Daar is in 2008 aan die gemeentes ‘n pamflet uitgestuur met die naam “Afrikaanse Bybelvertalingsprojek – Proefvertaling deur die Bybelgenootskap”.
Dit word uitgestuur met die doel om “die lesers se reaksie op die inhoud van die proefvertaling en die aard van die Afrikaans te toets”, en wil die Bybelgenootskap graag weet hoe u en ek voel oor hierdie proefvertaling. Dit is dus geen finale vertaalwerk van die betrokke stukke in die pamflet nie (Gen.1; Deut.5; Ps.1,8,23; Matt.6; 1 Kor.13). In die pamflet is daar ‘n afskeur-poskaart wat gebruik kan word om jou indrukke te gee, of ‘n e-pos adres waarin opmerkings gestuur kan word (waarna ek ook my opmerkings hieronder gestuur het).
Hier is ‘n paar enkele opmerkings solank van my kant af (onderstrepings bygevoeg):
1. Die inleiding op Genesis
In die “Inleiding” op Genesis, die tweede sin (bl.5) staan daar,
“Die boek begin daarom ook met ‘n gedeelte (1-11) wat die oorspronge van die mensdom probeer beskryf uit die oogpunt van die godsdienstige oortuigings van die mense van die Bybelse tyd.”
Vraag: wat word bedoel met hierdie sin ? Waarom die woordjie ‘probeer’ ? Bogenoemde sin laat Gen.1-11 klink na die subjektiewe mening van ‘n klompie Jode wat probeer sin maak het uit die wêreld waarin hul bestaan vanuit hul eie idees, moontlik net nog ‘n oorsprongs-teorie tussen die magdom van oorsprongsteorieë in die destydse ‘bybelse tyd’. Is Gen.1 dan nie Godsopenbaring wat Israel gesaghebbend ontvang het, deur die Heilige Gees openbaar aangaande die oorspronge van die mensdom nie (sien bv. Matt.19:4) ? Die gevaar bestaan dat hier moontlik ruimte gelaat word sodat vandag se mens van ons (post)modernistiese tye die ‘oorspronge van die mensdom’ kan beskryf uit hul ‘godsdienstige oortuigings’, wat die oortuiging van (teïstiese) evolusie insluit. Die sin skep verwarring.
2. Watter G(g)ees ?
Gen.1:2 se vertaling (bl.6): “En die gees van God was aan die sweef oor die water”
Vraag: hoekom ‘n klein letter “g” by die woord “gees” ? Sien HK v/a 25 wat hierdie vers gebruik ter begronding van die belydenis dat God Drie-Enig is, “naamlik die Vader, die Seun en die Heilige Gees … Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het, dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige God is” asook HK v/a 53 wat hierdie vers gebruik ter begronding van die belydenis dat “Hy (die Heilige Gees) saam met die Vader en die Seun ware en ewige God (is).”
3. Die dae van die skepping
Voetnoot c by Gen.1:5 (bl.6) lees as volg,
“dag een Die getal sewe is dikwels in die Bybelse tyd gebruik om ‘n verhaal, gedig of lied te struktureer en tot ‘n klimaks te laat ontwikkel.”
Vraag: dit is waar dat die getal 7 simboliese waarde het in die Bybel (soos baie ander getalle), maar waarom dit hier vermeld ? Is dit dalk om die leser te laat verstaan dat die skeppingsdae op allerlei maniere ‘simbolies’ verstaan moet word, behalwe die ‘letterlike’ grammaties-historiese verstaan van ses letterlike historiese dae, soos verwoord word in Ex.20:11 ?
4. God Drie-enig
By voetnoot f by Gen.1:26 (bl.7) lees ons,
“1:26 Ons Die meervoudsvorm wat hier gebruik word, verwys waarskynlik na God se ‘binnespraak’, of dit is ‘n soort koninklike meervoud. Die naam van God staan in Hebreeus ook in die meervoud.”
Opmerking: In NGB artikel 9 bely ons dat o.a. hierdie spesifieke vers getuig van die Drie-eenheid: “Ons weet dit alles sowel uit die getuienisse van die Heilige Skrif as uit hulle werkinge, veral uit werkinge wat ons in onsself voel.[1] Die getuienisse van die Heilige Skrif wat ons leer om in hierdie heilige Drie-eenheid te glo, staan op baie plekke in die Ou Testament, en dit is nie nodig om hulle almal op te noem nie. Ons kan hulle onderskei en oordeelkundig uitkies: (Gen.1:26,27) “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis … En God het het die mens geskape na sy beeld; man en vrou het Hy hulle geskape … Ons word op al hierdie plekke baie duidelik geleer dat daar drie Persone in een, enige Goddelike Wese is.[2]”
5. Besitlik of jaloers ?
Deut.5:9 word vertaal (bl.9) as, “… Ek is ‘n besitlike God wat kinders laat boet …”
Vraag: is die woord ‘besitlik’ ‘n goeie afrikaanse woord om God se heilige jaloersheid te beskryf ? ‘Besitlik’ klink na ‘n sondige begrip in moderne Afrikaans.
6. Wat van die Messiaanse Psalms ?
Die ‘Inleiding’ van die Psalms (bl.11) vermeld verskillende soorte Psalms, “so verwoord die psalms byna al die emosies wat gelowiges kan ervaar in hulle verhouding met God”
Opmerking: Daar is egter geen vermelding in die ‘Inleiding’ van een van die sentrale lyne in die Psalms nie, naamlik die Messiaanse Psalms wat dié sentraal-bepalende saak en ’emosie’ was van die gelowiges van die OT (en NT) in hul verhouding tot God (Ps.110:1, vgl. Hand.2:34,35).
7. Die Onse Vader gebed
Voetnoot h by Matt.6:13 (bl.17) lees as volg,
“6:13 verlos ons van die Bose Ander manuskripte en ouer vertalings lees ook nog hierna: ‘Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.Amen.’ Daar word algemeen aanvaar dat dit nie deel van die bronteks is nie.”
Vraag: Volgens die gereformeerde belydenis is hierdie frase deel van die kanon van die Skrif (sien HK v/a 119 en 128). Die tweede sin, (“Daar …. nie”) bevraagteken die kanoniek van die Skrif soos bely word in die NGB art.4 (“Ons vat die Heilige Skrif in twee dele saam: die Ou en die Nuwe Testament. Dit is die kanonieke boeke waarteen niks ingebring kan word nie”). Hierdie voetnota spreek dus ‘n kanonieke waarde-oordeel/kritiek oor die Skrif uit wat nie deur die NT tekskritiek met sekerheid bepaal kan nie. Ekself glo dat hierdie frase wel deel is van die bronteks, en dat daar in ‘n voetnota slegs vermeld moet word dat daar wel ander manuskripte is wat dit nie bevat nie. As die Meerderheidsteks en Textus Receptus nie gevolg word nie, moet ten minste die tweede sin weggelaat word.
8. Die Godsname
Daar word met dankbaarheid kennis geneem dat die Godsname onderskei word in die vertaling van die Ou Testament deur die gebruikmaking van hoofletters en kleinletters (HERE/Here), ongeag die feit dat die Hebreeuse grondteks nie onderskei tussen hoof- en kleinletters nie. Mag dieselfde wysheid en insig ook gehandhaaf word in die aanduiding van die Messias in die OT, daar waar die res van die Skrif die eksplisiete Messiaanse gedeeltes vir ons aandui (bv. Ps.110, vgl. Matt.22:41-46).
9. Brontaal-vertaling
Dit is ook verblydend dat die vertaling terugkeer na die ‘bronteks georïenteerde” vertaalmetode.
10. Wat maak die 2016 vertaling anders ?
Op die vraag hoe gaan die nuwe vertaling (2016) verskil van die bestaande vertalings, word in die “Begeleidende Inligting” (bl.2-4) van die pamflet verskeie redes vermeld, waarvan een is: dit sal nie ‘n “woord-vir-woord vertaling soos die 1933/53-vertaling wees nie. In die nuwe vertaling sal daar groter klem gelê word op die weergee van die bronteks in vloeiende Afrikaans as wat by woord-vir-woord vertalings die geval is.”
Wat egter nié vermeld word as ‘n ‘verskil’ tussen die 2016 vertaling en die 1933/1953 vertaling nie, is seker die grootste en belangrikste verskil wat sedert die koms van die 1983 vertaling, gelowiges oor alle kerkgrense verdeel het, en dit is die saak van hoe die Messiaanse gedeeltes in die OT aangedui gaan word. Met hoof- of kleinletters ? Waarom hierdie baie belangrike feit nie vermeld word in hierdie voorwoord nie, is werklik vreemd, aangesien dit ‘n wesentlike verskil is tussen bv. die OAV en die NAV.
Wat die besluit van die Advieskomitee van die 2016-vertaling is (nl. dat die Mesiaanse gedeeltes gaan nie met hoofletters aangedui word nie, slegs in voetnotas – soos die nuwe omdigting) kan hier gelees word: www.2016vertaling.co.za.
Sien ook op genoemde webblad, die teologiese veronderstellings wat onderliggend is aan of jy met hoof- of kleinletters die Messiaanse gedeeltes aandui. Dit gaan nie soseer oor die gebruik van hoof-of kleinletters nie, maar veral oor die rede(s) waarom jy die een verkies en die ander een verwerp, waarom jy verkies om die Messias in die Teks of in die voetnotas aan te dui. Dit openbaar ‘n mens se teologies-hermeneutiese vertrekpunte en siening van die verhouding OT-NT.
Dit is my beskeie mening dat nie die Godsname of vertaalmetode nie, hoe belangrik dit ookal is, die bepalende faktor in die aanvaarding van die 2016-nuwe vertaling gaan wees nie, maar hoe daar met die Messias omgegaan word.
“En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word.” – Lukas 24:44