‘n Post(moderne) Sadduseër se verwerping van die huwelik as ‘n instelling van God

‘n (Post)moderne Sadduseër se verwerping

van die huwelik as instelling van God

“‘n Huwelik is die lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou,” het die NG Kerk se algemene sinode onlangs “bevestig”. Dit laat die interessante vraag ontstaan: Waar kom hierdie opvatting vandaan? Want dit is gewis nie ’n Ou Testamentiese opvatting nie! … Op grond van hierdie geskiedenis kan ’n mens wel vra: Is die siening dat die huwelik ’n lewenslange verbintenis ­tussen een man en een vrou is regtig ’n Bybelse standpunt? Of is dit ’n sosiaal-politieke oortuiging ? En is die hedendaagse opkoms van die behoefte aan gay- en lesbiërhuwelik nie ook ’n soortgelyke maatskaplike verskynsel as die ontstaan van die liefdeshuwelik nie?” – Piet Muller

4 En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, 5 en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; 6 sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. … 29 Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie. 30Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel. 31 En wat die opstanding van die dode betref—het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie: 32 Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes.” – Jesus Christus (Matteus 19:4-6; 22:29-32)

In navolging van Neels Jackson en Chris Jones se verskillende aanvalle op die huwelik as instelling van God, het Piet Muller ook nou sy aanval geskryf in die Beeld van 26 November 2017, onder die titel:

Huwelik is nie rêrig ‘n Bybelse instelling

Bogenoemde aanhaling van Muller kom uit hierdie artikel.

In my artikel, As die huweliksfondamente (weer) omgegooi word, het ek reeds geantwoord op Jackson, Jones en nou Muller se verskillende aanvalle op die bybelse huwelik.  U is welkom om dit weer te gaan lees nadat u ook Muller se artikel gelees het.

Ek voeg hier ‘n paar opmerkings by, spesifiek na aanleiding van Muller se nuutste aanval:

1) In al drie die skrywers word daar baie verwys na die Ou Testament, die aartsvaders, die Israelitiese konings wat baie vrouens gehad het, ens., maar daar is geen verwysing na die Koning van die Kerk, Hy wat die wet kom vervul het en vir ons finaal leer wat reg en verkeerd is nie.  Sy woorde aangaande die huwelik soos ek hierbo aangehaal het uit Matteus 19 en 22 word verswyg ?

Hierdie drie skrywers gee voor dat hul baie respek het vir die mens Jesus, maar hoekom luister hul nie na sy lering oor die huwelik nie, hoekom ignoreer hulle sy baie duidelike woorde ?

2) Jesus se woorde in Matteus 22 is baie relevant, veral in Muller se geval. Jesus is in gesprek met die ‘Nuwe Hervormers’ geesgenote van sy dag, die Sadduseërs. Die Sadduseërs het o.a. die volgende sake verwerp, nie geglo nie:

  • die opstanding van die liggaam (Matt.22:23; Hand.24:1,2),
  • persoonlike onsterflikheid (Matt.22:23), en
  • die bestaan van engele en geeste (Hand.23:8).

En hierdie dwalinge van die Sadduseërs maak dat hul natuurlik ook ‘n bespotting maak van die hiernamaals/geestelike wêreld, deur hul verwysing na die huwelik tussen ‘n vrou en verskillende broers volgens Moses se wet vir die swaershuwelik (Deut.25:5) van toepassing te wil maak “in die opstanding” (v.28).

Jesus Christus antwoord dan in verse 29 tot 32 hul:

‘etiese’ probleem (v.30),

Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel.

‘leer’ dwaling (v.31,32),

31En wat die opstanding van die dode betref—het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie: 32Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? (Ex.3:6) God is nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes.

en wys op hul onderliggende wesentlike probleem:

‘n Skrifbeskouing probleem: hulle ken nie die Skrifte nie (v.29a)

Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie

hul ongeloofsprobleem: hul verstaan nie die Skrif deur die geloof, deur die Gees van God nie, hul aanvaar nie die gesag van God nie (v.29b)

en ook nie die krag van God nie.

3)  Van toepassing op Muller se aanval op die huwelik:

Muller se probleem is nie die huwelik nie, dit is Jesus Christus self.

Hy verwerp die Christus van die Skrif, en sal daarom die Skrif van die Christus verwerp.

Hy ken nie die Skrif nie, want hy ken nie die krag van God nie.

Muller is ‘n Nuwe Hervormer, hy is ‘n ongelowige wat nie meer die ongetwyfelde Christelike geloof aanvaar soos dit in die Apostoliese Geloofsbelydenis in navolging van die Skrif saamgevat word nie.

Vir hom is Jesus bloot ‘n spesiale tog gewone mens, nie ook God self:

  • wat uit die maagd Maria gebore is nie
  • wat vir ons die ewige lewe kom verwerf het nie
  • wat liggaamlik opgestaan het uit die dood en daardeur die ewige lewe en onsterflikheid vir ons verwerf het nie

In Muller se eie woorde (beklemtoning bygevoeg):

Mag ons ons nog self Christene noem as ons nie langer glo aan die maagdelike geboorte nie? Natuurlik mag ons. Paulus het nie eens geweet van die leerstelling oor maagdelike geboorte nie. Hy het geskryf dat Jesus uit ‘n “gyne” (‘n dood normale getroude vrou) gebore is.

Mag ons onsself nog Christene noem as ons nie glo aan die letterlike opstanding uit die dood nie? Natuurlik kan ons, want daar is geen teken dat die eerste Christene Jesus se opstanding beskou het as die resussitering van ‘n lyk nie. Kan ‘n bygebringde lyk deur ‘n toe deur loop? Kan ‘n bygebringde lyk in ‘n oogknip verskyn of weer verdwyn?

Hy het die koninkryk van God verkondig, nie vir ‘n lewe na die dood nie, maar vir hierdie wêreld. Hy het vir ons ‘n leerplan vir geestelike groei opgestel, sodat ons stap vir stap kan leer om ons self meer deernisvol en vergewensgesind te wees.

4) En as Christus se Persoon verwerp word, sy wese as beide God en mens, dan is dit ook nie vreemd as Christus se leer, sy gesag, oor ander sake verwerp sal word nie, veral ook Christus se leer oor die huwelik, hiernamaals, ewige lewe, ens.

Ons lees na die gesprek met die Sadduseërs oor die huwelik en opstanding:

“En toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer.”

Die konkrete feit dat Muller (en ook nie Jackson en Jones) na Christus se woorde wil luister in Matteus 19 en ander plekke nie, bevestig van hulle wat Jesus vir die Sadduseërs eksplisiet maar ook implisiet sê in Matt.22:29,

  • in hul blinde ywer ken hul bloot nie die inhoud van die Skrif nie, en
  • veral wat ons onderwerp betref: kan hul nie deur die Gees van God (die krag van God) die Woord van God reg sny vir die tyd waarin ons nou leef nie, dus nie die Skrif in sy geheel en finale openbaring verstaan en toepas nie.

In Muller se skrywe sien ons dit dat hy nie eers die basiese inhoud van die Skrif ken nie.  Hy skryf in sy artikel op ‘n ander plek:

“Trouens, deur die hele Bybelse tydperk word vroue van so min waarde geag dat hulle instemming nie eens nodig was om ’n huwelik aan te gaan nie. Die huwelik is gewoon tussen die twee betrokke pa’s gereël, dikwels om familie­belange te beskerm of uit te brei.”

Maar, as Muller die Skrifte self werklik gelees het, en nie net sy propagandistiese hedendaagse “sosio-historiese” bronne oor of teen die Bybel nie, sou hy dalk die volgende ook raakgelees het in een van die Bybelse tydperke, een van die ‘streng patriargale tydperke’ toe Rebekka as vrou vir Isak gevra is (Genesis 24):

55 Maar haar broer en haar moeder sê: Laat die dogter ‘n dag of tien by ons bly; daarna kan jy heengaan. 56 Maar hy antwoord hulle: Moet my nie ophou nie aangesien die HERE my weg voorspoedig gemaak het; laat my trek, dat ek na my heer kan gaan. 57 Toe sê hulle: Laat ons die dogter roep en haar self vra. 58 En hulle het Rebekka geroep en haar gevra: Wil jy met hierdie man saamgaan? En sy antwoord: Ja.” 

Jesus sê vir die Sadduseërs se maats, die Fariseërs, wat ook die OT se tydelike wet oor egskeiding verdraai het om hul eietydse losbandige “behoeftes” van herhaaldelike egskeidings en hertroues te akkomodeer:

“Het julle nie gelees … ” (Matt.19:4a)

Ja, het al die anti-bybelse huwelik yweraars van ons tyd nie die hele Skrif gelees nie ?

Verder het Muller en kie nie die krag van God om met die nodige respek, eerbied en ontsag God se hele heilige Woord te nader en toe te pas vir ons tye nie (Spr.1:7; Jes.66:2; 2 Tim.2:15; 3:14-4:5).

Die Sadduseërs weens hul sondige onkunde en verdraaiing van God se woord oor die kwessie van die huwelik in die opstanding kon dit ook nie doen nie, en die Nuwe Hervormers, die Sadduseërs van ons dag kan dit ook nie doen nie.

  • Hulle kan nie die Godgegewe bybelse huwelik tussen een man en een vrou “van die begin af” raaksien, as God se wil vir alle tye nie, soos Jesus dit daar stel in Matt.19:4 nie.
  • Hulle kan nie en wil nie besef dat die huwelik tussen een man en een vrou God se geopenbaarde wil “van die begin af” was vir beide die “Ou en Nuwe Testament” tydperke tot die laaste dag was nie, ongeag dat baie van sy kinders deur sonde en gebrokenheid verval het in poligamie, egbreek, hoerery, onwettige egskeidings, ens., wat Hy in sy genade verdra het, deur wetgewing gereguleer het, maar nooit goedgekeur het nie (sien my artikel hierbo genoem vir verdere verduideliking, asook hierdie artikel: Poligamie in die lig van Christus se koms.)
  • Hulle kan en wil nie leer dat Christus juis gekom het om sy Vader se skeppingsordening en wil van die huwelik tussen een man en een vrou tot die dood toe te kom handhaaf en herstel nie.
  • Hulle kan en wil nie leer dat ons nie die sondige bedeling of gebrokenheid van hierdie wêreld mag gebruik om God se bevelswil vir ons ongedaan te maak nie (1 Thess.4:1-8).

5) Die motief van hierdie (huweliks)bande van die Here wat hul afruk (Ps.2), is sodat die mens in sy welluste sy sondige begeertes kan navolg, in die wêreld, maar nou nog erger, in die sigbare kerk van die Here (Jak.4:1-14; 2 Tim.4:3,4).

In beide ‘heteroseksuele’ en ‘homoseksuele’ sondes moet die Skepper se bande afgeruk word, moet die waarheid vir die leuen verruil word (Rom.1:18-32), moet geleer word dat Jesus ons nie kom verlos van alle seksuele sondes nie (soos Paulus leer in 1 Kor.6:9-11), maar ons sondes akkommodeer en aanvaar.

Muller erken dit eintlik self, en daarom skryf hy waarna hy begeer en wat sy norm eintlik is: uit die Mens, deur die Mens, en tot die Mens is al die dinge (contra Rom.11:36):

“En is die hedendaagse opkoms van die behoefte aan gay- en lesbiërhuwelik nie ook ’n soortgelyke maatskaplike verskynsel as die ontstaan van die liefdeshuwelik nie?”

Ja, inderdaad, die huidige sodomitiese seksuele rewolusie, saam met die 20ste losbandige ‘heteroseksuele’ seksuele rewolusie is ‘n produk van ons tydsgees se wellustige behoeftes, ‘n maatskaplike verskynsel wat uit die sondige hart, nie die Woord van God gebore is nie, waarvan ons reeds ook in die Bybel lees (2 Tim.3):

1 Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. 2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie,

4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God;
5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af. 

En weë hulle, leer die Skrif, wat “die dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.” Dus weë daardie geleerdes en leiers wat sonde goedpraat en ander so leer (Rom.1:32, sien ook Matt.5:19; 18:6).

Daarom:

Enige teologiese opleiding, kerk, kerkverband, leraar wat die dwaalleringe van Jackson, Jones, Muller en ander oor die huwelik leer, aanbeveel én akkomodeer, moet vermy word, vlug daarvan weg, terwille van jou en jou gesin en geliefdes se sieleheil, soos Paulus dit ook duidelik stel (1 Kor.6:18-20; sien ook 1 Tim.6:1-5; 2 Tim.4:1-5).

Is u besig om u en u gesin en geliefdes te beskerm en te bewaar teen hulle wat “iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie” (1 Tim.6:3) ?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: