwere calvinistiese godsdiens vervals, ons Afrikaanse volksbestaan vernietig.

0, wees dan gewaarsku, gereformeerdes, om nie met sulke dwalinge van ons tyd mee te gaan en daaraan deel te neem nie. U het ‘n suiwere godsdiens soos dit aan ons in God’s Woord geopenbaar is en in ons Heidelbergse Kategismus en Geloofsbelydenis verder ont­wikkel is.
Die meesleuring van dwalinge en nuwighede in die godsdiens vloei dikwels voort uit onkunde met die suiwere en eenvoudige waarhede, en omdat ons nie genoeg, en ook nie biddend genoeg, ondersoek doen nie. Die profeet Hoséa sê in Hos. 4: 6, “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis.”
Daarop moet ons nadruklik en ernstig wys en vermaan. Ondersoek tog gedurig biddend God se Heilige en dierbare Woord. Lees en ondersoek ons keurige Heidelbergse Kategismus, lees en ondersoek ons onoortreflike Geloofsbelydenis agter die Kategismus en ook die vyf artikels teen die Remonstrante (Dordtse Leerreëls – SLC). Lees sulke boeke soos Brakel’s Redelijke Godsdienst in 2 dele en ander sulke ou en beproefde Gereformeerde skrywers en u sal geen lus hê in die nuwe ligsinnige leer en dwalinge, wat geen voedsel vir die hoof en hart gee nie, en die fondament van ons Calvinistiese kerk en volk ondermyn.

Daarom, doen afstand van die ongeregtig­heid van alle dwalinge en wind van leringe. Hou vas aan die ou suiwere beproefde leer. Staan op die ewige fonda­ment van God.

b. Maar doen ook afstand van alle ongeregtigheid in u wandel.
Gelowige, uitverkorene, u is duur gekoop deur die bloed van Christus, die ewige Seun van God. U mag nie in die sonde lewe en wandel nie. As u Verbonds-God dan soveel liefde vir u het, om u van alle ewigheid te verkies en lief te hê, hoe heilig moet dan ook u wandel nie wees nie. God wil u krag gee en bewaar, want uit onsself kan ons dit nie doen nie. Maar ons God lei ons van trap tot trap, en ons gaan van krag tot krag, totdat ons eenmaal voor God in Sion verskyn.

0, watter bittere smart was dit toe Noag, die uitverkorene van God, wat deur God so getrou in die tyd van die sondvloed bewaar word, in die sonde van dronkenskap geval het.
Watter bittere saak was dit nie, toe Dawid, die man na God se hart, aan wie God soveel redding en soveel liefde bewys het, geval het in die dubbele sonde van owerspel en moord !
Watter smaad word ook nie op die Naam en die Saak van die Here gebring nie !
Watter bittere beproewing was dit, selfs vir ons Heiland, dat Petrus, sy vurige en geliefde apostel, in die bittere ure van sy lyding, Hom so skandelik verloën het nie.

Gelowige, uitverkorene, wees gewaarsku deur hierdie treurige val van God se kinders vermeld in die Skrif.

Maar o, hoe gelukkig dat die gelowige dit weet, dat die Here ook die wat Syne is ken in hul val en genadiglik weer oprig. Neem dan tog gereeld en gedurig die toevlug tot u enigste Borg, Middelaar en Saligmaker, wat vir al ons sonde betaal het en ons in sy krag wil bewaar
tot die ewige lewe.

Heerlik is dus die troos van die uitverkorene: “Die Here ken die wat syne is” maar ernstig dan ook de waarskuwing, die roepstem tot hulle: “Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.”

Die Here heilig deur sy Heilige Gees hierdie woord aan ons harte tot eer van Sy Naam.

Amen.

[1] Vertaal uit: W.J Snijman (red.), Bewaar het Pand u toebetrouwd: Drie-en-vyftig leerreden over verscheidene stoffen door eenige Predikanten der Gereformeerde Kerk in Zuid-Afrika (Amsterdam: Hoveker & Wormser, 1904), bl.245-263. Ds M. Postma, een van ds.Dirk Postma se seuns, was predikant van die GKSA vanaf 1890-1926. Hy is oorlede op 26 Julie 1926.


Responses

  1. […] Die uitverkiesing van God (‘n preek waar ds. M. Postma vanuit 2 Tim.2:19 wys dat die uitverkiesing die bron van ons saligheid is en waaruit ons heiligmaking vloei, en dat daar dus geen valse teenstelling is tussen ‘goddelike uitverkiesing en menslike verantwoordelikheid/plig’, of tussen ’predestinasie en prediking’, of tussen die ‘belofte en bevel/eis van die verbond’ nie.)   […]

  2. Wonderlik om die suiwer verkondiging van God se Woord te lees. Ek het al gedink ek is ‘n vreemdeling in Jerusalem. ‘n Mens voel werklik asof jy die een is wat dwaal.
    Dank God vir Sy uitverkiesende genade in Christus Jesus !

  3. Fanie, onthou 2 Kor.13:8. Sterkte !


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: