Poligamie in die lig van Jesus Christus se koms
Die afgelope tyd was daar geweldig baie aandag geskenk aan die hele kwessie van poligamie, veral poligenie (een man met verskeie vroue), aangesien ons president met groot ywer van laasgenoemde gebruik maak. Iemand het spottenderwys gevra of die president dalk ’n Samaritaan is, met verwysing na Joh.4:17,18 !
Die kritiek teen die president se optrede kom uit verskillende oorde, kerklik en nie-kerklik. Daar is bv. in die By van 23-01-2010 ’n feministiese kritiek (“Die politiek van poligamie”), en daar is selfs ’n amusante indirekte kritiek in die Beeld van 23-01-2010 vanuit die diereryk (“Poligamie is niks vreemds in natuur”).
Wat egter baie teleurstellend is, is die standpunt oor poligamie uit sommige kerklike kringe, o.a. Adrio König (Beeld, 12-01-2010, “Man gaan koop vir jou vrou(e)”) en Christina Landman (Beeld, 22-01-2010, “Christene kán meer as een maat hê”), en dat poligamie geensins beoordeel word in die lig van wat die hele Bybel leer oor die huwelik en die verhouding tussen man en vrou nie. Adrio König noem wel in die briewekolom van die Beeld (23-01-2010) dat hy nie alles goedkeur wat in die Ou Testament aangaande die saak van poligamie plaasgevind het nie. Die groot probleem is dat hy van alle teoloë (en Christina Landman) juis die twee belangrikste dele van die OT oor die huwelik (Gen.2:22-24; Ex.20:14), en veral Jesus se belangrike woorde oor die huwelik in die NT heeltemal mis of blootweg totaal ignoreer (Matt.19:1-12).
Hier is die belangrike verse wat ons help om die verskynsel van poligamie te beoordeel:
1. Genesis 2:22-24,
22 En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ‘n vrou en bring haar na die mens. 23 Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. 24 Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.
2. Exodus 20:14,
Jy mag nie egbreek nie.
3. Matt.19:3-9,
Toe kom die Fariseërs na Hom om Hom te versoek, en sê vir Hom: Is dit ‘n man geoorloof om oor allerhande redes van sy vrou te skei? En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. Hulle sê vir Hom: Waarom het Moses dan beveel om ‘n skeibrief te gee en van haar te skei? Hy antwoord hulle: Omdat Moses weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie. Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ‘n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.
Jesus Christus wys in hierdie gedeelte daarop dat die huwelik:
1. ’n instelling van God is (“dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie?”),
2. tussen een man en een vrou is (“en hulle twee sal een vlees wees” = dus nie tussen ‘n man en ‘n man of ‘n vrou en ‘n vrou nie; en, ook nie tussen een man en baie vrouens nie, ens.),
3. dit sy skeppingsordening en ewige wil vir die mens in hierdie bedeling is (“van die begin af“),
4. dat God twee mense bymekaar bring, en dat geen mens hul mag skei nie (“Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie”), en
5. dat die OT tydperk, die tye van die ‘sondige verhardheid’ van die mens nie bepaal wat die huwelik is en behoort te wees nie, maar God se skeppingsordening moet ons huwelike nou en vir altyd bepaal (“maar van die begin was dit nie so nie”)
Poligamie, soos egskeiding, is verdra weens die verhardheid van die mens se hart soos Jesus dit hierbo stel. Dit was nie God se ewige wil vir die mens nie, en moet teen gewerk word, nie aangehelp word nie. Zuma sal ook goed doen om te luister na die wysheid van Deut.17:17-20, as hy ’n goeie koning en president wil wees. As ‘n mens ook bv. Gen.29 en 30 lees oor (nog ‘n) Jakob se twee vroue, veral 29:30,31 en 30:1, dan wys dit dat ‘n poligame huwelik nog meer rede vir konflik kan veroorsaak, as bv. in ’n monogame huwelik. Verdere openbaring in God se Woord in beide die OT en die NT maak dit nog duideliker, veral vir vandag dat dit nie God se geopenbaarde wil is vir die mens om meer as een man of een vrou te hê nie, om net ’n paar voorbeelde te noem (let op al die enkelvoude; die kursief is bygevoeg):
“Drink water uit jou eie reënbak en strome uit jou eie put. Sal jou fonteine buitentoe oorstroom, waterstrome op die pleine? Hulle moet vir jou alleen wees en nie vir ander saam met jou nie. Mag jou fontein geseënd wees, en verheug jou oor die vrou van jou jeug.” – Spreuke 5:15-18
“En julle vra: Waarom? Omdat die HERE getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond.” – Maleagi 2:14
“In alle geval moet elkeen van julle ook afsonderlik sy eie vrou liefhê net soos homself, en die vrou moet die man eerbiedig.” – Efesiërs 5:33
“Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery; dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer.” – 1 Thess 4;3,4
” ‘n Opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig”. – 1 Timoteus 3:2
“Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.” – Hebreërs 13:4
“En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.” – Openbaring 21:2
Enige goeie en eerlike bybelleser weet jy lees en verstaan ‘n saak, veral ‘n etiese saak in die lig van die hele Openbaring, jy stop nie by Maleagi (die OT) nie. As ons nie die hele Bybel lees oor etiese sake nie, dan kan ons mos bv. die heilige uitdelgings-oorloë (in Joshua) vandag ook mos navolg en goedpraat, of hoe ? Daarom moet die kwessie van die huwelik, egskeiding, poligamie, ens. gelees word in die konteks van die hele Bybel, deur Skrif-met-Skrif te vergelyk.
” ’n Besonder belangrike faset hiervan is die feit dat die eksegeet/hermeneut baie deeglik rekening moet hou met die openbaringshistoriese situasie van enige betrokke Skrifwoord. Ons móét rekening hou met die feit dat dit God behaag het om Hom en sy wil in die loop van die geskiedenis algaande al duideliker te openbaar. ‘n Teks in, sê Eksodus, en ‘n teks in Romeine mag dus nie sommer so gelykskakelend langs mekaar gestel word nie. Die LATERE woord in die Godsopenbaring oor DIESELFDE SAAK is altyd deurslaggewend teenoor die voorafgaande ! ” (Coetzee, J.C. De Klerk, B.J., Floor, L. 1980. Die hermeneuse van die Skrif met die oog op hedendaagse kerklik-etiese vraagstukke. In die Skriflig, Jg.12, nr.54: 12-26)
As ek ’n storieboek van 200 bladsye lees, dan stop ek nie by bl.120 en sê dan ek het die hele storie gelees en ken dit nie. Soveel te meer geld dit vir hulle wat glo die Bybel is God se wil vir die mens se lewe, ook sy huwelikslewe. Dit is vanselfsprekend dat in die lees van enige verhaal of teks, die latere woord deurslaggewend is vir die voorafgaande. As ek ’n moordverhaal lees, en op bl.120 lyk dit of Jan, Piet of Koos die moordenaar kan wees, maar die laaste bladsy wys uit dat Koos toe die werklike moordenaar was, dan kan ek mos nie by bl.120 oophou lees nie ?
So mag ons ook nie te werk gaan met God se Woord nie, en veral nie met Jesus Christus se woorde nie, wat die laaste woordelikse Openbaring van God aan die mens is deur sy apostels en profete (Ef.2:20-22; Hebr.1:1), tot en met sy wederkoms. Dit is een ding om te verskil met die Bybel se siening van die vrou en die huwelik, dit is ’n heeltemal ander (en verkeerde) saak as ek die Bybel onvolledig laat spreek oor ’n onderwerp, of dit selfs verdraai om heel moontlik by my sosio-politiese omstandighede of sondige praktyk te wil laat aanpas.
Jesus Christus het juis met sy koms, en spesifiek met sy woorde in Matt. 19:1-9, oor die rol en plek van man en vrou, die volkome wil van God vir ons bekendgemaak: ‘n terugkeer na die skeppingsorde en skeppingswil van Genesis 1 en 2, soos dit later ook in die wet van God vir alle tye en alle mense vasgelê is: Ex.20:14.
Die gebrokenheid van huwelike, verhoudings, rolle van man en vrou ens. van die Ou-Testamentiese (en Nuwe-Testamentiese ! ) tye , naamlik poligamie, egskeiding, hoerery, homoseksualisme, egbreek, ontrou, ens. moet juis in navolging van Christus nie net gesien word in die lig van die sondeval en gevolge van Gen. 3 en daarna nie.
Dit moet wesentlik juis ook weer gesien en herstel word in die lig van Gen.1 en 2, soos Christus dit geheilig en bevestig het (Matt. 19:1-9), en soos dit deur die res van die NT geleer word, veral deur Paulus en Petrus (Ef. 5; 1 Tim. 2; 1 Petr. 3, ens).
Dankie Ds vir die insiggewende skrywe!
Dankie Nellie,
Ek gaan komende sondag oor die onderwerp preek, omdat daar soveel misverstand oor die saak is, ook in kerklike kringe.