Hier is ’n stuk wat ek geskryf het vir bespreking, so klompie jare gelede oor die onderwerp (ek het onder die artikel ‘n paar webblaaie aanbeveel wat u kan help om die films wat u wil kyk te beoordeel):
– Die beoordeling van films, spesifiek die film: “The Passion of the Christ” –
Vrae om te bespreek:
1. Kan ‘n Christen sommer enige film gaan kyk? Watter norme moet geld om te besluit watter film gekyk kan word, of nie?
Lees en bespreek Job.31:1; Ps.101:3; Matt.5:27-30; 1 Kor.10:31; Filp.4:8; Kol.3:17; Hebr.12:1 met die oog om te besluit watter films ons kan kyk of nie.
2. Lees Sondag 34 tot 44 van die Heidelbergse Kategismus en bespreek hoe dit vir ons ‘n standaard daarstel om filmkeuses te maak.
3. Is films ‘neutrale vermaak’ of het dit ‘n bepaalde boodskap wat dit wil oordra? Dink aan voorbeelde van films en watter spesifieke boodskap dit wil oordra.
Lees Spr.4:23; 2 Kor.10:3-6; Filp.1:10; Kol.2:8; 1 Joh.4:1 en bespreek hoe jou lewensbeskouing jou siening van films gaan bepaal.
4. Is ontspanning en vermaak noodsaaklik vir ‘n gelowige ? Kry die antwoord in Matt.4:4; 6:33; Luk.23-25; 1 Tim.6:6-8
Van toepassing op ‘n film:
5. Baie mense is gaande oor die film “The Passion of the Christ” en orals word mense aangemoedig om dit te gaan kyk. Maar kan ons dit wel gaan kyk, is dit reg as kerke dit aanbeveel dat Christene dit gaan kyk? Hier volg nou vyf stellings waarom ons nie hierdie film behoort te gaan kyk nie. Lees en bespreek dit in elke groep, en neem ‘n standpunt daaroor in:
a. Die oorsprong van hierdie film is nie Gereformeerd of Protestants nie, maar Rooms-Katoliek. Volgens die pers, sien die Katolieke hierdie film as ‘n evangelisasieveldtog om die mense weer terug te wen na die Rooms Katolieke geloof. Mel Gibson het gesê “It reflects my beliefs” en die Katolieke Kerk het amptelik deur die Pous hierdie film goedgekeur. Die Mis (die Roomse nagmaal) is elke dag tydens die verfilming van die film bedien aan die akteurs, terwyl die hoofakteur in ‘n onderhoud vertel het hoe baie mense daardeur gewen is vir die Roomse geloof. Sien wat sê die Heidelbergse Kategismus, vraag en antwoord 80 van die Roomse mis (Sien ook Heb.9:28).
b. Die inhoud van die film is nie getrou aan die Bybel nie, maar voeg allerhande tonele in wat nie in die Bybel staan nie (gee voorbeelde). Watter gevolge het dit vir die ongelowige wat dit sien en dit nie kan beoordeel aan die hand van die Bybel nie? Die film het verder nie net die Bybel gebruik om sy tonele te bepaal nie, maar ook die mistieke werke van ‘n 18de eeuse Rooms Katolieke non (sister Anne Emmerich), getiteld: “The Dolorous Passion of Christ”. Baie van die tonele is gebaseer op ‘openbarings’ van Jesus wat sy sogenaamd ontvang het. As iemand iets by die Bybel wil voeg, dan verwerp ons dit as Gereformeerdes, mag iemand dan as hy ‘n film maak oor Jesus, iets daarby voeg (of weglaat) wat nie daar staan nie? (Lees Deut.4:2; Spr.30:6; Op.22:18,19)
c. Moeder Maria staan baie sentraal in hierdie film. Sommige film kritici sê dat sy soms meer sentraal as die Jesus figuur in die film staan. Is dit in die Evangelies ook so, en wat sê dit van die teologie en geloof van die filmmakers?
d. Die film lê ‘n baie groot klem op die fisiese lyding wat Jesus ondergaan het. Was dit egter die enigste lyding wat Jesus ondergaan het. Wat leer die Bybel hieroor, veral wanneer Jesus sê aan die kruis “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt.27:46). Wat is die moontlike verband tussen die baie bloed wat vloei in die film, en die Roomse Mis wat sê Jesus word elke keer weer geoffer as daar Mis gehou word?
e. Die Katolieke Kerk sien hierdie film as ‘n godsdienstige ‘evangelistic tool’. As ons dit nie so sien nie, kan ons maar vir die blote ‘vermaak’ na hierdie film gaan kyk? Wat leer Sondag 35 van die Heidelbergse Kategismus ons, oor hoe die Evangelie, hoe die Woord van God verkondig en versprei moet word in hierdie wêreld? (sien veral v&a 96 en 98). Saam met hierdie vraag, bespreek die baie belangrike vraag: Mag Jesus, wat nie net ‘n volmaakte mense was nie, maar ook God self was, wel afgebeeld word in ‘n film (of in ‘n boek)? (Lees Ex.20:1-7; Deut.4:12; Joh.1:1-3; Rom.10:17; Gal.3:1; 2 Kor.5:16).
* Vir verdere inligting oor die film:
http://www.cprf.co.uk/articles/passionofthechrist.htm
http://www.challies.com/archives/000194.html
Webtuistes wat u kan help om films te beoordeel (let wel: selfs hierdie resensies moet met onderskeiding gelees en beoordeel word, omdat dit nie altyd vanuit ‘n konsekwente bybels-gereformeerde lewensbesouing geskryf word nie):
http://www.dove.org/default1.asp
Leave a Reply